GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 27 April 2023

Habakuk 3:17-18. 17Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, 18nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.

Refleksie

Hierdie is een van die bekendste en mooiste gedeeltes in die Bybel. Dit is ook, glo ek, een van die moeilikste gedeeltes in die Bybel.

Habakuk erken die gebrokenheid van die wêreld. Alles lyk nie altyd net voorspoedig nie. Inteendeel, soms gebeur daar iets wat dit laat voel of ons hele wêreld inmekaar val, waar dit voel of daar geen meer hoop is nie.

Dit is maklik om verlore te raak in die hopeloosheid wat ons rondom ons sien. Ons lewe in ’n gebroke wêreld. Dit is die realiteit.

Maar vir Habakuk is dit nie die enigste realiteit nie. Daarom gee Habakuk vir ons ’n woordjie wat ons baie help. Nogtans. Die wêreld is ’n stukkende plek, maar nogtans. . . Die wêreld maak seer, maar nogtans. . . Ek het nie meer hoop in die toekoms nie, maar nogtans. . . Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.

Suid-Afrikaners hou van kla. Ek grap gereeld en sê dat kla die nasionale sport van Suid-Afrika is. Soms is ons reg om te kla oor die gebroke wêreld rondom ons. Maar vandag daag Habakuk my en jou uit om ’n woord by te voeg. Nogtans.

Gebed

Here, ons raak so maklik verlore in negatiwiteit. Ons wêreld voel soms hopeloos, asof al die bome opgedroog het en daar nie meer vir ons druiwe aan die wingerd is nie. Maar nogtans kan ons in U vertrou. Help ons om altyd, onder alle omstandighede, te juig in U.

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 26 April 2023

Miga 4:4. 4Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom. Die Here die Almagtige het dit gesê.

Refleksie

Miga nooi ons uit om te droom oor hoe die wêreld kan lyk, oor hoe ’n wêreld sal lyk waar elkeen genoeg het en waar mense nie in kompetisie met mekaar lewe nie. Die eerste drie hoofstukke van Miga begin met ’n aanklag teen die nasies, eintlik teen die mensdom, oor al die onreg en kwaad en geweld wat mense teen mekaar beplan, wat die wêreld besoedel. In Hoofstuk vier sien ons ’n draaipunt, ’n visie van wat God vir die wêreld droom. Daar sien ons dat mense nie meer geweld teenoor mekaar beplan nie, maar dat elkeen genoeg sal hê, dat elkeen ongesteurd onder sy eie wingerd of vyeboom sal sit, amper asof ons terug is in die tuin van Eden. Dit skep ook die beeld van ’n wêreld waarin elkeen tevrede is.

Ek nooi jou om vir ’n oomblik te reflekteer oor hierdie twee woorde. Tevrede en genoeg. Wanneer is jy tevrede? Wanneer het jy genoeg? As jy rondom jou kyk, dink jy ons lewe in ’n wêreld van tevrede en genoeg?

In vers 3 kry ons die visie dat swaarde en spiese verander word na ploeë en snoeiskêre – van iets wat lewe neem, na iets wat lewe help onderhou. Dit is duidelik dat hierdie visie van Miga nog nie ’n realiteit is nie. Ons sien daagliks jaloesie, onvergenoegdheid, oorloë en geweld. Maar Miga nooi ons uit om op ’n praktiese manier lewe te gee, eerder as om lewe te neem. ’n Organisasie in Amerika, RAW Tools, verander gewere in tuin toerusting in om iets van hierdie visie ’n realiteit te maak.

Hoe sal dit lyk as ons iets van hierdie visie in Suid-Afrika laat leef? As ons help om die praktyke wat lewe neem, wat ongelykheid en ontevredenheid skep, te verander in iets wat lewe gee, wat werk na ’n wêreld waar elkeen genoeg het.

Ek nooi jou vandag uit om saam met Miga onder die vyeboom te sit en te droom oor ’n wêreld waar elkeen genoeg het. Waar elkeen ’n vyeboom het om onder te sit.

Gebed

Here, ons sukkel met woorde soos tevrede en genoeg. Ons voel meer tuis met woorde soos meer of nog. Daarom kyk ons so graag na wat ander het en dink ons het nie genoeg nie, of dat ons gelukkig is om meer te hê as ander. Maar U, Here, droom van ’n wêreld waar elkeen genoeg het. Help ons om saam met U te droom en hierdie droom, ’n realiteit te maak.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 25 April 2023

Genesis 2:9. “Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.”

