Gedagte vir die dag | Saterdag 31 Desember 2022
Psalm 90:1. “Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.”
GEDAGTE
Kom ons kyk na een van die wonderlikste beloftes in die Woord van God: God is vir ons ‘n toevlug en beskerming, Hy was nog altyd bereid om ons in nood te help. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.
As jy hierdie God en Hemelse Vader in Christus ken, weet jy ook dat jy onder alle omstandighede nie alleen is nie, en dan kry jy ook die moed om uitdagings die hoof te bied. Dit is ’n verklaring, ’n getuienis, ’n uitdrukking van geloof, maar dit beteken nie dat niks sleg met jou kan gebeur nie en dat jy altyd pyn- en sorgvry deur die lewe sal gaan nie. Om in God te glo, beteken dat jou lewe en perspektief verander. God is magtiger as die uitdagings en moeilike tye wat jou bedreig en jou dikwels ’n speelding of slagoffer van jou omstandighede maak. By God is daar altyd hoop en uitsig. Hy sal seker maak dat die omstandighede jou nie sal onderkry nie.
Neem dan ook die belofte van Psalm 46 saam met jou in 2023.
GEBED
Hemelse God en Vader, dankie dat ek kan terugkyk oor die jaar wat verby is en sien hoe U my toevlug was. Dankie dat ek ook op U kan vertrou met die wete dat U in die nuwe jaar ook vir my ’n toevlug sal wees. Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 30 Desember 2022
Deut. 1:31 “Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos ‘n man sy seun dra.”
GEDAGTE
Een nag het ‘n man ‘n droom gehad. Hy droom dat hy saam met die Here op die strand loop. Tonele uit sy lewe het oor die hemel geflits. Vir elke toneel merk hy twee stelle voetspore in die sand: die een stel behoort aan hom en die ander aan die Here. Toe die laaste toneel van sy lewe voor hom flits, kyk hy terug na die voetspore in die sand. Hy het opgemerk dat daar dikwels net een stel voetspore langs die lewenspad was. Hy het opgemerk dat dit op die laagste en hartseerste tye in sy lewe gebeur het.
Dit het hom regtig gepla en hy het die HERE daaroor uitgevra: “Here, U het gesê dat sodra ek besluit het om U te volg, U die hele pad saam met my sou loop. Maar ek het opgemerk dat daar gedurende die moeilikste tye in my lewe net een stel voetspore is. Ek verstaan nie hoekom U my sou verlaat wanneer ek U die nodigste gehad het nie”. Die Here antwoord: “My seun, my dierbare kind, ek het jou lief en ek sal jou nooit verlaat nie. In jou tye van beproewing en lyding, toe jy net een stel voetspore sien, het ek jou gedra.”
Skrywer: Carolyn Joyce
Ons almal ken die bekende voetspore-storie waar die persoon die Here vra: Hoekom het U my verlaat want ek sien net een ry spore? En die Here antwoord; Ek het jou nie verlaat nie dit is die tyd toe ek jou gedra het dat jy net een ry spore gesien het. Dit is die wil van die Here om ons te dra in tye van nood, om ons by te staan en te beskerm. Dink terug aan die jaar 2022 en onthou weer hoe die Here jou ook gedra het.
Jesus wil vandag opdaag in jou lewe en vir jou sê: Hou goeie moed, moenie vrees nie, Ek is met jou en sal hou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Hy sal jou ook in 2023 dra.
GEBED
Hemelse God en Vader, dankie vir die tye wat U my gedra het toe ek net een ry spore gesien het. Lei my vandag in u vrede met die wete U is met my elke dag elke oomblik. In Jesus naam.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 29 Desember 2022
Psalm 146:5-9. “Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God. Die Here het die hemel en die aarde gemaak, die see en alles daarin. Hy bly vir altyd getrou, 7Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly. Die Here bevry die gevangenes,8 die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief. 9Hy beskerm vreemdelinge en help weeskinders en weduwees, maar Hy versper die pad vir die goddeloses.”
GEDAGTE
Let op die tien beskrywings van God se karakter in vers 6-9. Skryf dit op ’n kaartjie neer en herinner jouself deur die dag daaraan dat dit dié God is wat jou God is: “Hoe gelukkig is jy . . .!”
