Gedagte vir die dag | Saterdag 4 Februarie 2023
Matteus 6:9-13. Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; 10laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. 11Gee ons vandag ons daaglikse brood; 12en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; 13en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
GEDAGTE
Jy ken natuurlik hierdie pragtige gebed uit jou kop uit. In baie gemeentes is dit die gebruik om hierdie gebed elke Sondag biddend te sing as deel van die erediens.
Ek wil amper sover gaan en sê dis gevaarlik om die Ons Vader te bid. Want dis ’n gebed waarin ons God se ingrype in hierdie wêreld afbid. Waarin ons pleit dat Hy nie hierdie wêreld waarin ons woon sal laat soos dit is nie, maar sal verander en sal omkeer sodat iets sigbaar word van die nuwe hemel en die nuwe aarde wat eendag sal wees as Christus op die wolke van die hemel in al sy heerlikheid kom.
- Ons bid in hierdie gebed: Laat u Naam geheilig word, terwyl God se Naam daagliks in hierdie wêreld geminag en onteer word, mense sy Naam laster en dit gebruik om te vloek en te sweer . . .
- Ons bid – Laat u koninkryk kom, en dit terwyl dit in die wêreld eintlik net om mense se eie koninkryke, ideale en strewes gaan en mense hulle min aan God en sy gebod steur. . .
- Ons bid – laat u wil geskied terwyl mense lewe na hulle eie wil, en boonop hulle eie wil op ander afdwing en nooit eens vra na die wil van die Here nie.
- Ons bid – gee ons vandag ons daaglikse brood terwyl die mensdom eintlik maar leef asof net ons self verantwoordelik is om ons mae te vul en allermins in afhanklikheid van die Goeie Gewer hulle bestaan maak . . .
- Ons bid om die vergewing van ons sondes terwyl al hoe minder mense enigsins meer oor sonde nadink, of selfs wil erken dat daar iets is soos ’n gebod van God waaraan ons gehoorsaam moet wees . . .
- Ons sê, vergewe soos ons ook vergewe, terwyl daar in hierdie wêreld juis nie plek is vir vergifnis nie, maar dat ’n oog vir ’n oog eerder toegepas word.
- Ons bid om van die versoeking en verleiding van die Bose verlos te word, en dit in ’n wêreld waar die Bose juis aanbid en gedien word op soveel maniere en waar versoekings eerder gesoek en verheerlik word . . .
GEBED
Hemelse God en Vader dankie vir hierdie gebed. Mag ek dit werklik met die grootste eerbied en respek bid en nie uit gewoonte uit nie.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 3 Februarie 2023
Markus 6:31. 31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”
GEDAGTE
Weens die vinnige tempo van die lewe en die geweldige druk waaronder ons verkeer, kry ons min die kans om rustig te raak. Ons besef dat ons moet afskaal, maar ons weet nie hoe nie. Daar is eenvoudig nie tyd om gereeld stiltetyd te hou, of om die skoonheid van die natuur te bewonder nie. Ons jaag eenvoudig deur die lewe.
Dalk funksioneer jy goed onder druk, maar die beste stuk masjienerie moet ook van tyd tot tyd gediens word. Jou gees en liggaam het tye van herstel nodig.
Jesus het besef dat die groot taak van die dissipels hulle totaal kon ooreis. Om hierdie rede het hy hulle byeengeroep sodat hulle vir ’n ruk hulle werk opsy kon skuif en eers saam met Hom tot rus kon kom. Dit is net so nodig vir ons ook vandag. Maak gereeld ’n afspraak met jou Hemelse Vader om tyd saam met Hom deur te bring. Jou liggaam, siel en gees het dit nodig.
