GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Sondag 6 November 2022

Markus 2:27. Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie.  

Daar is ‘n gesegde wat lui: Die dinge wat jy besit, eindig op om jou te besit. Sonder dat ons besef, kan die vryheid van oorvloed ‘n tronk word wat ons gevange hou wat ons perspektief laat verloor oor wat belangrik is.  

Jesus se woorde hier in Markus rig ons aandag daarop dat dieselfde kan gebeur met ons ritmes van rus. Soms kan ‘n rusdag soveel verwagting op ons laai, dat, wanneer ons nie genoeg ontspan nie, ons nog meer angstig word. Soms word dit nog ’n groter las op ons skouers.  

In Jesus se tyd, het die onderhouding van die Sabbat vir baie mense ’n las geword. Jy moes so hard fokus om ’n lang lys dinge nie te doen nie, dat ek wonder of ek ooit uitgerus sou voel. Jesus herinner dan eenvoudig die mense om weer die fokus te skuif na wat eintlik belangrik is. 

Wat beteken Jesus se woorde vir jou, dat die Sabbat vir die mens is en nie die mens vir die sabbat nie?  

Dink jy die wêreld het perspektief verloor van wat belangrik is? Hoe kan jy fokus op die dinge wat werklik belangrik is?  

Gebed 

Here, ons verloor so maklik perspektief. Dinge wat veronderstel is om rus te bring, word dinge wat bydra tot ons rusteloosheid. Wys ons wat werklik belangrik is vir U, sodat ons al hoe meer in ritme met U kan leef.  

Amen 

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 5 November

Eksodus 16:29-30. Ek het vir julle die sabbat gegee en daarom gee Ek vir julle op die sesde dag genoeg kos vir twee dae. Elkeen moet bly waar hy is en niemand mag op die sewende dag sy woonplek verlaat nie.”  30Die volk het op die sewende dag gerus.  

Die Sabbat vra ons om te dink oor wat genoeg is. In die verhaal in Eksodus 16, voorsien God op die 6de dag vir die Israeliete dubbel as op enige ander dag. Die 6de dag gee genoeg kos vir die volgende twee dae. Tog gaan daar Israeliete op die Sabbatdag uit, om nog te kry, net om te sien dat God die waarheid vertel het toe Hy gesê het dat daar nie nog sal wees op die Sabbatdag nie. 

Ons lewe in ’n wêreld van nog. Die wêreld belowe altyd nog en nooit genoeg nie. 

Hoe lyk genoeg vir jou?  

In die Eksodus verhaal, is die Israeliete se verwagting van nog, leeg. Dink jy die wêreld se beloftes van nog is dalk ook leeg? 

In die Sabbat, nooi die Here ons uit om te vertrou dat Hy vir ons genoeg voorsien. Hy nooi ons uit om of definisie van genoeg te hersien. Om te rus is ’n daad van vertroue. Soms, selfs in tye van rus, is ons bekommerd oor die dag daarna en steel ons bekommernis van môre, vandag se rus. Om werklik te rus, is om die Here te vertrou met môre. 

Is dit vir jou maklik of moeilik om te vertrou dat God sal voorsien in die toekoms?  

Mag God se uitnodiging om deel te neem aan die Sabbat, ons leer om in Hom te vertrou. Mag God ons definisies van nog en genoeg al hoe meer verander en mag ons werklik rus vind in Hom. 

Gebed 

Here, dit is soms moeilik om te vertrou dat ek genoeg sal hê vir môre, veral wanneer vandag reeds moeilik is. Leer ons om te vertrou dat U vir ons genoeg sal gee. Leer ons om nuut te dink oor wat genoeg is. Wanneer U vir ons in oorvloed gee, gebruik ons ook om te verseker dat elkeen genoeg het.  

Amen 

Gedagte vir die dag | Vrydag 4 November 2022

In die tien gebooie, is die wet oor die Sabbat die enigste wet wat saam met ’n verduideliking gaan. In Deuteronomium lees ons dat die Sabbat onderhou moet word, omdat God vir Israel uit slawerny uit Egipte bevry het. 

