GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Saterdag 12 Augustus 2023

Markus 16:1. 1Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.

Refleksie

Hierdie laaste refleksie vir die week oor verskillende vroue in die Bybel eindig by die drie vrouens wat vir Jesus gevolg het. As ons fyn oplet in die evangelies, dan word dit duidelik dat vroue ’n integrale rol gespeel het in Jesus se bediening op aarde. Hulle het vir Jesus ondersteun en Jesus het hulle deel gemaak van die hart van die Koninkryk van God wat Hy verkondig het. Terwyl ’n klomp van sy dissipels weggekruip het, of net weg gekyk het met Jesus se kruisdood, het die vrouens op ’n afstand bly kyk.

Op die Sondag na Jesus se dood, terwyl al die dissipels bang en verward en hopeloos was, het die drie vroue na Jesus se graf gegaan. Terwyl die dissipels gewonder het hoe hulle eie lewens gaan lyk na Jesus se dood, was die vroue se gedagtes by Jesus – by die versorging van sy liggaam. Selfs toe dit voel of alle hoop verlore is, het hulle vasgehou aan hulle liefde vir Jesus. Dit is dan ook natuurlik hulle wat by ’n leë graf aankom en die eerste getuies is van die opstanding van Jesus.

Hierdie verhaal herinner my aan twee dinge. Ons “daar-wees” in die wêreld is belangrik. Hoewel die vroue dikwels nie soos Petrus of Johannes op die voorgrond van Jesus se verhaal was nie, was hulle daar. Hulle was die stille getuies van alles wat gebeur het. Partykeer is ons daar-wees genoeg, partykeer hoef ons niks te sê of te doen nie, maar moet ons net teenwoordig wees.

Tweedens, die vroue het lief gebly vir Jesus, selfs in die mees hopelose tyd van die kruis. Moeder Theresa het gesê: “Love, in order to be genuine, does not have to be extraordinary, what we need is to love without getting tired.” Die vroue het nie moeg geword om vir Jesus lief te wees nie.

Mag ons ook leer om lief te hê, sonder om moeg te word, veral in die tye waartydens dit moeilik word.

Gebed

Here, help ons vandag om daar te wees vir U en vir ander. Nie om iets asemrowend te doen nie, maar om eenvoudig daar te wees. Help ons om lief te hê. Nie net wanneer ons so voel nie, maar laat ons liefhê sonder om moeg te word, die tipe liefde wat ons sien by die drie vroue een vroegoggend by die graf van Jesus Christus.

Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 10 Augustus 2023

 

1 Sam 2:4 Hanna: 4“Die boog van die magtiges is verbreek, dié wat gestruikel het, het nuwe krag gekry. 5Wie versadig was, moet hulle nou vir brood verhuur, wie honger was, het oorgenoeg om te eet. Die onvrugbare bring sewe in die wêreld, die een met baie kinders kwyn weg.

Refleksie

Hanna se lied kom uit ’n plek van afhanklikheid, ’n plek waar sy vir die Here gesmeek het om vir haar ’n uitkoms te gee. Dink gou vir ’n oomblik, van wat of wie is jy elke dag afhanklik om jou lewe te leef? Watter van hierdie aanvaar jy dalk as vanselfsprekend? Waarvan dink jy behoort ’n mens in afhanklikheid te leef?

Hanna se loflied maak dit duidelik en herinner ons dat almal afhanklik is van die Here. Die Here is die een wat die boog van magtiges breek en aan die wat struikel nuwe krag gee. As ons rondom ons kyk kan ons maklik raaksien wie mag het en wie struikel, wie honger is en wie genoeg het om te eet. Hanna herinner ons om hierdie dinge nie as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar te besef dat elkeen afhanklik is van die Here en dat die lewe skielik verander. Ons moet dus versigtig wees om iemand se waarde te koppel aan mag of magteloosheid. Sy sing die lied uit ’n plek van iemand wat magteloos was, maar deur die Here nuwe krag en nuwe lewe gekry het. Dit is vir ons ’n bemoediging dat die Here altyd nuwe lewe moontlik kan maak, selfs in die moeilikste omstandighede.

Hoe voel jy vandag? Voel jy soos iemand wat magtig is, wat nuwe krag het? Voel jy versadig en bevredig? Sê in afhanklikheid vir die Here dankie vir hoe die Here jou geseën het en vra hoe jy jou krag kan gebruik om ook ander te seën.

