GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 27 Oktober 2022

Jeremia 7:4-6. “Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!” Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie.”

Die tempel in Jerusalem was vir gelowiges die versekering dat God by hulle is en dat Hy hulle nooit sa verlaat nie. Die gedagte van God se sorg het hulle egter oorgerus gemaak en hulle het aangeneem dat God alles wat verkeerd loop namens hulle sal regmaak. Omdat ons bely dat God in beheer is sou ons vandag ook kon aanneem dat hy alles wat rondom ons krom en skeef is sal kom regmaak. Die teks wil ons egter laat verstaan dat die Here dit deur ons wil doen en daarom die oproep dat ons moet opstaan vir die saak van mense wat om ons hulp nodig het. Vandag kom maak die Here ons bewus van die gewone keuses wat ons maak en hoe dit ’n impak op ander mense se lewens het. Dink aan die dag en week wat vir jou voorlê. Wat is die regte ding wat die Here op jou hart lê om te doen? Wat is die onreg wat jy om jou sien gebeur waarin jy ’n stem en rol het om te speel?

Gebed

Here, dankie vir die troos en versekering dat U by ons is en vir ons sorg. Bewaar ons om so gerus te raak in hierdie belofte dat ons nie ons verantwoordelikhede nakom nie. Ons ignoreer so maklik moeilike situasies in die lewe om nie daardeur geraak te word nie. Gee ons in hierdie dag die moed om dit anders te hanteer. Nie deur dit te ignoreer of te beveg nie, maar mooi om ons te kyk en na mense te luister om die regte ding te doen. Dankie dat U vandag in hierdie situasies by ons is om ons rustig te maak en die wysheid te gee om te weet wat ons moet sê of doen. AMEN.

Gedagte vir die dag | Woensdag 26 Oktober 2022

Filippense 4:7 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Die teksgedeelte praat met iets wat ons reeds weet. Dit is dat God ons help met ons sorge, maar dit vra van ons ‘n spesifieke ingesteldheid, of anders gestel ‘n andersoortige ritme. Almal van ons loop met gedagtes en behoeftes wat ons bekommerd maak en wat ons daagliks met ander mense deel. As jy oor iets ongelukkig is, het jy die geleentheid om by iemand daaroor te kla, of dan net ten minste by iemand wat in die posisie is om iets daaraan te doen stoom af te blaas. Maar dit bring ons nie altyd uit by die vrede waaroor vandag se teks met ons praat nie. Dit bly ‘n uitdaging om ons lewensritmes aan te pas tot dit waartoe die teks ons aanmoedig. Om nie ons gedagtes te fokus op mense of instansies nie, maar om ruimtes en tyd te skep waar ons alles voor die Here kan  neerlê sodat ons in daardie ruimte God se vrede kan ervaar en sodoende die res van die dag met vrede ingaan. Hoe lyk hierdie ruimte en tyd in jou lewe? As dit nie daar is nie, skuif ander dinge opsy om eenvoudig dit te doen wat ons teks ons leer.

Gebed

Here, daar is so baie goed waaroor ek vandag kan kla en wat my ongelukkig maak. Ek bring dit so dikwels eerder na ander mense toe en rig dan ‘n appèl dat hulle dit moet verander. Dit gee my dikwels nie die rus en vrede in my gemoed nie. Dankie dat ek vandag my grootste vrede, uitdagings en probleme na U toe kan bring en by U daaroor ‘n vrede kan beleef.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 25 Oktober 2022

Psalm 139:1-2  Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

Die Psalm begin met die woorde: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.”  Niks is vir God verborge nie.  Die Here sien dwarsdeur ’n mens:  Dit is waar van alle aksies, gedagtes, reise en woorde. Met ander woorde – God ken en weet alles van jou.  Hy ken jou woorde, jou gedagtes, waar jy was, en waarheen jy nog moet gaan.  Hy weet waarvoor jy bang is, hy weet hoe jy daarop reageer. Hy weet waarmee jy worstel.  Hy weet wat jy vrees, Hy ken jou bedoelings en Hy ken jou skaamte.  Hy weet alles van jou en steeds is hy lief vir jou.  Steeds doen Hy moeite met jou.