In Egipte was die Israeliete deel van ’n sisteem van slawerny waar werk sonder rus aan die orde was. In Egipte het die Farao altyd meer werk verwag – waar ook al die Farao regeer, vertel die eksodus verhaal, is rusteloosheid aan die orde van die dag. Dalk lyk dit nie soveel anders as groot dele van ons samelewing vandag nie?  

In kontras hiermee, gee God vir Israel die bevel om die Sabbat te onderhou. God bied ’n alternatief tot die rusteloosheid van Egipte. God nooi ons uit om deel te wees van ’n alternatiewe gemeenskap wat rondom rus gesentreer is, wat weerstand bied teen die rusteloosheid en uitbuiting wat sigbaar is in Egipte en ook rondom ons vandag. 

Dus is die Sabbat nie net ’n uitnodiging om rus te vind in God nie, maar ook ’n uitnodiging om weerstand te bied teen ongeregtigheid, uitbuiting en rusteloosheid. 

Waar sien jy rusteloosheid raak rondom jou? 

Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ’n slaaf was. Dit is ’n opdrag wat selfs vandag, dalk veral vandag, belangrik is. Onthou dat die wêreld altyd meer van jou vra, dat die wêreld rusteloos is. Onthou dat God ons daarvan bevry het en ons uitnooi om deel te neem aan ’n alternatiewe gemeenskap wat gesentreer word rondom rus. Nie net vir jou nie, maar ook vir elkeen rondom jou.  

Gebed 

Here, daar is soveel plekke in die wêreld waar rusteloosheid aan die orde van die dag is. Help ons om rus te vind te midde hiervan. Help ons om rus te bring waar daar rusteloosheid is. 

Amen 

Gedagte vir die dag | Donderdag 3 November 2022

Genesis 2:1-3. 1Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. 

Rus is van die begin af deur God in die ritme van die Skepping ingebou. Die Sabbat is die hoogtepunt van die skeppingsverhaal in Genesis. ’n Mens sou kon wonder hoekom God gerus het op die sewende dag? Dit sal vreemd wees om te dink dat God moeg was en rus nodig gehad het. Dalk moet ons raaksien dat God, in die skepping van die sewende dag, rus ’n integrale deel van die Skepping maak. God nooi ons uit om deel te neem aan die ritme van deelname aan sy kreatiewe skeppingswerk in die eerste ses dae en rus op die sewende dag. 

Walter Brueggemann skryf God “is a Sabbath-keeping God, which fact ensures that restfulness and not restlessness is at the center of life.” 

God self onderhou die Sabbat om ons in te nooi in ’n lewe wat rondom rus gesentreer is, eerder as rusteloosheid. 

Die Sabbat is nie veronderstel om ’n dag te wees waar jy herstel van die uitputting van die eerste 6 dae nie. Dit is nie ’n dag waar jy vir ’n oomblik asem skep voordat jy weer jou kop onder die water druk nie. Die Sabbat is die vertrekpunt, waaruit ons leef. Die ritme van die Skepping nooi ons uit om vanuit ’n plek van rus te leef en vanuit rus deel te neem aan God se kreatiewe skeppingswerk.  

Wat beteken dit vir jou om vanuit ’n plek van rus te leef? Is dit hoe jou lewe, of die samelewing lyk? 

Mag die Here jou vandag herinner dat Hy nie ’n God van rusteloosheid is nie, maar van rus, en mag jy vandag rus vind in Hom. 

Gebed 

Here, U het die hele Skepping rondom ’n ritme van rus geskep. So dikwels lei ons rustelose lewens, waar ons net elke nou en dan opkom vir asem. Help ons om vandag rus te vind in U en vanuit hierdie rus te lewe. 

