GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Saterdag 11 Maart 2023

1 Petrus 5:7  Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

GEDAGTE

Ek wil vandag met julle gesels oor bekommernisse. Die slim mense sê dat 99% van al die dinge waarvoor ons, ons bekommer nooit gebeur nie! In Jesaja 41:10 sê die Here vir ons: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God.” Dit sluit aan by ons teks vandag wat sê dat ons al ons bekommernisse vir die Here moet gee.  

Baie mense is gepla met vrees, bekommernis, besorgdheid en twyfel – tog sien ons telkemale in die Bybel dat ons nie bekommerd moet wees, of moet vrees nie.

Fil 4:6 sê: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” In hierdie gedeelte van die Skrif leer ons dat ons al ons behoeftes en bekommernisse tot God in gebed moet bring, eerder as om ons daaroor te bekommer. Aangesien bekommernis nie deel van ’n gelowige se lewe behoort te wees nie.

Maar hoe oorkom ’n mens dit dan? In 1 Pet 5:7 is geskryf, “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” In hierdie versgedeelte nooi God ons om al ons bekommernisse en sorge na Hom te bring. Hoekom wil God ons probleme vir ons dra? Die Woord sê dit is omdat Hy vir ons omgee. Geen bekommernis is té groot of té klein vir sy aandag nie. As ons, ons sorge vir God gee, beloof Hy aan ons die vrede wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4:7).

Ons het gesien dat twyfel en kommer oor ons daaglikse nie nodig is vir die gelowige nie. Die gelowige het ’n Vader in die Hemel wat presies weet wat ons nodig het. Die Vader in die Hemel sal daarom die gelowige versorg net soos Hy ook die res van die skepping instandhou. Soos wat ’n kind al sy bekommernisse in sy ouers se hande los, kan ons ook ons bekommernisse by God los.

GEBED

Liewe Here,
Ek erken dat ek gereeld vergeet dat U by my is.
Ek vergeet gereeld wie U is.
Vergewe my asseblief.
Help my om U Woord en U beloftes te ken.
Help my om U eerste op elke terrein van my lewe te plaas.
Help my om een dag op ‘n slag te leef.
Help my om my nie oor môre te bekommer nie, maar om eerder op U te fokus en wat U nou in my lewe doen.
Ek wil vertrou op U belofte om in al my behoeftes te voorsien – finansiële, verhoudings, fisiese, sosiale, geestelike en emosionele.
Help my om U meer te vertrou en minder te bekommer.
Ek bid in Jesus se Naam.
Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 10 Maart 2023

1 Petrus 4:8 & 9  Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. 9Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.

GEDAGTE

Ek hoor dikwels die versugting by mense dat hulle graag wil weet wat die Here se wil vir hulle lewe is. Nou hier is iets baie duidelik wat die Here wil hê dat ons moet doen.  As mens deur die Nuwe Testament lees, duik hierdie sinsnede dikwels op: “julle moet mekaar” … aanvaar, verdra, vergewe, respekteer, reg help, troos, moed inpraat en dan die een wat die meeste kere voorkom: julle moet mekaar liefhê. Nêrens klink dit net soos ’n versoek nie. Nêrens sê dit: as jy daarna voel of as die ander een dit verdien, of as die ander een dit vir jou terugdoen nie. Dit is ’n opdrag. Soos ons ook in vandag se teks gehoor het.

Om ander lief te hê, beteken:
· om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie;
· om altyd mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel;
· om ander mense dit wat hulle het te gun sonder om afgunstig te wees op dit wat hulle het jy nie het nie;
· om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie;
· om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie;
· om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie;
· om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie;
· om nie sommer vir niks kwaad te word nie;
· om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom/haar daarvoor kan terugkry nie.

GEBED

Here, maak my ’n instrument van u vrede.

Waar daar haat is, laat my liefde saai;

Waar daar onreg is, vergifnis;

Waar daar twyfel is, geloof;

Waar daar wanhoop is, hoop;

Waar daar duisternis is, lig;

Waar daar droefheid is, vreugde. Amen

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 9 Maart 2023

1 Petrus 4:12-13 12Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.

GEDAGTE

Petrus sê dat die gelowiges nie die vurige beproewing as iets vreemds moet sien nie (4:12). Christene kan sulke dinge verwag. Hulle moet nie verbaas wees as lyding op hulle pad kom nie. Gelowiges kan eintlik geëerd voel as hulle swaar kry ter wille van Christus. Dink aan Jesus se woorde in Matteus 5:11-12: “Geseënd is julle as julle beledig en vervolg word.”