GEBED
Hemelse God en Vader, jammer dat ek dikwels so gejaagd lewe en nie tyd maak om stil te word by U nie.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 2 Februarie 2023
2 Korintiërs 4:8-9. 8In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.
GEDAGTE
In die tyd toe die Nuwe Testament geskryf is‚ was kleipotte baie belangrik. Mense het dit gebruik om hulle kos soos‚ meel‚ droë boontjies en water in te stoor. Die kleipot was ’n baie belangrike deel van die huishouding. Dikwels in die antieke tye is skatte ook in kleipotte geberg. Hierdie kleipotte is met groot sorg vervaardig. Op die buitekant is patrone geverf. Die potte is ook in oonde gebak sodat dit lank moes hou en mooi moes lyk. Die potte het egter een nadeel gehad: hulle het maklik gebreek en daar het maar min heel kleipotte uit daardie tyd heel gebly – ’n getuienis van hoe broos en breekbaar die potte was.
Paulus gebruik hierdie beeld om die boodskap te verkondig en om hom as persoon te verdedig teen die aantygings van die valse apostels. In die stad Korinte was daar mense wat Paulus se amp bevraagteken het. Hulle het gereeld vir Paulus aan sy swakhede herinner. Volgens hulle was hy nie juis ’n voorbeeld van ’n suksesvolle verkondiger van die evangelie nie en was hulle van mening dat hulle, eerder as hy, God se bediening in Korinte verteenwoordig het. Paulus wil hulle antwoord op hierdie aantygings en dan sê hy in 2 Kor.4:7 dat ons as mense maar soos kleipotte is. Kleipotte wat maklik breek, maar met ’n kosbare inhoud.
Wat is hierdie skat? Elkeen wat in Jesus Christus glo, is ’n draer en bedienaar van die evangelie en het dus hierdie uiters kosbare skat in hom/haar. Dit word uitgespel in vers 6: Dit is die boodskap van Jesus Christus en die verlossing wat daaruit volg. Die kennis van die heerlikheid van God soos dit bekend geword het deur Jesus Christus is ’n baie kosbare skat en oneindig waardevol. Onvergelykbaar kosbaar! Paulus het besef dat hy ’n breekbare kleipot is, maar dat hy hierdie kosbare boodskap van God se genade vir die mensdom in hom rond dra.
Jy is ook ’n draer van hierdie kosbare skat. Jy mag dalk vandag ook voel soos ’n nuttelose, breekbare kleipot, maar weet dat jou inhoud baie kosbaar is – daarom is jy waardevol.
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat ek ’n draer kan wees van hierdie kosbare skat.
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 1 Februarie 2023
Jesaja 55:6. Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.
GEDAGTE
Het jy al na die Here gesoek sonder om Hom te vind. Dit kan mos nie gebeur nie. Soms vind jy Hom nie omrede jy nie gereed is vir wat Hy aan jou wil openbaar nie. Soms is jy nie ernstig genoeg in jou soeke nie. Net so het die volk van God ook vir Hom gesoek.
Hierdie oproep van Jesaja kom na die volk terwyl hulle in ballingskap was. Die troosboodskap kom aan die einde van ‘n woeste en traumatiese tyd in die volk se geskiedenis. Hulle is in ballingskap en uit Jerusalem ontwortel. Jesaja se boodskap is dat God se teenwoordigheid nou vir hulle bevryding en troos sal bring.
’n Mens kan net dink wat hierdie woorde vir die pessimistiese ballinge beteken het. Dit was goeie nuus, uitnodigend en troosvol. Vir ’n gehoor wat gewoond was aan swaarkry en ballingskap word hier meer as die basiese aangebied – ’n uitnodiging om God te vind. Hy het nie van hulle vergeet nie. Die woorde is woorde van verlossing en seën, asook die bevestiging van God se trou (verbond).
Hoe onaangenaam of moeilik jou situasie dalk ook mag wees, jy het altyd toegang tot God. Dit maak nie saak wat jou uitdaging is nie. God los jou nooit alleen nie. Wees stil en weet, Hy is die Heer en Hy is by jou.
GEBED
Hemelse God en Vader. Ek kry op die stadium baie swaar. Die lewe is vir my uitdagend. Wees my asseblief naby.
