Gedagte vir die dag | Dinsdag 27 Junie 2023
Hebreërs 4:15-16. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade kan ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Vandag se teksgedeelte sluit nou aan by die dagstukkie van gister en praat met ons oor die wyse waarop God ons ontmoet. In die Ou Testament was godsdiens streng gereguleer. Slegs die Hoëpriester was een keer ‘n jaar tydens die Groot Versoeningsdag in die allerheiligste van die tempel toegelaat, om daar in God se teenwoordigheid te kom. Daar is geglo dat God se heilige teenwoordigheid op die deksel van die ark tussen twee gerubs (engele) gerus het, wat gelowiges God se genadetroon genoem het. Wanneer die skrywer van Hebreërs kies om van hierdie beelde gebruik te maak deel hy met ons ‘n radikale gedagte. Die Heilige God het begrip vir ons swakhede en nooi ons om met vrymoedigheid na sy genadetroon te gaan om daar genade en barmhartigheid te vind wat genesing bring. God se heiligheid bring nie ‘n afstand tussen ons en God nie – dit oorbrug juis die afstand. Wat beteken dit dat die Here jou op hierdie manier uitnooi om in sy teenwoordigheid, genade en barmhartigheid te ontvang?
Gebed
O, my Here en my God, die lewensreis is te vermoeiend vir my, tensy U my voed met die brood uit die hemel en die wyn van die lewe; tensy U, U eie oorwinning oor die sonde, haat, pyn en dood met my deel. Laat u bloed deur my are vloei, u krag my krag wees, u liefde my liefde wees en die wil van die Vader ook my wil wees. Laat my met U een wees, in hart en siel en verstand.
Gedagte vir die dag | Maandag 26 Junie 2023
Hebreërs 3:7-9. Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het ten My in die woestyn op die proef gestel het.
Hoe is die Here besig om vandag met ons te praat en hoe onderskei ons wat die Here vir ons wil sê? En dan die baie praktiese vraag: Hoe reageer ons daarop? Wanneer ons die komende week met teksgedeeltes uit die boek Hebreërs besig gaan wees gaan ons oor hierdie vrae nadink.
Ons is in kerk en kategese geleer dat God hom op twee maniere openbaar. Die hervormer Johannes Calvyn het gesê dat daar geen nasie so barbaars of verlore kan wees dat hulle nie ‘n algemene bewussyn van God het nie. Deur sy algemene openbaring is God vandag oral en by almal en kan daardeur tot mense nader. Maar God het in die besonder gekies om in die gestalte van ‘n mens tot ons te nader, sodat ons daardeur op ‘n dieper en meer persoonlike vlak tot God kan nader. Die Heilige Gees, wat die Gees van Christus is, speel hierin ‘n belangrike rol omdat dit ons gedurig troos, leer, lei, oortuig en vorm. Hoe is die Here besig om op hierdie besondere wyse met ons te praat wanneer hy vandag ons eie hardkoppigheid uitdaag? Soos die Israeliete eens in die woestyn gedoen het, is dit dikwels vir ons maklik om die goed waaroor ons ongemaklik voel, te ignoreer. Mag ons opnuut ontdek hoe die Here deur ons opstandigheid breek om in ons ‘n vrede te bring wat ons dae nuwe betekenis gee.
Gebed
Here, bewaar my vandag van die lafhartigheid wat dit nie waag om nuwe waarhede te ondersoek nie. Here, bewaar my van die luiheid wat tevrede is met halwe waarhede. Here, bewaar my van die verwaandheid wat dink dat ek al die antwoorde het. Here, wees vandag my skild teen dwaasheid.
Gedagte vir die dag | Saterdag 24 Junie 2023
Psalm 118:24. 24Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.
GEDAGTE
’n Predikant het eenmaal ’n reeks boodskappe op ’n ander dorp gaan bring. Hy het by ’n weduwee tuis gegaan. Sy het die gewoonte gehad om haar eie slaapkamer aan die gas te gee. Hy het die Saterdagaand gearriveer en die volgende môre toe hy die gordyne ooptrek sien hy die wonderlike landskappe met heuwels in die agtergrond en pragtige groen valleie voor hom. Daar was wel iets wat sy aandag getrek het en dit was in die hoek van die ruit was daar ’n sin uitgekrap. Die prediker het net die woorde “DIT IS DIE DAG” uitgemaak. By die etenstafel het hy die weduwee gevra na die woorde op die ruit en of dit haar kleinkinders is wat dit daar uitgekrap het. “Nee”, was haar antwoord. Die woorde op die ruit het sy met haar verloofring uitgekrap. Sien die saak staan so: baie jare gelede het sy haar man aan die dood afgestaan en wanneer sy die gordyne oopmaak was dit dikwels baie koud en dit het gereën. Sy was dan so mismoedig en depressief dat sy net niks wou doen nie. Sy het gevoel die doel van haar lewe was verby.
