GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 23 Maart 2023

Johannes 10:11 “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”

Refleksie

Ek wonder of ons werklik ooit reflekteer oor hoe skokkend hierdie stelling van Jesus is. Geen herder sou sy lewe vir sy skape aflê nie. Wanneer dit om oorlewing gaan, sal enige een van ons eerder die lewe van ’n skaap of skape vir ons eie ruil.

Jesus is die goeie herder wat sy lewe neerlê vir sy skape, om dit weer op te neem. Hy ken sy skape en sy skape ken sy stem.

’n Paar verse later is dit duidelik dat die Jode besef het hoe skokkend Jesus se woorde is. In vers 20 staan daar: “Baie van hulle het gesê: “Hy is van die duiwel besete, hy is mal! Hoekom luister julle nog na hom?””

Ek wonder of ons aldag besef wat ons sê wanneer ons sê dat God in Jesus Christus aan die kruis vir elkeen van ons gesterf het. Soos wat ons in hierdie lydenstyd nader stap aan die kruis, mag hierdie versie ons uitnooi om te besef net wat God bereid is om prys te gee vir sy skape. Mag dit ons aanspoor om vir Jesus te volg en in ons lewens na sy stem te luister.

Gebed

Here, u is die Herder wat ons met ons lewens kan vertrou. Ons dwaal so maklik af en probeer ons eie pad vind. Dankie, Here, dat U ons elke keer kom haal en vir ons so lief is dat U selfs u lewe sal prys gee vir ons. Mag ons leer om al hoe meer na u stem te luister, sodat ons U getrou mag volg.

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 22 Maart 2023

Johannes 10:7;10. Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape.”

Refleksie

Wat beteken dit dat Jesus homself as ’n ingang beskryf? Die interessante eienskap van ’n ingang, is dat dit ’n voorwerp is wat tussen twee verskillende realiteite staan. ’n Ingang is nóg hier, nóg daar, maar tussen hier en daar. Die term om hierdie verskynsel te beskryf, is liminaliteit. Hierdie term is afkomstig van die Latynse woord vir drumpel, of oorgang.

Jesus beskryf Homself dus hier as die oorgang tussen twee wêrelde. Hy staan nie in een of die ander nie, maar tussenin, om dit moontlik te maak vir ander om toegang te kry tot ’n nuwe omgewing of realiteit. Jesus is die deur tussen Hemel en Aarde, beide God en mens, wat dit moontlik maak vir ons om toegang te kry tot die koninkryk van God.

In hierdie beeld is daar soveel diepte dat ons boeke daaroor sou kon skryf en nie die volle omvang daarvan kan beskryf nie. Dalk moet ons ook nie probeer nie, maar eerder ’n tuiste vind in die misterie dat Jesus vir ons ’n ingang is deur wie ons toegang kry tot ’n nuwe wêreld en deur wie die koninkryk aarde toe kan kom.

Dalk nooi dit ons ook uit om te reflekteer oor die feit dat ons uitgenooi word om “in die wêreld, maar nie van die wêreld nie” te wees, dat ons onsself nie moet verwyder uit die wêreld uit nie, maar eerder ’n ingang tussen twee wêrelde moet wees, waardeur ander toegang kry tot die ware lewe.

Gebed

Here God, ons is oneindig dankbaar dat U mens geword het in Jesus Christus, sodat ons toegang tot die lewe kan hê. Mag U ons ook gebruik as ’n ingang waardeur ander mense toegang kry tot die lewe.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 21 Maart 2023

Joh. 8:12. Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Refleksie

Hier gebruik Jesus nog ’n metafoor van iets wat ons daagliks beleef – lig. Ons lewe in ’n wêreld waar ons op ’n kunsmatige manier die wêreld rondom ons verlig. In Suid-Afrika is ons diep bewus daarvan hoe moeilik dit is om in die donker rond te tas wanneer beurtkrag ons vermoë om die donker te verlig van ons af weg neem. Die heel eerste woorde wat God in die Bybel spreek is: Laat daar lig wees.

