GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Vrydag 25 September 2020

Psalm 150:6.  Laat alles wat die Here leef, die Here prys. Prys die Here!

Ek hoor by ’n vriend, wat aan die see se kant van die Langeberge boer, van ’n oom, wat omtrent my ouers se ouderdom was, en wat bekend was vir sy spaarsamigheid.  Hy het blykbaar saans met huisgodsdiens by kerslig ’n stukkie uit die Bybel gelees en daarna die kers doodgeblaas terwyl hy gebid het. Na die gebed het hy weer die kers aangesteek voor hulle die huisgodsdiens afgesluit het deur ’n Psalm of Gesang saam te sing. Hy het gesê die kerse hoef mos nie onnodig te brand wanneer almal se oë toe is onder gebed nie. Gelukkig het die kerse darem gebrand terwyl hulle gesing het.

Met ons beoogde bymekaarkom in die kerk vanaf die 4de Oktober, is dit effens onduidelik of ons in die kerk mag sing, of nie. Maar dit voel eintlik onnatuurlik om in die kerk bymekaar te kom en nie saam te sing nie. As ons Christene maar net meer wou sing, sou ons die skeptiese deel van die mensdom makliker na ons toe aangetrek het. As ’n bonus sou Christene van verskillende kerke ook makliker bymekaar uitgekom het om as’t ware reeds hier op aarde saam te oefen om voor die groot troon en die Lam, die lof van God te besing, soos Openbaring 7:9 sê: “Elke stam, volk en taal”.

Ek dink nou terug aan so 15 jaar gelede toe ek en Braam Hanekom, en ‘n paar ander lidmate by die Willow Creek Kerk in Amerika besoek afgelê het.  Dit was ’n ongelooflike ervaring. Daar was ‘n klomp gelowiges saam – ons was seker omtrent tussen 1 500 tot 2 000 Christene van oor die wêreld heen bymekaar. Na die opening van die konferensie is ’n bekende lied verkies, wat deur elke persoon teenwoordig in sy/haar eie taal gesing kon word.  Skielik was dit soos ’n hemelse koor van mense wat in verskillende tale die lof van God besing het. Ons bekende lied, Grote God, aan U die eer, Heerlik is waar U regeer. Hemels is U majesteit, Heilig U geregtigheid, kon ons in ’n paar tale herken.  Die Suid Afrikaners wat hier rondom ons gesit het, die Engelse, die Franse, die Duitsers, die Hollanders, dit was asof jy en die duisende mense om jou, omring was met ‘n Goddelike lig.  Ons was mense met verskille, maar ook gemeensaamheid omdat dit oor die eer van die Here gegaan het.

Ons vertrou ons gaan weer die geleentheid kry om saam te sing, sodat ander mense ons kan hoor! So sal ons bevry word van ons vrees. Ja, ons sal die kerse laat brand!

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 24 September 2020

Matteus 20:26: Maar by julle mag dit nie gebeur nie, as een van julle ‘n leier wil wees moet hy gewillig wees om almal te dien.

Die groot Franse strateeg, staatsman en patriarg, generaal Charles de Gaulle het op ’n dag, toe hy nog ’n onbekende jong offisier was, blykbaar aan ’n vriend gesê: ” Leiers sal oor ’n paar jaar my hulp vra om ons land te red”.

Ek het baie oor hierdie woorde nagedink, spesifiek rakende Erfenisdag, en hoe ons aan ons erfenis dink en dit wat kosbaar is in hierdie land wil probeer red. Jare later is de Gaulle se woorde toe bewaarheid en hy het vir baie jare die militêre en politieke toneel in sy land oorheers. Hy het die inspirerende leier geword wat tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe Frankryk op sy knieë was, wat in ’n bekende radio onderhoud sy volk, daaraan herinner het dat Frankryk wel ’n veldslag verloor het, maar nie ’n oorlog nie.

Durf en waagmoed is kenmerkend van ware leiers. Gewone mense is ook leiers en de Gaulle het self verklaar dat leiers op verskillende terreine nooit sukses sou bereik het as hulle na die raad van korsigtiges, versigtiges en beskeie wankelmoediges sou luister nie. Die wêreldgeskiedenis en ook ons eie Bybelse geskiedenis bevestig de Gaulle se woorde,  dink maar aan mense soos Noag, Joshua, Dawid, Ester, Daniel, Paulus en dan veral ook aan Jesus. Die ideale ware leiers sal egter altyd die beginsels van Christus, die groot leidsman in gedagte hou. So ’n leier sal geloofswaardigheid by sy volgelinge afdwing en dit is belangriker as al die kundigheid en vernuf waaroor hy/sy  beskik.

