Gedagte vir die dag | Dinsdag 1 Augustus 2023
Filippense 1:20-21. Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waarvoor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos ook nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.
Wat sou dit beteken om toegewyd aan God te leef? Godsdienstige toewyding het altyd die manier om ons skuldig te laat voel omdat ons nie by die kerk, gebed en studie van die Bybel uitkom soos wat ons moet nie. In vandag se teksgedeelte gee Paulus vir ons ‘n besondere perspektief op hoe ‘n toegewyde lewe lyk. Dit is nie ‘n taak of opdrag nie, maar ‘n vrymoedigheid wat die Here in ons kom wakker maak om God deur ons hele lewe te verheerlik. Dit begin met die ontdekking, of die besef dat God ons met baie spesifieke gawes en vermoëns geseën het. Toewyding is nie iets waartoe ons gedwing word nie, dit is iets wat die Heilige Gees spontaan in ons na vore bring en wat ons aan spoor om van die kerk deel te wil wees en ons in gebed en studie te wil verdiep. Hoe is die Heilige Gees besig om in hierdie tyd hierdie vrymoedigheid in jou los te maak? Op watter pad wil die Here jou neem?
Gebed
Here, met vandag se sonsopkoms bid ek dat U my sal seën met die wysheid en krag om U wil te ken en te doen; sodat ek saans met sononder vreugdevol kan gaan rus in die wete dat ek die dag wat verby is ten volle geleef het. Inspireer my in hierdie dag om met die vrymoedigheid wat U Gees in my bring te leef en elke oomblik van hierdie dag as ’n gawe uit U hand kan sien.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 31 Julie 2023
Ons gaan vir die volgende week se dagstukkies gedeeltes van Paulus se brief aan die gemeente in Filippi lees.
Filippense 1:9-10. Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.
Wanneer ons belangrike besluite neem is dit belangrik om die regte inligting byderhand te hê en die nodige advies van mense met kundigheid in te win. In die gemeente in Filippi was daar onderlinge spanning en onenigheid omdat gelowiges se bronne van informasie en hulle interpretasie daaroor met mekaar verskil het. As gevolg daarvan het hulle gesprekke dooie punte bereik en het hulle verhoudinge skade gelei. Hierdie situasie kom vandag nog gereeld onder gelowiges in gemeentes, families, gesinne en vriende voor wanneer ons met mekaar se verskille te doen kry. Vandag se teks herinner ons aan ‘n belangrike waarheid. Dat ons standpunte en opinies wat op informasie gegrond is nie die bepalende faktor is wanneer dit by besluitneming uitkom nie, maar wel die liefde van Christus. Dit sluit geen mens uit nie en bring ons op dieselfde plek om nuwe oplossing te verken. Paulus se oproep is nie dat ons kennis oor ‘n saak sal verdiep nie, maar dat ons God se liefde kans sal gee om in ons ‘n begrip en fyn aanvoeling te kweek vir dit wat werklik saak maak. Wat staan in jou pad dat die Here in hierdie tyd ons so van binne kan kom raak en verander? Hoe is die Here se liefde besig om deur ingewikkelde kwessies in jou lewe deur te breek?
Gebed
Here, laat die geur van U teenwoordigheid versprei oral waar ons gaan. Versadig ons gees met U liefde en lig; deurdring ons lewe so volkome met die glans van U lig dat dié wat met ons in aanraking kom, bewus mag word van die warmte en heil van U teenwoordigheid wat ons na dieper insigte lei. Help ons Here om in die spanning van soveel opinies en oortuigings vandag te onderskei tussen dinge wat in my lewe afspeel en waarop dit werklik neerkom. Dankie dat U dinge wat kompleks en moeilik is op eenvoudige maniere vir ons kom oopbreek. Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 29 Julie 2023
Ons kuier vandag by die laaste vrou. Dit is Hanna
Lees: 1 Samuel 1:1-28
Teks: 1 Samuel 1:11 “Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”
GEDAGTE
Die meeste van ons ken Hanna deur haar seun, die profeet, Samuel. Hanna het as ’n onvrugbare vrou geleef in ’n tyd wat die volk geestelike onvrugbaarheid beleef het. Haar oplossing was gebrokenheid voor die Here. Hanna was een van Elkana se twee vroue. Penina het kinders gehad en Hanna geen. Penina het Hanna se kinderloosheid gebruik om haar te spot. Hanna het haar hart voor God uitgestort. Ons lees dat sy bitter hartseer geword het. Letterlik ook bitter in haar siel geraak het. Hierdie keer wanneer Hanna haar hart voor God uitstort fokus sy nie op haar onvrugbaarheid nie, maar eerder op die Here. Hanna bid uit ’n gebroke en berouvolle hart tot God. Sy weet dat God by magte is om aan haar kinders te gee indien Hy so sou besluit. Hanna het gebid dat die Here haar nie moet vergeet nie. En Hy het inderdaad nie. Die Here het haar versoek onthou en haar op haar tyd laat swanger raak. Sy ontvang ’n seun en noem hom Samuel wat beteken:”van die Here het ek Hom af gesmeek”.
