Dagstuk | Saterdag 18 Mei 2024
Dagstuk | Vrydag 17 Mei 2024
Vandag is Vrydag 17 Mei en ons reis die week saam oor hoe ons as God se kinders kan lewe met die Heilige Gees binne ons.
Ons het deur die week gehoor dat ons nie meer na die tabernakel of na die tempel hoef te reis om God se teenwoordigheid te ervaar nie, maar dat ons na mekaar kan draai en bymekaar van God kan leer. Ons het ook geleer dat elkeen van ons ’n gawe en talent van God ontvang het wat ons saam met mekaar en saam met God kan gebruik om Sy Koninkryk op aarde te bou. Ons het nagedink oor die vrugte van die gees en dat dit beteken dat ons in Jesus se voetspore moet volg. Gister het ons onsself weer herinner dat omdat ons die Heilige Gees in ons harte het, het ons die verantwoordelikheid om die Goeie Nuus, die Evangelie van God, aan mense te verkondig en dat ons dit deur dade kan doen. Vandag gaan ons leer hoe om met die liefde van God te lewe. Die Here het aan ons die Heilige Gees gegee as ’n gids om ons op die regte pad te hou en te help om in die voetspore van Jesus te loop.
Kom ons lees 1 Korintiërs 13:4-7:
4Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. 7Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Paulus het hierdie teks geskryf om vir mense te vertel wat liefde regtig behels. Liefde is geduldig, dit is vriendelik, dit is diep, dit staan op teen onreg en praat die waarheid. Jesus het vir ons op aarde kom wys hoe God wil hê ons moet lewe en hoe ons dus ander mense met liefde en genade moet hanteer en omdat ons die Heilige Gees in ons harte het, moet ons na Hom luister. Die Heilige Gees is daar om ons op die regte pad te hou en ons te lei om in Jesus se voetspore te loop en mense met dieselfde liefde en respek te behandel soos Jesus ander mense behandel het. 1 Korintiërs 13:4-7 help ons om te besef dat liefde baie meer vereis as om te sê ons is lief vir iemand, dit behels dat ons in ongemaklike omstandighede inbeweeg waar ons vriendelik en geduldig moet teenoor mekaar moet wees, al is dit moeilik. Ons moet op staan teen die onreg wat by die werk, skool of ander enige plek voorkom, om mense te vergewe en om met nederigheid op te tree. Liefde beteken om werklik in Jesus se voetspore te loop, al is dit moeilik.
Moeder Teresa het geskryf: If we have no peace, it is because we have forgotten that we belong to each other.
Moeder Teresa sê dat ons moet ten alle tye moet onthou dat ons almal deel vorm van een familie van God, deel van een Liggaam van Christus en dat ons mekaar moet hanteer met dieselfe liefde as wat jy jou eie familielede hanteer.
Kom ons bid saam:
Here dankie vir alles wat U vir ons doen. Dankie dat U die Heilige Gees vir ons gegee het sodat ons kan weet dat ons nooit alleen is nie en Here lei ons om op die regte pad te bly en om orals u liefde en genade te hanteer.
Amen
Dagstuk | Donderdag 16 Mei 2024
Vandag is Donderdag 16 Mei en ons reis die week saam oor hoe ons as God se kinders kan lewe met die Heilige Gees binne ons.
Ons het Maandag gehoor dat ons nie meer na die tempel of tabernakel hoef te reis om God se teenwoordigheid te ervaar nie, maar dat ons met die uitstorting van die Heilige Gees nou self met God kan praat en ook na mekaar en na die Bybel kan draai om van God te leer en iets van sy teenwoordigheid te ervaar. Ons het Dinsdag bietjie saam gereis oor die feit dat elkeen van ons ’n gawe en ’n talent van God ontvang het wat ons met die hulp van die Heilige Gees kan gebruik om saam met ander en saam met God, Sy Koninkryk op aarde te bou. Gister het ons gereflekteer oor die vrugte van die Gees en dat ons daagliks daarna moet strewe om die vrugte aan die wêreld oor te dra – al is dit hoe moeilik. Vandag gaan ons gesels oor die feit dat met die uitstorting van die Heilige Gees het God dit moontlik gemaak dat almal in sy Koninkryk welkom is.
