Dagstuk | Dinsdag 19 Desember 2023
Matteus 9:35-36. Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak. Toe hy die menigtes sien, het hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie.
Met Kersfees vier ons God se verskyning in ons wêreld en hoe dit ‘n verskil by mense kom maak het. Dit is ‘n hoogtepunt in ons Bybel- en kerkjaar. Dink vir ‘n oomblik aan die volgende: Na Jesus se geboorte is daar ‘n periode van ongeveer 30 jaar waarvan ons bykans niks weet nie. Jesus het soos enige ander kind in sy ouerhuis grootgeword en eers later met sy bediening begin. Toe Jesus as’t ware vir die eerste keer in die publiek verskyn doen Hy dit op ‘n interessante wyse. Om die maksimum blootstelling te kry besoek hy nie groot dorpe en stede of invloedryke mense soos verwag nie. Hy kies eerder klein plekkies waar Hy mense uit die behoeftigste vlak van die samelewing ontmoet. Al vier evangelies praat met ons oor selektiewe gebeure in ‘n baie kort periode van slegs sowat drie jaar. Daar moes tog nog baie ander belangrike dinge gebeur het waaroor daar nie geskryf is nie en ’n mens besef dat ons eintlik min van Jesus se lewe weet. Ten spyte van hierdie gapings is die kern in die evangelies saamgevat: God het in sy omgee vir almal mens kom word. Hierdie eenvoudige en kragtige boodskap resoneer vanoggend in ons teks en lewens. Ons bemark nie met Kersfees ‘n vertoon koninkryk nie, eerder waar die heerskappy van God op grondvlak en agter die skerms mense se lewens kom raak omdat God omgee. Dink in hierdie week voor Kersfees weer oor hoe hierdie koninkryk van God besig is om in jou lewe en wêreld deur te breek.
Gebed
Liefdevolle Vader, daar is net soveel dinge oor U wat ek nie ken, of verstaan nie. Soveel wat ek nog oor U moet leer. Tog, breek daar in hierdie week voor Kersfees vir my ’n kragtige eenvoud oop. U is die Here wat by mense is. Wat op plekke in die lewe opdaag waar ons dit soms die minste verwag. Wat deur die eenvoud van die lewe op mooi en diep maniere tot ons spreek. Dit is met hierdie verwagting wat ek hierdie dag ingaan.
Amen.
Dagstuk | Maandag 18 Desember 2023
Matteus 4:4. ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.
Jesus het die woorde van hierdie teks gespreek toe hy vir veertig dae en nagte niks geëet het nie en naderhand honger geword het. Die duiwel het verskyn en hom versoek om die klippe in brood te verander. Sy reaksie was: ’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat by die mond van die Here uitkom. Jesus leer ons in die Onse Vader gebed om God te vertrou vir ons dag se brood. Wat het ons nodig om te kan lewe? Daar is elke dag ’n groot aantal onmiddellike behoeftes wat ons aandag verg en waarsonder ons nie kan klaarkom nie. In vandag se teks kom verander Jesus ons gedagtegang daaroor. Die gedeelte laat ons ‘n week voor die Kerstyd nadink ooor wat ons in die lewe versadig en krag gee. Terwyl ons probeer om dit te onderskei en in die versoeking is om maar net soos altyd aan te gaan, herinner vandag se teks ons aan die leiding van God se woorde. Ons hoor dit nie net Sondae wanneer ons in die kerk sit of moeite doen om iewers in die dag stiltetyd te hou nie. God is in elke oomblik van die dag se gebeure by ons om deur mense, gebeure en ons gedagtegang tot ons te spreek. In Jesus se menswording sien ons skielik God oral om ons op ’n ander manier. Die versoeking om net aan ons eie behoeftes te dink en daarby vas te haak is groot. Vertrou dat die Here jou vandag jou dag se brood sal gee om jou honger (behoeftes) te stil, maar leef ook vandag met die bewuswording van hoe hy deur hierdie dag se gebeure jou wil kom voed om ’n betekenisvolle dag te mag beleef.
Gebed
Here, in hierdie oggend is daar weer soos elke oggend ‘n warboel gedagtes wat in my leef oor die dag wat vir my voorlê. Dinge wat ek moet doen en klaarkry en die versoeking is groot om net aan my eie behoeftes te dink en hierdie dag so in te rig dat ek die wins en voordeel daaruit kan put. Spreek vandag tot my. Help my om U stem vandag in die natuur en deur mense en gebeure te hoor. Help my om elke situasie en emosie te kan onderskei en opnuut vandag te beleef hoe U woorde my vandag kom voed.
