Dagstuk | Saterdag 3 Februarie 2024
In hierdie vierde week na Epifanie, waar ons oor die betekenis van Jesus se verskyning op aarde reflekteer, nooi ons jou uit om saam met ons te reis deur Lukas 4:18-19.
Lukas 4:18-19
18 “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, 19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
Refleksie
Ons staan vandag stil by die gedagte: “en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
Die genadejaar van die Here is ’n klomp maniere ’n opsomming van die vorige gedagtes. Die genadejaar is ’n jaar van Herstel, waar slawe vrygelaat word, skuld afgeskryf word en land herverdeel word. Dit is goeie nuus vir almal wat onderdruk word, vir die armes, slawe en gevangenes, wat soms vir generasies in ’n siklus van skuld, onderdrukking en slawerny vasgevang word.
Die genadejaar is ook goeie nuus vir die aarde, waar die land kans gegee word om te rus en herstel.
Ons lewe in ’n wêreld, wat amper soos Egipte van ouds, ’n wêreld van werk sonder rus is, waar daar geen geleentheid vir rus en herstel vir die mense en vir die aarde is nie.
Waar sien jy dat herstel nodig is? Waar sien jy dat rus nodig is?
Hoe nooi Christus jou vandag uit om die genadejaar van die Here ’n realiteit te maak?
Reflekteer vandag oor die genade van die Here. Mag ons die vrygewigheid van sy genade besef en deel van hierdie genadejaar wees.
Gebed
Hemelse Vader, ons loof U vir U onverdiende genade. Mag ons deel word van die aankondiging van U genadejaar deur liefde en vergifnis aan ander te bewys. Mag hierdie genade ons harte vervul en oorvloedig uitvloei na ander. Amen.
Dagstuk | Vrydag 2 Februarie 2024
In hierdie vierde week na Epifanie, waar ons oor die betekenis van Jesus se verskyning op aarde reflekteer, nooi ons jou uit om saam met ons te reis deur Lukas 4:18-19.
Lukas 4:18-19
18 “Die Gees van die Here is op My,
omdat Hy My gesalf het
om die goeie boodskap
aan arm mense te verkondig.
Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word,
en vir blindes dat hulle weer sal sien,
om onderdruktes te bevry,
19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
Refleksie
Ons staan vandag stil by die gedagte: “om onderdruktes te bevry,”
In Lukas 4:18 hoor ons van Jesus se roeping om die onderdruktes in vryheid uit te stuur. Hierdie gedagte staan in parallel met die gedagte om gevangenes te bevry. Daar is sterk ooreenkomste tussen gevangenes en onderdruktes, maar daar is tog belangrike verskille.
Wat beteken die woord “onderdruktes” vir jou? Waar beleef jy onderdrukking? Waar sien jy dat ander onderdruk word?
Hoewel ons elkeen ’n aandeel in onderdrukking het, direk of indirek, is die grootste vorme van onderdrukking sistemies van aard. Ons grootste aandeel is waarskynlik dat ons stilbly oor onderdrukking wat ons nie raak nie. Ons word geroep om sisteme van onderdrukking en ongeregtigheid te help afbreek en die koninkryk van God op te bou.
Vandag daag ons uit om na te dink oor die rol wat ons as volgelinge van Christus kan speel in die bevryding van die onderdruktes.
Die vierde punt van die Belydenis van Belhar herinner ons daaraan. Ek nooi jou uit om vandag oor hierdie belydenis te reflekteer:
Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg;
Dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee;
Dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien;
Dat Hy die wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper;
Dat vir Hom reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek;
Dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek;
Dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en sal stry teen enige vorm van ongeregtigheid.
Raak vandag bewus van enige maniere wat jy deelneem aan ’n sisteem van onderdrukking. Raak bewus van onderdrukking wat jy self beleef. Raak bewus hoe die Here jou bevry van onderdrukking en hoe Hy jou roep om onderdruktes te bevry.
