Dagstuk | Donderdag 2 November 2023
Vandag is Donderdag 2 November en hierdie week hou ons feesgeleentheid om die hervorming in kerkwees te vier. Martin Luther het dit op 31 Oktober 1517 begin omdat hy dapper genoeg was om 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vas te spyker. Vandag kyk ons na die 3de Sola: Sola Christi (Christus Alleen).
Ons glo in Jesus Christus wat deel is van die Drie-Enige God. Hy is God in mens-vorm en is ook die Seun van God. Jesus het op aarde gewoon om vir ons te wys dat Hy deel is van ons wêreld. Hy het aarde toe gekom om vir ons God se genade te verduidelik en om as ’n voorbeeld vir ons te leef. Hy moes mens word om God se Koninkryk vir ons sigbaar te maak en ook sodat Hy ons kan leer hoe om as Sy dissipels (volgelinge) te leef.
Christene het begin nadink oor wie Jesus nou eintlik is en watter rol Hy speel. Die antwoord het gekom dat Jesus drie rolle vervul: Hy is Profeet, Priester en Koning. En elkeen hiervan is weer ’n opdrag aan ons om Jesus hierin na te volg.
As ’n Profeet het Jesus gekom in die tradisie van die Ou Testament. Profete is deur God gestuur om Sy boodskap aan mense oor te dra. So het profete dikwels voor konings of die mense verskyn en gesê: “So spreek die Here!”. Jesus het nie net God se woorde kom oordra nie, Hy was self DIE WOORD van God (so leer Johannes 1).
Oordenking: Christus alleen is ons Here. Ons moet op Hom vertrou vir ons redding en nie op enige ander.
Wysheid: “Christus alleen is die Hoof van die kerk, en hy alleen bring ons nader aan God.” – Martin Luther
Gebed: Here Jesus, help ons om ons vertroue volkome op U te stel en U na te volg. Amen.
Dagstuk | Woensdag 1 November 2023
Vandag is Woensdag 1 November en hierdie week hou ons ’n feesgeleentheid om die hervorming in kerkwees te vier. Martin Luther het dit op 31 Oktober 1517 begin omdat hy dapper genoeg was om 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vas te spyker. Vandag kyk ons na die 2de Sola: Sola Gratia (Genade Alleen).
Ons sal ’n groot fout maak as ons dink dat die hele stryd in die Reformasie net oor die Bybel gegaan het. Die vraag van Luther wat die Reformasie aan die gang gesit het was ’n vraag na God! Waar vind ons God, spesifiek ’n genadige God?
Luther en ander geestelike leiers het weer kragtig ontdek dat ons as mense dit nie self regkry om alles in die wêreld uit te pluis en beter, of reg te maak nie. Die mense van die Reformasie het intens bewus geword daarvan dat Jesus Christus uit genade alleen na ons toe gekom het. God staan nie los van ons swaarkry en onsekerhede en twyfel nie. God ken ons stryd teen versoekings, ook ons liggaamlike en emosionele pyn. God is ’n God van genade; Hy draai die beginsels van ’n wêreld van vergelding om.
Die Reformasie laat ons weer die regte Evangelie onthou: Toe alles vasgeloop het en toe dit baie duidelik word dat ons met ons menslike vermoëns en selfs wette en regstelsels nie die diepste probleme en pyn van die wêreld kan oplos nie, het God ingegryp en sy Seun gestuur.
Dit is vandag duidelik dat die tegnologie ons ook nie help om ’n regverdige, heel en gesonde wêreld te skep nie. Ons het steeds die Evangelie en reformasie nodig: Die genade van Jesus alleen.
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie…” (Efesiërs 2:8-9)
Oordenking: Ons verdien nie die genade van God nie. Dit is ‘n onverdiende geskenk wat ons moet aanvaar met dankbaarheid en nederigheid.
Wysheid: “Genade is liefde wat aan jou gegee word, ongeag of jy dit verdien het of nie.” – Martin Luther
Gebed: Here, dankie vir U onverdiende genade wat ons red. Mag ons altyd nederig wees en dit ook aan ander betoon. Amen.
