GEDAGTE VIR DIE DAG

Dagstuk | Saterdag 30 Desember 2023

In hierdie week van Kersfees, reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus. 

Filippense 2:5-7 

5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 

6Hy wat in die gestalte van God was, 

het sy bestaan op Godgelyke wyse 

nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 

7maar Hy het Homself verneder 

deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem 

en aan mense gelyk te word. 

Refleksie 

Filippense 2 is een van die mooiste dele van die Bybel. Dit is in die vorm van ’n lied, of gedig, wat waarskynlik deur die vroegste volgelinge van Jesus gesing of gesê is. In hierdie lied sien ons dat die blote feit van Jesus se geboorte ons moet aanspoor om sy voorbeeld te volg. Jesus se geboorte is die grootste gebaar van nederigheid en opoffering. Jesus, wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie. Jesus het selfs sy bestaan op Godgelyke wyse prysgegee.  

Een van die dinge in die wêreld wat vir mense die heel belangrikste is, is ons ego’s. Ons probeer ons selfbeeld so poets dat ander net die beste van ons sal sien. Enige foute maak ons toe onder grimering, of ons gaan duisende rande se skuld aan om die duurste, blinkste motors te koop sodat ons ’n goeie beeld vir ander kan voorhou.  

Jesus gee sy beeld prys en verneder Homself en neem die gestalte van ’n slaaf aan. 

 Hoe kan ons hierdie Kerstyd in Jesus se voorbeeld volg? Hoe kan ons onsself verneder en diensbaar wees, eerder as om gedien te word. Waarheen nooi Jesus jou vandag uit in hierdie teks? 

Gebed 

Here, ons hou so vas aan die illusie van ons goeie selfbeeld, juis dikwels uit vrees dat ander mense die ware mens onder die oppervlak gaan ontdek. Maar U is bereid om Uself te verneder en ’n slaaf te word. U nooi ons om U daarin te volg. Help ons om nie vas te hou aan ons eie beeld nie, maar in U beeld te leef en diensbaar te wees aan ander en gehoorsaam te wees aan God se stem. 

Amen 

 

 

Dagstuk | Vrydag 29 Desember 2023

In hierdie week van Kersfees, reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus. 

Miga 5:1 

1 “Maar jy, Betlehem-Efrata, 

al is jy gering in die streke 

van Juda, 

uit jou sal daar vir My iemand kom 

om ‘n heerser te wees in Israel. 

Sy oorsprong is 

uit die verre verlede, 

uit die dae van weleer. ” 

Refleksie 

Miga sien verlossing kom uit die onwaarskynlikste bron – ’n klein geringe deel van Juda. ’n Onbelangrike plek. ’n Mens sou verwag dat die redding uit Jerusalem sou kom, nie uit Bethlehem nie. En daarom het ’n klomp mense nie eers raakgesien wat aan die gebeur is nie en selfs oor Jesus opgemerk: “kan daar iets goeds uit Nasaret kom?” 

Wat beteken dit vir jou dat God juis ’n skynbare onbelangrike plek gebruik om verlossing te bring? Hoe het God in jou lewe al op onwaarskynlike plekke sigbaar geword? 

Toe Jesus in die openbaar begin optree, het Hy Homself ook nie omring deur belangrike mense of in belangrike plekke rondgehang nie – inteendeel, Jesus het homself omring met die onbelangrike mense wat deur die samelewing uitgestoot is en Hy het op plekke beweeg wat ander doelbewus vermy het. 

JRR Tolkien, wat diep geïnspireer is deur die Christelike verhaal, skryf in een van sy verhale:  

“Many are the strange chances of the world, and help oft shall come from the hands of the weak when the Wise falter.” 

Raak vandag bewus van die misterie van God se teenwoordigheid in onwaarskynlike plekke en in onwaarskynlike mense. Raak bewus van hoe God die God van die eenvoudige en alledaagse is en hoe God, deur ’n geboorte van ’n kind in ’n geringe dorpie, redding vir die hele wêreld kan bring. 

