GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Dinsdag 24 Januarie 2023

Matteus 6:34 “Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

Hoeveel keer het jy al voor ʼn groot uitdaging op jou pad gestaan en dan toegelaat dat dit jou gedagtes oorneem? Dis asof wat ookal ons doen, daar ʼn taak/uitdaging is wat veroorsaak dat ons ons bekommer. En in die tussentyd spandeer ons nie aandag op die dinge wat baie nader is nie.

Jesus vertel vir ons dat ons nie moet konstant dink aan môre nie, want vandag het genoeg probleme van sy eie. Dit is belangrik vir ons om die tipe vertroue te hê wat glo dat God ons nie net vandag sal help nie, maar selfs in die toekoms ook. Ons vergeet tog so maklik. God was in beheer gister, Hy is in  beheer van vandag en Hy is in beheer van môre ook.

As God in beheer is van ons toekoms en as ons, soos ons gister gereflekteer het, Hom eerste soek, kan ons werklik vrede hê in die lewe. Hy maak nuut. Hierdie vrede gee ons die geleentheid om God na te jaag en in die proses gevorm te word in Sy liefde en voorsiening.

Gebed: Heer, U is soveel groter as wat ek kan verstaan. Help my om my vertroue te plaas in die wete dat U ook oor môre beheer het net soos vandag. Ek wil U vandag beter leer ken. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Maandag 23 Januarie 2023

2 Korintiërs 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.”

2022 het gekom en gegaan en skielik is ons in 2023 en Januariemaand is ook besig om spoedig tot ’n einde te kom. Wat lê vir jou voor die jaar? Waaroor is jy opgewonde? Wat maak jou gespanne? Hoe leef jy van dag tot dag? Wat inspireer jou en gee jou krag vir elke nuwe dag?

Hoekom is dit dat so baie mense voel hulle lewens is sonder betekenis? Kan dit wees dat wanneer ons na ons lewens kyk, ons onvervuld voel omdat niks wat ons tot dusvêr gedoen het vir ons ware vrede of vreugde gegee het nie?

2 Korintiërs leer ons dat ons in Jesus Christus ’n nuwe wese is. Jou goeie dade en pogings sal jou nie in die regte verhouding met God plaas nie. Dit is jou geloof in Jesus wat dit doen. Hy het sy plek in die hemel verlaat om die gestalte van ’n baba aan te neem. Hy was ten volle God en ten volle mens. Hy het al ons sondes by die kruis op Homself geneem. Jesus het die prys aan die kruis betaal en by die leë graf die oorwinning behaal. Sodat wanneer jy in Hom glo, jou sonde wat jou van God skei, vergewe word, en jou verhouding met die lewende God herstel sal word. Jesus is genoeg.

Hy is Jou Nuwe Begin! Mag jy by Hom is Sy teenwoordigheid inspirasie vind vir 2023.

Gebed: Here Jesus, kom blaas opnuut vars U asem in my. Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 21 Januarie 2023

Matteus 5:1-3. “1Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, 2en Hy het hulle geleer en gesê:3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

 

Ek lees vir ons ‘n gebed van die teoloog Eddie Osmond:

 

Here, U leer ons om vir “vandag” te bid, vandag se lewensasem,

Vandag se behoeftes,

Vir genoeg van wat nodig is,

Vir tevredenheid met wat U gee,

Vir werksgeleenthede en fisieke gesondheid-

Alles as tekens van u sorgende liefde,

Nie as simbool van eie prestasie nie.

Leer my, o Vader, die lewenshouding om vanuit u hand te lewe in plaas van my eie, valse sekuriteite te vertrou.

Leer my om te lewe volgens die ekonomie van genoeg-

Genoeg lewensmiddele vir vandag,

Niks meer nie.

‘n ekonomie met ‘n hart vir armes en tuisteloses.

Ons bid vir elke dag se brood, omdat ons daarvoor van U afhanklik is,

En ons weet die behoefte sal more maar weer ontstaan.

Ons Vader, leer ons afhanklikheid van U.

Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 20 Januarie 2023

Prediker 3:1-8

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:

2daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant, ‘n tyd om plante uit te trek,

3‘n tyd om ‘n lewe te neem, ‘n tyd om ‘n lewe te red, ‘n tyd om af te breek, ‘n tyd om te bou,

4‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans,

5‘n tyd om klippe weg te gooi, ‘n tyd om hulle bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels, ‘n tyd om weg te bly van omhelsing af,

6‘n tyd om aan te skaf, ‘n tyd om te laat wegraak, ‘n tyd om te spaar, ‘n tyd om weg te gooi,

7‘n tyd om te skeur, ‘n tyd om toe te werk, ‘n tyd om stil te bly, ‘n tyd om te praat,

8‘n tyd om lief te hê, ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog, ‘n tyd vir vrede.

