GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Dinsdag 24 November 2020

As deel van die wedloop van geloof, wil ek vanoggend die bekende gedeelte in Hebreërs 11:1 lees: “Wat geloof is. Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.”

Twee gemeenskaplike faktore in die lewens van die sportvroue Penny Heyns en Florence Chadwick is dat albei rekordhouers aangeteken het en dat beide as uitgesproke christene onthou sal word.

Tydens die era van die 1994-verkiesing en die veranderinge in die land het Penny Heyns ook bekendheid verwerf. Die Olimpiese Spele was in 1996 in Atlanta, Amerika.  Ek het onlangs op ’n artikel afgekom waarin Penny vertel wat die die belangrikheid van haar deelname aan die Spele, maar ook God in haar lewe is. Na aanleiding van die Olimpiese Spele en die prestasie wat sy behaal het, het sy gesê: “Daar was sterk kompetisie en ek het hard geswem veral die laaste vier hale en dit het ek aan Jesus gewy. Ek het nie gedink dat ek gewen het nie, maar toe ek op kyk het ek gesien dat ek tog wel die wêreldrekord verbeter het.”

Nog lank voor die tyd, byna 70 jaar gelede, het die Amerikaanse swemster Florence Chadwick nadat sy reeds deur die Britse kanaal geswem het, op 4 Julie 1952 ook die kanaal tussen Catalina eiland aan die Kaliforniese kus aangedurf. Sy sou die eerste vrou wees wat dit aangedurf het,  maar slegs ’n myl van die Kaliforniese kus af moes sy per boot, in die digte mis uit die yskoue water gesleep word. Sy was net te moeg om voort te gaan. Aan ’n koerantman het sy daarna gesê dat sy nie verskonings soek nie, maar dat sy seker is indien sy net die land kon síén, sy dit wel sou bereik het.  Haar pa saam met wie sy voor elke wedstryd gebid het, is die vorige jaar oorlede. Tog het sy God gedank vir sy bystand al kon sy nie die land haal nie. Twee maande later het sy weer probeer en ondanks die koue water en gevaarlike haaie wat verdryf moes word asook die digte mis, het sy die mans se rekord met twee ure oortref. Sy skryf later dat sy onthou het wat Jesus vir een van sy dissipels gesê het, in Johannes 20:29: “Glo jy nou omdat jy My kan sien? Gelukkig is die wat nié gesien het nie, en tog glo.

Dit is wat geloof is – ware geloof. Die gedeelte wat ons in die begin gelees het, om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop en om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Geloof is ook ’n wedloop.  Ek raak so bewus van baie mense wat nie die wedloop volhou nie.

Glo jy ook so? Al sien jy soms nie die land nie? Al sien jy nie die lint nie? Dit is die boodskap wat Penny Heyns en Florence Chadwick vir ons wil stuur. Daar van die kus in Kalifornië af, en dan ook net hier na die oorgang in 1994/1996 vanuit Atlanta.

Glo en hou aan, al sien jy nie die land nie. Beweeg met oorgawe elke oomblik, ook na die einde van die jaar toe, vorentoe.

Gebed:

Here, gee vir ons die genade vir wanneer ons wil oorgee, wanneer ons wil moed opgee, of as ons nie meer kans sien nie. Gee vir ons die genade om aan te hou, al sien ons nie die land nie. Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 23 November 2020

2 Petrus 1:5-7: “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.”

Mense hou nogal daarvan om mekaar te etiketeer soos byvoorbeeld hy is liberaal, of konserwatief, of sy is sentimenteel of vrydenkend. Dan kom daar nog etikette soos hy is ’n veraaier, ’n draadsitter, of selfs ’n rassis ook by. Ons plaas mekaar dikwels in sulke blokkies of hokkies, asof ’n mens net een van twee dinge kan wees dan kategoriseer ’n mens ander daarvolgens.  Hoe wonderlik al hierdie persoonlikheidontledings ookal mag wees, word ’n mens dikwels teen die agtergrond van bepaalde omstandighede geëvalueer soos bv. ’n kollega wat nou as ’n administrateur gekategoriseer word, maar nie as iemand met leiereienskappe nie. En tog is is daar min mense wat nie in die regte omstandighede sommer iets van alles kan wees nie.

Afhangend van die omstandighede waarin jy jouself bevind, bevind jy jouself ook terselfdertyd in ’n bepaalde rol. Ek en my kollegas het al dikwels gepraat oor die verskille tussen gemeentes waar ons voorheen was teenoor Stellenberg waar ons nou is. Marius Breytenbach was bv. ’n predikant in Kleinmond, en nou is hy hier in ons gemeente die twee gemeentes verskil en verg verskillende vaardighede. René Potgieter wat voorheen in Beaufort-Wes-gemeente was moes aanpas by die nuwe bediening hier in die stad.

