Gedagte vir die dag | Dinsdag 5 September 2023
Romeine 5:3-5. VOLHARDING.
Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.
Vasbyt! Dit is ’n woord wat almal van ons al ’n paar keer in die lewe gehoor het. Die hoop van vasbyt het te doen met die troos dat swaarkry net tydelik is en dinge iewers vorentoe weer makliker sal word. Daarom is dit nou nodig om al jou krag in te span om vas te byt en die moeilike tyd in jou lewe deur te sien. Dit is dan net totdat die volgende uitdaging weer oor jou pad kom en jy weer op jou tande moet byt om daardeur te kom. Die volharding waarvan Paulus in Romeine met ons praat is baie anders as dié soort vasbyt. Dit leer ons dat die Heilige Gees voortdurend besig is om uitdagende tye in groei geleenthede te omskep. In 2 Korintiërs 12 sê Paulus: “wanneer ek swak is, is ek sterk”. Volharding is daarom iets anders as wanneer ons ons kragte saamspan om uitdagende tye te oorkom. Dit is eerder die geloof dat God se krag voortdurend ons swakheid kom transformeer. Hoe is die Here op hierdie wyse vandag in jou eie swaarkry en swakheid teenwoordig?
Gebed
God, skenk my die kalmte van gees om te aanvaar wat ek nie kan verander nie; die moed om dit te verander wat ek kan, en die wysheid om die verskil te weet. Leer my om een dag op ’n slag te lewe. Oortuig my dat swaarkry dikwels tot diep vrede lei, en dat genade nie ’n loon is nie maar ‘n geskenk. Help my om my wêreld te aanvaar soos dit is, en nie soos ek dit graag wou gehad het nie. Versterk in my die hoop dat U deur dit alles besig is om my te transformeer.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 4 September 2023
Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut”.
Die brief in Openbaring is vir vroeë gelowiges geskryf wie se wêreld om hulle besig was om te verkrummel. God se openbaring aan Johannes het hulle gehelp om hulle hede uit ‘n ander (groter) perspektief te sien. Eerder as die skynbare agteruitgang wys die Here Johannes hoe die Here in hierdie omstandighede besig is om alles nuut te maak. In geloof hou ons vandag aan dieselfde belofte vas. Tog oorheers die realiteit van jare wat by ons verby snel en ook die realiteit dat ons ouer, swakker en meer broos agter gelaat word. Die vinnige pas van voortdurende verandering laat ons skepties vra: “Waar gaan dit alles eindig”? Die nuwe groeiseisoen van lente wat orals om ons bod bring ons in hierdie tyd, soortgelyk aan Johannes se tyd, by ’n openbaring uit. Die lewe wat elke jaar te midde van alles wat gebeur getrou in die natuur bod getuig van God se groter realiteit. Alhoewel ons liggaamlik agteruitgaan word ons innerlik deur God vernuwe. Niks kan dit keer nie. Soos die bloeisels van die lente dring dit na ons deur in ervarings van vergifnis, dankbaarheid, insig en vrede. Neem tyd om in hierdie tyd mooi om jou te kyk en van die nuwe groeiseisoen van lente bewus te word. Raak bewus dat niks God se Gees kan keer wat in jou hierdie selfde lewe bring nie.
Gebed (Liedboek lied 433)
Kom, Skepper Gees, kom met u seën en laat die oes sing in die reën.
Die boom dra vrugte by die stroom en die mense pluk ‘n nuwe droom.
Kom, Skepper Gees, versterk geloof- ons wêreld is vol brand en roof.
Laat ons u vrede oral stig, ‘n vlam wat mense kom verlig.
Kom, Skepper Gees, skenk ons u krag, vul ons met moed vir elke dag.
Ook wanneer pyn en sorge knaag, sal ons met ywer werk en waag.
Kom, Skepper Gees, kom bly ons by, dring ons om ons aan God te wy.
Leer U ons om met hoop te sug, ons oë op die Heer gerig.
Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 2 September 2023
Lees: Psalm 103
Teks: Psalm 103:13 “Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.