Dagstuk | Dinsdag 31 Oktober 2023
Vandag is Dinsdag 31 Oktober en hierdie week is ’n feesgeleentheid waarin ons die reformasie van die kerk vier. Martin Luther het dit op 31 Oktober 1517 begin omdat hy dapper genoeg was om 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vas te spyker. Hierdie stellings het gegaan oor probleme wat met die leer en praktyke van die kerk van daardie tyd ondervind is. Vandag vier ons Reformasiedag deur te kyk na die 1ste Sola: Sola Scriptura (Die Skrif Alleen).
Daar is ’n uitgangspunt waarin ons sou kon sê dat die hele Reformasie om die Bybel gedraai het. Die herontdekking van die Bybel en ’n nuwe lees daarvan deur priesters soos Martin Luther was een van die groot dryfvere agter die Reformasie. En verseker was een van die grootste gawes van die Reformasie aan ons dat hulle aan ons ’n kerk wou nalaat waarin die Bybel ’n absolute sentrale plek sou hê.
Die Bybel was so belangrik vir die Reformatore omdat hulle geglo het dat die Bybel die enigste plek was waar ons betroubare kennis oor God kan kry. Ons kan nie maar op mense vertrou of selfs op die kerk en sy vergaderings om dit vir ons te gee nie. Die Bybel is die plek waarin die Here Homself op ’n onvergelyklike manier aan ons geopenbaar het.
Die kerkvader Augustinus het dit baie mooi gestel: in ’n tyd waar geen mens God self van aangesig tot aangesig kan sien nie, het Augustinus gesê “dat die Bybel vir nou God se gesig vir ons is”. As ons wil weet wie en hoe God is, moet ons die Bybel gaan lees.
Maar ons leer nie net vir God ken in die Bybel nie. Die Bybel help ons ook om onsself en ons wêreld beter te verstaan. Die Woord is werklik ‘n lamp vir ons voet en ‘n lig vir ons pad (ps 119:105).
Oordenking: Die Skrif alleen is die maatstaf vir ons geloof en praktyk. Dit herinner ons dat ons altyd na die Woord van God moet kyk vir leiding en wysheid.
Wysheid: “Die Bybel is die venster waardeur ons God sien.” – Martin Luther
Gebed: Here, dankie vir u Woord wat ons leiding gee. Help ons om dit te bestudeer en te volg in alle aspekte van ons lewens. Amen.
Dagstuk | Maandag 30 Oktober 2023
Vandag is Maandag 30 Oktober en hierdie week rig ons as ’n feesgeleentheid in om die hervorming in kerkwees te vier. Martin Luther het dit op 31 Oktober 1517 begin omdat hy dapper genoeg was om 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vas te spyker. Hierdie stellings het gegaan oor probleme wat met die leer en praktyke van die kerk van daardie tyd ondervind is.
Martin Luther was ’n priester en hy wou hierdie 95 sake onder die aandag van die kerk van daardie tyd bring, byvoorbeeld dat mense nie moes betaal vir hulle sonde nie, maar deur genade vrygespreek is. Dit was die begin van die Reformasie / Hervorming.
Hy het ook die Bybel in Duits vertaal, sodat gewone mense dit ook kon lees (voorheen was dit net in die brontale Grieks en Hebreeus beskikbaar, en in Latyn vertaal – wat net die priesters kon lees). Hy het geglo God praat deur die Bybel met alle mense.
Die stappe het tot die geboorte van die Protestante kerke gelei, waarvan die NG kerk vandag deel is.
Die 95 besware vind uitdrukking in die vier solas soos ons as gereformeerdes dit vandag ken:
Sola Scriptura – die Woord/Bybel alleen
Sola Gratia – genade alleen
Sola Christi – Christus alleen
Sola Fidé – geloof alleen
Dit kan saamgevat word in die vyfde sola:
Soli Deo Gloria – Aan God alleen die eer.
Mag ons hierdie week sien as ‘n geleentheid om na te dink oor die erfenis van die Reformasie, die betekenis van die Skrif, en die vrye genade van God. Mag dit ons herinner om God se genade te omhels en aan Hom alleen die eer in ons lewens te gee. Die Reformasie viering is ook vir ons elkeen ’n uitnodiging om voortdurend te vernuwe. Romeine 12:2 sê dit so mooi: “… maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”.
