Dagstuk | Dinsdag 14 November 2023
Vandag se tema: Om voortdurend te vernuwe … verander ons perspektief op die dae van ons lewe.
Prediker 7:10. Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ‘n mens so sê nie.
Waarom praat ons altyd van die “goeie ou dae”? Is die lewe en wêreld inderdaad besig om al hoe slegter en slegter te raak? Dit is opvallend hoe sommige Christene getroos voel deur altyd na dinge wat in die wêreld verkeerd loop, vinger te wys en die tekens van die tye, daarvoor skuld te gee en dan voor te gee dat daar vir ons iewers vorentoe iets beter wag. Ja, ons glo dit, maar dit is nie wys om voortdurend te sê die ou dae was beter nie. Die ou dae het ook sy uitdagings gehad en dae wat nog kom hou ook ’n bepaalde vorm van seën in. Hierdie realiteit is belangrik omdat dit ’n baie groot verskil maak in hoe ons vandag lewe. Dit is wat die Prediker oor getuig. Gelowiges is nie mense wat net sit en wag op beter dae nie. Hulle is mense wat die dag aangryp as ‘n gawe van God en die geleentheid daarvan kan realiseer. Dit is met hierdie gesindheid wat ons op die weerkoms van die Here wag. Prediker het deur lewenservaring geleer om die goeie en slegte dae as dieselfde geskenk van die lewe te sien. Om deur God vernuwe te word beteken dat die Here voortdurend besig is om ons perspektief op die verlede, hede en toekoms te verander. Ons inspirasie en krag vir vandag lê nie net in die herinnering aan die goeie van die verlede nie, maar in die verwagting dat die dag wat op my wag oormore se goeie ou dae is.
Gebed
O genadige en Heilige Vader, gee my vandag die wysheid van dae. Die insig om deur die hoogte en laagtepunte van my lewensdae te kyk en die groot gawe van lewe raak te sien. Omvorm my kort asem, my uitasem en my asem ophou – tot asemrowend. Help my vandag om die eenvoud van die gawe van lewe te onderskei in die kompleksiteit van dinge wat op my wag. Gee my ‘n diep waardering vir die lewensasem wat U in my ingeblaas het en waardeur U my in staat gestel het om vandag ‘n besondere dag te maak. Amen.
Dagstuk | Maandag 13 November 2023
In die volgende week se dagstukkies gaan ons oor ons laaste kwartaal se gemeente waarde nadink: Om toegelaat te word om voortdurend deur God vernuwe te word.
Vandag se tema: Om voortdurend te vernuwe … verander ons perspektief op ouderdom.
Jesaja 46:4. Ook in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.
Grootword is iets waarvan kinders altyd droom. Na ons kinderdae breek ‘n fase in die lewe aan waarin ons as jongmense selde aan ouderdom dink. Die lewe is een groot fees, maar iewers bekruip die ontnugtering van oudword jou onverwags. ’n Onbekende persoon het die volgende wysheid kwyt geraak: Age is an issue of mind over matter. If you don’t mind getting older, then it really doesn’t matter. Maar, “we do mind”. Die realiteit dat ons almal iewers in die lewe by ’n plek gaan uitkom waar ons kragte, kapasiteite en intellektuele vermoëns afgetakel word is vir ons skrikwekkend. Terwyl ons dit beleef in die saamreis met ouers, eggenote en vriende kies ons om die gedagte daarvan vir ons eie lewens te vermy. Ons probeer dit besweer deur brille, pille, roompies en positiewe gedagtes. Ons teskgedeelte bring vandag vir oud en jonk ‘n besondere perspektief. Oudword is iets wat ons moet kan omhels. Eerder as ‘n verlies is dit ook ‘n vorm waardeur die Here ons vernuwe, want dit is juis dan dat ons beleef dat God ons vashou, dra en red. En dan is dit nie ’n konstante stryd van “mind of matter nie”, maar eerder die ontdekking dat my oudwees ook vir God “matter” (saak maak). Baklei jy teen ouderdom? Onthou die teks: Ek is die Here tot in jou grysheid. Ek het jou gemaak en sal jou vashou, dra en red.
Gebed
As ek oud word. O Heer, maak my minsaam en lief.
