Dagstuk | Dinsdag 28 Februarie 2023
Lydenstyd word baie dikwels vereenselwig met die gewoonte om 40 dae lank te vas. Die vas van vleis of soetgoed veral, was kenmerkend van Lydenstyd. Hierdie praktyk wil ons help om diep bewus te word van God se teenwoordigheid in ons lewens.
Ons almal verstaan dat verhoudings tyd en kommunikasie benodig. In enige verhouding gebeur daar wonderlike, spontane kommunikasie wanneer ons oomblikke van die lewe deel en so moet dit ook met ons verhouding met God wees. In verhoudings is daar dikwels beplande tydmaak vir mekaar en beplande aktiwiteite waar verdieping en groei plaasvind, maar dieselfde geld vir ons verhouding met God. Deur ’n spesifieke tyd af te sonder en ’n gebedspasie in te rig, skep ons plek en tyd vir ons verhouding met God om te groei. Jy word aangemoedig om in hierdie tyd, meer tyd te spandeer in gebedstiltes.
Iemand sê die volgende oor lydenstyd: “Lent is a time of going very deeply into ourselves … What is it that stands between us and God? Between us and our brothers and sisters? Between us and life, the life of the Spirit? Whatever it is, let us relentlessly tear it out without a moment’s hesitation.”
Watter van die volgende woorde voel vir jou soos ‘n uitnodiging in hierdie Lydenstyd?
Heelmaak – Skoonmaak – Naderkom – Skep – Nuutmaak – Oorloop – Terugkeer – Herstel.
Gebed: Here, vul my asseblief met nuwe lewe en maak my bewus van waar U my lei.
Dagstuk | Maandag 27 Februarie 2023
Genesis 3:19 “Stof is jy, en jy sal weer stof word.”
Lydenstyd is nie ’n tydperk waarin ons net die lyding van Jesus gedenk of daarop fokus nie, maar eerder om ’n deelgenoot met Jesus in sy lyding te wees. Ons het laasweek op Aswoensdag afgeskop met lydenstyd wat ons voorbereidingstyd vir Paasfees is; ’n seisoen van 46 dae waarin die kerk met dankbaarheid, erns en pyn die kruis van Jesus vier; dit wat vir ons verlossing bewerkstellig het.
Op Aswoensdag kom ek in kontak met die lyding van menswees en die besef dat ek stoflik is. Dat ek nietig is. Van die oomblik wat ons ons moeder se baarmoeder verlaat het, het ons die sterwensproses begin. Die kwesbaarheid van my menslikheid – my verliese, die vlees, sonde – help my om agter te kom dat daar lyding in my lewe is waarvan ek ontslae moet raak. Maar daar is ’n lyding wat lei na groei en ek moet dit aanvaar. Dit is ’n groot beweging van die vlees na die gees en vra onderskeiding.
Jy word dus uitgenooi na ’n tyd van voorbereiding en hertoewyding. Ons maak plek om God, onsself en ander mense te kan hoor. Die geestelike dissiplines/gewoontes, wat spesifiek met Lydenstyd vereenselwig word, is: verootmoediging en skuldbelydenis. Dit is so ‘n voorreg om aan ‘n kerkseisoen deel te neem wat al vir eeue deur ons geloofsgenote gevier word. Ons vier Lydenstyd met ‘n bewustheid dat broers en susters in kerke oor die wêreld heen dit saam met ons vier. Hierdie tyd bied ‘n geleentheid om gestroop te word van al die onnodige stemme en invloede wat ons aandag aftrek van Christus in ons lewens. Die kruis herinner ons weer en weer dat daar geen skeiding is tussen ons en God nie – die skeiding is gestroop.
Gebed: Here, berei my hele menswees voor vir hierdie seisoen oppad na die kruis. Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 25 Februarie 2023
Teksgedeelte Handelinge 17:24. God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’
Ek lees graag vir ons ’n gebed van Henri Nouwen
Here, ek is so bang om my toegeklemde hande oop te maak,
Want wie sal ek wees as ek niks meer het om aan vas te klou nie?
Wie sal ek wees as ek voor U staan met leë hande?
U sê dit is juis hoe U verkies ek na U moet kom?
Help my dan asseblief om my hande oop te maak
en te ontdek ek is nie wat ek het of besit nie.
