GEDAGTE VIR DIE DAG

Dagstuk | Dinsdag 10 Oktober 2023

Hierdie week stap ons ’n pad met die gedagte van ’n pelgrimstog. Die afgelope week het ’n groep mense van Stellenberg-gemeente en Klipheuwel saam op ’n staptog in die Outeniqua berge gegaan. Hierdie staptog is ingerig as ’n pelgrimstog, waar ons doelbewus op reis gaan om nader aan mekaar en nader aan God te kom. Elke dag in hierdie week staan ons stil by ’n ander teksvers rondom “op pad” wees.

Genesis 12:1. Die Here het vir Abram gesê: “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis, na die land wat Ek jou sal wys.

Refleksie

Ek wonder hoe ek sou reageer as ek in Abram se plakkies gestaan het. Ek kan my indink dat dit nie ’n maklike besluit sou wees, om sy land en sy mense te verlaat en in die onbekende wêreld in te gaan nie.

Dink vir ’n oomblik hoe Abram sou voel? Dink vir ’n oomblik wat jy sou doen as jy in sy plakkies gestaan het.

In die storie van Abram leer ken ons vir God as ’n God wat ons in die onbekende in roep. Vincent van Gogh het gesê: “Normality is a paved road: It’s comfortable to walk, but no flowers grow on it.”

Vir ons om te groei, moet ons bereid wees om in die onbekende in te gaan. Dit is ook waar vir ons geloofsgroei. ’n Pelgrimstog is in ’n klomp maniere altyd ’n reis in die onbekende in. En dit is dikwels juis in die onbekende, waar ons vir God ontmoet, of God ons ontmoet.

Die onbekende is dikwels ook nader aan ons as wat ons dink. Dit kan wees dat die onbekende so naby aan jou is soos jou bure, wat jy eintlik nie so goed ken nie. Ons is dikwels selfs onbekend aan onsself.

Die Here roep ons uit ons gemaksone uit, want Hy weet, dit is waar ons groei. Mag jou reis jou vandag in die onbekende invat en mag jy in die onbekende, die Here ontmoet.

Gebed

Here, soms roep U ons weg van alles wat vir ons bekend is. Ons raak so maklik vasgevang in die normale roetine van ons lewens. Help ons om dapper genoeg te wees om die tree in die onbekende in te gee, sodat ons U in die vreemdeling en die vreemde kan ontmoet.

Amen.

Dagstuk | Maandag 9 Oktober 2023

https://youtu.be/9rLGpRTlITk

Die afgelope week het groep mense van Stellenberg-gemeente en Klipheuwel saam op  ’n staptog in die Outeniqua berge gegaan. Hierdie staptog is ingerig as ’n pelgrimstog, waar ons doelbewus op reis gegaan het om nader aan mekaar en nader aan God te kom. Dit was ’n reis waar ons meer oor onsself geleer het en saam met mense uit ’n ander gemeenskap kon stap, swaarkry, lag en deel in die wonder van die berge rondom ons. In die proses het ons iets van die Here ook ontdek.

In die Bybel sien ons dat die Here mense op reis neem en saam met hulle stap. Hierdie week reflekteer ons op verskillende tekste oor “op reis wees.”

Psalm 84:6

Gelukkig is mense wie se krag in U lê!

Die pelgrimstogte leef in hulle gedagtes:

Daar is ’n klomp dinge wat elke dag in ons gedagtes leef. Soos ons hierdie reis begin – raak bewus van wat in jou eie gedagtes leef – nou, op hierdie oomblik, maar dalk ook dinge wat al ’n ruk lank in jou gedagtes leef.

Daar is ’n wysheid wat sê “Pay attention to what you pay attention to”, of gee aandag waaraan jy aandag gee. ’n Ander manier om dit te sê, is: let op wat in jou gedagtes leef. Wanneer ons begin op let, kom ons dikwels agter dat daar dinge in ons gedagtes leef wat ons lewens negatief beïnvloed. Dalk is dit die negatiwiteit van die dinge wat ons in die media lees of hoor, dalk is dit persoonlike gedagtes of onsekerhede wat vir jou bly sê dat jy nie goed genoeg is nie. Jy raak ook moontlik bewus van positiewe dinge wat in jou gedagtes leef, opgewondenheid, of drome, of liefde vir iets of iemand.