 

Ek lees graag vir ons ’n gebed van iemand uit Japan wat oor hierdie gedeelte gereflekteer het:

 

Almagtige Here, u Woord herinner ons dat daar ‘n tyd is om stil te bly; en ‘n tyd om te praat.

Tyd vir praat, die het ek altyd, dit weet U, maar leer my van stilte, Here.

Leer my die stilte van nederigheid, die stilte van wysheid, die stilte van praat sonder woorde, die stilte van glo sonder om te sien.

Die stilte van liefde.

Help my om my hart stil te maak sodat ek die ligte beweging van die Heilige Gees in my kan gewaar en kan leer wat u wil vir my is.

Amen

Dagstuk | Donderdag 19 Januarie 2023

Gedig van Paraig O Tuama

The facts of life

That you were born and you will die

That you will sometimes love enough and sometimes not.

That you will lie if only to yourself.

That you will get tired.

That you will learn most from the situations you did not choose.

That there will be some things that move you more that you can say.

That you will live that you must be loved.

That you will avoid questions most urgently in need of your attention.

That you began as the fusion of a sperm and an egg of two people who once were strangers and may well still be.

That life isn’t fair.

That life is sometimes good and sometimes better than good.

That life is real and if you can survive it, well, survive it well with love and art and meaning given where meaning’s scarce.

That you will learn to live with regret.

That you will learn to live with respect.

 

That the structure that constricts you may not be permanently constricting.

That you will probably be okay.

That you must accept change before you die but will die anyway.

 

So you might as well live and you might as well love.

You might as well love

You might as well love

Dagstuk | Woensdag 18 Januarie 2022

 

Ons teksgedeelte kom vandag uit Lukas 24. Die gedeelte vertel van Jesus se verskyning aan die Emmausgangers kort na sy opstanding.

Lukas 24:28-30.  Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.

Iemand het hierdie ou Nederlandse kerk gebed neergeskryf wat ek graag vir julle wil voorlees:

Bly by ons, Heer want dit wil aand word en die dag is byna verby.

Bly by ons en by alle mense.

Bly by ons in die aand van die dag, in die aand van die lewe, in die aand van hierdie wêreld.

Bly by ons met u genade en goedheid, met u Woord en sakramente, met u troos en seën.

Bly by ons ook in die nag van droefheid en vrees, die nag van twyfel en aanvegting, die nag van die bittere dood.

Bly by ons en by al u ander kinders in tyd en ewigheid.

Amen

 

 

Dagstuk | Dinsdag 17 Januarie 2022

Matteus 28:18-20. Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Ek wil graag so aan die begin van hierdie nuwejaar ’n gebed lees van die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer. Hy skryf hierdie gebed op Nuwejaarsdag in 1945. Hy sou nie jaar deursien nie en is enkele maande daarna deur die Nazis doodgemaak

Here, my God

U het al die mag om my dag tot dag te lei

U troos en inspireer my tot anderkant my vrese

Ek sal in die dae wat voorle in gedagte hou dat U by my is

Daarom sien ek kans om saam met U die nuwe jaar binne te gaan.

 

Mag sy woorde vir ons ‘n troos en ‘n inspirasie wees aan die begin van hierdie nuwe jaar.

Amen

Dagstuk | Maandag 16 Januarie 2023

Johannes 1:29-39. Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 30Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar ‘n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’ 31Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”

32Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. 33Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ 34Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

35Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”

37Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?”

39Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”

Kyk. Sien. Vind. Dis soos ’n mantra wat in hierdie teksgedeelte herhaal word. En dan Jesus se vraag aan sy dissipels, moontlik die eerste vraag wat Hy vir hulle vra. Wat soek julle? Dieselfde vraag wat ons onsself kan afvra. Ek dink dis dalk ook ’n goeie vraag om hierdie jaar mee te begin. Soos ons instap in hierdie nuwe jaar, wat is dit wat ons groet en wat is dit waarvoor ons hoop? Wat is dit waarna ek streef, of miskien voor vrees? Dis nogal opmerklik dat die dissipels nie die vraag beantwoord het nie. Miskien omdat hulle self nie seker was nie. Hulle vra Hom eerder, waar gaan U tuis. Met ander woorde, waarheen is U oppad? Jesus se reaksie is bloot, kom saam, dan sal julle sien.

Kyk, sien en vind. Ons word oor en oor uitgenooi op hierdie selfde pad. ’n Bereidwilligheid om verder te gaan, weer te vra, langer te kyk, selfs as ons nie weet waar “huis” is nie. Mag ons in hierdie jaar aanhou kyk, totdat ons sien wat Hy sien en aanhou soek na Hom wat in werklikheid na ons soek.

