GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 16 Februarie 2023

Psalm 119:71. Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.

Refleksie

Die vraag oor hoekom daar swaarkry in die wêreld is, is een van die groot misteries in die lewe. Ons sou maklik net kon antwoord “alles gebeur met ’n rede”, of selfs net vir Adam en Eva kon blameer, maar sulke pogings neem nie die misterie van swaarkry ernstig op nie. Hoewel daar verseker onnodige en onverstaanbare swaarkry in die wêreld is, is dit ook waar dat ons ’n sekere element van swaarkry nodig het om te groei. Ek wonder of dit dalk die rede is hoekom God juis die wet vir die Israeliete in die woestyn gegee het?

Psalm 119:71 verwoord iets hiervan wanneer die digter sê: “dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.” Die digter het nie die voorskrifte geleer deur dit te hoor of te lees nie, maar deur die swaarkry van die lewe te ervaar. Is daar dalk ’n element van God se woord wat ons nie net kan lees nie, maar eerder moet beleef?

Hoe lyk jou houding teenoor jou eie swaarkry wat jy in jou lewe beleef? Kan jy ook sê dat dit vir jou goed is en dat dit jou nader aan God se woord bring? Of voel dit asof jou swaarkry jou vêrder van God se woord af neem? Dalk is dit iets waaroor jy vandag in gebed met die Here moet gesels?

Mag ons al hoe meer die voorskrifte van die Here leer – nie net deur dit te lees nie, maar deur te leef.

Gebed

Here, ons verstaan nie altyd hoekom daar swaarkry in die lewe is nie en hoekom ons self swaar kry nie. Dankie, Here, dat ons kan vertrou dat U saam met ons in ons swaarkry is en dat U selfs die swaarkry van die kruis in nuwe lewe kan transformeer. Mag U ook in ons eie swaarkry vir ons nuwe lewe bring en ons leer hoe om as deel van u Koninkryk te leef.

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 15 Februarie 2023

Psalm 119:19. 19Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie.

Refleksie

Hierdie vers tref ’n interessante vergelyking tussen die beskerming van God en die Gebooie of die wet van God. Wanneer ons oor God se beskerming dink, dink ons aan God se “hand van bewaring” wat op ’n bonatuurlike manier oor ons gehou word om te keer dat iets slegs nie oor ons pad kom nie. Of ons kan daaroor nadink dat God se beskerming ’n beloning is vir ons gehoorsaamheid aan die wet.

Maar hierdie vers nooi ons uit om te reflekteer oor die gedagte dat God se wet en God se beskerming dalk een en dieselfde ding is. God beskerm sy volk Israel deur hulle riglyne te gee van hoe om te lewe. Die wet skep ’n veilige ruimte waarbinne ons met vryheid kan lewe. Dit is waar op ’n persoonlike vlak, maar ook op ’n gemeenskaplike vlak.

Dink gou vir ’n oomblik wat ’n veiliger samelewing sal skep – om te lewe volgens ’n wet van die oorlewing van die sterkste waar ek daarop uit is om soveel as moontlik vir myself te verseker, of om te lewe volgens die wet van liefde, waar ek vir my naaste omgee, die vreemdeling verwelkom en vir die weduwees en wese sorg?

Mag ons kies om volgens die wet van liefde te leef. En mag dit vir ons vreugde en beskerming bring.

Gebed

Here, dankie dat U vir ons riglyne gee om volgens te lewe, riglyne wat ons beskerm en ’n veilige omgewing skep om binne te lewe. Help ons om vandag, en elke dag, volgens die wet van liefde te leef.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 14 Februarie 2023

Psalm 119:35. Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde.

Refleksie

Psalm 119 is die langste psalm in die Bybel. Dit is 176 verse wat die wet van God besing. Dit is ’n meesterstuk van Hebreeuse digkuns wat ons innooi om ’n liefde vir God se wet te ontdek.