GEDAGTE
Ons kan eenvoudig nie sonder God leef nie! Sonder God kan ons nie bestaan nie. Soos ’n klein kindjie afhanklik is van die sorg van sy ouers om te oorleef, en te leef, so is ons afhanklik van die sorg van God. Hy is ons versorgende Vader.
Daar is baie gedeeltes in die Bybel wat God se ontferming vier. En Jesus is self die verpersoonliking van Goddelike ontferming. Hy wat die Barmhartige Samaritaan se storie vir sy dissipels vertel het, is die Een wat, soos God, die verdruktes opgesoek het en in ontferming ’n “ligte” las en ’n “sagte” juk in plaas van die onbarmhartigheid op sy volgelinge gelaai het. Jy kan weet dat hierdie ontfermende God ook by jou lewe betrokke is en omgee vir jou en jou situasie.
Lank nadat ons in die steek gelaat is, ook deur hulle wat naby aan ons is, bly God by ons. Lank nadat mense hulle simpatie met ons betuig het en weer hulle loop gekry het, is God in groot ontferming by ons. God is uiters welwillend, behulpsaam, onbegrens vergewensgesind, onbeperk liefdevol en uiters ontfermend. God wat in liefde met ons een is, bewys aan ons dag na dag herhaaldelik goddelike dade van ontferming. God is nie maar net “uit ordentlikheid” by ons betrokke nie. Dit is nie maar net ‘n “goeie gewoonte” van God om vir mense om te gee nie. God is ver bo alle ordentlikheid en gewoontes om ‘n God wat oorvloediglik uitreik na mense te wees in sy groot ontferming.
GEBED
Die gebed vir vandag is Vonk 390
1.Heer, my God, ontferm U oor my,
luister na my stem, verhoor my!
Ek is ellendig, diep in nood,
gans en al van hulp ontbloot.
O bewaar my, U’s almagtig;
maak my weer u guns deelagtig;
red u kneg, verlos my nou,
waar ‘k alleen op U vertrou.
2.Heer, u goedheid is die lewe;
U sal mild ons skuld vergewe;
wie U aanroep in die nood,
vind u guns oneindig groot.
Heer, my God, ontferm U oor my,
luister as ek roep, verhoor my!
Merk uit goedheid, as ek spreek,
op die stem waarmee ek smeek. AMEN
Gedagte vir die dag | Vrydag 1 September 2023
Lees: Psalm 92
Teks: Psalm 92:1-2 “Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste, om elke môre van u liefde te getuig, en elke aand van u trou,
GEDAGTE
Dis 1 September. Dit is lente! Ek is sommer lus om te sing: “Dis heerlike lente die winter is verby, weer vrolik die velde vir jou en vir my”.
Vandag se Psalm sê vir ons dat dit goed is om die Here te loof. So met die aanbreek van die nuwe seisoen is ek ook sommer lus om die Here opnuut weer te loof en te prys.
Die Here moet geprys word omdat Hy die almagtige Skepper is. Hy het met sy Woord die heelal geskape en alles in plek gesit. Elke sterretjie, die aarde en die son, alles perfek. Hy moet geprys word omdat Hy God is, omdat sy Naam verhewe is bo alles en almal. Hy regeer oor alles en hou alles in stand, sy majesteit strek oor die hele aarde, Hy is Koning. Hy gee krag aan die wat Hom dien, Hy sorg vir hulle en ook vir ons. Hy is naby aan ons. Ons moet die Here loof en prys vir wie Hy is en nie vir wat Hy vir ons kan gee nie, of vir wat ons uit Hom kan kry nie. Hy het ons gemaak en ook nuut gemaak deur ons te verlos van die dood en die sonde.
Ek weet nie wat is jou omstandighede vandag nie. Ek hoop dat jy ten spyte van jou omstandighede, of dit goed of sleg is, ’n jubellied tot eer van God kan sing. Staan op en steek jou hande in die lug en loof die Here met enige lied waaraan jy nou kan dink.
GEBED
LOOF DIE HERE, AL WAT LEWE
WIL HOM DANK EN HULDE BRING –
HY HET AL ONS SKULD VERGEWE;
ONS ‘N NUWE LIED LAAT SING.
LOOF HOM, PRYS HOM !
