Gedagte vir die dag | Maandag 14 Desember 2020
Lukas 1:29-31.” Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.”
Vandag fokus ons op hierdie woorde in die teks: “Jy moet Hom die naam Jesus gee.” Die naam “Jesus” is die Griekse vorm van die Hebreeuse Yēshūa wat “God is verlossing” beteken. Dit was ’n algemene Joodse naam, met ’n unieke betekenis. Jesus was inderdaad die Verlosser wat na die aarde gestuur is om ons van ons sonde te verlos. Soos ons lees in Matteus 1:21 “Sy sal ’n Seun in die wêreld bring en jy met Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”
Met hierdie woorde gee die engel ’n belangrike aanduiding van Jesus se sending na die wêreld. Hy het ons kom verlos. Dit beteken dat ons sonde nie langer die pad tussen ons en God, of tussen ons en mekaar toemaak nie. Jesus is gebore om ons Verlosser te wees.
Vandag hoor ons weer die wonderlike aankondiging van God se Seun wat gebore sou word. Lukas wil dit baie duidelik maak dat hierdie Jesus wat gebore gaan word die ware en enigste Verslosser is. Die vraag wat ons onself moet vra is: “Wat maak ek met hierdie gebeurtenis?” Wat maak ek met hierdie wonderlike nuus dat die enigste en ware Verlosser, Jesus Christus, gebore is? Is Hy al jou persoonlike Verlosser en Saligmaker?
GEBED
Here, Ek sou eenkeer Kersfees wou vier,
Sonder al die sprokie versinsels
En sonder ‘n boom uitspattig versier
Met blinkers en beeldjies en lintsels
Geen Kersverhaal, liedjies of pret
Net diep neergebuig op my knieë
Voor die heerlikheid wat my kom red.
En Sy engele hoor wat Hom roem
Om woordeloos stil te kan luister,
As hulle Hom Redder en Here noem.
Los van die lawaai van die wêreldse duister
Soos die Herders die Heiland wou eer
Ek gekniel met die stilte om my heen
Dan vier ek die fees, net met my Heer alleen.
AMEN
Gedagte vir die dag | Sondag 13 Desember 2020
Lukas 1:26-28.” In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”
Die Bybel wemel van verhale van eenvoudige mense wat deur God geroep is, mense wat dikwels in hul eie oë geen kandidate was om deur God gebruik te word nie. Ons dink aan mense soos Moses, Jeremia, Dawid, Gideon, Paulus en Maria.
Waarom het Maria die moeder van Jesus geword? Dit kan nie wees omdat sy iemand besonders was nie. Sy kom uit die nederige dorpie, Nasaret, wat nie vir sy vooraanstaande inwoners bekend was nie. Inteendeel, dit was volgens opgrawings maar ’n armoedige plekkie. Maria was verloof aan Josef wat ook nie ’n belangrike persoon in die samelewing was nie.
Maria was dus doodgewoon en boonop bloedjonk. Sy het geen besondere invloed, vermoë of uitgelese familiegeskiedenis gehad nie. Nogtans gebruik die Here haar om die wonderlikste daad denkbaar te verrig. Sy word die moeder van Jesus. Deur haar word die Seun van God ‘n mens en verskyn God in die gedaante van ‘n mens op die aarde. God gebruik die gewone, jeugdige Maria bloot op grond van God se genade. Dis hoe God met mense werk. Hy kies dikwels die mees onwaarskynlike mense.
Só dink mense steeds vandag. Hulle is dikwels oortuig dat God hulle nie kan gebruik nie. Ons glo God gebruik net die bekwames, geskiktes, aanvaarbares in sy diens. Ons dink God se keuse sluit by ’n bepaalde geestelike kwaliteit of vermoë aan en die gebrek hieraan diskwalifiseer ons dan om in diens van die Here te staan. En daarom is mense dikwels oortuig dat God hulle nooit kan of sal gebruik nie.