Wette of reëls is iets wat ’n mens gaan aanneem, of ons gaan angstig maak of skuldig laat voel. ’n Eenvoudige voorbeeld beleef ons elke keer wanneer ons leë hande by ’n winkelsentrum uitstap, veral as daar ’n kamera uit die dak vir jou kyk of jy tussendeur die twee wit pilare (alarms) moet stap wat seker maak jy vat niks saam met jou wat jy nie gekoop het nie. Al weet ek ek het niks verkeerd gedoen nie, probeer ek so onskuldig moontlik vir die kamera lyk, net vir ingeval iemand iets vermoed, omdat ek met leë hande uit die winkel stap. Dit is dieselfde gevoel wat jy kry as jy verby ’n polisie voertuig ry, selfs al ry jy onder die spoedbeperking. Al is ons oortuig daarvan dat ons niks verkeerd gedoen het nie, is daar hierdie klein stemmetjie in ons agterkop wat sê: lyk onskuldig, want dalk vind hulle my verdag.

Dit is, dink ek, die houding wat baie van ons oor die wet van God het. Die wet maak ons angstig, of laat ons skuldig voel, selfs al is ons nie bewus daarvan dat ons iets verkeerd gedoen het nie. Dalk is ons bang dat ons onbewustelik teenoor God sondig en dat God ons daarom gaan straf.

Maar Psalm 119 en spesifiek vers 35 skep vir ons ’n ander prentjie van die wet. Die wet is vir  ons rede tot vreugde, eerder as angs en skuld. Die Psalmsdigter sê dat God se gebooie vir ons rede gee om bly te wees. Die doel van die wet is nie om ons dop te hou en ons uit te vang wanneer ons iets verkeerd doen nie, maar dit is daar om vir ons vreugde te bring – om ons op die regte pad te lei en te leer om binne God se wil te leef. Die wet is alreeds ’n stuk genade uit God se hand. Ons is nie aan onsself uitgelewer nie, maar God gee vir ons instruksies (Torah) om ons te begelei op ons pad.

Mag jy vandag vreugde vind in God se Woord. Kom ons bid vandag eenvoudig hierdie woorde van Psalm 119:35

Gebed

Here, Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 13 Februarie 2023

 

Matteus 5:17.17Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.

Refleksie

Matteus 5 is deel van die bergrede, waar Jesus vir die dissipels en ’n skare mense ’n klomp reëls neerlê van wat dit beteken om deel te wees van God se koninkryk. ’n Mens sou daarvan kon praat deur te sê dat Jesus ’n nuwe wet kom gee, om die wet van Moses wat die Israeliete aan die voet van die Sinai berg ontvang het, te vervang. Maar Jesus kom vervang nie die wet en die profete nie, Hy kom vervul dit. Hy kom wys ons die ware betekenis van die wet.

Vir lank was dit tradisie om op ’n Sondag die wet te lees, voor die skuldbelydenis en genadeverkondiging. Dit is ’n mooi tradisie wat wys dat nie een van ons die wet nakom nie en dat elkeen genade nodig het. Dit het egter vir baie mense ’n negatiewe beeld van God se wet gegee. Die enigste doel van die wet is om ons te oortuig dat ons skuldig is, aangesien nie een van ons in elk geval die wet kan onderhou nie.

Jesus het egter ’n besondere positiewe beskouing van die wet. In Hebreeus is die woord wet, die woord Torah, wat instruksie beteken. Die doel van die wet is om instruksie te gee, om ons harte te vorm. Daarom is Jesus in die bergrede juis besig om dieper te kyk na die wet en nie wette net op die oppervlak te hanteer nie. Jesus sê bv. in vers 27: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg”.

Vir Jesus gaan die letter van die wet nie vêr genoeg nie. Jesus kyk dieper, na hoe die wet veronderstel is om ons harte te vorm en ons te help om nader aan God se hart te leef.

Dink vir ’n oomblik, wat is die gedagtes wat by jou opkom as jy aan die woord “wet” dink. Is dit positief of negatief?

Hoe sal dit vir jou lyk om nader aan God se hart te leef?

Hierdie week wat voorlê gaan ons in ’n paar gedeeltes van Psalm 119 wandel, wat ’n Psalm oor die Torah, die wet of instruksie van God is. Mag die Here ons in hierdie week vorm om nader aan sy hart te leef.

 

Gebed

Here, dankie dat U in Christus ons uitnooi om deel te wees van u koninkryk en vir ons wys hoe ons kan leef om die Koninkryk sigbaar te maak. Help ons om ons eie harte te ondersoek, help ons om nie net vas te kyk in die letter van die wet nie, maar om die volle betekenis daarvan in Christus te ontdek.

Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 11 Februarie 2023

Matteus 27:54. Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man waas waarlik die Seun van God”. 

Die volgende storie bly altyd by my as dit by God se verskyning kom. Eendag het ‘n dogtertjie wat diep oor God nagedink het vir haar ma gevra: “Mense sê dat God groot is, is dit werklik so?” “Ja”, het die ma geantwoord. “God is groter as alles wat sigbaar en onsigbaar is. Hy is daar ver, diep in die ruimte waar ons sterkste teleskope nie kan sien nie”. Die dogtertjie het gedink en haar ma toe weer gevra: “Mense sê ook dat God altyd naby ons is, is dit werklik so?” “Ja”, het die ma weer geantwoord. “Deur Jesus is God by ons. Hy het vir ons mens kom word en woon in ons harte. Hy weet wat ons voel en wat ons dink.” Die dogtertjie het verder nagedink en terwyl haar gesig ophelder opgewonde uitgeroep. “As dit waar is dat God groter as alles is, maar tergelyke tyd ook in ons bly, dan moet Hy mos by ons uitsteek!”. Dit was die offisier en soldate in ons teks se insig, of eerder bekering. Toe hy sien wat in die natuur om hom gebeur en aandag gegee het aan wat sy hart van binne aan hom sê oor die dinge wat hy gesien en gehoor het, het God se verskyning hom skielik oorweldig. Dit is wat met ons gebeur. Ons sien ‘n klomp goed om ons gebeur waarvan ons nie lekker sin kan maak nie en beleef diep ervaringe binne ons wat met die lewe te doen het wat ons nie aldag kan onderskei nie. Iewers bring die Here beide in ons bymekaar en is ons op die punt om uit te roep: “God is werklik hier teenwoordig”.

Gebed

Aan U behoort die heerlikheid, o God, omdat U vir Jesus uit die duisternis van die dood opgewek het. Aan u behoort die heerlikheid, Jesus Christus, omdat u liefde vir ons so groot was dat u bereid was om die hoogste offer te betaal ten einde die dood te verslaan, sodat ons die gawe van ewige lewe kan hê. Dankie dat U ons vandag elkeen by die naam wil groet, soos U Maria by die graftuin gegroet het. Ons wil soos sy antwoord: “Rabboeni! My Here, en nooit weer dieselfde wees nie. Opgestane Here, ons aanbid U en verwonder ons aan u grootheid. Ons bid dat u Heilige gees, wat die lewe in ons giet, ons so sal verander dat ons vir langer en meer u heerlikheid sal vertoon en u lig sal weerspieël in ‘n wêreld wat dit dringend nodig het, omdat dit steeds vasgevang is in die mag van dood en sonde.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Vrydag 10 Februarie 2023

Matteus 26: 39. Hy het ‘n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by my verbygaan. Moet nogtans nie doen soos ek wil nie, maar soos U wil.

Die evangelie van Matteus begin waarin Jesus se verskyning in die wêreld met blydskap en lofliedere begroet is. Dat God waarlik as mens tussen ander kom verskyn het, het mense se perspektief van God se aard en karakter radikaal kom verander. Wanneer Matteus se evangelie eindig met die angs en spanning van Jesus se lyding kom gee dit nuwe intensiteit aan hierdie verskyning. Dit is vir ons erg om lyding te hanteer en verskriklik as dit so traumaties is dat jy met jou gesig teen die grond eindig. Dit bring jou skielik by die besef uit dat die dinge waarop jy gehoop en waarvoor jy gebid het nie gerealiseer het nie. Streng gesproke moet dit dan die plek wees waar jy die verste van God verwyder voel. Toe Jesus met sy gesig teen die grond gebid het, het hy dit vir ons verander. Sy verskyning in die rouheid van emosies is ‘n beklemtoning van sy teenwoordigheid wat ons binneste verander en ons in staat stel om weer op te staan en met die lewe aan te gaan. Mag die grootheid van God wat ons in liedere en teksgedeeltes besing vir jou op ‘n besondere wyse gestalte kry waar jy moontlik vandag met jou gesig teen die grond bid.

