Gedagte vir die dag | Woensdag 4 November 2020
1 Korintiërs 2:16. Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie. Daar staan geskrywe: “Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus.
’n Mens se brein is alewig besig om gebeurtenisse en ervarings om jou, te weeg en te beoordeel. Ons is voortdurend met probleemoplossing besig en daar is mos oorgenoeg probleme wat ons snags laat wakker lê en soveel gebeure wat ons nooit sal verstaan nie. Paulus gee aan ons as gelowiges, ’n dieper insig in hierdie realiteit. God se Gees skuif op bepaalde maniere onder ons denke en gevoelens in en bring ons tot insigte wat nie maklik in woorde omskryf kan word nie, maar wat deur geloof, hoop en liefde prakties in ons lewe gestalte kry. Bevind jy jouself in die frustrerende situasie waar probleme alewig jou lewe oorheers? Vind dan jou sekuriteit en rus in die bekende woorde van Paulus in Romeine 8:26-27. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges”.
Gebed (Liedboek 436)
Herskep o Gees, laat leef o Gees, laat kom die koninkryk met mag, laat mense tot aanbidding kom, oorreed deur U oortuigingskrag. Herskep, o Gees, laat ons herleef, maak wakker elkeen in U kerk. Laat ons uit God se liefde leef, en dankbaar waak en bid en werk.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 3 November 2020
2 Korintiërs 2:14. Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan
Vandag, 3 November, is ’n baie belangrike dag in die geskiedenis van ons wêreld. Die Amerikaanse presidentsverkiesing vind vandag plaas midde-in baie uitdagende tye wat ook daardie supermoontheid teister. Wanneer ’n presidentsverkiesing in Amerika, een van die grootste moonthede oor die wêreld heen, plaasvind dan word die fokus weer opnuut op die korrekte verstaan van leierskap geplaas. Amerika moet nou ’n leier kies wat hul nasie deur geweldig baie krisisse en uitdagings moet navigeer.
Gedurende die afgelope jaar, waarvan die grootste gedeelte lam gelê is deur die koronavirus-pandemie en die gepaardgaande grendeltyd, is daar baie gepraat oor leierskap. Goeie leiers wat hul volgelinge effektief deur die storm begelei en ander wat totaal afwesig is of hulself midde-in die krisis verryk.
Ons wêreld is desperaat om leiers te sien wat aangeraak is deur die nood van die mense wie hulle moet lei. Leiers, wat in die taal van Paulus in ons teksgedeelte, die welriekende aroma, of die wierook in ’n onwelriekende wêreld moet wees. Leiers wat ’n verskil maak en wat invloed het! Leiers wat soos Jesus dien, selfloos hul skouer onder diegene wie hul lei ingooi, om te help, op te hef en te begelei en deur storms te navigeer!
Sulke leiers kan inderdaad beskryf word as die aroma van Christus. Die wierook wat deur Christus vir God gebrand word en wat so ons wêreld ’n beter plek maak.
Gebed
Here ons bid vir leiers wêreldwyd . . . leiers wat bereid is om selfloos ander te dien, soos wat U gedien het. Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 2 November
Handelinge 1:8. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.
Ek skryf vanoggend hierdie dagstukkie op Vosburg, diep in die Groot-Karoo. Die Karoo is droog, maar daar is tog tekens van hoop en reën en dit bly steeds vir my persoonlik, een van die mooiste plekke op aarde.
Saam met my, in Vosburg, is ’n span van 30 ywerige, jongmense wat uitreik na die plaaslike bruin gemeenskap van Vosburg, maar ook na die dorp se inwoners en die boere in die gemeenskap. Ek is weereens so bemoedig deur die diensbaarheid en ywer van hierdie klompie jong dissipels van Jesus Christus. Hulle optrede, hoe hulle met die kinders speel, hoe hulle hoop bring en van soggens tot laat saans hulle absolute beste gee om getuies van Jesus Christus te wees, is werklik inspirerend.
Selfs tydens dié moeilike jaar met grendeltyd en ander uitdagings offer die jongmense hulle enigste vakansie van die jaar op, om hierheen te kom en te midde van die Karoo-hitte te dien, omdat hulle glo dat die Here wat hulle volg, hul ernstig in sy woord versoek het om dit te doen.