Tydens ’n premarius verkiesing vir ’n manskoshuis is die vraag gevra: “Indien jy nou verkies sou word, waaraan sal jy die grootste prioriteit verleen – jou werk as leier, of jou studies, of jou vriendin met wie jy al ’n geruime tyd in ’n verhouding is, of jou sport? Nou wat sal jy kies? Wat is jou prioriteit? Die kandidaat het geantwoord: “Ek gaan nie kies tussen primariusskap of my studies, of my sport, of my vriendin nie. Ek kies my verantwoordelikheid as primarius en my studies, en my vriendin en my sport en ook al die ander dinge wat vir my belangrik is. Die belangrike hier is die balans wat hy probeer verduidelik het, en dat al die balle in die lug gehou moet word. Braam Hannekom, een van my ander kollegas het ’n paar jaar gelede ’n boek geskryf wat handel oor balans in die lewe. Die boek raak verskillende aspekte van balans in ’n besige man se lewe aan.

Die lewe is baie meer ingewikkeld as om net tussen een of die ander saak te kies. Natuurlik is daar belangrike keuses wat gemaak moet maak, maar om net een keuse te maak, of om te sê dat net een ding nou vir ’n mens belangrik is, dit skep nie balans nie en dit is is nie genoeg nie. Dis daarom nie genoeg om net te kan sê: “ek is nou ’n gelowige nie”, en dan val alles in plek nie. Ek kan ook nie myself op die skouer klop en sê nee alles is nou reg nie.

In die teksgedeelte maan Paulus dat alles in die stryd gewerp moet word om geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. Wat Paulus sê is dat ’n mens ’n Christen met balans moet wees. Jy slaan nie net een rigting in en speel net op een snaar nie. Jy speel die kitaar met al die snare, en dan kom die volheid van die klank uit. Daar is ’n baie mooi lied wat gaan oor, “Here maak my ’n instrument” en dan gaan die lied verder “speel my as ’n instrument”, en later “speel my as ’n simfonie”, dat die volheid van die balans van die persoon eindelik gestalte kan kry.

Daarom kan ons dus sê: “Ek het Christus lief, en ek het ander mense ook lief en so kan ons aangaan oor die gestalte van ons liefde wat op verskillende plekke in ons lewe realiseer, of gestalte vind. Kom ons haal ons oogklappe af, en kyk God se hele wêreld in die gesig.

Gebed:

Here, wil U vir ons balans gee, sodat die volheid van die gestalte wat U in ons lewe het, gespeel kan word?  Kan U ons as instrumente stem?

Amen

Gedagte vir die dag | Sondag 22 November 2020

Spreuke 6:20-22: My seun, hou vas aan wat jou vader jou voorskryf; wat jou moeder jou leer, moet jy nie in die wind slaan nie. Dit moet jou altyd bybly, daarmee moet jy saamleef; dit sal vir jou leiding gee in wat jy doen, dit sal jou beskerm as jy slaap en jou lei sodra jy wakker word.

Ons het die afgelope paar Sondae ’n preekreeks oor verskillende Bybelkarakters wat transformasie, of verandering beleef het en ’n besondere pad met die Here geloop het, aangebied.

Verlede Sondag het my kollega, René, by Maria Magdalena stilgestaan en ek het in die kerk aan my ma wat altyd in November verjaar het, gedink.  Sy is reeds ’n hele paar jaar gelede oorlede en dit het my oor vroue en die rol wat vroue speel, laat dink. Die Russiese leier Joseph Stalin het destyds na die dood van sy vrou gesê: “Sy was die een mens wat my klipsteen hart kon sag maak, maar nou is sy dood en saam met haar het al my gevoelens vir die mensdom gesterf.”  Dit is hartverskeurend dat hy so reageer het. Hy het van sy eerste vrou, Katrina Svanidje, met wie hy net ’n jaar getroud was, gepraat. Sy was blykbaar ’n liefdevolle en ’n baie diep gelowige vrou gewees.

’n Mens wonder of die geskiedenis ooit anders sou verloop het as hy sy vrou nie so jonk verloor het nie? Miskien sou hulle saans in die bed gelê het en hy sou vir haar vertel het wat hy gedoen het en wat hy beplan. Gewoonlik praat ’n mens met jou vrou oor sulke goed. ’n Mens dink aan die honderdduisende mense, veral Russe,  wat onder kommunisme gesterf het en kan eintlik net spekuleer wat sou gebeur het indien sy vrou langer gelewe het.

Elkeen van ons kan vertel van die invloed van ouers, maar dan in die besonder van ’n ma. Ek sien dikwels wanneer mense kerk toe kom, die rol van ’n ma, en hoe hulle hul kinders hanteer en word dan opnuut weer bewus van ’n vrou se rol in die huis en die invloed wat hulle spesifiek op kinders het. In krisistye in die geskiedenis was dit telkens vroue wat ongelooflike geestelike en daadkrag openbaar het. Daar is honderde voorbeelde om op te noem. Dit is vrouens wat telkens, toe mans gehuiwer het, wiele aan die rol gesit het. Dit is die geesteskrag van die vrou wat haar in staat stel om te veg vir dit wat vir haar dierbaar is, en om uit te hou tot die bitter einde.

