Gedagte vir die dag | Woensdag 10 Mei 2023
Vandag is Woensdag 10 Mei en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdrif en besieling wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.
Ter refleksie oor die nuwe kerklike seisoen van Pinkstertyd wat voorlê is dit goed om ’n bietjie na te dink oor die ontstaan van dit. Vir die Kerk is Pinkstersondag ’n belangrike feesdag omrede dit die kerk se verjaarsdagviering is. Dit is die kerk se ontstaansdag. Paulus herinner ons in Efesiers 4:4-6 dat daar net één liggaam en net één Gees is, soos daar net één hoop is … net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal. Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Hierdie laat my dink aan die Afrikaanse woord “brandpunt”. Aanvanklik was dit gebruik as ‘n sinoniem vir vuurherd. ‘n Gesin het winteraande voor “die brandpunt” vergader om daar saam met mekaar warmte te vind. ’n Brandpunt is dus ’n sentrale kuierplek.
Daar is by God net een woonplek. En in daardie woning is daar – metafories gesproke – net een “vuurherd”, waar daar vir elkeen plek gemaak word. By hierdie vuurherd kan jy inskuif, ongeag jou agtergrond en geskiedenis. Almal is welkom. Mag ons as kerk & huis gereelde ruimtes van ontmoetings skep waar ons mekaar kan herinner van die Gees van God wat in ons leef. Mag dit ruimtes wees van gasvryheid en ontdekking terwyl ons somtyds brandpunt-temas bespreek. MAAR bowenal mag ons vashou aan mekaar, omrede God ons saamsnoer en bind tot verbondendheid met Hom.
Mag jy vandag beleef dat daar vir jou by God se brandpunt ‘n plek is.
Gebed
Here, dankie vir ons saamwees & familiewees. Ons bid vir die kerk van vandag met die wete dat U die Een is wat dit instandhou en versorg.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 8 Mei 2023
Vandag is Maandag 8 Mei en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdriftig en besielend wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.
Daar is min mense vir wie die opstanding só ‘n groot verskil gemaak het, soos vir Paulus. Jy kan ‘n toegewyde gelowige wees – soos Saulus inderdaad was. Hy wou juis die geloof waarvan Jesus deel was beskerm. Jy kan selfs fanaties in jou toewyding wees – soos Saulus was. Saulus het soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Maar, toe hy die opgestane Jesus op die Damaskuspad ontmoet, het alles verander. Saulus ontdek dat hy nie die Jesusvolgelinge vervolg nie, maar die lewende Jesus sélf.
Daardie ontmoeting het sy hele lewe verander.
Vanuit daardie ontmoeting skryf Paulus vir die gemeente in Korinte in 1 Kor. 15:17: “As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos…”. Vir hom staan die kruis tussen sy “Saulus-dae” en sy “Paulus-lewe”. Dis die kruis tussen sy ou self en sy nuwe self. Dit is die kruis wat ook tussen ons ou self en ons nuwe self staan. Maar, as alles net by die dood van die kruisiging gestop het, hoe kon daar nuwe lewe moontlik wees? Of vir jou en my? Máár, dit is danksy die opstanding dat Paulus dan verder gaan in Gal. 2:19 deur te sê “en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe”.
Jesus leef, en Jesus se Gees leef in ons.
Hoe leef mens be[GEES]terd? Soos Jesus, as Hy in Joh. 6:38 sê dat Hy nie van die hemel af gekom het om Sy wil te doen nie, maar die wil van Hom (die Vader) wat Hom gestuur het. (Joh 6:38).
GEBED: Here, dankie vir die kruis en die nuwe lewe! Mag ons be[Gees]terd U wil doen. Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 6 Mei 2023
Gedagte vir die dag | Vrydag 5 Mei 2023
Ek lees graag vandag vir ons ‘n belydenis wat geskryf is deur Lina Spies. Dalk help haar belydenis jou om ook woorde te gee aan jou eie geloofsreis saam met God:
Die geloofsbelydenis van ’n afvallige
Ek glo in die skeppende God
van die wordende heelal
wie se naam te heilig was
om uit te spreek:
Jahwé, die God van Israel,
wat ’n vader geword het
vir Jesus van Nasaret,
die wonderskone boodskapper
van die onmoontlike liefde,
deur wie God my vader
maar ook my moeder is.