Ja, hulle is getuies, nie net uitreikers nie. Hulle getuig van ’n God wat deur Jesus Christus waar geword het in hul eie lewe. Hulle getuig van die vreugde wat gepaard gaan met die verbintenis van hul Verlosser, Jesus Christus. Hulle getuig van dit wat Jesus in hulle harte rakende ander mense laat gebeur het. Hulle deernis, hulle omgee vir ander in nood, spesifiek dan hier, die nood in die Karoo met sy eiesoortige probleme soos droogtes, hooploosheid en armoede. Hier wil hulle getuies wees van ’n God wat hoop bring en ’n God wat liefhet en omgee.
Vriende, hoe vaar elkeen van ons wat nou hierdie dagstukke lees, of daarna luister, in die verbanv? Hoe vaar ons elkeen as getuies? Getuig ons, deel ons, vertel ons nog die beste nuus ooit . . . die nuus wat nooit ounuus raak nie. Die nuus dat Jesus omgee, liefhet, verlos, uithelp? Getuig ons van dié Een wat ons eie lewe kom verander het? Hy het vir ons ’n nuwe lewensdoel, sin en hoop vir ons lewens gevestig. Of val ons dalk in by ’n koor wat elke dag getuig oor hoe sleg alles rondom ons is en hoe alles vergaan? Is jy ’n getuie….? Waarvan getuig en oor wie getuig jy…..?
Die wêreld is despreraat om die getuienis van Jesus se volgelinge te hoor, omdat dit die beste nuus is wat die wêreld kan verander!
Gebed
Here, ek faal so baie in die uitvoering van U groot opdrag. Dankie, dat U vanoggend in hierdie teksvers ook vir my belowe, dat U vir my krag sal gee, die krag van die Heilige Gees, om my te help om ’n getuie van U in ons wêreld te wees. Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 1 November 2020
Levitikus 19:2. Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.”
Gister het ons aandag gegee aan die onbeskryflike driemaal-heiligheid van God. Dié een wat alle tye oorspan! Ons het toe gesien dat heiligheid is een van God die Almagtige se besondere eienskappe. Hy is dit in Homself, en hierdie heiligheidstatus van God word dan ook veral in Levitikus vir sy volk as die sogenaamde heiligheidskode voorgeskryf.
God se volk, ontvang die opdrag om op grond van God se heiligheid, ook heilig te wees. Hulle moet onderskeibaar anders wees, in hul optrede, lewens, verhoudings en lewensuitkyk. Hulle moet daagliks deur hulle leefwyse iets van die heiligheid van God illustreer. Hul heiligheid beteken dan ook dat hulle anders moet lewe as mense wat God nie ken nie, omdat hulle eksklusief aan God behoort.
Petrus volg dit op in sy eerste brief waar hy met gemeentelede, volgelinge van Jesus, praat. Hulle ontvang ook dieselfde opdrag tot heiligheid, gegrond en gemotiveerd deur God se heiligheid. Tussen ongelowiges in die verskillende provinsies in klein Asia, moet hulle heiligheid hulle juis as volgelinge van Christus onderskei. Dit is dan ook nie allereers morele en etiese heiligheid soos byvoorbeeld onsedelikheid nie, maar dit impliseer dat hulle deur God geroep is en afgesonder is om eksklusief aan Hom te behoort.
Ja hierdie, soms vreemde status van heiligheid, word ook ons status! Die eienskappe waaraan ons uitgeken moet word in ons eie moderne wêreld, ons omgewing en leefwêreld. Geroep, en afgesonder vir diens aan God! Dikwels word “heiligheid” spottenderwyse gebruik wanneer dit verwytend of vermakerig gesê word: “ag jy probeer jou heilig hou”, of “dis nou ’n regte holy Joe daardie.”
Vriende, is ons onderskeibaar anders in ’n wêreld, of omgewing wat nie aan God behoort nie? Onderskei die feit dat ons ’n heilige God aanbid en wat dieselfde kwaliteit van heiligheid aan ons voorskryf, ons daaglikse lewenswyse?
Gebed
Here, help ons om soos U, in alles heiligheid na te streef. Sodat ons in alles in die wêreld kenbaar sal wees as mense wat vir God afgesonder is. Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 31 Oktober 2020
Openbaring 4:8: “Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.”
God oorspan alle tye! Gister, vandag en môre, die verlede, hede en toekoms, want Hy is die een wat was, en is, en wat kom. Vriende dit is die refrein wat oor en oor deur die hemelse wesens wat vir God aanbid in Openbaring 4 gesê is, sonder ophou!
