GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Saterdag 15 April 2023

Jesaja 43:2-3. “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,die vlamme sal jou nie brand nie, 3want Ek is die Here jou God.”

GEDAGTE

Dit is vir baie van ons seker een van die mooiste gedeeltes in die Bybel.  Maar luister daarna ook uit die hoek van ’n volk wat in ballingskap sit en dié bemoedigende woorde van God hoor.  God kies hulle uit om aan hulle liefde te bewys en hulle in ’n tweede eksodus bymekaar te maak waar hulle van alle windstreke weer terug na die Beloofde Land sal keer.  Midde hierdie moeilike omstandighede kom die Here se trooswoord na sy volk.

Die Bybel beloof ook nie aan God se kinders ’n spanninglose en probleemlose lewe nie. Dit is nou ongelukkig so dat ons soms deur spanningsvolle en moeilike tye sal gaan. Maar die troos van vandag se teks is dat God by my sal wees as ek deur vuur, of verdrukking moet stap. Hy sal jou beskerm . Ons sal dus uitdagings beleef terwyl ons hier op aarde is, maar wanneer dit gebeur het jy die versekering dat God jou nooit alleen sal laat nie. As God by jou is, kan jy maar jou lewensreis aanpak.

GEBED

Ek is veilig, veilig by die Here.

Ek is veilig, veilig in die Here.

As ek bang is in gevaar

weet ek God is altyd daar.

Ek is veilig, veilig in die Heer.

 

Dagstuk | Vrydag 14 April 2023

 

Romeine 6:15. Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie.”

GEDAGTE

Philip Yancey vertel in een van sy boeke van sy vriend wat by hom gebieg het dat hy van sy vrou gaan skei omdat hy beplan om met ’n mooier en jonger vrou te trou. Hy het goed geweet dat dit verkeerd is en dat dit permanente skade aan die lewens van sy vrou en kinders sou veroorsaak. Die vriend wou by Yancey weet of hy dink God hom daarvoor sal vergewe. Yancey het lank daaroor gedink en sy vriend geantwoord: “God sal jou vergewe, maar alle sonde wat ons doen verwyder ons al verder van God. Ons verander wanneer ons teen God sondig.”

’n Paar maande na hierdie gesprek het Yancey se vriend toe wel van sy vrou geskei en met die ander vrou getrou. Hy het toe ook vertel dat God nie meer deel van sy lewe is nie.

Indien ons beplan om sonde te doen met die wete dat God dit sal vergewe, beweeg ons op ’n gevaarlike terrein. Dit is verkeerd om God se genade goedkoop te maak en om opsetlik te sondig omrede ons weet God sal altyd vergewe. Sonde vorm ’n muur tussen ons en God. Daarom moet jy vandag omdraai.

GEBED

Hemelse God en Vader vergewe asseblief al my sonde en help my om nie opsetlik teen U te sondig nie.

Amen

Dagstuk | Donderdag 13 April 2023

Lukas 6:31. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

 GEDAGTE

Hierdie vers word die goue reël genoem. Dit neem in ’n neutedop saam hoe ons liefde teenoor ander moet uitleef en vir hulle moet goed wees.

As jy wil hê ander moet jou met vriendelikheid behandel, wees dan vriendelik teenoor andere. As jy wil hê mense moet geduldig met jou wees, wees dan geduldig met hulle.

Hoe jy ookal wil hê andere moet jou behandel, behandel diegene wat jou pad kruis op daardie manier.

Ons behoort genade aan alle mense te bewys of ons van hulle hou, of nie. Of hulle soos ons dink, of nie. Of hulle ons te na gekom het, of nie. Of ons nou daarvoor lus is, of nie. Jesus vra dit van ons. In die uitdeel van genade mag ons nooit suinig wees teenoor ander nie.

Hoe genadig is jy teenoor die wat jou kwaad maak. Hoe genadig is jy teenoor hulle wat ons land se belastinggeld so mors. Ja, die Here vra van ons om ander te behandel soos wat ons self behandel wil word. Hierdie is ’n baie moeilike opdrag wat ons net met die Here se genade sal kan doen

GEBED

Hemelse God en Vader help my asseblief om goed te doen aan ander. Ook aan hulle wat dit vir my moeilik maak. Amen

 

Dagstuk | Woensdag 12 April 2023

1 Johannes 4:16. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Philip Yancey het ’n boek geskryf: What is so Amazing about Grace? In die boek skryf hy dat dit vir hom nogal ’n uitdaging was om ’n definisie vir genade te skryf. Hy het besef dat genade en liefde eintlik baie naby aan mekaar is. Daarom skryf hy die volgende: “Grace means that there is nothing we can do to make God love us more.  And grace means there is nothing we can do to make God love us less.“ Dit is wat genade in ’n neutedop beteken. God se liefde is alles omvattend. Ons het weer hierdie naweek met die viering van Paasfees besef hoe omvangryk hierdie liefde is.

