Dagstuk | Dinsdag 23 Januarie 2024
Ons is in hierdie week besig met die teksgedeelte in Johannes 4 toe Jesus ‘n Samaritaanse vrou langs ‘n waterput ontmoet het en die wyse waarop Hy haar tot nuwe insigte gebring het oor haar lewe en omstandighede.
Ek lees weer vir ons uit Johannes 4:10. Jesus het haar geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: Gee My ‘n bietjie water om te drink, sou jy hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.
Vandag se vraag: Waar ontmoet God ons? Die Samaritaanse vrou in die verhaal kom vanuit ‘n godsdienstige agtergrond. Die feit dat sy kom water skep op die warmste tyd van die dag (sesde uur na sonsopkoms) is ‘n aanduiding dat sy ander vroue in haar dorp wil vermy. Uit die verhaal is dit duidelik dat dinge in haar lewe skeefgeloop het. Die laaste ding wat sy verwag is dat God haar op ‘n plek soos hierdie sal kom ontmoet om haar van haar probleme, bekommernisse en hartseer te verlos. Onwetend wie Jesus is, tree sy met hom in gesprek oor waar die regte plek is om God te ontmoet. Daar is vir eeue ‘n debat gevoer of dit die aanbiddingsplek by Sigem is (naby waar sy woon), of die tempel in Jerusalem. Die antwoord is verrassend. God ontmoet haar op ‘n onverwagse tyd op ‘n onverwagse plek. Waar is God besig om ons te ontmoet? Ons dink dikwels aan God se verskyning in terme van godsdienstige ervarings of plekke soos in die kerk of wanneer ons stiltetyd hou. Hoe praat vandag se boodskap met jou oor waar God jou kom ontmoet?
Gebed
Op berge en in dale, en oweral is God.
Waar ons ook telke male, mag swerwe.
daar is God. Waar ons gedagtes swewe
of styg, ook daar is God.
Om laag en hoog verhewe,
Ja, oweral is my God. Amen
Dagstuk | Maandag 22 Januarie 2024
Ons teksgedeelte vir die hele week is die verhaal in Johannes 4 toe Jesus die Samaritaanse vrou by ‘n waterput ontmoet het. Dit sal goed wees as julle iewers in die week die hele verhaal self deurlees. Ons gaan elke dag deur dieselfde teks (Johannes 4:10) na verskillende kante van die verhaal kyk.
Jesus het haar geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: Gee My ‘n bietjie water om te drink, sou jy hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.
Ek en my vrou het twee weke terug ‘n kerkdiens in NG kerk Drie Ankerbaai bygewoon. Die kerk(ie) staan in die middel van Seepunt se besige hoofstraat. Dit word verdwerg deur kolossale woonstelkomplekse en helderkleurige tekens van winkels en besighede. Net oorkant staan die mense tou voor die Steers restaurant en in die straat af staan die tou weer voor Kentucky fried chicken. Dit is altyd besig daar met min parkeerplek en daar is voortdurend ’n geraas van karre. Dit is maklik om die kerk in die besigwees van stad heeltemal mis te kyk. Miskien juis omdat ‘n mens nie ‘n kerk op ‘n plek soos daardie verwag nie, maar daar wag ‘n groot verrassing op ’n mens wanneer jy die kerk binnestap. Jy word oorweldig deur die helder kleure van die groot loodglasvensters wat jou omring en skielik word die harde geluide van die besige stad buite meer bedaard. Hierdie ervaring het my laat dink aan die tyd van die jaar waarin ons onsself bevind, naamlik Epifanie (die woord beteken “verskyn”). Dit praat na Kersfees met ons oor God wat ons in die gewone daaglikse roetines van die lewe kom ontmoet, soos Hy die Samaritaanse vrou ontmoet het, op plekke waar ons dit dikwels nie verwag nie. Net soos wat die gebrandskilderde venters, waarop die storie van Jesus verbeeld word, skielik die uitsig en ervaring van die stad daarbuite kom verander, so lei Epifanie ons om ons hede in ‘n ander lig te sien. Dit is waaroor ons in die volgende vyf dae gaan nadink. Die manier waarop die Here ons in hierdie hede kom ontmoet en ons lei om nuwe betekenis daarin te vind.