Amen.
Dagstuk | Saterdag 16 Desember 2023
Teks: Filippense 3:13-14
Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.
GEDAGTE
Paulus was ’n passievolle mens. Alles wat hy gedoen het het hy met oorgawe gedoen.
Om werklik passievol en met oorgawe te lewe beteken om saam met die Here te lewe. Om jou los temaak van alle aardse dinge wat jou wil verstrengel en jou werklik vas te bind aan God. Ek wil jou graag ʼn storie vertel. Dit is ‘n Duitse kortverhaal met die titel: “Der reichste Mann des Dorfes”, in Afrikaans vertaal: “Die rykste man in die dorp”. Dit gaan oor ‘n besondere ryk en selfgenoegsame man, verreweg die rykste man in die dorp. Een oggend ry hy deur die woud wat naby die dorp was en skielik hoor hy ‘n geluid. Toe hy fyner luister, blyk dit dat dit ‘n ou en baie arm man van die dorpie was, besig met ‘n eenvoudige gebed. Hy was besig om vir God te dank vir ‘n stuk brood en ‘n beker water. Dit was vir die ryk man so vreemd, dat dit hom onrustig gestem het. Met al sy skatte het dit nooit by hom opgekom om God te dank nie. Nadat hy weggery het, wou die beeld van die ou man hom nie los nie.
Intussen het ‘n storm opgesteek, die lug verdonker en die woud verkoel. ’n Neerdrukkende gevoel, soos van naderende onheil, het oor die ryk man gekom. Skielik was dit asof hy ’n stem gehoor het wat vir hom sê: “Vannag gaan die rykste man in die dorp sterf.” Verskrik en ontsteld het hy huis toe gejaag en die dokter ontbied. Dit was vir hom ’n nag van doodsangs en ellende. Met die eerste strale van die oggendson in sy kamer, het hy weer kleur in sy gesig gekry en meer gerus begin voel. In die dorp hoor hy toe later die dag, dat die dood wel die nag toegeslaan het. Die ou man wat hy die vorige dag sien bid het, het die nag gesterf.
By sy terugkeer vanuit die dorp, het sy vrou hom laggend gespot en gesê dat die geheimsinnige stem slegs sy verbeelding was. Die nag was immers lank reeds verby en hy leef nog. “Sekerlik”, het hy vir haar gesê, “maar die stem was tog reg. Vannag het die rykste man in die dorp wel gesterwe.” “Hoe kan dit tog wees?” het sy vrou gevra. “Wie is hier wat ryker is as ons?” Daarop het hy haar geantwoord: “Dié man wat vir God kan sê: ‘Buiten U begeer ek niks in die hemel en op die aarde nie … Hy was die rykste man in ons dorp.” Mag jy passievol lewe saam met God in jou lewe.
GEBED
Liewe Here weerhou my daarvan om op uiterlike dinge te vertrou –
dinge soos besittings, afkoms, verdienste.
Want Christus het my hoogste goed geword
toe Hy vir my Sy lewe afgelê het.
Daarom is my vroeëre bates nou waardeloos
en is die voorreg om Christus te ken vir my alles.
Dankie Here dat U vryspraak myne is deur geloof
en nie deur enige verdienste van watter aard nie.
Dankie dat ek mag deel in die krag van U opstanding
met ‘n uitsien na die eendag in die hiernamaals.
En daarom Here onderneem ek om my in te span,
onderneem ek om my uit te strek na wat voor is,
om sodoende die hemelse prys te kan ontvang
waartoe God my geroep het.
Amen
Dagstuk | Vrydag 15 Desember 2023
Teks:Matteus 22:39
En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
GEDAGTE
Het jy al ooit daaraan gedink dat jy mag passievol wees oor jouself? Op die oog af klink dit ’n bietjie vreemd. Wat ek sê is dat jy mag ’n bietjie omgee . . . vir JOUSELF! Dit klink so selfsugtig. Want leef ons nie juis in ’n wêreld waar mense net vir hulself omgee nie? Ek bedoel, een van die grootste uitdagings van ons tyd is om mense te kry om vir ander mense om te gee en nie net vir hulself lief te wees nie. Daarom klink ’n oproep om vir jouself om te gee eenvoudig selfsugtig.
As jy ’n lysie van belangrike mense in jou eie lewe moet opstel, waar sal jy jouself plaas? Jy sal waarskynlik jouself sit na jou man, of vrou, of na jou kinders, jou ouers en miskien selfs na jou vriende, of selfs jou werksmense. Almal bo jou is die mense wat jy tevrede wil stel en gelukkig wil hou. Dikwels ten koste van jouself. Ons leef nie meer met passie teenoor onsself nie. Daar is altyd plek vir ander, maar min tyd en plek vir onsself.
