Gedagte vir die dag | Dinsdag 4 April 2023
Vandag is Dinsdag 4 April en welkom by hierdie week se oordenkings waar ons tydens hierdie Heilige Week opreis is na die kruis en opstanding van Jesus, ons Verlosser. Ons kyk hierdie week elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.
Kruiswoord 2: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”.
Lukas:23:39-43. Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Wat sê die bogenoemde gedeelte van God? Wat hoor jy oor jouself?
Hierdie misdadiger vra vir Jesus in sy oomblik van pyn: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Dink net aan my – niks meer nie. Maar in die proses kry hy baie meer as wat hy ooit kon droom. Hierdie belofte geld ook vir jou.
Gebed: Here, dankie dat U meer doen as net om aan ons te dink.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 3 April 2023
Vandag is Maandag 3 April en welkom by hierdie week se oordenkings waar ons tydens hierdie Heilige Week opreis is na die kruis en opstanding van Jesus ons Verlosser. Ons kyk hierdie week elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.
Kruiswoord 1: “Vader, vergeef hulle…”
Lukas 23:23-25, 33-34
Hulle het egter met ’n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry. Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Wat sê die bogenoemde gedeelte van God? Wat hoor jy oor jouself?
Soms is dit moeilik om te vergewe omdat ons dink ons sê daarmee: “Toemaar, dit was nie so erg nie.” Maar vergifnis is iets anders. Dit sê: “Dit was en is steeds erg. Maar ten spyte daarvan kan ek laat gaan en spreek ek jou vry”. Jy sien jy is vergewe om ander te vergewe. Wat ’n wonderlike geskenk van God aan jou.
Gebed: Spreek Heer, spreek Heer. U kinders wil na U luister.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 1 April 2023
Esegiël 36:26. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. 27Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.
Dit is moontlik om in Lydingstyd bewus te word van die hardheid van ons harte. Ons verharde harte staan dikwels in die pad van ons groei. Ons harte is dikwels verhard as gevolg van omstandighede en keuses. Die profeet Esegiël het iets hiervan verstaan. Die laaste hoofstukke van die boek van Esegiël handel oor God as bron van lewe en hoop wat Homself bekendmaak as die Een wat ook nuwe lewe in die moedelose Israel tydens hulle ballingskap kan blaas.
Hy skryf dan hierdie gedeelte oor hoe God ook ons harte kan verander. Soms maak ons ons harte hard bloot om te kan oorleef en ander kere omdat ons nie lus is om emosioneel by ander betrokke te raak nie. Soms pla die klipharte ons en soms glad nie.
Miskien is daar tog oomblikke wat ons die belofte van ’n vleishart soos Esegiël skryf wil aangryp en God deur sy Gees vra om ons klipharte uit te kap; oomblikke van verlange na ’n sagte hart omdat ons ervaar dat God ’n sagte hart vir ons het.
Gedagte vir die dag | Vrydag 31 Maart 2023
Johannes 12:24. Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. 25Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.
Ek lees graag ‘n gedig van NP van Wyk Louw in refleksie op hierdie gedeelte:
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
Gedagte vir die dag | Donderdag 30 Maart 2023
2 Korintiers 1: 3-4. Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig
Ek wil graag vir ons ’n gebed lees in refleksie op die teksgedeelte:
Soos die lig vandag weer oor ons opgekom het,
So het u liefde ons opnuut opgeroep
Om u Woord op aarde te beliggaam,
Om u heil met brood en wyn te vier
En dit aan ander uit te deel,
Om bly te wees met die wat bly is,
Om te treur saam met die wat treur,
Om te help waar daar geen helper is nie.
Skryf U self die taak op ons harte.
Gee dat ons u stem nie verlore sal laat raak in die gewoel van ons daaglikse lewe nie.
Maak ons wat ons veronderstel is om te wees:
Vry, om te bevry,
Getroos, om te troos,
Geliefd, om lief te hê.
U het ons aan mekaar gegee,
Tot u diens geroep om herders te wees,
Met al ons geloof en ons twyfel
Met al ons gawes en gebreke,
Maar aangeraak deur u Gees.
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 29 Maart 2023
Handelinge 17:24-28. God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.
Ek wil graag na aanleiding van hierdie teksgedeelte, ’n gebed van Ferdinand Deist lees.
Skepper van die hemel en aarde, ek wil U ken.
Ek wil meer van U weet, meer van U verstaan, meer van U in my lewe wys.
Waar kan ek U vind?
U voel dikwels so verskriklik ver, so onbereikbaar, so ontoeganklik.
Tog vertel hulle my dat U lank gelede in hierdie maand so naby aan ons gekom het in u Seun, dat party mense Hom gevolg en ander Hom doodgemaak het.
Hulle vertel my dat Hy uit die dood opgestaan het en dat U deur Hom naby aan my is.
God, ek roep na U, ek soek na U.
Help my om naby aan U te kom.
Wys my waar ek verkeerd soek, verkeerd bereken.
Ek bid dat U naby aan my sal kom.
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 28 Maart 2023
Lydingstyd is ’n seisoen in die kerkjaar waar gelowiges die lewe, die dood en die opstanding van Jesus gedenk. Dis ook ’n tyd waar ons nadink oor ons eie lewe en selfs by tye ons eie dood. Ons word uitgenooi om te reflekteer oor dit wat vir ons betekenis gee, en wat die lewe mooi maak. Ons dink ook oor die goed in ons lewe wat ons dalk wil verander, gewoontes wat ons miskien wil afleer sodat ons nuwe disiplines kan aanleer.