Jesus beskryf Homself hier spesifiek as die Lig wat lewe gee. Lig help ons nie net om te sien nie, maar verskaf lewe aan alles op aarde. Sonlig is nodig vir alle lewe op aarde.

Op watter manier bring lig vir jou lewe? Op ’n praktiese wyse, maar ook op ’n dieper wyse?

Lig is ook ontblotend. Dinge wat weggesteek word, word aan die lig bloot gelê. Dit is soms ’n moeilike en pynvolle ervaring wanneer die lig op iets val wat weggesteek is. Waar is daar donkerte in jou lewe, wat die lig van Christus nodig het?

Jesus sê, wanneer ons Hom volg, sal ons die lig hê wat lewe gee. Beteken dit dat Jesus se lig vir ons lewe gee? Of dat Jesus vir ons sy lig gee, om vir ander mense lig en lewe te bring? Miskien is Jesus juis dubbelsinnig, om ons uit te nooi om by Hom lewe te kry, maar ook om ons uit te nooi om ’n bron van lig en lewe vir ander te wees.

Gebed

Here, bring lig in my lewe. In elke donker wegkruipplek. In die kamers van my lewe wat ek te bang is om in te gaan, omdat die donkerte daar tuis is. Gee vir my die lig wat lewe gee, sodat ek kan groei om meer soos Christus te wees. Help my om ’n lig te wees vir ander en lewe te bring in die donkerte van die wêreld.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 20 Maart 2023

Dit is die vierde week in lydenstyd. Hierdie week staan ons stil by die sewe “Ek is” uitsprake van Jesus in die evangelie van Johannes. Jesus gebruik verskillende metafore wat ons uitnooi om te reflekteer oor wie Hy is. Die eerste een vind ons in Johannes 6:35

Johannes 6:35. Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

Refleksie

Brood is al vir duisende jare deel van die storie van die mensdom. In die Bybel word brood meer as 400 keer genoem. Vandag nog is brood ’n basiese stapelvoedsel vir die wêreld en amper ’n sinoniem vir oorlewing. Dit is ook ’n kunsvorm, met honderde verskillende tipes brood wat regoor die wêreld gebak word, waarop elke bakker ’n unieke stempel afdruk. Verder het brood diep simboliese waarde. In die Bybel is brood op verskillende plekke ’n simbool van onder andere gasvryheid, voorsiening, bevryding, opoffering, lewe en selfs ’n simbool vir die twaalf stamme van Israel. In die Christelike tradisie word brood ’n sakrament waarin Jesus self teenwoordig is.

Die storie van brood is verweef met die storie van die mensdom. Dit is daarom, dink ek, nie ’n verrassing dat Jesus juis brood kies as ’n metafoor vir Homself nie. Ons sal ’n fout maak om hierdie stelling van Jesus te reduseer na net een enkele betekenis, eerder as om raak te sien dat Jesus ’n klomp verskillende emosies, fisiese behoeftes, stories en simbole vervleg wanneer Hy Homself beskryf as die brood wat lewe gee.

Daarom wil ek ons vandag uitnooi om te reflekteer oor brood. Hoe is Jesus soos brood? Wat bedoel Jesus wanneer Hy sê Hy is brood wat lewe gee? Gaan dit slegs oor oorlewing, of is die lewe wat Jesus in gedagte het iets meer as dit? Wat bedoel Jesus met honger en dors? Is dit net fisies, of praat Jesus van ’n dieper honger en dors? Wat bedoel Jesus wanneer Hy sê dat ons nooit weer honger of dors sal wees wanneer ons na Hom gaan nie? Beteken dit dat ons slegs een keer van die brood van Jesus hoef te eet, of beteken dit dat Jesus ’n bron van lewe is wat nooit uitgeput raak nie, waarna ons weer en weer en weer moet en kan terugkeer om vir ons ware lewe te gee.

Ek nooi jou uit om vandag ’n pad saam met hierdie metafoor te stap.

Gebed

Here, mag U ons voed met die brood wat lewe gee. Mag U ons honger en dors les.

Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 18 Maart 2023

1 Petrus 5:6. Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.  

Vandag se teksgedeelte moedig ons aan om ’n sekere lewensritme deel van ons daaglikse roetine te maak. Uit vorige geslagte kom die benaming, stiltetyd. Dat jy iewers in die dag ’n tyd afstaan om op die Here te fokus. Ons teksgedeelte beskryf in kort die kern daarvan. Breek iewers in jou dag weg van die roetines van werk, of mense en rig jou gedagtes op die groter realiteit van God om jou. Daarvoor maak ons gereeld ons oë in gebed toe, sodat die dinge van die lewe op die agtergrond skuif en die realiteit van God se almag jou wese kan deurspoel en jou die vrede kan gee om geduldig op uitkoms te wag. Wat is die bekommernisse wat jy in hierdie oomblik en vandag in jou dra wat na vore kom as jy jou oë sluit en na binne kyk. Ervaar vandag in hierdie oomblik die vrede dat Hy vir jou uitkoms sal bring op die bestemde tyd. Dit beteken dat wanneer jy weer jou oë oopmaak om met die dag se roetine voort te gaan die kommer nie meer jou lewe sal oorheers nie, omdat God in tussentyd oor jou hart en gedagtes wag hou.

 

Gebed

Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek spreek, en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar.

Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Kom bring na My jou kommer en vrees.
Ek sal vir jou ‘n toevlug wees.

Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is in hierdie sttiltetydd by jou soos Ek beloof.

Gedagte vir die dag | Vrydag 17 Maart 2023

Jesaja 43:25.En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie  meer aan jou sonde nie.

Wanneer ons gereeld die nagmaal vier, word die brood en wyn as simbool gebruik om ons te herinner dat God ons sondes vergewe en wanneer ons die doop vier word ons weer daaraan herinner dat God se genade en vergifnis altyd groter is as ons oortredings. Ten spyte van hierdie beloftes word ons gedurig uitgedaag deur die kompleksiteite binne onsself wat dikwels in ’n opstandigheid geopenbaar word. In ons teksgedeelte het hierdie opstandigheid voorgekom as gevolg van mense se gebrek om gesonde ritmes in hulle lewens te vestig en dit het uiteindelik ’n gevaarlike en afbrekende leefstyl tot gevolg gehad. In kort besef ons dat dit nie maklik is om in die realiteit hiervan gemotiveerd te leef om die opstandigheid in ons aan te pas nie. Die teks beskryf vir ons dat God uiteindelik deur ons opstandigheid breek sodat Hy nuwe bande met die skepping en mense bou. Wat is die opstandigheid wat in jou leef wat jy vandag voor die Here wil bring? Laat toe dat die woorde: “Ek dink nie meer aan jou sonde nie” in jou resoneer en die dag wat vir jou voorlê op die wyse verander.

Gebed

Here, daar is altyd dinge wat in my opbou en my opstandig maak. Dit gebeur so maklik dat opstandigheid deel raak van my gewone ritme. Dit lê verskuil agter ‘n geïrriteerdheid of ongeduldigheid. Ons is kortaf met mense en nie bereid om iets ekstra te doen om die probleem wat op die tafel is op te los nie. Dankie dat U my vanoggend weer op die plek van herstel kan uitbring as ek die woorde hoor: “Ek dink nie meer aan jou sonde nie”. Laat U vergifnis vandag deur elke deel van my liggaam vloei en hierdie wêreld waarin ek leef ‘n beter plek maak.

Amen.

Gedagte vir die dag | Donderdag 16 Maart 2023

Romeine 12:12. Moenie in julle toewyding verslap nie. Bly altyd geesdriftig. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. 

