GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Saterdag 26 November 2022

Galasiërs 6:2. “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.”

In God se geloofsfamilie dra niemand alleen aan hulle laste nie. Almal help mekaar met hulle unieke laste. Die laste waarvan Paulus hier praat, dui letterlik op ’n swaar gewig, maar  figuurlik verwys dit na geestelike laste, dit wil sê, sondes wat dreig om gelowiges te laat struikel (v1). Ons sondes, volgens Paulus, plaas ’n las op ons wat ons kan vergruis.

Die Galasiërs, en ons vandag, moet mekaar help en ondersteun om hierdie laste te dra. As die een val, moet die ander hom of haar ophelp. Ons moet egter baie versigtig wees dat ons self nie ook struikel en begin sondig nie.

Hoe dra ons mekaar se geestelike laste? Deur mekaar te waarsku en te vermaan teen daardie aspekte van ons lewe wat nie volgens God se wil is nie. As ons dit doen, sê Paulus, gee ons uitvoering aan die wet van Christus. Liefde is immers die vervulling van die wet en daar is geen groter liefde wat ons aan iemand anders kan bewys as om hulle te waarsku teen die gevare van sonde in hulle lewe nie.

Martin Luther het by wyse van spreke gesê gelowiges moet sterk
skouers en bene hê sodat hulle mekaar se swaar laste kan help dra. Dan het
ons lief soos Jesus liefhet. Dit is omgee vir mekaar. Dit gee aan die
lewe diep betekenis. Henri Nouwen het gesê: “Wie iemand anders teen ‘n opdraand uithelp, kom self ook bo!” . Dra mekaar se laste… en doen so wat Jesus van jou verwag.

GEBED

Hemelse God en Vader, help my sodat ek ander kan help. Maak my oë oop dat ek kan sien wie my hulp nodig het. Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 25 November 2022

Psalm 91:1515Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.

Die 16de-eeuse digter John Donne het ’n baie moeilike lewe gehad, tot so ’n mate, dat hy sy hele lewe met die chroniese pyn geworstel het. Aan die einde van sy lewe toe hy ernstig siek was het hy ’n klein boekie geskryf met die titel Devotions Upon Emergent Occasions. Hierdie boeke is vir meer as vier eeue al in druk. Hierin kom hy tot die gevolgtrekking dat die lewe altyd omstandighede insluit wat vrees wek. As dit nie siekte is nie, is dit finansiële swaarkry en as dit nie armoede is nie dan is dit verwerping of eensaamheid of mislukking. Donne het ontdek dat ons in die wêreld wat met pyn en lyding gevul is,  ’n keuse het om God te vrees, of van God af weg te draai en hy het besluit om met al sy pyn na God te draai.

Aanhoudende bekommernis het ’n uiters nadelige invloed op ’n mens se emosies en senuweestelsel. Wanneer jy jou gedurig oor dinge kwel, kan dit jou later ín diep donker put laat beland.

Die geheim vir al jou probleme lê in die liefde en sorg van die almagtige God. Ongeag hoe hopeloos jou situasie vir jou mag voorkom, sal jy sterkte put uit die krag van God. Wanneer jy dit aan God oorgee sal jy agterkom dat die las om te dra effens ligter voel.

Vertrou te alle tye op die lewende Verlosser en weet dat hoe ernstig die situasie ook al mag wees, Hy daar sal wees om jou deur dit  te dra.

GEBED

Hemelse God en Vader, ek wil nou elke las voor U kom neerlê. Stap asseblief saam met my in hierdie donker tyd van my lewe. Dankie dat ek weet ek hoef nie bang te wees nie.

Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 24 November 2022

2 Korintiers 4:16-17. “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”

Om ’n dissipel van Christus te wees is geen waarborg dat jou lewe vry van bekommernis en probleme sal wees nie. Van die grootste geloofshelde het met probleme te kampe gehad nadat hulle trou aan God beloof het.

Die manier hoe jy jou probleme hanteer is dikwles belangriker as die probleem self. Sommige sien hul probleme as struikelblokke terwyl ander dit weer as geleenthede sien om hulle verhouding met hulle hemelse Vader te versterk. Die Here het belowe dat Hy altyd daar is – in die moeilike tye en ook in die goeie tye. Om ons probleme na God te neem beteken nie noodwendig die oplossing is onmiddelik daar nie. Dit kan soms ’n tydjie neem voor die oplossing daar is.

