Dagstuk | Saterdag 25 November 2023
Stellenberg-gemeente is besig om voor te berei vir ons Kerssangdiens met die tema: Lig vir die wêreld. Hierdie week staan ons elke dag stil by ’n ander gedagte oor lig.
Johannes 1:9. 9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.
Refleksie
Johannes beskryf Jesus se menswording as ’n paradoks van lig. Die ware lig, wat elke mense verlig, wat reeds teenwoordig is, was aan die kom na die wêreld toe. Die lig wat reeds alles verlig, was op pad.
Een van die interessante eienskappe van lig, is dat lig beweeg. Lig beweeg met ’n spoed van byna 300 miljoen meter per sekonde. Lig staan nooit stil nie, al lyk dit vir ons so. Ons kan net die wêreld rondom ons sien, omdat dit konstant deur lig bestraal word. ’n Voorwerp is net verlig, omdat daar lig aan die kom is na daardie voorwerp toe.
Ons manier van praat oor Kersfees, is asof Jesus net een keer gekom het en dat daardie koms nou in die verlede is.
Maar Johannes nooi ons uit om bietjie anders te kyk na Jesus se koms en te sien dat Jesus altyd aan die kom is en nooit finaal arriveer nie.
Dit nooi ons ook uit om anders te kyk na wat dit beteken om deur Jesus verlig te wees. Ons praat dikwels daarvan as een oomblik van bekering wanneer ons besluit om vir Jesus te volg. Dalk beteken dit eerder dat ons konstant deur Jesus verlig word, dat Jesus altyd en al hoe meer aan die kom is in ons lewens in.
Peter Rollins het die opmerking gemaak dat ons dikwels sê: “I became a Christian, I joined a Church and I became saved.” Dalk moet ons eerder sê: “I am becoming a Christian, I am joining a Church and I am becoming saved.”
Mag die lig wat elke mens verlig, wat aan die kom is na die wêreld, ook na ons toe kom en ons lewens al hoe meer verlig met die lig van Christus.
Gebed
Here, mag ons altyd in u Lig leef, sodat ons verlig mag bly. Help ons om te lewe in U lig.
Amen
Dagstuk | Vrydag 24 November 2023
Stellenberg-gemeente is besig om voor te berei vir ons Kerssangdiens met die tema: Lig vir die wêreld. Hierdie week staan ons elke dag stil by ’n ander gedagte oor lig.
Matteus 5:14-16
14“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Refleksie
Jesus maak ons hier bewus van ’n eenvoudige waarheid oor lig: ’n Lig skyn nie terwille van die lig nie, maar ter wille van ander.
Wanneer ons ’n kers of ’n lig aansteek, is die lig self mooi, maar die doel van die lig is nie om aandag op die lig te vestig nie, maar om lig te gee aan die vertrek, sodat ons alles anders beter kan sien.
Ons verstaan Jesus se woorde, dat ons ons lig moet laat skyn dikwels as – ons moet so leef dat ander mense ons raaksien. Ons moet goeie Christene wees waarna ander mense kan opkyk. Ek dink Jesus sê juis die teenoorgestelde. Ons moet nie so leef dat ander na ons kyk en sal sê: kyk hoe mooi is daardie lig nie. Ons moet so leef dat ons ander mense se lewens verlig en hulle help om alles anders beter te sien. Die lig wat ons laat skyn, is nie sodat ander ons kan sien nie, maar juis sodat ander alles anders beter kan sien en vir God kan raaksien in hul lewens en in die wêreld rondom hulle.
Mag ons lig so skyn, dat ons ander help om vir God te sien.
Gebed
Here, help ons om ’n lig te wees wat ander help om te sien. Mag ons nie skyn sodat ander ons moet raaksien nie, maar juis sodat hulle alles anders kan raaksien.
Amen.
Dagstuk | Donderdag 23 November 2023
Stellenberg-gemeente is besig om voor te berei vir ons Kerssangdiens met die tema: Lig vir die wêreld. Hierdie week staan ons elke dag stil by ’n ander gedagte oor lig.
Psalm 119:130. “Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is.”
Refleksie
Psalm 119 is ’n besonderse Psalm wat die woord van God besing. In hierdie vers word die Woord beskryf as iets wat lig bring vir mense. Met ander woorde, iets wat ons help om te sien.