 Dit is deesdae baie moeilik om in die midde van uitdagende vooruitsigte soos beurtkrag en die land se ander realiteite geesdriftig te bly. Ons is miskien driftig, maar in ’n ander gees as waaroor die teksgedeelte praat. Die kapasiteit van ons emosionele energie het ‘n groot invloed op die sukses wat ons in ’n dag behaal. As jou emosionele tenk vol is kry ‘n mens dit reg om nie net die dag baie gedoen te kry nie, maar ook om uitdagings mooi en reg te hanteer. ’n Gebrek aan emosionele energie het die teenoorgestelde effek. Wanneer Paulus ons aanmoedig om geesdriftig te wees, praat hy egter oor ’n ander tipe energie wat ons lewens deurdring en wat elke dag tot ons beskikking is. Hy moedig ons aan om die drif wat die Heilige Gees bring in ons lewens te laat werk. Wanneer jy dus in die oggend opstaan en voel dat die dag soos ’n berg voor jou lê en jy nie die energie het om dit aan te pak nie, kan jy die dag met die volgende gebed begin . . .

 Gebed

Here, dit gebeur dikwels dat ek die dag met min energie ingaan. Dat die irritasie, moegheid en intensiteit van dinge wat my gister of deur die week uitgeput het nog steeds in my leef. Bewaar my van ’n self gerigtheid wat net altyd aan my eie behoeftes dink. Bring in my die perspektief dat u gees my vandag in staat stel om nederig, vriendelik, goedhartig, selfbeheers, geduldig en getrou te kan wees. Dankie dat u liefde in hierdie dag my in staat stel om vrug te dra te midde van my eie onvermoë.

Amen.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 14 Maart 2023

Klaagliedere 3:25. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na Sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here. 

Die moderne tegnologie van die internet bederf ons. Sonder om in ’n ry te staan kan jy rekeninge betaal en bestellings plaas wat by jou huis afgelewer word. Deur ’n eenvoudige woord op die Google soekenjin in te tik kan jy binne oomblikke waardevolle informasie of raad kry. Hierdie leefwyse pas my goed, want ek is self baie ongeduldig en soek altyd maniere om die lang wag te omseil en om dinge vinniger gedoen te kry.

Geloof werk anders. Dit is nie soos Google wat ons vinnige en maklike antwoorde gee nie. Dit is nie ’n kortpad wat ons sonder moeite vinniger by bestemmings uitbring nie. Geloof leer ons geduld soos die mense vir wie daar in Klaagliedere geskryf is toe hulle deur omstandighede in rou gedompel was en die enigste woorde op hulle lippe, klaagliedere was. In plaas daarvan om langs die riviere van Babel klaagliedere te bly sing, het geduld hulle daarby uitgebring om rou in nuwe geleenthede te omskep en ’n nuwe toekoms te bou (lees Jeremia 29:5-7). Hulle het tuine aangelê, huise gebou en kinders grootgemaak en die belange van die stad bevorder. Moenie toelaat dat jou perspektief op die hede jou roof van die geduld en geloof waaroor die teksgedeelte met ons oor praat nie.

Gebed

Here, ek is moeg. Laat my rus vind in U; eerder as in gesondheid of skoonheid, eer of status; mag of waardigheid, kennis of vernuf. Skenk my die genade om in U te rus bo alle aardse rykdom en kunste, roem en lof, vreugde en bevrediging, bo alle wêreldse hoop en beloftes, begeertes en verdienste. Bo alles wat U my kan gee begeer ek Uself die meeste van alles. God, Skepper van alle dinge, in U alleen vind my hart sy diepste rus. Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 15 Maart 2023

Matteus 6:21. Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart wees.

Hierdie gedeelte staan as voorloop tot die teks waarin Jesus tydens die bergprediking met mense oor aardse besittings en bekommernis gepraat het. Die punt wat Jesus uitlig is hoeveel tyd, aandag en middele gespandeer word aan dinge wat nie net tydelike waarde het nie, maar tot spanning en bekommernis kan bydra. Dit is ‘n voorreg en seën om hard te kan werk en daardeur iets in die lewe te kan bereik, of iets so op te bou, maar dit gebeur maklik dat hierdie realiteit ons gedagtes en gedrag oorheers. Hoe sou ‘n mens ‘n goeie balans in die lewe kon kry? ‘n Mens sou lank kon praat om eerder die fokus op allerhande geestelike kwaliteite te plaas, maar dit staan nie los van daaglikse roetines in die lewe nie. Prediker bring alles mooi bymekaar as hy ons aanmoedig om elke geleentheid van jou lewe te sien as ‘n gawe en skat en die beste daarvan gebruik te maak (Carpe diem, gryp die dag!). Hoe praat die Here vandag met jou oor oor hierdie balans in jou lewe? Mag jy ervaar hoe die Here jou hierdeur inspireer om vandag aan te gryp en te onderskei tussen die dinge wat werklik van onskatbare waarde is.