Gebed 

Here, ons skryf so maklik mense of plekke af as onbelangrik. Maar U gebruik juis die onbelangrike as die heel belangrikste. U herinner ons dat, wie eerste is, sal laaste wees en wie laaste is, sal eerste wees. Mag ons hierdie waarheid beliggaam, soos wat Jesus Christus dit beliggaam. 

Amen. 

Dagstuk | Donderdag 28 Desember 2023

 

In hierdie week van Kersfees, reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus. 

Johannes 3:16 

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. 

 Refleksie 

Om te gee, werklik te gee sonder om terug te verwag, is een van die kosbaarste gebare van liefde. Dit is so ’n rare verskynsel dat die Franse Filosoof, Jacques Derrida, ’n ware geskenk beskou het as die onmoontlike wat in die wêreld inbreek. Kersfees, sê Johannes, is ’n geskenk wat gegee word. ’n Geskenk wat gegee word uit liefde vir die wêreld.  

Kersfees is amper sinoniem met geskenke. Dink bietjie aan die manier wat ons vir mekaar geskenke gee. Dikwels gee ons uit ’n plek van skuld (ek gee omdat iemand anders vir my iets gee) of uit verwagting (as ek iets gee, gaan ek hopelik ook ’n geskenk kry), of selfs net uit gewoonte uit. Dink aan die geskenk wat al vir jou die meeste beteken het. Waarskynlik is dit nie die grootste, of duurste geskenk nie, maar ’n geskenk wat met groot liefde gegee is. 

Die manier wat Johannes die koms van Jesus beskryf, is dat die ewige realiteit van Christus konkreet gemaak word in Jesus. Jesus kom openbaar iets wat nog altyd waar was. Liefde en gee is twee dinge wat nog altyd in die hart van die Triniteit leef. 

Richard Rohr stel dit mooi:  

“For us, the Trinity must be the absolute beginning point—and ending point, too. Outpouring Love is the inherent shape of the universe, and only when we love do we fully and truthfully exist in this universe and move toward our full purpose.  

Die inherente vorm van die heelal, is uitstortende liefde. Dit is die geskenk wat sigbaar word in Jesus Christus, wat ons uitnooi om deel te neem aan wat van die begin af waar is. Om onvoorwaardelike liefde uit te stort in die wêreld in, binne die ewige liefde van God. 

Mag ons in hierdie Kerstyd opnuut God se liefde vir ons ervaar. Mag ons opnuut in hierdie Kerstyd God se liefde uitstort op ander. 

Gebed 

Here God, aan U liefde is daar geen einde nie. Wat reeds aan die begin was, het sigbaar geword in Jesus, sodat ons U liefde kan ken. Liefde wat alle verstand te bowe gaan. Mag ons, wat hierdie liefde ken, dit uitstort die wêreld in, sodat elkeen wat in U glo, die ewige lewe mag hê. 

Amen. 

Dagstuk | Woensdag 27 Desember 2023

In hierdie week van Kersfees, reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus. 

Matteus 1:23 

23“Kyk, die maagd sal swanger word 

en ‘n seun in die wêreld bring, 

en hulle sal Hom Immanuel noem” – 

wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’ 

Refleksie 

Die goeie nuus van die geboorte van Jesus is dat God kies om teenwoordig te wees in die wêreld.  

Die klassieke wêreldbeeld in die Ou Nabye Ooste het gepraat van die wêreld as drie dele: die hemele, daar vêr bo, die goddelike ruim waar engele en God self woon. Die aarde in die middel, waarop mense en diere en plante woon en die doderyk, of die onderwêreld, daar onder. In hierdie wêreldbeeld is God vêr van alles wat op aarde gebeur. Hoewel daar ontmoetings met God kan wees en hoewel God die lewe op aarde kan beïnvloed, is die huis van God in die hemele daar bo – vêr van al die swaarkry, hartseer, verwoesting en selfs vêr van die liefde en vreugde wat mense beleef. 