Daar is niks wat jy vir Hom kan nie.   Die Here omsluit ons van alle kante en sy hand is ten alle tye op ons soos ’n pa wat sy kind ondersteun en seën.  Dit is die letterlike vertaling van vers 5b “U plaas u handpalms op my.

God is nie net so naby aan ons dat ons nie van Hom af kan wegkom nie.  Hy is oral waar ons sou wou wegvlug van Hom af, in die hemel, in die doderyk, aan die einde van die see, in die dag en in die nag, selfs in die duisternis wat as die plek gereken is waar God nie aanwesig sou wees nie. God is alomteenwoordig deur sy Gees.

God is nader aan ons as wat ons bewussyn, intellek, emosies en sintuie kan inneem. En Dawid probeer iets daarvan hier in Psalm 139 verwoord.  “Om dit te verstaan, is ‘n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit eenvoudig nie begryp nie.”  Dit is te veel vir my…

Die teoloog Karl Barth het ’n baie interessante ding gesê:  “Die grootste verrassing, is nie hoe groot en magtig; alomteenwoordig en alwetend God is nie, maar hoe naby hierdie grote God aan ons kom, hoe genadig hierdie regverdige God met ons handel en hoe intiem hierdie magtige God by elkeen van ons betrokke is.” Mag jy ook vandag ervaar dat God jou van alle kante af omvou.

 GEBED

Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Dankie daarvoor.

AMEN

Gedagte vir die dag | Maandag 24 Oktober 2022

Psalm 121:1-2  “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?2My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

Hierdie is seker een van die tekste wat deur die meeste mense al opgesê is in tye wat ons nie weet watter kant toe nie. Want niemand is teen droefheid of swaarkry gevrywaar nie. Op die een of ander tydstip in ons lewens ervaar ons droefheid, of swaarkry in een of ander vorm of in een of ander graad.  Dit is in sulke tye dat ons lewens so effens deurmekaar is. Dit is sulke tye dat soveel vrae en gedagtes deur ons kop flits. Hoe sal ek kan aangaan? Gaan ek ooit weer glimlag en gaan ek ooit weer vreugde ervaar? Waar gaan my hulp vandaan kom?

Ja, selfs ons as Christene gaan ook deur moeilike tye. Ons beleef ook tye van droefheid. Ons beleef ook dinge wat ons lewe tot in ons fondamente skud. Dan wil wonder ons of God nog daar is. Hoor Hy my en my hulpgeroep nog? Miskien wil jy ook soos hierdie Psalmdigter vanoggend kom vra: “Waar sal my hulp vandaan kom?”

Vir elkeen wat dit glo, bied Psalm 121 ’n ryke troos. Die Here beloof ons dat ons op ons eie pelgrimstogte deur hierdie lewe, met al sy gevare, nooit alleen sal laat nie. Ons Beskermer, wat nie slaap nie, sal tree vir tree saam met ons loop. Hierdie Psalm is ook vir almal wat met gevoelens van Godverlatenheid worstel, geskrywe. Gevoelens van: Waarheen nou, Here, of hoe nou, Here?  Waar kom my hulp vandaan? Dan as ons stil word, hoor ons die pragtige woorde vanaf vers 2: “My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

GEBED

Here, dankie dat ek vandag weer die bevestiging kan ontvang dat my hulp van U af kom.

Amen

Gedagte vir die dag | Sondag 23 Oktober 2022

Psalm 91:9-10  9″Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, 10sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie.”

Jare gelede het ons langs mense gebly van wie die man effens kwaai met sy kinders was. Gereeld het ons gehoor hoe hy op hulle skree en slae uitdeel. Wat wel van die man uitgestaan het was sy liefde vir sy diere. Ongelukkig een dag het een van sy katte oor ons muur gespring. Die kat was ’n heerlike speelding vir ons vyf honde. Nodeloos om te sê die kat het nie die besoek oorleef nie.

Die man was woedend en het gedreig om my honde almal dood te maak. Ek was vreeslik bang en het my honde omtrent 24 uur lank opgepas. Eendag in my stiltetyd het ek vir die Here gesê dat ek nie so in vrees kan lewe nie. Ek kon ook nie my honde so in die huis opgesluit hou uit vrees vir die man se dreigemente nie. Ek was ’n senuweewrak en toe het die Here vir my hierdie vers gegee.  Psalm 91:9-10  9Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, 10sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie.