Om vir jouself lief te wees en vir jouself om te gee het niks met selfsug te doen nie. Selfsug is wanneer jy net vir jouself omgee. Maar wanneer jy gehoorsaam is aan die wet van die Here dan sorg jy vir jouself sodat jy daardeur vir ander passievol kan omgee.
- Jy moet vir jouself sorg en na jou gesondheid kyk,sodat jou man of vrou, jou kinders en kleinkinders ’n kwaliteit lewe saam met jou kan geniet.
- Jy moet vir jouself sorg deur emosioneel te groei en dalk sekere slegte gewoontes af te leer, sodat jy ’n goeie man vir jou vrou en ouer vir jou kinders kan wees.
- As jy vir jouself sorg sal jy weer ’n geesgenoot vir iemand anders kan wees.
- Jy sien, jy kan nie gee as jy nie iets het om te gee nie. Jy kan nie vir jou naaste lief wees as jy nie vir jouself lief is nie. Jy moet die Here jou God liefhê en die tweede wat hiermee gelykstaan is, jou naaste soos jouself.
GEBED
Die Here het my mooi gemaak. Hy het my baie baie mooi gemaak. Dankie daarvoor Here. Amen
Dagstuk | Donderdag 14 Desember 2023
Teks:Genesis 1:27-28
27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. 28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”
GEDAGTE
In Genesis, die eerste boek van die Bybel, lees ons dat God die Skepper van alles is. God het die aarde en alles daarop, die see en alles daarin en ook alles wat in die buitenste ruimte is, gemaak. Die hoogtepunt van God se skepping was toe Hy die mens gemaak het. God het die mens aangestel om oor die skepping te heers. Dit beteken dat God vir ons die aarde gegee het om daarop te leef. Ons kan leef van die aarde, maar ook is die opdrag dat ons dit sal oppas. Ons moet daarom alles wat op die aarde is, reg gebruik en oppas. As ons die aarde bemors, diere verwaarloos en die aardse bronne misbruik en water besoedel, doen ons skade aan die aarde en het ons nie respek vir God se skepping nie.
Die aarde is ons enigste woonplek en daarom moet ons die aarde goed oppas. Daar is bewys dat waar mense nie die aarde oppas en reg bewerk nie, die skepping en die natuur begin verval. Dit hou ook ’n gevaar in vir ons wat afhanklik is van die natuur. Ons gaan later nie meer kos, klere, water en alles wat ons nodig het om van te lewe, oorhê nie. As ons die skepping verwaarloos en misbruik, is ons ongehoorsaam aan God se opdrag. Om Christene te wees, is nie net om godsdienstig te wees en te aanvaar dat Jesus Christus ons Verlosser is nie. Gelowige kinders van God is daarvoor verantwoordelik om die skepping op te pas. Om passievol te lewe oor die skepping. Daardeur wys ons dat ons dankbaar is omdat God vir ons alles in die skepping gee om ons te versorg en dat ons vir mekaar omgee.
GEBED
O Gees van God, wie se stem, ek op die wind kan hoor
en wie se asem lewe aan die hele skepping gee, hoor my gebed!
Ek wat swak en nietig is, maak staat op u mag en wysheid.
Laat my die skoonheid van die skepping ervaar,
en laat my oë altyd die rooi en purper sonsondergang aanskou.
Mag ek U skepping op pas soos U van ons verwag. Amen
Dagstuk | Woensdag 13 Desember 2023
Teks: Matteus 22:39. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
GEDAGTE
In hierdie teks word ons gekonfronteer met die vraag oor hoe passievol ek teenoor my naaste is? Omgee vir, of diens aan ander mense is die vervulling van die tweede liefdesgebod – om jou naaste lief te hê soos jouself. Jesus se hele bediening was ’n bediening van omgee vir ander. Hy het passievol geleef teenoor ander mense. Hy het die behoeftiges en noodlydendes gehelp. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan is die meesterverhaal wat vir ons wys hoe belangrik omgee is. Om vir ander passievol om te gee, is immers in wese ’n prentjie van wie God as die barmhartige God is. Jesus verwag ook van ons om vir ander mense om te gee. Hy het gesê: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is” (Luk 6:36).