Gebed: Here, ek bid dat U vir ons sal help met dapperheid om U met toegewyde harte te dien. Kom vernuwe ons met nuwe insigte tot verheerliking van u Naam. Amen.
Dagstuk | Saterdag 28 Oktober 2023
Psalm 46 (dit is net ’n uittreksel, lees gerus die hele Psalm self deur). God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie. Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.
Môre vier kerke reg oor die wêreld Reformasiesondag. Dit was ‘n beweging wat mense soos Martin Luther, aangespoor het om nie net die kerk nie, maar die wêreld waarin hulle geleef het te verander. Psalm 46 het vir Luther besondere betekenis gehad en hy het ’n lied daaroor geskryf wat in ons eie liedboek opgeneem is. Lied 476, ’n Vaste burg is onse God. Luther het blykbaar in sy donkerste tye gelowiges om hom uitgenooi om die lied te sing en dan die kwaad uit te daag om sy bes te probeer. In die afgelope week, waarin ons elke dag oor die konflik in Israel en Palestina nagedink het, het die omvang van die vernietiging dramaties gegroei. Die ervaring wat dit ’n mens mee laat is verslaentheid. Dit is nie meer maklik om die grens tussen goed en kwaad te tref nie, omdat alle reaksies besig is om op ’n groot katastrofe af te stuur. Hoe gaan mense op ’n plek kom om hierdie siklus waarin kwaad duidelik oorheers te breek?
Die Protestantse Reformasie van 1517 was ’n breek van .n nimmer eindigende siklus van gebeure wat Europeërs die Donker Eeue genoem het. Dit het vir mense gevoel of hulle niks kan doen aan die kwaad waarin hulle vasgevang geleef het nie en gelowiges het gedink dat dit die einde van alles is. Die enigste uitweg was om te vertrou dat God in hierdie omstandighede hulle tot nuwe insigte sal bring wat mense se reaksies sal raak en verander. Die Reformasie het die wêreld kom verander en reaksies by mense ontlok wat godsdiens, politiek, wetenskap die kuns en musiek kom verander het. Dit was helaas toe nie die einde, maar ‘n nuwe begin. Ons eie gemeente is deel van hierdie Protestantse tradisie. Ons protesteer nie net dinge wat vernietiging bring nie, maar glo dat God se liefde en genade ons tot dade inspireer wat die goeie oor die kwaad laat seëvier. Hoe is dit besig om in hierdie tyd met jou te gebeur as jy na die onreg in Israel en Palestina kyk en dieselfde siklus hier in ons eie land beleef. Laat ons maak soos Luther sê: Kom ons sing Psalm 46 en glo dat God ons vandag inspireer tot klein dade wat ‘n wêreld kan verander.
Gebed
‘n Vaste burg is onse God,
ons skuil in Hom die sterke.
Hy is ‘n vesting in die nood vir ewig staan sy werke.
Al kom die bose aan, in sy oorwinaarswaan,
ons weet by al sy lis, sy lot is reeds beslis,
God self stel aan hom perke.
Dagstuk | Vrydag 27 Oktober 2023
Matteus 24:3. Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van U koms en van die einde van die wêreld wees? Jesus antwoord hulle: Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.
Daar is die bekende aanhaling van John Lennon wat sê: Everything will be right at the end, and if everything is not right, it is not the end. Elke keer wanneer ‘n groot oorlog gedreig het, het gelowiges die sterk aanvoeling gehad dat die einde van die wêreld om die draai is. Met die afgelope konflik in die Oekraïne en Israel hoor ‘n mens weer oral van kerke dat dit nou die einde is. Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, hy waarskynlik verwys na die Joodse oorlog tussen 66-70 n.C. toe duisende Jode daagliks deur Romeine gekruisig is wat aanleiding gegee het tot die vernietiging van die tempel en die Jode se verbanning uit Jerusalem. Die eerste generasie gelowiges het vas geglo dat Jesus in hulle eie leeftyd sou terugkeer om sy Koninkryk te vestig. Dit het nie so gerealiseer nie en in die afgelope 2000 jaar het etlike bloedige oorloë gewoed. Wanneer is die einde? Eindtyd doem profesieë help ons nie. Vrees maak jou lam. Dit plaas gelowiges in ‘n passiewe posisie van wag sodat God ons vyande kan vernietig en alles vir ons beter kan maak. Wanneer Jesus self telkens in gelykenisse oor die koms van die koninkryk van God praat wys Hy daarop dat dit reeds besig is om deur te breek. In plaas dat gelowiges passief met die vinger na die eindtyd tekens wys, roep die Here ons eerder tot produktiewe lewens. If everything is not right, it is not the end. Wat is die vrese en oordele wat in hierdie tyd in jou oorheers as jy na die wêreld om jou kyk? Hoe raak dit jou denke en gedrag?
