GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 15 Oktober 2020

Lukas 11:9-10. “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”

Waarmee worstel jy op die oomblik? Dalk ’n belangrike besluit oor jou toekoms? Of ’n konflik situasie binne jou familie? Het ’n deur dalk voor jou toegegaan, of het ’n ander deur dalk vir jou oopgegaan? Laat ons eerlik wees – beide oop en toe deure is uitdagings! Dalk worstel jy met jou finansies, of dalk bied jou, of iemand in jou familie se gesondheid bepaalde uitdagings. Hoe hanteer jy jou worsteling? Wat maak jy daarmee? Vandag se teksgedeelte is ’n persoonlike uitnodiging van Jesus waarin Hy ons nooi om met ons probleme en uitdagings na Hom te gaan.

God is ons Vader wat belowe het om ons te versorg en te help. Hy’s nie een wat rus en slaap en dan nie gepla wil word nie. Hy sluimer nooit in nie en slaap nooit nie. Hy nooi ons uit om Hom enige tyd – dag en nag, aan te roep. Hy ly nie, soos ons, aan geïrriteerdheid wanneer mense Hom lastig val en ontydig pla nie. Hy’t nie allerhande voorskrifte rakende hoeveel Hy bereid is om in ’n vriendskap in te sit nie. Hy’t volmaak lief en daar is geen einde aan sy liefde vir jou en my nie.

Die Here wil hê dat ons met die grootste vrymoedigheid moet bid omdat ons Hom vertrou. Wie by hierdie Vader vir hulp aanklop, ontvang nie net sy/haar daaglikse brood nie, maar sommer baie meer:

– die Heilige Gees kom na ons toe;

– God self gaan saam met mense wat by Hom aanklop!

GEBED

Here,

Met my stukkie lof

Met my bietjie bid

Met my sinne van stof

Wil ek voor U kom sit

Met vandag se leef

En môre se dood

Met my reguit en skeef

Met my honger en brood

So sal ek kom

As ek kom om te juig

Dankbaar en dom

Sal ek nederig kom buig. AMEN

Gedagte vir die dag | Woensdag 14 Oktober 2020

Romeine 1:17. “ In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Martin Luther wou as jong student sekerheid en waarborge oor die lewe hê. Hoewel sy pa daarop aangedring het dat hy ’n regsgeleerde word, was Luther in sy soeke na sekerheid aangetrokke tot die teologie. Hy was oortuig daarvan dat ’n mens net van God kan leer deur God se openbaring en daarom het hy die Bybel intensief begin bestudeer.

Op 2 Julie 1505 na ’n besoek aan sy ouerhuis, keer hy terug universiteit toe en tydens sy reis steek  ’n donderstorm op en ’n weerligstraal tref die grond naby hom. Bleek geskrik, maak hy toe ’n belofte aan God om ’n monnik te word. In die klooster het hy homself aan vas, gebed, en gereelde sondebelydenis toegewy en ten spyte van al sy pogings wou sy gevoel van geestelike verlorenheid net nie wyk nie. Hy kon nie glo dat al die goeie dinge wat hy doen God se oordeel oor sy lewe sou wegneem nie. Daar was geen sekerheid nie. Luther het gevoel hy is vasgevang in sy sonde en het ’n gevoel van verlorenheid beleef.

Sy deurbraak het uit die Bybel gekom. Hy het Romeine 1:17 raak gelees. Die teks praat van God se geregtigheid. Vir Luther het dit altyd beteken dat God daarop geregtig is om sondaars te veroordeel. Skielik het hy begin verstaan God se geregtigheid is die vrye geskenk wat God aan sondaars toereken. Dit is ‘n geskenk wat deur die leë hande van geloof ontvang word en sondaars regverdig voor God verklaar.

Dit het sy lewe verander. Skielik het hy in God se genade ’n vaste anker ontdek en verstaan dat sy goeie dade hom nie gaan red nie, maar dat God se genadegeskenk wel sondaars red. Luther se protes en klem op God se genade het tot die grondige reformasie en die opkoms van die Protestantisme gelei. God red sondaars uit genade, God verklaar sondaars regverdig. God bewerk die verlossing in verlore mense se lewens.

GEBED

Wees my genadig, o God, in u troue liefde,

wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!

Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!

Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.

Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

Maar daarom kom vra ek om vergifnis. Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 13 Oktober 2020

Psalm 94:18-19

Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.