Die Here roep jou en my ~ juis as gewone mense om vir Hom tot diens te wees. Die vraag is of jy, ook soos Maria, tot die Here se beskikking is?
GEBED
NEEM MY LEWE, LAAT DIT HEER, U GEWY WEES MEER EN MEER;
NEEM MY HANDE, MAAK HUL STERK – DIENSBAAR IN U GOEIE WERK.
NEEM MY VOETE, SKOEI HUL, HEER, MET BEREIDHEID TOT U EER !
NEEM MY STEM EN LAAT MY SING; AAN U, HERE, HULDE BRING.
LAAT MY MOND DIE BOODSKAP DRA: HUL SAL VIND WAT NA U VRA.
NEEM MY GOUD EN SILWER, HEER, NIKS NOEM EK MY EIE MEER;
AL MY KENNIS EN VERSTAND STEL EK IN U VADERHAND.
MAAK MY HART VIR U TOT TROON DEUR U GEES WAT IN MY WOON.
RIG MY WIL, GEVOEL EN DAAD
ALTYD NA U WYSE RAAD. AMEN
Gedagte vir die dag | Saterdag 12 Desember 2020
Jesaja 9:6. ” Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”
BOODSKAP
Die volk ontvang hierdie wonderlike belofte dat ’n koning gebore sal word wat hulle sal kom verlos. Hierdie voorspelling het ook vir ons betekenis wat die boodskap van die Nuwe Testament ontvang het. Ons glo dat Jesus Christus hierdie Koning is wie se mag en Koninskap geen einde het nie. Soos ons ook lees in Lukas 1:33: “en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
As Jesus dan gebore word, is dit van die begin af duidelik dat Hy ’n Koning is. Die engel wat vir Maria kom sê het dat Jesus uit haar gebore sou word, het ook vir haar gesê dat die Here God aan hierdie Jesus die troon van sy voorvader Dawid sou gee en dat Hy as Koning sal heers tot in ewigheid. En toe Hy gebore is, het die wyse manne uit die ooste daar in Jerusalem kom vra: Waar is Hy wat as Koning van die Jode gebore is?
Kersfees is nie net die herdenking van Jesus se geboorte nie, maar die herdenking van die geboorte van ‘n Koning. Dit is die Koning van die hemele wat in ons sigbare wêreld inkom en daarom het ons in Kerstyd ‘n koningsfees, en die manier waarop ek en jy Kersfees vier, wys watter Koning ons aanbid en watter Koning se koms na die aarde toe ons vier. Jesus is die ware Koning wat vir ons gebore is.
Hierdie Jesus wat as Koning in ’n krip gebore is en as Koning aan ’n kruis gesterwe het, sal eendag weer terugkeer om as Koning oor alles en almal te regeer. Jesus as Koning sal nooit onttroon word nie. Hy kán nie onttroon word nie. Hierdie Koning gaan nooit uitgestem word nie. Hy’s in elk geval nie deur ’n verkiesing as Koning aangewys nie, maar deur ’n Goddelike aanstelling.
GEBED
En in my hart is daar ’n lied van dankbaarheid
Aan U my God aan U my Vriend
Vir wat U doen in my lewe elke
Net waar ek gaan net soos ek is.
Daar is niemand wat my hart kan raak soos U
My kan optel en vashou,
Daarom gee ek U al die eer.
Met my hande omhoog
Met elke klank wat ek sing wil ek U kom verhoog
En al my lof aan U bring want U is my Skepper my Vriend
Die heemle lig U omhoog
U word vir ewig vereer, my Koning Heer. Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 11 Desember 2020
Jesaja 9:5. ” Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”
Jesaja 9 is geplaas binne ’n hele aantal klaagliedere van oordeel wat oor die volk gefel gaan word en dien beslis as ’n baken van hoop. Die gedeelte kom gee hoop aan ’n volk wat vasgekyk het in ’n hopelose situasie. Die skrywer wil sê dat ten spyte van al die oordele en slegte nuus wat die volk nou ontvang het, is daar ook steeds hoop. Dit wil die volk belowe dat swaarkry en oordeel nie die laaste antwoord is nie. Met ander woorde dat daar lig aan die einde van die tonnel is.
