GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Maandag 5 Oktober 2020

Lukas 2:29-31: “Here, nou laat U toe, dat U dienskneg in vrede sterf, soos U gesê het. My oë het inderdaad U verlossing gesien wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het”.

Terwyl ek besig was om te skryf aan hierdie dagstukkies, lui my selfoon skielik. Gewoonlik verkies ek om dit dan nie te antwoord nie, maar ek sien dat dit ’n ou vriend van my is wat jare gelede saam met my in die bediening was. Hy was baie onsteld en kon amper nie sy woorde geuiter kry nie.  Tussen die trane deur het hy my meedeel dat sy vrou besig is om te sterf. Sy is al vir ’n geruime tyd baie siek, maar die dokters is nou oortuig dat sy slegs enkele dae oor het om te leef. My oud-kollega het so, tussen deur die hartseer, tog vrede in sy hart gehad oor haar lewe, en die insette wat sy kon lewer in diens aan mense en aan die kerk.

Om vrede te ervaar oor iemand wat sterf, of om vrede te ervaar voordat ek self sterf, is van groot belang. Ek het ook enkele weke gelede verwys na my beste vriend wat ek onlangs in Pretoria begrawe het. Ook daar was die wonderlike getuienis dat hy groot vrede ervaar het voordat hy sy laaste asem uitgeblaas het. Is dit nie ’n wonderlike ideaal nie ? Om met vrede heen te gaan!

Dit is presies wat hier vir ons gesê word in die verhaal van Lukas 2. Simeon, gelei deur die Gees, het na die tempel gegaan en hulle het vir hom die Kindjie gebring om vas te hou. Hierdie kindjie was Jesus. Ons lei af dat Simeon ook al diep in sy jare was, baie na aan sy sterfdag. Sy woorde gryp ons diep aan die hart as hy sê: “Here, nou laat U toe dat U dienskneg in vrede sterf.” Ook Simeon kon sterf met groot vrede in sy hart. Maar hierdie vrede was baie spesifiek en gekwalifiseerd. Dit is die vrede van die verlossing wat Jesus na hierdie wêreld toe gebring het. Daarom sê hy: “My oë het inderdaad U verlossing gesien, wat U ten aanskoue van al die volke  bewerk het.”

Vriende, die grootste vrede wat ons kan ervaar, in lewe of sterwe, is die feit dat ons aan Jesus Christus behoort. Dat ons nie net alleen Sy verlossing gesien het nie, maar dat ons self ook sy sy verlossing in ons eie lewe ervaar. Mag ons lewe gedryf en gerig word deur hierdie vrede sodat ons ook soos Simeon, te alle tye in ons lewe, maar ook voor ons sterwe sal kan sê: “Here, ek het nou vrede, en ek kan in vrede sterf, want ek het die verlossing gesien.”

Gebed: Here, baie dankie vir die vrede wat U verlossing in ons lewens bring. Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 4 Oktober 2020

Markus 6:37. “Maar Hy antwoord en sê vir hulle:Gee julle aan hulle iets om te eet.”

Kos, of maaltye is vir baie van ons een van die hoogtepunte van ons dag! Dink maar net ’n bietjie aan die rol wat kosmaak, en die lekkerte van aansit om die tafel vir ’n ete in ons lewens en in ons huishoudings speel. Dit gaan oor die voorsiening aan ons fisiese behoeftes, maar ook aan die lekker saameet, saamkuier, geselskap en saamlag. Ons het dit veral beleef met die onlangse “Braaidag”, of Erfenisdag, waar ons weer gesien het watter groot rol kos, en veral braaivleis, in ons kultuur en land speel.

Die afgelope paar maande kon ons hier vanaf Stellenberg-gemeente baie kos aan mense wat dit baie nodig gehad het, voorsien. Die Covid-19-pandemie, wat veroorsaak het dat baie mense nie by hul werk kon uitkom nie, het ’n groot krisis veroorsaak en ons kon deur middel van die goedgunstige bydraes van lidmate in baie mense se kosnood voorsien.