Dit laat ons ook dink aan die engele voor die troon in Jesaja 6. Hemelse wesens wat totaal oorweldig was deur die Heiligheid van God, in wie se teenwoordigheid hulle hulself bevind het.
Heilig, heilig, heilig – voltallig heilig. Dit is hoe die persoon op die troon omskryf word. Heilig… anders… nie vasgevang in menslike beperkinge nie, volledig aanbiddelik. Sy identiteit, Sy Naam: “Die Here God, die Almagtige!” Soos Johannes Hom ook vroeër in die brief in Openbaring 1:8 beskryf het waar Hy homself noem: “die Alfa en die Omega, die Here, die een wat was, wat is, en wat kom”
Watter ongelooflike troos lê daar nie vir ons in hierdie identiteitsomskrywing van God nie! Hy is onmeetbaar aan menslike en wêreldse standaarde. Hy is heilig, sonder vlek of rimpel, en Hy is almagtig! Alle mag in die hemel en op die aarde behoort aan Hom. Dan ook . . . Hy, in Sy heiligheid en almag, oorspan alle tye. Hy was daar in ons verlede om ons te skape en aan ons te voorsien en ook om ons verlossing in Jesus Christus te bewerkstellig, en ons tree vir tree te begelei. Hy is ook in die hede . . . Hy is nou vir ons Immanuel, God met ons, hier by ons te midde van al ons huidige situasies, en deel van ons daaglikse lewensreis! Maar Hy is ook ons toekoms, die Omega, die een wat kom. Die een wat die fokus van ons hoop kan wees.
Gebed
Kom ons val op ons knieë en bid saam: “Heilig, heilig, heilig is die Here die God, die almagtige. Hy wat was, en wat is en wat kom! Maranatha, kom Here Jesus, Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 30 Oktober 2020
Klaagliedere 3:21-24: “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom”.
Is daar lig aan die einde van die tonnel? Of het my persoonlike slegte ervarings gedurende 2020 asook dié oor die res van die land en wêreld heen, ons so diep getref, dat ons voel soos die negatiewe spreekwoord lui: “Die enigste lig aan die einde van die tonnel, is die lig van ’n aankomende trein!”
Ons het gister stilgestaan by die hartverskeurende Klaagliedere van Jeremia en sy desperate uiting in hoofstuk 3:18 : “Ek het gedink dit is klaar met my, en met my hoop op die Here.”
Ons het toe nagedink oor hoe dit tot ons spreek en veral tot ons eie vlakke van hoop. Is ‘n mens se persoonlike uitdagings en krisisse nie dalk stelselmatig besig om my hoop in God te elimineer nie!
Jeremia moes ook introspeksie toepas om tot by die antwoord te kom. Hy moes weer die wonderlike waarhede van sy geloof en sy verhouding met God af stof en daarin weer die oplossing vir sy hopeloosheid herontdek! Luister hoe mooi dit in ons teks gedeelte omskryf word. Hy sê: “Hy het alles, m.a.w. dit wat hy glo, weer ter harte geneem en daarom bly hy hoop!“ Die inhoud van sy kennis van God asook sy ervaring van God en hoe God hom bygestaan het, het hom laat bly hoop.
Vriende, verder kon hy dit met groot oortuiging uitroep: “Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie. Daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut, U trou is groot. Ek het gesê die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.”
Ons moet weereens baie eerlik met onsself wees deur te vra: “Is hierdie ook die geloofs-vashouplekke waar ek myself nou bevind? Kan ek ook sê dat ek bly hoop in die Here en dat ek weet dat ek nie sal vergaan nie omdat hy my liefhet. Omdat ek ervaar dat daar geen einde aan sy omgee vir my is nie, dat dit elke oggend nuut is. Ek weet en ek glo, God se trou ook in my eie lewe, is groot. Daarom kan ek vir myself sê: “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.
Gebed
Here, ek sal alles wat ek glo oor U weer ter harte neem, en daarom sal ek bly hoop. Ek sal bly hoop, omdat U my lewe is. Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 29 Oktober 2020
Klaagliedere 3:18: “Ek het gedink dis klaar met my en my hoop op die Here”.