Amen. 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 2 November 2022

Matteus 11:28-29. “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 

Daar is verskillende tipes moeg in die wêreld. Daar is die fisiese moegheid van min slaap, wat genees kan word deur ’n goeie middagslapie. Maar dan is daar ook ’n moegheid wat dieper sit, wat nie so maklik afgeskud kan word nie – maak nie saak hoe baie jy slaap nie, jy kan nie hierdie moegheid afskud nie. Dit is ’n moegheid wat diep in jou gemoed sit – ’n sielsmoegheid, wat jou onrustig maak. 

Die woord onrustig som dit mooi op. Iets wat jou onrustig maak, is iets wat rus van jou af weghou, iets wat rus by jou steel. Ons elkeen ken dit. Ons is in ’n stresvolle tyd van die jaar, in ’n stresvolle tyd van die wêreld, met ’n klomp dinge wat ons onrustig maak. Dikwels is besig wees ’n simptoom van die onrustigheid wat dieper in ons leef. Die einde van die jaar staan bekend as die selfdood-seisoen, nie omdat mense oorlaai word met werk nie, maar juis omdat mense dikwels ophou werk en dan besef die onrustigheid wat hulle beleef, lê dieper as wat hulle gedink het. Besig wees is dikwels ’n meganisme om die onrustigheid van ons gemoed te onderdruk. 

Raak vir ’n oomblik bewus van wat in jou gemoed aan die gang is. Wat maak jou onrustig? 

In hierdie uitnodiging van Jesus, praat Jesus oor hierdie tweede tipe moegheid en nooi ons uit om rus te vind by Hom. Jesus gee ons die belofte: ons sál rus kry vir ons gemoed wanneer ons rus vind in Hom.  

Ons kan Jesus vertrou met die onrustigheid in ons hart. Ons kan rus vind in Hom. Neem ’n oomblik om jou onrustigheid met Jesus te deel. 

[Stilte] 

Vir die volgende week gaan ons tyd deurbring met Jesus en God se uitnodiging aan ons om te rus.  Mag die Here vir jou in hierdie week al hoe meer bewus maak van die onrus in jou, sodat ons werklik rus kan vind in Hom. 

Kom ons bid saam 

Gebed 

Here, daar is so baie dinge wat swaar rus op my gemoed. Here, sien tog my onrus raak. U nooi ons uit om rus te vind in U. ’n Dieper rus vir my gemoed. Help my om my onrus by U neer te lê, sodat ek rus mag vind vir my gemoed.  

Amen 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 1 November 2022

Johannes 6: 60. “Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee? Vers 66. Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.”

Is dit nie ’n interessante teks nie! Waarom het baie van Jesus se dissipels die keuse gemaak om hom nie meer te volg nie. Die implikasies dat God by hulle lewens teenwoordig was en baie spesifiek van hulle vra om veranderinge aan hulle denke en lewenspatrone te maak was vir sommige net te radikaal. Wat beteken radikaal en watter veranderinge vra die Here van ons vandag? Die uitdagings wat Jesus aan sy navolgers gestel het was nie onredelik nie. Dit was in teendeel altyd gefokus op ’n baie praktiese uitkoms wat met mense se omstandighede om hulle en te doen gehad het. Maar daarvoor moes hulle veranderings maak.

Om die Here op hierdie wyse te volg mag dalk lyk of dit te veel van jou gaan vra, of dit jou roetines deurmekaarkrap, of te veel ekstra energie van jou gaan verg. Tog, is die teendeel waar. Die Here wil juis deur veranderinge ons inspireer om anders na omstandighede om jou te kyk en jou help om jou passie en geestelike gawes te herontdek. Hulle sê dat die verskil tussen ’n groef en die graf is net die diepte daarvan. Laat die Here toe om jou vandag op ander paaie te neem sodat jy daar iets nuut kan ontdek.