Refleksie

Die eerste verhaal in die Bybel is die verhaal van ’n boom, van mense en van ’n keuse. Die keuse om vir onsself te vat van iets wat mooi en lekker lyk, maar op die ou end verwoesting en dood in die wêreld inbring, of om vir God te vertrou om vir ons op die regte tyd te gee wat ons nodig het.

Waar het jy al beleef dat iets mooi lyk en beloftes van voorspoed maak, maar op die ou end verwoesting eerder as voorspoed bring?

Die waarde van hierdie verhaal, is nie dat dit eendag lank gelede gebeur het nie, maar dat dit gebeur het. Die keuse van Adam en Eva is ons elkeen se keuse. Verskillende verhale in die Bybel gryp terug na hierdie verhaal met soortgelyke keuses wat gemaak word. Dink aan die verhale soos Abraham wat moet kies of Hy sy eie pad gaan volg en of hy vir God gaan vertrou met die lewe van sy Seun. Of dink aan Jesus se versoeking in die woestyn. Ons word elke dag met soortgelyke keuses gekonfronteer van allerlei dinge wat vir ons lewe belowe, maar wat eintlik destruktief is. Ons word ook die keuse gegee of ons vir God gaan vertrou en die boom van die lewe kies. Spreuke 3:18 sê om met wysheid te lewe, is soos om die boom van die lewe te kies.

’n Boom van lewe is sy vir hulle wat haar aangryp, en hulle wat haar vashou, word elkeen gelukkig genoem.

(Afrikaans 2020 vertaling)

Hierdie keuse is nie altyd maklik, of voor die hand liggend nie. Jesus wys vir ons die pad na die lewe is die pad van die kruis. Wat vir ons soos die pad na die dood lyk, is vir God die pad na ware lewe. Mag ons vandag kies om vir God te vertrou om ons op die pad na die lewe te lei, eerder as om ons hand uit te steek en self te vat wat vir ons soos lewe lyk.

Gebed

Here, dit is so maklik vir ons om verkeerde keuses te maak. Vergewe ons wanneer ons self wil kies wat vir ons goed is. Help ons om op U te vertrou om ons te lei op die pad na ware lewe.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 24 April 2023

Hierdie week staan ons stil by ’n paar verskillende verse oor bome. Bome en woorde wat verband hou met die woord boom, word meer as 800 keer in die Bybel genoem. Bome kom verskeie kere op belangrike draaipunte in die verhaal van die Bybel voor en word ’n manier waarmee verskillende stories aanmekaar gebind word. Mense word ook dikwels met bome vergelyk. Een van die bekendste vergelykings, vind ons in Psalm 1:3, waarmee ons vandag begin.

Psalm 1:3. “Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.”

Refleksie

Die Psalmskrywer vergelyk iemand wat sy vreugde vind in die Woord van die Here met ’n boom wat by waterstrome geplant is. Voordat ons stilstaan by wat met hierdie beeld bedoel word, is dit waardevol om by die eerste vergelyking stil te staan, naamlik: mense is soos bome. Die basiese vergelyking word al op die eerste bladsy in die Bybel gemaak waar God bome skep wat vrug dra en mense skep wat vrugbaar is.

Kyk na die bome rondom jou en word stil rondom die gedagte dat ons as mense soos bome is. Hoe dink jy is mense soos bome?

Die Psalmskrywer skryf dat iemand wat vreugde vind in die Woord van Here soos ’n boom is wat by waterstrome geplant is, wat vrug dra op die regte tyd.

Hoe dink jy lyk so ’n persoon? Ken jy iemand wat jou aan hierdie beeld laat dink, of kan jy dink aan ’n tyd in jou lewe waar jy gevoel het hierdie beeld is vir jou waar?

Hierdie beeld vat ons terug na die tuin van Eden en herinner ons aan die boom van die lewe, wat langs ’n rivier geplant is en vrug dra wat lewe gee. Op ’n subtiele manier vergelyk die Psalmskrywer die Woord van die Here met die boom van die lewe. Wanneer ons vreugde vind in die Here se Woord, is dit asof ons toegang kry tot die boom van die lewe. En nie net toegang kry nie, maar dat ons self soos ’n boom van lewe word, wat vrug dra vir ander om van te eet.