Lig help ons om te sien, maar dit is interessant om te sien dat lig ook soms verblindend kan wees. Ek wonder watter tipe lig die woord vir ons bring. ’n Helder soeklig verlig een enkele area of voorwerp waarop die lig val, maar maak effektief die hele wêreld rondom dit donkerder. Toe ek as kind saam met my pa in die veld gaan kamp het, het hy my geleer hoe dit soms beter is om sonder ’n koplig in die donker te loop. As jy vir ’n ruk in die donkerte stap, raak jou oë gewoond daaraan en kan jy eintlik meer sien met die dowwe maanlig as wat jy ’n klein area met ’n kopliggie helder probeer maak.
Dit is ironies hoe ons, deur lig op een ding te skyn, die wêreld rondom ons donkerder maak. Ek vermoed die lig van die woord is meer soos ’n dowwe maanlig as wat dit soos ’n helder soeklig is. Dit is meer soos ’n lig waaraan ons oë stadig gewoond moet raak, wat ons help om in die donkerte rondom ons beter te sien, as wat dit ’n soeklig is wat net een area verlig en alles anders donkerder maak.
Tog beleef ek dat die Woord van God dikwels soos ’n soeklig gebruik word. Ons soek teksverse om net te verlig waarna ons in elk geval kyk en in die proses, verblind ons onsself tot die wêreld rondom ons. Mag ons leer om eerder in die dowwe lig van die woord te sit, sodat ons oë gewoond kan raak om die hele wêreld rondom ons, beter te sien in die lig van die Woord.
Gebed
Here, mag u Woord vir ons lig bring, nie sodat ons net die dinge waarna ons kyk beter kan sien nie, maar dat ons hele wêreld verlig kan word en dat ons alles rondom ons, beter kan sien.
Amen.
Dagstuk | Woensdag 22 November 2023
Stellenberg-gemeente is besig om voor te berei vir ons Kerssangdiens met die tema: Lig vir die wêreld. Hierdie week staan ons elke dag stil by ’n ander gedagte oor lig.
2 Korintiers 4:6-7. God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. 7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
Refleksie
Die wetenskap leer ons dat ons almal van sterre-stof gemaak is. Dat die partikels waaruit ons bestaan, gevorm is in die hart van ’n ster. Die partikels waaruit jy bestaan, bestaan al van die begin af. Jy is ouer as wat jy dink. Amper in dieselfde manier, herinner Paulus ons dat dieselfde lig van Christus in ons leef, wat van die begin af teenwoordig is.
Ons kan maklik leef asof hierdie lig ons eie is, asof die heerlikheid aan ons behoort. Paulus herinner ons dat die lig wat in ons is, nie ons eie is nie, maar dat die heerlikheid aan God behoort.
Ons word ook herinner dat hierdie lig, die skat, gebêre word in kleipotte wat maklik breek. Ons probeer so dikwels ons breekbaarheid wegsteek. Ons probeer ons krake toe plak. Ek wonder of ons nie in die proses dan ook die skat wat binne ons is wegsteek nie.
Dalk is dit juis wanneer ons, soos Paulus, eerlik is oor ons eie broosheid en gebrokenheid, wanneer die skat binne ons sigbaar word. Dalk is dit juis deur die krake in ons lewens, wat God se lig helder skyn.
Mag ons leer om ons broosheid te omhels en eerlik te wees oor die krake in ons lewens, sodat God se lig deur die krake van ons lewens kan skyn.
Gebed
Here, dankie dat U ons bevry van die dryf om perfek te wees. Help ons om die broosheid van die lewe te erken en te omhels, sodat U lig wat in ons skyn, sigbaar kan word. Mag almal sien dat ons nie uit ons eie skyn nie, maar dat U lig, wat van die begin van die wêreld af skyn, in ons skyn.
Amen.
Dagstuk | Dinsdag 21 November 2023
Stellenberg-gemeente is besig om voor te berei vir ons Kerssangdiens met die tema: Lig vir die wêreld. Hierdie week staan ons elke dag stil by ’n ander gedagte oor lig.
Psalm 139:12. “maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.”
Refleksie
Ons is almal, dink ek, so bietjie bang vir die donker. Ons beweeg bietjie meer versigtig in die donker en as ons kan, sal ons eerder donkerte vermy. Ons neem selfs aan dat God nie in die donkerte is nie, maar net in die lig leef.