Gebed

Vervul o Heer my hart met stille wyding. Waar ek herdenk die diepte van u lyding. Hoe U daar aan die kruis gesterf het, my heil verwerf het. U lyding breek my trotse hart en rede; dit buig my neer en skep in my u vrede, dit bring die heil wat my Gods teëstander, tot vriend verander.

Gedagte vir die dag | Donderdag 9 Februarie 2023

Matteus 15:24. “Ek is net na die verlore skape van Israel gestuur”. Maar die vrou kniel voor Hom en sê: “Here, help my!” Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kindertjies se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie”. “Dit is waar, Here”, sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval”. “Mevrou”, sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul”. Van daardie oomblik af was die dogter gesond.

Die mense wat Jesus binne die konteks van die Joodse geloof en kultuur gevolg het, het die verwagting gekoester dat Jesus die beloofde Messias was wat spesiaal gestuur is om aan die Jode te verskyn. Hierdie verskyning was kultureel ingekleur. Net soos Moses in die verlede die volk van die Egiptenare gered het, was die verwagting dat Jesus dit weer vir die Joodseïvolk gaan kom doen. Die skare mense wat Jesus egter vanaf die begin van sy optrede gevolg het was ’n mengelmoes van mense van oral wat nie ingenome was deur praatjies van politieke en ekonomiese voorspoed nie, maar eerder van God se genade vir alle mense. Jesus wou hierdie karaktereienskap van God baie duidelik uitlig. Wanneer ons die eerste vers van Stille Nag sing eindig dit met dié sin: “Heer, gebore vir ons! Heer, gebore vir ons!”. Wie is die ons? Wie sou die mense wees wat vandag rondom Jesus sou saamdrom? Wat is die geloof wat hierdie verhaal in jou wakker maak? Mag jy vandag opnuut beleef op watter wyse die boodskap van Jesus Christus se genade op alle mense van toepassing is en hoe dit genesing bring waar ons in die realiteit daarvan tussen ander leef. Dit is die kern van wat Jesus in ons teks “geloof” noem. Waar daar deernis is en liefde, daar is God die Heer.

Gebed

Here, ons aanbid U as Here van hemel en aarde, wat alles wat bestaan omring en deurdring. Maak vandag in ons die eenvoud van dié geloof wakker waaroor hierdie teksgedeelte met ons praat en waardeur U in my midde verskyn. Gee my  ‘n perspektief hoe ek daardeur vandag my eie wêreld kan omvorm, daar waar ek tussen ander verskyn. Help my om deur die grense te breek van eng kategorieë en etikette wat ek aan mense toeskryf en waarvolgens ek hulle beoordeel. Bring in my die bevryding om nie altyd in debatte en argumente te verval wat polariseer nie, maar in moeilike gesprekke en situasies wat vandag op my wag sodat ek weet hoe ek moet optree. Laat die wyse waarop U eens aan verskyn het ons inspireer om vandag die genesing wat U bring te laat realiseer.

Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 8 Februarie 2023

Matteus 13:10. Die dissipels het vir Hom gevra: Hoekom gebruik U gelykenisse as U met mense praat?

Wanneer Jesus mense geleer het, het hy dit altyd gedoen deur gelykenisse te gebruik. Sonder ’n gelykenis het hy hulle nooit geleer nie. ’n Gelykenis is ,’n storie wat op ’n praktiese manier vir mense diep lewenswaarhede wil leer. Dit het nie net een betekenis nie, maar vele. Die impak daarvan was om mense so te betrek dat hulle self die betekenis daarvan vir hulle sal vind. Ek dink dat Jesus juis gelykenisse gekies het omdat hy besef het dat die woorde daarvan nie net op ‘n historiese tyd van toepassing sou wees nie, maar ook vir geslagte mense daarna. So kom verskyn die Here dan deur middel van die ou verhale in ‘n wêreld wat vandag baie anders lyk. Dit laat my dink aan die baie bekende kinderlied in die Liedboek wat sê: “O Jesus leer my, o Jesus lei my, o Jesus sterk my en vorm my tot U eer”. Mag jy hierdie insig beleef wanneer jy Jesus se lewe in die Bybel volg en vind dat Hy ook vandag op ‘n besondere wyse met jou praat.