Ek nooi jou uit om saam met die Here vandag te reflekteer oor hierdie beeld. Wat beteken dit vir jou om soos ’n boom te wees wat by waterstrome geplant is, wat vrug dra op die regte tyd?

Gebed

Here, Skepper van die aarde en alles daarin, van bome en mense wat vrug dra. Here, help ons om vreugde te vind in U woord, sodat ons geplant kan wees in lewende waters, sodat ons kan vrug dra wat vir ander lewe gee, tot eer van U naam.

Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 22 April 2023

2 Korintiërs 5:14.  Die liefde van Christus dwing ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat dat almal gesterwe het. En hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. 

Die uitdaging om verskille tussen mense te hanteer, is geweldig en ons beleef dit daagliks op verskillende maniere. Dit bly moeilik om te midde daarvan in verhoudinge met mense te staan en mekaar ten spyte van verskille te vind. Vandag se teksgedeelte laat ons in hierdie verband met ‘n radikale gedagte en dit is dat die liefde van Christus ons letterlik dwing om mekaar te vind in lyding. Want terwyl ons so dikwels nie met mekaar kan saamstem oor verskille nie bring lyding ons op presies dieselfde plek bymekaar. Vir gelowiges is hierdie lyding nie ‘n leë en betekenislose plek nie. Dit herinner ons aan die Here se lyding wat ALMAL se lewens kom raak (ons het tot die insig gekom dat een vir almal gesterf het). Hoe is die Here se liefde besig om jou vandag hierin te dwing? Let wel, dat Paulus nie kies vir die woord dring nie, maar dwing, wat iets verwoord van hoe die Here ons op plekke wil kry wat ons andersins nie sou gekies het nie. Hoe is hierdie realiteit van jou geloof besig om jou te help waar jy moedeloos is oor die verskille wat jou verhoudinge bedreig?

Gebed

Here, ek besef opeens dat die antwoord op my grootste uitdagings en kwellinge nie so ingewikkeld is soos wat ek gedink het nie. Dankie dat U vandag my eie lyding met die van ander met wie ek in konflik leef, laat resoneer. Laat dit vandag deur my hardkoppigheid en trots breek om op ’n ander vlak met mense om my om te gaan en dat ek vandag my geloof op hierdie manier prakties kan beleef.

Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 21 April 2023

2 Korintiërs 4:7 &10. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipottte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie ons nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat  ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam

Paulus het nie soos die ander dissipels Jesus voor sy opstanding geken nie, maar Hom daarna eers ontmoet toe Jesus na sy opstanding aan Paulus verskyn het. Om hierdie rede het Paulus altyd na Jesus, as Christus Jesus verwys. Hy het die Jesus wat Christus, die Jesus wat uit die dood opgestaan het, ontmoet. En dit het iets te doen gehad met die skat waarvan Paulus in ons teksgedeelte praat. Alhoewel ons nie Jesus vandag fisies kan sien soos wat sy dissipels eens kon nie, getuig Paulus oor hoe ons vandag in die krag van die Here  wat opgestaan het, leef. Ons ontmoet vandag die Here in die ervaring van ons menslike broosheid (ons sterflike bestaan), maar dan ook in die wyse waarop die krag van die Here se opstanding ons op maniere behoue laat bly. Dink vandag aan hoe jy ook die sterwe van Jesus met jou saamdra? Hoe is die Here besig om in lewe in jou deur te breek? Hoe is die Here vandag deur  hierdie skat besig om jou te ontmoet?

Gebed

Here, die beeld van ’n pot  wat breek is vandag so relevant van hoe ek die lewe beleef. Daar is altyd dinge wat oor my pad kom en wat my breek en my laat voel dat alles verlore is. Dankie dat U my vandag weer in hierdie gedagte kom besoek en in my die besef van ’n skat kom wakker maak. Die feit dat U my innerlike vernuwe terwyl ek stadig maar seker besig is om uiterlik agteruit te gaan is nie vir my net ’n godsdienstige gedagte nie. Dit is ’n realiteit wat ek elke liewe dag op nuwe maniere ontdek. Help my daarom ook om dit vandag waar ek my gaan bevind opnuut te ontdek.

Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 20 April 2023

Psalm 8: 4-5.As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien.

Die beelde van die buitenste ruimte wat in Julie 2022 deur die nuwe James Webb teleskoop deurgestuur is, het die mensdom verwonder. Die begrip ruimte wat ons gebruik (in Engels space) verwoord die idee dat die donkerruimtes bo die aarde leeg is. Die beelde van die teleskoop het dit verander, want buite die donkerte van ons eie sonnestelsel met sy enkele planete het beelde van lig van miljoene ander sonnestelsels verrys. Dink vandag saam met hierdie beeld, oor al die sonnestelsels, aan jou eie geloof in God as skepper van die hemel en aarde en hoe ons vandag oor God se grootheid dink. Vergelyk dit met die grootheid van die wêreld se grootste koninkryke waarvan daar vandag miskien net klippe oorgebly het en waarvan die magtige heersers al lank vergete is. En dan hierdie groot gedagte. Alhoewel daar soveel dinge is wat ons nie weet of kan sien nie, kom God se grootheid oor duisende jare in verwondering na ons toe. En terwyl ons in verwondering leef, breek diep geheimenisse oor die lewe van God na ons toe deur. As dit dus voel of jy iewers jouself in die lewe verloor het, of jy sukkel om sin te maak van wat alles om jou aan die gang is, gaan staan vanaand buite en kyk na die sterre van ons eie sonnestelsel en verwonder jou in dit wat ook nog daarbuite lê,  wat jy nie kan sien nie – en beleef hoe dieselfde skepper van hemel en aarde aan jou die gawe van verwondering en lewe gegee het.

Gebed

Here, ek dank U vir hierdie aarde, ons tuiste, en vir die wye hemelruim en die geseënde son, vir die ewige berge en rustelose winde, vir die kleurrykheid van bome en blomme en die musiek van voëlgesang. O, Here bewaar my dat ek die skoonheid van U skepping ooit sal gewoond raak dat dit my nie meer roer nie. Maak vandag my hart oop vir U grootheid in hierdie skepping dat ek sal raaksien hoe selfs die vaalste veldblom vlam van U heerlikheid. Here, laat hierdie verwondering tot my deurdring en my sin gee in dit wat ek nie vandag kan sien of verstaan nie. Dankie dat dat die geheimenisse van die skepping in hierdie opsig vir my in verwondering oopgesluit word.

Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 19 April 2023

Filippense 2:7-8. Maar Hy het homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het hy homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 

Jesus se sterwe en opstanding het gelowiges onkant gevang omdat hulle met die verwagting geleef het dat God se beloofde koninkryk ’n groter politieke en kulturele verandering teweeg sou bring. Die eerste Joodse gelowiges het gehoop dat dit die sterk Romeinse greep op hulle land sou breek en die Jode die ruimte sou gee om meer vrylik en ongehinderd hulle kultuur en godsdiens te beoefen. Na Jesus se opstanding het die teendeel gebeur. Toe Jerusalem en die tempel daarmee saam enkele jare na Jesus se opstanding vernietig is en as ’n Romeinse stad oorgebou is, moes hulle ontnugter ’n ander tuiste vind. Die teks in Filippense was deel van ’n baie ou lied wat deur die eerste gelowiges gesing is. Dit vertel van ’n transisie in hulle geloof toe hulle ontdek het hoe ingrypend Christus die realiteite binne mense kom verander het en hoe dit vandaar ’n verskil in die wêreld maak.

Wanneer ons vandag effe verward om ons kyk om iets van God se heerlikheid in die politiek, ekonomie, sosiale en kulturele realiteite raak te sien, en getref word deur die wyse waarop dit nog verdere verwydering tussen mense (ook gelowiges) bring, raak vandag se teks ons diep. Laat toe dat vanoggend se gedagte onder al die realiteite wat vandag op jou wag inskuif en jou help om in die midde van soveel onsin, God se sin te ervaar.

Gebed

God, altyd bo almal en onder almal, agter almal en voor almal. God orals en êrens, soms en altyd. God wat gister was, vandag is en altyd môre sal wees – kom verander my om U te kan herken en dring vandag tot ons deur die realiteite wat in hierdie dag op ons wag sodat ons iets besonders daarvan kan maak. AMEN.

