GEDAGTE VIR DIE DAG

Dagstuk | Donderdag 12 Januarie 2023

Psalm 37:4. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Refleksie

Vandag staan ons stil by vreugde. Hierdie Psalm laat God amper soos ’n kosmiese vending-masjien klink.  Asof ons God kan gebruik om ons drome te verwesenlik – wanneer ons net die regte dinge doen.  Asof vreugde die muntstuk is wat ons in die masjien ingooi om te kry wat ons wil hê. Ek wonder egter of hierdie versie ons nie juis na die teenoorgestelde perspektief uitnooi nie: wanneer jy jou vreugde in die Here vind, word jou begeertes verander om meer in lyn te wees met God se hart. Wanneer jy jou vreugde in die Here vind, kry jy verseker wat jy begeer, maar wat jy begeer, lyk nie meer soos voorheen nie. Dit is waarom Jesus ons ook aanmoedig om éérs die Koninkryk toe soek.

Mag ons in 2023 al hoe meer vreugde vind in God. Mag God ons begeertes al hoe meer verander om in lyn te wees met sy Koninkryk.

Gebed

Here God, daar is so baie dinge wat vir ons vreugde belowe. Dinge wat op die ou eind leë beloftes is. Help my om vandag my vreugde in U te vind. Help my om vreugde te kies, wanneer dit lyk asof daar min redes is om bly te wees. Mag ek ook die vreugde wat U vir my gee, versprei in die wêreld in. Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 11 Januarie 2022

 

Hierdie tyd van die jaar is ’n tyd van Nuwejaarsvoorneme. Dit is wanneer ’n klomp mense druk op hulself plaas om 2023 ’n beter jaar as die vorige een te maak. Hierdie week se refleksies nooi ons uit om anders te dink oor ons voornemens vir die jaar. Om geloofsgewoontes in te oefen wat ons help om 2023 saam met God aan te pak. Vanoggend begin ons by dankbaarheid:

 Psalm 118:24. Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

Refleksie

Elke dag is ‘n nuwe dag vol nuwe geleenthede – ’n geskenk uit God se hand. In hierdie teks word ons aangemoedig om bly en verheug te wees in elke dag wat die Here vir ons gegee het. Ons begin so dikwels ons dae met angs en bekommernis. Hoe sal ons dae anders lyk as ons dit eerder met dankbaarheid en vreugde begin? Dit vra ’n verandering in perspektief. Dankbaarheid hang dikwels nie af van wat met ons gebeur nie, maar eerder hoe ons kyk na die dinge wat met ons gebeur. Elke dag is deur die Here gemaak. Elke dag is ’n geskenk waaroor ons bly en dankbaar kan wees.

Hoe sal jou jaar anders lyk as jy elke oggend met dankbaarheid begin? Begin dit vandag oefen. Deel elke oggend vyf dinge waarvoor jy vandag dankbaar is,  of skryf vyf dinge neer waarvoor jy dankbaar is. Onthou dat God ons liefhet en vir ons goeie dinge droom. Laat ons vandag met dankbaarheid en verwagting na die toekoms kyk.

Gebed

Here God, dankie vir hierdie nuwe dag wat U vir ons gegee het. Ek vra dat U my sal help om bly te wees en U wonderlike dinge in hierdie dag sal raak sien. Leer my om U te vertrou en my toekoms aan U oor te gee. Ek dank U vir U liefde en goedheid teenoor my.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 10 Januarie 2023

Teks. Matteus 5:1. Toe Jesus die menigte mense sien, het hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, en Hy het  hulle geleer en  gesê: Geseën is die . . . wat weet hoe afhanklik hulle van God is, geseën is die wat treur, sagmoedig, barmhartig en rein van hart is.

Ek sluit ons reeks oor die bergrede af met die gedeelte waarin die Here ons wil seën. Ons koppel dikwels seën aan voorspoed. Seën beteken vir ons dat die Here dit met ons sal laat goed gaan en dat ons nie gebrek sal lei nie. Die teksgedeelte wat die bergrede voorafgaan vertel hoe mense met allerhande kwale en siektes na Jesus toe gestroom het in die verwagting om genees te word. Wat ’n verrassing moes dit nie gewees het nie toe die Here hulle laat verstaan dat hulle in die midde van soveel uitdagings reeds deur God geseën is. Wat is die seën waarvan die Here jou op hierdie dag bewus maak? Soos al die ander jare is ons ook hierdie jaar deeglik bewus dat realiteite soos baklei, seerkry, teleurstelling en siekte deel van die normale gang van die lewe is. Dat ons geseën is beteken dat die Here in al hierdie ervaringe ons nie alleen los nie en dat Hy besig is om ons op maniere te omvorm om enige uitdagings te kan oorkom. Dink daarom juis vandag aan die uitdagings en moeilikheid wat jy moet hanteer en sien die wyse waarop die Here jou deur gedagtes, ervarings en die hulp van mense kom seën.