Ek glo in die Heilige Gees
wat mense in alle tye
inspireer tot werke
wat die stempel dra
van die ewige.
Ek glo dat omdat ek lewe
ek aan alle lewendes
sorg en deernis verskuldig is
en ek glo dat as ek sterf
ek opgeneem sal word
in die durende siklus
van vernuwing en verval
en dat die lewe triomfeer
in elke geboortekreet
omdat die lewe magtiger is
as die dood.
Lina Spies: Duskant die einders (2004)
Gedagte vir die dag | Donderdag 4 Mei 2023
Gedagte vir die dag | Woensdag 3 Mei 2023
Ek wil graag vandag ’n seëngebed lees van Jan Richardson. Dis ’n gebed wat bid vir waagmoed, dapperheid en braafheid. Iets wat ons so nodig het in hierdie tyd. Jy is welkom om jou oë toe te maak en die woorde te hoor:
Blessing of Courage
I cannot say where it lives, only that it comes to the heart that is open,
To the heart that asks, to the heart that does not turn away.
It can take practice, days of tugging at what keeps us bound,
Seasons of pushing against what keeps our dreaming small.
When it arrives, it might surprise you by how quiet it is,
How it moves with such grace for possessing such power.
But you will know it by the strength that rises from within you to meet it,
By the release of the knot in the center of your chest that suddenly lets go.
You will recognize it by how still your fear becomes, as it loosens its grip,
Perhaps never quite leaving you, but calmly turning into joy as you enter the life that is finally your own.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 2 Mei 2023
Ek wil graag vandag vir ons ’n ou Fransiskaanse gebed voorlees.
Jy is welkom om jou oë toe te maak en die woorde in jou gedagtes saam te sê:
Here, seën ons tog met ongemak oor maklike antwoorde,
Halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings.
Help ons om die diepste oortuigings van ons hart uit te leef.
Here, seën ons met weersin teenoor onreg, teenoor enige vorm van onderdrukking
Of uitbuiting van mense.
Here, help ons om saam met U te werk vir reg en vryheid en vrede.
Here, seën ons met trane oor die lot van almal wat ly weens fisieke en emosionele pyn:
Almal wat honger is en verwerk word, wat in geweldgeteisterde gebiede woon.
Wil U deur ons betrokkenheid u hand na hulle uitsteek
En hulle hartseer in vreugde omvorm.
En Here, seën ons met genoeg naïwiteit om te glo dat ons ’n verskil in hierdie wêreld kan maak:
Deur dinge aan te pak
Wat ander sê nie gedoen kan word nie.
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 1 Mei 2023
Psalm 131. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. 2Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. 3Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.
Ek lees graag vir ons ’n gebed van Annes Nel in refleksie op die Psalm
Grenslose Liefde,
U wat ons soos ‘n ma op die skoot tel en tot rus bring
Wat met sakke vol beloftes voor ons staan,
Wat ons oorlaai met onbegrensde liefde-
Dankie vir die veiligheid van u nabyheid.
Dankie vir u vrygewige lifede.
Dankie dat U nie soos mense is wat vergeld, haat en ’n behae het in straf nie.
Maak my ook ’n mens by wie ander gebroke mense ook veilig sal voel.
Ek vra dit in die naam van Jesus Christus in wie al die gawes wat God aan ons geskenk het, werklikheid word:
Die Een wat vir gebrokenes gekom het.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 29 April 2023
Openbaring 21:2. 2Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.
Refleksie
Die storie van die Bybel begin en eindig by ’n boom. Die boom van die lewe. In Genesis verloor die mens toegang tot die boom van die lewe. In Openbaring sien ons dat Christus weer vir ons toegang tot die boom van die lewe gee.
Openbaring word dikwels as ’n toekomsvoorspelling gelees, maar Openbaring is amper soos om die gordyne van ’n teater weg te trek en agter die skerms te kyk. Dit is nie bedoel vir eendag nie, maar is bedoel om nou vir ons hoop te gee dat God besig is om alles nuut te maak en dat ons, deur Christus, toegang tot ware lewe het.
Wat interessant is om te sien, hier aan die einde van Openbaring, is dat die boom van die lewe nie net vir die mense in die nuwe stad bedoel is nie, maar dat die boom genesing bring vir die nasies.
Ons kan maklik dink dat God net oor Christene omgee en ons wil verwyder van die res van die wêreld. Maar God se missie was nog altyd om die wêreld te red, om herstel te bring vir die nasies, nie net vir die mense binne die stad nie.