Om passievol te gee vra van ons om oë en ’n hart vir ons naaste te hê, en dan hande en voete aan ons gevoel van barmhartigheid en omgee te gee: “Wie aardse besittings het en sy broer [of suster] sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom [of haar] het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Joh 3:17). Omgee is ’n lewe van diens, ʼn lewe van omgee, ʼn lewe waarin ander mense se belange vir jou net so swaar weeg soos jou eie, ʼn lewe waarin jy jou hulpbronne, tyd, invloed en vaardighede gebruik om vir ander te sorg, of dit nou is om hulle te beskerm, te versorg, te koester of vir hulle regte op te kom. Hoe passievol leef jy teenoor jou naaste?
GEBED
Here – Mag ek u hande en voete hier op aarde wees vir my naaste. Gee my ’n omgeehart vir ander en maak my oë oop dat ek kan sien waar U my wil gebruik. Amen
Oggenddiens | Dinsdag 12 Desember 2023
Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam jou te kuier. Ons gaan gesels daaroor om passievol te lewe op verskillende vlakke van ons lewe. Vandag staan ons stil by die tema van: Om passievol te lewe voor God.
Teks: Psalm 104
Ek wil die Here loof!
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met ‘n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel soos ‘n tentdoek gespan
3en vir U ‘n woonplek ingerig het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
GEDAGTE
Dit kan gebeur dat ons so vasgeval is in ’n deurmekaar wêreld dat ons sukkel om vir God raak te sien. Ons raak nie meer opgewonde oor God nie. En dan help dit om doelbewus terug te staan en vir God as die Almagtige Skeppergod raak te sien – van die kleinste babatjie tot die grootste walvis. ’n Mens staan in verwondering oor hierdie Skeppergod en ons het amper nie genoeg woorde om sy lof te besing nie. Psalm 104 is een van die Skeppingspsalms en help ons om God as Skepper te loof. Die Psalmdigter getuig: “Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort” (v 24).
Hoe passievol is jy nog oor God? Ons kan so passievol raak oor rugby, ons kinders, of ons land. Maar as dit by die Here kom dan taan hierdie passie. Dis amper asof ons terughoudend raak. Gereserveerd raak. Die enigste reasksie op God se grootheid, Jesus se verlossing aan die kruis, op die Heilige Gees se werk, is ’n passievolle reaksie. Om voluit en met oorgawe te leef voor Hom.
Mag dit jou voorneme wees in die nuwe jaar om passievol te wees oor ons groot God. Om passievol in jou aanbidding van Jesus Christus te wees. Kom ons wees passievol in ons lofprysing en aanbidding. Ons dien so ’n groot en magtige God. Mag jou verwondering oor Hom nooit taan nie.
GEBED
Grote God aan U die eer. Heerlik is waar U regeer. Hemels is U majesteit. Heilig U geregtigheid. Amen
Oggenddiens | Maandag 11 Desember 2023
Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam jou te kuier. Ons gaan gesels daaroor om passievol te lewe op verskillende vlakke van ons lewe. Vandag staan ons stil by die eerste tema: Om passievol te lewe.
Teks: Filippense 4:4
4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!
GEDAGTE
Dis die einde van die jaar en dalk voel jy ook bietjie uitgeput na ’n vol en besige jaar. Dan is ’n boodskap soos vandag s’n iets wat jy nodig het. Om passievol te lewe.
Daar is ’n artikel geskryf “Living with passion is about creating and experiencing joy in as many aspects of life as possible”. Ons weet almal dat die lewe nie altyd net maklik en gelyk loop nie. Maar dit is juis die gehem om in alle omstandighede of dit nou uitdagend is, of maklik gaan met volle passie te lewe.
’n Passievolle lewe is meer as net ’n filosofie – meer as onbenullige wense vir geluk in jou gedagtes. Dis nie ’n probleemvrye feëverhaal-bestaan nie en dit belowe ook nie rykdom en faam nie. Eerder – dis ’n bestaan wat bewustelik gekies word ten spyte van omstandighede. Dit is ’n besluit om met jou kop omhoog te lewe. Omhoog nie a.g.v. hoogmoed nie, maar juis omrede jy opkyk na jou Skepper wat jou krag gee vir elke dag. Dit is om sonder huiwering deur elke storm van die lewe te beweeg en om wyser en sterker anderkant uit te kom. Dit is om aanhoudend te leer, lief te hê en te groei.
’n Passievolle lewe is ’n vervulde lewe. Dit laat jou toe om te sê: “Hierdie is belangrik. Dit is wat die Here my gegee het om na die wêreld te bring en ek gaan dit volstoom doen.”