As alles te swaar word en so vol ongerief.
As dit skyn of mense nie meer omgee vir my….
As ek treurig en alleen voel, wil U tog by my bly.
As my liggaamskragte verswak elke dag.
As pyne en smarte en lyding vir my wag.
As die laste te swaar word en ek begin vrees.
As ek dan tot U roep, wil U tog by my wees.
As ek my kwel en bekommer oor elke klein saak.
As alles my steur en alles my raak.
As ek dan vir ander tot las voel, o Heer.
As ek dan tot U kom, troos my tog teer.
As die jare verbygaan so een vir een.
As ek stil in my kamer soms sit en ween.
As ek my hart voor U blootlê, o Heer.
As ek so tot U kom, help my tog weer.
As ek miskien binnekort die doodsdal deurgaan.
As ek eersdaags miskien voor U troon sal moet staan.
As ek dan voor U kniel met bewing en vrees.
Laat U o Here my beskerming wees. Amen
Dagstuk | Saterdag 11 November 2023
2 Kor 9:9. Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.”
RIGLYN 4: GEE DIT WAT AAN GOD TOEKOM:
Ek weet ons vra baie keer die vraag: Hoeveel moet ek gee? Wanneer ons oor geld/tiendes praat wil ons altyd praat oor hoeveel ’n mens moet gee. Asof daar ’n minimum bedrag is wat ’n mens vir God kan gee sodat jy darem die toets kan slaag. Vir Jesus gaan dit eger nie oor hoeveel nie, maar oor hoekom, of met watter gesindheid ek gee. God se deel is immers alles wat ek besit en nie net ’n tiende daarvan nie. ‘n Dogtertjie sit by haar pa en hy pak R100.00 in muntstukke op die tafel uit. Hy verduidelik vir haar dat hy ’n tiende vir die kerk gee en hy maak tien hopies van tien muntstukke elk, tien hopies van R10.00 elk en hy sê, hierdie een hopie gaan ons nou neem en vir die Here gee. Sy sê toe: “Pappa, wil jy vir my sê jy gaan al daardie ander nege hopies net vir jouself hou?”
Ek moet alles vir die Here gee. Elke sent behoort aan Hom. Eers as ek dit werklik kan doen sal ek volkome verlos wees. Martin Luther het gesê dat daar drie soorte bekerings is:
– die van jou verstand
– van jou hart
– en dan van jou beursie en dat die bekering van jou beursie ‘n bewys is van jou ware bekering!
Maar die Here stel my en jou as rentmeesters oor ons inkomste aan en as goeie rentmeesters vra Hy dat ’n mens ’n gedeelte sal gee sodat Sy koninkrykswerk hier op aarde gedoen kan word. Ons begroting moet begin by die deel wat ek aan die Here gee uit dankbaarheid.
GEBED
Here, ek gee alles aan U. Laat my asseblief ‘ʼn getroue rentmeester wees. Amen
Dagstuk | Vrydag 10 November 2023
TEKS: 2 Kor 9:7-8. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. 8En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.
RIGLYN 3: GEE UIT DANKBAARHEID
Wanneer ek gee moet ek uit dankbaarheid gee. Ek moet gee omdat ek verstaan dat daar ‘n dag in my lewe gekom het, waar ek begryp het dat die Here Jesus my sonde aan die kruis betaal het, dat Hy my ‘n leeftyd se sonde kwytgeskeld het en dat Hy my uit die koninkryk van die duisternis geneem het en my na die Koninkryk van die lig toe gebring het, en as ek dit verstaan, dan gaan my hart oop en dan gaan my beursie oop en dan begin gee ek met ‘n ander gesindheid – dan ek gee omdat ek dankbaar is.
Ons moet uit dankbaarheid gee. Dit moet nie van ons afgedwing word nie. Daar moet nie ‘n diaken verbykom en sê: waar is jou bydrae nie? As ons met daardie gesindheid gee, dat dit uit ons afgepers moet word, dat jy op jou tande kners as jy van geld hoor, dan is daar ’n fout in jou hart en nie by die kerk nie. Jy moet vrywillig gee, soos God dit op jou hart lê. Dit is die regte gesindheid. Wat sien die Here in jou hart as jy jou offer ingooi?