Hoe roep die Here jou in hierdie tyd om in die midde van druk omstandighede ‘n betekenisvolle lewe te lei?
Gebed
Here, U het ons twee duisende jaar terug gewaarsku dat ons dit nie in die wêreld maklik gaan hê nie, maar dat U tussen alles besig is om u Koninkryk te bou. Help ons om nie te verval in ‘n lewe waar ons passief en met vrees elke dag ingaan in die hoop dat dit die einde is nie, maar met ‘n verwagting dat ons deur die liefde, vreugde, vrede, goedgesindheid, nederigheid en sagmoedigheid wat u Gees ons gee nuwe betekenis in elke dag kan vind. Help ons met wysheid hoe ons vandag moet optree, die geloof om te volhard en die verwagting dat u ons nooit sal los nie.
AMEN.
Dagstuk | Donderdag 26 Oktober 2023
Kolossense 9:11. “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal”.
Paulus se opmerking in hierdie teks het nie sag op die oor van die vroeë kerk geval nie. Die eerste generasie gelowiges na Jesus se opstanding was amper uitsluitlik Joods. In ‘n groot deel van die Nuwe Testament het gelowiges geworstel met hoe die Christen-kultuur moet lyk. Dit bly vandag vir ons moeilik om oor die grense van kultuur, taal en identiteit te beweeg om by die plek uit te kom waar ons erken: Hier is Christus alles en in almal. Ons het die afgelope week gepraat oor die realiteit en die gevolge van konflik tussen mense van verskillende nasionaliteite en die vlak van wantroue en onverdraagsaamheid wat dit bring tussen mense wat langs mekaar moet bestaan. Ek wil vandag ‘n sprong maak na die uitdagings binne ons eie kultuur en die opgeboude spanning en verwydering tussen gelowiges in ons eie Christelike kerke. Glo ons regtig dat kultuur, taal en identiteitskwessies nie primêr is tot ons geloofsoortuiging nie, maar sekondêr? Indien dit wel so is dan moet daar mos ruimte wees vir medegelowiges ongeag of hulle wêreld en godsdiens beskouing liberaal, of meer konserwatief is. Tog, blyk dit in dieselfde kultuur vir ons baie moeilik te wees om juis hierdie bedoeling wat God in die kerk ingebou het raak te sien en dit anders te hanteer. Het ons dalk binne ons bekering ‘n tweede bekering nodig om in te sien dat in die kerk Christus alles is en ook in almal is? Hoe praat die Here vandag in hierdie gedeelte met jou oor die verskille tussen gelowiges wat spanning bring Hoe kan ons dit omdraai om die seën te beleef wat die Here bedoel het om in die kerk in te bou?
Gebed
Here, wanneer ons nuus lees sien ons konflik tussen mense omdat hulle nie met mekaar se standpunte ooreenstem nie. Ook die wantroue wat dit tussen mense bring en die onvermoë om belangrike kwessies van die dag te kan hanteer. Te midde van hierdie internasionale gebeure wat ons van buite aanskou leef ons vandag met dieselfde spanning binne ons kerk en selfs in ons gesinne en families. Here, help ons daarom vandag om te kan onderskei wat wesenlik is. Meer nog Here, help ons om die seën wat U in die verskeidenheid binne die kerk ingebou het raak te sien. Bewaar ons van oordele en vooroordele en gee ons die wil om mekaar beter te verstaan, eerder as om altyd eers ‘n eie standpunt te wil verdedig.
AMEN.