Op een so ’n oggend het die Here met haar gepraat toe sy in die Bybel uit Psalm 118:24 lees: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.” Die Here het haar herinner dat God ’n plan met haar lewe het. Van daardie dag af het sy besluit dat wanneer sy die gordyne oopmaak en die nuwe dag aanskou, met hetsy sonskyn of reën, sy die dag met oorgawe sal aanpak omdat elke dag aan die Here behoort.
Ons moet ook elke dag positief aanpak. Die Here het dit gemaak en ons moet na die beste van ons vermoë lewe om die Here te eer. Elke dag is ’n geskenk van God.
GEBED
Dankie Here vir nog ’n dag.
’n Geskenk uit die Vader se Hand.
Laat ons besef hoe kosbaar elke dag is,
en dat ons sal lewe om U Naam te Verheerlik.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 23 Junie 2023
Johannes 13:34-35. 34. Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
GEDAGTE
Dit is die heel belangrikste boodskap wat Jesus op aarde oor die liefde kom gee het. Wanneer Jesus gevra word wat die belangrikste van al die gebooie is, antwoord Hy dat ons God moet liefhê met ons hele hart, siel en kragte. Daarmee saam dat ons ons naaste moet liefhe soos onsself.
Terwyl Jesus op aarde was het Hy duidelik aan ons kom wys hoe om hierdie liefde uit te leef. Hy het Sy kosbare omgeeliefde gegee aan elkeen wat Sy pad gekruis het. Die wonder van Jesus se liefde is dat dit vir ons ook bedoel is. In die teks wat ons vandag gelees het, wys Jesus dat liefde die kenmerk van ons as dissipels moet wees.
Paulus beskryf ook in 1 Kor.13:7 die gewoontes van Jesus-liefde teenoor ander mense:
Jesus-liefde bedek alles: Dit sal nie die foute en gebreke van ander in die openbaar aan die groot klok ophang nie.
Jesus-liefde glo alles: Die liefde het twee kante. In ons verhouding met God beteken dit dat ons liefde vir God Hom op sy Woord neem vir wat Hy aan ons sê. En in ons verhouding met ons medemens wil liefde altyd die beste oor ons medemens glo.
Jesus-liefde hoop alles: Jesus het geglo geen mens se lewe is ’n hopelose saak nie. Die hoop-kant van liefde is die weiering om mislukking in jou eie of ander se lewe as finaal te aanvaar.
Jesus-liefde verdra alles: Deurdat ons alles verdra wat met ons gebeur, of wat mense aan ons doen, kan ons die negatiewe oorwin en verander tot eer van God.
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat Jesus vir ons U liefde kom wys het. Dankie dat U my ook liefhet. Mag ek hierdie liefde met ander deel. Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 22 Junie 2023
Matteus 14:14. 14Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.
GEDAGTE
Ons lees heel dikwels in die evangelies die volgende sin: “Jesus het hulle innig jammer gekry.” Elke keer wanneer mens dit lees, word dit gevolg deur Jesus wat aktief optree en iets dóén vir diegene vir wie hy innig jammer voel. Hy het hulle gesond gemaak, kos gegee, hulle oë oopgemaak, hulle rein gemaak, hulle geleer en hulle getroos. Jesus betoon medelye en barmhartigheid oral waar Hy gaan en sy medelye gaan oor tot optrede en hulpverlening. Jesus het ’n hart wat luister, ’n hart wat omgee en ’n hart wat lief het. Ons sien dit in elke ding wat Hy ooit gedoen het – sy geboorte, sy bediening, sy lyding, sy kruisdood, sy opstanding en selfs sy hemelvaart, want Hy tree vir ons elke oomblik van elke dag in. Sy gebede word in die hart van die hemel gehoor, en dáár wys Hy steeds dat Hy vir ons omgee, trouens dat Hy vir al die mense op hierdie aarde omgee.
As volgelinge van die Here behoort ons ook dié wat rigtingloos, honger, eensaam, verwerp, siek, swak en hulpeloos is innig jammer kry en behoort dit ons aan te spoor om ons jammerte in dade om te skakel.