Maria, Jesus se ma was een van die laastes wat by die kruis op die heuwel gestaan het. Ons is almal bewus van die besondere rol, eintlik die inspraak wat sy vir die Katolieke gelowiges het. Dit is nie deel van ons teologie nie, maar in ’n groot deel van die Christelike geloofstradisie speel Maria ’n besondere rol. En voor haar lees ons van baie ander vroue, Deborah, Rut en Ester wat in die Bybelse tyd die geskiedenis van die volk van die Here bepaal het. Meeste van ons ken die gedeelte in Spreuke 31:10 & 17: “’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie.”

Met die onrus wat in Brackenfell hier naby ons gebeur het en met mense wat mekaar opstook, besef ons opnuut dat ons die geesteskrag en invloed van gelowige vroue broodnodig het. Hulle wat hul kinders kan kalmeer, en ’n ander perspektief kan gee. Abraham Lincoln, miskien die grootste Amerikaanse leier van alle tye, het vertel dat sy ma se gebede hom deur sy hele lewe agtervolg het. Dit is ook bekend dat die kerkvader Augistinus se lewe eers op 32 jarige ouderdom op koers gekom het, ook danksy sy ma se aanhoudende gebede.

Miskien is jy ’n ma met kinders, of ’n vrou sonder kinders, of dalk dink jy vandag aan die besondere rol wat jou ma in jou eie lewe gespeel het. ’n Ma wat op haar knieë was, jou aan haar bors gevoed het, ’n baba kos gegee het, wat jou in die aand toegemaak het en vertroos het. Iemand wat vir jou gebid het wanneer jy nie eers daarvan geweet het nie. Wie se trane dalk oor jou gerol het. Kom ons sê vandag spesifiek dankie vir ’n ma wat oorlede is en waarvoor ons die Here kan dank. As jy self ’n ma is, dankie vir die rol wat jy speel. Maar kom ons bid ook in die besonder vir gelowige ma’s en meer spesifiek vir ma’s met klein kindertjies in die uitdagende tye. Veral vir ma’s wat tuis is en baie balle in die lug moet hou. Kom ons bid vir ma’s wat nie ondersteuning van hul mans kry nie, en ons loof die Here vir die dinamiese daadkrag, opofferende diens en menslike warmte wat soveel vroue vandag vir gesinne en vir families gee.

Gebed:

Here ons loof U vir die rol wat vrouens speel. Dankie vir die gebede van gelowige vrouens. Baie dankie vir die wete, dat U, U hand in besonder hou oor jong, werkende ma’s. Ons bid vir wysheid, ons bid vir krag en perspektief. Ons bid vir ondersteuning van hul gades. Ons bid ook vir enkelma’s wat swaar kry. Dankie vir elke gelowige vroue. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 21 November 2020

3 Johannes 1-3.  “Van die oudste.  Aan Gaius, my vriend, wat ek waarlik liefhet. Liewe Gaius, ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan. Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel, hoe jy in die waarheid lewe.”

Hierdie teksvers staan blykbaar teen ’n muur van ’n kerk in Suid-Korea. Mense wat die kerk ingaan, lees dan die volgende woorde: Ek hoop dat jy gesond is, en dat dit in alle opsigte met jou so goed gaan, soos wat dit geestelik met jou gaan, m.a.w. dat dit met jou op emosionele en materiële gebied so goed met jou gaan soos dit geestelik met jou gaan. Die woorde “goed gaan” word in een Engelse Bybel vertaal met die woord “prosper” of ’n mens kan sê: om te floreer, en dan is dit die belofte wat gelowiges ontvang wanneer hulle die kerk binne gaan, dat dit met hulle land, hulself, hul godsdiens en sommer die hele pakkie sal goedgaan.

Dien God en jy floreer – kan mos ook ’n gevaarlike vorm van teologie wees.  Daar is mense wat die teologie aanhang dat as jy die Here ken, dan gaan dit net goed met jou. Jy floreer finansieel en jou hele gesin en familie beleef net voorspoed.  Maar dit is ’n baie gevaarlike teologie.

Dis bemoedigend om die positiewe nuus van die Christendom wat uitbrei, veral in Afrika, te hoor.  In Afrika groei die kerk eintlik baie vinniger as in die res van die wêreld. Ons weet van die kwynende Christendom in veral Europa. Dit is bitter belangrik dat ons nie sal vergeet dat die timmerman van Nasaret arm was nie.  Hy het nie materiële voorspoed gehad nie. Hy het, in sy eie woorde, nie eers ’n plek gehad om sy hoof neer te lê nie. En toe hulle na sy kruisiging sy liggaam moes weglê, was dit nie ’n verskriklike duur graf nie.  Dit was in ’n geleende graf.