Kom ons kyk vandag in die spieël en vra onsself af watter onvrugbaarheid is daar in ons lewens? Daar is net twee moontlikhede as ons onvrugbaarheid in ons lewens beleef – ons kan die pad van bitterheid kies, of die pad van gebrokenheid voor die Here. By watter kruispad bevind jy jou? As God soms onvrugbaarheid in ons lewens toelaat hetsy dit deur ons gesondheid, finansies of watter krisis ookal is, is dit nooit om ons te benadeel nie. Hy wil ons waarskynlik nader trek aan Hom. Waarom stort jy nie ook soos Hanna jou hart uit voor die Here nie?
GEBED
Hemelse God en Vader, ek plaas vandag my onvrugbaarheid voor U neer. Sal U my asseblief daarmee help en my daardeur lei. Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 28 Julie 2023
Die volgende paar dae gaan ons by ‘n paar vroue van die Bybel kuier. Kom reis saam met my en hoor wat die Here ook deur hulle verhale vir ons wil leer.
Lees: Rut hoofstukke 1 tot 4
Teks: Rut 3:9 “Hy vra toe vir haar: “Wie is jy?” en sy antwoord: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser; neem my nou onder u beskerming.”
GEDAGTE
Die verhaal van Rut is die verhaal van ’n vrou wat gekies het om die Here God van Israel te volg en gevind het dat Hy vol medelye en getrou is. Rut het gesien dat die Here betrokke is by die klein gebeurtenisse van ’n mens se lewe. Die verhaal van Rut, die Moabitiese vrou begin met ’n hongersnood wat in Bethlehem uitbreek. Elimelek, sy vrou Naomi en hulle seuns vertrek na Moab. Na ’n tydperk in Moab sterf Elimelek en Naomi se twee seuns. Naomi besluit om terug te keer na haar land. Rut word die skoondogter wat besluit om by haar skoonma te bly en saam met haar terug te keer na Bethlehem. Rut het gekies om deel te word van Naomi se lewe en daarmee saam ook God se volk, Op ’n besondere manier kruis Boas en Rut se paaie en so is Rut en Naomi verseker van ’n toekoms.
In Rut se verhaal sien ons hoe God gewone mense gebruik om buitengewone planne uit te voer. God werk op ’n besondere manier om Sy doel te bereik. Deur rampe, voorspoed rn deur verskillende verhoudings en gebeurtenisse heen, is Hy altyd aan die werk om Sy doel te bereik. Hy werk vandag steeds so. Net soos ons oorvloedige genade sien deur die losser Boas, sien ons oorvloedige genade deur ons Verlosser, Jesus Christus.
GEBED
Hemelse God en Vader, dankie vir ons Verlosser, Jesus Christus wat vandag nog deel van ons lewens is. Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 27 Julie 2023
Die volgende paar dae gaan ons by ’n paar vroue van die Bybel kuier. Kom reis saam met my en hoor wat die Here ook deur hulle verhale vir ons wil leer.
Teks: Rigters 4:4-5. In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was ‘n profetes. 5Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê.