Hierdie leierskap word nie net in politieke kringe, of die voorste gestoeltes in raadskamers, of soos in ons geval in sinodale- of kerkraadsvergaderinge vertoon nie, maar juis in die klein kring van die huisgesin in die familiekring. Dit vra egter van ons almal om leiers te wees, elkeen in sy eie reg. Dit vra moed, maar ook nederigheid, soos Jesus aan sy dissipels gesê het wat onder mekaar gestry het oor ’n ere posisie.  In Matteus 20:26 &28 het Hy toe vir hulle gesê: ” Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees;” en toe weer “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien . . .”

Op Erfenisdag dink ek dis belangrik, as ons mekaar vra, hoe gaan ons, ons land red? Dit gaan hier oor diensbaarheid.  In ’n meningsopname is bevind dat heelwat mense daarin slaag om die sogenoemde stress van ons tyd te verwerk omdat hulle gelowiges is. Is jy een van hulle? Indien wel, kan jy gerus maar die stemme van kortsigtiges en wankelmoediges en doemprofete ignoreer. Want ons het ’n plek in hierdie land, elkeen van ons het ’n rol om te speel. Elkeen in die klein kring waar die Here jou geplaas het.

Gebed: Dankie dat U vir elkeen van ons wil gebruik, om ’n betekenis aan erfenis te gee. Om in die kring waarin U ons geplaas het, daardie area van ons land te red. Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 23 September 2020

Fillipense 1:21.  Want solank ek leef, leef ek net vir Christus en as ek moet doodgaan is dit vir my voordelig.

Dit klink snaaks, maar daar is mense wat ook oor genade kan kla. Soos die oom wat reeds amper 90 jaar oud was, en boonop met ’n taamlike goeie gesondheid, wat toe met ‘n vonkel in die oog gesê het: “Dit lyk my die Liewe Heer het my vergeet, dis hoekome ek nog leef.” Maar toe die fyn humorus, Oom Pieter Neethling, die pa van Anna Neethling, van die man se “dilemma” hoor, het hy ironies opgemerk: “Die oubaas gaan skrik as die Here aan Hom begin byval!”

Ondankbaarheid en onvergenoegdheid is geen nuwe verskynsels nie. Dink maar net aan die weeklaag van die Here se ou volk in Jesaja se tyd, in Jesaja 49:14: “Die Here het my verlaat, en later, die Here het my vergeet, en dan die Here se versekering in vers 15: “Kan ’n vrou haar eie baba vergeet? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. En dan die mooi teks, Ek het jou naam in My handpalms gegrafeer. Daarom hoef ons ook nie te skrik as die Here ons kom haal nie, selfs ook as ons ’n marteldood moet sterf soos die bejaarde Ignatius, Biskop van Antiochië tydens die tweede eeu. Die woorde wat hy geskryf het kort voor hy in Colloseum in Rome deur die leeus verskeur is, het ook sy lidmate besiel om die dood tegemoet te gaan. Hy het gesê: “Kom vuur, kom kruis, kom worsteling met wilde diere, beserings en verminkings, verwringing en afruk van bene en  ledemate, afgruising van die hele liggaam, laat wrede marteling van die duiwel maar oor my kom, as ek maar net by Christus kan uitkom.”

Sulke woorde laat ’n mense verstaan, waarom Tertullianus in die derde eeu verklaar het, dat die bloed van die martelare, die saad van die kerk is. Maar is dit nog so teen die einde van hierdie jaar, teen 2020? As die Christendom op baie plekke oor die wêreld heen skaars ’n oes oplewer, dan wonder ’n mens of dit is omdat ons nie meer die soort bloed laat vloei nie, of het die prys van dissipelskap eenvoudig vir ons te hoog geword? En daarom is die wêreld van vandag vol naam-Christene, wat in hulle louheid nie ’n vinger veroer vir hul Christelike beginsels nie. Dan kan ons vra: “Het die Here ons vergeet? Nee, ook nie in hierdie tyd waar ek miskien eensaamheid beleef het,  of met ’n beperkte salaris, of ander moeilike omstandighede moes saamleef nie.  Hy het ons nie vergeet nie, sê sy woord. Hy sal nie, sê Hy self, maar het ons Hom nie miskien vergeet nie? Want dan het dit tyd geword dat dit ons weer sal byval, om weer aan die Here te dink, omdat Hy by ons en met ons is,  elke dag.

Gebed: Here, dankie dat u teenwoordigheid ‘n werklikheid in elkeen van ons se lewens is. Dankie dat ons daaraan kan vashou, omdat dit in u woord, deur verhale van u kinders, op soveel plekke aan ons geillustreer word. Dankie dat ons in hierdie vaste wete kan leef.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 22 September 2020

Psalm 23:1. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.   