LOOF EN PRYS HOM !
LOOF DIE VADER, GOD EN HEER !
AMEN
Gedagte vir die dag | Donderdag 31 Augustus 2023
Lees: Psalm 65
Teks: Psalm 65:12: U kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed!
GEDAGTE
Die 1953-vertaling stel vir my die vers so mooi. Ek lees dit graag vir jou: “U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid.” So aan die einde van die winter kan ons hart ontluik van dankbaarheid soos ’n pragtige lentebloeisel. Hoe dankbaar is jy oor God se goedheid en genade in jou lewe.
‘n Dankbare mens is ’n gelukkige mens en ’n gelukkige mens is ’n dankbare mens. Volgens die woordeboek het dankbaarheid met waardering te doen. Waardering vir wat jy het en wat jy ontvang het.
Dankbaarheid is ’n lewenshoudingsbesluit wat ons daagliks moet neem; dis die keuse wat ons elke dag maak. M.a.w. keuse tussen dankbaarheid en ondankbaarheid tussen negatiwiteit en positiwiteit . . . tussen misrabelheid en om gelukkig te wees. Een van die geheime van ’n gelukkige lewe is dankbaarheid ten spyte van ons omstandighede. As ek en jy dit kan regkry om met dankbaarheid te leef, verander dit die manier hoe ons na die wêreld kyk. Begin ons verby die dinge kyk wat die lewe vir ons moeilik maak en sien ons die seën wat ons het raak.
“Dankie” is ’n baie klein woordjie, maar dit beteken baie. Daarom is Meister Eickhardt se woorde so waar: “As ‘Dankie’ die enigste gebed is wat jy ooit bid, is dit genoeg.” As ons God dank vir Sy goedheid en guns, eer ons Hom. Deur vir God “dankie” te sê wys ons Hom dat ons alles waardeer wat Hy vir ons doen en vir wie Hy is. Dankbaarheid is dus nie maar net om die woordjie “dankie” van klein tyd af aan te leer nie. Dankbaarheid is meer as om net gou ‘n “dankie-gebedjie” te bid voor ete. Dankbaarheid is om ’n dankbare lewe voor God, te lei, want alles wat ek is en alles wat ek het kom uit sy genadige hand.
GEBED
Hemelse God en Vader baie dankie vir alles wat ek uit U Vaderhand ontvang. Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 30 Augustus 2023
Lees: Psalm 57
Teks: Psalm 57:2 Wees my genadig, o God! Wees my genadig, want by U soek ek skuiling. Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is.
GEDAGTE
Psalm 57 word weereens met ’n noodsituasie uit Dawid se lewe verbind, dié keer met die gebeure toe hy vir Saul in die grot ingevlug het.
Op verskillende plekke in die Bybel word God die skuilplek van sy kinders genoem. “Die ewige God is ’n skuilplek en onder jou is sy ewige arms,” getuig Moses (Deut. 33:27). Die psalmdigter noem God ook op meer as een plek ’n “skuilplek”. “Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ’n skild,” belowe hy in Psalm 91:4.
God onderneem steeds om sy kinders te bewaar, om vir hulle ’n veilige wegkruipplek te wees in tye van beproewing en gevaar. En ons het mos almal so ’n skuilplek nodig – ’n plek van veiligheid waar ons altyd hulp kan kry. God wil vir jou ’n skuilplek wees, ’n rots om na toe te vlug. Hy stuur sy engele om jou te bewaar in gevaartye. Daarom kan jy die pragtige belofte in Psalm 32:10 in jou Bybel onderstreep: “. . . onfeilbare liefde omring húlle wat op die Here vertrou.”
(Hierdie is ’n uittreksel uit Here, hoor U my? deur Nina Smit)
GEBED
Tere God, sagte beskermer in tyd van nood,
deurbreek die duisternis van wanhoop
en gee aan ons, met al u mense,
die lied van vryheid en die jubeling van lof;
in Jesus Christus ons Here. (Gebed van Jaco Thom)
Gedagte vir die dag | Dinsdag 29 Augustus 2023
Teks: Psalm 27:1 Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?