Die eerste tree van ’n pelgrimstog, is ’n tree van bewuswording – om op te let wat in jou gedagtes leef.

Luister weer na die teks:
Gelukkig is mense wie se krag in U lê!

Die pelgrimstogte leef in hulle gedagtes:

Wat beteken dit vir jou dat pelgrimstogte in die gedagtes leef van dié wat hul krag in die Here vind?
Is dit iets wat in jou gedagtes leef?

’n Pelgrimstog, in eenvoudige terme, is ’n reis op pad na God. Dink jy die dinge wat in jou gedagtes leef bring jou nader aan God? Of vat dit jou soms vêrder van God af weg?

Hoe sal jou gedagtes lyk, as die pelgrimstogte in jou gedagtes leef?

Soos ons aan die begin van hierdie pelgrimsreis staan, let vandag deur die dag op wat in jou gedagtes leef. Vra die Here om jou te help om dinge in jou gedagtes te laat leef wat jou nader aan Hom bring.

Gebed

Here, maak ons vandag bewus van wat in ons gedagtes leef en mag die pelgrimstogte ook in ons gedagtes leef, sodat ons op ons reis, nader aan U mag kom.

Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 7 Oktober 2023

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam jou te kuier. Ons gaan wandel in ‘n paar Bybelverhale. Jy sal hulle almal onthou uit jou kinderdae of jy sal hulle onthou soos jy dit vir jou kinders gelees het.

 Lees Jona 1-4: Die verhaal van Jona

 Teks: Jona:1:17

17Toe stuur die Here ‘n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.

 GEDAGTE

Die boek Jona maak dit duidelik dat God besorg is oor Sy hele skepping. Elke mens, dier en plant.  Anders as wat Jona gedink het, strek God se genade m.a.w verder as net die mense van Israel. Die mooi van die boek Jona is dan ook dat diegene wat nie deel van die God se Ou-Testamentiese volk uitmaak nie met ope arms aangryp. Anders as Israel wat oorlaai is met God se Woord net om dit al te dikwels met minagting opsy te stoot, kom die mense van Nineve tot bekering.  Dit wys hoe groot God se genade is.

Ons sukkel om God se genade volkome te verstaan. As die genade my en jou sukses en gemak insluit. Dan is ons tevrede daarmee, maar as God se genade meer van my vra. Dan het ons ‘n probleem daarmee. ‘n Onbekende skrywer het die volgende geskryf:

 “What’s wrong with a merciful God? Isn’t that what we all would like from God? Mercy?

Yet when the mercy of God for me is also the mercy of God for them, when I look up on Sunday, me cosy with my God only to find God working the other side of the street

with them, well, it just doesn’t feel all that merciful.”

Is jy bereid om te gaan om God se genade uit te deel. Daar waar jy dalk ook onder die dooie komkommerplant sit en met God redeneer, woedend oor dinge wat nie verloop het soos wat jy wou gehad het nie.  Nou het God vir jou kom sê dat Hy genadig, barmhartig, geduldig en vol liefde is vir alle mense. Is jy bereid om ook hierdie genade te deel selfs met hulle vir wie jy kwaad is, hulle wat jou irriteer, hulle wat van jou verskil. God het Sy genade oor jou uitgestort nie om net vir jouself te hou nie, maar om ook te gaan deel.

GEBED

Elke hartklop elke asem elke oomblik van my lewe,

elke vreugde elke rede om te lewe kom uit U.

Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings,

al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U.

Elke dankie elke loflied elke amen halleluja,

elke woord wat U verheerlik elke offer is vir U.

Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings,

al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U.

