Gedagte vir die dag | Maandag 22 Mei 2023
Jeremia 18:5-6. Toe kom die woord van die Here tot my: Kan ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel?
In die volgende week gaan ek enkele gedagtes uit die Pinkster reeks waarmee ons in die gemeente besig is met julle deel. Ons preekreeks handel oor gelowiges in die Babiloniese ballingskap en hoe God in die mees onverwagte omstandighede in hulle lewens en wêreld herlewing gebring het. Vandag se teks wat Jeremia aan die moedelose gelowiges in ballingskap rig ken ons baie goed. Daar is ‘n woord in hierdie teks wat ons maklik by verby lees en wat die betekenis daarvan op ‘n verrassende manier verruim. Dit is die woord “julle”. Ons lees so maklik net binne die konteks van ons eie lewens en verliese en besef nie dat die regmaak en oormaak waarvan hierdie teks praat ook met iets groter te doen het nie. Wat moet die Here in jou lewe oormaak, waar jy voel misluk het? Wat is daar om jou wat regmaak nodig het? Hoe is die Here besig om in hierdie tyd van jou lewe hierdie twee wêrelde bymekaar te bring?
Gebed
Here, daar is so baie dinge wat in my eie lewe reggemaak en oorgemaak moet word. Ek self dink dikwels dat my eie pogings tevergeefs is, omdat dit voel of ek niks uitgerig kry nie. Help my vandag Here om my gedagtes oop te maak vir die wyse waarop U dit wat in en om my gebeur bymekaarbring. Dankie dat my eie weerloosheid van wat in my lewe stukkend is, die sleutel is om vandag deel te kan word van die proses waarin U besig is om oor en nuut te maak.
Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 20 Mei 2023
2 Korintiërs 5:17. Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Min mense sal sê dat wurms mooi is. Dalk eerder grillerig. Op ’n dag spin wurms hulleself toe in ’n kokon en wanneer hulle uitkom, is hulle pragtige skoenlappers! Wanneer die kokon oopgaan, is dit ’n heel nuwe skepping wat verskyn. Die wurm is weg. Daar is ’n skoenlapper. M.a.w. iets nuuts is gevorm. Dit is presies wat die Here ook met ons wil doen. Hy wil jou en my nuut maak – oormaak. Die sonde het ons kom lelik en vuil maak – soos wurms. Grillerig en afskuwelik. Maar Jesus wil ons nuwe mense maak. Hy wil ons so mooi maak soos ’n skoenlapper.
’n Nuwe lewe met ’n nuwe lewensuitkyk, nuwe standaarde en leefstyl is God se handewerk in ons lewens. In 2 Korintiërs 5 praat Paulus oor God se vernuwingswerk in mense se lewens. Hierdie vernuwingswerk kan in ons lewens gedoen word omrede Jesus vir al ons skuld betaal het. Jesus bring herstel en genesing in mense se lewens. God is die outeur van die verandering in ons lewens. M.a.w. wat Paulus sê is dat God die nuwe skepping bewerk op basis van dit wat Christus aan die kruis gedoen het. God neem die inisiatief om die ou sondige mens in ‘n nuwe skepping, ‘n nuwe werklikheid en ‘n nuwe mens te verander.
Deesdae is hierdie makeover programme baie gewild . . . ’n vaal persoon word oorgemaak en lyk soos ’n model. Paulus praat hier van ’n makeover, maar dit gaan diep . . . tot in jou siel. In Jesus kry jy ʼn egte en totale makeover! Het jy al hierdie makeover gekry?
GEBED
Net soos ek is, met my sonde so groot,
kom ek na U, my Verlosser, in nood.
Daar aan die kruis red U my van die dood –
Net soos ek is so ellendig en blind,
dikwels tog ook nog so wêreldgesind.
By U alleen is daar redding te vind –
Net soos ek is kom en buig ek my neer,
ek is met sonde bevlek, o my Heer. Net U kan, Heer, my verlorenheid keer AMEN
Gedagte vir die dag | Vrydag 19 Mei 2023
Matteus 9:10-12. 10Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. 11Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” 12Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.
GEDAGTE
Die tipe mense wat Jesus as sy vriende aanvaar het, het beslis nie die goedkeuring van die godsdiensleiers van sy tyd gehad nie. Jesus reik uit na sondaars, tollenaars, prostitute en Samaritane.
Die Fariseërs en skrifgeleerdes is beswaard . . . hulle murmureer. Hulle rede? Omdat Jesus met sondaars meng en selfs saam met hulle eet. Sê Psalm 1 dan nie “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van die goddeloses volg nie, NIE MET SONDAARS OMGAAN en met ligsinniges saamspan nie”? Sê die spreekwoord dan nie: “Meng jou met die semels dan vreet die varke jou,” nie
God het ’n brandende begeerte om die wat verlore is, te red.