Dit nooi ons om vandag te reflekteer oor die rol van die kerk in die wêreld. Behoort die kerk net om te gee vir die wat reeds deel is van die kerk? Of juis die genesende krag van Christus na die nasies toe te vat, sodat hulle ook genesing kan beleef? Dit is interessant om te sien dat die nuwe stad in Openbaring twaalf poorte het, maar geen deure nie, juis om te sê dat enige iemand welkom is in God se teenwoordigheid. Hoe sal dit lyk as ons hierdie visie vandag in die kerk laat leef?
Gebed
Here, U gee vir ons in Openbaring ’n visie van waarheen ons op pad is en van hoe u Koninkryk lyk. Dit is ’n koninkryk waar die poorte oop is en waarheen mense kan kom vir genesing. Here, help ons om ook ’n plek te wees waar ander genesing kan kry en waar ons kan help om ’n gebroke wêreld te genees.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 28 April 2023
Lukas 13:18. Daarop het Hy gesê: “Waaraan is die koninkryk van God gelyk, en waarmee sal Ek dit vergelyk? 19Dit is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin gesaai het. Dit het gegroei en ‘n boom geword, en die voëls van die hemel het in sy takke kom nesmaak. ”
Refleksie
Wanneer Jesus oor die koninkryk van God praat in hierdie gelykenis, kies Hy doelbewus die voorbeeld van ’n mosterdplant. Daar is baie ander sade en plante en bome waarvan Jesus kon kies om die koninkryk mee te vergelyk, maar Hy kies ’n mosterdplant.
Jesus nooi ons in om saam te wonder: Hoe is die koninkryk van God soos ’n mosterdplant?
Ons weet ook dat daar ander koninkryke was in die tyd van die Nuwe Testament, spesifiek die koninkryk van Rome en die koninkryk van die Tempel. Wanneer Jesus praat oor die koninkryk van God, dan lyk dit anders as die koninkryke van die wêreld. Dit is belangrik dat ons onsself vandag ook hieraan herinner. Met watter koninkryke sou die koninkryk van God vandag vergelyk kon word? Hoe is God se koninkryk anders as vandag se koninkryke? En is ons as kerk meer soos die aardse koninkryke, of is ons ’n beeld van die koninkryk van God.
Wat die mosterdplant betref, is dit interessant om te sien dat die Joodse wette, die Midrash, spesifiek verbied dat mosterd in ’n tuin geplant word, aangesien dit ’n gemengde saad tipe is. Om mosterd in jou tuin te plant, maak jou en jou gemeenskap onrein. Dit is ook beskou as ’n onkruid, omdat dit vinnig versprei en weer en weer opkom, al word die oorspronklike plant vernietig. Jy kan dink jy het dit uitgewis, maar as jy jou weer kom kry, spring daar ’n nuwe plant op ’n ander plek op. ’n Mosterdplant is ook nie regtig ’n boom nie, maar nader aan ’n struik, met takke wat nie noodwendig sterk genoeg is vir voëls om in nes te maak nie. Maar Jesus sê spesifiek dat voëls in die boom kom nesmaak. Dit skep ’n tuiste vir voëls. Voëls was nie noodwendig positief geag nie, veral nie deur die Romeinse elite nie, aangesien voëls die oes van die omliggende gewasse vernietig het en beteken het dat Rome minder belasting uit die opbrengs van die oes kon eis.
Wanneer ons so na hierdie gelykenis kyk, kry ons ’n nuwe perspektief op God se koninkryk. God se koninkryk is anders as die koninkryke van die wêreld. Dit is ’n plek waar onrein en rein welkom is. Dit is iets wat nie uitgeroei of vernietig kan word nie, maar elke keer weer nuut opstaan. Dit is ’n koninkryk wat die sisteme of koninkryke wat mense onderdruk en uitbuit, stelselmatig afbreek.
Dit nooi ons om te vra, hoe kan ons ook mosterdsaadjies plant en hierdie koninkryk vandag sigbaar maak.
Gebed
Here, laat U koninkryk kom, soos in die Hemel, so ook op die aarde. Soos mosterd wat in ’n tuin geplant word, mag U ons en ons wêreld transformeer, om ’n plek te wees waar mense ’n tuiste vind en waar elkeen genoeg het.
Amen