Vir Jesus was kos ook baie belangrik! Nie net vir Homself en Sy eie gebruik nie, maar veral om dit te deel met mense wat werklik honger was. Dink maar net aan verskeie verhale in die Bybel waar Jesus kos aan mense voorsien het, brood gebreek het en dit uitgedeel het. Ook in die verhaal waaruit ons vandag gelees het, sien ons dat Jesus mense wil voed. Ons ken die verhaal.  Jesus se dissipels was benoud oor al die mense, en het vir Jesus gesê om hulle weg te stuur sodat hulle kan gaan kos koop. Jesus het toe daarop gereageer: “Nee, gaan julle en gee julle vir hulle iets om te eet.” Ons ken die einde van die verhaal waar Jesus toe broodjies en vissies vermeerder het om ’n honger skade te voed.

Daar is twee belangrike lesse vir ons in die gedeelte. Die eerste is om te besef dat Jesus se hart uitgaan na mense in nood, alle vorme van nood, veral ook in kosnood. Hier sê Hy vir sy dissipels, wat dit glad nie verwag het nie: “gaan julle nou en gee vir hulle iets om te eet.” Gee vir hulle kos. Dit is ’n opdrag wat Hy aan sy dissipels van daardie tyd gegee het, maar ook vir sy dissipels en sy kerk van vandag.  Sy opdrag is dat ons moet sensitief wees vir mense se kosnood en hulle  voed. Maar Hy sê ook vir sy dissipels en sy kerk van alle tye, gaan julle ook en voorsien aan hulle geestelike honger deur die Evangelie van Jesus te verkondig.

Die tweede saak: Dis opvallend hoe baie Jesus kon doen met so ’n klein bietjie kos wat beskikbaar gestel was. Hy het die aanbod van die broodjies en vissies geneem en dit vermeerder. Hy gebruik die kapasiteit wat beskikbaar is, wat aangebied word vir die voeding van mense, om ongekende hoeveelhede mense daarmee te voed.

Vriende, mense is honger. Mense is baie honger, fisies en geestelik. Jesus se opdrag is baie duidelik aan ons in hierdie teksvers, om veral in ons tyd uit te gaan en om hulle kos te gee.

Gebed

Here, dankie vir al U voorsiening. Dankie dat ons daagliks kos het om te eet. Ons harte gaan uit na die wat dit nie het nie. Help ons om U opdrag: “Gee julle aan hul iets om te eet”, met deernis uit te voer. Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 3 Oktober 2020

Eksodus 33:17-18.  “Die Here het vir Moses geantwoord: Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.” Toe sê Moses: “Laat ek tog net U magtige verskyning sien!”

Het jy al ooit daaroor nagedink . . . wat is meer eie aan jouself as jou naam? In ’n sin bring jou naam ’n prentjie na vore oor wie jy is en is dit  baie nou verwant aan jou identiteit.

Dit is lekker as ek kan sê, ek ken daardie persoon want ek ken sy/haar naam. ’n Naam ontsluit ’n persoon en mense word aan hul name geken. Jy wil ook nie graag ’n sogenaamde slegte naam hê nie, want as jy ’n slegte naam het, verwys dit na iets sleg in jou persoonlikheid. ’n Goeie naam moet nagestreef word. Spreuke 7:1 sê ook: “‘n Goeie naam is beter as reukolie.” Hoe wonderlik is dit as God sê: “Ek ken jou naam.” Soos vir Moses in ons teksgedeelte: “Ek is jou goedgesind, en ek ken jou op jou naam”.

Of as Hy sê: “Ek het jou by die naam geroep . . . Ek ken jou persoonlik en intiem en jou naam verbind jou aan My.