Voel jy dalk soos iemand wat magteloos is, of wat struikel? Voel jy soos iemand wat wegkwyn? Maak jou hart teenoor die Here oop en bid Hanna se lied in afhanklikheid as ’n gebed van hoop vir die nuwe lewe wat die Here ook vir jou kan moontlik maak.

Gebed

Here, U wat die boog van die magtiges verbreek, U wat nuwe krag gee aan die wat gestruikel het. U wat gee en neem. Help ons om vandag in afhanklikheid van U te leef. Dankie vir alles wat U vir ons voorsien uit U genade.

Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 9 Augustus 2023

Rigters 5:7. Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ‘n moeder in Israel na vore gekom het.

Refleksie

Hierdie versreël is deel van die lied van Debora, wat sy en Balak gesing het nadat Debora die Israeliete gered het. Die storie van Debora is een storie van vele in Rigters, van hoe God vir sy volk gesorg het in tye van oorlog en geweld. Dit gebeur so dikwels dat vroue in verhale op die agtergrond staan, maar Debora se verhaal maak dit duidelik dat vroue ’n sentrale rol in God se verhaal speel en dat vroue ’n legitieme plek as leiers van God se volk het.

Ons moet ook erken dat Debora se verhaal in die minderheid is en dat daar ’n klomp ander verhale in die Bybel en in die geskiedenis is, waar vroue nie dieselfde rol mag vervul nie. Daarom is dit so belangrik om die storie van Debora te vertel en te sien dat vroulike leiers nodig is, dat ons iets verloor wanneer die stemme van vroue stilgemaak word. Soos die lied van Debora ons ook vir vandag herinner: “Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan, totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ’n moeder in Israel na vore gekom het.”

Mag ons almal saamwerk aan ’n koninkryk waarin elkeen se waarde erken word en waar elkeen geleentheid het om hul Godgegewe gawes uit te leef.

Gebed

Here, ons erken dat die wêreld waarin ons leef nie altyd gelyk is nie. Ons is dankbaar vir die stories van vroue soos Debora wat ons help om die waardigheid in ander ook raak te sien – te sien dat elkeen ’n plek het as deel van U koninkryk. Here, maak ons oë oop vir die leiers tussen ons, help ons om te sien wanneer daar onreg gepleeg word en mag U, ook in en deur ons, ’n koninkryk vestig waarin elkeen se waarde erken en gevier word.

Amen

Mannekamp ontsluit die waarde van stilte

Deur: Ds. Johan Visser

Wees stil en weet Ek is die Heer. Wees stil en weet Ek is. Wees stil en weet. Wees stil.

Wees . . .

Met bogenoemde woorde is 33 gemeentemanne binne die kapelruimte van die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum in Wellington ontvang. ’n Paar van die manne wat die kamp meegemaak het, deel hul ervaring van die naweek in ’n paar woorde.

Conrad Koort: Hierdie is meer as net ’n paar woorde. Dit spreek op soveel vlakke – na die moegheid en die gejaagdheid, die wat probeer en die wat voel hulle faal. Elkeen van ons is ’n klein kind wat rus kan vind by ons Hemelse Vader. En in die stilte by Hom gebeur daar iets majestieus.

Anton Gouws: Om af te sonder, rustig te raak, stil te raak en God te vertrou, is die praktiese lewensritme wat ons bewus maak van God se teenwoordigheid in ons midde. Die ritme om te verander, te vernuwe – die proses van heiligmaking. Dit is die boodskap wat ek huis toe gebring het en gaan toepas.

Low Bothma: Die afsonderingsgeleentheid die afgelope naweek het dit op my hart gelê om my verhouding met God meer te verinnig. Daarom my gebed: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die ewige pad.

Gerrit van Niekerk: My ervaring die naweek was dat dit al die geraas en gejaag verdryf het. Die baie vinnige lewe stadig genoeg gemaak het dat ek net kon besef dat ’n mens die stilte mis, die mooi natuur, jouself en God se teenwoordigheid. God is ín die stilte en as die wêreld se geraas en gejaag jou verdoof en verblind, kan ek nie God se teenwoordigheid ten volle ervaar nie.

Erhard Teubes: Wat ’n diep en ryk geestelike belewenis. Die misterie van God die Vader se werking binne ons, wanneer ons die alledaagse uitskuif, is baie soet en bevrydend. Vir my is dit die begin van ’n nuwe hoofstuk in my geestelike lewe.