’n Toegewyde, Christelike lewe is nie ’n waarborg vir rykdom of welvaart nie. Al mag ons saam met Dawid ondervind, “ek kom niks kort nie”, Psalm 23:1 en 5. “Ek word oorlaai met hartlikheid.” Ons weet dat God se koninkryk nie in die eerste plek nie van hierdie wêreld is nie.  Rosettie maak die stelling die ergste oomblik vir iemand wat nie in God glo nie, dié keer is wanneer hy werklik dankbaar is,  maar niemand het om daarvoor te dank nie. Gelukkig kan jy as gelowige vir God dankie sê. Hoe klein of groot, jou welvaart ookal is, want vir jou het dit juis met ’n ander perspektief te doen.

Ek het so tyd gelede my huishulp, Mona tot by Phisantekraal geneem. Sy bly daar in ’n klein huisie op ‘n klein erfie, maar sy is so ongelooflik dankbaar vir hierdie klein plekkie in Phisantekraal en getuig dat die Here haar daagliks seën.

Die Here steek sy helpende hand uit na elke arme en werklose, maar ook na elkeen wat meer het. Die belofte is vir elkeen van ons, ook vir my en jou, Spreuke 19:17: “Wie hom oor ’n arm mens ontferm, gee ’n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.”

Mag ons ook in hierdie tiendemaand tyd dankbaar wees vir wat die Here vir ons gee.  Ons deel spesiaal kerse in die gemeente uit om ons aan ons seëninge en oorvloed te herrinner.  Indien jy nog nie ’n kersie ontvang het nie, is jy welkom om een te kom afhaal by die kerk, of die kantoor, of jy kan een van die dominees kontak sodat ons vir jou een by jou huis kan afgee.

Mag jy floreer en nie vergeet om dankie te sê nie. Vers 2; “Geliefde, ek hoop dat jy gesond is, en dat dit in alle opsigte so goed met jou sal gaan, soos wat dit geestelik met jou gaan”.

Gebed:

Kindergebed: Liewe Vader, ek sê dankie vir die wêreld rondom my, want die hemel en die aarde het ons alles by U gekry. Liewe Vader, ek sê dankie vir al die blomme en diere rondom my, hulle het hul prag van U af gekry. Liewe Vader, ek se dankie vir al die mense rondom my, al my maaitjies en familie wat in liefde by my bly. Liewe Vader, ek sê dankie dat ek soveel van U af kry, maar die grootste is u liefde, wat ook in my hart kom bly. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 20 November 2020

Dit is kwaliteit wat tel.

Prediker 9:10. Watter werk daar ookal vir jou is om te doen, doen dit so goed as wat jy kan, want in die dood is daar nie meer kans vir werk, of dink, of vir begrip, of insig nie. En dit is waarheen jy ook heen oppad is.

’n Mens se hart breek as jy sien hoe sommige dienste verval en hoe sekere munisipale kantore nie in staat is om hulle werk te doen nie.

Ek het onlangs op ’n kaartjie afgekom waarop ’n voedselmaatskappy hulle onderneming se visie of missie in keurige Afrikaans saamgevat het.  Die kaartjie is ongeveer 20 jaar gelede gedruk.  Hulle sê dan: “Ons groep is trots verbind tot die aanwending van kwaliteit mense en bates. Hoë standaarde vir huishoudings, higiëne en instandhouding en die produksie van gehalte produkte”. Verder sê hulle “as ’n Christelike gefundeerde organisasie, handel ons binne Christelike norme en verdraagsaamheid. Ons dring aan op eerlikheid en hoë integriteit van alle werknemers binne die groep, kliënte en verskaffers. Die groep se gedragskode word weerspieël deur die bestuur en al sy werkers. Dit spreek uit hulle voorkoms, hul vaardigheid, bekwaamheid en respek wat afgedwing word teen onberispelike optrede. ’n Mens voel lus om te sê: “Bravo, waar sal ’n mens dit nog kry?”

Toe ek weer daaroor lees, het ek by myself gedink, dit is nou Christen-wees in die praktyk.  Christen-wees op die markplein, of die preekstoel? Geen wonder dat die onderneming fenominale groei beleef het nie. Gelukkig is daar vandag nog sulkes.  Daar is nie net in die sake omgewing nie, maar in die onderwys, op mediese terreine en selfs in die kerkomgewing sulke voorbeelde. Besighede waar mense eenvoudige, toegewyde, eerlike en opregte diens lewer.