Ek onthou toe ek een keer saam met ’n groep vriende in ’n grot in Limpopo gaan rondkruip het. Toe ons sowat 2km in die grot in was, sê ons gids dat ons al ons ligte moet afsit en net vir ’n oomblik in die donkerte sit. Dit was die donkerste donker wat ek nog beleef het. Na ’n ruk gebeur die vreemdste ding – jy begin ’n gevoel kry van hoe die kamer van die grot “lyk” sonder dat jy enige iets kan sien. Al jou ander sintuie tree in om jou te help om ’n prentjie van jou omgewing te kry. Dit voel of jy op ’n ander manier leer sien.
Soms dink ek, maak ons te veel staat op ons oë. Ons oordeel bietjie te vinnig op grond van wat ons kan sien, die uiterlike. Ons tref te maklik onderskeid tussen wat ons as “lig” en “donker” beskou en neem aan dat God ook so na die wêreld kyk. Maar soos 1 Sameul 16:7 ons so mooi herinner: Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”
Of soos Psalm 139:12 ons herinner: “vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.”
Dalk is die donkerte nie iets vir ons om te vermy nie, maar ook ’n plek waar ons kan ontdek dat God op ’n spesiale manier teenwoordig is. As jy die sterre wil sien, moet jy bereid wees om in die donkerte in te gaan.
Stap vandag ’n pad saam met hierdie gedagtes:
Hoe lyk jou verhouding met donkerte? Wat beskou jy as lig en wat beskou jy as donker?
Hoe dink jy lyk God se verhouding met donkerte, as jy die woorde van Psalm 139 hoor?
Hoe nooi dit jou uit om anders te kyk na lig en donker?
Gebed
Here, wanneer die vrees en ongemak van donkerte ons oorweldig, herinner ons dat u daar is en dat U gemaklik in die donker sien, selfs wanneer ons nie kan nie.
Amen.
Dagstuk | Maandag 20 November 2023
In hierdie week by Stellenberg-gemeente is ons besig om voor te berei vir ons Kerssangdiens, wat altyd een die van hoogtepunte van die jaar is. Nie net omdat dit ’n spesiale diens is nie, maar omdat dit ons op ’n spesiale manier voorberei vir die Kerstyd wat kom. Die tema van hierdie jaar se Kerssangdiens is: Lig vir die wêreld. In hierdie week se oordenkings staan ons elke dag stil by die tema van Lig. Wanneer ons oor Lig dink, kan ons nie anders as om by die heel begin te begin nie, in Genesis 1:1
Genesis 1:1-3
1In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.
3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”
En daar was lig.
Lig is fundamenteel vir byna alle lewe op aarde. Heel eenvoudig kan die lewe soos ons dit ken nie sonder lig bestaan nie. Lig is fundamenteel, en tog aanvaar ons dit so vanselfsprekend. Ons dink aan lig in terme van wat ons kan sien, maar daar is soveel golflengtes van lig wat ons nie kan sien nie.
Ek neem maklik aan dat God dieselfde as ek sien en vergeet so maklik dat ek maar net ’n klein gedeelte van die lig wat in die wêreld is, kan sien. Neem ’n oomblik en probeer jou indink wat God in daardie eerste oomblik gesien het, toe God gesê het: Laat daar lig wees.
Waarvan word jy bewus wanneer jy besef dat jy net ’n klein gedeelte van God se lig kan sien? Hoe dink jy kyk God na die wêreld?
Lig is ook meer as visueel, dit is ’n bron van God se lewegewende energie. Lig is nodig vir alle lewe.
Of jy daarvan bewus is of nie, jy lewe as gevolg van God se lig. Dit is nie net waar van jou nie, maar van elke lewende ding op aarde. Ons almal leef in en as gevolg van God se lig.
Maak vandag tyd om buite te gaan stap of sit. Raak bewus van alles wat jy kan sien en hoe God se lig vir alles rondom jou en vir jouself, lewe gee. Voel die hitte van die son op jou vel en raak bewus van hoe God, van die heel begin af, vir sy Skepping sorg.
Gebed
Here, maak ons vandag bewus van U lig in ons en rondom ons. Herinner ons dat ons nie alles kan sien nie, maar slegs ’n klein gedeelte. Help ons om so te leef dat ons lewens sal getuig van U lig. Alle eer kom toe aan God, die bron van lig.
Amen.
Dagstuk | Saterdag 18 November 2023
Om voortdurend te vernuwe … verander ons perspektief op God
Hebreërs 6:1. Laat ons dan nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig is nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap.