Saam met hierdie wonderlike nuus van verlossing uit die ballingskap, kry hulle ook die boodskap dat ’n Verlosser gebore gaan word. Die volk Israel word ’n belofte gegee dat ’n Koning sal heers wat groter as enige ander koning is. Die wonderlike Koning wat gaan kom sal weer lig bring, sal die vreugde herstel en sal die heerskappy van koning Dawid herstel. Ons weet hierdie professie is in Jesus Christus vervul. Hy het dan ook hierdie wonderlike name gehad:
- Wonderbare Raadsman: Hy sal geen raad van ander nodig hê nie, want God is Sy Raadgewer. Die oorsprong van Sy wysheid kry ons in Jes 11: 2 “Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here”.
- Magtige God: Hy sal ook genoem word Magtige God. Hierdie Messias sal ook God wees, want Hy is deel van die Goddelike drie-eenheid. Hy is die magtige God wat Sy volk kan verlos en vir ewig sal beskerm.
- Hy is ’n Ewige Vader wat voortdurend vir sy volk sorg. Vader is ’n koninklike titel. Elke goeie koning is ’n vader vir sy volk. Maar hierdie goeie Koning Jesus se Vaderskap sal wees soos die van God die Vader self. Met ander woorde dit is vaderskap sonder einde.
- Vredevors: Hy bring die vrede na die wêreld. Dit was een van die koning se belangrike pligte om vrede en voorspoed in sy koninkryk te bewerkstellig. Maar die Here Jesus se hele wese was vrede.
GEBED
Ek glo in Jesus die Seun van God wat in ’n stal gebore is
As die Seun van ’n Timmerman in Nasaret.
Ek glo in Jesus Christus, die Mens na God se hart
wat God se wil gekies het om deur die haat van mense
’n doringkroon te dra en van God geskei te word
Wie gekies het om
in die Godverlatenheid van Golgota
in die doderyk deurgrond te word
sodat ons onvervreem van God kan lewe.
Ek glo in hierdie Jesus wat opgevaar het na die Vader
en daar vir my intree
omdat Hy nader aan my is as wat ek aan myself is;
Ek glo in hierdie Jesus wat as Koning sal terugkeer
Wat as Koning oor elkeen sal oordeel
Wat as Koning vir ewig sal regeer.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 10 Desember 2020
Jesaja 9:1.” Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.”
Vir die volgende drie dae gaan ons stilstaan by die pragtige teks in Jesaja 9. Net kortliks ’n bietjie agtergrond oor die teksgedeelte. Die profesie van Jesaja moet in die lig van die Siro-Efraimitiese oorlog (735-732 v.C.) gelees word. Ons moet onthou die teks is nie geskryf vanuit die agtergrond van die gebeure in die Nuwe Testament nie. Hierdie teks is geskryf vir ’n moedelose volk wat in ballingskap weg gevoer gaan word.
Vir die volk Israel was die toekoms inderdaad baie donker. Die uitverkore volk gaan as ballinge na die staat Assirië weggevoer word. Hulle sal as ballinge ver weg van alles wat vir hulle kosbaar is, moet oorleef. Hulle land, dit wat deur God aan hulle gegee is, gaan geplunder word en daarvan sal niks oor bly nie. Dit is ’n droewige situasie. Somber, tragies, verlore en geen hoop is woorde wat hulle situasie goed kon beskryf.
Teen dié donker agtergrond van die volk se politieke en geestelike nood, sien die profeet die lig van redding en bring hy dit in verband met die geboorte van ’n verlosser. Die lig van redding en bevryding sal weer oor hulle skyn. Die Here gaan Sy volk weer herstel. Hulle sal verstrooi word en sal net as ’n klein groepie bly voortbestaan, maar die Here gaan hulle herstel om weer ’n volwaardige volk te wees.