Dit is kosbaar wanneer ’n mens dit hoor en sien, veral in ons tyd, waar ons daagliks met korrupsie en gepaardgaande bedrog gekontronteer word. Dis ’n lang lys en ’n mens wil dit nie eers probeer opnoem nie. Jesus het toe die Jode teen hom opgetrek het oor ’n goeie daad wat Hy verrig het in Johannes 5:17 verklaar: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”

Daarom is werk nie net noodsaaklik om aan die lewe te bly nie, maar dit is ’n Goddelike opdrag. Ek dink ons almal ken die belangrike teksvers in Genesis 1:28: (die sogenaamde Skeppingsopdrag aan die mens): “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”  Ek onthou nog toe ek ’n student was en in Eendrag gewoon het, het oom Bun Booyens, ons inwonende hoof, hierdie teksvers op ons harte geskryf.

Wees vrugbaar, bewoon en bewerk die aarde. Alhoewel die Here toe al sy skeppingwerk voltooi het, het Hy dit nie alles toe voltooi nie. Ek en jy, die mens, moet God se werk voortsit. Die Christen sal daarom altyd ’n gehalte diens wil lewer. Dit beteken dat ons as gelowiges nie kan lyf wegsteek nie. Ons mag nie steel, of dislojaal sal wees nie,  want om te werk is om God se werk, sy skeppingsopdrag voort te sit.   Prediker 9: “watter werk daar ookal vir jou is, doen dit so goed jy kan. Want na die dood is daar nie meer kans vir werk nie, of dink, of vir begrip en insig nie. En dit is waarheen almal van ons oppad is.”

Gebed

Wees Christen in jou Heer versterk, want Hy wil altyd in jou werk, om kwaad en sonde te weerstrewe. Here gee dat ons ons taak met vaste hand sal verrig, en dat ons ons woord altyd gestand sal doen, dat ons daarby rein en matig sal lewe. Here, help ons om geduld daarby te hê.

Amen

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 19 November 2020

1 Korinthiërs 1:22-23:   “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin,”

Johannes 3:16: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het, dat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe mag hê.

Die afgelope week het daar weer ’n boek verskyn wat godsdiens bevraagteken. Dit kom op die volgende neer: die feit dat mense in God glo, is eintik maar ’n versinning van hul verbeelding.

’n Hele tyd gelede is ’n boek deur Erich von Danicken, geskryf.  Dit was ’n opspraakwekkende boek waarin hy onder andere sy eie vertolking oor die Hemelvaart van Jesus weergegee het. Hy beskryf Jesus as ’n tipe “ruimtevaarder”.  Volgens hom het Jesus met ’n onsigbare ruimteskip as ’n supermens vanaf ’n ander planeet op die aarde geland (dis mos nou in die vorm van die maagdelike geboorte by die maagd Maria).

Volgens Danicken is die kind na Hy sy aardse opdrag voltooi het  weer terug na die planeet waarvandaan Hy gekom het.  Hy is as’t ware deur die beheersentrum terug geroep. Voor die oë van Sy verbaasde vriende, het Hy met sy geheimsinnige ruimtetuig die wêreld verlaat.

Hierdie boek met sy eietydse weergawe van Jesus se Hemelvaart, kan aansluit by Sy koms na die aarde, sy kruisiging, sy opstanding en die feit dat Hy verheeliking van die liggaam geniet het. ’n Mens moet die groter prentjie daarvan sien, en dit was destyds ’n blitsverkoper.

Die Evangelie gee baie min plek aan die Hemelvaart. Twee van hulle vermeld dit nie eers nie, en tog maak ons geloofsbeleidenis spesifiek melding dat Jesus opgevaar het na die hemel.  Ons moet onthou dit geskied binne die drie vlakke van die wêreldbeeld waarin die opvaar na die hemel geskied het asook die beeld waarin hierdie  mense geleef het. Dalk skep die woord “hemel”,  vir baie mense ’n probleem.

Calvyn het dit onder meer saamgevat in sy stelling deur te sê dat dit reg is om van die hemel te praat, dit is waar God is. En die gevaar is nou dat ons daaraan dink as ’n toewysing van ’n sekere plek of ligging vir God.  Ek wil nie in detail daarop ingaan oor hoe ons eie manier van dink oor verskillende aspekte verskil van die mense in Jesus se tyd nie.

Ons weet dat God alomteenwoordig is. Een van die bekendste ruimtelike wetenskaplikes dr. Wernher von Braun, ’n diepgelowige Christen het by geleentheid  gesê:  “Dit hinder mense dat ons nie die bestaan van die Here wetenskaplik kan bewys nie, maar is dit nodig om ‘n kers op te steek om die son raak te sien?”

Daarom sê Jesus se hemelvaart, maar ook al die werk wat hy gedoen het, dat Jesus wel hier is.  Dat Hy God was, en meer spesifiek oor sy hemelvaart, dat Hy vertrek het na sy gewone aardse verblyf verby was, maar dat Hy in werklikheid ook nooit hier weggegaan het nie.