Matteus bring vir ons die goeie nuus dat God nie vêr van die wêreld af is nie – God kies om in Jesus, as ’n klein kindjie gebore te word en tussen ons te woon. Jesus is Immanuel – God met ons. Of, om Openbaring te parafraseer: die huis van God in nie meer in die hemel daarbo nie, die huis van God is nou by die mense. 

God is hier. 

Reflekteer vandag oor God se teenwoordigheid in jou lewe. Beleef jy vir God as Immanuel, as God by ons? Hoe vêr of hoe naby voel God vandag vir jou? 

Hoeveel mense het waarskynlik met Jesus te doen gekry, verby Hom gestap, sonder om te besef dat Hy God se teenwoordigheid dra en tussen hulle beweeg? Dalk beleef ons soms ook God as afwesig. Dalk is dit juis in daardie tye wat Jesus besig is om tussen ons te beweeg, maar ons besef dit nie. 

Die goeie nuus is: selfs wanneer ons dit nie besef nie, is Jesus steeds besig om tussen ons te beweeg as Immanuel – God by ons. 

 

Gebed 

Here, ons wens so maklik om verwyder te word van die pyn en die seer van die werklikheid. Maar U kies om mens te word en naby aan die gebrokenheid te leef. Dankie, dat ons kan weet dat U God by ons is. Dat U teenwoordig is. Help ons om ook teenwoordig te wees, juis waar daar seer en pyn is. 

Amen. 

 

Dagstuk | Dinsdag 26 Desember 2023

In hierdie week van Kersfees, reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus. 

Lukas 2:10-11. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. 

Refleksie 

Die engel bring hierdie boodskap vir spesifieke mense, vir herders wat in die veld, buite die samelewing, besig is om skape op te pas, maar daar is ’n mooi persoonlike aspek aan die boodskap, wat ons uitnooi om onsself in te leef in die verhaal in. Die goeie boodskap is vir julle. Vir julle is daar ’n Verlosser gebore, Christus die Here. 

Dit is ’n spesifieke boodskap, maar dit is ook ’n universele boodskap, wat vir die hele volk, vir almal ’n bron van groot vreugde sal wees. Dit nooi ons uit om te vra, “hoe groot is die woord “julle” vir my?” Wie word daarin ingesluit of wie word uitgesluit? Ek wil raai as die herders vir die Engel sou vra: “Vir wie is die goeie boodskap” dan sou die Engel eenvoudig antwoord: “vir julle”. Hoe groot is jou “julle”? 

Ons word ook uitgenooi om te reflekteer oor die feit dat die Engel aan herders verskyn. Herders was die beskou as buitestanders wat buite die stad in die veld gebly het, wat vuil was en selfs as diewe beskou is. Vir die herders sê die Engel: “hierdie boodskap is vir julle”. Ons sou nog ’n paar woorde vooraan kon sit: “dit is selfs vir julle”, “dit is juis vir julle”, “dit is veral vir julle”, “dit is ook vir julle”. 

Wat gebeur met jou wanneer jy dit hoor: die boodskap is selfs, juis, veral, ook, vir jou? 

Dalk is van hierdie woorde vir jou gemakliker is ander. Al wat ek weet, is dat hierdie boodskap nie “net vir julle” is nie. 

Mag ons die vreugde van die goeie nuus, hierdie Kerstyd, sigbaar maak. Mag die vreugde van Kersfees vir julle ’n waarheid wees. 

Gebed 

Genadige God, ons verheug ons in die goeie nuus van Jesus se geboorte wat groot vreugde in ons harte bring. Mag die boodskap van redding aan almal bekend wees, en mag die vreugde van Kersfees ons lewens vul. Amen. 

Dagstuk | Maandag 25 Desember 2023

Vandag is Kersfees. Hierdie komende week reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Kersfees beteken vir ’n klomp mense ’n klomp verskillende dinge – goed en sleg. Dalk moet jy, voor ons hierdie week se refleksies begin, eers bewus word van wat Kersfees alles vir jou beteken.  

Word herinner daaraan dat Kersfees ten diepste gaan oor die misterie van die geboorte van Jesus – seun van God, God self wat mens word. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus. 