Kom ons lees Efesiërs 3:5-6 saam:
5Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.
Deur die teks dra Paulus oor dat almal welkom is om deel te vorm van die liggaam van Christus. Dit beteken dus dat ek en jy die verantwoordelikheid het om mense te vertel van die Goeie Nuus van God en dat Hy almal oneindig baie lief het.
Saint Francis van Assisi sê die volgende: Preach the Gospel at all times. Use words if necessary. Ons dade en die manier hoe ons ander mense hanteer moet iets van God se liefde en genade weerspieël. Die Heilige Gees is in ons geplaas om ons te help hoe om reg te op te tree en dus help die Heilige Gees ons om in Jesus se voetspore te loop en almal met liefde en respek te behandel, want almal is welkom by God se partytjie. Dit is juis deur ons dade wat ons vir mense van Jesus kan vertel wat dalk nie vir Jesus ken nie. Ek het ’n storie gehoor van ’n Christen meisie wat vriendinne was met ’n Moslem meisie en op ’n dag kyk die Moslem meisie na die Christen meisie en vra vir haar, wat maak jou so gelukkig, want daar is iets anders aan jou. Die Christen meisie sê toe, wat haar so gelukkig maak is Jesus en die gesprek het daartoe aanleiding gegee dat die Moslem meisie en haar hele gesin tot bekering gekom het. Die Christen meisie het geen woorde gebruik nie, haar menswees het die Moslem meisie bekeer. Mense moet Jesus ook deur ons dade kan sien. Soms is ons die enigste vorm van Jesus waarmee mense in aanraking kom.
Gebed:
Here, dankie vir U Here. Here dankie vir die Heilige Gees in ons harte. Dankie dat U ons so lief het dat U vir ons sondes aan die kruis gesterf het. Dankie vir al ons seëninge, vir ons gawes en talente. Here help ons om hierdie gawes en talente te gebruik ter eer van u naam, sodat ons mense van U kan vertel sodat hulle kan leer van u liefde. Here ek bid vir vrede,vir liefde en vir genade in almal van ons lewens.
Amen
Dagstuk | Woensdag 15 Mei 2024
Vandag is Woensdag 15 Mei en ons reis die week saam oor hoe ons as God se kinders kan lewe met die Heilige Gees binne ons.
Ons het Maandag gehoor dat mense na die tabernakel of na die tempel toe moes gaan om God se teenwoordigheid te ervaar, maar dat met die uitstoring van die Heilige Gees ons nou self met God kan praat en dat ons na mekaar toe kan draai en by mekaar van God kan leer en saam nader aan God groei en saam met God Sy Koninkryk op aarde uitbou. Gister het ons gesels oor die feit dat met die Heilige Gees het God ook aan ons verskillende gawes en talente gegee wat ons kan gebruik om Christus se liggaam te bou en sy Koninkryk op aarde te vestig. Ons het gehoor dat elkeen se gawe en talent belangrik is tot die opbouing van Christus se liggaam en dat geen talent of gawe belangriker as ’n ander een is nie.
Kom ons lees Galasiërs 5:22-26 saam:
22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.