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 31 Januarie 2023
Romeine 12:2. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
GEDAGTE
As die ware geloof in ons harte ingeplant is, en ons nuwe mense geword het, dan moet ek verander: my maatstawwe moet anders word. My optrede en gedrag moet dan deur die Woord van God beheer en gelei word. My manier van praat, gesindheid teenoor my naaste, optrede teenoor my medemens, my verhouding teenoor my huweliksmaat asook my kinders en ouers verraai so dikwels ons swakhede. Maar meer nog – my wyse van gemeenskap met God toon so maklik my onvolmaaktheid en gebrek aan erns en toewyding.
Daarom sê hierdie teks ook dat ons in ons verstand en denke moet verander, sodat ons kan begryp wat die wil van God is. Die evangelie van Jesus Christus moet reg verstaan word; met ons verstand moet ons dit begryp. Hy sê letterlik dat ons verstand voortdurend ’n metamorfose moet ondergaan. Alleen die Heilige Gees kan dit in ons en vir ons bewerk. Hy maak ook my denke heel en spreek my diep in my binneste aan, sodat ek kan weet wat reg en verkeerd is. Dan begin ek insien dat God se wil altyd goed is en dat ons Hom altyd moet behaag en dien en dat sy wil oor my lewe altyd die beste is.
Ons moet verander. Die probleem is net dat daar so baie in hierdie wêreld is wat ook van ons vra om te verander. Die duiwel hou met behulp van massamedia aan ons ’n prentjie voor van hoe ons behoort te dink en te lyk en te doen wat heeltemal indruis teen dit wat God van ons vra. En die moeilikheid is dat ons só met hierdie verkeerde dinge gebombardeer word, dat ons later daaraan gewoond begin raak. Soveel so dat dit ons later nie meer pla nie, en erger nog, dat ons dit later as normaal aanvaar. Daarom moet hierdie ook daagliks ons gebed wees. Sodat God ons sal vernuwe.
GEBED
Hemelse God en Vader. Verander my denke verander my hele lewe asseblief. Ek wil al meer en meer soos Jesus wees. Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 30 Januarie 2023
Matteus 6:13. Laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.
GEDAGTE
Die onderwerp van versoekings is nie juis een waaroor ons deesdae baie praat nie. Indien ons wel daaroor praat, is dit meestal grappenderwys.
Die Bybel praat egter nie grappenderwys oor die onderwerp van versoekings nie. In die Bybel is versoekings ’n ernstige saak. Die Bybel begin in Genesis met die verhaal van die mens wat swig voor versoekings en dan volg daar vele verhale van versoekings. Dink aan Jesus se versoeking in die woestyn en in die tuin van Getsemane. Wanneer Jesus Sy dissipels leer bid, sluit hierdie bede met: “En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.”
Maar waarom is versoekings so ’n ernstige saak? Omdat dit in versoeking gaan oor die moontlikheid om van God af weggeruk te word. Dit gaan in versoekings om die moontlikheid dat ons alles kan wen, maar aan God skade ly. Versoekings het met veel meer te make as met sjokolade, kalorieë en daardie ekstra sousie oor die bord, dit het te doen met die verwydering tussen mens en God. Ons sien die erns van hierdie versoekinge wanneer ons kyk na die gestaltes waarin versoekinge na ons toe kom.
Maar versoekings is nie iets wat jy in eie krag kan weerstaan nie. Daarom moet jy eintlik elke dag hierdie gebed bid.