Gebed

Here, dankie vir die geleentheid van hierdie nuwe dag en die geleentheid om vandag iets nuut te ontdek wat my kom inspireer en energie gee om dit te kan geniet. Ons hou vas aan die geloof dat U Gees ons elke dag kom leer, lei, vorm en rig. Maak hierdie ook weer so. Dankie dat ek vandag kan uitsien na die seën van lewe wat U my kom gee en hoe ek vandag tot seën vir ander kan wees. Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 31 Oktober 2022

2 Korintiërs 9:6-8. “Dink daaraan: wie karig saai sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd en van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”

Oktobermaand is tradisioneel by alle kerke die tyd van hulle tiendemaandinsameling. Iewers deur die loop van die maand sou jy dus bewus geword het van jou eie gemeente wat die appèl rig om ‘n dankofferbydrae te oorweeg en te gee en jy wonder wonder moontlik hoeveel jy moet bydra. Ons lees vandag se teks en glo dat dit die moeite werd is om dan ook jou geld in jou kerk te belê, omdat iewers vorentoe ’n stukkie voorspoed weer na jou kant toe sal terugkom. Tog, is die oorweging in die gedeelte anders. Die oes waarvan gepraat word verwys eerder daarna dat ons gebaar van dankbaarheid ons tot veel meer wil aanspoor as net ons eie toekomstige voorspoed.  Die vrygewigheid waarna die teks verwys maak ’n dankbaarheid in ons los om die lewe wat die Here ons gegee het te kan waardeer en iets mooi en besonder daarvan te maak. Gun jouself die geleentheid om dus nie net in die plig van gee vas te kyk nie, maar om die Here toe te laat om deur jou bydra iets groter in jou los te maak wat tot seën van ander kan wees.

Gebed

Here, dankie dat U ons vandag met oorvloed seën. Dat ons genoeg het vir onsself en nog bo en behalwe dit oorgenoeg oor het om te gee en by te dra waar dit nodig is. Help ons met die perspektief dat wat ons het en waarvoor ons hard werk en spaar tydelik is en net geleen is. Soos wat ons met niks in die hierdie wêreld inkom nie, gaan ons ook  met niks daaruit, maar wel met die vrede dat ons die lewe as gawe kon beleef.

Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 30 Oktober 2022

 

Jona 4:1. Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.

In vandag se teks skop Jona vas teen die Here se opdrag om hulle vyande, die Assiriese stad Nineve te waarsku sodat hulle behoue kan bly. Die gedagte is vir Jona so erg dat hy eerder kies om te sterwe as om van besluit te verander. Is Jona ernstig of probeer hy God manipuleer? Ek dink dit het met die laasgenoemde te doen. Onderhandel ons ook somes soos Jona met die Here om ons sin te kry? Ek dink tog so. . . dit is nie vir ons maklik om van besluit te verander wanneer ons sterk in iets glo nie. Ons mag dalk juis so oor ons geloof dink . . . dat ek  moet vashou aan wat ek dink ek glo, maar as ons na verhale soos Jona in die Bybel kyk besef ‘n mens daar is tog iets meer. Geloof is eerder om God voordurend toe te laat om ons te vorm sodat ons kan groei en verander. Dit het die Reformasie ons in hierdie maand meer as 500 jaar gelede geleer. Een van die beginsels daarvan was die woord Semper Reformanda wat beteken dat die Here ons voortdurend aanspoor om in die lig van ons omstandighede te reformeer sodat ons relevante lewens kan leef. Hoe praat Jona se hardkoppigheid vandag met ons? Wat wil die Here hê moet jy heroorweeg?

Gebed

Doen slegs U wil Heer, U wil met my. U Pottebakker, met my die klei. Vorm my en maak my, net soos U wil, op U bly wag ek nederig en stil. Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 29 Oktober 2022

Markus 14:38. Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die Gees is gewillig maar die vlees is swak.