Die woord, klaagliedere, is lank reeds in die volksmond opgeneem as ’n uitdrukking, of verwysing na iemand wat baie kla. As daar iemand is wat baie kla, dan word daar dikwels na hom/haar as ’n regte Klaagliedere van Jeremia, verwys.
Ek het as kind hierdie boek in die Bybel vermy. Dit was vir my altyd so ’n neerdrukkende boek wat te negatief en pessimisties na my smaak was. Tot op ’n dag wat my oorlede pa gesê het dat dit een van sy gunsteling Bybelboeke is omdat dit so baie troosvolle waarhede bevat wat selfs midde in krisisse en neerdrukkende situasies toepaslik is.
Ons ken die agtergrond van Jeremia se klaagliedere, sy hartverskeurende “lament” of weeklaag oor sy volk se situasie. Hy is in diep rou, en berou oor sy volk! Hy ervaar dat God hulle verwerp het, van hulle weg gekeer het en hulle in ballingskap in ’n vreemde land vas gegrendel het.
Dan hoor ons sy desperate uitroep in Hoofstuk 3:18: “Ek het gedink dit is klaar met my en my hoop op die Here”. Sjoe, dis ernstige, seer woorde! Sy krisis en die krisis van sy volk het groter geword as sy hoop op die Here! Moeilikheid en gebrokenheid wat sy hoop op God wou kanselleer.
Vriende, is ons nie soms ook geneig om nou te wees daar waar Jeremia was nie? Miskien veral gedurende dié jaar met sy uitmergelende uitdagings. Met alles wat bloei, en laat bloei – die ekonomie, Covid-19, rasseverhoudings, fisiese en-geestelike gesondheidskrisisse, familieverhoudings, misdaad en geweld . . . ? Dit alles het ons vanjaar baie persoonlik, diep en seer kom aanraak, meer as ooit tevore. Roep, of huil jy dalk ook uit in ’n klaaglied, ’n weeklaag, ’n desperate versugting soos Jeremia wat gedink het hy het aan die einde van sy hoop met die Here gekom.
Word stil met hierdie vraag, oordink dit baie eerlik en deurbid dit vandag na aanleiding van jou eie ervarings. Ervaar jy dalk ook dat jy by die einde van jou hoop in God gekom het? Dat jy nie meer ’n lig in die tonnel sien nie? Praat vandag met God daaroor. Ons kyk môre na die ontknoping van Jeremia se krisis en hoe sy hoopkanaal weer oopgegaan het.
Gebed
Here, U ken my hart, U ken my onsekerheid. U weet ook hoe my omstandighede my soms daartoe bring om te sê: “ek het gedink dit is klaar met my en my hoop op die Here”
Dankie dat U dit, en my, verstaan. Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 28 Oktober 2020
Johannes 8:12. Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Matteus 5:16. “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Ons het die afgelope maand gevra dat mense kerse by die kerk, of die kerkkantoor kom afhaal, as jy nog nie een het nie kom kry gerus een. Ons het ook enkele lidmate gebel en gevra of hulle nie die kerse in hulle onmiddellike woonarea aan ander lidmate sal uitdeel nie. Ons vertrou dat hierdie kerse sal brand moontlik by ’n spesiale ete, of tydens iemand se stiltetyd en ook as herinnering van die lig van die Here wat in elkeen van ons se lewe skyn en dat hy ook lig in die donker bring.
Dit het my laat dink aan Thomas, wat reeds 8 jaar oud was voor sy ouers hom skool toe gestuur het, hy het maar stadig begin en hulle blykbnaar eers kans gesien om hom op 8-jarige ouderdom skool toe te stuur. En toe daag hy skaars drie maande later in trane by die huis op. Die onderwyser het die ouers laat weet dat die knapie verward en deurmekaar is, en hy stel toe voor dat hy nog eers ’n bietjie by die huis moet bly.
Dit het afgespeel in die tyd voordat skool verpligtend was vanaf ses-jarige ouderdom en Thomas het gesê: Gelukkig het ek toe uitgevind watter goeie ding ’n ma is, want sy het my teruggeneem en vir die onderwyser gesê: Die onderwyser weet nie waarvan sy praat nie. Sy was die mees entoesiastiese kampvegter wat ’n seun of ’n kind nog ooit kon gehad het en hy het net daar en dan besluit dat hy waardig sal wees en sal bewys dat sy ma se vertroue in hom nie ongegrond was nie.