GEDAGTE
In ’n donker tyd in Israel se geskiedenis was Debora ’n ligbaken van vertroue in God se mag om te red en ’n herinnering aan Sy verbondsliefde. In Joshua se tyd het die volk die een oorwinning na die ander beleef, maar in die tyd van die Rigters was dit die een neerlaag op die ander. God het beproewings gebruik om hulle na Hom terug te roep. Juis in hierdie slegte tyd roep die Here vir Debora om as leier en profetes van die volk op te tree. God gebruik Debora om boodskappe na Sy volk te stuur. Daar is drie redes hoekom God Debora as leier van die volk gekies het. Hy het haar gekies oor haar swakheid, haar getrouheid en haar beskikbaarheid. Daar was niks wat sy op daardie stadium aan die volk se situasie kon doen nie. Maar te midde van haar eie swakheid het God haar versterk om haar volk te bemoedig en te lei. Debora was ’n vrou wat getrou was aan haar volk en haar God. Sy het die wil van God respekteer en was ook beskikbaar om deur God gebruik te word.
Debora het haar volk getrou as rigter gedien: as oplosser van probleme, as hersteller van verhoudings en as raadgewer. Deur Debora sien ons dat God ons ook wil gebruik, maar ons moet verstaan dat dit volgens God se riglyne moet gebeur. So kan God ons dan op ’n sekere manier gebruik. Die vraag is net of ek getrou en beskikbaar is? Waar en hoe wil die Here jou gebruik?
GEBED
Hemelse God en Vader, hier is ek. Gebruik my in U koninkryk en tot die eer van U Naam. Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 26 Julie 2023
Die volgende paar dae gaan ons by ‘n paar vroue van die Bybel kuier. Kom reis saam met my en hoor wat die Here ook deur hulle verhale vir ons wil leer.
Teks: Joshua 2: 12-13 12“Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my ‘n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my ‘n betroubare aanduiding 13dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.”
GEDAGTE
Ragab was ’n prostituut. Sy het in ’n heidense Kanaanitiese kultuur van Jerigo met al sy afgode aanbidding groot geword. Tog het sy verhale gehoor van ’n volk wie se God hulle met magtige wonderwerke uit Egipte bevry het. Toe Ragab gehoor het van die magtige dade wat God vir Israel gedoen het, is daar ’n saadjie van geloof in haar geplant. Dit was dan ook hierdie einste volk wat haar stad sou oorneem. Sy speel ’n sleutelrol toe Josua die verkenners instuur om die stad te verken. Ragab gee aan die verkenners beskerming toe hulle die land inkom om dit te verken. Sy het geweet dat die God van die Jode die enigste ware God is en dat Hy ook hierdie stad in hulle hande sou oorgee. As gevolg van haar getrouheid aan God se volk, beloof hulle om haar te beskerm as hulle die stad aanval. Om aanspraak op hierdie beskerming te maak, moes sy ’n rooi tou by haar venster uithang waar sy die verkenners laat uitglip het. Tydens die inval word Ragab en almal wat in haar huis is, se lewens gespaar.
Ragab word drie keer in die Nuwe Testament genoem. Elke keer in verband met haar geloof. Watter soort geloof is reddende geloof? Dit is geloof wat nie slegs op intellektuele instemming berus nie. Jakobus noem aan ons dat geloof in God tog moet oorgaan in goeie werke. Ragab het deur haar optrede bewys dat sy werklik glo in God. Ons staan slegs uit genade voor God, maar God roep ons om deur hierdie genade goed te doen aan ander. God wil hê ons geloof moet vrug dra in ons lewens.
GEBED
Hemelse God en Vader my geloof is dikwels so klein. Help my om te groei in my geloof.
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 25 Julie 2023
Die volgende paar dae gaan ons by ‘n paar vroue van die Bybel kuier. Kom reis saam met my en hoor wat die Here ook deur hulle verhale vir ons wil leer.
Lees: Exodus 2:1-10
Teks: Exodus 15:20-21 20. Mirjam die profetes, suster van Aäron, het ‘n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans. 21Mirjam het vir hulle voorgesing: “Sing tot eer van die Here omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die see geslinger.”