Gebed

Here, daar is elke dag soveel belangrike dinge wat my aandag verg. Help ons met die insig om te kan onderskei tussen die wesenlike en nie-wesenlike. Help my met die insig dat die hemelse skatte nie beteken dat ek my van my aardse realiteit onttrek om veilig in ‘n alternatiewe realiteit te lewe nie, maar dat U ons roep om in alledaagse realiteite ‘n verskil te maak. Gee ons vandag vir hierdie taak die krag en entoesiasme om in skynbare gewone omstandighede besondere insette te lewer en werk gedoen te kry. Help ons met ’n fyn aanvoeling vir wanneer genoeg genoeg is en om dinge bo ons vermoë aan U oor te gee. Dankie dat U vandag hierdie pad met my stap wanneer ek werk, ontspan, bid en saam met ander in die kerk bymekaarkom.

Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 13 Maart 2023

Hierdie week se dagstukkies hou almal verband met die Lydenstyd waarin ons ons tans bevind. In hierdie tyd dink ons terug aan Jesus se lewe, lyding en sterwe, maar beleef hoe dit met realiteite in ons eie lewens resoneer.

 Prediker 3:20. Almal is op pad na dieselfde plek toe, almal is van stof en almal word weer stof.

In die ou dae toe die meeste mense nog begrawe is, was die woorde van dié teks deel van die verrigtinge by die graf. In sommige gevalle het die familie dan self as simbool van hierdie realiteit ’n hand vol grond op die kis uitgestrooi. Dit herinner ‘n mens aan die bekende gedig van Ingrid Jonker, korreltjie sand (gaan lees dit weer). Alhoewel die gedagte ’n mens baie depressief kan laat, was dit nie die bedoeling van die Prediker nie. Hy wou ons eerder bewus maak dat ons baie meer is as dit wat ons op aarde bymekaar kan maak, of in die lewe kan vermag. In lewe en sterwe behoort ons aan God – en dit maak elke oomblik van die dag vir ons betekenisvol. In sy boek, Die groot gedagte, herinner Gideon Joubert ons dat ons inderdaad uit stof gebore is en met ons sterwe weer na stof terugkeer, maar ook dat hierdie stof bestaan uit die elemente waaruit sterre in die hemel saamgestel is. Mag hierdie groot gedagte jou inspireer en motiveer om elke dag in hierdie verwondering te leef.

Gebed

O God van wonders, ek hef my hande op na U in woordelose verwondering!
U wat die hemelliggame in hulle bane hou, en sterstof oor die hemelruim uitstrooi;
U wat na die reën die reënboog verf, en blitse op die aarde laat dans;
U wat die wolke skud totdat hulle lek, en doudruppels in grasspriete laat glinster;
U wat donderweer teen die rotse laat vasslaan, en sonstrale deur die mis laat breek;
U wat bloeisels op geheime plekke laat knop, en die seisoene op hul tyd nader wink’
U wat tyd hou van die ure van die dag en nag en die ligblou eiertjies in ‘n voëlnessie tel’
U wat die golwe van die oseane oor strande
van die wêreld laat stroom,
Wat die jare aftel tot in ewigheid, wonderbaar is U Naam!!
O God van wonders, open my oë om elke dag,
En oral, die bakens van U Lig raak te sien.
Raak my aan, omskep ook my stukkie stof in ‘n wêreld van wonder. Amen

1 38 39 40 128