GEDAGTE
Vrees is die siekte van ons tyd. Om te vrees is deel van ons lewe. Elkeen van ons het al iets gevrees. Ons is liggaamlik bedraad om situasies wat ons fisies bedreig, te vrees. Hierdie vrees is gesond, maar wanneer vrees ons lewens begin oorneem en ons amper nie meer kan funksioneer nie, raak dit ’n probleem. Vrees het baie keer te doen met wat ons in ons verbeelding bedink en vees kom by ons kuier wanneer ons buite beheer voel.
Die opdrag wat Jesus die heel meeste gee, is – moenie bang wees nie. In die Evangelies gee Jesus ongeveer 125 opdragte. 21 hiervan is – moenie bang wees nie. “Hou moed. Moenie ontsteld wees nie.” Verreweg die meeste van Jesus se opdragte, het daarmee te doen om nie toe te laat dat vrees ons oorweldig nie
Ek het dit nie getel nie, maar blykbaar staan die woorde: moenie vrees/bang wees nie, 365 keer in die Bybel: een keer vir elke dag van die jaar!
Dalk staan jy vandag voor ‘n moeilike keuse of beslissing? Of dalk is jy middde in ‘n krisis? Dalk moet jy ‘n ernstige operasie ondergaan? Maak nie saak wat die omstandighede is nie, die opgestane Heer staan voor jou met Sy woorde: “Moenie vrees nie.” Ons hoef nie meer te vrees nie, omdat Hy oorwin het!
Die Kerkvader Martin Luther het eenkeer gesê: Om in ‘n teologiese debat te tree oor wie of wat God is, gaan jou niks baat in ’n oomblik van vrees nie. Wat jou wel gaan baat, is as jy getuienis kan gee aan jouself van wie God is. Dit gaan wel ’n verskil aan jou vrees maak”
GEBED
Hemelse God en Vader, ek plaas vandag my vrese in u vaderhand. Ek is bang en benoud. Gee my asseblief weer u vrede. Help my asseblief daarmee en lei my daardeur.
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 28 Augustus 2023
Ek is baie lief vir die Psalms. Dis asof Dawid presies weet wat om te skryf wat my hart ook aanraak. Vir die volgende paar dae gaan ons by ’n paar Psalms stil staan wat dalk nie so bekend is nie. Ek hoop jy geniet die reis.
Lees: Psalm 17
Teks: Psalm 17:8 “ Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels
GEDAGTE
Wie is jou oogappel? Oogappel is ’n woord wat beteken iemand wat baie spesiaal, baie dierbaar, vir jou is. Vir ons is die simbool van ’n oogappel gekoppel aan ’n gunsteling. In die Bybel beteken oogappel die een wat jy altyd onder oë het. Die een wat jy in die oog hou. Nou dit is presies hoe God na ons kyk. Hy hou ons in die oog. Hy laat ons nie uit die oog gaan nie.
In hierdie Psalm vra Dawid vir die HERE om sy oogappel te wees. Het jy dit al van die HERE gevra – dat jy sy oogappel mag wees? Of voel jy dalk te onbelangrik om dit te wees? Dink jy, daar is sekerlik ander mense wat meer kans staan om God se oogappel te wees . . . maar elkeen van ons is so spesiaal vir God dat Hy ons sy oogappel noem en ons so beskerm en ons nooit uit die oog verloor nie. Ook jy wat vandag hier lees is God se oogappel.
Daar is tye dat jy dink God kyk anderpad – wanneer dit swaar gaan. Dan voel ’n mens dikwels dat jy eerder God se stiefkind as sy oogappel is.
Soos verskeie Psalms wil dié Psalm ons dus nie troos dat ons ’n lang en veilige aardse bestaan sal hê nie. Wat wil die psalmis dan wel vir ons sê? Dít: dat jy tot rus kan kom te midde van al die gevare en bedreigings van die lewe, omdat God by jou is; dat jy by Hom kan skuil wanneer die lewe moeilik raak; dat jy nie bang hoef te wees vir noembare en onnoembare bedreigings nie. God is immers daar. Hy het altyd Sy oog op jou. Hy red waar jy nie kan nie. Daarom hoef jy nie angstig rond te kyk, of te dink jy is op jou eie nie. Daarom kan jy ook vandag vashou aan die sekerheid. Die Here omhels jou, die Here vertroetel en versorg jou soos die appel van sy oog.