GEBED
Hemelse God en Vader. Daar is soveel versoekings in die wêreld. Ek kan nie op my eie daarteen opstaan nie. Sal U my asseblief bystaan.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 28 Januarie 2023
Rigters 6:36-40 “Toe het Gideon met God gespreek: As U werklik deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het ek sal die wolvlies op die dorsvloer neerlê: as daar net op die vlies dou is, terwyl die grond oral droog is, dan sal ek weet dat U deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het. En dit was so…”
’n Algemene openbaring is byvoorbeeld soos in die storie waar God Gideon geantwoord het deur ’n wolvlies. Hoe hoor jy God se stem vandag en wat wys God jou vir 2023? Dit is baie keer vir ons moeilik om die stem van God te onderskei, maar wat ek wel weet is dat God wel praat. Dalk nie altyd op maniere wat vir ons bekend is nie nie en soms beleef ons ’n woestyntyd waar ons niks hoor nie, maar God is steeds by jou. Vertrou Hom en gaan na Hom toe. Jy aanbid ’n liefdevolle God wat met jou wil praat. Partykeer sal dit gebeur wanneer jy na musiek luister of dalk in die natuur stap en selfs wanneer jy in Sy Woord wandel. Waar dit ook al gebeur, luister na sy stem. En onthou, jy kan altyd weer vra vir ’n bevestiging om seker te maak jy het reg gehoor. Gesels dus met ander en bid saam vir wysheid en insig. Mag God jou die pad wys vir 2023 en onthou Hy praat selfs deur die dou…
Gebed: Here, ek het U lief. Vergewe my as ek so maklik wegloop van U af in tye van onsekerheid. Dankie dat U by my is en met my wil praat. Help my om te hoor as U praat. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 27 Januarie 2023
Hebreërs 11:1 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
Wat hoop jy om verder in 2023 te sien gebeur? Dalk om te presteer op verskeie gebiede? Dat beurtkrag tot ’n einde sal kom? Dalk is dit dat die Springbokke weer die wêreldbekertoernooi dié jaar sal wen? Ons baseer dikwels geloof op wat ons kan sien, maar is dit geloof? Is geloof nie juis om te vertrou dat God aan die werk is agter die skerms nie? Geloof is soms blind. Ons hoop kom dus vanuit ons terugkyk met die wete dat God al in die verlede voorsien het en deurbrake gegee het. Daarom moedig dit ons aan om te volhard, te vertrou en te droom. Mag jy die jaar vlug aan jou drome gee met die wete dat God na jou toe geloop kom vanuit die toekoms. God is reeds daar.
Gebed: Here ek glo in U en u heerlikheid. Ek is dankbaar dat U my God is en dat ek my vertroue in U kan plaas. Help my om vir ander mense ’n voorbeeld te wees van u goedheid. Laat U wil in my lewe geskied. Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 26 Januarie 2023
Matteus 6:30 “As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in ‘n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges?”
Wanneer laas het jy in God se tuin gewandel? In Sy skepping waar jy die misterie van God bewonder? Wanneer laas het jy net gestaar na ’n blom in die veld of ’n seeskulp in die water? Om te dink dat God dit alles gemaak het met sy handewerk. Net so het God vir ons ook gevorm. Ons is die kroon van Sy skepping. God het sy tyd geneem om soveel kleur in ons wêreld in te sit en Hy gee daagliks, sonder dat ons dit noodwendig raaksien, soveel meer vir ons. In ons nood, in ons behoeftes – God voorsien. God maak heel. God maak mooi. God sorg.
Mag ons vandag diep bewus raak van hoe Hy ons lewens mooi maak en mag ons vandag met dankbaarheid leef.
Gebed: Here, ek bid dat ek sal raaksien hoe U vir my sorg elke dag. Mag ek dit asseblief nie miskyk nie, want ek wil U mooiheid in my wêreld waardeer. Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 25 Januarie 2023
Matteus 6:33 “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.”
Die Here is Koning! Mag ons die jaar na Sy wil soek en heerskappy aan Hom oorgee. Jesus vertel vir die mense wat na Hom luister dat hulle na God moet luister en Hom gehoorsaam. Plaas dus vir God eerste in jou lewe. Maak tyd in jou daaglikse ritmes om na die stem van die Here te luister. Dit gebeur soms op die mees onverwagste plekke. In die stilte. Fluisterend. Mag die Here jou kom verras. Mag Hy homself aan jou openbaar. Mag jy Hom hoor en sien.
Gebed: Here, ek weet dat U soveel meer vir my omgee as wat ek regtig kan verstaan. Help my asseblief om U eerste te plaas in die lewe. Amen.