U is vir my genoeg

Amen

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 6 Oktober

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam met jou te kuier. Ons gaan deur ’n paar Bybelverhale wandel. Jy sal hulle almal uit jou kinderdae onthou, of jy sal hulle onthou hoe jy dit vir jou kinders voorgelees het.

 Lees 1 Samuel 17: Die verhaal van Dawid

 Teks: 1 Samuel 17: 45

Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.

GEDAGTE

Dawid met sy slinger,

vir niemand was hy bang.

Hy bid tot God, sy Vader,

en sing ’n lofgesang.

Al was hy maar jonk en

al was hy klein gebou,

het Dawid reeds van kleins af

alleen net op God vertrou.

Hy neem nie eers ’n swaard nie

om teen die reus te veg –

hy gaan alleen in God se krag

met die slinger in sy hand.

Hy swaai die slinger om en om

en om en om en om.

Die klippie tref die reus se kop

en die reus val op sy neus!

Hierdie verhaal vertel van die stryd wat Dawid gevoer het vir God se eer. En in hierdie stryd staan verskillende dinge teen mekaar: Goliat teen Dawid. Die grote teen die kleintjie. Die selfvertroue van Goliat teenoor die Godsvertroue van Dawid. Saul is bevrees in die magsvertoon van Goliat, Dawid is eerder verontwaardig dat iemand dit kan waag om God so te bespot.

En wanneer ons dit raaksien, begin die verhaal vir ons meer word as net ‘n mooi storie. Dit herinner ons nou aan gebeure wat ons ook daagliks mee te make het. Want ook in ons dae is daar magte of dinge wat teen die Here en Sy koninkryk staan. Maar ons het ‘n almagtige God wat reeds hierdie magte oorwin het. Die Golliat in ons lewe is reeds verslaan. Ons kan in oorwinning lewe.

 

GEBED

U is my krag en my beskerming.

By U kan ek skuil in my nood.

U dra my, U versterk my,

U troos my, U omhels my.

U liefde is groot,

dankie, my Heer.

Amen

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 5 Oktober 2023

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam met jou te kuier. Ons gaan deur ’n paar Bybelverhale wandel. Jy sal hulle almal onthou uit jou kinderdae of jy sal hulle onthou soos jy dit vir jou kinders voorgelees het.

Lees Exodus 2-3: Die verhaal van Moses

Exodus 2:3

Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ‘n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit.

GEDAGTE

Die verhaal van Moses speel af gedurende ‘n tyd toe die Israeliete onder die bewind van die Egiptiese Farao geleef het. Uit vrees vir die vinnige groei van die Israelitiese bevolking, het die Farao ‘n bevel uitgevaardig dat alle pasgebore Hebreeuse seuns doodgemaak moes word (Eksodus 1:15-16). Dit was ‘n desperate en wrede poging deur die Egiptiese heerser om die Israelitiese bevolking te beheer en enige moontlike opstand te voorkom.

Hoe subtiel is God se reaksie nie op die farao se brutaliteit nie?  Onder die neus van farao se volk word ’n kind gebore wat die leier sal word van die onkeerbare trek uit Egipte na die land van belofte.  Ironies genoeg word hy deur die farao self se dogter groot gemaak, ná sy ma toegelaat is om hom te speen en toe het hy saam met die faro se kinders in die paleis gewoon.

Deur Moses in die mandjie te plaas, het Jochebed haar vertroue in God gestel om haar seun te beskerm en te lei. Hierdie geloofsdaad weerspieël die onwrikbare oortuiging dat God hulle nie in hul tyd van nood sal verlaat nie. Wat ‘n groot geloofstap moes dit nie gewees het nie.

God is almagtig, maar Hy werk nie alleen nie. God is teenwoordig in ons lewens en in ons swaarkry. Dikwels vra hy ons om daardie eerste geloofstap te neem.

Mag jy opnuut luister na waar God jou roep, mag jy sien waar jy gered word, mag jy raaksien wanneer jy voor ’n brandende bos staan en mag jy antwoord wanneer God jou stuur.