Gebed

Here, verlig ons verstand en begrip. Here, verlig ons oë en die manier waarop ons na ander en ons eie omstandighede kyk. Here, verlig ons hart en dit wat ons bedink. Here, wees met ons waar ons hiervandaan hierdie dag ingaan.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Maandag 9 Januarie 2023

Teks. Matteus 6:25. Moet julle nie bekommer oor julle lewe, wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir julle.

Dit is nie maklik om van bekommernis ontslae te raak nie. Die jaar het sopas begin en daar is alweer soos elke jaar dinge waaroor ons begin nadink en oor onseker voel. Bekommernis is amper ’n mens se brein se natuurlike manier om op onsekerhede te reageer. Ons probeer daardeur onsself voorberei daarop om dinge te hanteer waaroor ons nie beheer het nie. Dit verg soveel breinkrag en put ’n mens emosioneel uit omdat bekommernis net op jou eie vermoëns staat maak. In vandag se teks kom leer die Here ons om nie te ver in die toekoms in te kyk en onsself oor dinge waaroor ons nie veel beheer het nie, te bekommer nie. Plaas eerder jou vertroue in die Here wat jou deur jou lewe tot hier uitgebring het en ervaar hoe dit kommergedagtes laat bedaar en verdwyn. Mag die besef van die Here se goedheid deur jou lewe die ruimtes van kommer vul.

Gebed

Kom dank nou almal, God. Met hart en mond  en hande. Loof Hom wat wonders doen, tot in die verste lande. Van vroeg van kindsbeen af, het  hy ons trou bewaar, en tot vandag toe nog, geseën en gespaar.

AMEN.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 7 Januarie 2023

Teks. Matteus 6:9. So moet julle bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Hierdie kort sin is ‘n uittreksel van die baie bekende ‘Ons Vader’ gebed wat ons van kleins af geleer is. Gebed is nie iets wat altyd vir almal spontaan kom nie, maar dan is daar mense wat welbekend dis dat hulle goed kan bid. Dit is soos die oom wat gereeld op Pinksterbidure sy gebede op die volgende wyse begin het. Here, soos U seker ook vanoggend in Die Burger gelees het sou U gehoor het van … – en dan vat hy ‘n mens van die voorblad tot die agterblad en noem al die dinge wat skeefloop waaraan die Here aandag moet gee. Die feit dat die Here ons eenvoudig leer bid maak ons bewus dat hy reeds van alles weet en die bedoeling van ons harte goed ken. Die eenvoudige sin in die Ons Vader gebed, “gee ons vandag ons daaglikse brood”, leer ons om eenvoudig ons vertroue in die Here te plaas vir wat ons ook al mag nodig hê. Alhoewel jy nie altyd die woorde het om te bid nie en ook dikwels nie kry wat jy op gehoop het nie – mag jy ervaar hoe hierdie eenvoudige woorde jou tot rus bring in wat ook al in die dag vir jou voorlê.

Gebed

Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

AMEN.

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 6 Januarie 2023

Teks: Matteus 5:43. Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. 

Die mense wat rondom Jesus gesit het, toe hy hierdie woorde gespreek het, was van Joodse afkoms en was goed bekend met die beginsel in Levitikus wat bepaal het dat jy nie ’n grief teen ’n volksgenoot, wat as jou naaste geag is, mag koester nie. Jesus het hierdie welbekende reël omgedraai toe hy mense geleer het dat hulle vyande hulle naaste is en dat hulle ook op dieselfde liefde en sorg as volksgenote geregtig is. Hoe kry jy iemand liefgehê as haat en frustrasie oor die persoon in jou hart leef? Hoe raak ’n mens van diep gewortelde konflik en seerkry ontslae om iets anders in mense raak te sien? In dié gedeelte kom leer die Here ons ’n diep waarheid. Jesus is nie net die middelaar wat die onmeetlike afstand tussen my en God wat onsienlik is kom vul nie, hy is ook die middelaar tussen my en enige ander mens. Vernuwing het nie soseer te doen met die feit dat ons beter mense word nie, maar eerder met die Here wat ons stroop om sodoende in die basiese menswees van ander te deel. Gee aan die begin van die jaar die Here die ruimte om op hierdie manier reg voor jou oë ‘n nuwe wêreld oop te breek.