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat Jesus vir ons almal omgee. Help my om ook raak te sien hulle vir wie ek moet help en ‘n hand uitsteek. Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 21 Junie 2023
Lukas 8:24-25. Toe staan Hy op en bestraf die wind en die golwe. 25Hulle het bedaar, en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?” Maar hulle was verskrik en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!”
GEDAGTE
Mense wat getrou die pad met Jesus stap beland dikwels in krisisse, lewensgevaar of doodloopstrate. Tog ontdek hulle ook dat Jesus by hulle is. Tussen vrees en dikwels deur pyn, word hulle met hoop en vrede vervul, wetende dat Jesus die laaste woord het, en oor alles in hemel en op aarde regeer.
Ek was al ’n paar keer in my lewe in sulke omstandighede. Die winde van probleme huil in jou ore en dit sweep die water op in sulke hoë golwe dat ’n mens bang raak. Eers probeer jy alles in jou vermoë om op jou eie daaruit te kom, maar naderhand gooi jy tot die roei spaan weg, want alles lyk so hopeloos. Die woeste winde steel ons geloof en dit veroorsaak dat ons wil weghardloop, maar waarheen? Die boot is besig om vol water te loop en daar is nêrens om heen te gaan nie. Verder hoor God oënskynlik nie ons noodgebede nie, of sien Hy ons nie vandag raak nie? Miskien slaap God vandag?
Maar vandag kan ons weer hoor: Ons glo in ’n almagtige God. ’n God wat baie groter is as ons storms. Met een sagte woordjie kan God die see om jou rustend en kalm maak. God slaap nie en Hy sal nie toelaat dat jy sink nie. Hy kán en sál die storms stil maak. Ons moet net glo dat Hy dit kan en sal doen. Ja, ook oor jóú storm. Glo dit net!
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat U steeds vandag by ons betrokke is in ons lewens. Ja ook tydens storms is U by ons. Help my asseblief deur hierdie storm wat ek tans beleef. Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 20 Junie 2023
Matteus 9:12-13. 12Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. 13Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”
GEDAGTE
Die tipe mense wat Jesus as sy vriende aanvaar het, het beslis nie die goedkeuring van die godsdiensleiers van sy tyd geniet nie. Jesus meng met sondaars, prostitute en Samaritane. Mense wat nie sonder sonde was nie het Jesus se liefde vir hulle aangevoel en by Hom tuis gevoel.
Alhoewel tollenaars, wat die Romeinse belasting ingevorder het, hulle eie mense verkul het, kies Jesus ’n tollenaar as een van Sy dissipels. En Levi laat sy geldsak net so staan wanneer Jesus hom nooi om hom te volg. Saggeus, ook ’n tollenaar, word ook ‘n volgeling van Jesus en sy lewe verander heeltemal. Hy is dadelik bereid om al die geld wat hy gesteel het met rente terug te betaal.
Yancey skryf so mooi in sy boek, The Jesus I never knew: “Jesus moved the emphasis from God’s holiness to God’s mercy. Instead of the message no undesirables allowed. He proclaimed: In God’s kingdom there are no undesirables.”
Indien jy dalk ook voel jy is nie goed genoeg vir God se koninkryk nie, weet dat Jesus jou aanvaar het net soos jy is. Dit is juis vir sondaars soos ons wat Hy na die aarde toe gekom het.
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat Jesus vir al my sonde aan die kruis gesterf het. Dankie dat U my aanvaar en liefhet. Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 19 Junie 2023
Johannes 18:36 36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
GEDAGTE
Voor Jesus se geboorte het die volk Israel reeds vir eeue na die koms van die beloofde Messias uitgesien. Hy sou die een wees wat hulle van die Romeinse oorheersing verlos en Israel weer ophef tot sy glorie van ouds. Met Jesus se intog in Jerusalem bereik die Jode se verwagting ’n hoogtepunt. Almal juig Jesus lof toe en wil Hom Koning maak. Hulle verstaan glad nie dat die koninkryk waarvan Jesus praat nie ’n aardse koninkryk is nie, maar ’n geestelike een en dat dit nie ’n glorieryke oorwinning oor die Romeinse regering insluit nie. Die Jode is so verontwaardig, wanneer hulle hierdie feite uiteindelik snap, dat hulle Jesus totaal verwerp en Hom laat kruisig omdat Hy nie aan hulle verwagtings voldoen nie.
Tydens sy verhoor vra Pilatus vir Jesus of Hy wel ’n Koning is, waarop Jesus bevestigend antwoord. Maar sy koninkryk is anders. Volgelinge van Jesus se koninkryk moet twee eienskappe hê, naamlik liefde en nederigheid. Die koninkryk waarvan Jesus praat, is ’n koninkryk wat van mense vra om hullself te verloën, hulle kruis op te tel en Hom te volg. ’n Koninkryk waar vyande liefgehê word.