In hierdie gedeelte sien ons vir Jesus, die vriend van sondaars, waar Hy na iemand uitreik wat sosiaal verwerp en geestelik ongesond is.
Jesus was ’n vriend vir sondaars. Hy reik uit na diegene wat sosiaal verwerp is; Hy genees diegene wat geestelik siek is; Hy versorg hulle en spandeer tyd saam met hulle; Hy het hulle liefgehad. As dit waar is van ons Meester, moet dit nie ook waar wees van ons nie.
Dan is dit ook ’n boodskap vir jou en vir my. Jesus aanvaar ons ook net soos ons is. Hy maak ons nuut en herstel die beeld wat sonde afgebreek het. Kom na Hom net soos jy is – Hy sal jou nuut maak.
GEBED
Hemelse God en Vader dankie dat U hart oop is vir sondaars. Dat U hulle vergewe en nuut maak. Hier is ek ook.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 18 Mei 2023
Lukas 24:51. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.
GEDAGTE
Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy Homself lewend aan die vroue naby die graf vertoon asook aan sy dissipels en aan meer as 500 ander mense. In die daaropvolgende dae na sy opstanding het Hy sy dissipels aangaande die koninkryk van God geleer.
Veertig dae na die opstanding het Jesus en sy dissipels na die Olyfberg, naby Jerusalem, gegaan. Daar het Jesus sy volgelinge beloof dat hulle spoedig die Heilige Gees sou ontvang en Hy het hulle aangesê om in Jerusalem te bly totdat die Gees gekom het. Toe het Jesus hulle geseën en nadat Hy die seën uitgespreek het, het Hy begin om na die hemel op te vaar.
Die hemelvaart van Jesus Christus is betekenisvol, as gevolg van verskeie redes:
- Dit was ‘n teken van die einde van sy aardse bediening. God die Vader het in Sy groot liefde Sy Seun na die wêreld, gestuur en nou het die Seun teruggekeer na Sy Vader.
- Dit was ‘n teken dat Sy aardse werk suksesvol afgehandel was. Alles wat Hy kom doen het, het Hy bereik.
- Dit dui op die terugkeer van sy hemelse heerlikheid. Jesus se heerlikheid was verberg gedurende sy aardse verblyf.
- Dit het Hom toegelaat om vir ons ‘n plek te gaan voorberei.
- Dit het aangedui dat Hy ‘n nuwe werk as Hoë Priester begin en Middelaar van die Nuwe Verbond.
- Dit vestig ‘n patroon vir sy wederkoms. Soos Jesus gekom het om die Koninkryk te vestig, só sal Hy weer kom, net soos Hy weg gegaan het – letterlik, liggaamlik en sigbaar in die wolke.
GEBED
Hemelse God en Vader, dankie dat ek kan weet Jesus het opgevaar en tree nou vir my by U in.
AMEN
Gedagte vir die dag | Woensdag 17 Mei 2023
Kolossense 1:15-16. 15Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. 16God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie.
GEDAGTE
Francis Collins is ‘n briljante, wêreldberoemde medikus en genetikus. Hy het die span Wetenskaplikes gelei wat die menslike DNA ontrafel en beskryf het. Dit is ’n enorme wetenskaplike prestasie.
Collins beskryf sy persoonlike geloofsreis in sy boek, The language of God. Hoe meer Collins se insig en kennis oor die biologie gegroei het, hoe meer is hy gekonfronteer met die misterie van die skepping en die oortuiging dat God die oorsprong van lewe is.
Collins vertel: “Ek moes ’n besluit neem. ’n Hele jaar het verbygegaan sedert ek besluit het om in ’n soort van God te glo en nou het die oomblik gekom dat ek myself moes verantwoord. Op ’n pragtige herfsdag, terwyl ek in die Kaskadeberge gestap het, het die majesteit en prag van God se skepping my weerstand oorweldig. Toe ek om ’n hoek stap, kom ek onverwags op ’n gevriesde waterval, honderd voet omhoog, af. Ek het toe geweet my soektog is oor. Ek het net daar in die nat gras gekniel terwyl die son opkom en myself aan Jesus Christus oorgegee.”
Die Christus voor wie Collins kniel en buig, is dié Een deur wie alles geskep is, en wat deur sy verlossingswerk ook die Hoof van die kerk geword het.
Dit is net die Christelike godsdiens wat Jesus as God erken. Tog is dit duidelik uit die woorde van Jesus dat Hy nie net die Seun van God is nie, maar ook self God is. Paulus skryf in Kolossense 1 dat Jesus teenwoordig was by die skepping. God het deur Hom geskep. Hy was reeds voor alles geskep is al daar. Hy hou alles in stand. Wanneer ons na Jesus kyk sien ons God self.
