Gedagte vir die dag | Donderdag 8 Desember 2022
Psalm 139:11-12: Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.
Refleksie
Die Psalmdigter reflekteer hier oor God se teenwoordigheid in die wêreld. Daar is nêrens waarheen ons kan vlug, waar God nie reeds is nie. Daar is ook nog ’n dieper refleksie in hierdie vers, wat handel oor ons belewenis van die wêreld as lig en donker. Ons vergelyk selfs lig en donker soms met goed en sleg. Hierdie vers nooi ons uit om te besef dat wat vir ons lig en donker is, nie noodwendig vir God lig en donker is nie. Ons behoort nie te vinnig te wees om die wêreld in boksies van lig en donker te plaas nie, want God werk nie noodwendig volgens ons kategorieë nie – vir Hom is die nag so lig soos dag en die donker so goed soos lig.
Mag ons rus vind daarin dat God soveel groter is as ons feilbare, beperkte belewenis van die wêreld.
Gebed
Here, ons verdeel die wêreld so maklik in boksies van lig en donker, maar vir u is die nag so goed soos dag. Mag ons weet dat waar ook al ons gaan, u reeds daar is. Mag u ons help om met U oë te kyk na die wêreld rondom ons.
Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 7 Desember 2022
Ons is in die tyd van Advent. Advent is ’n tyd waar ons wag op die koms van Jesus. Een metafoor wat Jesus se koms beskryf, is ’n lig wat skyn in die donkerte. Hierdie volgende week gaan ons stilword by verskillende teksgedeeltes oor lig en donker.
Op die heel eerste bladsy van die Bybel, lees ons in Genesis 1:1-2: In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.
Refleksie
Die heel eerste keer wat ons God ontmoet in die Bybel, is terwyl Hy in die donkerte oor die diep waters sweef. Toe daar nog nie eers lig was nie, was God teenwoordig in die donkerte. Donkerte is vir baie ’n plek van vrees, of selfs boosheid – iets wat bedreigend is. In die teks wil dit nie voorkom asof God bedreig voel deur die donkerte nie en dalk selfs tuis voel daarin. Hoe laat dit jou voel om te dink dat God nie bedreig voel oor donkerte nie?
Die donkerte van die diep waters in Genesis 1 word juis die plek waar God sy skeppingswerk begin. Die donkerte is die geboorteplek van die skepping. As dit waar is vir die skepping, is dit dalk ook waar vir die donkerte in ons eie lewens.
Gebed
Here, u was daar voor daar enige iets was. Toe die aarde nog woes en donker was. In die donkerte het U, u skeppingswerk begin. Mag U ook in die donkerte van ons lewens skeppend wees, om nuwe lewe en lig te laat skyn
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 6 Desember 2022
Lukas 15:1. Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en Skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle”
Die goeie nuus van Kersfeestyd is dat God mens kom word het. God is, Immanuel. Dit beteken dat God by ons is. Dit bring ons by die belangrike en uitdagende vraag uit: Wie is die ons van Kersfees? Die teks laat ons duidelik verstaan dat dit nie net dié groepie is wat hulle Christene of kerk noem nie, maar dat Kersfees die goeie nuus vir almal op aarde kom verkondig. Waar is die Here, Immanuel vandag op aarde? Met wie wil hy saameet en in wie se teenwoordigheid of huise wil hy ons innooi? Laat toe dat vandag se teks jou dieper laat nadink oor die realiteit van God in Suid-Afrika en die wêreld waarin ons tydens Kerstyd leef. Mag jy beleef hoe dit jou gedagtes oopmaak vir ’n ander Somerkersfees in hierdie land.
Gebed
Here, gee ons in hierdie Kersfeestyd ’n insig in wat dit beteken dat U, God by ons is. Breek deur my eng persepsies van wie ek dink “ons” is. Verlig daarin die spanning wat in my leef oor ’n wêreld om my wat lyk of dit buite beheer is. Help my om in hierdie tyd saam met U te loop wanneer U by mense, plekke en huise kom wat ek weier om ’n voet in te sit. Dankie dat U van vir my ’n helder Somerkersfees in hierdie land skenk.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 5 Desember 2022
Matteus 23:3. Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek en gesê: Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het die gesag om die Wet van Moses te vertolk. Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie volg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ‘n vinger verroer om dit te dra nie.
’n Mens beleef dikwels dat gelowiges vanuit die Bybel die regte goed sê, maar so ver verwyder leef van die realiteit wat die Here daardeur wil aanspreek. Dit is een ding om dit wat ons in die Bybel hoor en leer in ons verstand met ons saam te dra, maar iets anders om te weet hoe om dit toe te pas. Ons geloof beteken nie iets as gevolg van die standpunte waarin ons glo nie, eerder in hoe daardie standpunte die aard en karakter van God reflekteer in ons lewens reflekteer en hoe dit ons aanspoor om betekenisvolle lewens te lei. Ons het nodig om die woorde wat ons in die Bybel lees en die godsdienstige gedagtes wat daaruit kom nie net bloot te herhaal omdat ons dit so geleer is nie. Jesus vra in die teks dat ons dit krities oorweeg. Inspireer dit ons om aanpassings te maak sodat ons met vrug kan lewe?