My beste vriend is verlede maand skielik aan ’n hartaanval oorlede. Hy het die laaste aantal jare van sy lewe, pragtige jagmesse gemaak. So ’n paar jaar gelede het hy vir my ook een gemaak en as ’n simbool van ons vriendskap vir my gegee. Aan die een kant van die lem het hy my naam gegraveer, en aan die ander kant sy naam. Die mes het waarskynlik een van my kosbaarste besittings geword, veral as gevolg van die twee gegraveerde name. Dit dui op ons liefde en vriendskap vir mekaar.

Daar is kwalik ’n beter vers wat daarby kan aanpas as Jesaja 49:16: “Ek sal jou nie vergeet nie, Ek het jou naam in my handpalms gegraveer”.

Vriend en vriendin – God ken jou op jou naam. Jou naam, wat jouself verteenwoordig, is uiters belangrik vir Hom. Dit is op sy handpalms gegraveer en bevestig sy liefde en omgee vir jou. Spreek jou eie naam hardop uit en weet dat God regop sit, wanneer jy dit doen! Hy hoor en ken jou op jou naam.

Gebed

Here, dankie dat my naam ingegraveer is op u handpalms, en dat U, U naam agter my naam skryf. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 2 Oktober 2020

Filippense 2: 12-13.My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer”.

Die afgelope week het ons Erfenisdag, (of soos dit vertaal word: “Braaidag”) gevier. As ons so bietjie deur die braaivleisrook en braaivleisgeure dieper na ons erfenis kyk, dan besef ons hoe ryk ons eintlik geërf het! Ek praat nie van ons materiële erfenis in die vorm van besittings nie, maar veral ons erfenis as gelowiges. Op Erfenisdag het 20 manne van ons mannegebedsgroep reeds om 06:00 in die oggend saamgekom. Ons het ’n groot vuur gemaak in die braai-area van die markplein, lekker boerewors gebraai, saam geëet en toe gedink, gepraat en gebid oor ons geestelike erfenis.

Die grootste deel van ons geestelike erfenis, is dat Jesus deur Sy onbaatsugtige verlossingswerk, vir ons verlossing bewerkstellig het. Wat ’n wonderlike erfenis . . . ons verlossing!  Bewerk, en nagelaat deur ons Verlosser.  Ons status het verander van skuldiges,  as gevolg van sonde, na verlostes.

In die teksgedeelte van vandag, doen Paulus ’n ernstige beroep op gelowiges om nou volgens hul verloste status te leef. Hy is baie direk en ernstig daaroor as hy in vers 12 sê: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe”. Dit is een ding om ons verloste status te erf, maar dis iets anders om daarvolgens te lewe en praktiese, sigbare, verloste lewens te lei.

Dit verg dat ons gehoorsaam sal wees aan alles wat Jesus van ons vra rakende ons lewenstandaard, ons uitkyk op die lewe en ons onberispelike optrede onder alle omstandighede. Dit impliseer ook dat ons daagliks moeite moet doen om volgens God se wil te lewe.

Is ons vandag nog regtig opgewonde oor hierdie erflating? Is ons met eerbied en ontsag daarop toegespits om as verloste mense ook in hierdie uitdagende wêreld te leef?

Gebed

Dankie Here, dat ons erfgename kan wees van dit wat U bewerk het. Help ons om gehoorsaam te wees aan U wil, en dat ons ons daarop sal toelê om as verloste mense te kan leef. Amen.

Gedagte vir die dag | Donderdag 1 Oktober 2020

Psalm 88: 2-3.  “Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep”.

Wanneer ons mekaar groet, word dikwels gesê: “Totsiens, en roep maar gerus as ek kan  help met iets.” Die woorde is nogal nou verwant aan mekaar. Ek kan van baie kere onthou wat ek in benoudheid om hulp geroep het. Toe ek as klein seuntjie bang was vir denkbeeldige drogbeelde wat ek in die donker in my kamer gesien het, het ek na pappa geroep vir hulp en vertroosting. Of toe ek die slag in die moeilikheid in die see beland het, en ek so hard moontlik moes “roep” dat iemand my moet kom help. “In nood”, dui op absolute vreesbevange, desperaatheid. Daardie punt waar jy jouself nie meer kan help nie. Waar jy in vertroue roep om hulp!