GEBED
Hemelse God en Vader, dankie dat ek u oogappel kan wees en dat U altyd u oog op my het. Ek rus in die wete dat ek veilig is by U.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 26 Augustus 2023
https://youtu.be/bI–RYlt2Wk
Vandag is Saterdag 26 Augustus en hierdie week se oordenkings is ‘n uitnodiging om die waarhede van Emosionele Gesonde Spiritualiteit in ons lewens te verken en te beliggaam. Mag ons die wysheid van Peter Scazzero omarm, terwyl ons ons geestelike reis met God verdiep en ons emosionele wêreld in sy genesende lig plaas.
Vandag: Die Vrede wat Emosionele Gesondheid Bring
Die afsluiting van hierdie reeks oordenkings nooi ons uit om die vrede te ontdek wat voortspruit uit emosionele gesondheid en ‘n dieper verbondenheid met God. Scazzero sê: “Emosionele gesondheid gee ons die vryheid om in die vreugde van God se teenwoordigheid te leef.” Hierdie waarheid is ‘n weerspieëling van die Skrif, waar ons leer: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle gedagtes bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:7).
Laat ons hierdie daaglikse oordenking gebruik as ‘n geleentheid om ons harte te vul met die vrede wat net God kan gee. Mag ons deur emosionele gesondheid ‘n dieper en ryker lewe van geestelike verbondenheid en vreugde ervaar.
Vandag se wysheid: Emosionele gesondheid beteken om eerlik na jouself te kyk en te erken dat God in al jou emosies en ervarings teenwoordig is.
Gebed: Here, ek bring my verlange vir vrede en emosionele gesondheid voor U. Mag U my help om my emosies en gevoelens in U genesende lig te plaas. Leer my om U vrede te ervaar wat verby alle verstand gaan, en laat my emosionele gesondheid ‘n bron van vreugde wees. Amen.
Mag hierdie daaglikse gebede ons help om Emosionele Gesonde Spiritualiteit te omarm en ons emosionele wêreld in die lig van God se genade en leiding te plaas. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 25 Augustus 2023
https://youtu.be/z02ze-7lOjE
Vandag is Vrydag 25 Augustus en hierdie week se oordenkings is ‘n uitnodiging om die waarhede van Emosionele Gesonde Spiritualiteit in ons lewens te verken en te beliggaam. Mag ons die wysheid van Peter Scazzero omarm, terwyl ons ons geestelike reis met God verdiep en ons emosionele wêreld in sy genesende lig plaas.
Vandag: Geloof in Aksie. Emosionele Integriteit in Woord en Daad
Emosionele Gesonde Spiritualiteit beklemtoon die belangrikheid van ‘n konsekwente lewe van geloof, waar ons emosionele ervarings en ons geloof in ooreenstemming is. Scazzero sê: “Ons kan nie twee lewens lei nie – een in die kerk en een daarbuite.” Hierdie waarheid is verwant aan die Skrif, waar ons lees: “Wees nie alleen hoorders van die woord nie, maar doeners van die woord” (Jakobus 1:22).
Vandag daag ons jou uit om jou geloof in aksie te sit deur jou emosionele gesondheid in ooreenstemming met jou geloof te bring. Mag ons die integriteit van ons lewens as gelowiges weerspieël in die wyse waarop ons met ons emosies omgaan en die liefde van God deur ons woorde en dade uitdruk.
Vandag se wysheid: In die samestelling van ons woorde en dade, mag ons die harmonie van ons emosionele gesondheid en ons geloof laat vier as ‘n melodie van liefde, eerlikheid en vrede.
Gebed: Here, ek bid dat my geloof nie net ‘n teorie sal wees nie, maar ‘n aktiewe lewenswys. Help my om my geloof in praktyk te bring deur my emosionele gesondheid en my handelinge met mekaar te laat ooreenstem. Leer my om in alles wat ek sê en doen, U liefde en waarheid te weerspieël. Amen.