GEBED

Here gee my die moed om daardie eerste stap in geloof te neem. Amen

 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 4 Oktober 2023

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam met jou te kuier. Ons gaan deur ’n paar Bybelverhale wandel. Jy sal hulle almal onthou uit jou kinderdae of jy sal hulle onthou soos jy dit vir jou kinders gelees het.

 Lees Genesis 37: Die verhaal van Josef

Teks: Genesis 37:8

Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?” Oor sy drome en sy praatjies het hulle ‘n nog groter afkeer van hom gekry.

GEDAGTE

Die verhaal van Josef klink na so ‘n gewone verhaal, ‘n storie oor ‘n witbroodjie, ‘n bedorwe brokke, ‘n jong seun wat graag by sy pa klik oor sy broers en dan gestuur word om hulle te gaan dophou en weer vir pa te gaan rapporteer.

Uit die groter Josefverhaal weet ons dat God reeds begin het om deur die bedorwe brokke te werk. Die drome is eintlik die eerste roetemerkers van die groot uitkoms wat God later deur Josef sou bereik. God het sy oog op die toekoms en God begin die slegte verhoudinge binne Jakob se gesin gebruik om vorentoe op ‘n verstommende manier uitkoms vir die volk te bring. Met ander woorde – al gebeur al hierdie slegte dinge is God steeds besig om die groter storie, waarvan Josef deel is, te skryf.

Wanneer ons verhale nie van die aanwesigheid van God getuig nie, wanneer ons God nie eers in die prentjie bring nie, beteken dit nie God is afwesig nie. God is altyd daar. God het Sy oog op die langtermyn. God is besig om deur mense en verhoudinge en ons mislukkings aan God se heerlike doel te werk. Ons kan op hierdie God met alles wat ons is en het vertrou. Ons kan na hierdie God bly draai en hom bly dien. Net soos in die geval van Josef se verhaal is God besig om jou verhaal ook te skryf. Al voel dit nou vir jou asof jou verhaal sleg en uitdagend is, weet dat God nie die pen neergesit het nie en dat hy steeds skryf. Jou storie sal ook soos Josef se verhaal in oorwinning uitloop.

GEBED

Neem my in beskerming, Here my God.

By U soek ek skuiling, Herder en Heer.

Ek behoort aan U – net U kan my seën.

Heer, U is my lewe, U sorg vir my.

Dit wat ek ontvang het, dit kom van U.

Dit wat U my gee, is so mooi vir my.

By U voel ek veilig; U maak my bly.

Uit u hand kom als wat goed is vir my.

Amen

 

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 3 Oktober 2023

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam jou te kuier. Ons gaan deur ’n paar Bybelverhale wandel. Jy sal hulle almal onthou uit jou kinderdae of jy sal hulle onthou soos jy dit vir jou kinders gelees het.

 Lees Genesis 25:19-Genesis 27: Die verhaal van Jakob

 Teks: Genesis 27:30

Toe Isak vir Jakob klaar geseën het, en hy nog skaars by sy pa Isak uit was, kom sy broer Esau terug van die jag af.

GEDAGTE

’n Mens staan verstom oor al die intrige en spanning in die lewe van mense en gesinne wat God kies om sy verlossingsplan uit te voer. Dit laat ons nie net besef hoe ontrou mense is nie, maar veral hoe groot en getrou God is.

God se trou blyk daaruit dat God terwille van sy verbond deur al die hartseer en menslike foute heen steeds hoopvol en lewegewend met mense besig is. Dat God mense hiervoor gebruik. God se genade is meer as mense se sonde en tekortkominge. Daarom seën en gebruik God mense met die oog op sy verbond. Met die oog op die toekoms.

Tog kan ‘n mens ook nie heeltemal die gevolge van verkeerde optrede ignoreer nie. Jakob het die een plan op die ander gehad om net te kry wat hy wou hê. Ten spyte van al hierdie verkeerde dinge weef God tog Jakob se verhaal by sy groter prentjie in. Ja, God gebruik hom as gewone sondaarmens om sy groter plan te laat verwesenlik.