’n Predikant het een keer vir ’n Sondagskoolklassie gevra: “Wie van julle ken Psalm 23 uit julle kop uit?”  ’n Hele paar kindertjies het hulle hande opgesteek, onder andere ook ’n dogtertjie van omtrent so vier jaar oud. Die predikant was onmiddellik beïndruk dat hierdie klein dogtertjie Psalm 23 uit haar kop ken. Hy het gevra dat sy dit voor die hele klas moet opsê. Sy het voor die klas gaan staan, met haar handjies agter haar rug vol selfvertroue gesê: “Die Here is my Herder. En dit is al wat ek hoef te weet.”

Wat die woorde van die Psalm so besonders en persoonlik maak is die woorde: “Die Here is MY Herder “.  Nie ‘n herder nie, maar my Herder.  Dit is dan ook waarom die Psalm tot so baie van ons spreek, want dit is amper asof dit vir my persoonlik geskryf is.  Net soos die herder in die ou Nabye Ooste elkeen van sy skape se name en unieke eienskappe geken het, ken die Here ook elkeen van ons.

Juis as ek sê: “Die Here is my Herder” erken ek nie net dat Hy my persoonlike versorger en Leidsman is nie, maar bely ek ook dat ek aan Hom behoort. En solank as wat ek kan sê dat die Here my Herder is, sal ek niks kort kom nie, want Hy sorg vir my en ek sal op die regte pad bly, want my Herder lei my.

GEBED

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.

Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae. AMEN

Gedagte vir die dag | Maandag 21 September 2020

Jesaja 48:11. Ter wille van Myself en daarom alleen, doen Ek dit, Ek laat my Naam nie oneer aandoen nie. Ek gee die eer wat My toekom, aan niemand anders nie.

Die Here is hier in ’n ernstige gesprek met Sy volk. In die gedeelte gaan dit oor die oproep om ag te slaan op die verlossingsdaad wat God gaan doen. En Hy gaan dit doen tot die eer van Sy Naam. Ter wille van sy eer het Hy die volk nie vernietig nie, maar gelouter in die smeltkroes van ellende. Nou is hulle nuut en gesuiwer. Nou kan hulle weer nuttige instrumente in sy hand wees. Ter wille van Homself en die eer wat Hom toekom, doen God nuwe dinge vir die volk Israel. Hulle moet die les wat hulle in hulle swaarkry geleer het ter harte neem. En nou tot eer van God lewe.

Waarvoor leef jy? Net om te oorleef? Nee, die Here roep ons om te leef tot eer van sy Naam. Dit beteken alles wat ek doen, moet ek doen asof ek dit vir die Here doen. Ons is so duur gekoop deur Jesus se bloed daarom wil die Here hê dat ons uit dankbaarheid moet lewe tot sy eer. Ons gesindheid moet een wees van: “Doen alles tot eer van God.” Eer in hierdie sin beteken om die lig van God te weerkaats. Dit beteken dat alles wat ons doen, na God moet wys. Die Here Jesus het dit só gestel: – Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.

Om tot eer van God te lewe, is om só te lewe dat dit wys dat jý self onder die indruk is van die grootheid en die wonderlikheid van God, en dis om só te lewe dat jou lewe ander mense ook sal aanmoedig om die bestaan en die grootheid en die majesteit van God te erken.

GEBED

Grote God aan U die eer

Heerlik is waar U regeer

Hemels is U majesteit

Heilig U geregtigheid

U wat alles onderhou

U is ewig en getrou

Gedagte vir die dag | Sondag 20 September 2020

Matteus 5:3-12.

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.”

Matteus vertel in dié gedeelte hoe Jesus teen die berg opgegaan het en sy bekende bergpreek gelewer het. Jesus begin sy lering met die bekende uitsprake oor wie die ware geseëndes is. Baie van ons onthou nog die 1953-vertaling wat van die “saligsprekinge” gepraat het. Die woord “saligheid” beteken ’n toestand van volkome geluk, of seën. Die “saligsprekinge” wat in Matteus 5 voorkom, is ’n versameling verklarings deur Jesus wat verwys na hoe geseënd, of gelukkig ons in die lewe kan wees.

Die saligsprekinge is nie woorde van advies nie. Dis lewenswoorde wat bedoel is vir alle gelowiges, te alle tye en op alle plekke. Thomas Watson het die saligsprekinge “die heilige teenstrydighede in ons Heiland se preek” genoem. Met die eerste oogopslag is dit moeilik om te sien hoe hierdie teenstrydighede saamwerk. Hoe maak armoede jou ryk? Hoe verbind ’n mens rou met vreugde? Hoe lei die ellende en die pyn van vervolging tot vreugde?