Lydingstyd is ’n tyd waar ons nadink oor dit wat lewe steel, en dit wat lewe bring. Dis met ander woorde ook ’n onderskeidingstyd waar ons onsself oopmaak en fyner luister na waarheen God ons roep.
Ek wil graag ’n Lydingstydgebed lees van die Ierse digter Padriag o Tuama wat iets hiervan vertel. Jy is welkom om dalk jou oë toe te maak en hierdie woorde saam met jou deur die dag te neem:
God of all time,We ask, we weep, we wait, we die, we hope, we live, we carry on, we pick ourselves up, we try to understand, we misunderstand, we learn, we ask again, we wait for understanding.
In all of these, may prayer be a companion, not a torment.
May we find in prayer the consolation that sustains us through all things,
Knowing that some things change,
and some things remain the same.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 27 Maart 2023
Ek lees graag vandag ’n Paasgedig deur Dirkie Smit
In hierdie dae verwonder ons ons oor die mens,
Jesus van Nasaret,
Seun van die Mens,
Seun van God.
Ons verwonder ons oor die mens wat ons self is,
Jesus van Nasaret.
Wat is ons tog,
Dat U aan ons dink,
Wat is ons dat U U oor ons ontferm?
Dat U aan ons soveel heerlikheid gee, soveel goedheid, soveel eer,
Soveel grootsheid, soveel glans?
Ons verwonder ons oor die mens wat U is, Jesus, Seun van die mens.
Wie is U tog,
Wat kinders na U toe trek en hulle seen,
Wat siekes ophef en herstel,
Wat die bose weerstaan,
Wat eenvoudiges uitnooi tot gemeenskap met U?
Ons verwonder osn oor u passie vir ons, Jesus,
Seun van God –
Oor u liefde tot die einde toe,
Oor u leiding, u kruis, u sterwe-
Alles vir ons,
Alles uit liefde vir ons?
In hierdie dae verwonder ons ons oor onsself,
Jesus van Nasaret,
En oor U.
Ons aanskou onsself in U,
In U lewe, in U lyding, in U liefde
En ons verwonder ons.
Wat wat is die mens tog, Here?
Gedagte vir die dag | Saterdag 25 Maart 2023
Joh. 15:1 “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.
Refleksie
Hierdie is die laaste metafoor wat Jesus vir Homself gebruik in die evangelie van Johannes. Dit is dalk gepas dat Jesus begin met brood en afsluit met ’n wingerd, amper asof die nagmaal al die ander stellings wat Jesus maak omarm.
Hierdie beeld is weereens een wat ons uitnooi om te reflekteer oor wie Jesus is en wat vir Hom belangrik is. Jesus beskryf sy dissipels kort hierna as die lote wat aan die wingerd verbind is, wat vrug dra omdat die Vader hulle reg snoei.
Richard Rohr het opgemerk dat dit vir hom lyk asof dit nie vir Jesus so belangrik is dat almal die regte kennis oor Jesus het nie, maar eerder dat ons verbind moet bly aan hom en dat ons verbintenis met hom ons aan mekaar verbind.
Ek wonder of ons onsself van mekaar kan afsny sonder om onsself ook van die bron van lewe af te sny? Ek wonder of die kerk soms, in die soeke om reg te wees en onsself te onderskei van dié wat verkeerd is, onsself ook verwyder van die ware wingerdstok. ’n Loot kan nie vrug dra sonder om aan die wingerdstok verbind te wees nie.
Reflekteer vandag oor wat dit vir jou beteken om aan Jesus verbind te wees. Reflekteer oor wat dit beteken dat ander gelowiges ook verbind is aan Jesus. Hoe kan ons as gelowiges dit sigbaar maak dat ons almal verbind is aan die ware wingerdstok en aan mekaar?
Gebed
Here, ons fokus so dikwels op die verskille tussen mekaar. Ons dink soms dat ons die wingerdstok is en vergeet dat ons die lote is wat aan u verbind is. Help ons almal om aan U verbind te bly, sodat ons die vrug van die koninkryk kan dra.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 24 Maart 2023
Vandag kyk ons na twee van Jesus se uitsprake in Johannes 11 en 14.
Johannes 11:25. Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;
Johannes 14:6. Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.
Refleksie
Teen hierdie tyd in Johannes word dit duidelik dat Jesus gekom het om vir ons toegang tot die lewe te gee. Elkeen van die vorige “Ek is” uitsprake het op een of ander wyse te make met Jesus wat die bron van lewe of die ingang tot die lewe is. In hierdie twee uitsprake stel Jesus dit nog meer eksplisiet.
In die eerste een verwys Jesus na homself as die opstanding en die lewe. Die woord opstanding is ’n woord wat hoop bring, dat die dood nie die laaste sê het nie, maar dat Jesus opstanding moontlik maak. Maar dit veronderstel ook dat die pad na die lewe ’n pad is waarvan die dood deel is.
In die tweede stelling verwys Jesus na homself as die weg, die waarheid en die lewe. Kort na hierdie uitspraak begin dit duidelik word dat die weg waarna Jesus verwys, die weg van die kruis is. Wanneer ons Jesus volg, is dit die weg waarop ons ook moet stap.
Mag ons daaraan vashou dat Jesus vir ons die weg wys, dat Hy die opstanding en die lewe is selfs wanneer lewe vir ons onmoontlik lyk of voel.
Gebed
Here, dit is vir ons ongemaklik en moeilik om die realiteit van die dood in ons lewens te erken. Daar is so baie dinge wat dood bring, wat ons nie altyd verstaan nie. Dankie dat U vir ons opstanding moontlik maak, selfs wanneer dit vir ons onmoontlik lyk. Help ons om ook die hoop van die opstanding te bring in die wêreld waar lewe soms onmoontlik lyk.
Amen