Gebed
Here, wees by ons waar ons almal besig is om die roetines van ons jaar te hervat. Help ons om gedurig onder die indruk te kom hoe U besig is om ons te lei om ons hede en omstandighede in ‘n ander lig te sien. Dankie dat U ons in die midde van die besigste en drukste tye van ons lewens tot rus bring.
Amen.
Dagstuk | Saterdag 20 Januarie 2024
Teks:Johannes 16:33
Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
GEDAGTE
Vandag wil ek vir jou sê dat God se vrede vir ons die moed gee om volheid te lewe. Die Hebreeuse woord vir vrede is shalom. In die Hebreeuse taal dra die woord vrede of shalom ook die betekenis van volheid. Hierdie vrede wat ook volheid beteken, kan ek net van God ontvang. Hy het Sy Seun Jesus gestuur na die aarde om ons hierdie ware vrede te gee. ‘Vredevors’ is een van die titels waardeur Jesus aan ons bekend geword het (Jesaja 9:7). Met sy geboorte het die engele vir die herders op Betlehem se velde toegesing met: ‘….. vrede op aarde …..’(Lukas 2:14). Jesus het ook later gesê: : ‘ Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moenie ontsteld wees nie en julle moenie bang wees nie’ (Johannes 14:27).
Die vrede van Jesus is gevulde vrede, maar nie gevul met ontsteltenis of vrees nie. Die verwarring oor hoe die wêreld vrede verstaan en die vrede wat Jesus kom bring het, word opgeklaar wanneer mens besef dat die twee in der waarheid lynreg teenoor mekaar staan en hemelsbreed van mekaar verskil. Die vrede waarvan Jesus praat is nie noodwendig die afwesigheid van een of ander stryd of oorlog nie, maar Jesus se vrede is altyd vrede te midde van alle omstandighede, goed of sleg. En die vrede wat volmaak is dryf die vrees en bangwees uit.
Niks en niemand kan my van God se liefde skei nie! (Romeine 8:35-38). Daarom kan jy in 2024 met moed lewe. Hierdie vrede behoort ook aan jou. Die teken van hierdie hemelse vrede is dat Jesus die Vors is, ’n Baba in ’n krip en ’n magtelose man aan zn kruis! Hierdie vrede is nie deur krag en geweld nie, maar deur die Heilige Gees in my hart en lewe uitgestort!
GEBED
Dankie Here, dat ek nou u hemelse vrede kan ontvang. Daarom kan ek ook met moed hierdie jaar instap.
Amen.
Dagstuk | Vrydag 19 Januarie 2024
Teks:Jesaja 41:10
Moenie bang wees nie, Ek is by jou,moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,met my eie hand red Ek jou.
GEDAGTE
In Jesaja 41 lees ons hoe die Woord van die Here na sy kinders gekom het toe hulle moedeloos, bang en angstig was. Die volk van Israel was in ballingskap toe hulle hierdie woorde gehoor het. Hulle het alles verloor: hulle huise, besittings en beroepe, en moes ook geliefdes aan die dood afstaan. Die toekoms was vir hulle donker. Hulle het geen hoop gehad nie. Vir baie van hulle was die ballingskap boonop ’n geloofskrisis. Hoe kon dit tog gebeur? Was hulle dan nie die uitverkore volk van God nie? Het die Here dan vergeet van sy beloftes? Was die Babiloniese gode dan magtiger as die Here? Is God saam met die tempel verwoes? Waar is Hy?
In Jes. 41:10 hoor hulle, “moenie bang wees nie, Ek is by jou”, woorde wat dwarsdeur die Bybel weerklink. Deur dik en dun was en is en sal die Here altyd by sy kinders wees. Van die begin af was dit so. So was die Here by Abraham oral waar hy rondgetrek het. So was die Here by Moses van sy geboorte tot sy dood. Die Here het herhaaldelik aan Josua gesê dat Hy sterk en vol moed moet wees, en beloof dat Hy altyd by hom sou wees en hom nooit in die steek sou laat nie (vgl. Jos. 1:5-9). En so kan ons aangaan.