Ek is wat U my wil gee en wat U my wil gee, is liefde-
Onvoorwaardelik, ewigdurende liefde.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 24 Februarie 2023
Teksgedeelte Eksodus 15:22-27. Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee af en hulle het na die Surwoestyn toe gegaan. Hulle het drie dae lank die woestyn in getrek en geen water gekry nie. 23Toe hulle by Mara aankom, kon hulle nie die water drink nie, omdat dit bitter was. Daarom het hulle die plek Mara genoem. 24Die volk het by Moses gekla: “Wat moet ons drink?” 25Moses het die Here aangeroep, en die Here het hom ‘n stuk hout gewys. Hy het dit toe in die water gegooi, en die water het soet geword.Daar het die Here die volk op die proef gestel en daar het Hy vir hulle ‘n vaste reël neergelê. 26Hy het gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf. Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.”27Daarna het hulle by Elim aangekom met sy twaalf fonteine en sewentig palmbome en daar by die water kamp opgeslaan
Ek wil graag na aanleiding van hierdie gedeelte ‘n gebed lees van Nico Koopman
Here, gee asseblief.
Lig te midde van donkerte
Vrede te midde van stryd
’n glimlag te midde van trane
Vreugde te midde van leed
Rus te midde van moeite
Soete Elims te midde van bitter Maras
Heer, verander.
Donkerte in lig
Stryd in vrede
Trane in glimlagte
Leed in vreugde
Moeite in rus
Bitter Maras in soete Elims
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 23 Februarie 2023
Matteus 6:6-13. as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.7“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. 8Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.9“So moet julle bid:“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;10laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.11Gee ons vandag ons daaglikse brood;12en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;13en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
Ek lees graag ’n gebed van Eddie Askew
Here, wat ons geleer het hoe om te bid,
So dikwels kom ek na U toe maar weet dan sowaar nie wat om te sê nie.
Tog kom ek maar, sonder praat,
Op soek na die geborgenheid van twee vriende wat net in stilte saam sit.
Dit is dan, Here, dat ek die meeste van U leer-
Wanneer my gedagtes tot bedaring kom,
En my hart se wilde klop bedaar;
Wanneer ek laat gaan en net op U woord wag.
Dan besef ek ook dat alles wat ek wou vra, reeds bekend is aan U.
En dat U hier by my is,
Dat U my liefhet, en my lief maak vir U.
Here, leer my nou hoe om te bid.
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 22 Februarie 2023
Teksgedeelte: 1 Johannes 4:16. En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.
’n Gebed van Chris Jones
God, wat woon in die hemel, laat my, aardling, my niksheid voel.
Nie om daardeur in wanhoop te verval nie,
Maar sodat ek die grootheid van U goedheid dieper kan ervaar.
Vader in die hemel,
U het ons eerste liefgehad.
Help ons om dit nie te vergeet nie,
Sodat hierdie sekerheid in ons harte mag woon te spyte van die verleiding van die wereld,
Die rusteloosheid van my hart,
En my angs oor die toekoms.
Laat dit my vrees oor die verlede en die moedeloosheid van die hede verdryf.
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 21 Januarie 2023
’n Gebed van Annalise Wiid
Help my, liewe vader,
Om vas te hou aan u goedheid veral wanneer dit lyk of u horlosie gaan staan het.
Herinner my dat u “tydsaamheid” nie beteken dat U onverskillig teenoor my staan nie.
Ook nie ver nie. Maar naby en vol omgee.
Ek wil my eie ongeduld met u geduld hokslaan.
Ek wil myself daaraan troos dat my tye in u hande is.
Ook my wagtye. My swaarkrytye. My alleentye.
My moedverloortye. My huiltye.
Want dis net dan wanneer dit sleg is om te wag.
My mensnatuur wag mos net altyd vir iets beters, iets lekkerders, iets opwindender,
Iets wat my sal bevry van wat nou verduur moet word.
Maak geduld in my groot, Here.
Laat dit in my groei, soos ’n baba in ’n swanger vrou.
Sodat wag, verwagting word.
Sodat daar iets uit gebore word wat die wag werd is.
Help my om nie ’n oomblik se wagtyd te mors nie, om steeds sinvol besig te bly.