Swaarkry is deel van ons lewe. Niemand van ons ken ’n lewe wat heeltemal daarsonder is nie. Party mense ken natuurlik meer swaarkry en ander weer minder, maar swaarkry is deel van elkeen van ons se lewens en ons kan dit nooit heeltemal vryspring nie.

Die bekende Amerikaanse Evangelis, Billy Graham, is ’n paar jaar gelede op 99 jarige ouderdom dood. Hy was een van die bekendste predikers van die vorige eeu. En hy het oor baie jare heen in baie kerke en by baie groot saamtrekke gepreek en baie mense het deur sy preke die pad na die Here gevind. In sy sewentigs, is hy met Parkinson se siekte gediagnoseer. In daardie tyd het ’n joernalis vir hom gevra: “Maar dink u nie dit is onregverdig van die Here om toe te laat dat u, wat vir soveel mense die pad na Hom toe aangewys het, nou hierdie siekte moes ontwikkel nie?” Op hierdie vraag het Billy Graham geantwoord: “Nee, ek sien dit glad nie so nie. Lyding is deel van mens wees.  En een of ander tyd kom dit oor os elkeen se pad.”

Ons swaarkry is op die ou end nie maar net ’n doellose en sinlose saak as dit by die Here kom nie. Hoewel swaarkry natuurlik vir ons onaangenaam is, en ons dit sekerlik nooit vir onsself sou kies nie, is die Here so groot dat Hy ons swaarkry wel tot ons voordeel kan gebruik.

Hoe gebruik die Here swaarkry in ons lewens? Die een baie belangrike ding wat ons deur swaarkry leer, is hoe afhanklik ons van die Here is. Sonder swaarkry is dit so maklik om te vergeet dat ons maar net mense is. Dalk gaan jy nou deur ’n moeilike tyd – weet dan dat die Here ook by jou is en jou hierdeur sal dra.

GEBED

In die skadu van die Allerhoogste

Sal ek steeds my skuiling vind

U is naby my, ek kom naby U

Soos ‘n boom digby ‘n waterstroom

Vind ek my lewe net by U

U is naby my, ek kom naby U

Nader, steeds nader

Ek smag na U, soveel meer van U

Nader, veel nader

Groei ek aan U

U is nader as my siel Amen

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 8 Maart 2023

1 Petrus 2:2  Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. 

GEDAGTE

Petrus roep vermaan ons om die dinge wat ons geestelike groei strem af te lê: “alles wat sleg is en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie en alle geskinder“.  Dit is dinge wat jou eie lewe benadeel en belangriker nog – alles wat ander se lewens ook kan benadeel. Dié dinge maak ware lewensgemeenskap met mekaar onmoontlik.

Maar die fokus op wat jy moet aflê, kan net werk as jy ook fokus op dít wat jy moet opneem of fokus.  Ons groei nie deur wat ons aflê nie.  Ons groei deur wat ons inneem, of opneem.  Petrus gebruik dan ’n beeld van ’n pasgebore babatjie wat smag na sy ma se melk.  Só moet ons aan die ander kant met absolute passievolle vreugde fokus op die “suiwer geestelike melk” – letterlik: “suiwer melk van die woord” – dít wat net die Here deur die Skrif, deur die “ingeplante woord” (Jak. 1:21) en deur die Here Jesus self as die Woord van God vir ons kan gee.

In vers twee lees ons dat net soos ‘n pasgebore babatjie voedsel nodig het, ons ook geestelike voedsel nodig het. Ons moet ook daarna smag om deur die Woord gevoed te word. Die woord vir smag wat ons in die Griekse teks vind, is baie interessant. Die woordjie het te doen met ’n dringende begeerte omdat daar aan iets ’n tekort is — ’n dringende begeerte omdat daar te min is. Daarom moet ons daagliks daarna hunker om deur die Woord gevoed te word, omdat ons besef dat ons nooit genoeg daarvan kan kry nie. Dit is die geestelike melk wat ons moet inneem sodat ons kan groei en die saligheid ontvang.