Een van Jesus se vele waardevolle lesse in die saligsprekinge is dat die Koninkryk van God nie op dieselfde manier te werk gaan as die wêreld nie. Die wêreld verkondig, “Salig is die magtiges en die luidrugtiges,” maar Jesus sê: “Salig is die sagmoediges en die nederiges.”

GEBED

Die Here seën jou wanneer jy weet hoe afhanklik jy van God is,

Die Here seën jou wanneer jy treur,

Die Here seën jou wanneer jy sagmoedig is,

Die Here seën jou wanneer jy honger en dors na wat reg is,

Die Here seën jou wanneer jy barmhartig is,

Die Here seën jou wanneer jy rein van hart is,

Die Here seën jou wanneer jy vrede maak,

Die Here seën jou wanneer jy vervolg word, omdat hulle doen wat reg is,

Die Here seën jou wanneer die mense jou ter wille van hom beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van jou sê.

Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 19 September 2020

Handelinge 16:24-25. “Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister.”

Paulus en sy vriend Silas het in die groot stad Filippi aangekom. Daar in die stad begin Paulus en Silas toe vir die mense preek en van Jesus vertel, maar die mense wat die stad regeer, het niks daarvan gehou dat hulle daar preek nie. Hulle het nie in Jesus geglo nie en wou daarom nie toelaat dat Paulus en Sila vir die mense van Jesus vertel nie en gooi toe vir Paulus en Silas in die tronk!  Eers het hulle vir Paulus en Silas erg geslaan en daarna hulle voete aan ’n houtblok vas geboei sodat hulle nie kon loop nie.

Die nag was was Paulus en Silas nog laat wakker. Hul lywe was so seer van die slaanhoue dat hulle nie kon slaap nie. Toe sê Paulus vir Silas: “Kom ons bid en sing liedjies waarmee ons die Here loof”.  Dit sal ons help om van die pyn te vergeet. Hulle het toe hardop begin bid en sing – deur die hele nag. Naderhand was almal in die tronk wakker en het almal na die lofliedere geluister.

Dit het my laat dink aan wat ek doen wanneer dit soms met my swaar gaan?  Ek moet eerlik wees en bely dat ek meermale kla as dit moeilik gaan. Ons hou mos nie van swaarkry nie. Ons verkies dat dit  liewer die hele tyd met ons goed gaan. Maar die lewe neem ons soms op moeilike paaie en die vraag is dan wat doen ons in sulke tye?  Paulus en Silas kon steeds die Here bly loof want hulle het geweet hulle lewe is in God se hande. So is my en jou lewe ook in God se hande. Daarom kan ons Hom ook voortdurend loof, selfs in tye wat dit nie met ons goed gaan nie. Dit sal ons help om ons fokus te verskuif na God wat ons deur die moeilike omstandighede lei.

GEBED

Voel jy soms of die Here te ver is

Twyfel jy soms aan God se bestaan

Jy moet glo dat Hy met jou sal saamgaan

Dat Sy Gees oral met jou sal gaan

Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 18 September 2020

Psalm 27:9-10. Moet U tog nie vir my verberg nie, moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie, want U was nog altyd my hulp. Moet my tog nie verstoot en verlaat nie, want U alleen is die God wat my red. Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.

Psalm 27 is ’n dringende en intense gebed van Dawid. Hy pleit in vers 7, “Hoor tog, HERE, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my.” Geloof is nie sonder vertwyfeling nie. Om gelowig te wees, beteken nie om nooit angstig of bekommerd of bang te wees nie. Om die waarheid te sê, nood en vertwyfeling was vir die mense van Bybelse tye net so deel van die lewe soos wat hulle geloof was.

Om ’n opregte gelowige te wees, beteken nie om sonder probleme, sonder krisisse en sonder nood te lewe nie. Die feit dat jy in God glo, neem ongelukkig nie al jou probleme in ’n oogwink van jou af weg nie. Daarom kan ons saam met Dawid ook hierdie intense gebed bid tot die Here. “Here moet my asseblief nie los nie.”

Die Here se Woord leer ons dat ons in moeilike tye baie geduldig moet wees, want Hy is elke oomblik met ons. Hy beplan en beheer elke oomblik en elke gebeurtenis wat oor ons kom. Onthou altyd dat die Here Jesus se hele lewe, sy lyding, sterwe en opstanding die onwankelbaarheid van God se raadsplan oor ons lewens bewys.

GEBED

Here U is my Herder wat ek liefhet. Help my om te glo dat U alleen vir my genoeg is as als om my wegval. Neem my vrees weg. Vul my met U vrede. Leer my om ten spyte van teleurstellings steeds so te leef dat U daardeur verheerlik sal word. Hou my asseblief styf vas sodat hierdie doodsangs wat ek beleef my nie sal oorweldig nie. Help my om soos ‘n kind te glo dat ek veilig in U hande is. Amen

 

1 127 128