Gebed

Laat ons met U saamloop, U vergesel. Gee ons lig uit u goedheid. Maak ons soos U – sodat ons waarlik mens kan word. Lewensmeester, in U sien ons wat menswees waarlik is. In U aangesig sien ons die aangesig van God. Waar U is, word die wêreld anders. Verander ons ook, Here! Maak van ons mense. Here, ons glo – kom ons ongeloof te hulp.

Gedagte vir die dag | Donderdag 5 Januarie 2022

Matteus 5:17,20. Moenie dink dat ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het gekom om hulle hulle volle betekenis te laat kry. As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as die van Fariseërs en Skrifgeleerdes nie, sal julle nooit die koninkryk van die hemel ingaan nie. 

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het presies geweet wat God in die wet van Moses en deur die profete van hulle verwag het. Wat Jesus hulle in die teks van bewus maak was hulle gebrek om die betekenis daarvan vir hulle hede te onderskei, sodat die beginsels daarvan God se karakter te voorskyn bring. Wat is volgens Jesus in die teks verkeerd? Die feit dat mense godsdienstige wette en reëls oortree, of dat hulle deur dit te onderhou God se ware karakter verduister? Die teks vertel die tragiese storie van die laasgenoemde en dit is waaroor die teks vandag ons wil laat nadink. Waartoe wil die Here ons in vandag se gedeelte aanmoedig? Dit spoor ons aan tot ’n toegewyde en nougesette lewe wat met wysheid die lewe en omstandighede voor ons onderskei. Dit wil ons dus nie by ‘n rigiede reël of wet uitbring nie, maar spoor ons aan tot dieper insig in God se aard en karakter wat ons wil kom omvorm. Hoe praat hierdie gedagte met jou? Hoe help dit ons om moeilike en uitdagende situasies om te draai in geleenthede waarin die Here mense kom heelmaak?

Gebed

O Heilige Gees van God, bly by my in hierdie dag. Wees my inspirasie om my vandag te help ontdek dat daar veel meer aan my geloof en godsdiens is as wat ek dink. Bring in my ’n sin om die regte ding te sê en te doen, maar in die besonder die vermoë om reg te kan onderskei. Bewaar my dus juis van ’n godsdienstigheid wat nie die ware karakter van U genade weerspieël nie. Help my om die wonder raak te sien van hoe U my, die mense om my en die omstandighede waarin ons onsself bevind kan omdraai.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Woensdag 4 Januarie 2023

Matteus 5:13. Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en mense vertrap dit. Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op die berg lê, kan nie weggesteek word nie. 

 Die periode na Kersfees word Epifanie genoem. Epifanie beteken lig en gaan oor hoe die  Here se verskyning in die wêreld ’n verskil in ons lewens kom maak. Dit is juis waaroor die Here in die volgende paar oggende met ons praat as ons na uittreksels van Jesus se bergrede in Matteus gaan luister. In hierdie reeks gesprekke praat Jesus met gelowiges wat mismoedig gevoel het oor ’n wêreld wat deur politieke en militêre mag van invloedryke mense beheer is. In hierdie einste wêreld was sout dié belangrikste kommoditeit. Dit was selfs van meer waarde as goud en oral in aanvraag. Wanneer Jesus dan aan die begin van die bergrede met mense wat opsigself geen waarde of status in die samelewing gehad het nie praat, sê Hy vir hulle dat hulle lewensbestaan goud, of dan eerder sout werd is. Die res van die bergrede waarby ons in die volgende dagstukkies gaan uitkom praat dan verder baie prakties oor  hoe ons deur woorde en dade aan die lewe betekenis kan toevoeg. Vandag dus net eers hierdie wesenlike gedagte. Jou lewe maak in hierdie tyd en omstandighede vir die Here saak.  Dit is kosbaar omdat die Here deur jou aan die lewe smaak gee. Moet dus nie toelaat dat negatiewe sentimente wat vandag in jou leef oor die dinge wat in jou, jou gesin, familie of samelewing gebeur, dié waarheid in jou laat laf word nie.