God se liefde het vier dimensies. Daar is ’n breedte (die 1983-vertaling praat van wyd), ’n lengte, ’n hoogte en ‘n diepte.

God se liefde is breed of wyd genoeg dat dit rondom die aarde kan strek en elke mens kan bereik..

Sy liefde is lank genoeg dat dit nooit ophou nie. Dit is vir altyd, van ewigheid tot ewigheid.

God se liefde is hoog genoeg dat dit jou bereik waar jy ookal is en jou daarin toevou. Dis ook hoog genoeg dat dit elke sonde wat jy doen onder die bloed van Jesus plaas sodat jy vergifnis kan ontvang.

Dan is daar die diepte van God se liefde. Dit verwys na die intensiteit en intimiteit van sy liefde. God weet alles van jou af. Hy gee om wat alles met jou gebeur. Selfs die kleinste detail van jou lewe is vir Hom belangrik.

GEBED

Hemelse God en Vader, dankie dat U vir my lief is. Help my ook om hierdie liefde met ander te deel. Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 11 April 2023

Jesaja 40:1

1Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê.

GEDAGTE

Die meeste van ons worstel soms met pessimisme. Dan sien mens dinge in ‘n baie donker lig. Pessimisme kan met ons persoonlike omstandighede, ons omgewing, ons land of die wêreld te doen hê. Soms verval mens so diep in wanhoop, negatiewe gedagtes en suspisie dat jy nie meer in staat is om moed en hoop aan die dag te lê nie.

Daar is dikwels genoeg rede om swartgallig te raak. Dink aan die verwoestende oorlog in Oekraïne waar reeds meer as duisende mense hul lewens verloor het. Stede, menselewens en antieke geboue wat oor eeue storms en aanslae weerstaan het word nou plat gevee. Dan is daar is wrede terrorisme oor die wêreld heen asook mensehandel, kindermolestering, korrupsie en misdaad wat hoogty vier.

Ook die politieke spel in Suid-Afrika of die worsteling wat ons as Suid-Afrikaners het om mekaar te verstaan, te vertrou, ’n gedeelde perspektief op ons verlede te ontwikkel, rassisme van alle kante en oorde te oorkom, en te fokus op ’n gemeenskaplike toekoms in belang van ons kinders.

Waar lê die verskil tussen hoop en wanhoop? Vir Jesaja maak God die verskil. God is vir Jesaja nie koud, klinies en ver nie, maar vol liefde en ontferming. God is betrokke by die wêreld en tree aktief op.

Jesaja is oortuig dat God in beheer is van die groter wêreldgeskiedenis. Daarom begin hy die tweede hoofdeel van sy boek met die kragtige woorde van hoofstuk 40: “Troos, troos my volk….” Die troosboodskap kom aan die einde van ‘n woeste en traumatiese tyd in die volk se geskiedenis. Hulle is in ballingskap, ontwortel uit Jerusalem. Jesaja se boodskap is dat God se teenwoordigheid nou vir hulle bevryding en troos bring.

Die uitkoms vandag is vir ons ook bedoel. Dalk nie ‘n oplossing van al ons probleme nie, maar ‘n versekering van God se teenwoordigheid by ons.

GEBED

Hemelse God en Vader dankie dat ek kan weet dat U midde my uitdagings by my is. Gee my asseblief die moed en krag om aan te gaan.   Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 10 April 2023

Miga 7:18-19 Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. 19Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. 

GEDAGTE

Ons het so pas Paasnaweek gevier en ons het net weer onder die indruk van God se groot genade gekom. Dokter Murray Janson het ’n boek geskryf met die titel: God boer met genade. Dit is inderdaad so dat ons ’n genadige God aanbid. God se genade vir Sy kinders is eindeloos. Ons kan dit nooit op gebruik nie. Daar is altyd nog genade vir ons beskikbaar. Die Here sal ons weer en weer genade betoon. Die naweek het ons weer besef dat Hy ons sonde tot niet sal maak,. “Al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, sal Hy onder Sy voete vertrap” lees ons in Miga 7:19 in die Boodskap se vertaling.