Klink dit nie baie bekend nie, en sien ons dit nie baie in die Bybel gebeur nie? In Psalm 88, word een van hierdie benoude, desperate roepe gehoor. Dit is ’n opregte roepe na God. ’n Gebedsroep vanuit die diepste nood en benoudheid.

Die digter omskryf sy haaglike omstandighede, wat aanleiding gee tot sy angs en benoudheid, in vers 4-7. Gaan lees gerus die gedeelte: “Die swaarkry het vir my te veel geword: ek vat al aan die doderyk, ek staan al met die een voet in die graf, ek het geen krag meer nie. Vers 7: “U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis.”

Daarom die angsroep in vers 2 “Ek roep elke dag om hulp!” Na wie? Na God! Maar dis nie ’n hulpelose, leë roep nie. Die roep weerspieël vertroue in die een na wie geroep word! Die roeper weet hier, dat die enigste uitkoms uit sy haaglike omstandighede, God is. Die God, wat volgens vers 2, “my altyd help”.

Wanneer laas moes jy roep om hulp? Miskien oor ’n persoonlike krisis? Of oor ’n noodsituasie? Miskien oor gesondheid, of finansies, familiekrisisse . . .

Roep is natuurlik. Almal roep op ’n stadium om hulp. Ons roepe na God, moet roepe met vertroue wees! Roep, met die sekerheid dat God my roep wil hoor, en my wil help! Soms is dit nodig om ons eie trots te sluk en maar net in afhanklikheid en desperaatheid te roep.

God hoor dit en op maniere wat ons somtyds nie eers verstaan nie, reageer Hy in liefde en met krag daarop om uitkoms te bring.

Gebed

Here my God, wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep. Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 30 September 2020

Ek wil sommer met ’n advertensie weg val en om julle hartlik uitnooi na ons Vosburg insameling hierdie Vrydagmiddag.   Kom kuier asseblief saam met ons. Daar is heerlike eetgoed en alles word binne die Covid-19-protokol aangebied.  Die insameling is ten bate van die  Vosburg-gemeente en sluit mooi aan by ons tema van vandag: “Doen aan ander”.

Matteus 20:40.  “Dan sal ek, die koning, hulle antwoord. Hoor nou wat ek vir julle sê: As julle so iets gedoen het, vir een van hierdie broers van my, al was hy ook die eenvoudigste van hulle almal, dan was dit vir my wat julle dit gedoen het.”

Die advertensie in die 18de eeu het as volg gelui: Kom luister Sondag, na die besoekende, jong Hollandse skilder/prediker Vincent van Gogh. Hy sal oor vrede preek. Sy teksvers is uit Haggai 2:9: “Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige”. Klink dit vergesorgd? Dit het tog so gebeur, so lees ek.

Op 4 November 1876, het van Gogh die pastorieseun van Zundert, in Londen sy eerste preek gelewer. Hy was ’n Hollander, en hy het die preek nogals in Engels gelewer! Wie van ons sou nie graag daardie diens wou bywoon om te luister na een van die grootste skilders van alle tye nie. Enige een van sy skilderye is vandag miljoene rande werd. As ’n mens so skildery het, en jy sou dit verkoop hoef jy waarskynlik nooit weer te werk nie.

14 jaar later, sterf van Gogh egter tragies in Auvers-sur-Oise, in Frankryk. Nadat hy vir ’n tyd lank in ’n psigiatriese kliniek behandel is, het hy sy eie lewe geneem. ’n Mens wil vra, wat het dan tog in die arme man se lewe verkeerd geloop? Daar is ook al baie geskryf en gepraat hieroor, want hy was ‘n sterk en diep Godsdienstige man wat aangegryp is deur die nood van sy medemens. En soos een skrywer dit stel: “Hy het daarna gedors het om die mensdom te dien.”