GEDAGTE
Iemand het eenkeer gesê: “Die moeilikeste instrument om te bespeel is tweede viool.” En dis die plek wat God aan Mirjam toegeken het. Hoewel Mijam die oudste kind in die gesin was, het Mirjam grootgeword in die skadu van haar twee jonger broers Aaron en Moses. Vroeg in haar lewe moes sy Moses, toe hy nog ’n klein babatjie was, en waar sy ma hom in ‘n biesiemandjie op die Nylrivier gelos het, op pas. Die babaseuntjie wat Mirjam opgepas het sou grootword en die eerste vyf boeke van die Bybel skryf. Hy sou 40 jaar lank die bemiddelaar tussen God en sy volk wees.
Na Mirjam se rol as oppasser van die baba Moses hoor ons niks verder van haar lewe nie, tot na die uittog uit Egipte. Terwyl Moses en die mans die bevrydingslied sing, begelei Mirjam die vroue met tamboeryn en danse om God te eer. Wat wel duidelik uitstaan in hierdie paar verse is dat Mirjam as ’n leier onder die vroue beskou word.
Mirjam het egter bitterheid in haar hart rond gedra. Sy gee uiting aan haar bitterheid deur haar broer, Moses, openlik aan te val en hom in die verleentheid te bring. Sy het haar broer gekritiseer en aangeval in plaas daarvan om hom as leier te ondersteun. Die gevolg van haar sonde is dat sy melaats raak. Moses het toe die Here aangeroep en vir Mirjam se genesing gebid. Mirjam het gesond geraak.
Mirjam het geworstel met Moses se gesag. Ek weet ons het vandag ook baie uitdagings met ons leierskap in ons land. Tog bly dit ons plig om vir hulle te bid al stem ons nie saam met hoe hulle ons land bestuur nie.
GEBED
Hemelse God en Vader. Ek wil vandag veral kom intree vir die leiers van ons land. Seen hulle asb met wysheid. Lei hulle om ons land goed te bestuur.
Gedagte vir die dag | Maandag 24 Julie 2023
Die volgende paar dae gaan ons by ’n paar vroue van die Bybel kuier. Kom reis saam met my en hoor wat die Here ook deur hulle verhale vir ons wil leer.
Genesis 16:3 Abram was al tien jaar in Kanaän toe Sarai, die vrou van Abram, self vir Hagar, haar Egiptiese slavin, gevat en vir haar man Abram as vrou gegee het.
GEDAGTE
Iemand het eenkeer gesê: “Agter elke uitmuntende man is daar ’n uitmuntende vrou”. So ’n vrou was Sara. Deur Abraham en Sara het God vir Hom ’n volk bymekaar gemaak. Sy het haar man na Kanaan, Egipte en weer terug na Kanaan gevolg. Sy het hom ondersteun in sy uitdagende rol as leier van die volk.
Sara was egter onvrugbaar en kon nie kinders hê nie. Vir mense van Sara se tyd was dit ’n skande vir ’n vrou om kinderloos te wees. Daarom neem sy die drastiese stap om Hagar as “vrou” vir haar man te gee. In daardie tyd was dit ‘n algemene gebruik onder die Galdeërs waarvandaan hulle gekom het. Alhoewel dit nie God se plan vir Sara en Abraham was nie. Toe Hagar swanger raak het sy daarmee met by Sara begin spog en die gevolg daarvan was dat Sara haar sleg begin behandel het en Hagar uiteindelik gevlug het.
Maar God se belofte aan Abraham en Sara vir kinders het bly staan. Alhoewel Abraham en Sara al oud was, was dit steeds moontlik vir God om vir hulle kinders te gee. Onverwags ontvang Abraham en Sara drie besoekers en die besoekers bring aan hulle die boodskap dat Sara oor ’n jaar ‘n seun sal hê. God het ’n vasgestelde tyd bepaal waarop Isak gebore sou word. God doen wat Hy belowe het en Isak word gebore.
Uit Sara se verhaal kan ons leer van God se getrouheid. Dit wat Hy belowe het, voer Hy uit. Jy kan ook vandag hierdie belofte van God neem dat Hy jou nooit sal verlaat nie en saam met jou deur die lewe reis.