Deur die teks probeer Paulus vir ons oordra dat as ons glo ons het die Heilige Gees in ons harte, moet ons strewe om in Jesus se voetspore te volg. Ons moet weg beweeg van die aardse dinge. Ons moet ons hart en siel gefokus hou op hoe God wil hê ons moet lewe. Ons moet mense met liefde en genade hanteer. Ons moet vriendelik en geduldig wees teenoor ander, al is dit hoe moeilik. Al maak mense ons by die werk kwaad, al is dit soms moeilik om geduld te betoon teenoor ander mense, is dit nodig, want die Here betoon geduld en liefde teenoor ons op ’n daaglikse basis. Hy het vir ons liefde betoon aan die kruis, liefde wat ons nie eintlik verdien nie en so moet ons ook ander mense hanteer. Om in die voetspore van die Here te loop, gaan nie altyd maklik wees nie, maar ons kan konstant probeer, want ons het die Heilige Gees binne en rondom ons wat ons op ’n daaglikse basis help om in Jesus se voetspore te loop.
Ek wil ons uitdaag om na te dink oor waar ons die week meer met een van die vrugte van die gees moet leef.
Gebed:
Dankie Here vir die Heilige Gees binne in ons. Dankie dat U ons elke dag help om in U voetspore te loop. Dankie vir die liefde wat U vir ons kom wys het. Dankie vir die kruisiging. Dankie dat U ons onophoudelik lief het en vergewe al verdien ons dit nie altyd nie. Dankie Here vir al ons gawes en al ons seëninge en help ons om dit dié week uit te leef, sodat ons oor grense kan uitreik en mense met liefde en genade kan hanteer soos U ons daagliks hanteer.
Amen
Dagstuk | Dinsdag 14 Mei 2024
Vandag is Dinsdag 14 Mei en ons gaan die week saam reis en dink oor hoe ons as God se kinders kan lewe met die Heilige Gees binne ons.
Ons het gister gehoor dat in die Ou Testament was wind en vuur ’n teken van God se teenwoordigheid en dat die mense ver na die tabernakel moes reis om met God kontak te maak, maar met die uitstorting van die Heilige Gees het Jesus dit moontlik gemaak dat ons nie meer ver na die tabernakel hoef te reis nie, maar dat ons kan bid en ook na mekaar toe kan draai, omdat ons almal gevul is met die Heilige Gees en van mekaar by God leer.
Kom ons lees 1 Korintiërs 12:21-27
21Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, 23en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak, 24terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. 26As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. 27Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan.
God het vir almal verskillende gawes en talente gegee en hierdie teks maak ons daarvan bewus dat elkeen van ons vir God belangrik is en dat ons met die gawes wat God vir ons gegee het saam die Koninkryk van God kan bou en ander kan dien. Die teks beklemtoon ook dat geen gawe belangriker as ’n ander is nie, maar dat elkeen ewe belangrik vir God is. By die werk, in die klas of by die huis kan ons die gawes en talente wat God ons mee geseën het saam, ter eer van Sy naam, gebruik. Die teks maak aan ons bekend dat almal se gawes vir God ewe belangrik is, want almal speel ’n ewe belangrike rol in Christus se liggaam. Niemand se gawes is belangriker as iemand anders sin nie. Soms voel ons dat ons gawes nie goed genoeg is nie, of dat ons geen verskil kan maak nie, maar die teks kom bevestig dat ons met die Heilige Gees in ons harte en die gawes en talente waarmee God ons geseën het wel ’n verskil in die wêreld kan maak. God het jou geroep met jou spesifieke gawes en talente om saam met ander en saam met Hom, Sy Koninkryk op aarde te bou.
Ek wil julle uitdaag om na te dink wat is die gawe, of talent waarmee God jou geseën het en om vir God te vra hoe jy dit gebruik ter eer en die opbou van God se Koninkryk kan gebruik?
Gebed:
Here, dankie dat U aan ons die Heilige Gees gegee het sodat ons weet dat U altyd by ons is. Here dankie vir die gawes en talente waarmee U my geseën het. Here help my om die gawes en talente te gebruik om u Koninkryk op te bou. Help my om te besef dat ek ook spesiaal is in u Koninkryk en dat ek saam met ander my gawes kan gebruik om u lig aan die wêreld uit te staal en u Koninkryk op aarde te bou.