Gebed
O genadige en Heilige Vader, gee my die wysheid om iets van U raak te sien; die intelligensie om iets van U te verstaan; die ywer en geduld om op U te wag; ’n hart wat oor U liefde en heiligheid nadink en ’n lewe wat U grootheid verkondig. Ek vra dit deur die krag van die Gees van Jesus Christus.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 3 Desember 2022
Prediker 12:13. Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word.
Prediker het baie goed nagedink oor die sin van die lewe. Oor die waarde van hoe tyd in sy lewe loop. Hy het ondersoek ingestel na alles waarmee mense hulle met soveel sorg besig hou en bevind dat die meeste daarvan ’n gejaag na wind was. Dinge waaraan mense hulle krag en energie spandeer hou nie lank nie en gaan dikwels vinnig verby. Vandag se teks daag ons tot dieselfde bewussyn uit. Dit wil nie die punt maak dat ’n klomp van die dinge waarmee ons besig is, nutteloos is nie, maar eerder dat ons moet bepaal wat ons fokus is, terwyl ons daagliks met soveel verskillende dinge te doen kry. Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Prediker vra van ons om elke dag bedagsaam voor God te leef. Dank die Here vir die eenvoudige gawes van die lewe, gryp die geleenthede aan waarby die Here jou uitbring en leef in vertroue oor die groot dinge wat om jou gebeur en jy nie aldag verstaan nie. Mag jy elke oomblik van hierdie dag wat voor jou lê, beleef as ’n gawe van die Here.
Gebed
Vanoggend staan ek op, Here God, en gaan die dag binne gevul met groot krag, want U krag lei my; U mag hou my regop; U wysheid leer my; U oë waak oor my; U ore hoor my. Here dit is met hierdie ingesteldheid wat ek die voorreg van hierdie nuwe dag in gaan. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 2 Desember 2022
Jesaja 4:5-6. Die Here sal die inwoners van Sion reinig van hulle wandade en Hy sal die bloed wat aan die hande van Jerusalem kleef, verwyder deur die Gees wat oordeel en verteer. Dan sal die Here bedags ‘n wolk en snags die rook en glans van ‘n vlammende vuur skep oor die woonplek op Sionberg en oor al die bymekaarkomplekke daar. Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut.
Hoe kyk ons na verandering waarvoor ons nie self gekies het nie? Omdat ons voel dat ons daarin geforseer word, is dit nie iets waaroor ons positief is nie. Vandag se teks herinner ons dat ons eie gebrek aan insig en aksie nie God weerhou om te doen wat hy in ons tyd gedoen wil kry nie. Kyk dus vir ’n oomblik verby die gedagtes van God se oordeel wat ons in tekste soos vandag se teks raak lees en sien die Here se omgee wat deur ons eie hardkoppigheid wil breek. “Sy teenwoordigheid sal alles beskut”. Vir die inwoners van Jerusalem het verandering dikwels op die mees onverwagte tye en deur die mees onverwagte mense en omstandighede deurgebreek. Hoe is die Here soortgelyk in ons hede besig? Raak bewus dat die Here nie net deur ’n kerkdiens, preek of Bybelstudie met ons besig is nie. In sy groot wysheid is God vandag in sy skepping besig om mense op reis te neem.
Gebed
Here, ons bid so maklik dié bekende lied: “Doen slegs U wil Heer, U wil met my, U pottebakker, met my die klei, vorm my en maak my net soos U wil, op U bly wag ek nederig en stil”. Tog is dit nie vir ons maklik om verander te kan word nie – veral nie as dit bots met hoe ons dink, of voel nie. Gee ons daarom vandag insig in die wyse waarop U besig is in die groter gebeure van die dag. Help ons om U te vertrou in die midde van skynbare chaos en gee ons ‘n perspektief van U omgee vir hierdie groter skepping waarvan die kerk en ek maar net ‘n klein deel is.
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 1 Desember 2022
Psalm 130:1-2. Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.
Daar is ’n ou tradisie wat ’n generasie gelede meer algemeen was, is aan die verdwyn onder hedendaagse Christene. Dit is om te kniel en jou hande te vou as jy bid. So is baie ouer mense deur hulle ouers geleer om te bid. In die Ou Testament lees ons selfs dikwels dat mense wat intens bid plat op die vloer gelê het met hulle gesigte na die grond. Vandag se teks praat met ons oor hierdie houding. Om nie net met jou verstand te bid en iets te vra nie, maar toe te laat dat jou hele wese met God praat en om in die proses verander te word. Daar is nie ’n vaste reël, of ’n resep as ons bid nie, behalwe dat ons uit die diepte van ons lewe na God roep. Maak dit gereeld deel van jou lewe. Sonder jou af en gee jouself tyd om net stil te word en jou gedagtes skoon te maak van die alledaagse dinge wat dit in beslag neem. Laat toe dat dié lang stilte jou wese ondersoek en jou uitbring by gedagtes en gevoelens wat diep in jou weggesteek lê en waarvan jy nie eens bewus is nie. Gee jou tyd om te luister, want dit is hier waar God deur gedagtes, perspektiewe en aanvoelings met ons praat.