Vincent van Gogh het die Bybel bestudeer, en het tydens sy besoek aan Londen en later in Holland en België, homself voltyds besig gehou met Bybelstudie en siekebesoek en die versorging van armes.  ’n Paar liefdesteleurstellings en die onsimpatieke optrede van vriende en kerkmense wat hom in die steek gelaat het, het hom egter later laat besluit om eerder voltyds te skilder. Maar hy het in ’n eensame, eksentrieke en wanhopige mens ontaard.  Hy sou saam met Job kon uitroep soos in Job 12:4: “Ek is ’n grap vir my vriende, dit is iemand wat tot God roep en van Hom ’n antwoord kry.” Job het sy beproewing oorleef, en ons kan sê dat van Gogh het nie. So is daar talle mense na hul graf, nie noodwendig vroeg nie, maar omdat hulle aan hul eie lot oorgelaat is.  Hulle het die stryd teen  honger, dors, gebrek aan huisvesting, klere, siekte, maar ten diepste verwardheid en eensaamheid en uiteindelik verloor.  Vêr weg van iemand of mense wat hulle liefhet.

Daarom het Jesus ons daaraan herinner in ons teksvers. “Vir sover julle dit aan een van hierdie geringste broers van my gedoen het, het julle dit aan my gedoen.” Elke dag moet ons dit vir onsself afvra, elkeen van ons, doen jy dit genoeg? Laat ek en jy altyd vir Vincent van Gogh onthou.

Gebed

Here, gee ons die genade om die nood, die seer en die pyn rondom ons raak te sien.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 29 September 2020

Matteus 10:42.  “Hoor nou wat ek vir julle sê, iemand wat vir een van my volgelinge, al is hy ook hoe gering, ’n beker koue water gee om te drink omdat hy My volgeling is, so iemand sal sekerlik sy beloning kry.”

Ek het aan hierdie verhaal gedink, teen die agtergrond van ons gemeente se kosprojek.  Vandag word kos deur vrywilligers verpak en dan aan heelwat behoeftige en minderbevoorregte gesinne uitgedeel.

Eendag was daar ’n baie geldgierige en selfsugtige visserman, vertel iemand my onlangs. Die visserman het toe eendag ’n pragtige goue vis in die rivier gevang. Hy het dadelik na sy klein lendelam huisie vertrek om sy vis voor te berei. Hy was stoksiel alleen sonder ’n vrou, en hy moes maar self die mas opkom. Toe hy tuis kom, en sy vangs op die tafel neersit, het die vis ewe skielik begin praat! Die vis sê vir hom: “Spaar asseblief my lewe dan sal ek seker maak dat jou eerste drie wense vervul word!” Al voorwaarde is, dat jou buurman twee keer meer as jy gaan ontvang. Die visserman het nou nie van hierdie voorwaarde gehou nie, want hy en sy buurman het nie om dieselfde vuur gesit nie, maar hy het tog ingestem.

Toe hy sy eerste wens uitspreek, was dit dat hy ‘n groot en gerieflike huis wil hê, en dit was onmiddelik so, maar toe hy by die venster uitkyk, sien hy twee pragtige huise op sy buurman se erf staan. Hy het weer na sy eie ruim huis gekyk, en sy tweede wens uitgespreek. Hy wens hy het ‘n mooi vrou gehad wat saam met hom in hierdie huis kon woon, en sowaar, die volgende oomblik het sy langs hom gestaan. Maar toe hy so skuins by sy venster uitkyk, het hy pragtige vrouens in elk van sy buurman se huise gesien staan. Dit raak toe net vir hom een te veel. Nadat hy ’n oomblik nagedink het, het hy sy derde wens uitgespreek deur te wens: “Ek wens my een oog was blind.”