GEBED

Hemelse God en Vader, ek smag ek dors na u lewende Woord. Voed my daarmee sodat ek kan groei.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 7 Maart 2023

1 Petrus 1:15-16  15Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

GEDAGTE

Hoe sal jy voel om 20 jaar op ’n platform gebou op pale deur te bring? Dit het inderdaad gebeur met ’n groep mense wat wou heilig lewe. Hulle wou hulle nie besmet met die sondige aarde nie en het toe op platforms gebly wat deur middel van pale in die lug gehou is. Mense moes vir hulle kos voorsien deur dit aan ’n tou op te hys. Hulle het geglo dit is baie moelik om op so ’n platform te sondig. So het baie mense deur die loop van eeue heen probeer om ’n staat van heiligheid te verwerf.

Om heilig te word – om soos Jesus te word beteken nie ek moet ’n paalchristen word nie – maar liewer ’n elke-dag-op-die-aarde-Christen. Maar wat beteken die woord “heilig” of “heiligmaking”? Die Hebreeuse woord wil sê om “af te sonder”. Daar is twee Griekse woorde. Die een beteken: “Om apart te sit vir ’n heilige doel.” en die ander beteken “om tot voltooiing of om tot volmaaktheid te kom”

Die woord heiliging wil dus eintlik sê: Om myself af te sonder van die sonde, sodat ek algaande tot die volmaakte beeld van Christus groei. Maar hoe word ek heilig. Die Rooms Katolieke Kerk leer dat jy heilig word deur goeie werke te doen, die mis gereeld beoefen en om ‘n ekstra myl te stap soos om byvoorbeeld ongetroud te bly en ’n monnik of non te word. Maar ons almal weet dat jy nie op die wyse meer heilig word nie. Heiligmaking is ’n proses wat in my lewe begin die dag as ek tot bekering kom. Ek leer dan om m.b.v. die Heilige Gees al hoe meer soos Jesus te lewe en so word ek ook meer heilig.

Om elke dag op aarde heilig te leef, is een van die moeilikste toetse vir ware Christenskap. Ons kan dit net doen met die hulp van die Here. Daarom is dit nodig om elke dag tyd saam met God deur te bring en jou oop te stel vir Sy heilige invloed.

GEBED

Hemelse God en Vader ek stel myself oop sodat U al meer deur my kan werk. Maak my asseblief nuut en heilig sodat ek al meer soos Jesus kan wees.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 6 Maart 2023

1 Petrus 1:7  “Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

GEDAGTE

Hierdie gedagte van ons geloof wat getoets word is een wat ek nogal gereeld by mense hoor.  Die beeld van goud (of soms silwer) wat met vuur getoets (of gelouter) word, is een wat ook dikwels in die Ou Testament voorkom. En daar is tog iets mooi aan hierdie beeld gekoppel. Die idee is dat ons geloof gesuiwer word tot net dit wat eg, waar en mooi is, agterbly. En ons kan dit aanvoel as die egtheid van ons geloof in moeilike tye getoets word; wanneer ons gedruk of uitgedaag word deur mense, omstandighede of swaarkry.

Hoekom ek? Wanneer die lewe ’n mens in sy harde werklikheid tref sal die meeste mense uiteindelik hierdie vraag vra. Maar dis die verkeerde vraag om in donker tye te vra. Vra liewer: “Here, wat is U doel met dit alles?”

In 1 Pet 1:6-7 lees ons: Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan.”

Niks gebeur net per toeval in jou lewe nie. God is nie die oorsprong van kwaad nie, maar Hy kan die goeie uit elke situasie na vore bring, selfs vanuit kwaad. Beproewinge en toetse openbaar jou karakter, jou geestelike volwassenheid, jou sekuriteit, jou waardes en geloof.

Paulus het sy hele lewe daaraan toegewy om God te dien. Sy lewe het soms maar moeilik verloop; hy is gestenig, hy was ’n skipbreukeling, hy is geslaan – vir dood agtergelaat, in die gevangenis gegooi, beroof. Des nieteenstaande kan ons kan nie agterkom dat hy ooit verbitterd was nie. In plaas daarvan dat hy gevra het: “Hoekom ek Here?”, het hy Hy geglo dat God met dit alles ’n doel gehad het. Hy het geleer om God te midde van sy probleme te vertrou, al het hy nie verstaan nie.