Omdat die meeste van ons van kinderdae af met kerk, kategese en huisgodsdiens grootgeword het, is God vir ons bekend. Te midde van hierdie bekendheid kan ons egter nie ‘n akkurate beeld skets van hoe Jesus gelyk het nie. Wêreldwyd het alle Christene egter iets in gemeen wat ons wel ‘n dieper indruk gee. Dit is die simbool van ‘n kruis, wat ons herinner aan Jesus wat gelewe, gely, gekruisig, gesterf het en waar Hy uit die dood verrys het om die mag daarvan te oorwin. Dit wat God voorsien het, het gebeur. Ons het die simboliek van hierdie kruis deel van ons eie menswees en kultuur gemaak. In kort, God is by ons omdat Hy soos alle mense kom word het. Die simboliek aan die kruis versoen ons nie net met God nie, maar ook met alle mense. En so bevind ons onsself op ‘n plek waar ons kante van God ontdek wat ons nie al voorheen gesien of geken het nie. Wanneer daar in die Hebreërs vir ‘n tweede geslag gelowiges geskryf word, word hulle aangemoedig om voortdurend nuwe kante van God te ontdek. En so kom die uitdaging dan ook by ons uit. Laat ons dan nie net stilstaan by dié dinge wat ons reeds weet nie, maar nader aan God groei om opnuut God te leer ken en daardeur ook weer opnuut mense om ons te ontdek.
Gebed
Here Jesus, U graf en kruis was nie die laaste woorde oor U nie. Dankie dat ons aardse realiteite en diepste donker ook nooit die laaste woord oor ons is nie, omdat U uit liefde vir ons gesterf, en opgestaan het. Die lewe het ‘n manier om ons van koers te bring, dankie dat ons kennis van U kan verdiep om ons te help om of die situasie of onsself so te verander dat ons bokant ons uitdagings kan verrys. Met die merktekens van die kruis aan ons, maar tog ook met die heerlikheid van u opstanding.
Amen.
Dagstuk | Vrydag 17 November 2023
Om voortdurend te vernuwe … verander ons perspektief op die hede en toekoms.
Spreuke 24:14. So smaak die kennis, die wysheid ook; as jy dié gekry het, het jy ‘n toekoms en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.
Hoe word ons deur God verander? Die antwoord is eenvoudig. God kom doen altyd in ons iets wat ons manier van doen en leef kom verander. Vernuwing begin dus deur ‘n oomblik van insig wat gestalte kry in ‘n uitkoms. Die Here kan groot dinge om ons doen, maar sonder insig kan dit by ons verbygaan en geen indruk op jou maak nie. Hoeveel keer het dit nie al met gebeur nie? Daar is ‘n spreekwoord wat sê: Ignorance is bliss. Menende dat ons onkunde ‘n manier kan wees om van probleme weg te vlug. As jy nie daarvan weet nie, kan dit jou nie pla nie. Hoe minder jy weet hoe beter. Hierdie houding spoel maklik oor ons wanneer probleme in ons lewens en wêreld ons vasdruk en ons op ‘n punt kom waar ons niks met die simptome daarvan te doen wil hê nie. Spreuke moedig ons vandag aan tot ‘n ander gesindheid. As God werklik vandag hier is dan moet Hy mos besig wees om in hierdie lewensomstandighede met ons te praat. Daarom maak kennis en wysheid saak. Dink vandag oor die gebeure in en om jou lewe. Wat is ons besig om te vermy waarvan ons eintlik kennis moet neem, sodat ons kennis kan verdiep om met wysheid te kan onderskei? Met wie moet jy in hierdie tyd gaan praat, waar moet jy gaan lees om meer te leer en voor watter nuwe besluite bring dit jou uit? Raak hierdeur bewus dat God voortdurend besig is om ons te vernuwe.
Gebed
Vanoggend staan ek op, Here God, en gaan die dag binne gevul met groot krag, want . . . u krag lei my; u mag hou my regop; u wysheid leer my; u oë waak oor my; u ore hoor my. U bring die regte woorde op my lippe en u hand bewaar en beskerm my vir die pad wat voorlê. Daarvoor loof en prys ek U vandag. Met hierdie wete gaan ek hierdie dag in.
Amen.
Dagstuk | Donderdag 16 November 2023
Om voortdurend te vernuwe … maak mense heel.
2 Korintiërs 4:16. Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om agteruit te gaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.