God se genade is ook vir jou en vir my. Hy sluit ons in by Sy plan van genade. Al is jou sonde hoe groot. Sal die Here ’n streep daardeur trek. Jesus het daarvoor betaal en daarom sal God dit uitwis. Hy sal dit in die diepsee gooi sodat niemand weer daarvan sal weet nie. So lees ons in Jesaja 1:18 “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.“

 

GEBED

Hemelse God en Vader. Dankie dat Jesus vir al my sonde aan die kruis gesterf het. Dankie dat U my vergewe. Help my asseblief om heilig te lewe.

Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 8 April 2023

Vandag is Saterdag 8 April en welkom by hierdie week se oordenkings waar ons tydens hierdie Heilige week opreis is na die kruis en opstanding van Jesus ons Verlosser. Ons kyk hierdie week elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.

Kruiswoord 6 & 7: “Dit is volbring!” & “Vader, in u hande gee Ek my gees oor”

Lukas 23:44-49.  Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas. Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.” Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ‘n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.

As Jesus dan alles volbring het, wat moet ons doen? Ons moet juig! Want geloof is om te juig oor Jesus se kruiswoorde. Die boodskap van die kruis is wel onsin vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Jou lewe het sin, want dit is in God se hande. Jou lewe met sy mislukkings is in God se hande. Met hierdie kruiswoorde is ons vrygemaak! Die kruis met sy kruiswoorde laat ons elke dag voluit leef in oorwinning.

Gebed:

Here, ons kom gee opnuut ons lewens oor in U hande. Help ons om die pad van oorwinning saam met U te stap. Amen

 

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 7 April 2023

 

Vandag is Vrydag 7 April en welkom by hierdie week se oordenkings waar ons tydens hierdie Heilige week opreis is na die kruis en opstanding van Jesus ons Verlosser. Ons kyk hierdie week elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.

Kruiswoord 5: “Ek is dors”

Johannes 19:28-30. Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

Hierdie kruiswoord wil eerstens beklemtoon dat Jesus ’n mens net soos ons was. Daarom verstaan Hy ons deur en deur. Daarom dra Hy die spykermerke nou nog met Hom saam. Jesus moes sterf, ja, om elke minus in jou lewe in ’n plus te verander. Dit was ’n donker Vrydag vir Jesus, maar ’n goeie Vrydag vir ons. Met hierdie kruiswoord: “Ek is dors” wil Jesus ons ook aan ons geestelike dors herinner. Daarom het Hy op aarde gesê: “As iemand dors het, laat Hy na my toe kom en drink!”

Gebed:

Here, dankie dat ons van die lewende water kan drink. Amen.

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 6 April 2023

Vandag is Donderdag 6 April en welkom by hierdie week se oordenkings waar ons tydens hierdie Heilige week opreis is na die kruis en opstanding van Jesus ons Verlosser. Ons kyk hierdie week elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.

Kruiswoord 4: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Matteus 27:45-54. Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.” Een van hulle hardloop toe gou, vat ‘n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op ‘n stok vir Hom om te drink. Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.” Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het. Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

Toe Jesus aan die kruis die bogenoemde woorde van Psalm 22:2 aanhaal, was dit sy bedoeling en almal wat Hom gehoor het sou dit verstaan het. Hy het nie net na hierdie een vers verwys nie, maar na die hele Psalm. Die tweede gedeelte van die Psalm is ’n lofgedig oor God wat red. Jesus het dus in sy nood reeds geweet dat God Hom sou red. Dit is iets waaraan ons kan vashou in donker tye.

Gebed: Here, dankie dat U ons vashou en ons nooit verlaat nie. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 5 April 2023

https://youtu.be/vK7hlUxG-xw

Vandag is Woensdag 5 April en welkom by hierdie week se oordenkings waar ons tydens hierdie Heilige week opreis is na die kruis en opstanding van Jesus ons Verlosser. Ons kyk hierdie week elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.

Kruiswoord 3: “Daar is U seun… Daar is jou moeder…”.

Johannes 19:23-27. Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.” Dit is wat die soldate gedoen het. By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Wat sê die bogenoemde gedeelte van God? Wat hoor jy oor jouself?

Kan jy dink aan mense of groepe wat byna soos familie vir jou is? Wat waardeer jy die meeste van hierdie “familie”?

Ken jy dalk iemand wat eensaam is en wat jy deel van jou groep of “familie” kan maak?

Gebed: Here, dankie dat ons by U kan tuis kom. Dat ons aan U kan behoort. Dat U ons versorg en deel van U familie kan wees. Amen.

 

1 36 37 38 128