Gebed
Here, help ons om waaragtige agente van vryheid te wees in ‘n wêreld wat dikwels deur onderdrukking gekenmerk word. Mag ons liefde en geregtigheid bring waar dit nodig is. Amen.
Dagstuk | Donderdag 1 Februarie 2024
In hierdie vierde week na Epifanie, waar ons oor die betekenis van Jesus se verskyning op aarde reflekteer, nooi ons jou uit om saam met ons te reis deur Lukas 4:18-19.
Lukas 4:18-19
18 “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, 19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
Refleksie
Ons staan vandag stil by die gedagte: “en vir blindes dat hulle weer sal sien,”
Later in die verhaal van die Evangelies sien ons dat Jesus fisies genees van blindheid en blinde mense weer laat sien. Maar ons sien ook dat dat “blind” en “sien” oor iets dieper as fisiese sig gaan. In die Ou Testament word Israel herhaaldelik gesê dat hulle oë het wat nie sien nie. Jesus haal ook een van hierdie tekste aan in Matteus 13:
15Want hierdie volk se hart is afgestomp – hulle kan beswaarlik met hulle ore hoor; hulle het hulle oë gesluit, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle harte verstaan en terugdraai en Ek hulle genees nie.’
Ons kan sien en blind wees, of ons kan blind wees en meer sien. ’n Teoloog met die naam van Peter Rollins vertel ’n weergawe van een van Jesus se wonderwerke wat dit mooi uitbeeld. Ek nooi jou om vandag oor hierdie verhaal te reflekteer
AFTER JESUS HAD DESCENDED FROM THE MOUNT OF OLIVES he came across a man who had been blind from birth. And his disciples asked him, “Rabbi, who sinned, this man or his parents, that he cannot see?”
Jesus answered, “It was not that this man sinned, or his parents, but that the works of God might be displayed in him. We must carry out the works of him who sent me while it is day, for night is approaching, when no one can work. As long as I am in the world, I am the light of the world.” Having said these things, he spat on the ground and made mud with the saliva. Then he anointed the man’s eyes with the mud and said to him, “My friend, go, wash in the pool of Siloam.” So the man went and washed and returned in jubilation, shouting, “I can see, I can see!”
The neighbors and those who knew him as a beggar began to grumble, saying, “Has this man lost his mind? for he was born blind.” Some said, “It is the same man who was blind.” Others said, “No, it is not, but he is like him.” In response to this grumbling, the old man kept repeating, “I am the same man. Jesus anointed my eyes and said, ‘Go to Siloam and wash.’ So I went and washed, and now I can see everything.”
To ascertain what had happened, they brought him to the Pharisees. “Give glory to God,” they said. “We know that this man Jesus is a sinner.” But the old man answered, “Whether or not he is a sinner I do not know. One thing I do know, that though I was blind, now I see.”
But the Pharisees began to laugh. “Old man, meeting Jesus has caused you to lose your mind. You had to be carried into this room by friends, you still stumble and fall like a fool. You are as blind today as the day you were born.”
“That may be true,” replied the old man with a long, deep smile, “as I have told you before. All I know is that yesterday I was blind, but today, today I can see.
Hoe help hierdie storie jou vandag oor hoe Jesus blindes laat sien? Vra vandag dat die Here jou oë oopmaak, sodat jy kan sien.
Gebed
Here Jesus, Help ons om te sien. Verwyder enige blindheid in ons harte en laat ons duidelik sien in die lig van U waarheid. Mag ons gesig herstel word deur U genade. Amen.
Dagstuk | Woensdag 31 Januarie 2024
In hierdie vierde week na Epifanie, waar ons oor die betekenis van Jesus se verskyning op aarde reflekteer, nooi ons jou uit om saam met ons te reis deur Lukas 4:18-19.
Lukas 4:18-19
18 “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig.
Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, 19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
Refleksie
Ons staan vandag stil by die gedagte: “Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word”
Vir die meeste van ons maak die gedagte van gevangenes wat vrygelaat word, ons so bietjie bang. As ons dink aan iemand in die tronk wat op parool vrygelaat word, of iemand wat ’n opgeskorte vonnis kry, dan maak dit allerhande emosies binne ons los, gewoonlik nie positief nie. Want daar is ’n rede dat die gevangene gevange is – die wet is oortree en ter wille van die veiligheid van die samelewing word die persoon gevange gehou.
Natuurlik lyk die prentjie vandag so bietjie anders as in Jesus se tyd. Om ’n gevangene te wees was nie die resultaat van ’n vry en regverdige regstelsel nie, maar die uitoefening van die mag wie ook al in beheer was. Slawe is ook gevange gehou deur ’n sisteem van onderdrukking en ongelykheid. Vir die meerderheid wat deel is van so ’n sisteem, is die vrylating van gevangenes rede om vees te vier! Dink maar net aan wat die vrylating van Nelson Mandela vir Suid-Afrika beteken het.
Hoe voel jy as jy hoor dat Jesus gekom het om vrylating vir gevangenes aan te kondig? Watter emosies maak dit by jou los?
’n Samelewing waar tronke vol is, is nie gesond nie. Ons droom saam met Christus van ’n wêreld waarin daar geen meer gevangenes sal wees nie. Wat moet gebeur vir hierdie wêreld om ’n realiteit te word?
Op ’n dieper vlak kan ons vra na wat mense gevange hou op ander maniere. Dalk voel jy dat iets jou gevange hou. Jesus kom kondig vir elke vorm van gevangenis bevryding aan.
Reflekteer vandag op die vryheid wat Christus aankondig. Mag ons bewus wees van enige areas van ons lewens waar ons nog gevange is, en mag ons die bevrydende krag van die Evangelie ervaar.
Gebed
Vader, ons dank U vir die vryheid wat ons in Christus het. Help ons om volkome vry te wees van enige kettings van sonde, skuld of vrees. Mag ons die ware vryheid in Christus geniet en bevryding bring waar ons sien dat mense gevange gehou word. Amen.
Dagstuk | Dinsdag 30 Januarie 2024
In hierdie vierde week na Epifanie, waar ons oor die betekenis van Jesus se verskyning op aarde reflekteer, nooi ons jou uit om saam met ons te reis deur Lukas 4:18-19.
Lukas 4:18-19
18 “Die Gees van die Here is op My,omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig.
Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, 19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
Refleksie
Ons staan vandag stil by die gedagte “om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig.”
Vandag word ons uitgenooi om te mediteer oor die genade van die evangelie, wat nie beperk is tot spesifieke groepe nie, maar vir almal toeganklik is en spesifiek goeie nuus vir arm mense is.
Hoe klink die goeie nuus vir arm mense? En wat beteken dit om arm te wees? Is dit moontlik om ryk aan een ding te wees en arm aan iets anders?
Wat beteken die woorde “ryk” en “arm” vir jou? Waaraan is jy ryk en waaraan is jy arm?
Hoewel daar verskillende gedagtes oor rykdom en armoede kan wees, moet ons nie die eenvoudige kern van Jesus se boodskap mis nie. Die wêreld waarin Jesus hierdie boodskap verkondig, bestaan grotendeels uit mense wat fisies arm is en sukkel om te oorleef onder die uitbuiting van die Romeinse ryk.
Hoewel daar vandag meer gelykheid is as onder die Romeinse ryk, lewe ons nog in ’n wêreld waar daar baie ongelykheid en armoede is, waar 1% van mense 99% van die rykdom besit. Hoe lyk ons roeping om die goeie nuus aan armes te verkondig vandag?
Reflekteer vandag oor die onbeperkte genade van die evangelie. Mag ons harte geopen word vir die behoeftiges om ons, mag ons vrygewige harte gegee word om die vreugde van Christus se redding met hulle deel.