Ons ken almal verhale van hoe God ons insluit by sy groter werke op aarde. God roep en bemagtig ons in ons gebroke konteks. Hy roep ons om kreatief ‘n verskil te maak. Gelowiges wat bid vir die koninkryk om te kom, is mense wat in gebrokenheid steeds vashou aan God wat met die aarde en al haar mense op pad is. Die beloftes is daar. Die opdragte ook. Gewone mense, onvolmaakte mense, mense soos ek en jy is deel van God se herskepping

GEBED

Here – as ons tog maar net op ’n vaste koers kan bly en ons aan u voorskrifte kan hou!  As ons al u gebooie in ag neem, sal ons nooit raadop wees nie. U bepalings is regverdig. Doen goed aan u diensknegte, dan sal ons lewe en u woord gehoorsaam. Maak ons oë oop sodat ons die kragtige werking van u wet ervaar. Hier op aarde is ons net op u beskerming aangewese.

Amen

 

 

Gedagte vir die dag | Maandag 2 Oktober 2023

 

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam jou te kuier. Ons gaan deur ’n paar Bybelverhale wandel. Jy sal hulle almal onthou uit jou kinderdae of jy sal hulle onthou soos jy dit vir jou kinders gelees het.

 Lees Genesis 6-8: Die verhaal van Noag

 Teks: Genesis 8:1

1Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was, en God het ‘n wind oor die aarde laat waai, en die waters het teruggetrek

 GEDAGTE

Die verhaal van Noag en die ark is een van die bekendste Bybelverhale. God het Noag, wat ‘n regverdige man was, gekies om ‘n massiewe ark te bou om verteenwoordigers van al die diere van die wêreld te huisves. Dit was omdat God besluit het om die hele wêreld te oorstroom om die goddeloosheid van die mensdom te vernietig. Noag het God se bevel gehoorsaam en die ark gebou, sodat sy gesin en die diere die wêreldwye vloed kon oorleef.

Genesis 6 tot 9 vertel ‘n verhaal wat ons almal van kleins af ken. Van die groot vloed en Noag se ark. Maar eintlik is dit ’n verhaal van ’n einde en van ’n nuwe begin. Dit vertel hoe een van die héél grootste rampe ooit alles kom verander het. Maar eintlik kom die verhaal van baie verder as dit af. Jy moet eintlik die storie vier hoofstukke terug gaan haal. Daarin vertel die Bybel ons eers hoe God die mens as die kroon van sy skepping gemaak het, en aan hom die ereplek gegee het. Maar daarna gaan dinge spoedig net van sleg na slegter. Eers draai die mens sy rug op God – die sondeval; en net een hoofstuk later lees ons al van die eerste moord; en so het die mens net al verder weggedwaal van God af. Tot ons in Genesis 6:6 lees dat dit die Here berou het dat Hy hoegenaamd begin het met mense. Hy het besluit om weer van voor af te begin.

Ons het sekerlik al almal tweede kanse by die Here ontvang. ’n Kans op ʼn nuwe begin. Keer op keer het die Here ons al vergewe – die bladsy omgeblaai en weer die pen vir ons gegee om nuut te begin skryf. Dank die Here vandag vir nuwe kanse in jou lewe. Dat Hy jou en my nie van die aarde af vee nie, maar nog ʼn kans gee. Gebruik dan die nuwe kans om ʼn verskil te maak.

GEBED

Ons glo in die God van water

wat ‘n verbond met mense en diere gesluit het

ons glo in sy geliefde Seun

oor wie Hy Hom verheug

ons glo in die Heilige Gees

wat soos ‘n duif op Jesus neergedaal het

uit ‘n oopgeskeurde hemel

waar daar nog somtyds ‘n reënboog sit.

Amen

 

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 30 September 2023

Vandag is Saterdag 30 September en by hierdie week se oordenkings reflekteer ons saam oor die betekenis van “Erfenis” en watter Bybelse waarhede daar vir ons is. Hierdie Bybelse waarhede herinner ons daaraan dat ons as gelowiges ‘n ryk erfenis in God het, wat ons moet bewaar, koester, en deurgee aan die volgende geslag.