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat Jesus vir ons kom bekendstel het aan ‘n nuwe soort koninkryk. Help my om getrou deel te wees van hierdie koninkryk. Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 17 Junie 2023
Vandag is Saterdag 17 Junie, en ons dink die week ’n bietjie na oor die kerklike seisoen van Koninkrykstyd waarbinne ons onsself bevind. Met die wegspring van hierdie tydperk besin ons oor die Triniteit en ons deelname saam met God. Daaom lees ons elke oggend die aanhaling van Richard Rohr vanuit sy boek “The Devine Dance” te luister:
“The Holy Trinity is what flows under, around, and through all things – Father, Son, and Holy Spirit divinely dancing. The Holy Trinity is what we enter into as God’s beloved creation; our participation in the flow and divine dance enables us to be generous, serve others, and experience connection, harmony, and love.”
Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:
- Hoe raak ons deel van hierdie vloei saam met die Triniteit?
- Hoe neem ons deel
Kom ons sluit die week se reis af en luister na die gebed van Johannes Herder wat ons hiermee help:
Ons prys u Naam, o Vader, omdat U van voor die grondlegging van die wêreld af vir ons gekies het om u kinders te wees.
Ons prys u Naam, Vader, omdat U met ’n enkele woord die ganse wêreld in aansyn geroep het.
Ons prys u Naam, Vader, omdat U nie die werke van u hande laat vaar nie, maar elke dag vir ons sorg.
Ons prys u Naam, Here Jesus, omdat U eenmaal na hierdie wêreld gekom het en langs ons kom staan het.
Ons prys u Naam, Here Jesus, omdat U eenmaal op ’n berg geklim en vir die skare gesê het: Salig is julle . . .
Ons prys u Naam, Here Jesus, omdat U eenmaal op die meer gewandel en die storm laat bedaar het met: Swyg, wees stil . .
Ons prys u Naam, Here Jesus, omdat U by die blinde Bartimeus gaan staan het met: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?
Ons prys u Naam, Here Jesus, omdat U die vrou wat in ontug betrap is, vergewe het met: Gaan heen en sondig nie meer nie.
Ons prys u Naam, Here Jesus, omdat U die man wat U verloën het, weer in u diens aangestel het met: Laat my skape wei.
Ons prys u Naam, Here Jesus, omdat U aan alle bekommerdes gesê het: Julle is meer werd as baie mossies.
Ons prys u Naam, Here Jesus, omdat U beloof het: Kyk, Ek kom gou!
Ons prys u Naam, o Gees van God, omdat U op Pinksterdag na die kerk gekom het en uitgestort is op alle vlees.
Ons prys u Naam, o Heilige Gees, omdat U die Trooster van ons harte is.
Ons Prys u Naam, o Heilige Gees, omdat u vir ons intree by die Vader met versugtinge wat nie onder woorde gebring word nie.
Ons prys u Naam, o Gees, omdat U in ons woon en ons in die volle waarheid lei.
Ons prys u Naam, Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, U wat van ewigheid tot ewigheid God is en regeer!
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 16 Junie 2023
Vandag is Vrydag 16 Junie, Jeugdag en ons dink die week ’n bietjie na oor die kerklike seisoen van Koninkrykstyd waarbinne ons onsself bevind. Met die wegspring van hierdie tydperk besin ons oor die Triniteit en ons deelname saam met God. Daaom lees ons elke oggend die aanhaling van Richard Rohr vanuit sy boek “The Devine Dance” te luister:
“The Holy Trinity is what flows under, around, and through all things – Father, Son, and Holy Spirit divinely dancing. The Holy Trinity is what we enter into as God’s beloved creation; our participation in the flow and divine dance enables us to be generous, serve others, and experience connection, harmony, and love.”
Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:
- Hoe raak ons deel van hierdie vloei saam met die Triniteit?
- Hoe neem ons deel?
Ons luister na ’n gebed’s vertaling vanuit St Patrick’s Breastplate:
Christus met my, Christus in my,
Christus agter my, Christus voor my,
Christus langs my, Christus om my te wen,
Christus om my te troos en te vernuwe,
Christus onder my, Christus bokant my,
Christus in stilte, Christus in gevaar,
Christus in die hart van almal wat my liefhet,
Christus in die mond van vriend en vreemdeling.
Amen.