Een van die geheime van ’n gelukkige lewe is dankbaarheid. As ek en jy dit kan reg kry om met dankbaarheid te gee, verander dit die wêreld vir ons. Wanneer ons by die dinge kyk wat die lewe vir ons moeilik maak verby kyk, sien ons die seën wat ons het raak. Dankbaarheid word ’n realiteit in ons lewens as ons besef dat alles wat ons het is ’n geskenk van God is. Om te kan besit is ’n geskenk, om te kan werk, om ‘n familie te hê – dit is alles geskenke uit sy hand. Dankbaarheid is egter nie net ’n emosie nie, maar gaan altyd oor tot aksie.
GEBED
Here, dankie vir alles wat ek het. Uit dankbaarheid wil ek ook gee aan ander wat nodig het en aan U gemeente. Amen
Dagstuk | Donderdag 9 November 2023
Filippense 4:19: En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.
RIGLYN 2: God seën jou sodat jy tot seën vir ander mense kan wees.
God seën jou sodat jy tot seën vir ander kan wees. Kan ek dit op ʼn ander manier stel. God gee vir jou sodat jy dit weer op ʼn verantwoordelike wyse aan ander kan uitdeel. God gee vir jou oorvloed en gee jou die reg om daarvan te lewe, maar sy bedoeling was dat jy ook Sy werk op aarde daarmee moet finansier. Dit was nooit en nêrens God se idee dat Hy ʼn klomp besittings en geld aan jou toevertrou sodat jy dit eksklusief op jouself moet spandeer nie, dis nie God se plan nie. 2 Kor 8:13 waar Paulus skryf: “Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14 moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15 Daar staan ook geskrywe: “Dié met baie, het nie te veel gehad nie, en dié met ’n bietjie, nie te min nie.”
Ons loop almal gevaar om selfgesentreerd te raak. Om net aan ons eie behoeftes te dink Indien jy ‘n vervulde, vrye en bevredigende lewe wil lei, het jy mense rondom jou nodig. Mense wat jy kan liefhê en dien en kan seën met jou geld en besittings. Dit is slegs deur liefdevolle diens dat jy kan groei tot geestelike volwassenheid. Leef om vir ander mense tot seën te wees en jy sal in verwondering staan oor die kwaliteit van lewe wat jy ontdek.
GEBED
Here maak asseblief my oë oop dat ek duidelik kan sien wie ek kan help AMEN/
Dagstuk | Woensdag 8 November 2023
LEES DIE TEKS: Psalm 24:1. Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here,”
RIGLYN 1: Alles behoort aan die Here
Psalm 24:1 Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here,” … Ja, ek weet jy wil vir my vertel van die harde werk wat jy ingesit het. Jy wil vertel dat jy die een was wat jou hande blase gewerk het om te kom waar jy vandag is. Maar iets wat ek en jy vandag duidelik moet hoor is dat alles, ja alles aan die Here behoort.
1 Kor 4:7 “Wat het jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? Ons het met niks die wêreld ingekom nie, nie eers klere nie, ons het alles wat ons ons eie noem van God ontvang. Nou as dit waar is, hoe behoort ons dan te dink oor eiendom en besittings asook ons geld? – Jy is doodeenvoudig ‘n rentmeester, ‘n bestuurder van dit wat God tydelik aan jou toevertrou het. Jy is aangestel oor iets wat nie jou eie is nie, maar waaroor jy die reg tot bestuur het. En met niks van dit wat ek en jy so aan vashou kan ons eendag die ewige lewe ingaan nie. So die eerste beginsel is dat alles aan God behoort en dat ek en jy slegs rentmeesters daarvan is.
GEBED
Here, vandag wil ek erken dat alles wat ek het aan U behoort. Niks is myne vir altyd nie. U leen dit net aan my. Help my om dit reg te bestuur. Amen
Dagstuk | Dinsdag 7 November 2023
TEKS: Markus 12:42. Daar het toe ‘n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd.