Ja, dit is wat selfsugtigheid aan ’n mens kan doen. Dit vermink jou lewe, maar dikwels ook dié van jou medemens. Daarom waarsku die Bybel ons ook teen die najaag van dinge, wat net in ons eie belang is. Jeremia 45: 5: “En jy soek roem vir jouself? Moet dit nie soek nie. Paulus vryf die waarheid nog dieper in wanneer hy sê: Moet niks uit selfsug doen nie, maar in nederigheid die ander hoër ag as ander.”

Dis soms bitter moeilik, maar dit is die voorbeeld wat Jesus aan ons stel. Hy het sy eie lewe opgeoffer sodat ek en jy die ewige lewe kan hê. Soms is ons geneig om net die mense wat meer as ons het, die dubbelverdiepinghuis en die nuwe motorkar raak te sien, maar die duisende wat minder het as ons, sien ons nie raak nie.

Mag ons harte gebreek en aangespreek word deur hulle wat minder as ons het. Mag ons die vermoë behou om ons seëninge raak te sien, alles wat die Here vir ons gee, en om dan met oop hande te leef.  Daar is ‘n mooi spreekwoord wat sê: “Die paradysvoël kom sit op die hand van die een wat dit nie vashou nie.”

Gebed

Here, dankie vir U groot genade en seën in elkeen van ons se lewe. Gee dat ons, ons seëninge sal tel soos die ou lied sê, en dat ons, ons seëninge kan deel met die wat minder het as ons. Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 28 September 2020

Jesaja 44:33. “Ek sal water gee aan die dorstige land, sodat die strome loop oor droë grond. Ek sal My gees oor jou nageslag gee en hulle voorspoedig maak.”

Dis nogals intressant en insiggewend, oor hoe lidmate en mense reageer oor die feit dat ons nie in die kerk bymekaar kan kom nie. Ons as kollegas dink baie na oor die rol van die kerkmense se terugkeer na die eredienste en mense se huidige gemaklikheid om in hul huise na ’n preek te kan luister en dan te voel alles is reg.

Die Franse geleerde Jacques Ellul, van Bordeaux, bak nie mooi broodjies wanneer hy as Christen oor die Christendom en die kerk van ons tyd skrywe nie. In sy boek, “Die ondermeining van die Christendom” val hy weg met die volgende woorde: In Afrikaans vertaal, “Die vraag waarmee ek myself al lankal mee besig hou in die boek, is een wat my diep bekommerd maak. Hoe het dit gebeur dat die ontwikkeling en die begin van die kerk en die Christendom gelei het tot die onstaan van ’n gemeenskap en beskawing, wat heeltemal die teenoorgestelde is van dit waaroor ons in die Bybel lees”. En dan wys hy op die groot verskille tussen die Bybelse en kerklike voorskrifte en praktyke asook hoe Christene dan oor die eeue die Bybel aangepas het om by hul gewoontes en lewenswyse aan te pas, met rampspoedige gevolge. Dit is voor die hand liggend dat ons nie presies volgens die Bybelse voorskrifte kan optree nie, want hulle het in ‘n totale ander kulturele, sosiale, en ekonomiese konteks geleef, baie ook pre-modern.

Meer as ’n eeu gelede het die Deense Teoloog, Kierkegaard, byvoorbeeld al verwys na die vreemde praktyk, wat reeds vir 15 eeue in sogenaamde Christelike lande gegeld het, naamlik om die eed met die hand op die Bybel af te lê, terwyl die aflegging van die eed uitdruklik in die Bybel in Matteus 5:34, verbied word.

Die een na die ander ondermeindende praktyk van die Christelike kerk oor oor die eeue heen ontmasker. So het ons Christene mettertyd begin vergeet dat die Christelike boodskap eintlik ’n aanstoot en struikelblok vir mense is en het die kerk totaal anders begin lyk as wat dit in die vroeër kerkjare, soos ons in Handelinge 2 lees,  gelyk het. Gelukkig is Christus nog daar, en die kruis wat in die hart van die wêreldgeskiedenis geplant is, kan nie ontwortel word nie. Boonop werk die Heilige Gees nog onverpoos voort in die harte van mense.