In Johannes 10:30 getuig Jesus self: “Ek en die Vader is een.” En in Johannes 14:9 : “Wie My sien, sien die Vader.” Wie Jesus ken, ken die Vader, wie Jesus sien, sien die Vader. In Jesus het God naby ons gekom. Het jy al soos Collins hierdie Jesus, wie ook God is, in jou lewe aanvaar?
GEBED
Hemelse God en Vader ek aanvaar Jesus as my Verlosser.
AMEN
Gedagte vir die dag | Dinsdag 16 Mei 2023
Johannes 18:36. 36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
GEDAGTE
Voor Jesus se geboorte het die volk Israel reeds eeue lank uitgesien na die koms van die beloofde Messias. Die Jode het geglo dat Jesus die een sou wees wat hulle van die Romeinse oorheersing sal verlos en Israel weer tot sy glorie van ouds sal ophef. Met Jesus se intog in Jerusalem bereik die Jode se verwagting ’n hogtepunt. Almal juig Jesus toe en wil Hom met alle geweld Koning maak. Hulle verstaan nie dat die koninkryk waarvan Jesus praat nie ’n aardse koninkryk is nie, maar ’n geestelike koninkryk. Hierdie koninkryk is nie van plan om die Romeinse regering oor te neem nie. Die Jode is so verontwaardig wanneer hulle hierdie feit uiteindelik snap. Die gevolg daarvan is dat hulle Jesus verwerp en Hom oorgee om gekruisig te word.
Tydens Jesus se verhoor vra Pilatus vir Hom of hy wel ’n koning is. Jesus antwoord dat Hy wel ’n Koning is. Maar Hy is ’n anderste koning. Hy is ’n nederige en liefdevolle Koning. Daarom vra Jesus ook van sy volgeling van hierdie koninkryk om hulleself te verloën en hulle kruis te dra. Is jy bereid om so ’n Koning te volg?
GEBED
Hemelse God en Vader dankie dat ek deel kan wees van U koninkryk. Help my asseblief om die voorbeeld van ons Koning Jesus te volg.
AMEN
Gedagte vir die dag | Maandag 15 Mei 2023
Johannes 1:14. 14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
GEDAGTE
God het Sy Seun na die aarde gestuur as ’n gewone mens soos ek en jy. Hy was natuurlik net sonder sonde. Deur self ’n mens te word en onder ons te kom woon, kon Jesus daarin slaag om ons as mens se situasie werklik te verstaan. Jesus het self ook menslike emosies en pyn ervaar en daarom verstaan Hy ons as mense soveel beter. Hy moes Sy lewe aflê sodat ons sondes vergewe kon word. Dit kon net gebeur deurdat Hy ons sonde op Hom geneem het en in ons plek daarvoor betaal het.
Het jy al mooi daaroor nagedink wat dit beteken dat God regtig ’n méns van vlees en bloed geword het? In Johannes 1:14 lees ons: En die Woord (= Jesus Christus) het mens geword en by ons kom woon Hy, die groot God wat van voor die skepping van die wêreld al daar was, het dus besluit om af te daal en tussen ons mense te kom tent opslaan. Hy het in ons buurt – hier langs ons – kom intrek en in alle fasette soos ons geword, behalwe net nie vir die sonde nie. Dit het Hy gedoen omdat net ’n méns vir ons sondes kon betaal. Hoe aangrypend is hierdie waarheid nie! En hoe uniek maak dit ons Christengeloof nie: dis immers net ons God wat uit die hemel neergedaal en tussen ons kom bly het.
GEBED
Hemelse God en Vader dankie dat U wat so groot en heilig is bereid was om onder ons te kom woon en al ons sonde op U te neem.
AMEN
Gedagte vir die dag | Saterdag 13 Mei 2023
Vandag is Saterdag 13 Mei en welkom by vandag se oordenking. Vandag sluit ons af waar ons hierdie week saam gereflekteer het oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdrif en besieling wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.
Vandag sluit ons af om mekaar te herinner dat ons een God aanbid, ons Skepper. Dit is nie ’n “afwesige” God-Skepper nie; dit is ’n liefdevolle, versorgende God – vandaar dat ons God, “Ons Vader” noem. Maar hoe het ’n mens ’n verhouding met iemand – al noem jy Hom “Vader” – wat jy nooit kan sien nie? Dit is presies wat Filippus ook wou weet in Johannes 14 – daarom vra hy in vers 8: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg”. Jesus se antwoord is betekenisvol: “Wie My sien, sien die Vader.” Daarom word Jesus die “Seun van die Vader” genoem: Hy is m.a.w. die “ewebeeld” van die Vader. Sien jy Jesus se optrede, dan weet jy hoe God, die Vader, is. Maar nou sit óns met ’n probleem: hoe kan óns (ek en jy) wat 2000 later leef, vir Jesus sien, as Jesus net vir 33 jaar lank die aarde bewoon het? Daarom sê Jesus:
“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees . . .”