 Dit is ’n vreemde ervaring om te gly. Die een oomblik het jy nog volle beheer en die volgende oomblik besef jy dat jy beheer verloor het en sukkel om dit terug te kry. Jy voel nie net uit beheer nie, dit is asof jou liggaam met vrees die pyn van die val wat voorlê, antisipeer. Dit was dan ook wat die gelowige in ons teks beskryf – God het van my lewe beheer geneem toe ek beheer verloor het. In die plek van die vrees en seerkry bring hy ’n rustigheid in my gemoed. Hoe hou die Here jou regop in die midde van swaarkry, seerkry of lyding? Raak bewus daarvan dat die Here vir jou te midde van lyding en hartseer rus bring.

 Gebed

Maak dit deur u genade vir my moontlik wat natuurlikerwys onmoontlik is: om die vernedering, swaarkry en lyding wat ek ter wille van U deurmaak met kalmte en waardigheid te dra. U weet hoe ek sukkel om ongerief te verduur en hoe maklik ek moedeloos raak oor die kleinste stukkie teenkanting.

Gedagte vir die dag | Maandag 12 Oktober 2020

Johannes 15:16-17. “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

Daar gebeur elke dag dinge waarop ons reageer. Ons reaksies word bepaal deur ons interne gemoedstoestand wat baie wisselvallig kan wees. In hierdie gedeelte roep die Here ons nie net tot positiewe reaksies nie, maar maak ons bewus daarvan dat ons in staat is om positiewe uitkomste te laat realiseer. Die Here gee ons dus die vermoë om ten spyte van ons eie gevoelens ons invloed te gebruik wat weer ’n wêreldse verskil tot gevolg kan hê. Ons word geroep om met die Here se liefde teenoor ander te leef. Dink vandag hoe hierdie opdrag die emosies wat jy oor ander ervaar, verander.

Gebed

Here, ek gee myself as ’n geskenk aan U. Kom ons maak hierdie ruil: Hier is my lewe volledig in u hande – sal u nou in ruil my lelikheid met skoonheid oordek, en my wederstrewigheid met u liefde tem? Blus die vlam van valse passie in my; leer my dat ek nie met intense emosie op u liefde hoef te reageer nie. Daarom staan ek hier: sonder emosionele kleding, nakend voor u liefde.

Gedagte vir die dag | Sondag 11 Oktober 2020

2 Korintiërs 8:13-14. Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly nie, maat sodat daar ewewig sal wees, moet julle wat nou ’n oorvloed het, die help wat gebrek lei.

Ons word daaglik met die nood van mense om ons gekonfronteer. Dit raak soms so oorweldigend dat ’n mens begin moed verloor om op enige manier iets daaraan te doen. Watter verskil maak my klein bydra? Of moes ek dalk meer gegee het, is vrae wat by ons opkom.   Paulus herinner ons in die teksgedeelte aan ’n belangrike beginsel. Die Here vra nie vandag iets van ons wat ons nie reeds het om te gee nie. Inteendeel ons het oorgenoeg om aan ander uit te deel. Dink vandag anders aan die middele tot jou beskikking en hoe ander mense ook na jou uitreik. Nie net met geld nie, maar ook met tyd, vaardigheid en geestelike gawes.

Gebed

Here, dit is doodstil rondom my.  Ek kan nie die wêreld om my voel asemhaal nie. Ek hoor niemand praat nie. Ek sien niemand beweeg, of lag, of huil nie. Here, kan dit wees dat ek so geïsoleer voel omdat ek vir niemand meer omgee nie? Omdat ek na niemand meer luister nie? Omdat ek net aan myself aandag gee? Omdat ek net “myself wil wees”? Aandring op my “individualisme”? Here, verander my onverskilligheid en my onsensitiwiteit in empatie; my dadeloosheid in entoesiasme. Here, maak oop my oë en my ore en leer my omgee vir ander.

Gedagte vir die dag | Saterdag 10 Oktober 2020

Psalm 91:4 – 6.  “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.”

Bekommernisse is vir ons ’n daaglikse realiteit. Net soos wat jy van een bekommernis ontslae raak duik daar weer ’n ander een op en dit is asof die impak daarvan met ouderdom erger raak en dit laat ons dikwels weerloos. Wat is die kommer wat jy vandag in jou hart dra. Laat die woorde van hierdie Psalm vandag in jou weerklank. Mag dit jou vandag help om te fokus op dit wat belangrik is en al jou vrese oor wat moontlik kan gebeur, soos mis voor die son laat verdwyn.