Die spreekwoord lui: Die lewe is nie net maanskyn en rose nie. Daar is tye wanneer dit voel asof ’n mens nie meer verder kan nie, want die lewe het jou flenters geslaan en tye waar jy as’t ware platgeslaan op die vloer bly lê. Hoe dan gemaak? Is daar hoop? Moenie tou opgooi nie. Paulus leer ons vanoggend dat ons ten spyte van al die teenslae moet opstaan. Al voel dit so, dit is nie die einde van die wêreld nie.

GEBED

Liewe Here,
Ek erken dat ek gereeld vergeet dat U by my is.
Ek vergeet gereeld wie U is.
Vergewe my asseblief.
Help my om U Woord en U beloftes te ken.
Help my om U eerste op elke terrein van my lewe te plaas.
Help my om een dag op ‘n slag te leef.
Help my om my nie oor môre te bekommer nie, maar om eerder op U te fokus en wat U nou in my lewe doen.
Ek wil vertrou op U belofte om in al my behoeftes te voorsien – finansiële, verhoudings, fisiese, sosiale, geestelike en emosionele.
Help my om U meer te vertrou en minder te bekommer.
Ek bid in Jesus se Naam. Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 23 November 2022

 

Markus 6:31 “Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”

Ons lewe vandag teen ’n vinnige tempo en onder geweldige druk. Ons weet soms dat ons ons lewenspas stadiger moet maak, maar weet dikwels nie hoe om dit te doen nie. Daar is eenvoudig nie tyd om behoorlik stiltetyd te hou nie, of om die skoonheid van die natuur te bewonder en waardeer nie. Ons skeep ons kinders en ons vriende af, want ons is net altyd besig. Ons jaag deur die lewe en loop alles wat mooi en waardevol is, mis. Ons gees en liggaam het van tyd tot tyd rus nodig. Dit is in oomblikke van stilte en afsondering dat ons gees weer herstel word.

Jesus het besef dat die belangrike taak om die Koninkryk van God uit te brei, ’n geweldige tol van sy dissiples geëis het en dat hulle rus nodig het. Om hierdie rede het hy hulle bymekaar geroep om vir ’n ruk hulle werk opsy te skuif en eers saam met Hom te rus.

God skep met rede die sewende dag as ‘n rusdag. Nie dat Hy noodwendig rus nodig gehad het nie, maar Hy het geweet ons het. Om gebalanseerd te lewe moet daar tye van rus wees. Rus van dit wat ons elke dag doen, wat dit ook al is, maar ook tye van refleksie oor ons lewe en oor God. Sonder hierdie tye word ons soos rotte op ‘n wiel, ons hardloop al hoe vinniger maar kom nêrens nie. God het vir ons elke week so ‘n dag gegee, kom ons gebruik dit vir dié doel waarvoor dit gegee is en tot ons eie welwese.

GEBED

Hemelse God en Vader ek jaag so deur die lewe. Ek weet ek het oomblikke van rus nodig. Oomblikke om by U stil te kan word. Skenk dit asseblief vir my.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 22 November 2022

Ons eindig hierdie reeks van Rus vandag met die teksvers van Psalm 62:2 “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding”.

Ek en jy het egter nodig om te leer hoe om in Christus te rus.  Hy het vir ons ‘n oop uitnodiging gegee: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.  Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en My las is lig.” (Matt 11:28-30).

Hier praat Jesus oor die rus van jou innerlike menswees, daardie deel waarmee jy met Hom in ’n verhouding staan. Hierdie verhouding doen weg met alle prestasie en werke wat om jou draai en verskuif die fokus na wat en hoe Hy dinge deur en vir jou doen.

  • Wat het God se Woord met hierdie reeks van dagstukke vir jou oor rus gewys en geleer?
  • Hoe wil God hê moet die woord, rus jou lewe verander?
  • Waar in die wêreld gaan jy dit wat jy ontdek rus het, prakties uitleef?

Graveer hierdie op jou hart: Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding.  Net by God vind ek rus, want van Hom kom my redding.

Gebed

Here Jesus, U het my hart verlig met die waarheid en wyshede van rus. Gee my ook u Heilige Gees en krag dat ek kan weet en doen wat U behaag en verlang.

Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 21 November 2022

Ons teksvers van Rus vandag is Jesaja 30:15. “So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.”

Vertrou op jouself en gaan ten gronde. Vertrou op God en leef! Oor en oor bring Jesaja dieselfde boodskap aan ons. Julle vertroue is nie op die Here nie. Julle wil op ander lande vertrou.  Julle wil op vinnige perde vertrou en vinnig wegjaag as die moeilikheid te veel raak. Maar weereens is die Here genadig.  Die Heilige van Israel se boodskap is: Kom tot rus, bekeer julle!  Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

Het ons verleer om stil te word voor die Here? Kan ons nog op die Here wag?

Gebed: Here, dankie dat ons op U kan wag en stil word voor U. Leer ons om te onderskei tussen die dinge wat ons vandag moet verander en kan verander en die dinge wat ons net in U hande kan plaas. Amen

 

 

Gedagte vir die dag | Sondag 20 November 2022

 

Ons teksvers van Rus vandag is Filippense 4:7 “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Moeder Teresa skryf (in “Simple Path”) die volgende:

Die vrug van stilte is gebed.

Die vrug van gebed is geloof.

Die vrug van geloof is liefde.

Die vrug van liefde is diens.

Die vrug van die diens is vrede.

Mag die vrede van God vandag wag hou oor jou hart en gedagtes. Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 19 November 2022

Ons teksvers van Rus vandag is Handelinge 1:8 “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom…”

Leef ons vandag vanuit hierdie krag?

Hiermee ’n verwerkte en verkorte gebed van Martin Luther:

Here, my beker is leeg. Ek verlang dat U my met U teenwoordigheid kom vul. Ek is swak in die geloof – versterk my opnuut. My liefdesvlam brand swak – maak my weer vurig, dat my liefde sal uitstraal na hulle naby my. My geloof wankel tog so maklik – ek twyfel soms en ander kere sukkel ek om op U te vertrou. O Here, help my. Sterk my geloof en vertroue. Ek is arm en U is ryk – en U het juis gekom om vir armes U genade uit te deel. Ek is ’n sondaar, U is regverdig daarom bly ek aan U sy. Ek het niks om vir U aan te bied nie. Ek kan alleen maar van U ontvang. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 18 November 2022

Ons teksvers van Rus vandag is Psalm 32:8 “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou” en Psalm 22:3  “My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.”

Ons leef eintlik maar almal tussen tye van “die Here het gepraat” en “as die Here tog maar net wil praat”. Dalk lê ons spanning juis in ons daaglikse onvermoë om ten volle te glo en te vertrou. Daarom ervaar ons soms onrus in plaas van rus in Hom. Om te sê “God haal ook asem” is om te sê: “God Leef!”. Maar dis een ding om te hoor dat God leef en ‘n ander om saam met Hom te leef.

Mag jy vandag ware rus beleef deur saam met Hom te leef en op Hom te vertrou om vir jou die pad te wys.

Gebed geïnspireer deur ’n Anglikaanse Priester, Eric Milner-White:

Heilige Gees van God, kom beweeg tussen ons.  Kom as wind en reinig ons; kom as vuur en suiwer ons; kom as reën en verkwik ons.  Wy ons harte en lewens aan U vir ons eie welsyn en tot U verheerliking.

Amen

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 17 November 2022

Ons teksvers van Rus vandag is Jesaja 42:5. So sê God, die Here, Hy wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het, Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer, Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan alles wat beweeg.

As ons iets oor God wil verstaan, moet ons God se Asem leer ken. Ons asem behoort aan God. Soek vandag ’n stil plek waar jy bloot op jou asemhaling kan fokus en jou gedagtes voor God kan bring in afhanklikheid van Hom as die lewegewende Skepper.

Bid vandag saam hierdie 4de eeuse gebed van Augustinus:

Fluiter in my oor, Heilige Gees: Ek sal dan net die goeie dink.

Spoor my aan Heilige Gees: Ek sal dan net die goeie doen.

Daag my uit, Heilige Gees: Ek sal dan net die goeie soek.

Gee my krag, Heilige Gees: Ek sal dan die goeie kan vashou.

Beskermheer, O Heilige Gees: Ek sal die goeie nooit vergeet.

Amen

1 48 49 50 128