Amen
Dagstuk | Maandag 13 Mei 2024
Dit is Maandag 13 Mei en in hierdie week is Pinkster en elke dag stap ons nader aan Pinksterfees, van komende Sondag. Die woord Pinkster is afgelei van die woord Pentecost, soos dit in Engels genoem word en wat vanuit Grieks as vyftigste, vetaal word. Die rede hiervoor is omdat die Pinksterfees, waar Jesus die Heilige Gees aan die mense uitgestort het, 50 dae na Paassondag plaasgevind het. Van Ou Testamentiese tye af was wind en vuur as ’n simbool van God se teenwoordigheid gesien. Dink net terug aan God wat met Moses deur die brandende bos praat en die wolk en vuurkolom wat die Israelite uit Egipte na die beloofteland gelei het.
So hierdie week gaan ons bietjie fokus op wat dit vir ons beteken dat Jesus aan ons die Heilige Gees as geskenk gegee het en hoe moet ons dus lewe as mense wat die Heilige Gees in hul harte het.
Kom ons lees Handelinge 2:1 tot 4
Die uitstorting van die Heilige Gees
1Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.
Die teks vertel ons mee van hoe dit gelyk het toe die mense op Pinksterfees met die Heilige Gees vervul was. Dit verduidelik dat mense ’n geweldige stormwind gevoel het wat die vertrek gevul het en dat daar iets soos vuur op elkeen neergedaal het. Beide die vuur en die wind was in die Ou Testament ’n simbool van God se teenwoordigheid. God het besluit dat Hy ’n ruimte wil skep waar mense met Hom kontak kan maak en daarom het hy die Israeliete beveel om die Tabernakel te bou waar Hy dan toe in die vorm van ’n vlam verskyn het. Maar Jesus het dit moontlik gemaak dat ek en jy nie meer na die tabernakel hoef te reis om met God te kontak te maak nie – ons kan nou omdat ons met die Heilige Gees gevul is, na mekaar toe draai en bymekaar iets leer van God se Koninkryk. Die Pinksterfees is ’n herhinnering dat God ons nooit alleen los nie en dat HY altyd hier binne ons harte en in die mense om ons se harte is. Die Pinksterfees is ’n herinnering dat ons werklik nader aan God kan groei, deur nader aan mekaar te groei en dus op so ’n manier saam met God sy Koninkryk op aarde bou.
Gebed:
Dankie Here dat U vir ons die Heilige Gees gestuur het. Dankie dat ons weet dat U altyd in ons harte is en ons nooit alleen los nie. Dankie dat ons na mekaar kan draai en van u Koninkryk kan leer. Here help my om die week wanneer dit moeilik gaan te weet dat U altyd by my is en dat ek medegelowiges het wat my ook kan bystaan.
Amen
Dagstuk | Saterdag 11 Mei 2024
Teks: Johannes 11:25
25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;
GEDAGTE
Lasarus was siek, maar Jesus wag nog twee dae in die dorp voordat Hy vertrek om na hom toe te gaan. Teen die tyd dat Hy daar aankom, is Lasarus reeds die vierde dag dood en begrawe. Marta en Maria dink altwee dat Jesus vir Lasarus kon red toe hy nog gelewe het, maar Jesus wil aan almal wys dat Hy ook mag oor lewe en dood het. Jesus huil saam met sy vriende omdat hy hulle hartseer verstaan en beleef, maar Hy sê: “Ek is die opstanding en die lewe”. Jesus self is die bron van lewe. Hy verander ook die definisie van ware lewe. “Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
Om in Jesus te glo is ware lewe, om in verhouding met Hom te lewe is om waarlik te bestaan. Sonder Hom kan jy dalk biologies lewe maar geestelik morsdood wees. Deur Hom kan jy biologies sterf, maar ewig bly lewe!