Dagstuk | Woensdag 25 Oktober 2023
Levitikus 25:23. “Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My”.
Een van die groot strydpunte in die jarelange konflik tussen Israel en die Palestyne gaan oor die besitreg van grond. Aan wie behoort dié land? Beide nasies het ‘n baie sterk affiniteit met die grond. Voor 1948 toe die staat van Israel tot stand gekom het is die land vir etlike generasies deur die Palestyne bewoon en 2500 jaar terug was dit vir ‘n tyd deur die konings van Israel en Juda regeer. Beide Netanyahu se politieke party en Hamas sien vandag ‘n toekoms waarin die reg op grond net vir een nasie beskore is. Jerusalem het al 52 periodes van oorlog beleef en is seker dié stad in die wêreld wat die meeste kere verower is. Ironies genoeg beteken Jerusalem, “Stad van vrede”. Lees weer in Lukas 13:31-35 wat Jesus oor hierdie stad se vrede sê.
Koos du Plessis het die bekende liedjie geskryf met die titel “Gebed”, wat sê:
Elke dag is ’n gedagte.
Elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem,
net ‘n skadu teen die muur.
Wat ek is, is net genade,
wat ek het is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my, Heer vanaand daarheen.
Die konflik wat in Israel aan die gang is herinner aan ons eie land se onlangse geskiedenis waarin mense vir hulle eie bestaansreg baklei het. Koninkryke en politieke partye kom en gaan. Uit die geskiedenis is dit duidelik dat besit van grond altyd net tydelik is. Ons sou oor die afgelope dekades van ‘n demokratiese Suid-Afrika kon terugkyk en kla oor die spanning wat nog tussen mense leef. Die prentjie in Israel vandag herinner aan hoe dinge dalk kon gelyk het. Hoe praat die Here met ons oor hoe ons vandag met verskillende mense moet saamleef? Wat is die vrede wat die Here ons te midde van uitdagings kom wys? Waarheen lei Hy jou heen?
Gebed
Here, wanneer ons bely dat U die Skepper van hemel en aarde is, bely ons dat alles aan U behoort. Geen nasie of volk of heerser kon nog ooit aan sy eie koninkryk vashou nie. Alles wat ons het is tydelik, behalwe vir die vrede wat U in ons aardse lewe vir ander en onsself kan bring. Help ons vandag om hierdie perspektief in ons hede te sien eerder as om vir konflik te kies. Onse Vader gee my vandag, my dag se brood. Net genoeg sodat daar genoeg is vir almal wat om my leef. Maak my vergenoeg met wat ek het. Maar nog meer, wys my vandag die vrede in die midde van vandag se uitdagings waarmee ek hierdie wêreld ‘n beter plek kan maak. Amen.
Dagstuk | Dinsdag 24 Oktober 2023
Deuteronomium 10:16-19. “Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie. Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie. Hy laat reg geskied aan die weeskind en weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee hom kos en klere. Jy moet ook die vreemdeling liefhê, want jy was self ‘n vreemdeling in Egipte”
Die Bybelse Israel het vir lank met die misplaaste oortuiging geleef dat God altyd in enige oorlog situasie aan hulle kant sal baklei en aan hulle die oorwinning sal besorg. Dit was daarom ‘n groot ontnugtering toe die tempel in Jerusalem in 586 v.C. deur die Babiloniërs en daarna in 70 n.C. deur die Romeinse ryk vernietig is. Deur die profete het die boodskap duidelik na vore gekom: God laat Hom nie deur mense manipuleer nie! Veral nie deur mense se godsdienstige toewyding wat God se seën en voorspoed probeer waarborg ten koste van ander nie (lees Jesaja 1:11-17). Dit het nooit vir God net oor die behoud van een nasie gegaan nie. Wanneer jy die Ou Testament lees besef ’n mens dit met ‘n skok. Israel was deur God uitverkore om ’n instrument te wees, nie ’n verhewe nasie nie. Dit was vir die profeet Jona bitter en moeilik om te aanvaar. Hy verkies eerder om te sterf as om die implikasie van God se genade vir die slegte mense van Nineve te aanvaar.