- Die Here bly trou tot in ewigheid,
- Die Here handhaaf die reg van verdruktes,
- Die Here gee aan hongeres brood,
- Die Here bevry gevangenes,
- Die Here maak blindes se oë oop,
- Die Here rig dié op wat terneergedruk is,
- Die Here het regverdiges lief,
- Die Here beskerm vreemdelinge,
- Die Here help vaderloses en weduwees op,
- Die Here maak die pad van goddeloses krom.
Dit is soos die Tien Gebooie van God se karakter. Jy kan regtig daarop vertrou en dit in gebed as ’n lofprysing aan God gebruik.
GEBED
Ons gebed vandag is die ou beryming van Psalm 146:
Prys die HEER met blye galme,o my siel, daar ‘s ryke stof!
‘k Sal, solank ek leef, my psalme vrolik toewy aan sy lof
en Hom, wat sy guns my bied, altyd groot maak in my lied.
Gedagte vir die dag | Woensdag 28 Desember 2022
Psalm 119:105. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
GEDAGTE
Psalm 119 is die langste hoofstuk in die Bybel. Dit is geskryf deur ’n man wat baie moeilike, en baie donker tye beleef het en die hele Psalm is sy gebed tot God.
Elkeen van ons beleef ook soms donker tye. Daar kom tye in ’n mens se lewe dat dit voel asof jy net nie uit die duisternis kan ontsnap nie. Jy voel vasgevang in ’n web van krisisse en hoe harder jy probeer om jou daaruit los te wikkel, hoe meer voel jy daarin verstrengel. Dis soms moeilik om weer die lig te vind.
Dit is dan wanneer ’n teks soos vandag s’n vir ons troos gee, U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my lewenspad.
Is dit nie wonderlik nie? ’n Lamp vir ons voete, sodat ons kan afkyk om te sien waar ons die volgende tree op hierdie rotsagtige pad moet neem. En ’n lig op ons pad, sodat ons kan opkyk en sien waarheen die pad lei.
Daarvoor het die Here Jesus ook vir ons die lig gebring. Hoor wat sê Jesus in Johannes 12:46: “Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” Reg gehoor: God ons Vader het sy Seun gestuur om ons uit die donker te ruk. Só help Hy ons in die lig leef. Nie uit eie krag nie, maar slegs deur die genade van Jesus vind ons weer die lig.
GEBED
Soos ’n flits in die donker is die Bybel vir my; dis ’n lig wat my wys hoe ek naby God kan bly.
Ek is lief vir U, Heer, ek wil hoor wat U sê, want u woorde leer vir my om te doen wat U wil hê.
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 27 Desember 2022
Goeiedag. Eergister was Kersdag, waar ons die geboorte van Jesus kon herdenk en nadink oor wat dit vir ons as gelowiges beteken. Vandag is Dinsdag 27 Desember en ons lees weer een van Neels Jackson se gedigte as refleksie tot die seisoen waarbinne ons beweeg.
Stille nag
so sit hy daar teen die hang
tussen die skape onder die sterre
en met die aardsheid swart onder sy naels
in die fyn lyntjies van sy vel
en dieper
om hom hang sy reuke
rook en veld en sweet en skaap
geëelte vingers krap deur die taai hare
asof dit ‘n greep wil kry
op die helder wasigheid
die wasige helderheid
van die herinnering aan daardie nag
die krip die kind die stemme wat sing,
en die woorde
die woorde van die lied wat hom bly trek
soos ‘n bos in die veld wat aanhou brand
aanhou brand maar nie uitbrand nie
mense in wie Hy ‘n welbehae het
dit gly tussen sy vingers deur
hy sukkel om dit te vat
dat Hy van mense hou
mense met swart onder die naels
en dieper
mense wat ruik
na rook en sweet en veld en skaap
dat Hy van hulle hou
so sit hy daar in die nag
dan trek hy sy sandale uit
en hy begin saggies sing
ere aan God
ere aan God
Neels Jackson
Gedagte vir die dag | Maandag 26 Desember 2022
Goeiedag. Gister was Kersdag, waar ons die geboorte van Jesus kon herdenk en nadink oor wat dit vir ons as gelowiges beteken. Vandag is Maandag, 26 Desember en ons lees een van Neels Jackson se gedigte as refleksie tot die seisoen waarbinne ons beweeg.