Hierdie wete laat ons ook anders hier op aarde lewe. Ons is nie hooploos, moedeloos en raadop nie.
Jesus laat ons nooit alleen nie – selfs nie in die graf nie. Jesus se sorg gaan oor ons lewe hier op aarde. Dis duidelik uit sy wonderwerke. Maar sy sorg is so omvattend dat Hy ons selfs nie in die graf alleen laat nie. Selfs wanneer ons sterwe, sal ons saam met Hom opstaan.
GEBED
Here Jesus, dankie dat ek ’n nuwe mens is wat voluit kan lewe met hoop, krag en met vrede, omdat U my so liefhet. Dankie dat ek ook eendag saam met U sal opstaan en in u heerskapy sal deel. Amen
Dagstuk | Vrydag 10 Mei 2024
Teks: Johannes 10:11
11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
GEDAGTE
As Jesus hier in Johannes 10 die herderskap op Homself van toepassing maak, as die Goeie Herder stel Hy ’n alternatief op die leierskap van daardie tyd. Jesus se leierskap word deur diensbaarheid geillustreer – een wat ander se voete was. Anders as die leiers van Israel, is Hy die Goeie Herder, want Hy gee om vir God se mense soos ’n goeie herder vir sy skape omgee. Hy het die mense lief. Hy spandeer tyd om na hulle te luister. Hy vergewe hulle en herstel hulle menswaardigheid. Hy help hulle om op God te fokus en bemagtig hulle om voluit te leef!
Jesus is die goeie herder‚ want “Hy roep sy skape op hulle name.” Twee keer sê Hy: “Ek ken my skape” . Vir Jesus as leier het dit nie net gegaan oor leierskap en beheer nie, maar Hy kom stel ’n alternatief. Dit is om ’n persoonlike verhouding met Sy volgelinge te hê. Vir die Joodse leiers het dit egter daaroor gegaan dat hulle die wet wou afdwing asook oor mag en beheer. Vir Jesus gaan dit oor ’n liefdesverhouding.
Dit herinner ons aan Jesaja 43:1: “Ek het jou op jou naam geroep‚ jy is Myne.” . God die Vader wil nie net ’n Heerser wees wat mag op ons afdwing nie. Nee, deur die Here Jesus wil Hy vir ons ’n Herder wees wat ons liefdevol lei. ’n Herder wat ons elkeen op die naam ken en wat deeglik bewus is van elkeen se omstandighede en jou hartseer, pyn, bekommernisse ken. Hy ken dus hulle name sowel as hul omstandighede tot in die fynste besonderhede. Sy “ken” is nie ’n kennisneem of net ’n koue rasionele weet van ons nie. Sy “ken” is so onbeskryflik intiem soos wat die verhouding tussen God en sy Seun is. Hy weet wat elkeen van sy skape nodig het en voorsien met liefdevolle sorg in elkeen se behoeftes
Die Goeie Herder weet wie ek is..
In die Goeie Herder se hande is ek veilig.
Die Goeie Herder wat inklusief is.
Die Goeie Herder wat Sy lewe vir my aflê.
Wees stil en weet dat die Goeie Herder is in beheer.
Wees stil en weet dat die Goeie Herder weet van jou pyn en jou donkerste nag.
Wees stil en weet dat jy met jou kommer en vrees na die Goeie Herder toe kan gaan.
Wees stil en weet…….
GEBED
Dankie Here dat U my Herder is en my lei.
Amen
Dagstuk | Donderdag 9 Mei 2024
Teks: Johannes 10:9
9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.
GEDAGTE
Toe Jesus gesê het dat Hy die ingang is, het Hy bedoel dat Hy alleen die ware weg na die Vader is en dat die skape deur Hom na die Vader moes gaan. Hierdie ingang is soos ’n deurgang wat altyd oopstaan, maar wat tog die enigste ingang tot hierdie kraal is. Met hierdie woorde beklemtoon Jesus dit, dat daar geen ander manier is om redding te vind as deur Hóm nie.