Gebed

Here, ek kom gee die bekommernisse wat nou in my gedagtes maal en in my gemoed verwoesting saai aan U oor. Help my om deur die vrees en onsekerheid wat dit in my bring te kyk. Skep deur U Gees in my gemoed die rus om met hoop hierdie dag wat voor my lê in te gaan.

Gedagte vir die dag | Vrydag 9 Oktober 2020

Johannes 17:1-3. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

In ons teksgedeelte is Jesus besig om net voor die traumatiese gebeure van sy lyding en sterwe, vir sy dissipels te bid. Hy besef dat dit vir hulle baie moeilik gaan wees om sin van die komende gebeure te maak en dat dit hulle met baie onbeantwoorde vrae gaan agterlaat.  Die Here het begrip dat hedendaagse gebeure ons dikwels ontnugter en verward kan laat. Daarom is hierdie gebed van die Here ook vandag vir ons so kragtig. Dit laat ons verstaan dat ons kennis van God se aard en karakter ons nou reeds ’n uitsig op die ewige lewe bied. Dit gee perspektief aan alles in die tydelike lewe en help ons om daagliks God se ewige genade en sorg te beleef.

Gebed

Here ons God, wees Uself nou hier by my, sodat hierdie gebed vandag ’n tyd van lig sal word. Laat my in u teenwoordigheid die hemel sien oopgaan, sodat ’n stukkie van U lig in my donker situasie skyn. Ek vra dit in die naam van u Seun, Jesus Christus.

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 8 Oktober 2020

2 Petrus 3:13.  “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”

Die teks herinner my aan die baie bekende lied, “Ek sien ’n nuwe hemel kom”. Dit smag na ’n tyd waar alles heel en nuut sal wees. ’n Tyd waar vrede sal heers en alle pyn, hartseer, dood en onsekerheid sal verdwyn. Die vroeë gelowiges het hulle verwagting met die woord “Maranata” opgesom, wat beteken “kom tog gou Here en skenk aan ons ’n nuwe realiteit”. Hoe hierdie nuwe hemel en aarde eendag gaan lyk en wanneer dit gaan aanbreek weet ons nie, maar ons weet wel dat dit nou op ’n geheimenisvolle wyse nuwe betekenis aan ons hede gee. “Maranata”, was dus nie vir die vroeë gelowiges net ’n droom van ’n vae eendag nie. Dit het hulle juis gehelp om nou reeds met vrede, hoop en liefde in hulle hede te leef, omdat God reeds deur sy Gees in hulle teenwoordig was. Ons leef vandag in die geloof van Romeine 8:38 dat niks in hierdie lewe ons ooit van die liefde van Christus kan skei nie. Op dié vreemde manier herinner dit ons dat terwyl ons vir die “eendag” wag,  die nuwe hemel en aarde reeds nou op onverwagte wyses in ons hede deurbreek.

Gebed

Heilige Gees, transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde my vandag so omvorm, dat ek ‘n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my watter rol ek kan speel om die wêreld, ’n plek van korrupsie, lyding en  verganklikheid, kan help transformeer tot ’n plek waar u lig, en vreugde en liefde die deurslag gee. Maak my so gehoorsaam aan U, o Gees van nuwe moontlikhede dat my lewe ’n lewende gebed sal word, ’n getuienis van u troue teenwoordigheid in elke tyd en omstandigheid.

Gedagte vir die dag | Woensdag 7 Oktober 2020

Psalm 119:9.  Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie.

Het jy al verdwaal en die frustrasie beleef om in sirkels rond te ry op soek na ’n manier om by jou bestemming uit te kom? ’n Mens kan lank doelloos rondry in die hoop dat jy ’n bekende baken sal raak sien wat jou sal help om jou bestemming te bereik. God se riglyne aan die Israeliete, wat as die Wet van Moses bekendgestaan het, was so ’n rigtingwyser. Dit het hulle op ’n baie praktiese wyse in die alledaagse lewe in pas gebring met God se plan vir hulle lewens. Mag ons oë vandag, soos in die teksgedeelte, oopgaan vir die realiteit dat die Here in ons hede die lewenspad met ons saamstap en baie prakties daaraan rigting gee.