Hierdie teks kom uit ‘n gedeelte in Korintiërs waarin gelowiges se lewens vergelyk word met ‘n kleipot wat maklik breek. Kleipotte was dié huishoudelike items wat in die Bybelse tyd die meeste gebruik is. Dit was ook van die kosbaarste items in hulle huise omdat dit vir soveel doeleindes gebruik is. Met die geringste stamp het ‘n stukkie daarvan afgebreek of ‘n kraak ontstaan wat dit onbruikbaar maak. Wanneer dit uit jou hand val word dit oombliklik vernietig. Paulus het hierdie welbekende en kosbare item gebruik om op ‘n duidelike en kragtige manier met gelowiges te praat oor die stampe en stote van die lewe wat ons onbruikbaar laat. Ook die groot tragedies wat in sekondes oor ons lewens kom en mense in skerwe op die vloer laat. Ons bid elke dag dat die Here ons en mense vir wie ons omgee moet bewaar. Te midde daarvan kry ons en die wat ons lief het seer. Ons word te midde van ons geloof in God uitgelewer aan die stampe in die lewe wat ons kwes en breek. Dit is ‘n gegewe sê Paulus, want ons is soos kleipotte. Maar in ons dra ons die skat van Jesus se dood en opstanding. Wat beteken dit vir jou vandag? Paulus sê in hierdie gedeelte dat ons juis deur die konstante realiteit van gebrokenheid deur God se Gees heel mense gemaak word. Dit beteken dat wanneer dit vir jou voel alles aan skerwe op die vloer lê en jy ‘n definitiewe einde bereik het, God se Gees wat in jou woon, jou kom heelmaak. Hoe dit werk is nie iets wat ‘n mens in ‘n preek of dagstukkie kan verduidelik nie, dit is iets waarop ons in ons gebrokenheid moet vertrou en ontdek. Die feit dat ek en jy vandag nog behoue is getuig daarvan.
Gebed
Here, maak dit deur u genade dit vir my moontlik wat natuurlikswys onmoontlik is – om die vernedering, swaarkry en lyding wat die lewe elke dag oor my pad bring, te kan dra. Ek sukkel om die sin daarvan te verstaan omdat dit mense van buite sigbaar gebroke laat. En dit voel of alles ook in ons gebreek is. Ons dra nie net ’n hart wat seer is nie, maar moet leef met gebroke harte. Ons geloof in u dood en opstanding kom verander alles. Ons is realisties en verwag die stampe van die lewe wat sy merktekens op ons laat, maar ons verwag ook die krag van u opstanding wat besig is om van ons heel mense te maak. Dankie Here dat ek vandag in my gebrokenheid daardie mens is. Amen.
Dagstuk | Woensdag 15 November 2023
Om voortdurend te vernuwe … verander ons perspektief op wat belangrik is.
Matteus 6:33. Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al die dinge gee.
Hierdie teks handel oor gelowiges wat hulle dae in bekommernis omleef a.g.v. hulle besorgdheid dat hulle môre genoeg gaan hê om van te lewe nie. ‘n Mens sou kon oordeel dat vandag se teks met ons praat oor die onvergenoegdheid waarmee ons lewe. Dit is beslis iets wat ons bekommer en dit leer dat ons die Here met die onvoorspelbaarheid van die toekoms moet vertrou. Die vertroue dat die Here vir mense sal sorg kom saam met ’n belangrike appèl om dinge in die lewe te kan onderskei. Wat is dit wat werklik vandag vir ons en ander met wie ons saam leef saak maak? Wat vra die Here vandag vir ons om te onderskei? Ons benader elke dag met die doel om sekere dinge gedoen te kry en uitkomste te laat realiseer. Is daar dalk ‘n ander uitkoms wat van ons gevra word? Moet ons dalk vandag dinge anders doen? Hoor wat sê Paulus oor die prioriteite van “soek allereers die Koninkryk van God” in Romeine 14:17-18: “Die Koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van mense”. Mag ons vandag ervaar hoe God ons op hierdie manier voortdurend vernuwe.
Gebed
Here, ons word heeldag oorspoel met die eindelose kringloop van idees, gedagtes en emosies wat ons reaksies bepaal. Ons maak keuses wat die lewe vir ons en ander kom verander. Here, vernuwe ons voortdurend deur die insig van onderskeiding. Here, maak ons vry van die onvergenoegdheid wat in ons leef en dit vir ons moeilik maak om te onderskei wat vandag werklik belangrik is. Dankie dat ons kan vertrou dat U Gees vandag oor ons gedagtes, emosies en besluite die wag hou om ons by die eenvoud van vreugde en vrede te bring wat ons kan ontsluit.
Amen.