Dit is vir Christus so ’n ernstige saak dat Hy, volgens die Griekse teks, by altwee geleenthede sê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Ek, is die ingang.” Die dubbele “amen” beteken: Dit staan vas, dit is werklik so. “Dit verseker Ek julle. . .”
Nie ander godsdienste nie, nie mense se goeie dade nie, nie ’n voorbeeldige lewe nie, nie kerklidmaatskap nie. . . of wat ookal, kan jou red nie. Christus se dubbele beklemtoning dat nét Hý die ingang is, trek ’n dik streep deur alle ander manière om die ewige saligheid te verkry.
God wil jou red, maar jy moet bereid wees om jou te laat red, deur in te gaan deur die ingang – Jesus Christus, self. Jesus sê: “As iemand deur My ingaan sal hy gered word.” Iemand wat deur Christus, die ingang, of toegang verkry het tot die kraal waarin God se kinders is, word nie net gered nie, maar ook bewaar. Jesus bring ons nie net veilig in die kraal nie, maar Hy beskut ons ook as ons reeds daarbinne is.
GEBED
Here ek bid vir alle mense wat nog nie die ingang gevind het na die ewige lewe nie. Mag U hulle genadig wees om dit te vind. Amen.
Dagstuk | Woensdag 8 Mei 2024
Teks: Johannes 6:35
” 35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.
GEDAGTE
Hierdie teks vorm deel van die wonderwerk waar Jesus die brood en vissies vermeerder. Dis die bekende wonderwerk waar, kos vir die 5000 mense gegee word deur slegs vyf brode en twee vissies te vermeerder. Dit word in al vier Evangelies beskryf.
Waarom juis die wonderwerk? Vers 35 sê: Jesus het die mense liggaamlik gevoed, maar dis ’n teken/simbool dat Jesus die brood van die lewe is. Wat bedoel die Here? Ek is die brood van die lewe. In die Ou Nabye Ooste het brood veel meer beteken as vir ons. Vleis was ’n luukse. Brood was die kos en daarom was dit geïdentifiseer met lewe self. Jesus leer ons bid vir ons daaglikse brood. Brood omsluit alles wat ons nodig het om te lewe
Dink vir een oomblik saam aan al die betekenisvolle oomblikke in die Bybel wat rondom brood gehandel het. Ek dink aan die Eksodus gebeurtenis. Daar was hongersnood in hulle land en brood was broodnodig. En hulle migreer na Egipte as gevolg van ’n knellende droogte en misoes. In die land van Farao is daar ’n oormaat in voorraad.
En later toe die Jode op pad was na die Beloofde land was hulle gekonfronteer met hongersnood in die woestyn. En vanuit die hemel laat God brood reën. Brood wat manna genoem was.
In die Nuwe Testament gaan ons saam met Jesus woestyn toe. Jesus begin met sy bediening en Hy word deur die duiwel beproef. Die duiwel versoek Jesus om die woestynklippe in brode te verander sodat Hy kan eet. Tog, weerstaan Jesus die versoeking en sê dat mens nie alleen van brood leef nie.
In die Onse Vader leer Jesus sy dissipels om te bid. “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”
Ook die aand voor die kruisiging. Toe Jesus brood geneem en gebreek het en gesê het, dit is my liggaam, gebreek vir julle, tot ’n volkome versoening vir al julle sonde.
Brood is dikwels mense se grootste voedselbron. Wanneer Jesus Homself die Brood van die lewe noem, sê Hy vir ons dat Hy die Bron is van alles wat ons ooit mag nodig kry. Wanneer iemand die Brood van die lewe eet, wat eenvoudig beteken om in Hom as Verlosser te glo, word hulle weergebore. Hy stil dan hulle geestelike honger met Homself.
GEBED
Here gee my asseblief die brood van die ewige lewe.
Amen