Die volk word bemoedig dat ’n tyd sal kom wanneer al die donkerte en swaarkry iets van die verlede gaan wees. Die volk wat in donkerte gehul is a.g.v. die ballingskap sal weer lig kan sien. God wie se hart so vol barmhartigheid en liefde is, kan nie toesien dat sy volk in hierdie hopelose toestand bly nie. Daar sal weer vreugde wees.
Vandag weet ons dat Jesus die ware Lig is wat in geestelike donkerte vir ons lig gebring het. Mag jy dit onthou in hierdie feestyd as jy kersliggies sien brand of ’n kers aansteek. Die ware Lig het ook vir jou na die aarde gekom. Kom ons bid saam hierdie pragtige Engelse lied.
GEBED
LIGHT OF THE WORLD YOU STEPPED DOWN INTO DARKNESS OPENED MY EYES; LET ME SEE:
BEAUTY THAT MADE THIS HEART ADORE YOU;
HOPE OF A LIFE SPENT WITH YOU SO, HERE I AM TO WORSHIP HERE I AM TO BOW DOWN
HERE I AM TO SAY THAT YOU’RE MY GOD YOU’RE ALTOGETHER LOVELY;
ALTOGETHER WORTHY ALTOGETHER WONDERFUL TO ME.
AMEN
Gedagte vir die dag | Woensdag 9 Desember 2020
Johannes 1:14. ” Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”
Die evangelie van Johannes begin deur Jesus as die Woord van God, aan ons bekend te stel. Die Griekse woord logos word gebruik vir woorde en gedagtes. Johannes gebruik logos as eienaam vir Christus. Jesus is God en is God se diepste kommunikasie met ons.
Dit is waaroor Kersfees gaan, wil Johannes vir ons onderstreep: Met Jesus se geboorte het God aarde toe gekom, mens geword, om met ons te kom praat. Daarom noem Johannes die Seun van God, die Woord, want dit is wat Hy kom doen het – deur Jesus het God sy boodskap van genade en waarheid aan ons kom oordra. Die Hebreërskrywer (1:1-3a) stel dit só: In die verlede het God dikwels en op verskillende maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.
In Jesus kom God aan die woord; hoor ons God praat. Wat ons nou by die groot vraag bring: Hoor ons God nog praat? Hoor ons nog Sy stem? Want in die moderne wêreld word ons oorlaai deur die geraas van die media en deur ander stemme wat meeding om ons aandag. Dit raak later so ’n groot gedruis dat ons God nie meer goed kan hoor nie. En ons gaan nou die Kersseisoen in waartydens die geraas nóg groter word.
God se Woord word mens. Dit is die hart van Kersfees, sê Johannes 1. Hy het aarde toe gekom, want Hy wil met ons praat. Maar as ons nie stil word en die geraas van die lewe om ons afskakel nie, gaan ons Hom nie hoor nie.
GEBED
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.
Hy kom na die aarde, om ons op te rig!
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
Gedagte vir die dag | Dinsdag 8 Desember 2020
Jakobus 5:16a “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.”
Is jy moedeloos oor die beperkte invloed wat jy het om groot dinge wat om jou gebeur te verander? Wat sou ek vandag kon doen, of sê wat werklik ’n verskil sal meebring te midde van die krisisse in ons land en die spanning wat mense beleef rakende die realiteite wat hulle moet hanteer? Hoe gaan ek dit regkry om die spanning en gebrokenheid wat dikwels in ons families leef, te oorkom? Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Dit help ons om dinge buite ons eie beheer aan die Here oor te gee sodat ons konstruktief met ons lewens kan aangaan en kan doen wat die omstandighede van ons vra. Dit gee ons die krag om deur skynbaar klein dade ’n groot verskil te maak.