Omtrent 40 jaar later, het hierdie sogenaamde verwarde Thomas die elektriese gloeilamp ontdek. Thomas Alfa Edison aan wie jy gerus vanaand kan dink wanneer jy jou huis se ligte aanskakel.
Van Leonardo da Vinci en Hans Christian Andersen is in hul jeug gesê dat hulle aan vertraagde ontwikkeling lei. Isaac Newton is uitgekruid as ’n stommerik en Albert Einstein se skoolhoof het blykbaar gewaarsku en gesê dat die seun nooit ’n sukses van enige iets sal maak nie.
God skryf grootmense en kinders nie so maklik af, as wat ons dit dikwels doen nie. Dink maar aan Moses, toe die Here hom geroep het en hy gekla het in Eksodus 4:11: “Ag Here ek praat swaar en my tong sukkel”. Asook Jeremia in Jeremia 1:6 wie se verweer was: “Ag Here ek kan nie goed praat nie, ek is te jonk”. En wat van die voortvarende Petrus wat die Here so skadelik verloon het, of selfs Paulus wat voor sy bekering soos ’n besetene die Christene vervolg het. Tog kon God hul almal gebruik om die boodskap van lig in die donker wêreld te versprei. So kan die Here ook vir ons gebruik om ondanks al ons tekortkominge diensbaar te wees, ‘n woord van bemoediging te spreek, of ’n hand op iemand se skouer te plaas.
In sy sterwens-oomblik het Guten uitgeroep: “meer liegt” dit is wat die mensdom vandag nodig het. Nie net Edison se lig nie, maar Christus se lig. Die lig waarna in Johannes 8 verwys word: “Ek is die lig van die wêreld. Laat julle lig so voor die mense skyn, sodat hulle jul goeie werke kan sien, en die Vader wat in die hemel is verheerlik.”
Kom ons steek die kerse in ons huise aan, om ons te herinner dat God lewe in die wêreld bring. En dat die gestalte van sy lig in elkeen van ons se lewens sigbaar moet wees, sodat ons in die klein kring waarin ons leef ook sy Lig kan wees.
Gebed
Here, dankie dat U die lig vir die wêreld is en dankie dat ons ligte kan wees wat soos ’n stad op die berg laat skyn en nie onder ’n maatbeker weggesteek word nie. Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 27 Oktober 2020
Rigters 16:20. Toe sy sê: “Die Filistyne is hier, Simson!” het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk. Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie.”
Sy was ’n uitgeslape vrou, dié meisie uit die vreemde volk op wie die kragman, die sterke, halsoorkop verlief geraak het. Sê my tog, waarin lê jou krag het sy geneul. Gretig om die omkoopgeld van sy vyande te bekom, totdat hy so ongeduldig geraak het dat hy kon sterf. Sy was aantreklik, mooi en verleidelik. En toe vertel hy haar sy lewensgeheim. Sy hare is nog nooit geskeer nie, omdat hy sedert sy geboorte aan Christus gewy is (Rigters 16) maar as sy hare afgeskeer word, sal sy krag verdwyn en sal hy magteloos soos ’n gewone mens wees.
Kort daarna waai sy sewe lokke ook toe, en dan volg die woorde waarmee ons begin het. “Hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie.” (Vers 20)
Totius het jare gelede gewaarsku, en hy het dit in ’n ander konteks geskryf, maar die beginsel bly nog waar. Sy waarskuwing was dat soos Simson sy krag verloor het, met die afsny van sy haarlokke, sal die Christelike Afrikaner se lokke ook afgesny word, en op daardie dag wanneer die vyand sê die Fillistyne is hier, sal die volk met ontnugtering uitvind dat hulle kragteloos is.
In ons konteks praat ons nie meer van die Christelike Afrikaners nie. Die konteks is anders, maar die beginsel bly vir die hele mensdom dieselfde. Is hierdie profetiese woorde nie so gevaarlik dat dit in ons lewens ook waar kan word nie.
Die lewensgeheim van Simson se krag, het in nie in sy sewe haarlokke gelê nie, maar in sy gehoorsaamheid rakende wat die Here van hom verwag en gevra het. Sy hare was maar net die simbool daarvan. Is ons as gelowiges paraat, dinamies, aktueel, prakties en kreatief, of bestaan ons geloofslewe net uit gewoonte godsdiens? Soos die gemeente in Sardis vir wie die Here in Openbaring 3:2 gesê het: “Ek weet dat julle die naam het, en tog is julle dood”.