Jesus sit aan die oorkant van die offerkis waar Paasfeesgangers besig is om hulle offers in te gooi. Dit was een van die wette van die Jode dat hulle aan die tempel en aan armes moet gee as deel van hulle diens aan God. Dit was by een van hierdie offerkiste in die tempel waar Jesus gekyk het hoe mense geld ingooi. Daar het baie welgestelde mense verby gekom wat groot somme geld in die offerkis gegooi het. Muntstukke van goud, silwer, koper en brons.
Dan verskyn daar ’n arm weduwee en sy gooi twee lepta in. Die vrou, wie se naam ons nie ken nie, het twee van die kleinste munte in die offerkis ingegooi. Die dissipels het gedink dit is maar baie min, maar Jesus wys hulle daarop dat sy meer gegee het as al die ander mense. Die rede daarvoor – al die ander het uit hulle oorvloed gegee, uit hulle materiële rykdom en daar was nog baie wat hulle sou kon gee, maar hierdie vrou het uit haar armoede gegee. Sy het alles gegee. Sy het twee muntstukke gehad en kon maklik een vir haarself gehou het, maar sy het nie. Sy besluit eerder om alles vir God te gee en Hom totaal te vertrou om vir haar te sorg. Sy het alles ingegooi waarvan sy kon leef, waarmee sy kos kon koop. Sy het gegee dit wat sy gehad het en sy het dit met ’n hart vol vertroue gegee.
Al was haar bedraggie klein in vergelyking met dit wat die ander mense ingegooi het, het sy steeds meer as hulle gegee. Uit haar armoede het sy steeds gegee. Sy was gehoorsaam aan God en sy het geweet Hy sal sy beloftes nakom om vir haar te sorg. Dit is die kern van hierdie gedeelte. Nie die feit dat sy wel alles ingegooi het nie, maar die feit dat sy haar nou totaal in God se hande gewerp het. Sy het Hom nou totaal vertrou. Sy het alles maar alles vir Hom gegee.
GEBED
Here, ek vertrou U volkome dat U vir my sal sorg. Daarom kan ek ook met vrymoedigheid vir U koninkryk bydrae.
Amen
Dagstuk | Maandag 6 November 2023
Ons gaan in die volgende paar dae oor rentmeesterskap praat. Tydens ons tiendemaandinsameling kry ons die geleentheid om ons tiendemaanddankoffer na die skatkis van die Here te bring. Ons tiendemaanddankoffer word vanaf Oktober tot Februarie ingesamel. Hierdie is ‘n spesiale bydrae wat ek bo en behalwe my maandelikse bydrae of bankkollekte gee. Baie dankie by voorbaat vir u ondersteuning ook vir hierdie belangrike dankoffer. Die volgende paar dae gaan ons bietjie saam dink oor die gee van offers. Ek weet al te goed dat dit is ʼn baie sensitiewe onderwerp is en ons wil gewoonlik nie daaroor praat, of iets daaroor hoor nie. Maar ek wil jou uitnooi om die volgende paar dae saam met my te reis en te hoor wat die Here weer hieroor wil sê.
Spreuk: 3:9-10. Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, 10dan sal jou skure oorvol wees
Ons begin vandag met ʼn paar inleidende gedagtes. Daar is twee ekonomiese stelsels in die wêreld. God se ekonomie en die ekonomie wat deur mense ontwikkel is. Die mees beduidende verskil tussen hierdie twee ekonomie stelsels is dat in God se ekonomiese stelsel, speel Hy die sentrale rol. Die manier waarop die meeste mense vandag hulle finansies hanteer is egter op die wêreldse manier.
Dit is interessant om te weet dat daar omtrent 2350 verse in die Bybel is oor geld en hoe ons dit moet hanteer. Naas die Koninkryk van God, is dit die een onderwerp waaroor die meeste in die Bybel gepraat word, geld en die regte gebruik daarvan. In die Evangelies handel 10% van die verse (288) direk oor geld. Sestien van Jesus se 38 gelykenisse handel oor die regte aanwending van geld en besittings. Dit gaan oor ‘n persoonlike verhouding en ‘n verantwoordelikheid wat elke lidmaat en elke gesin voor die Here het om as rentmeesters hulle finansies op die regte wyse te spandeer. Dit gaan oor wat God vir jou sê oor die geld wat jy bestuur.