Dis belangrik om die volgende te onthou – vertrou God se doel met jou lewe in die moeilikste tye. God se doel met jou lewe is altyd groter as jou probleme.

GEBED

Hemelse God en Vader, dankie dat ek ook in my moeilike tye kan weet dat U my vashou.

Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 4 Maart 2023

Johannes 14:25-27 “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

Dit gebeur soms in die wildernis dat dinge wat voorheen gehelp het om rigting aan te wys, nie meer soos voorheen werk nie. Ons gewone maniere van bid voel skielik droog, ons manier van dink en voel het verander; dit kan ons verlore laat voel. Maar dit is ’n normale deel van ons pad saam met God. Ons sal ’n paar keer in ons lewens op kruispaaie kom waar God iets nuut en iets dieper aan ons wil openbaar – ’n nuwe deel en dimensie van Homself.

Mag die Gees van God tydens hierdie Lydenstyd oppad na die kruis ook in jou lewe werk.

Gebed

Here, kom vorm my en kleur my lewe in met u Gees wat gedurig nuut maak. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 3 Maart 2023

Markus 8:34-37 Nadat Hy die skare saam met sy dissipels nader geroep het, het Hy vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. Wat baat dit ‘n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Wat sou ‘n mens gee as losprys vir sy lewe?

Jesus se getrouheid het Sy lewe gekos. Hy weet dat die tipe Koninkryk waarna Hy ons uitnooi is ’n onderstebo koninkryk wat soms moeilik gaan wees om uit te leef. Dissipelskap het ’n koste. Wat beteken dit vir jou om jou kruis op te neem?

Thomas sê vir Jesus in Johannes 14:5-7: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.”

Jesus wys ons hoe en wie God is, asook hoe ons verhouding met die Vader moet lyk. Jesus gee Sy lewe en wys ons hoe om te lewe. Wat het Jesus reeds vir jou gewys van wie Hy is? Wat beteken dit vir jou om “die Weg’’ te volg? Hoe sou Jesus jou volgelingskap tans beskryf? Wie loop hierdie pad saam met jou?

Gebed

Here, help my om hierdie lewenspad van dissipelskap saam met U te stap. Amen.

 

Dagstuk | Donderdag 2 Maart 2023

Markus 1:11-13 “En ‘n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!” Direk daarna het die Gees Hom die woestyn in gedryf. Hy was veertig dae lank in die woestyn, waar Hy deur die vyand versoek is. Hy was saam met wilde diere, en engele het Hom versorg.”

Jesus hoor hierdie treffende woorde voordat Hy veertig dae van versoeking in die wildernes oorleef: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!” Woorde wat Hom heel moontlik onderhou het in die moeilike tye; die fondasie van Sy identiteit. ‘’Jy is geliefd” is ook woorde wat ek en jy benodig vir hierdie wildernislewe wat ons daagliks lei. Woorde wat direk vanaf die Vader gespreek word. Geloofwaardige woorde.

Dalk is dit vandag ook die woorde wat jy moet hoor. Jy is geliefd!

Gebed

Here, dankie vir U Vaderhart wat wat my as verlore kind uitnooi om tuis te kom by die Vaderhuis van genade. Amen.

Dagstuk | Woensdag 1 Maart 2023

Prediker 3:1-11 “Daar is ‘n regte tyd vir alles, elke ding in hierdie wêreld gebeur op die regte tyd. Daar is ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterf, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om plante uit te trek. Daar is ‘n tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak, ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om te bou. Daar is ‘n tyd om te huil en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te rou en ‘n tyd om te dans. Daar is ‘n tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om iemand te druk en te omhels en ‘n tyd om iemand nie te omhels nie.”

Binne watter seisoen bevind jy jouself tans in jou lewe? Wat is die dinge waarvan jy gestroop moet word? Op watter manier kan jy ook ’n pad vir God in die wildernis van jou eie lewe gereed maak? Watter klippe moet uit die pad gerol word? Wat staan in die pad? Wat staan tussen jou en God? Wat staan tussen jou en ander mense? Wat staan tussen jou en ’n vol lewe? Wat wil jy bely en oorgee?

Gebed:

Here, dankie dat U my ken en raaksien sien. Help my om my lewe oor te gee aan U. Amen.

 

 

1 39 40 41 128