Jesaja 9:1;6 

Die volk wat in duisternis ronddwaal, het ‘n groot lig gesien; 

hulle wat in ‘n stikdonker land woon – oor hulle het ‘n lig geskyn. 

Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. 

Die heerskappy is op sy skouer. 

Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. 

Die profeet Jesaja het die koms van ’n kind voorspel wat goddelike titels sou dra: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Selfs net die geboorte van die kind bring lig vir ’n volk wat in duisternis ronddwaal. Hierdie kind waarvan Jesaja praat, word algemeen geassosieer met die geboorte van Jesus. 

Wat beteken dit vir jou op hierdie Kersfees? 

Dalk voel dit asof jy in duisternis ronddwaal, of dalk sien jy duisternis as jy na die wêreld om jou kyk? Hoe bring Kersfees vandag vir jou lig? 

Dink aan jou verhouding met Jesus. Jesaja beskryf ’n kind wat goddelike titels dra: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Hoe beleef jy vir Jesus in elk van hierdie titels? Wie is Hy vir jou? 

Luister weer na die teks. As jy dit hoor, waarheen nooi dit jou uit? 

Gebed 

Here, dankie vir die lig wat vir ons op hierdie Kersdag kan sien en ervaar –  lig van Jesus wat vir ons op hierdie dag gebore is. Mag ons die diepte van Sy raad, die krag van Sy heerskappy, die liefde van ons ewige Vader, en die vrede wat Hy alleen kan bied, ervaar. In Jesus se naam, bid ons. Amen. 

Dagstuk | Saterdag 23 Desember 2023

Matteus 16:24-25. Toe sê Jesus vir dissipels. As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

Ons leef dikwels met die perspektief dat dinge in die lewe vir ons beter gaan word as ons van sekere mense en omstandighede ontslae kan raak. Iemand het op ‘n tyd gesê: Sometimes the hardest battle is against yourself. Dit is ‘n skokkende realiteit wat in ons onderbewussyn lewe. Ons kan dit regkry om ‘n stryd te voer om mense en omstandighede om ons te verander, maar om by die insig uit te kom om self te verander ontwyk ons. Raak vir ‘n oomblik bewus van die duisende gedagtes wat in jou leef oor dit wat jy elke dag sien en hoor en nie veel van dink nie. Iewers in almal van ons is ons geprogrammeer om onsself te wil beskerm en ons eie waarde bo die van ander te verhef. Dit is deel van ‘n oer instink wat in ons ingebou is om te midde van ander in hierdie wêreld te oorleef. Dit lewe in dieselfde maat in alle mense – ook goeie mense. Hieraan herinner Paulus ons wanneer hy in Romeine 7 met homself worstel en tot die slotsom kom dat hy ‘n ellendige mens is wat homself nie kan red nie. Iewers in dit alles dring God se Gees tot ons gedagtes en wese om ons anders te laat dink en ons aan te spoor om anders op te tree. Wat kom wys die Here ons vandag wat ons ontbloot? Waarop lê die Heilige Gees sy vinger waarvan ons ontslae moet raak?

Gebed

Here God, leer my vandag nog ‘n keer dat u Seun nie gesterf het om ons van lyding te verlos nie, maar van onsself. Nie van onreg nie, en nog minder van geregtigheid, maar van onregverdige dade. Leer my weer, Here God, dat Jesus gebore is en gesterf het, sodat mense soos ek weer kan herleef, maar dan lewe soos Hy geleef het: deur te sterf soos Hy gesterf het: aan Homself.

Amen.

Dagstuk | Vrydag 22 Desember 2023

Matteus 13:10. Die dissipels het vir Jesus kom vra: Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?