Maar dan moet ons wakker word. Die misdryf van die kerk is nie moord, diefstal, en al daardie afskuwelike dinge nie. Die grootste misdryf van die kerk, is sekerlik die sonde van slaap. Soos digter van Spreuke 10:5 dit byna kras stel: “’n mens wat die oestyd deurslaap, verdien veragting”.  Daarom moet ons as geloofgemeenskap, as NG kerk en as Christelike kerk wakker wees. Veral in hierdie land,  want ‘n lewende kerk kan gesien en gehoor word.

Gebed: Here maak ons waaksaam, maak ons sensitief dat ons die gestalte van Jesus in hierdie wêreld kan wees. Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Sondag 27 September 2020

Johannes 15:14.  “Dit is julle wat my vriende is, as julle doen wat ek julle beveel.”

En dan het Dave Tyson Gentry gesê:  “As die stilte tussen twee mense, ’n gemaklike en gemoedelike stilte is kan jy maar weet dat hul vriendskap diep en eg is.”

Dis die laaste Sondag wat ons nie amptelik bymekaar in ’n kerkgebou bymekaar gaan kom nie.  Vanaf volgende Sondag gaan ons bymekaar kom, maar ek dink baie van ons het ’n ander ritme, tydens die grendeltyd,  op ’n Sondag gehad – meer tye vir stilwees en saamwees as wat dit in die week was.

Dit het my laat dink aan die twee boere wat saam gekuier het.  Hulle het so met mekaar gesit en gesels en dan het die een gesê:  “Ja . . . ” En dan na so minuut of twee het die ander een weer geantwoord:  “Ja . . .”,  en dan so na twee of drie minute is die gesprek weer op dieselfde trant herhaal.  Die een se vrou het gesê: “Luister, hier het ’n nuwe buurman ingetrek en julle kan gerus die man oornooi om deel van julle vriendskapskring te raak, en so het hulle die man toe genooi, en die een het gesê: “Ja . . . “, en na ’n minuut het die ander een weer gesê: “Ja . . .” en die derde man antwoord toe ook maar weer met ‘n “ja . . .”.   Na afloop van die gesprek vra die boer se vrou toe hoe die saamkuier verloop het.  Die boer het geantwoord, “ja wat,  hy is heel oraait,  maar ons gaan hom nie weer nooi nie, hy praat hopeloos te veel!”

Stilte kan ook praat.  Soos die rus en kalmte van ’n tuin, waar jy jouself ookal in die wêreld bevind. Ons het die afgelope tyd stilgestaan by die reeks oor berge.  Berge wat jou met stiltes verbind. Stiltes om jou te laat dink, jou weerloosheid te laat besef en jou anders na jouself te laat kyk. Eeue gelede het ’n moedelose Eliah dit ondervind toe hy vir Jesubel moes vlug en hom eensaam op die berg bevind. Dis die teks waarby ons ook in vandag se prediking gaan stil staan. Daar kon hy God nie midde in ’n stormwind, of aardbewing, of in ’n vuur vind nie.   Eers later in Konings 19:12, was daar ’n fluistering in die windstilte en daar het Eliah God se stem gehoor.

Pinkstertyd sê dat God deur Sy Heilige Gees in elkeen van ons wil woon. Hy wil spesifiek by elkeen van ons woon, ons troos, ons lei, en altyd by ons bly. In die stormagtige tye van ons lewens, wil die Heilige Gees die kalmte van ’n windstilte in ons harte bring.  Hy wil soos ’n duif op ons neerdaal, soos waarna Johannes die doper in Johannes 1:32 verwys.  Paulus het aan ’n groepie gelowiges wat hy in Korinte raakgeloop het, gevra: “Het julle die Heilige Gees gevind toe julle gelowig geraak het? Hullle het geantwoord dat hulle nog nie eens gehoor het dat die Heilige Gees gekom het nie”, Handelinge 19:2.  Die Heilige Gees is God wat in ons woon.  Hy wil stilte en vrede na ons toe bring soos die stilte tussen twee mense wat gemaklik met mekaar is. Hy wil met ons kom praat, sodat ons kan stil word en  dan saam met Fondel vra, “Kom, kom, kom, drie maal o Heilige Geest, Ei shigen onse pinksterfees, kom tortelduif van hemelsdak, en bring ons die olyfentak!