Johan Visser: Ek is diep dankbaar om hierdie groep te kon begelei op hul geestelike reis in ’n fisiese ruimte wat my baie na die hart lê. Daarmee saam is ek ook dankbaar vir ds. Carel van Wyk, emeritus leraar, wat saam met ons kon reis en met behulp van sy doktorale studie oor hierdie onderwerp, gehelp het om die diepte van Christelike spiritualiteit te ontsluit. Mag ons as gemeente ’n verdieping beleef ten opsigte van spiritualiteit, en daardeur ruimtes van stilte, afsondering en gebed help skep. Mag ons vanuit hierdie oorpeinsing oorgaan tot aksie en gestuurdheid oor grense heen.

Die Kerkbode het onlangs ’n artikel oor hierdie besonderse ruimte van spiritualiteit, geplaas: Kom word met elke sintuig stil. Volg gerus hierdie skakel om dit te lees: https://kerkbode.christians.co.za/2023/07/27/spiritualiteit-kom-word-met-elke-sintuig-stil/

Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit is ’n gemeenskap van stilte, afsondering en gebed waar ons mekaar nooi om tot rus te kom en ons wortels in Christus te ontdek.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 8 Augustus 2023

Josua 2:11. Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.

Refleksie

Hierdie versie kom uit die mond van Ragab, ’n prostituut in die dorp Jerigo, wat die Israelitiese verkenners beskerm het. Haar woorde mag dalk een van die vroegste geloofsbelydenisse wees. Ek kan my indink dat baie mense in Jerigo haar vrees en angs gedeel het, dat almal, soos Ragab sê, moedeloos is teen Israel. Ek wonder egter hoeveel ander sou soos sy kon sê, “want, julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.” Sy het van vêr af gehoor wie die God van Israel is en sy het geglo.

Later word Ragab en haar familie deel van die volk van Israel. Ragab die prostituut word selfs genoem as een van die geloofshelde in Hebreërs. Dit is vir my een van die mees besonderse verhale in die Bybel, omdat dit vir ons wys wat dit beteken om deel te wees van God se volk. ’n Vreemdeling word deel van God se volk, nie op grond van haar goeie werke of sondelose lewe nie, nie op grond van haar nageslag nie, maar sy word deel van God se volk omdat sy erken dat “God die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.”

Mag haar verhaal ons inspireer om weer te dink oor wie God deel maak van sy verhaal en selfs mense soos ek en jy deel maak van sy uitverkore volk.

Gebed

Here, vandag wil ons net saam met Ragab bid en erken dat U God is, die Here, bo in die Hemel en onder op die aarde. Mag ons U raaksien en erken soos wat Ragab U raakgesien het en erken het in haar lewe. Mag ons ook ander deel maak van u volk, u koninkryk, soos wat Ragab deel geword het van u volk.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 7 Augustus 2023

In hierdie week vier ons vrouedag. Daarom gaan ons hierdie week reflekteer oor die stories van verskillende vroue in die Bybel. Die eerste verhaal lees ons in Eksodus 1:15-17

Eksodus 1:15-17

15Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: 16“As julle ‘n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit ‘n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ‘n dogter is, mag sy bly lewe.” 17Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: hulle het die seuntjies laat lewe.

Refleksie

Wanneer ons die storie van die verlossing van Israel uit Egipte vertel, spring die naam van Moses heel eerste in ons gedagtes op. Maar ons moet nie vergeet dat Moses se storie vroeër begin nie, by twee Hebreeuse vroedvroue, Sifra en Pua, wat nie na ’n opdrag van die Egiptiese koning geluister het nie, maar die lewens van Hebreeuse seuntjies gered het. Dit is danksy hulle, dat Moses se storie kon aangaan.

Wat ons dikwels miskyk, in hierdie paar versies oor Sifra en Pua, is die omvang van hulle besluit. Hulle kies om ongehoorsaam te wees aan die hoogste gesag in Egipte en gehoorsaam te bly aan God. Dit was ’n gevaarlike besluit wat hulle lewens in gevaar kon stel. Hulle stel die lewens van klein kindertjies bo hulle eie lewens.

Wat dink jy sou jy in daardie situasie doen? Hoe maklik of moeilik dink jy sou daardie besluit vir jou wees?

Sifra en Pua kon onmoontlik weet dat hulle aksies tot die bevryding van Israel jare daarna sou lei – hulle motivering was eenvoudig om die lewens te red wat deur die ongeregtigheid van die Koning bedreig is. Die storie van Israel se bevryding uit slawerny, begin eenvoudig by twee vrou wat omgee vir mense in nood.