 

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 18 April 2023

Vandag se teksgedeelte bring ons by twee van Jesus se dissipels (die Emmausgangers) wat na die Paasfees waartydens Jesus gesterf het, op pad terug huis toe was. Soos wat hulle stap en praat oor die tragiese gebeure van Jesus se kruisiging, sluit Jesus by hulle geselskap aan, sonder dat hulle Hom herken en dan volg die volgende gesprek:

Lukas 24:21 en 25. Ons het so gehoop dat dit `Hy is wat Israel sou verlos. Toe sê Hy vir hulle: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van Gees.

Vandag se teks praat met ons oor tye wanneer ons verwagtinge en emosies oor ons die oorhand kry en ons niks anders kan sien as die ooglopende realiteit van verlies en teleurstelling nie. Jesus breek daardeur wanneer hy rustig met hulle praat oor die dinge waarin hulle tog glo, maar as gevolg van hulle eie ervaring van die situasie dit nie kan insien nie. Wat met die Emmausgangers gebeur het, gebeur dikwels met ons. Ons is van kleins af die inhoud van die Bybel geleer wat getuig oor hoe God deur die lewe saam met ons reis, maar wanneer die lewe voor ons afspeel oorval emosies en gedagtes ons wat ons dan heeltemal van koers af neem. Die dissipline om iewers in jou dag ’n gedeelte uit die Bybel te lees, te bid of net ’n gedagte oor God te oordink, herinner ons dat die Here inderdaad besig is om saam met ons deur die lewe te stap. Beleef hoe dit in die gebeure van vandag vir jou perspektief bring en hoe die Here deur jou wanhoop, teleurstelling en vrees breek om jou te beskerm en jou help om met jou geloof sin te maak van die omstandighede waarin jy jouself bevind.

Gebed

Here, daardie aand in die tuin van Getsemane het U met bloedsweet bewys dat U vir altyd sal kan saamvoel met elke mens wat pyn, dood en onsekerheid vrees. Dankie vir die wyse waarop U as opgestane Here langs ons in die lewe loop. Hoe U stadig maar seker deur ons emosies breek en ons u vrede gee. Dankie dat  dit ons vandag by ‘n plek uitbring om nie meer bang en onseker te wees nie. O Here, stap dan ook in hierdie dag  so saam met my.

Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 17 April 2023

1 Korintiërs 15:57-58. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gegee het deur ons Here Jesus Christus. Daarom, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie. 

As kinders droom ons eendag om iets te word en jou skoolloopbaan is veronderstel om ons daarvoor voor te berei. Na skool tref die harde realiteite van ’n werkslewe ’n mens waarin jy jouself maklik kan verloor en later laat wonder of jy jouself tog wel in die regte rigting en beroep bevind. Die eise van ’n volwasse lewe laat jou terug verlang na die sorgelose dae toe jy oor ‘n opwindende toekoms gedroom het. Miskien selfs net terugverlang na die gevoel om weer soos ’n kind opgewonde oor jou toekoms te kan wees en om met krag en entoesiasme jou  dag in te gaan. Voel dit vir jou of jou lewe tevergeefs is? Net na Paassondag praat vandag se teks met ons oor die betekenis van die Here se opstanding. Die oorwinning daarvan getuig elke dag in ons dat ons nie tevergeefs lewe nie en dat elke oomblik van die lewe kosbaar is. Raak bewus hoe die krag van die Here se opstanding op vele maniere in jou werk om jou standvastig, onwankelbaar en entoesiasties te maak.

Gebed

Here, die woord tevergeefs laat my dink aan papiere en plastieksakke wat in leë strate rondwaai. Dit is ‘n gedagte wat my na my lewe laat kyk en wonder: Wat was die sin van dit alles? Was my lewe dan tevergeefs? Daarom draai ek vandag na U toe en pleit. Laat my lewe tog nie tevergeefs wees nie. En ek weet: Dit is omdat ek so ver van U voel dat dinge vir my tevergeefs lyk. Omdat ek my dae met my eie planne deurbring en nagte lank wakker lê oor bekommernisse. Dankie Here dat U in my en ander se lewens inbou om dit mooi te maak sodat ons in die klein dingetjies vreugde mag vind. Dankie dat U so baie kere my lewe regruk sommer terwyl ek slaap en my die oggend laat wakker word met dié wete: Niks is tevergeefs nie. Amen.

1 35 36 37 128