‘n Gesonde nalatenskap: In Spreuke 13:22 (AFR83) lees ons: ‘n Goeie mens laat ‘n erfenis na ook vir sy kleinkinders; die besittings van die sondaar kom in die hande van die regverdige”. Hierdie vers moedig ons aan om ‘n gesonde nalatenskap agter te laat, insluitend ‘n erfenis van liefde, deugsaamheid en regverdigheid. Hierdie Bybelse waarhede herinner ons daaraan dat ons as gelowiges ‘n ryk erfenis in God het, wat ons moet bewaar, koester, en deurgee aan die volgende geslagte.

Die Koste van Gehoorsaamheid: Bonhoeffer het ook beklemtoon dat gehoorsaamheid aan God ‘n prys kan hê. Hy het die begrip van “die koste van gehoorsaamheid” ontwikkel en erken dat dit ‘n uitdagende roeping kan wees. Hierdie insig herinner ons daaraan dat ons erfenis as Christene die bereidheid om die koste van gehoorsaamheid te aanvaar, insluit. Hoe kan ons dus deur gehoorsaamheid ’n gesonde nalatenskap vir ons kinders los. Hierdie insigte van Dietrich Bonhoeffer kan ons help om ‘n dieper begrip van ons erfenis as Christene te ontwikkel en ons aan te moedig om ‘n lewe van geloof, aktiewe gehoorsaamheid, en liefde te lei.

Gebed: Here, ek nader tot U vandag met ‘n nederige hart en ‘n diep begeerte om ‘n gesonde nalatenskap agter te laat. Ek besef dat my lewe kort is en dat elke dag ‘n geleentheid is om impak te maak op die lewens van ander.

Ek bid dat U my lewe mag help rig op U beginsels en mag ek daarvolgens leef. Help my om ‘n voorbeeld van liefde, medelye, eerlikheid, en integriteit te wees vir diegene wat my nagaan. Mag ek ‘n gesonde nalatenskap van geloof, hoop, en liefde agterlaat vir my geliefdes.

Here, gee my die wysheid en die genade om goeie keuses te maak en om ‘n lewe van diensbaarheid te leef. Help my om my tyd, talente, en hulpbronne te gebruik om ‘n positiewe verskil te maak in die wêreld om my. Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 29 September 2023

 

Vandag is Vrydag 29 September en by hierdie week se oordenkings reflekteer ons saam oor die betekenis van “Erfenis” en watter Bybelse waarhede daar vir ons in is. Hierdie Bybelse waarhede herinner ons daaraan dat ons as gelowiges ‘n ryk erfenis in God het, wat ons moet bewaar, koester, en deurgee aan die volgende geslag.

Die erfenis van ’n ewige heerlikheid: In 2 Korintiërs 4:17-18 sê Paulus: Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig”. Hierdie verse herinner ons aan die ewige erfenis wat vir ons in die hemel wag as kinders van God.

Hierdie konsep is die idee dat gelowiges ‘n ewige bestemming in die teenwoordigheid van God het, wat die finale doelwit van hul geloof is. Bonhoeffer sou waarskynlik hierdie konsep binne die konteks van sy teologiese denke bespreek en beklemtoon dat die geloof in die ewige heerlikheid ‘n bron van hoop en betekenis is vir Christene in hul aardse lewens.

Gebed as erfgename van die ewige heerlikheid: Ons Hemelse Vader, ons dank U vir die grootse belofte van die ewige heerlikheid wat voor ons lê deur Jesus Christus, ons Verlosser. Ons weet dat hierdie wêreld verganklik is en dat daar soms moeilikhede en stryd in ons lewens is. Maar ons vertrou op U en U Woord wat ons leer dat daar ‘n ewige woonplek by U is, waar daar geen lyding of smart sal wees nie. Amen.

1 21 22 23 128