Gelykenisse was stories wat gebaseer was op menslike gebeure en wat die aanhoorders aangespoor het om dieper oor hulle praktiese lewens na te dink. Of die gebeure gebaseer was op ware verhale en of Jesus fiktiewe stories vertel is onseker. Daar is wel aanduidings dat die basis van hierdie gelykenisse op werklike sosiale en politieke gebeure geskoei was. Sommige gelykenisse is deur Jesus uitgelê, terwyl die betekenis van ander dikwels die dissipels laat kopkrap het. Die Bybel sê dat wanneer Jesus mense geleer het, het hy altyd gelykenisse gebruik. Dit was in kontras met die gebruiklike godsdienstige tradisie waarin die Wet van Moses die basis van alle lering was. Waarom kies Jesus gelykenisse? Waarom praat Hy nie reguit en duidelik met ons oor die dinge waaroor ons met mekaar oor stry en wat ons sukkel om te verstaan nie? Jesus se dissipels het dieselfde vraag gevra. Jesus het die beperktheid van die Wet van Moses verstaan. Dit het net tot die Joodse bevolking gespreek en nie antwoorde op alle vrae en uitdagings gebied nie. Die doel daarvan was om gedrag te beperk. Deur gelykenisse nooi Jesus ons om deur alledaagse menslike gebeure te vind dat God in ons hede werksaam is – dit het dikwels nie net een betekenis gehad nie. Dit is tydloos en grensloos en spoor ons aan om dieper oor God in ons omstandighede na te dink. Dit leer ons dat elke tyd en omstandigheid van ons ‘n dieper reaksie vra as om net ‘n wet toe te pas. Mag ons in hierdie tyd waarin ons God se nabyheid vier dit weer opnuut ontdek.

Gebed

Heilige God, Skepper van alles wat bestaan. U wat gedurig besig is om die gesig van die wêreld te verander, verander ook ons. Laat U kreatiewe energie gedurig in my lewe invloei as ek oor U nadink om so die lewe wat U ons mee seën vir onsself en ander oop te breek. Dankie dat U woorde vir mens in alle tye en omstandighede aktueel sal bly, omdat U tot deur en tot ons menswees spreek. Help ons om in vandag se gebeure dieper as die voorhand liggende te kyk en verder as net ‘n reël te sien. Wys my die wonder van nuwe lewe wat in my dag ontvou en hoe ek die geleentheid daarvan kan aangryp.

Amen.

Dagstuk | Donderdag 21 Desember 2023

Matteus 12:6-8. Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel. As julle begryp het wat dit beteken: Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie, dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. Die seun van die mens is immers Here oor die Sabbat.

Jesus is deur die Fariseërs beskuldig dat sy dissipels die Wet van Moses oortree toe hulle op ’n Sabbat van hongerte die koringare van ’n saailand gepluk en geëet het. In Jesus se tyd is mense se godsdienstige toewyding aan God gemeet deur gereeld by die tempel offers te bring en nougeset die Wet van Moses na te volg. Jesus en sy dissipels is op grond hiervan veroordeel. Jesus se geboorte en menswees bring ’n dieper dimensie in ons godsdiens en geloof, omdat dit ons skielik nie net aan God bind nie, maar aan mense. Om deur mense se nood en kwesbaarheid geraak te word (barmhartigheid) is ook godsdiens, want dit verbind ons aan God wat liefde is.

Ons is geneig om baie eng oor ons toewyding aan God te dink en daarin soos die Fariseërs mense op grond van tekortkominge te beoordeel en te veroordeel. Die laaste ding wat dan gewoonlik in ons gedagtes opkom is om barmhartig te reageer.

‘n Hart wat kan voel, omgee, medelye en begrip kan toon en geduldig is, is beslis nie van minder waarde as die reëls en beginsels van ons godsdiens wat ons so hoog ag nie. Die baie bekende 1 Korintiërs 13 herinner ons dat dit self groter is. Sonder liefde is ons niks.

Gebed

Here, U wat hierdie mense liefhet wat ek nie kan verdra nie. U wat die harte verstaan van hulle wat ek nie kan begryp nie. U wat die innerlike worsteling ken van hulle wat ek ignoreer. U wat die goeie motief sien in mense se optrede wat ek as skynheilig beskou – open tog my oë en my hart. U ken my beter as wat ek myself ken; U het my liewer as wat ek myself het . . . Here! Leer my liefhê met u liefde.

Amen.

 

 

Dagstuk | Woensdag 20 Desember 2023

 

 

1 14 15 16 128