In die Drievuldigheid van God is niks eerste of laaste nie, niks meeste of minste nie, maar al drie persone is onderling volkome aan mekaar gelyk. Die Een kan nie sonder die Ander nie. Om be[GEES]terd te leef is om in ontmoeting met hierdie lewende God te wees en te leef. Mag ons in hierdie Pinkstertyd wat voorlê opnuut ontdek wat dit beteken om be[GEES]terd te leef terwyl ons leer om te dans saam met die:
Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.
Gebed
Here, dankie dat ek U kan leer ken op hierdie Drievuldige wyse. Leer my U wil Heer en mag ons aanhou dans, speel, lag en rus in U groot genade.
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 12 Mei 2023
Vandag is Vrydag 12 Mei en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdrif en besieling wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.
Een van die eerste beginsels wat ons met ons geloof bely is dat, net soos wat Jesus God se versoening vir die ganse mensdom is, só is die Heilige Gees vir die ganse wêreld gegee. Ons weet mos vanuit Johannes 3:16 dat God die wêreld liefhet, en daarom is Jesus as God se genadegeskenk na die wêreld gestuur! Dit is nie God se wil dat die wêreld verlore moet gaan nie.
Die uitstorting van die Heilige Gees is die “dubbele bewys” dat God die wêreld liefhet!
Dit is interessant dat wat daardie Pinksterdag gebeur ’n ander storie van lank gelede by my herroep. In Genesis 11:1-9 lees ons die verhaal van chaos wat uitgebreek het op die aarde met die bou van die toring van Babel. Verwarring het ontstaan, want mense kon mekaar skielik nie meer verstaan nie. Op Pinksterdag verander dit met Handelinge 2:4: Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het . . .wat getuig het oor wie God is.
’n Boodskap sonder verwarring: God het die wêreld lief!
Gebed
Heilige Gees, ek bely dat ek ook soms verdelend en verwarrend werk. Help my om met die krag van die Gees te getuig van ’n God wat ons liefhet.
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 11 Mei 2023
Vandag is Donderdag 11 Mei en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdrif en besieling wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.
Martin Luther het eenmaal gesê: “Geloof is ‘n lewende, waaghalsige vertroue in God se genade, so oortuigend dat mense hul lewens duisend keer daarvoor sal prysgee… en dit is die werk van die Heilige Gees”. Net soos ons nie met ons blote oog sonhitte kan sien nie, so kan ons ook nie die onsigbare krag van die Heilige Gees sien nie; maar, bring daardie krag oor die vergrootglas van “lewende, waaghalsige vertroue”, dán kry jy die geestelike brandpunt waar dinge gebeur. Dan kry jy geloof-in-aksie!
Wat moet ons as gelowiges wat om dieselfde sentrale verwarmer (die Bybel) leef, se roeping in ‘n wêreld vol pyn en ellende wees? Ek dink weer aan Martin Luther se aanhaling oor geloof: “Geloof is ‘n lewende, waaghalsige vertroue in God se genade, so oortuigend dat mense hul lewens duisend keer daarvoor sal prysgee . . . en dit is die werk van die Heilige Gees”.
In Handelinge 2 lees ons van ’n groepie gelowiges – waarskynlik bang weens al die oproer in Jerusalem se strate. Hulle wag, want Jesus het voor sy dood reeds beloof dat God sy Gees sal stuur.
God gaan met al sy krag, sy Gees, op ‘n vuurherdgroepie in die bokamer loslaat.
Die dissipels word die fokuspunt, die brandpunte. Hulle harte “kom tot kookpunt” vir God. As God ‘n mens aanraak verander jy. Die dissipels ook! Hulle word lewende en waaghalsige vertrouelinge van God. Die res van Handelinge wys hoe skrikkerige mense die veilige ruimte verlaat en getuies word; sommige selfs tot hul dood toe. En deurentyd bring hulle lof aan God.
As jy ooit wonder, sê Luther, dit is wat dit beteken dat die Heilige Gees uitgestort is.
Daar is geen verskil tussen ons en die dissipels nie. Hulle was ook net mense, maar hulle het lewende en waaghalsige mense vir God geword. Mag ons ook.
Gebed
Here, maak my ’n lewende en waaghalsige getuie.
Amen