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat ek deur die verhaal van Sara weer bewus kan word van U getrouheid. Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 22 Julie 2023
Vandag is Saterdag 22 Julie en ons dink die week ’n bietjie na oor ons gebedslewe. Hierdie komende naweek wat voorlê is ons meer as 30 mans wat tyd saam gaan spandeer by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum in Wellington. Die sentrum van spiritualiteit is ’n gemeenskap van stilte, afsondering en gebed waar ons mekaar nooi om tot rus te kom en ons wortels in Christus te ontdek. Ons gaan hierdie week elke oggend ons refleksie oor gebed begin met die volgende aanhaling en uitnodiging van Andrew Murray:
“May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence. And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and his Love”.
Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:
- Hoe sal jy God se teenwoordigheid beskryf in jou lewe?
- Waarna toe nooi die Gees van God jou uit?
Kom ons luister na Rom 8:26-27 “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges”.
Die dissipels het Jesus dikwels gesien en gehoor bid. Hulle het waarskynlik gereeld gevoel hoe gebrekkig en tekort hulle skied ten opsigte van hulle kennis oor gebed. Ons almal weet hoe dit voel wanneer ons woorde opdroog tydens gebed . . .wanneer ons woorde ons ontgaan. Die dissipels het wel vas geglo dat Hy hulle kon leer om voortdurend, kragtig en opreg te bid soos Hy dit gedoen het. Laat ons, ons saam met die dissipels in die skool van gebed kom neerlê by die voete van Jesus. Andrew Murray bid . . . laat die stille, ootmoedige gebed gedurig uit ons hart opgaan. Here, leer my bid! Die Here kan ons deur Sy Gees voorsien van alles wat ons nodig het om te bid. Hy kan ons hart verlig sodat ons kan verstaan wat nog in ons duister is. Hy kan die begeerte en die drang vir gebed by ons opwek en wakker maak. Hy kan ons geloof versterk en gee ons die vrymoedigheid om kragtig te bid. Vanuit die hemel kan Hy, deur Sy Gees, Sy eie gebedslus in ons harte opwek.
Gebed van Andrew Murray: Here Jesus, leer my verstaan dat net soos U omgang met die Vader in die gebed, die heerlikste herinnering van U lewe op aarde was, U my ook wil leer hoe om tot Hom te nader en met Hom om te gaan. Here Jesus, ek vertrou op U. Ek bid U, wek tog in my hart die lus en krag tot die gebed. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 21 Julie 2023
Vandag is Vrydag 21 Julie en ons dink die week ’n bietjie na oor ons gebedslewe. Hierdie komende naweek wat voorlê is ons meer as 30 mans wat tyd saam gaan spandeer by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum in Wellington. Die sentrum van spiritualiteit is ’n gemeenskap van stilte, afsondering en gebed waar ons mekaar nooi om tot rus te kom en ons wortels in Christus te ontdek. Ons gaan hierdie week elke oggend ons refleksie oor gebed begin met die volgende aanhaling en uitnodiging van Andrew Murray:
“May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence. And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and his Love”.
Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:
- Hoe sal jy God se teenwoordigheid beskryf in jou lewe?
- Waarna toe nooi die Gees van God jou uit?
Kom ons luister na Jesaja 55:9 “…Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my gedagtes (hoër) as julle gedagtes.”
Hierdie moet dus ons gebed wees . . . dat God deur die Heilige Gees aan ons sal wys wat nog nie in ons hart opgekom het om te oordink nie. Meestal tussen ons soeke het ons maar ’n gebrekkige begrip, maar God kan vir ons betekenis oor Sy gedagtegang openbaar. Andrew Murray sê dat ons twee lesse behoort te leer, die een van onkunde, die ander van verwagting. Ons moet leer om na die woord te kom soos klein kindertjies. Jesus het gesê: U het hierdie dinge verberg vir wyse en verstandige mense en dit aan klein kindertjies geopenbaar. Mag ons dus saam aanhou soek na God se wil en openbaring in ons lewens. Filippense 1:9-11 sê: Ek bid dat julle nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waarop dit aankom te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.
Gebed: Here, ons smag en dors na U. Mag ons geduldig wag op U. Neem besit van ons hart en wys ons U gedagtes.
Amen.