Hy bly steeds druk besig om vir ons in te tree by die Vader. Hy hou toesig oor sy kerk en oor sy liggaam en lei vir my en jou deur Sy Heilige Gees. Hy bly by ons en maak vir ons ruimte.  En nou kan ons op ’n ander manier gestel, “ruimtewandelaars” wees, soos Dawid eeue gelede verklaar het in Psalm 119:44: “Dan wil ek U wet altyd deur onderhou, en in U ruimte wandel”. Die ruimte van God, is ’n ondefinieërbare ruimte. Dit vra dat jy deur die Gees gebore word.

1 Korinthiërs 1 sê ondermeer: “Vir die Jode is dit ’n aanstoot, hulle het ’n probleem daarmee en wou in opstand kom daarteen. Vir die ander is dit onsin, maar vir my en jou wat deur God geroep is, is  Christus die krag van God, en die wysheid van God. Dit is alles net groot genade en ’n werking van bo. As ons geseënd is om dit te mag glo en daaruit te mag leef.

Gebed:

Die Seun het nie kom oordeel nie.  Hy kom spreek ons vry. Sy koms het oor die wêreld ’n nuwe dag laat breek. Maar hulle wat nie glo nie, bly selfveroordelend staan. Dankie vir U genade Here, dat ons U lig mag sien. U lig mag beleef, en dat ons ook die lig in die wêreld mag wees. Want U het het die wêreld so lief gehad dat U, U enigste Seun gestuur het. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 18 November 2020

Agtergrond, die Verlossing by Mispa.

1 Samual 7:12:  Toe het Samuel ‘n klip geneem en dit opgerig tussen Mispa en Sen, en dit Ebenhaéser genoem en gesê: Tot hiertoe het die Here ons gehelp. (Ebenhaéser: Beteken klip en help, met ander woorde die Here het ons gehelp).

Op ’n vraag aan iemand oor hoe dit met hom gaan, het hy geantwoord: “Baie goed dankie, maar oor my probleme gaan ek niks sê nie, omdat ek al agter gekom het dat mense nie van jou hou as jy hulle daarvan vertel nie,” met ander woorde as jy heeltyd oor jou probleme praat nie.  Dit was ’n terloopse antwoord, maar dit het tog in my gedagtes vasgesteek.   Ons ken almal sulke mense – jy gee hulle net so ’n klein kansie, en dan begin hulle praat oor wat hulle doen en al die probleme wat hulle het.

Natuurlik moet ons almal soms na dinge wat in die verlede gebeur het terugkyk, en hou ons nie noodwendig altyd van alles van wat ons sien nie.  Gelukkig kan ons ook terugkyk na gebeure op ons lewenspad wat ons tot dankbaarheid stem, wat ons laat glimlag en waardering by ons opwek.  Dalk sal ons eendag na 2020 terugkyk en dink, waar is daardie dae?

Ek onthou nog hoe Cobus Otto, my buurman, tydens die inperkingstyd, die reëling getref het dat almal wat in die straat woon soggens 09:00 buitentoe tot op ons grasperke uit gaan.   Jy het nie eers jou voet in die straat gesteek nie, en tog kon ons saam gesels en kuier, en het selfs nuwe bure ontmoet.

So kan ons terugkyk op ’n baie interessante jaar – vir sommige veelysend en uitdagend.  Maar wat van die pad vorentoe?  Ek het sommer weer gedink aan iets wat ek jare gelede gelees het oor die afskeidswoorde van President Paul Kruger, vanuit sy huis in Clarence, Switserland,  waar hy oorlede is.  Dis al meer as ’n 100 jaar gelede.  Wat ’n mens ookal van die ou leier, Paul Kruger mag dink, een ding moet ons verseker weet, dit was wyse raad dat ons op die goeie van die verlede moet fokus, dat ons dit moet neem en ons toekoms daarop moet bou.

Daar is ongelukkig so baie doemprofete en swartgalliges wat ons gedurig wil laat terugkyk en ons aandag wil vestig op die wrakke en slaggate agter ons.  Wanneer hulle in die tru-spieëltjie kyk, sien hulle net alles wat sleg en treurig is, soos hoe swak dienslewering byvoorbeeld is.   Dit is ook nodig dat ons almal gereeld ons tru-spieëltjies skoonmaak en die mooi tonele om ons raak sien.  Baie motors het ’n tru-spieëltjie wat jy kan stel wanneer iemand agter jou ry, sodat die motor se ligte nie op jou skyn nie.  Ons moet die truspieëltjie van ons lewens ook soms  oorstel en regstel.