Gebed

O Vader. Dis net hier waar ek ophou met voorgee dat ek self kan regkom. Ek vra U nou om my te help om my ware self te vind. Maak my nugter en eerlik – al ruk dit my uit my gemaksone.  Here, ek gee my probleme in U hande oor en steek my leë hande na U uit. Help my, Here, om my eie sondige aard af te lê en dan op te hou om ander te veroordeel. In u hande gee ek my lewe, sodat U daarmee iets kan maak tot U eer. Laat u wil geskied.

 

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 6 Oktober 2020

Jesaja 33:2. “Wees ons genadig Here, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood.”

Israel is op hierdie stadium verpletter! Hulle is in ’n diep gat van desperaatheid oor hul situasie en ballingskap. Die eens magtige volk van God is weggevoer in ballingskap en dit was nie alleen vir hulle ’n groot vernedering nie, dit het ook ‘n magtelose desperaatheid by hulle tot gevolg gehad.  Die hoofstukke van Jesaja, hanteer hierdie situasie en omskryf dit volledig. Die profeet tree op, en tree namens hierdie volk in, in hierdie donker tyd van hulle bestaan. Die noodkreet in vers 2, is ook sprekend van die nood van baie mense, volke, en nasies, dalk ook gesinne en individue.

Kom ons kyk kortliks na die verskillende dele van hierdie noodroep.

Dit begin allereers met gebed – ’n uitroep!  Vroeër die week het ons ook gepraat oor hoe ons in nood moet roep, en hoe ons noodkrete in verskillende omstandighede vir ons hulp voorsien. Hier is Israel aan die roep, by monde van die profeet: “Wees ons genadig, Here”. Die eerste versoek en behoefte is dat God hulle moet raak sien waar hulle in die donker gat van desperaatheid beland het. Wat hulle van God vra is nie allereers om hulle eers daaruit te bevry nie, hulle pleit om sy genade. Hulle weet hulle was skuldig in die verlede en dit is waarom hulle in die situasie beland het. Hulle roep egter, vanuit hul skuld en desperaatheid, dat God hul sal begenadig, dat Hy sy hand sal uitsteek en dat Hy hulle sal vergewe.

Dit word dan opgevolg met die volgende sin, “ons vestig ons hoop op U!” In hierdie donker gat, roepende na God se genade, hou hulle vas en vestig hulle hul hoop op God. Dié God wat hulle leer ken het as die God wat in alle omstandighede uitkoms gee. Hulle bid verder: “Wees elke nuwe dag ons krag.” Hulle situasie het hulle kragteloos gelaat, moeg en uitgeput. Hulle weet dat as hulle God se genade ontvang, of hul hoop op Hom vestig, dan het hulle elke dag krag om aan te gaan met hulle lewe. Hulle kan daarom ook erken en bely: “U is ons redding in ’n tyd van nood.”

Vriende, spreek hierdie teksvers nie direk tot ons eie situasie in ons wêreld en in ons eie land nie? Die afgelope paar maande het ons met hierdie dagstukkies telkemale verwys na ons eie nood wat op baie plekke ongekende uiterstes bereik het as gevolg van die Covid-pandemie. Ook hoe dit ons intens raak – vir elkeen op ’n unieke manier asook kollektief vir ons as Suid-Afrikaners met die ekonomiese en ander gepaardgaande uitdagings.

Dalk is ons nou ook waar die ou Israel was? In ’n put van desperaatheid. Daarom moet en kan hierdie gebed ook ons gebed wees en kan ons dit vertaal en dit in ons konteks plaas: “Here, wees ons genadig. Ook hier aan die suid-punt van Afrika, in ’n wêreld wat gebuk gaan onder onvrede en talle bedreigings. Midde in dit vestig ons, ons hoop op God. Ons gaan sit nie in die hoek en huil oor ons situasie nie! Ons kyk vorentoe, ons kyk op, en ons is hoopvol omdat ons hoop gevestig is op ’n God wat werklik lewe. Daarom kry ons ook elke dag nuwe krag om aan te gaan, uit te hou, deur te druk, en ons dae mooi en sinvol te kan beleef.

Gebed

Here, wees ons genadig, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding, in tyd van nood. Amen

 

1 125 126 127 128