Gebed
O Heilige Gees van God, bly by my: wees die inspirasie vir al my gedagtes; deurdring my verbeelding; suggereer wat ek moet besluit; bestuur al my aksies. Wees met my in my stiltes en in my woorde; in my werk en in my ontspanning en in geselskap wanneer ek alleen is. Bly by my in die varsheid van die môre tot in die vermoeidheid van die aand; en gee my die genade om my te alle tye nederig te verheug in u misterieuse geselskap (John Baillie).
Gedagte vir die dag | Maandag 7 Desember 2020
Jakobus 5:13. As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.
Ons geloof in God is nie beperk tot ’n gedeelte van die lewe wat ons godsdiens noem nie. Dit is nou verweef met die alledaagse van die lewe. Daarom moedig ons teks ons aan om spontaan in die Here se teenwoordigheid te leef. As ons swaarkry moet ons dit spontaan vir die Here kan sê en as ons bly is, moet ons dit kan uit jubel. Laat hierdie besef weer vanoggend opnuut tot jou deurdring. Laat jouself toe om, soos in die Bybelboek Klaagliedere, openlik vandag jou hartseer en kommer aan die Here te gee en soos in die Psalms jou vreugde en dankbaarheid te verwoord. Ons bid vanoggend die baie bekende ou lied in Psalm 146.
Gebed
Prys die Heer met blye galme, o my siel daar’s ryke stof! Ek sal solank ek leef my psalme vrolik toewy aan sy lof. En hom wat sy guns my bied, altyd grootmaak in my lied.
Gedagte vir die dag | Sondag 6 Desember 2020
Jakobus 4:17. “As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.”
Vandag praat Jakobus met ons oor sondes. Wat is sonde? Is dit goed wat mense verkeerd doen? Sou jy vandag ’n paar sondes kon opnoem? Dit wil dikwels vir my lyk asof ons sondes net tot ’n beperkte kategorie dade, wat met moraliteit en seksualiteit verband hou, geïsoleer het. Dit is maklik om sulke dade in die Bybel te vind en hulle in mense se gedrag uit te wys. Al gehoor van sondes van versuim? Dit is nie soseer iets wat ons verkeerd doen nie, eerder die gebrek om wel om in ’n gegewe situasie die regte ding te doen. Dit is so maklik om hierdie sondes van versuim na die kant te skuif. Hoe praat die Here vandag met jou hieroor?
Gebed
Heilige Gees, Transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde my vandag so omvorm, nee, so geheel herskep dat ek ’n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my watter rol ek kan speel om die wêreld as ’n plek van korrupsie, lyding, verganklikheid te help transformeer tot ’n gebied waar U lig, en vreugde en liefde die deurslag gee. Maak my so gehoorsaam aan U, o Gees van nuwe moontlikhede, dat my lewe ’n lewende gebed sal word, ’n getuienis van u troue teenwoordigheid in elke tyd en omstandigheid (Martin Israel).
Gedagte vir die dag | Saterdag 5 Desember 2020
Jakobus 4:8a. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”
Dit is nie vandag maklik om sommer by enige instansie, maatskappy of regering agentskap in te stap en met die grootbaas te praat nie. Daarvoor het jy beslis invloed nodig en indien jy wel ’n afspraak toegestaan word, is jou tyd beperk. Hoe kom ’n mens by God, die Skepper van hemel en aarde uit? Staan ek enige kans om vandag gehoor te word as daar miljoene ander in die tou staan? Nader tot God en Hy sal tot jou nader. Daar is geen toue of prosedures wat vandag tussen jou en God staan nie. Jy hoef ook nêrens anders te wees as die plek waar jy tans is nie. Haal diep asem, sluit jou oë en weet dat die Skepper van hemel en aarde in sy almag by jou is en jou hoor.
Gebed
Neem my hand, Here, lei my tree vir tree deur hierdie dag – herinner my dat ek nie alles wat ek wil, kan doen nie, en dit nog minder perfek kan doen. Herinner my daarom om al my hulp by U te soek (Avery Brooke).