Ek het daaraan vasgehou en kon met tyd weer rustig en gemaklik voel. Die man het niks aan ons honde gedoen nie en ek was so dankbaar en verlig daarvoor.

Die mensdom het baie vrese. Elke individu het sy/haar eie stryd. Dalk lewe jy ook tans vrees oor ’n spesifieke saak. Ons het vrese oor amper elke denkbare aspek van die lewe. Dit is hoogs moontlik dat toe jy vanoggend opgestaan het, jy een of ander bekommernis oor die dag in gedagte gehad. Dit mag wees dat jy bekommerd is oor jou finansies, jou kinders, jou ouers, jou gesondheid, die land of jy mag vrees dat jy jou werk kan verloor. God wil ons vrese vandag by ons neem en daarvoor sorg.

GEBED

Here, ek leef tans in vrees oor so baie dinge. Kan ek hierdie uitdagings vir U gee. Neem dit in besit en skenk aan my U hemelse vrede.

Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 22 Oktober 2022

Psalm 63:2  Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ‘n dor en droë land, ‘n land sonder water.

Om dors te wees beteken vandag nie veel meer as om ’n kraan oop te draai of ’n ketel aan te skakel nie. Maar woestyne gee ’n ander betekenis aan dors. Warm son, min skaduwee, genadelose winde, nêrens ’n kraan om vir ’n bietjie water oop te draai nie. Nie net het ’n mens en dier dors nie, maar die aarde is ook dors. Elke druppeltjie vog word in woestyne opgeslurp om lewe vir ’n rukkie langer te kan behou. Alhoewel ons nie gereeld aan woestyntoestande blootgestel word nie, gebeur dit dat ons onsself soms in ons geestelike lewe in ’n woestyntyd bevind. Dawid was fisies en geestelik op so ’n woestyntyd in sy lewe.

Dawid was in groot gevaar en op ’n baie slegte plek in sy lewe. Hy was in die woestyn van Juda waar hy vlug vir sy eie seun Absalom. Wat doen Dawid in hierdie moeilike tyd in sy lewe? Hoe het hy hierdie situasie hanteer? Hy gaan na God.

Dawid het ’n diepe dors, ’n smagting en soeke na die lewende God juis in hierdie moeilike woestyntyd van sy lewe. Juis in hierdie dorre onherbergsame gebied smag Dawid se siel na geestelike water, na uitkoms en na God. In die woorde soos soek, dors en smag beklemtoon hy dat hy na God verlang. Ons hoor in hierdie woorde die eensaamheid, bangheid, angs en gevoelens van verwerping wat Dawid moontlik ervaar het tydens sy wegvlug. Hy is in die moeilikheid, sy lewe is in gevaar en hy beleef hierdie intense geestelike dors, hierdie soeke en verlange na God se teenwoordigheid.

Omtrent almal van ons het al so ’n “woestynervaring” soos Dawid beleef. Elkeen van ons worstel soms met teleurstellings en probleemtye. Tye van droogte en dorheid in ons lewens. Verskillende dinge in ons lewens kan ons laat voel dat ons in ’n woestyn is. Ons kan dit ervaar in tye van verlies, eensaamheid, siekte, finansiële nood of net twyfel oor God se teenwoordigheid.  Dit is tye waar ons heeltemal gestroop is van al die sekerhede waarop ons staatgemaak het. Wat doen ons as ons deur sulke tye gaan? Sulke woestyntye? Hoe het Dawid hierdie tye hanteer? Watter boodskap wil God vir ons kom gee uit Psalm 63.

Dawid gee ons raad vandag en dit is om in hierdie woestyntye na God te gaan. Om ons hoop op God te plaas. God sal jou nooit alleen los as jy tot Hom nader nie. Hy sal jou nooit alleen laat in die donker tye, of die groot woestyne van jou bestaan nie. God sal ons nie verlaat, of in die steek laat as ons tot Hom nader nie. Maak nie saak waar jy jou vandag bevind op jou lewenspad nie. Laat jou siel stil wees – die Here is by jou in hierdie woestyntyd. En Hy is ook altyd naby aan jou. Jy kan leef in sy teenwoordigheid. Hy is ook jou Vader en Versorger.

GEBED

Here, ek gaan tans deur ’n moeilike tyd in my lewe. Dit voel asof ek in ’n woestyn is. Wees my asseblief genadig en naby.

Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 21 Oktober 2022

Psalm 51:3-4  Wees my genadig o God, in U troue liefde, wis my oortredings uit in u groot genade. Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde

Psalm 51 is die bekendste van die sogenaamde boetepsalms in die Psalmboek.  Dit word gekoppel aan Dawid se reaksie op die profeet Natan se veroordeling van sy owerspel met Batseba en die verraad teen haar man Urija wat tot sy dood gely het (2 Sam 11-12).

Die tema van hierdie Psalm vind ons in die eerste sin: “Wees my genadig, o God, in U troue liefde”.  Dit is ten diepste ’n smeekgebed om genade. Die digter pleit om die genade van die Here. Hy doen dit nie op grond van sy belydenis of sy verdienste nie, maar uitsluitlik op grond van die liefde van God.

Hy verdien dit nie, en hy kan niks doen om daarvoor te vergoed nie. Om genade van God te ontvang, kan slegs geskied deur die genade van God. God alleen kan Sy genade aan jou gee. Nie op grond van ons verdienste nie, nie op grond van wie ons is, of wat ons gedoen het nie en ook nie op grond van ons nie, maar slegs op grond van God self. Hy alleen kan Sy genade gee.

Die vraag kom dan: wat is sonde? Sonde is ten diepste om nie te luister na die Here nie. Sonde is dan om God uit jou lewe te ban en self die plek van God te wil inneem. Alles wat ons dus nie in verbondenheid aan God en tot eer van God doen nie, is sonde. Sonde hoef dus nie net lelike dade te wees nie. Dis alles wat nie in verbondenheid met God, saam met die Here gedoen word nie.

Deur die sonde word die band met God verbreek. Daarom beroof die sonde ons van die diepste wese van menswees, want om mens te wees beteken mos om aan God verbonde te wees. Om sy skaduwee te wees. Sonde maak ons dood, dit breek die band met God en beroof ons van die sin en die doel van ons bestaan. Dit is wat Psalm 51 so duidelik uitspel. Die lewe sonder God het geen sin nie, en die sonde beroof ons van die sin en doel van ons lewe. Dit bring net ongeluk en smart.

As ek hierdie Psalm lees, word ek opnuut bewus van my eie sondigheid. En dit gaan nie net oor spesifieke dinge wat ons verkeerd doen nie. Dit gaan oor ons diepste wese wat sondig is. Dankie tog ons weet dit hoef nie hier te eindig nie. Jesus het vir jou en my sonde aan die kruis gesterf en ons verlos. Vandag kan jy gaan leef as ’n vrygemaakte mens. Jy is vergewe en jy is verlos.

GEBED

O Heer vergewe my, o Heer kom maak my vry van ’n sondelas deur my skoon te was. Ek wil nou vlekloos voor U staan.

Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 20 Oktober 2022

 

Psalm 23  Die Here is my Herder. Ek kom niks kort nie

Hoeveel troos het die mensdom nie al uit hierdie herderspsalm geput nie? Dit is maar net ses versies lank, maar tog is daar genoeg rykdom in die inhoud daarvan om ’n hele lewensboek mee vol te maak. Psalm 23 is ’n persoonlike belydenis van Dawid se absolute vertroue in die HERE se sorg.

In vers 1 stel Dawid sy absolute vertroue in die Here se sorg, in verse 2 tot 5 vertel Dawid wat daardie sorg van die Here behels en in vers 6 meld hy wat die gevolg van die Here se sorg is.

Psalm 23 is ’n geloofsverklaring en ’n geloofsbelydenis. Juis daarom is die eerste sin van die psalm sekerlik die belangrikste: Die Here is my Herder. Hier verklaar Dawid aan die hand van ’n praktiese voorbeeld sy geloof in die Here wat daagliks vir hom sorg. Hy bely dat hy in ’n verhouding tot die Here, sy herder staan en eers dan vertel hy hoe hierdie verhouding lyk en wat sy herder, die Here, vir hom doen en hoe Hy vir hom sorg.