Waar sien jy nood rondom jou raak? Hoe dink jy roep die Here jou om om te gee vir mense in nood?

Gebed

Here, ons kyk so maklik vas in die groot dinge, maar ons vergeet dat U deur ’n klomp klein dingetjies, groot verskille kan maak. Dankie, dat ons die verhaal van Sifra en Pua mag hoor en vertel. Dankie, dat ons mag weet dat ons klein dade van omgee, tot groot verandering kan lei. Help ons om die nood om ons raak te sien en soos Sifra en Pua, om te gee vir dié wat in nood is.

Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 5 Augustus 2023

Filippense 4:4. Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. 

Daar is altyd dinge in die lewe wat met ons gebeur en waarvan ons graag wil wegkom. So hanteer ons die een na die ander kwessie. Sodra die een afgehandel is, skuif daar net weer ‘n ander bekommernis, of frustrasie in sy plek. Iewers is daar altyd ’n verhouding wat skeefloop en wat herstel moet word.  Alles bou gewoonlik op tot op ‘n punt waar dit vir ons nodig raak om van alles weg te kom sodat ons emosionele energie kan herstel. In vandag se teks praat Paulus met ons oor ‘n lewe wat nie van omstandighede wegvlug nie, maar op betekenisvolle maniere daarbinne kan leef. Meer nog, dit praat met ons om altyd in die midde van hierdie omstandighede bly te kan wees. Hoe sal ons dit regkry? Hoe absorbeer ‘n mens al die emosies en ervaringe wat die vermoë het om ons en ander mense van stryk te bring. Paulus antwoord deur ons aan te moedig tot ‘n daaglikse roetine waar ons al ons bekommernisse en uitdagings in gebed na die Here toe bring. Hoe help dit ons prakties? Elke keer as ons dit doen word ons deur God herinner aan groter realiteite en maniere waarop Hy ons in staat stel om situasies te hanteer. “Wees bly”, is dus nie ‘n nou en dan ervaring as alles goed verloop nie. Dit is ‘n deel van die alledaagse lewe waartoe die Here ons in staat stel. Mag hierdie vrede vandag weer van jou lewe besit neem en jou aanmoedig om oor niks besorg te wees nie, maar in alles jou begeertes deur gebed, danksegging en smeking aan God bekend te maak.

Gebed

Here, dankie vir hierdie oomblik vanoggend waarin ek te midde van die spanning, hartseer, bekommernis en frustrasies in my lewe by U vrede kan vind. Daar is so baie dinge wat my pla en wat ek vanag voor U kom lê. Dit is soms moeilik om die warboel van emosies in woorde om te sit. Dankie dat U vandag dieper as my woorde kan sien en van my emosies en denke besit neem. Here, stuur my denke om my vandag by perspektiewe uit te bring wat my kan help om besluite te neem. Help my om hierdie oomblik deel te maak van my daaglikse roetine. Ek leef in die vertroue dat U nie net in hierdie oomblik by my is nie, maar wanneer ek na hierdie gebed my oë oopmaak U ook in hierdie dag vir my sal vergesel.

Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 4 Augustus 2023

Filippense 3:10. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek ook self deel sal hê aan die opstanding van die dood.

Wat wens jy vandag? Ons wens dat beurtkrag tot ‘n einde sal kom, dat die brandstofpryse sal daal en die wisselkoers sal verbeter. Die woord ‘wens’ word dikwels in ons taal gebruik om ‘n gedagte uit te druk wat waarskynlik nie gaan realiseer nie. Die gedagte wat Paulus hier uitspreek is anders. Hy was baie realisties oor die loop van die lewe en oortuig dat die seerkry en lyding wat ons moet verduur nie die laaste sê het oor ons lewens nie. Die opstanding van Christus was vir hom meer as net iets wat eers eendag in sy lewe gaan realiseer wanneer hy tot sterwe sou kom. Elke keer wanneer hy swaarkry en lyding beleef het, het hy reeds die krag en die hoop van die Here se opstanding geleef. Hy het beleef dat niks wat met hom in die lewe gebeur hom van God se liefde en genade kon skei nie – dit het juis in hierdie tye tot hom deurgedring. Ons eie geloof is nie net op ‘n wens gebaseer nie, maar op gebeure van die verlede waarin die krag van die Here se opstanding ons in situasies van doodsheid kom opwek het. Liefde en genade is nie net godsdienstige gedagtes nie, maar maniere waarop die Here prakties deur mense en omstandighede nuwe lewe in ons laat blom. Dit gee ons die hoop en geloof dat ons enige iets wat vandag oor ons pad kom sal kan hanteer asook dit wat sleg en moeilik is sal kan omdraai.