Dit is wat Samual gedoen het, na sy volk se oorwinning waarvan ons in 1 Samuel 17 gelees het.  Samuel het ’n klip geneem, dit regop gesit, en die plek Ebenhaéser genoem want, 1 Samual 7:12 sê: Tot nou toe het die Here ons gehelp.   Dit is so verskriklik maklik om in negatiwiteit en in selfbejammering te verval, dit is so kosbaar as ’n mens partykeer met mense praat en hulle jou vertel hoe hulle deur hierdie tyd gekom het.

Ek het gister met ’n oud-lidmaat van die gemeente, Zack Benadé, gesels.   Hy het my vertel hoe hy ’n klomp droogskoonmakerbesighede het en hoe hulle gesukkel het om deur die Covid-inperkingstyd te kom en steeds sukkel om te herstel.  Ek dink hulle funksioneer darem nou op so 70% van hulle normale omset.  Maar wat vir my uitgestaan het is  hoe hy nie in selfbejammering verval het nie, maar hoe  so iemand ’n wilsbesluit neem om sy tru-spieëltjie te verstel en dankbaar te wees vir al die kere wat die Here hom veilig op sy lewenspad begelei het. Om dit raak te sien, te waardeer en te verbaliseer.  So word nie net ons self nie, maar almal rondom ons bemoedig.  Let gerus daarop, iemand wat geleer het om ander te bemoedig en te ondersteun is nooit eensaam nie. Maar dan moet jy eers seker maak, dat jou tru-spieeltjie skoon en reggstel is.

Gebed:

O Heer van nasies, aan u sorg wil ons ons toevertrou.  Dankie dat die verlede, maar ook in besonder die toekoms aan U behoort.  Ons wil die toekoms op u woord en beloftes bou.

Amen.

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 17 November 2020

Jakobus 3:9-11.” Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie”.

Watter sondes word meer onder Christene bespeur as juis die sonde van die tong nie?  Met die tong loof en prys ons die Here, maar met dieselfde tong skinder ons ook, vertel ons leuens, uiter beledigings en vloek ons. Met ander woorde dit wat goed en dit wat lelik is, kom uit dieselfde mond. Jakobus praat baie duidelik hieroor en sê dit mag nie so wees nie. Hoe kan dit wees dat ons aan die een kant op Sondae vir God loof en prys en dan Maandae vloek, raas, skree, beledig en mense met ons woorde afbreek? Ons kan nie vir ander van God vertel, lofliedere tot eer van God sing, bid en vroom praatjies met kerklidmate aanknoop nie en dan met dieselfde mond so verkeerd praat dat mense oor my Christenskap twyfel nie. Is dit nie so dat ons juis aan ons woorde en dade herken word as kinders van God nie?

Vandag wil die Here vir ons vra: “Met watter mond praat jy?”  Hoe praat jy met ander mense? Is dit nie só dat wanneer ’n mens jou humeur verloor ek ook beheer oor my tong verloor nie? Na die tyd is ons vinnig om te sê dat ons dit nie eintlik bedoel het nie. Dink ’n bietjie hoe baie skade rig ’n mens se woordeskat tydens ’n woedebui aan in ons verhoudings met ons kinders, eggenoot en vriende.

Ons dink dikwels nie voordat ons praat nie. Ons sê maklik ‘n ding sonder om dit op te weeg. Ons uiter woorde sonder om vooraf te bepaal of dit stigtend en opbouend is. Daar is baie van ons wat vandag nog sit met verwerping en seer oor iets wat iemand vir ons jare gelede gesê het. Iemand het dalk iets grappenderwys gesê, en ons is steeds diep seergemaak daardeur. Die hartseer is dat my woorde wat ek gespreek het, nooit weer terugneem kan word nie.

Die verhaal word vertel van die jong man wat by die monnik gaan raad vra het.: “Ek het gesondig deur verkeerde woorde te spreek.  Wat kan ek nou daaraan doen?”  Die monnik het vir hom die raad gegee om ’n veer voor elke mens met wie hy lelik gepraat het, of van wie hy geskinder het, te gaan plaas. Nadat die jong man so gemaak het, het hy die monnik weer besoek om te hoor of daar enige iets anders is wat hy dalk nog aan die saak kan doen. Die monnik het hom versoek om terug te gaan na elke huis waar hy ’n veer gelaat het sodat hy weer die vere kan bymekaar maak.  Dit het die jong man moedeloos gemaak en hy het uitgeroep: “Maar dis mos onmoontlik. Teen hierdie tyd het die wind die vere al seker die hele dorp vol gewaai. Toe sê die monnik vir hom: “Net so is dit onmoontlik om lelike en verkeerde woorde wat jy geuiter, terug te trek.”

GEBED

Here, mag my woorde vir U ’n lofoffer wees. Mag my woorde strelend wees vir ander mense. Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 16 November 2020

Jakobus 3:5-6. “So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.”