En help my, Here, om geduld met ander te hê.
Soos U met my het.
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 20 Februarie 2023
Teksvers Matteus 14:24
Die skuit was reeds ‘n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. 25Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. 26Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis ‘n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.27Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”28Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”29“Kom!” sê Hy.Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. 30Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
Ek lees graag ’n gebd van Piet Naude
Vader, die jaar vang my meer as wat ek verwag het.
Ek sukkel met die spoed,
Die druk en die spanning.
Ekskuus dat ek meerna die wind en die branders kyk as na U.
Dis so menslik.
Leer my om te lewe met oë en ’n gees wat oop is vir U – al is ek hoe besig.
Leer my om te bid sonder ophou:
In die verkeer, op kantoor, in die wagkamer, in die supermark.
Ek kan nie self nie, Here.
U kan my help.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 18 Februarie 2023
Psalm 119:57-58. 57 Ek het gesê: “Dít is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.” 58Ek smeek U met my hele hart: “Wees my genadig, soos U beloof het.
Refleksie
Dit is gepas om hierdie week waarin ons in die tema van God se wet gereis het, met genade af te sluit. Ons dink maklik dat God se genade ’n Nuwe Testament ding is, maar die Ou Testament is ook vol van God se genade. Die wet self, soos ons aan die begin van die week gesien het, is reeds ’n teken van God se genade – ’n geskenk wat Hy vir ons gee waarvolgens ons kan leef. Die realiteit is dat ons dit nie altyd getrou nakom nie, dat ons foute gaan maak. Daarom is hierdie twee verse in Psalm 119 so kosbaar. Die digter sê in vers 57: “Dit is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam” en dan direk daarna “Wees my genadig, soos U beloof het.” Die begeerte om gehoorsaam te wees aan die woord, gaan hand aan hand met ’n besef dat ons God se genade nodig het en ’n vertroue dat God genadig is wanneer ons foute maak.
Die vers wat die heel meeste aangehaal word in die Ou Testament vind ons in Eksodus 34:6: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” God is ’n God van genade en liefde. God se wet was nog altyd ’n wet van liefde. Dit is hoekom Jesus vir ons vertel dat Hy gekom het om die wet sy volle betekenis te laat kry en nie vir ons ’n nuwe wet kom gee nie. Die bedoeling van die wet was nog altyd liefde en genade.
Mag hierdie wet van liefde en genade, sigbaar word in my en jou lewe.
Gebed
Here, U is ’n barmhartige en genadige God, lankmoedig en vol liefde. Ons wil so graag volgens U wil en U wet leef, maar ons maak so dikwels foute. Vergewe ons, Here, wanneer ons van die pad afgaan en lei ons op die pad van liefde en genade.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 17 Februarie 2023
Psalm 119:37. 37 Weerhou my van ‘n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys.
Refleksie
Hoe meet ons die waarde van ’n mens se lewe? Ons meet dit so dikwels aan rykdom of persoonlike sukses. Die Westerse wêreld wil ons aanhoudend oortuig dat die waarde van jou lewe in jou besittings lê, of in jou vermoë om iets te produseer as deel van ’n kapitalistiese samelewing.
Hierdie vers in Psalm 119 gee egter ’n ander perspektief: ’n nuttelose lewe is ’n lewe buite die weg, of wil, of wet van God. ’n Nuttige lewe, ’n lewe wat iets beteken, is ’n lewe binne die wet van God. So ’n lewe is nie gemik op persoonlike sukses nie, maar op deelname aan iets groter as die eie ek. Om te lewe volgens die weg wat God aanwys, is om deel te neem aan die Koninkryk. Die betekenis of nut van ’n lewe wat op persoonlike sukses gefokus is, is van korte duur. ’n Lewe wat op die deelname in en uitbreiding van die Koninkryk gefokus is, het ewigheidswaarde.
Mag ons aanhou om nie persoonlike sukses toe soek nie, maar eerder volgens die weg leef wat die Here vir ons aanwys en te help bou aan ’n koninkryk wat vir ewig sal staan.
Gebed
Here, laat my leef op die weg wat U aanwys. Help my om nie die wêreld se definisie van sukses na te jaag nie, maar om U te vertrou met my lewe.
Amen