’n Passievolle lewe bedoel jy neem verantwoordelikheid vir jou keuses, jou aksies en jou ondervindings. Jy leef uit die genadehand van God. Om passievol te lewe is om entoesiasties te lewe. ’n Passievolle lewe is ’n inspirerende geskenk wat jy vir ander kan gee. Vind jou passie vandag en deel vandag jou entoesiasme vir die lewe met die wêreld.
GEBED
Here, U het die lewe aan my as geskenk gegee. Help my om dit passievol te leef.
Amen
Dagstuk | Saterdag 9 Desember 2023
Vandag is Saterdag 9 Desember en hierdie week was ons tema: Adventskrans, waar ons nagedink het oor die nuwe kerklike seisoen waarbinne ons beweeg. Ons het geleer dat die Adventskrans ’n gebruik was wat in die 16de eeu by Lutherane sowel as Katolieke in Duitsland begin het. Daarmee word Advent ingelei, die seisoen waarin Christene hulleself geestelik voorberei het om die koms van Jesus Christus met Kersfees te vier.
Soos u weet het ons met ons Kerssangdiens die mooiste Adventskrans gemaak wat vir die volgende paar weke tot Kersdag in die liturgiese ruimte teen die muur gaan hang. Die Adventskrans is ‘n sirkelvormige krans met immergroen takke en blare wat die ewigheid voorstel. Gewoonlik as die krans plat lê word daar vier of vyf kerse gerangskik. Ons het hierdie week dus by elke betekenis van die verskeie kerse stilgestaan. Vier Sondae met 5 kerse wat ons geestelik voorberei het op die koms van Christus.
Ons eindig dus vandag af met die Adventskrans as simbool wat die ewigheid voorstel.
Dit maak ’n soort verwagting en afwagting in ons wakker om oor na te dink binne hierdie Kerstyd oppad na Kersdag toe.
Skrifgedeelte: Openbaring 22:12-15
“En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte van die stad”.
Gebed: Here Jesus, ons sien uit na u wederkoms. Mag hierdie tyd van voorbereiding ons harte vul met ‘n diepe verwagting van die dag wanneer U weer sal kom. Help ons om waaksaam te wees en ons lewens in ooreenstemming met u wil te leef, in afwagting van die ewige vreugde wat voor ons lê. Amen.
Ek vertrou dat hierdie dagstukke en gebede jou gehelp het om die betekenis van die adventskrans te verdiep en jou hartsverhouding met God te versterk gedurende hierdie tyd van voorbereiding op die koms van Christus.
Vrede vir jou!
Dagstuk | Vrydag 8 Desember 2023
Vandag is Vrydag 8 Desember en hierdie week is ons tema: Adventskrans, waar ons nadink oor die nuwe kerklike seisoen waarbinne ons beweeg. Die Adventskrans is ‘n gebruik wat in die 16de eeu by Lutherane sowel as Katolieke in Duitsland begin het. Daarmee word Advent ingelei, die seisoen waarin Christene hulleself geestelik voorberei om die koms van Jesus Christus met Kersfees te vier.
Ons het met ons Kerssangdiens die mooiste Adventskrans gemaak wat vir die volgende paar weke tot Kersdag in die liturgiese ruimte teen die muur gaan hang. Die Adventskrans is ‘n sirkelvormige krans met immergroen takke en blare wat die ewigheid voorstel. Gewoonlik as die krans plat lê word daar vier of vyf kerse gerangskik. Vier Sondae voor Kersfees begin die seisoen van Advent en word elke week een kers op die krans aangesteek. Elke kers verteenwoordig ‘n aspek van die geestelike voorbereiding op die koms van Christus.
Vandag reflekteer ons oor ons 5de kers – CHRISTUSKERS (KERSFEES-LIG)
Die wit kers in die middel is die “Christuskers” en verteenwoordig die lig wat Christus gebring het. Die kleur is wit om Jesus se sondeloosheid en heiligheid uit te beeld en dat Hy ons witter as sneeu was soos ons lees in Jesaja 1:18. In Duitsland word hierdie kers Oukersaand aangesteek. Oukersaand word daarom ook “Heiligabend” genoem.
‘n Vers wat die boodskap van hierdie Christuskers raakvat is in Johannes 1:4-5 waar Hy Jesus se geboorte só aankondig:
“In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.”
Gebed: Here, U het ons geroep om die lig van die wêreld te wees. Mag ons in hierdie tyd van voorbereiding ons lig laat skyn deur goeie werke en deur u liefde aan ander te toon. Help ons om die duisternis te verdryf en die weg na Christus te verlig. Amen.