Gebed

Here, niemand van ons weet wat hierdie jaar vir ons voorlê nie. Wat ons wel weet is dat die pas van die lewe binnekort gaan optel as ons weer moet terug keer werk toe en nog ’n jaar  met nuwe planne en idees moet begin. Bring in my ’n perspektief vir dit wat wesenlik is. Dat my lewe die grootste verskil kan maak daar waar ek myself in U eie menswees raaksien. Ek bid dat dit my in hierdie dag sal inspireer waar die lewe op allerhande plekke besig is om my lig vir die wêreld te demp. AMEN

Gedagte vir die dag | Dinsdag 3 Januarie 2023

 

Psalm 121:1 “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? 2My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

GEDAGTE

Hoe dink jy oor die nuwe jaar wat voor ons lê. Is jy opgewonde daaroor of bekommerd. Ons sê dikwels: “Die lewe lê soos ’n berg voor my . . . ek sien nie daarvoor kans nie.” Hierdie berge kan enigiets wees. Dit kan self net oudword wees, of siekte, eensaamheid, huweliksprobleme, ouer-kind-verhoudingsprobleme, finansiële probleme of vele ander gestaltes van menslike pyn.

Ja, my probleme lê soos ‘n berg voor my!

Dan begin koning Dawid hierdie Psalm met die woorde: “Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? Ons as gelowiges leef dikwels sonder moed en lewenskrag, asof die berge groter as God is. Inderdaad het Johannes Calvyn geskryf: “Daar hoef maar net ’n blaartjie iewers te ritsel, dan begin ons te bewe asof God van ons vergeet het.

As die skrywer van die Psalm dan vra waar kom sy hulp vandaan antwoord hy onmiddellik dat sy hulp van die Here, die Skepper (Maker) van die hemel en die aarde kom. Hierdie skrywer erken:

  • GOD LAAT NIE TOE DAT JY STRUIKEL NIE.
  • GOD HOU ALTYD WAG OOR JOU.
  • GOD BESKERM VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • GOD BESKERM VIR JOU TEEN BOSE AANVALLE.

Begin hierdie nuwe jaar met hierdie wete dat jou hulp ook van die Here af kom. Hy sal jou bewaar en beskerm en tree vir tree saam jou deur hierdie jaar stap.

GEBED

Hemelse God en Vader, hierdie nuwe jaar lê soos ’n berg voor my. Ek vra U assblief om saam met my deur hierdie nuwe jaar te gaan.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 2 Januarie 2023

Jesaja 41:10. “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”

GEDAGTE

Ons staan aan die begin van ’n nuwe jaar. Natuurlik sal ons vra: Wat hou 2023 vir jou in? Hoe gaan 2023 vir jou uitdraai? Hoe voel jy as jy dink oor die nuwe jaar? Kyk jy dalk vas teen al die uitdagings van die jaar en al die probleme rondom jou.  Is jou hart dalk vol bekommernis? Of is jy opgewonde oor die nuwe jaar met 365 dae van nuwe geleenthede en kanse. Dis ’n nuwe jaar met baie nuwe dinge.

Soms lyk die pad wat ons moet stap so aan die begin van die jaar dikwels onduidelik. Dit kan klipperig, opdraende wees, of dalk ’n baie gemaklike pad om te stap. Maar jy dink dalk by jouself:  “ Hoe gaan ek dit maak?” In sulke tye wil hierdie Psalm vir my en jou bemoedig: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie,” en ook,  “bedaar en erken dat Ek God is.” Wat bedoel die skrywer daarmee? Dat ons moet afsien van ons eie slim plannetjies om onsself te probeer help. Ons word dus opgeroep tot geloof en vertroue in God en nie in onsself nie. Die vermoë om rustig en bedaard te wees te midde van  probleme, lê buite onsself. Dit lê in die erkenning van Wie God is.

Martin Luther het die woorde van Psalm 46 in 1528 in Duits in ’n lied omskryf. “‘n Vaste Burg is onse God – ‘n Rots wat altyd vas bly staan.” Dit was toe ’n gevaarlike tyd om in te leef. Die leiers van die Reformasie kon enige tyd hulle lewe verloor. Martin Luther se vennoot en vriend, Melanchton was besonder bekommerd oor sy eie veiligheid.

Op 27 Junie 1530 het Luther vir hom ’n brief geskryf: Luther het vir Melanchton geskryf: “Neem God op sy Woord en hou op om jou te bekommer. Wat wil jy bereik met jou kommer? God wat mense uit die dood opwek, kan ook sy doel met jou bereik. As ons nie versterk word deur God se beloftes nie, aan wie is sy beloftes dan gerig?”

En nou is dit 2023. En wat wag vanjaar vir jou? Ek weet nie en jy weet nie. Maar wat ek wel weet, is dat ek nie hierdie pad vorentoe sonder God wil aanpak nie. Ek het nodig dat Hy my sal lei, dat Hy vir my sy wil bekend sal maak, sodat ek sal weet watter pad om te loop.

GEBED

Hemelse God en Vader dit is ’n nuwe jaar wat voor my lê. Sal U asseblief tree vir tree saam met my stap.

Amen

1 44 45 46 128