Kersfees
hy het ingebeur
in, in tyd in
in die klein ruimte in
wat hy vroeër uitgespreek het
daar tussen die skape
in ‘n grotskuiling
babatjiebroos gehuil
‘n klein skreetjie van ‘n mensie
’n skreetjie
wat oor ewighede weergalm
Neels Jackson
Gedagte vir die dag | Saterdag 24 Desember 2022
Goeiedag. Hierdie komende week is ons saam op reis na Kersdag, waar ons die geboorte van Jesus herdenk en nadink oor wat dit vir ons as gelowiges beteken. Vandag is Saterdag, 24 Desember en ons lees een van Neels Jackson se gedigte as refleksie tot die seisoen waarbinne ons beweeg.
liefhê
liefhê is ’n omgeewoord
dis ’n hoor-ander-se-stories-woord
’n sien-die-nood-raak-woord
’n voel-ander-se-pyn-woord
liefhê is ’n wat-het-jy-nodig-woord
dis ’n hoe-kan-ek-help-woord
liefhê is ’n versorgwoord
dis ’n doenwoord
en dis ’n dienwoord
liefhê is ’n gee-jouself-woord
liefhê is ’n heelmaakwoord
want liefhê is ’n Godswoord.
Neels Jackson
Gedagte vir die dag | Vrydag 23 Desember 2022
Goeiedag. Hierdie komende week is ons saam op reis na Kersdag, waar ons die geboorte van Jesus herdenk en nadink oor wat dit vir ons as gelowiges beteken. Vandag is Vrydag 23 Desember en ons lees een van Neels Jackson se gedigte as refleksie tot die seisoen waarbinne ons beweeg.
Die geheim
So lief het God die wêreld gehad
dat Hy sy Seun gegee het,
dat Hy, die Seun, Homself gegee het,
sodat ons die lewe kan hê,
die lewe én die geheim van die lewe,
die geheim van vreugde;
die geheim dat die vreugde van die lewe
lê in weggee
dat ons onsself gee
vir ander, vir die wêreld,
sodat hulle die lewe kan hê,
en die geheim van vreugde,
die weggee-geheim,
wat God vir ons gee.
Neels Jackson
Gedagte vir die dag | Donderdag 22 Desember 2022
Goeiedag. Hierdie komende week is ons saam op reis na Kersdag, waar ons die geboorte van Jesus herdenk en nadink oor wat dit vir ons as gelowiges beteken. Vandag is Donderdag, 22 Desember en ons lees een van Neels Jackson se gedigte as refleksie tot die seisoen waarbinne ons beweeg.
Verwagting
daar is iets wat stilweg gebeur
soos die hemel wat aan die oostekant verkleur
dit kom saggies dit is moeilik om te sien
maar dis daar dit is meer as net miskien
dis in elke landstreek elke dorp en elke straat
dis in elke blom en elke vrug en elke saad
dit kom soos ’n rustelose brander
wat jou omkeer en wat alles kom verander
jy hoor dit in baie ou verhale
wat vertel word in alle lande alle tale
dit kom vir die siekes en beseerdes
die verwerptes veragtes en verkeerdes
dit maak nuut dit maak beter dit maak heel
en so mooi as wat jy jou maar kan verbeel
dit waai oor die berge soos die wind
en dis onkeerbaar soos die geboorte van ’n kind
Neels Jackson
Gedagte vir die dag | Woensdag 21 Desember 2022
Hierdie komende week is ons saam op reis na Kersdag, waar ons die geboorte van Jesus herdenk en nadink oor wat dit vir ons as gelowiges beteken. Vandag is Woensdag, 21 Desember en ons lees een van Neels Jackson se gedigte as refleksie tot die seisoen waarbinne ons beweeg.
Uitsien
soos kleinmensogies wat uitsien
na die beloftes wat helder toegedraai
onder die boom lê
soos die desperate jode wat
van onder die hiel van die Romeinse ryk
uitgesien het na ’n messias
wat sou red
so Here sien ons uit hierdie rowwe wereld
uit daarna dat u koninkryk al werkliker word
u ryk van liefde en heelheid en vrede
ons bid Here
laat u koninkryk kom
Neels Jackson