Gebed

O Here, dink aan U beloftes en vervul dit in ons lewe:  Waar ons swak is – gee krag; waar ons verward is – gee leiding; waar ons ontsteld is – gee troos; waar ons dood was – bring lewe. Weg van U af, o Here is ons niks. In en met U, kan ons alle dinge doen.

Amen.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 7 Februarie 2023

Matteus 11: 25.  Van daardie tyd het Jesus gesê: Ek prys U Vader, Here van hemel en aarde,  dat u hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.

Wat  beteken dit  dat ons met Kersfees kom vier dat God mens kom word het? Filippense 2:7-9, wat een van die oudste liedere is wat van die vroeë Christendom bewaar gebly het getuig hieroor: God het nie aan sy Goddelike karakter vasgeklou het nie, maar die gestalte van ‘n mens aangeneem waarna Hy homself nog verder verneder het om die gestalte van ‘n slaaf aan te neem. God verskyn dus nie net wanneer ons gedagtes hom kan bedink of begryp, of wanneer ons insigte Hom in die gebeure van ons tyd kan raaksien nie.

Die implikasie van hierdie belydenis is radikaal omdat die Here as te ware op verskillende maniere onder alle mense kom inskuif waar ons en ander in sy teenwoordigheid kan leef. So, hoe lyk die verskyning? Johannes  1 beskryf dit as “vol van genade en waarheid”. Dis genade onbeskryflik groot. Hoe verander hierdie besef jou dag waar jy tussen ander en in die realiteite van die alledaagse leef?

Gebed

Here, ons kom bid vandag eenvoudig dat die genade onbeskryflik groot van u verskyning vandag tot ons sal deurdring. Dankie  vir oomblikke waarin  U ons help om deur ons denke, insig in moeilike en ingewikkelde situasies te kry, maar dan ook dat u op eenvoudige maniere in ons mensheid verskyn. Help my vandag begryp dat U op hierdie wyse tot veel meer in staat is as wat ons dink of kan begryp.

Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 6 Februarie 2023

Matteus 9:35. Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy  het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van dié koninkryk verkondig en elke siekte en kwaal gesond gemaak.

Hierdie tyd van die jaar word die epifanie fees in die kerk gevier. Dit is ‘n tyd waarin ons na Kersfees oor Jesus se verskyning in die wêreld nading en besin oor die wyse waarop dit mense se lewens aanraak. Ons gaan dus in hierdie week by ‘n paar teksgedeeltes in Matteus rakende Jesus se verskyning, stilstaan.

Dit is baie treffend dat die teks aandui dat Jesus spesifiek klein plekkies besoek het. In die samelewing waarin Jesus opgetree het, was die politieke en ekonomiese mag gesetel in die stede waar belangrike mense hulle invloed uitgeoefen het. Die kleiner dorpies en plekkies was in diens van die koning of heerser se ideale en het gewoonlik wat bestaansmiddele betref aan die kortste end getrek. Wanneer Jesus oor God se koninkryk praat draai hy hierdie beginsel om. God heers nie net deur met konings en regeerders saam te werk nie. Hy bring verandering deur van onder af boontoe in gewone se mense se lewens in te spreek.

Vandag se teks daag ons uit om anders oor God se verskyning te dink. Ons hoop is nie net op ‘n Here wat van bo af deur middel van ’n regering of instansies verandering kan meebring nie. Eerder op ‘n Here wat op die mees onverwagte plekke sy verskyning maak. Wat sou dit vandag vir jou beteken? Moenie die mense en plekke wat in jou lewe gering is en min aandag kry, onderskat nie. Laat jouself dus toe om vandag onder die indruk te kom van hoe God se koninkryk en mag besig is om op plekke waar jy dit die minste verwag, te verskyn.

Gebed

Here, ons bid gereeld dat U in ons lewens en wêreld moet kom skyn. Gee my vandag die nodige aanvoeling en perspektief om te beleef hoe U in my lewe U opwagting maak. Help my verstaan dat u teenwoordigheid veel wyer strek as die grense van kerk en godsdiens waartoe ek u teenwoordigheid gereeld beperk. Help my om U in my lewe te vertrou wanneer insig en wysheid my ontbreek en ek vasgevang voel, omdat ek nie u werkinge kan verstaan nie. Help my om die beste te maak van elke oomblik waarby hierdie dag my gaan uitbring.

1 41 42 43 128