Mag God se Gees vir ons die olyftak bring, dat ons plekke en tye ondervind waar ons sy Gees kan erken en herken.

Gebed

Here dankie vir die werking van die Heilige Gees in ons lewens. Gee vir ons tye en plekke waar ons U kan hoor praat.

Gedagte vir die dag | Saterdag 26 September 2020

Matteus 6:14.  As julle ander mense vergewe waar hulle verkeerd gedoen het, sal julle Vader in die hemel julle ook vergewe waar julle verkeerd doen.

In ’n poging om haar behoeftige ouers te onderhou, het ’n Duitse meisie op haar tuisdorp klavierlesse vir kinders begin gee.  Sy het haar klavierlesse bemark deur te sê sy is ’n leerling van Franz Liszt, ’n bekende komponis,  en dit dan ook in die dorp verkondig, met die hoop dat dit haar beter sal laat lyk.  Maar toe bring die bekende groot komponis  besoek aan die dorpie en sy besef dat sy nou  in die moelikheid is en dat haar leuen by Franz Liszt sal uitkom.  Sy het toe sommer die bul by die horings gepak en teenoor hom gaan bieg, voordat haar valse beweringe by hom kon uitkom.  Sy het haar gedrag teenoor Franz Liszt bely en om vergifnis gevra.  Nadat Liszt haar ernstig berispe het, het hy haar versoek om ’n stuk op die klavier vir hom te speel.  Hy het haar op enkele foute in haar spel gewys en toe vir haar gesê: “Nou ja, nou is jy een van my leerlinge. Gee nou self ’n uitvoering, en kondig teen die einde van die uitvoering aan dat jou uitvoering met ’n musiekstuk, gekomponeer deur Franz Liszt, afgesluit word.  Dit is mos wat Jesus aan die kruis ook gedoen het toe hy gebid het: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Dit breek ’n mens se hart wanneer jy die vooroordeel en die onvergewingsgesindheid wat daar tussen verskillende rassegroepe in Suid-Afrika bestaan, sien.  Ons hoor beskuldigings word heen en weer vanuit jou eie rasgroep, of politieke groepering teenoor  ander gemaak.  Ons lees ook van mense wat sê, dat dit wat hulle in die apartheidsregering beleef het en dat hulle die wandade wat teenoor hulle gepleeg is, nooit sal vergewe en vergeet nie. As dié mense maar net Benjamin Franklin se woorde wil onthou: “Om iemand te verontreg, plaas jou onder jou vyand.” Om jou te wreek, plaas jou op dieselfde vlak as hy, en om die ander een te vergewe, plaas jou bo hom.”

Dit was ook die gesindheid van die vrou van Chiang Kai-shek in die laaste wêreldoorlog: “Daar mag geen bitterheid onder ons wees nie, ondanks die lyding wat ons verduur het, moet ons probeer om almal te vergewe, almal wat ons kwaad aangedoen het. En net die lesse onthou wat ons daaruit geleer het,” het sy gesê.

Sou ons ooit kan vergeet van Maria en die baie duur nardusolie wat sy op Jesus se voete uitgegiet het, en daarna met haar hare afgedroog het. Johannes 12:3: “God is nie onregverdig nie.” Hebreërs 6:10: “Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het nie.”  Kom ons sê dankie vir die Here vir sy liefde en sorg, maar ook vir elkeen teenoor wie ons in die verlede leed aangedoen het.

Gebed

Here dankie vir U groot vergewinsgesindheid en die uitbeelding daarvan in Jesus Christus. Gee dat ons dit ook teen ander sal uitleef.

 

1 126 127 128