Het die Here nie ook beloof dat, as sy kinders deur diep waters en vuur moes gaan, Hy by hulle sou wees nie (vgl. Jes. 43:1-3)? Soos ’n goue draad loop die belofte van die teenwoordigheid van die Here deur die hele Ou Testament. En in die Nuwe Testament lees ons dat Jesus, Immanuel, God by en met ons, is. Hy het self beloof dat Hy tot die voleinding van die wêreld altyd by sy kinders sal wees (Matt. 28:20). Hieraan mag ons nie twyfel nie. God is by ons, ook vir die nuwe jaar wat voorlê
GEBED
Dankie Here dat U beloftes altyd vas staan. U is saam met my in die nuwe jaar en ek hou daaraan vas. Amen.
Dagstuk | Donderdag 18 Januarie 2024
Teks:Psalm 42:12
12Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God!
GEDAGTE
Twyfel jy soms? Twyfel jy dalk oor 2024? Ons almal twyfel soms. Ons twyfel oor baie dinge. Ons twyfel oor die toekoms van ons land; Vir hoeveel jaar sal ek nog gesond en sterk wees? Ons huweliksgeluk; My kinders se toekoms en so kan ons aangaan. Ek dink elkeen wat hier lees of luister vanoggend kan erken dat ons twyfel.
In die Bybel lees ons ook van mense wat getwyfel het
- Dink maar aan die tientalle twyfelvrae in die Psalms: Here waar is U? Here God, ek kry swaar, my pyn is ondraaglik, hoekom verhoor U nie my smeking nie? Here hoekom red U my nie? Waarom gaan dit sleg met my?
- Job – ’n eerlike gelowige – worstel met God. Volgens sy vriende word Job gestraf vanweë onbekende sondes. Job verwoord sy twyfel teenoor God self in ’n soort strydgesprek.
- Ook die Prediker twyfel, nee bevind dat geloof nie die voordeel sou hê wat algemeen destyds aanvaar is nie. Lyding en dood tref immers almal.
- Johannes die Doper vra: “Is Hy die een wat sou kom of moet ons ’n ander een verwag?” Selfs by hom is daar aanvanklik twyfel of Jesus die Messias kan wees!
- Dalk die bekendste twyfelaar is Thomas wat nie sy mede-dissipels na Jesus se verskyning glo nie, maar twyfel en ’n bewys benodig om sy twyfel te besweer.
God se beloftes aan die gelowige verander nie. Ontvang dit weer vandag.
- alle twyfel verdwyn wanneer ons Rom 8:39 hoor: “Geen skepsel, kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
- alle twyfel oor ons kindskap van God verdwyn wanneer ons 1 Joh 3:11 hoor: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.”
GEBED
Here, ek bring al my twyfel na U. Mag ek hierdie nuwe jaar in vertroue stap. Amen
Dagstuk | Woensdag 17 Januarie 2024
Teks:Psalm 27:1
Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?
GEDAGTE
Jy kan in 2024 met moed lewe omrede jy nie hoef bang te wees nie. Daar is so baie dinge in die lewe wat ons moed en vrede steel. Waarvoor is jy bang? Dalk is jy bang vir 2024. Ons almal is bang vir iets, of soms vir ’n paar goed. Om in ’n land soos Suid Afrika te leef, skep outomaties ’n paar aspekte om voor bang te wees. Maar hoor vandag hierdie mooi woorde van 2 Tim 1:7 uit die Passion Translation: For God will never give you the spirit of fear, but the Holy Spirit who gives you mighty power, love, and self-control. So in die plek van vrees gee God ons krag en liefde.
Ons leef dikwels onder konstante vrees oor dinge waaroor jy absoluut geen beheer het nie. Om vreesloos te lewe beteken ek neem verantwoordelikheid vir die dinge waaroor ek beheer het. Vir die res vertrou ek op die Here. Ek hoef nie in konstante vrees te leef vir die al die asse en sê-nou-maars nie. Dit gebeur gereeld dat as ek so vrees dan hardloop geloof by die agterdeur uit. Hoor hoe mooi stel Psalm 56:12 dit: What harm could man do to me? With God on my side I will not be afraid of what comes. My heart overflows with praise to God and for his promises. I will always trust in him.