Gebed
Heilige Gees, transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde my vandag so omvorm, nee, so geheel herskep dat ek ’n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my watter rol ek vandag in hierdie wêreld kan speel om dit anders te maak. Maak my gehoorsaam aan U, o Gees van nuwe lewensmoontlikhede, dat my lewe ’n lewende gebed sal word, ’n getuienis van U troue teenwoordigheid in elke tyd en omstandigheid.
Gedagte vir die dag | Woensdag 30 November 2022
Efesiërs 1:5. Ons is in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy nog, voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.
Ek het die afgelope week weer na ons familie se stamboom gekyk. Dit laat ’n mens nadink oor die magdom mense wie se name daar staan wie jy nie ken nie, maar wie se lewensverhale tog op ’n manier nou met joune verwant is. Dit laat jou skielik anders kyk na die waarde van jou en jou familie se eie lewens vir die geslagte wat weer gaan terugkyk na jou naam. Vanoggend se teks wil ons laat verstaan dat ons lewens nie toevallig is nie en iewers in ’n groot en belangrike geheel inpas wat ons nie aldag kan sien nie. Die groot geheimenis kry wel vir ons betekenis wanneer ons onder die indruk kom hoe ons deur God se Gees in hierdie lewe geseën is. Word vandag hiervan bewus – jou lewe maak vir die Here saak en is deel van ‘n belangrike groter geheel. Laat die gedagte jou inspireer om nie net toevallig te lewe nie, maar met ’n gefokusde intensie om waarde aan die Here se skepping toe te voeg.
GEBED
Here, hier aan die einde van die jaar wonder ons weer oor alles wat ons deur die jaar gesê en gedoen het. Dit voel soos elke jaar hierdie tyd of die lewe net te vinnig by ons verbygaan. Gee ons vandag ’n diep indruk van die betekenis van ons hier wees. Wanneer ek na die jaar wat verby is terugkyk, help my juis om die seën daarin raak te sien en nie net te verval in die moegheid wat die jaar omwens nie. Dankie vir elke geleentheid en die plek vandag om geïnspireer te word vir die onbekende van die toekoms wat op my wag.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 29 November 2022
Psalm 5:2-3. “Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. 3Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.”
Daar kom dae dat dit vir jou voel jy wil nie vandag uit die bed uit opstaan nie. Jy bekommer jou oor al die onbetaalde rekeninge, of jy is oor jou gesin bekommerd, of jy is bekommerd oor jou gesondheid en so kan ons voort gaan. Die bekommernisse en frustrasies van die lewe maak jou depressief en jy voel of jy net van alles en almal af kan weg vlug. Dan voel dit ook nog asof God Sy rug op jou gedraai het.
Iets wat jy in sulke tye moet onthou is dat God ten volle bewus is van alles wat in jou lewe plaasvind, al lyk dit miskien nie vir jou so nie. Jy is Sy kind en Hy gee oneindig baie vir jou om. Hy sal aandag gee aan jou hulpgeroep. Die Here hoor elke sug en elke hulpgeroep wat uit jou hart uit opstyg en op sy tyd en op sy wyse sal hy uitkoms gee.
Moet nooit moed opgee nie. Lees jou Bybel vir moed. Praat met die Here en stel jou oop vir die influistering van die Heilige Gees. Hy sal vir jou die nodige ondersteuning gee om deur hierdie krisis van jou te kom
GEBED
Hemelse God en Vader, dankie dat U na my smeekgebede luister en dat ek U kan vertrou dat U op die regte tyd vir my ’n uitkoms sal gee. Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 28 November 2022
Nahum 1:7 “Die Here is goed, Hy is ‘n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.”
Martin Luther King het in sy leeftyd talle dreigemente van rassistiese Amerikaners ontvang en het dikwels vir sy lewe en die van sy gesin s’n gevrees. Hy is ook later gearresteer en in die tronk gegooi omrede hy vir die regte van Afrikaan-Amerikaners in Amerika geveg het.
In sy boek Spirituele oorlewing haal Philip Yancy die volgende uit een van Martin Luther King se preke aan: “Ek het op ’n punt gekom waar ek dit nie meer kon hanteer nie. Ek was swak en en het ontdek dat godsdiens vir my ’n werklikheid moet word, ek moes God persoonlik leer ken.” Die preek eindig dan met die woorde: “Die Here het belowe om my nooit alleen te laat nie. Nee, nooit alleen nie.” Hierdie woorde was genoeg om vir Martin vir die volgende 13 jaar van sy loopbaan te dra.
Die Here gee hierdie belofte ook aan elkeen van ons. Hy sorg vir die wat by Hom skuil soos ons in vandag se teks gelees het. God is deur sy Gees altyd by ons en is daar om ons in elke oomblik van ons lewe vir te help.
GEBED
Hemelse God en Vader, ek plaas my hoop in U. Dankie dat U my nooit alleen sal los nie, maar elke oomblik van my lewe by my sal wees.
Amen