In die beginjare van die kerk was daar ’n ooraanbod van leraars of leermeesters. Die rede daarvoor was omrede dit so maklik was om ’n leermeester te word. Die ’n amp is verkry deur volgelinge te versamel en vir hulle te begin preek, of oor bepaalde onderwerpe te leer. ’n Gewilde metode was om openbare debatte oor omstrede temas te hou en dan so ’n paar aanhangers te werf.  Tydens die debatte sou leraars nie net op hulle argumente konsentreer nie, maar selfs ook persoonlike aanvalle teen hulle teenstanders loods deur byvoorbeeld beledigende taal te gebruik.

Daar was voordele daaraan verbonde om so ’n leermeester te wees wat ook daartoe bygedra het dat baie mense leermeesters geword het. Dit het finansiële voordele ingehou en dit het ’n bepaalde status aan so ’n persoon verleen. Maar die hartseer was dat hulle onderrig dikwels gemeentelede op ’n dwaalspoor gelei het.  Hierdie sogenaamde leermeesters se leringe het die gemeente in die verkeerde rigting gelei en daarom preek Jakobus vir hulle dat hulle die tong moet beheer.  Valse en verkeerde woorde benadeel nie net individue nie, maar benadeel ook die hele gemeente. Jakobus wil hulle oproep om werklik te fokus op dit wat hulle verkondig en dat dit wat hulle verkondig die waarheid moet wees.

Jakobus wil die kragtige invloed van hierdie leermeesters nog verder beklemtoon deur die beeld van vuur te gebruik. Die tong is soos ’n vuur wat nie geblus kan word nie. ’n Klein vuurtjie steek ’n hele groot bos aan die brand. Die leermeesters se woorde het ook ’n effek op die hele gemeente gehad. Daarom verwys Jakobus na die tong as ’n dier wat nie getem kan word nie. Alle wilde diere is al deur die mens getem, maar die mens was nog nooit in staat om die tong te tem nie. Die rede daarvoor lees ons in vers 8: “Dit is ’n rustelose kwaad, vol dodelike gif “

Woorde het ’n baie kragtige effek en daarom word Christene van vandag, net soos die leermeesters in Jakobus se tyd, opgeroep om werklik versigtig te wees in wat ons sê. Spreuke 10:19 “Wie sy woorde tel, is verstandig”. Maar ons elkeen weet hoe moeilik dit is om altyd te beheer wat ons sê. Dit is werklik ’n uitdaging om die tong eerder stil te hou in die mond as om te praat en skade aan te rig.

GEBED

Here, ek moet bely dat ek dikwels te vinnig praat en nie altyd besef watter effek my woorde het nie. Reinig my hart en gedagtes sodat my woorde ook vir U aanneemlik mag wees. Amen

Gedagte vir die dag | Sondag 15 November 2020

Jakobus 2:14.”Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?”

 Jakobus 2:14-26 is waarskynlik een van die teksgedeeltes wat nogal verwarring by gelowiges veroorsaak en dit is ook ’n teksgedeelte waarmee baie teoloë al in die verlede geworstel het. Daarom is dit ook nie vreemd om te verneem dat die Rooms-Katolieke Kerk hierdie teksgedeelte as bewys gebruik, om hulle leerstellings van geloof plus werke, te staaf nie en dat die Protestante reformasie volgend hulle interpretasie verkeerd is, wanneer hulle verkondig dat die mens alleen deur geloof in Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis geregverdig word.

Om werklik die probleem in hierdie gedeelte te verstaan moet ons bietjie verder terug blaai in die Bybel. In Romeine 3:28 staan: “dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke”.  Hierdie boodskap word weer deur Paulus herhaal in Effesiërs 2:8. En natuurlik word hierdie boodskap die dryfveer van die reformasie. Dat ons nie gered word op grond van wat ons doen nie.  Uit genade word ons deur die geloof alleen gered.

Maar hoe verstaan ons dan nou die teks van vandag as Jakobus sê dat geloof sonder dade is nie ware geloof nie? Die teksgedeelte in Jakobus weerspreek glad nie die gedeeltes uit Romeine en Efesiërs. Eintlik brei dit uit op die gedeeltes in Romeine en Effesiërs. Want die sogenaamde werke word ook nie in die Jakobus-teks as die bron van redding beskou nie. Nee, die geloof word steeds gesien as die manier waarop ’n mens gered word. Dit gaan dus duidelik in ons teks nie oor die feit of geloof ’n mens red aldan nie. Dit gaan eerder oor watter tipe lewe sigbaar word,  na ’n mens deur Jesus Christus gered is. Dit is ’n geloof wat lewe. Geloof in Jesus transformeer ons hele lewe sodat ons nuut gemaak word en anders begin lewe. So ’n geloof word inderdaad deur ons dade bevestig.

GEBED

Here, mag my dade bevestig dat ek aan U behoort. Maak my nuut sodat mense in my lewe en dade kan sien dat ek u kind is. Amen

1 121 122 123 128