Identifiseer jou vrees. Nog beter maak jou banglysie en gee dit vir die Here. Oorhandig dit en ruil dit vir liefde, krag en vrede. Wanneer vrees in 2024 aan jou hart se deur kom klop hou vas aan die soom van Jesus, laat Hom die storm stil maak in jou hart. Gryp na die uitgestrekte hand van God.
GEBED
Asseblief, liewe Here, gee my U vrede en U krag vir 2024. U volmaakte liefde werp my vrees uit. Ek dank u vir die belofte om my die vrede te gee wat net U kan gee. Amen
Dagstuk | Dinsdag 16 Januarie 2024
Teks:Psalm 10:17. U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed.
GEDAGTE
Vandag wil ek jou bemoedig met die volgende woorde: Hou moed want God verhoor ons gebede. Dis ook die woorde van Psalm 10:17: “U gee hulle nuwe moed, U verhoor hulle gebed”
God verhoor altyd gebede, al voel dit soms vir ons of Hy ons nie antwoord nie. Hy antwoord ons wel, maar ons kom dit net nie altyd agter nie. Soms antwoord Hy ons op maniere wat ons nie verwag nie. Ons wag nog dat Hy doen wat ons gesê het, dan het Hy lankal op ʼn ander manier geantwoord. Ons geestelike ore en oë moet oop wees om te kan hoor as God antwoord. Hy weet wat vir ons die beste is en sal dus soms op maniere antwoord wat ons nie verwag nie.
Die Here kan ook partymaal “nee” sê. Ons kry baie sulke voorbeelde in die Bybel. Dit is gewoonlik as ons verhouding met die Here nie so goed is nie. Dan sê die Here moet sekere dinge eers in plek kom. Voor Hy verder na ons gebede luister moet ons eers ons verhouding met Hom regmaak. Ons moet ook nie verbaas wees as die Here ons partymaal verras met iets wat baie groter is as waarvoor ons gebid het nie.
God sal in sy liefde nie afwyk van wat Hy bepaal het die beste vir ons sal wees nie. Ons moet vra, ons moet soek, en ons moet klop. Met ander woorde, ons moet bid. God maak die belofte dat ons sal ontvang. Maar ons ontvang nie noodwendig presies waarvoor ons gevra het nie. Dit sal egter die beste vir ons wees, op die gegewe oomblik. God ignoreer nie ons gebede nie. Hy hoor dit aan in die onvolmaaktheid waarmee dit gebring word, en Hy gee die volmaakte antwoord daarvoor.
GEBED
Dankie Here dat ek hierdie jaar met moed kan ingaan omrede U my gebede verhoor volgens U volmaakte plan.
Amen
Dagstuk | Maandag 15 Januarie 2024
Teks:Josua 1:9 Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.
GEDAGTE
2024 het aangebreek!!! Hoe voel jy oor die jaar? Het jy moed vir die jaar? In die volgende paar dae wil ek saam met jou wandel rondom die tema: “Om met moed te lewe.” Joshua ontvang ook hierdie opdrag van God. Die opdrag wat sê om met moed voort te gaan.
Die oproep aan Joshua om sterk en vol moed te wees, kom vier keer na hom in verse 6,7,9,18. Ook lees ons in Deuternomium 31 waar Joshua geroep word om Moses op te volg om die volk in die beloofde land Kanaan in te lei. Daarna ontvang hy ook die oproep en bemoediging om met moed te leef. Joshua was die dapper krygsman van Israel, ’n Godvresende man. Hy het die bemoediging nodig om sterk te wees en vol moed vir die taak wat op hom wag. Want, die taak was baie groot en uitdagend. Hy moet nou vir Moses hierdie groot kneg van die Here, opvolg. Dit is baie groot skoene wat Joshua moes volstaan, gewis ’n geweldige groot taak en verantwoordelikheid, en daarom die bemoedigende woorde, vir Joshua.
Dalk het jy ook nodig om hierdie woorde vandag te hoor: Wees sterk en vol moed in die jaar 2024. Wees sterk en vol moed midde die goeie stryd wat voorlê in 2024. Wees sterk en vol moed omdat die Here onse God, die God van Abraham, Isak en Jakob, die Vader van ons Here Jesus Christus, met ons sal wees en ons nie sal begewe nie. Hy was met ons in 2023 en sal Hy ook met ons wees in die jaar 2024.