Die herder roep sy skape op hul name (hy ken hulle elkeen) en lei hulle uit. Die skape ken sy stem en volg hom. Hy lê sy lewe af vir sy skape. Dit is die rol van ’n herder – hy het sy skape lief, ken hulle en hulle ken hom (verhouding), lei hulle deur goeie en slegte tye, hy beskerm hulle in gevaar. En dit alles word in die eerste sin van die psalm veronderstel. Ek hoop jy ervaar ook die Here as jou Herder. Weet jy vandag dat Hy jou persoonlike versorger is?

GEBED

Here, U is vir my alles! By U het ek behoefte aan niks anders nie, naby U kom ek ook absoluut niks kort nie. Dankie dat U, my Herder is.

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 19 Oktober 2022

Psalm 8:2.  2Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

GEDAGTE

Psalm 8 is ‘n lofpsalm, ‘n psalm wat na aanleiding van God se wonderbaarlike skepping lof aan God toebring. Dit is ‘n psalm wat in sy geheel aan God gerig is. Psalm 8 spreek van verwondering en lof oor God as Skepper en die mens se posisie binne die groter skepping.

Het jy al op jou rug gelê en na die pragtige sterrehemel gekyk. So in die stilte van die nag beleef jy God se grootsheid en die stille prag van die naghemel betower jou. Het jy al ’n klomp miere dopgehou en gekyk hoe hulle beweeg en hoe hard hulle werk. Het jy al ’n majestieuse olifant gesien wat met sy groot lyf geruisloos op die aarde loop. Dalk het jy al iewers op ’n rots by die see gesit terwyl die son ondergaan. God se skepping is indedaad iets besonders.

Maar nou kom jy agter in Psalm 8 dat daar iets in die digter gebeur wanneer hy hom so aan die skepping staan en verstom. Wanneer hy voor die wonder van die grootheid van God staan, begin hy ontdek wie hy self is. Dan val dit hom op hoe klein en onbenullig hy regtig is – ’n nietige stofdeeltjie in die grootsheid van die heelal. En so help die grootsheid van God se skepping hom om op sy knieë te kom. Wat is die mens dan? Vra hy homself af. Hierdie mens wat so klein en so nietig is, so bevlek is met sonde en onreg, so dikwels in sy wese boos is, wat is die mens dan, Here, dat U hom sou liefhê? Dat U hom ’n ereplek in hierdie grootse skepping gegee het, sodat hy dit namens U moet bestuur. Wat is die mens, dat U selfs u Seun gestuur het om hom te bevry, terwyl hy tog só verdien het om in die verderf op te eindig?

En so ontdek die skrywer iets waarvan ons ook baie graag in die kerk sing. Ons noem dit ”genade onbeskryflik groot”. En dit maak sy verwondering net groter. Want nou gaan dit nie net meer oor die kompleksiteit en wonder van die skepping nie, maar eindeloos meer oor die Skepper self. Oor sy eindelose deernis en liefde vir jou. En dis daar, waar jy jouself leer ken, wat geloof regtig begin en die vrae bietjie opdroog. Dis waar geestelike groei begin – op daardie punt van absolute verwondering…

GEBED

O Heer my God as ek in eerbied wonder en al U werke elke dag aanskou. Die son en maan, die aarde sterre wolke wat U so onderhou. Dan moet ek juig my Redder en my God. Hoe groot is U. Hoe groot is U. Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 18 Oktober 2022

Die Seën van Psalm 67

“2 Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn, Sela 3 sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word, sy reddende krag onder alle nasies. 4 Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! 5 Mag die nasies bly wees en jubel, omdat U hulle regverdig regeer en hulle op die aarde lei. Sela 6 Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! 7 Die land het sy oes gelewer. God, ons God, het ons geseën. 8 God het ons geseën. Die mense op die hele aarde moet Hom eer.”

 

Die Seën van die Here is nie bedoel net tot ons eie voordeel nie. God wil iets meer daarmee bereik. God wil almal en alles insluit. As jy die woordtjie “sela” in die psalm teëkom, moet jy altyd verstaan dat die sin wat volg ’n belangrike sin is. Soos Martin Luther gesê het: “’n Sela gee die Heilige Gees kans om jou te wys wat vir jou aangebied word”. So kyk weer na dit wat volg op die Sela… Dit is waarom God jou wil seën – ter wille van die ander.

Gebed

Here, dankie dat U ons seën, sodat ons ’n seën vir die wêreld kan wees. Mag al die volke U loof! Amen

 

 

1 51 52 53 128