Gebed

Here, ek bid dat ek sal aanhou bid nadat ek amen gesê het. Ek bid dat ek U sal sien wanneer my oë oop is. Ek bid dat ek U sal proe in my  oggendkoffie en laataandtee. Ek bid dat ek U sal hoor in die wekkers en sirenes en die mense wat lag. Ek bid dat ek U in die draai van my maag sal voel wanneer so baie kinders huil. Ek bid dat ek U sal beleef in elke heilige sekonde van hierdie gewone dag.

Amen.

Gedagte vir die dag | Donderdag 3 Augustus 2023

Filippense 3:4,7. Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.

Wat beteken dit vir ons om vandag te kan bely dat om Christus te ken, alles in waarde oortref? Soos wat ons ouer word ontdek ons vaardighede, ons verdiep ons kennis van hoe dinge in die lewe werk, ons bou ‘n lewe en vermeerder ons bates en daar is soveel meer wat ’n mens nog hierby kan voeg. Deur dit alles weerklink die besef dat ons gebonde is aan tyd en dat alles wat ons het net tydelik is. Dit is ’n skrikwekkende gedagte. Dit laat ons vasklou aan dit wat ons het en maak in ons die vrees van verlies wakker. Paulus praat vanoggend met ons oor die vrede om dit alles in die hande van die Here oor te gee. Alles wat ons in die lewe ontvang is ‘n gawe van God. In elke nuwe lewensfase word ons deur God geseën met nuwe lewenservaringe. Dit het tot gevolg dat ons nie aan uiterlike dinge vasklou nie, maar God vertrou vir die nuwe en onbekende wat nog op ons wag. Voor watter transisie in die lewe staan jy? Hoe help jou geloof jou om van die ou bekende afstand te doen en nuwe geleenthede wat op jou wag aan te gryp?

Gebed

O Heilige Gees van God, bly by my, wees die inspirasie vir al my gedagtes vandag, deurdring my verbeelding en suggereer wat ek moet besluit, bestuur my aksies. Help my in die veranderinge en oorgange wat ek in die lewe moet maak. Daar is soveel wonderlike oomblikke en herinneringe wat ek oor die verlede koester. Ek glo vandag dat die nuwe lewensfase waarvoor ek staan ook nog soveel van U seën gaan inhou. Ek wil daarom nie net vasklou aan wat ek het en wat bekend is nie, maar U die geleentheid gee om my ‘n nuwe stuk lewe te laat ontdek. Om U vandag te ken Here, oortref alles in waarde.

Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 2 Augustus 2023

Filippense 2:1-3. Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, en die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie net elkeen aan julle eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Ons praat dikwels hoe belangrik dit is om voortdurend geestelik te groei deur ons kennis van God te verdiep. Daar is egter ook ’n belangrike kant van geestelike groei wat te doen het met die wyse waarop ons kies om tussen ander te leef. Die kern daarvan het te doen dat ons nie net altyd aan ons eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Filippense 2 praat met ons oor God wat homself nie aan sy goddelikheid vasgeklem het nie, maar bereid was om die gestalte van ’n mens aan te neem en Homself nog verder verneder het deur te ly en sterf.

Wat is die dinge waaraan ons vasklou wat verwydering tussen ons en mense bring? Dink vir ‘n oomblik hoe ons geld, prestasie, status en intellektuele vermoëns die potensiaal het om elke dag hierdie verwydering mee te bring. Uiteindelik kom ons onsself te na wanneer ons verby wonderlike geleenthede skiet waarin ons lewe nuwe waarde kon kry. Probeer om vandag te fokus op die belange van ander mense en gun jouself die geleentheid om iets besonders te kan beleef wat jou aanspoor om dit deel van jou lewensritme te maak.

Gebed

Here, begenadig my vandag met die deugde wat net U kan gee: ‘n nederige, geduldige en vredeliewende geaardheid. Help my om verby my eie behoeftes te kyk wat elke dag so ’n hoë prioriteit geniet. Bevry my vandag van die angs wat in my leef, omdat ek dink dat ek nie genoeg het nie en myself verbeel dat ek meer nodig het. Laat my vind dat die meer van die lewe nie met my eie behoeftes te doen het nie, maar met dié van ander. Dankie dat ek vandag daarin iets nuut kan ontdek wat my menswees inspireer.

Amen.

 

1 26 27 28 128