GEBED
Here, stap asseblief saam met my in 2024 Amens.
Dagstuk | Saterdag 13 Januarie 2024
Vandag is Saterdag 13 Januarie en ons is tans in die kerklike seisoen wat ons noem Epifanie. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. Epifanie verkondig dat God hier is. Regdeur die Bybel sien ons hoedat mense van God se teenwoordigheid bewus raak en hoe hulle daarop reageer. Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit daar te laat vorm. Vandag reflekteer ons verder oor hierdie tydperk van Epifanie met die tema:
Versorging van Verhoudings: Gee aandag aan die mense in jou lewe vir 2024. Koester gesonde en ondersteunende verhoudings. In ‘n wêreld waar tyd skaars is, is daar dikwels geen beter investering as om tyd en moeite in ander mense te belê nie. Dit is deur om in “koinonia” saam met ander te leef waar ons iets van God se hart vir ons en ander ontdek. Vier die lewe saam ander rondom die tafel in 2024. Bemoedig en bid vir mekaar.
Bybelteks: Efesiërs 4:2-3
“Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe”.
Wysheid: Nederigheid en Diensbaarheid. Die sleutel tot die versorging van verhoudings begin met ‘n hart van nederigheid, sagmoedigheid, en lankmoedigheid. Hierdie eienskappe help om ‘n atmosfeer van liefde en vrede te skep. In hierdie daaglikse reis van versorging, is ons geroep om moeite te doen vir harmonie en eenheid. Laat ons elke dag onsself vra: “Hoe kan ek die eenheid van die Gees bewaar deur liefde en vrede in hierdie verhouding?” Laat liefde die gids wees en vrede die anker terwyl ons versorging bring aan die mense om ons heen deur diensbaar te wees. Sodoende word God verheerlik en openbaar ons Sy liefde soos Hy vir ons die voorbeeld kom stel het hier op aarde.
Gebed: Here, dankie vir die gawe van verhoudings. Ons bid vir U leiding en genade om hierdie verhoudings met sorg te versorg. Help my om ‘n hart van nederigheid en sagmoedigheid te hê, en gee my die geduld om lankmoedig met ander te wees. Mag ek, deur U krag, ‘n aktiewe rol speel om die eenheid van die Gees te bewaar deur liefde en vrede in my verhoudings. Amen.
Dagstuk | Vrydag 12 Januarie 2024
Vandag is Vrydag 12 Januarie en ons is tans in die kerklike seisoen wat ons noem Epifanie. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. Epifanie verkondig dat God hier is. Regdeur die Bybel sien ons hoedat mense van God se teenwoordigheid bewus raak en hoe hulle daarop reageer. Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit daar te laat vorm. Vandag reflekteer ons verder oor hierdie tydperk van Epifanie met die tema:
Nuwe Begin
Bybelteks: Klaagliedere 3:22-23
“Dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot.”
Wysheid: Leer Voortdurend. Streef daarna om voortdurend te leer, te groei en te vernuwe. Lees boeke, neem kursusse, en wees oop vir nuwe idees. Mag die kreatiewe God van die heelal kreatiwiteit in jou kom wakker maak in 2024 en op so ’n manier Homself aan jou openbaar. ‘n Lewe van voortdurende leer kan ‘n lewe van betekenis en vervulling bevorder. Die lewe bestaan uit ’n reeks nuwe beginne. Elke dag is vol nuwe geleenthede en moontlikhede. God se genade is elke dag nuut. Begin dus iets nuuts hierdie jaar, dis deel van die avontuur van nuwe beginne. Om voortdurend te vernuwe is ’n uitnodiging aan ons om nader aan God en mekaar te beweeg. Mag God dus in hierdie tyd van Epifanie Homself opnuut aan jou openbaar vol beloftes van nuutmaak, mooimaak, vrymaak en heelmaak, want aan Sy liefde is daar geen einde nie. Dit is elke môre nuut en Sy trou is groot.
Gebed: Here, ek erken U goedertierenheid en barmhartigheid. Dankie vir ’n nuwe begin. Mag my hart elke dag vernuwe deur U genade en mag ek iets nuuts leer van wie U is. Amen.