Hierdie teks speel af tydens die viering van die Paasfees toe derduisende gelowiges vir die viering daarvan Jerusalem toe gestroom het. Daar het ’n gees van vreugde en opgewondendheid geheers. Nie net het die Jode gevier dat God hulle bevry nie, maar die fees het hulle weer uitgebring om weer saam met vriende en familie die geleentheid te vier. Die hoogtepunt was die Paasete. Daar was ’n ryk verskeidenheid van kos waarvan die hoofgereg gebraaide lam was. Laat die aand na die ete was Jesus saam met sy dissipels op pad gewees na die tuin van Getsemane waar hulle saam met vele ander pelgrims vir die fees oornag het. Die dissipels was ontspanne en uitgeput van die dag en daarom was daar geen dringendheid by hulle om te maak soos Jesus vir hulle laat die aan vra nie: Om wakker te bly sodat hulle kan bid en waak nie. Jesus het geweet dat hulle wêreld binnekort omgekeer gaan word wanneer sy lyding en dood gaan aanbreek.

Daar is geen manier waarop ons weet wat vir ons in die wêreld voorlê ni. Ons leef van oomblik tot oomblik in die lekkertes wat ons kan beleef. Dit is tog beter as om die hele tyd jou te bekommer oor die slegte wat jou moontlik mag tref. Die wakker wees en waak waartoe Jesus ons deur die teks aanmoedig is anders. Dit vra van ons om in daaglikse afhanklikheid te leef. Om gefokus en dankbaar te wees vir die seën wat ons mag beleef en die vertroue dat die Here ons deur enige iets wat op ons pad wag, sal lei. Mag ons op die wyse bid en waak en nie in die versoeking kom om net elke dag willekeuring in te gaan nie.

Gebed

Here, ons gaan vandag soos enige ander dag in. Ons is gerat vir ons vaste roetines wat aan spesifieke tye gekoppel is en probeer onverwagse gebeure iewers inpas. Ons besef die waarde daarvan om te bid en te waak. Om niks in die lewe as vanselfsprekend te aanvaar nie en tyd te neem om U te dank vir elke oomblik van seën in die lewe. En dan ook daarin die versekering te kan beleef dat ons enige lyding of swaarkry of ontnugtering wat hierdie dag op ons wag, kan hanteer. Lei ons asseblief in die onbekende wat moontlik in hierdie dag op ons wag.

Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 28 Oktober 2022

Efesiërs 2:14. Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het.

Gister se dagstukkie het gegaan oor die tempel as God se woonplek. Toegang tot die tempel was egter beperk tot sekere mense – mure het die grense daarvan aangedui. Daar was ’n muur met ’n bordjie wat gewaarsku het dat nie-Jode nie verder mag gaan nie en daar was weer ’n muur wat skeiding gemaak het tussen mans, vrouens en kinders. Dis die einste muur waaroor ons teks handel.

Die insig is dat hierdie muur vandag verskeie ander vorms aanneem en presies dieselfde effek het: Ons beoordeel mense op grond van beginsels wat mense van mekaar onderskei, maar wat vir God self, geen waarde het nie. Kom ons dink vandag baie mooi na oor hoe hierdie beginsel dalk nog in ons lewens geld. Wat sou dit vandag vir jou beteken dat die Here jou wil help om hierdie muur wat onvrede en ontevredenheid bring, af te breek?

Gebed

Here, wanneer ek vandag na mense om my kyk en nadink oor ervarings van die verlede is daar soveel onvrede wat ek in my saamdra. Dis dinge wat ek hoog op prys stel en baie van my emosionele energie verg, maar wat ek weet eintlik glad nie vir U saak maak nie. Help my vandag om die mure te sien wat tussen my en ander mense staan. Help my verstaan dat alhoewel dit baie argumente, redenasies, geld en tyd gekos het om hierdie mure op te rig, dit goedkoop en oombliklik afgebreek kan word. Gee my insig Here om te kan onderskei wat wesenlik is en sodat ou gevestigde mure sodanig vernietig kan word en ons die wonder van ’n nuwe hede en toekoms kan beleef. Amen.

1 50 51 52 128