Dagstuk | Saterdag 14 Januarie 2022

Hierdie week het ons stilgestaan by ’n paar voorneme vir die nuwe jaar. By dankbaarheid, vreugde en nuwe dinge. Vandag staan ons stil by vertroue.

Spreuke 3:5-6. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. 6Ken Hom in alles wat jy doenen Hy sal jou die regte pad laat loop.

Refleksie

Die teks nooi ons uit om te reflekteer oor die dinge waarop ons vertrou. Ek wonder of ons aldag eerlik is oor waarin ons ons vertroue stel en of ons selfs bewus is van die dinge waarop ons vertrou? Soms gebeur daar iets wat ons weer herinner dat die dinge waarop ons dikwels vertrou, nie werklik betroubaar is nie. Ek het onlangs ’n staproete in die Amatolaberge saam met ’n groep mense gestap, waar ons gereeld hieraan herinner is. Met elke tree, plaas jy al jou vertroue op ’n stukkie grond of op ’n klip in ’n rivier. As jy dit gereeld genoeg doen, begin jy aanneem dat die grond onder jou voete betroubaar is. Dit vat egter net een gladde klip en jy eindig op jou rug in ’n rivier, of een stukkie gladde modder om te besef dat jy nie die grond onder jou voete kan vertrou nie. In die lewe werk dit ook so. Die pad wat vir ons betroubaar lyk, die grond waarop ons al ons vertroue plaas, is dikwels nie betroubaar nie.

Waarin dink jy plaas mense dikwels hulle vertroue, wat dalk nie so betroubaar is nie? As jy eerlik is met jouself, waarop vertrou jy?

Hierdie teks nooi ons uit om vir God te vertrou en nie op ons eie insigte staat te maak nie. Die pad waarop die Here ons nooi om te stap, lyk dikwels nie vir ons na die beste of die gemaklikste of mooiste pad nie, maar dit is die pad wat na ware lewe lei.

Mag jy in 2023 nie op jou eie insigte staatmaak nie, maar die Here ken in alles wat jy doen. Mag jy in die maklike en moeilike tye leer om Hom te vertrou.

Gebed

Here, ons vertrou so maklik op dinge wat eintlik onbetroubaar is. Ons eie insigte laat ons so maklik in die steek. Ons wil in hierdie jaar wat voorlê, die pad saam met U stap en ons vertroue in U stel – in die moeilike en maklike tye. Dankie, Here, dat ons U kan vertrou om ons op die regte pad te lei.

 

Dagstuk | Vrydag 13 Januarie 2022

Jesaja 43:18-19. Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. 19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

Refleksie

Vandag staan ons stil by die woord nuut. ’n Goeie vriend en kollega, met ’n passie vir roei, het met my die wysheid gedeel wat hy op die rivier geleer het: ’n rivier vloei net in een rigting. Wanneer jy in ’n rivier is, is daar net een opsie – en dit is vorentoe. As jy wil teruggaan, of selfs op een plek wil bly, gaan jy vinnig uitgeput raak. Die lewe werk ook so. Ons kan wens om terug te gaan of om tyd te laat stilstaan, maar tyd vat ons net in een rigting – en dit is vorentoe. Dit is goed om mooi herinneringe van die verlede te hê, maar soms kan dit maklik wees om ons te verloor in ons verlede se foute of teleurstellings, of selfs ’n herinnering van die sogenaamde goeie ou dae. Hierdie versie herinner ons dat God ‘n nuwe ding doen en dat Hy die pad in die toekoms vir ons sal baan. Die Here sê Hy is besig om nuut te maak, om iets nuuts te laat gebeur – in die wêreld, maar ook in ons.

Neem vandag ’n oomblik om saam met die Here hieroor te reflekteer. Beplan die Here iets nuuts vir jou of vir ons samelewing vir 2023? Waar kry jy die gevoel wil die Here nuwe lewe in jou lewe bring? Waar is daar ’n woestyn, wat die Here weer in ’n rivier wil verander?

As ’n uitdaging, beplan om hierdie week iets nuut te begin, wat jy nog nooit vantevore gedoen of aangepak het nie.

Gebed

Here, ons dra so dikwels swaar aan die verlede. Aan die trauma van seerkry, maar ook aan die terugdeins na mooi dinge wat verby is. Here, herinner ons dat U iets nuuts wil doen in          2023 – ook in ons lewens. Help ons om bewus te word van die woestyn in ons eie lewens en laat daar ook riviere van lewende water uitspruit, waar ander ook kan kom rus vind.

Amen

1 43 44 45 128