Wat sou dit vandag vir ons beteken om te waak teen hierdie hardkoppigheid? God bevind homself nie net aan een kant van die mensgemaakte grense nie. Tog, is ons geneig om in ons gebede en uitgangspunte God se arm te draai om vir ons kant te kies. Dink vandag oor die radikale implikasie van hierdie Evangelie in ons daaglikse lewe. God is gedurig besig om ons oor mensgemaakte grense te nooi om Hom daar te ontmoet en om ons perspektief oor mense te verander.
Gebed
Here, dit is nie vir ons maklik om ons gedagtes, perspektiewe en beeld van ons omstandighede te verander nie. Dit is diep in ons ingegroef deur vorige ervaringe, die kulture waarin ons grootgeword het en die gewoontes waarin ons verval het. Elke dag bring ons voor grense wat ons laat terugval op dit wat gegroef en bekend is. En dan is dit skielik skrikwekkend om te dink hoe ons in U ons eie godsdienstigheid ingepas het. Here, breek deur ons groewe en hardkoppigheid om die omvang van U grootheid vandag anderkant ons eie grense te kan beleef. Dankie dat U ons help om deur hierdie ervaringe wat vir ons vreemd is, nuwe plekke van tuiswees te vind. AMEN.
Dagstuk | Maandag 23 Oktober 2023
Die afgelope twee weke is die nuus oorheers deur die onlangse konflik wat in Israel en Gaza uitgebreek het. Dit mense wêreldwyd in verskillende kampe verdeel en ‘n klomp kleiner oorloë tussen mense aan die gang gesit. Alhoewel hierdie oorlog baie ver buite ons eie landsgrense woed, het dit ‘n groot en belangrike impak op ons lewens. Daarom het ek gekies om in hierdie week se dagstukkies Bybeltekste te oordink wat met ons praat oor ons eie vasgeloopte situasies.
Romeine 12:21
“Moet jou nie deur kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie”
Ons het die afgelope weke baie grafiese beelde gesien van die konflik tussen Israel en Hamas waarin soveel onskuldige mense hulle lewens verloor het. Watter reaksie het dit in jou losgemaak? ‘n Mens sou lank verskeie politieke en godsdienstige argumente kon debatteer om te bepaal wie jy ondersteun. Die bekroonde skrywer Yval Noah Harrari wat die bekende boek Sapiens geskryf het en wat self in Israel woonagtig is en vriende en kennisse aan die dood afgestaan het, het die volgende oor die situasie gesê: Most nations in history are sometimes victims and sometimes perpetrators, and sometimes both at the same time. Daar is een beginsels wat beide Israel se regse regering en Hamas in gemeen het. Hulle onderskryf dieselfde godsdienstige beginsel van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Vergelding ken geen einde nie. Jy kan nie iets regmaak deur verkeerd op te tree nie. Terwyl die twee politieke entiteite in weerwraak vasgekeer is, is daar een ding wat beide hulle burgers in gemeen het. Hulle deel in dieselfde hartseer en verlies wat dood bring. Dit bring hulle op dieselfde vlak van menswees om mekaar en hulle omstandighede anders te sien, maar wraak het ‘n goeie kans om die kwaad te laat seëvier. Ons kan beide die oortreder en slagoffer wees.
Jesus het gekies om deur sy lyding, sterwe en liefde met alle mense se basiese menswees te resoneer om dié siklus van kwaad te breek. Die keuse van die uitkoms is egter elke dag in ons hande. Moenie jou deur kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
Gebed
Wanneer ons vandag die groot konflik situasies in die wêreld aanskou bring dit sterk emosies in ons na vore oor ons eie land en persoonlike lewe. Ons beleef die woede en frustrasie wat wil vergeld en daardeur pyn oor mense se lewens bring, wat dit verdien. Dit is so maklik om elke dag die vinger na buite te wys na die wat teen my oortree en wat ek die vyand noem. Ons wil dinge probeer regmaak deur te vergeld en dan is ons optrede nie veel anders as die van ons vyande nie. Die skielike besef dat ek in die situasie beide die slagoffer en oortreder is tref my diep. Help my om in die hartseer en verlies ons gemeenskaplike menswees raak te sien wat u lyding en sterwe vandag vir my uitwys en wat die siklus van kwaad breek.
AMEN.