Die riglyne wat ek graag in die volgende paar dae aan jou wil voorhou is Skrifbeginsels om elke lidmaat te help om op ‘n sinvolle, verantwoordelike wyse met die geld wat God aan jou as Sy rentmeester toevertrou het, om te gaan. Dit gaan hier oor God en Sy wil en ons gehoorsaamheid daaraan.
GEBED
Here, gee my asseblief wysheid om my finansies te bestuur. Amen
Dagstuk | Saterdag 4 November 2023
https://www.youtube.com/watch?v=rwzn4LSUjDQ
Vandag is Saterdag 4 November en hierdie week hou ons feesgeleentheid om die hervorming in kerkwees te vier wat Martin Luther op 31 Oktober 1517 begin het omdat hy dapper genoeg was om 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vas te spyker. Vandag kyk ons na die 6de Sola: Soli Deo Gloria (Aan God alleen die eer)
Soli Deo gloria is ’n Latynse frase wat “aan God alleen die eer” beteken. In die gereformeerde tradisie gebruik mense dikwels hierdie woorde saam met die ander “solas” (of solae): sola Scriptura (deur die Skrif alleen), sola fide (deur die geloof alleen), sola gratia (uit genade alleen) en solus Christus (deur Christus alleen). Die uitdrukking soli Deo gloria word dikwels as die gedagte beskou wat al die ander solas saambind en die regte fokus en gerigtheid gee. In die Chistelike lewe gaan dit daarom nie oor ons eie eer nie, maar oor God se eer en heerlikheid. Ons leef vanuit die getuienis van die Bybel dat ons alleen uit genade deur die geloof in Jesus Christus gered word – daarom kom alle eer aan God alleen toe. Hierdie radikale gerigtheid op die eer van God is wat die uitdrukking soli Deo gloria sy diepste betekenis en krag gee.
Oordenking: Ons lewens behoort tot die eer van God alleen. Al ons dade en prestasies moet God verheerlik en nie onsself nie. Dink maar aan aan die woorde uit Romeine 11:36: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid.” Of in die woorde van 1 Petrus 4:11: “So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid”.
Wysheid: “Alles wat ons doen, moet gedoen word tot eer van God alleen.” – Martin Luther
Gebed: Hemelse Vader, mag ons lewens ‘n lofprysing wees aan U heerlikheid en nie aan ons eie eer nie. Help ons om U te verheerlik in alles wat ons doen. Amen.
Dagstuk | Vrydag 3 November 2023
Vandag is Vrydag 3 November en hierdie week hou ons feesgeleentheid om die hervorming in kerkwees te vier. Martin Luther het dit op 31 Oktober 1517 begin omdat hy dapper genoeg was om 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vas te spyker. Vandag kyk ons na die 4de Sola: Sola Fide (Geloof Alleen).
Geloof is die een ding wat ons nodig het om te leef in ’n verhouding met Jesus Christus. Baie mense weet van Jesus en bewonder Hom selfs, maar die vraag is of jy in Hom glo? Om te glo beteken nie jy is hierdie wonder-Christen wat al die antwoorde op die lewe se moeilike vra het nie. Geloof is nie iets wat jy bereik nie. Dit beteken ook nie vroomheid nie. Dit is ’n geskenk van die Heilige Gees wat jou instaat stel om op reis te wees met God en sy Woord te neem. Dit is die vermoë om deur die lewe se op-en af-tye vas te hou aan die wete dat God jou sy geliefde kind noem en jou nooit in die steek sal laat nie.
Geloof los nie ons probleme op nie, maar ons geloof in God se trou help ons om ons probleme met meer kalmte te hanteer sodat ons daardeur kan groei.
Oordenking: Ons word gered deur geloof alleen, sonder enige verdienste van onsself. Laat ons nie probeer om ons eie redding te verdien nie, maar vertrou op Christus alleen.
Wysheid: “Geloof is ’n lewende, aktiewe meelewing in jou siel. Dit verbind jou in Christus, en jy is in Christus omdat jy in die geloof is.” – Martin Luther
Gebed: Here, dankie vir die geskenk van geloof. Mag ons aanhou vashou daaraan binne die somtyds-twyfel en ongeloof. Amen.