Of aan die anderkant, het ons ’n oppervlakkige beoefening van ons Godsdiens wat op emosies berus. In die verband skryf iemand: “Rome brand en die Christene is in skuilings vol emosionele bedwelling, so word hul godsdiens ’n verlamende opium”. Wêreldontvlugting, terwyl die land en die dorp en ons samelewing brand. Is ons gesinslewe, die opvoeding van ons kinders en om reg te leef vir ons ’n prioriteit? Ken ons nog ware vreugde in dit wat ons doen, of het ons lui en gemaksigtig geword?
Kan ons nog werklik opoffer vir die Here, ons kruis dra? En wat het van samehorigheid geword, of het eie belange vir ons belangriker as naastediens geword? Om ander se hand te vat. Om uit te reik na hulle wat in die samelewing uitgereik word.
Weet ons nog wat lojaliteit of getrouheid beteken? Of is ons baie beter bekend met opportunisme? Ons moet nooit soos Simson ons vyand onderskat nie. Dit kom in ’n gedaante wat ons nie verwag nie, en nie herken nie. Kom ons bewaar die lewensgeheime van ’n lewende Christendom voor ons soos Simpson swak word, en ons krag verdwyn en ons agterkom dat die Here ons verlaat het soos vers 20 sê.
Gebed
Here ons loof U vir die krag van U Heilige Gees in ons lewe. Gee dat ons elkeen sal uitmaak op watter manier ons in gehoorsaamheid in U moet lewe.
Gedagte vir die dag | Maandag 26 Oktober 2020
Hebreërs 11:4. “Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ’n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.”
Iemand het onlangs vir my gesê: “As die Vader my vanaand kom haal, sal my eerste woorde aan Hom wees. Dankie Here vir 53 wonderlike jare wat U aan my gegee het.” Ons kan waarskynlik almal ’n vriend, familielid of ’n onderwyser aanhaal wat dinge gesê het wat ’n mens vir altyd sal by bly.
Ek gaan die ding doen het Ester altyd gesê. As ek omkom, moet ek maar omkom het ’n kennis van my gereeld kwyt geraak en ’n ander een het weer dikwels gesê dat ’n mens met net een mes en een vurk op een ’n slag ka eet, op een bed kan slaap en met een motor kan ry – waarom sal ek dan jaag na ’n oorvloed van dinge wat ek tog eendag gaan verloor. Dit gee perspektief. Iemand in ons gemeente het teenoor my gesê dat omdat hy swaar groot geword het, en ten spyte van die feit dat hy nou geld het, hy weet dat indien die Here alles nou van hom weg neem hy en sy vrou weer met min sal kan klaar kom en ook daardie pad sal kan loop.
‘n Skrywer waarvoor ek baie lief is, Paulo Coelho, het toe hulle vir hom vra wat moet hulle eendag op sy grafsteen moet skryf, gesê: “He died while he was still alive”. Hy het gesterf terwyl hy nog gelewe het.
En so kan mens aangaan met baie “post-mortens”. ’n Groot onderwysman het gesê: “Grootheid lê in nederigheid”. Mens kan gerus onthou om God te dank vir elke dag. Om onbevrees te staan by jou oortuigings. Om daagliks voluit te lewe, om jou aardse besittings nie te oorskat nie, om nederig te bly en so kan ek aangaan. In Hebreërs 11:4 lees ons dat vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ’n opregte man is. Deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.
Dit laat mens dink aan Henry Wadsworth Longfellow se woorde: “Lives of great men, all remind us that we cannot make our lives sublime, and departing, leave behind us, footprints on the sands of time”. Ons los spore in die sand van die tyd.
Nadat Jesus sy laaste asem uitgeblaas het lees ons in Lukas 23:7: “Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: Hierdie man, was werklik onskuldig”. En Markus het gehoor dat die offisier ook gesê het: “Hierdie man was werklik die Seun van God”, Markus 15:39. As dit maar net een dag van my en jou gesê kan word, dan dink ek was dit genoeg.
Gebed
Here elkeen van ons trap spore in die sand. Gee vir ons die genade om in die regte koers, en in die regte rigting met waardigheid te loop, sodat hierdie spore nageloop kan word. Dankie vir hulle wat voor ons uitgeloop het, in wie se spore ons kan naloop. Amen.