Gebed
Here, gee ons ‘n oop hart en ‘n bereidwillige gees om die evangelie met arm mense te deel. Spesifiek aan mense wat fisiese armoede beleef, maar ook aan mense wat elke vorm van armoede beleef. Mag ons getrou bly aan die roeping om U liefde en genade uit te dra. Amen.
Dagstuk | Maandag 29 Januarie 2024
Ons is in die vierde week na Epifanie, waar ons fokus op Jesus se verskyning op aarde en hoe Jesus se menswees God se wese openbaar. Hierdie week nooi ons jou uit om saam te reis in Lukas 4:18-19, waar Jesus uit Jesaja lees. Jesus maak hier aan die begin van sy aardse bediening dit duidelik hoekom Hy hier is en waarvoor God hom gesalf en gestuur het. Jesus maak aan die begin van sy bediening dit vir ons duidelik wat in God se hart leef en nooi ons uit om Hom hierin te volg.
Ons nooi jou uit om hierdie week met ‘n verwagtende hart te betree, gereed om deur die Woord van God gelei te word en ‘n nuwe begrip van jou roeping in Christus te ontdek. Mag hierdie meditasies ‘n bron van inspirasie wees terwyl ons die pad van geestelike groei en navolging van ons Here bewandel.
Lukas 4:18-19
18 “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry,19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
Refleksie
Vandag staan ons stil by die eerste gedagte in die teks: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het…”
Jesus maak dit van die begin af duidelik dat Hy nie net maar net hier is nie. Hy is gestuur deur God. Die woord gesalf beteken: om geheilig, of aan God toegewy te word vir ’n spesifieke doel.
Hierdie bevestiging van God se Gees op Jesus herinner ons aan die heilige roeping wat elkeen van ons het. Wat vir Jesus waar is, is waar vir ons wat Hom volg, soos Paulus in 2 Korintiërs 21-22 duidelik maak:
Dit is God wat ons saam met julle in Christus ‘n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het, 22wat ons ook verseël en die Gees as waarborg in ons harte gegee het.
Jy is nie net per ongeluk hier nie. Jy is gestuur en gesalf deur God. Sy Gees rus op jou.
Ons word vandag uitgenooi om hieroor te reflekteer.
Hoe maak die besef dat God se Gees op jou rus, dat jy deur God gestuur is en dat deur Hom gesalf is, jou lewe anders?
Waarvoor word jy geroep of gestuur? Hoe wil jy hierdie roeping uitleef?
Rus vandag in die wete dat jy gesalf en gestuur is en dat die Gees van God op jou is.
Gebed
Hemelse Vader, dankie dat U Gees op ons rus en ons gesalf het vir ‘n spesifieke doel. Help ons om bewus te wees van U leiding in elke area van ons lewens, en gee ons die krag om U wil te volg. Amen.
Dagstuk | Saterdag 27 Januarie 2024
Ons gaan vandag die laaste gedeelte van die verhaal in Johannes 4 lees toe Jesus die Samaritaanse vrou ontmoet het. Nadat sy tot insig gekom het dat God besig is om indringend met haar te praat het sy haar getuienis met ander mense in die dorp gedeel en hulle het op die volgende manier reageer:
Johannes 4: 42. Ons glo nie meer op grond van wat jy (Samaritaanse vrou) vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is”
Hoe maak die Here ‘n impak op die wêreld waarin ons leef? Ons teks van vandag is ‘n goeie samevatting en afsluiting van alles wat ons die afgelope week in die verhaal gehoor het. God is in die eenvoud van die lewe met alle mense besig. Nie net met die Jode, soos wat gelowiges in Jesus se tyd geglo het nie, maar ook met die Samaritane op wie hulle neergekyk het. God ontmoet nie net mense in godsdienstige ruimtes nie, maar langs waterputte en op die mees onverwagte plekke – daar is God! Vandag se teks praat met ons oor die rol wat ons daarin speel. Soos die Samaritaanse vrou het ons die voorreg om God se genade wat ons kom verander te beleef, maar ook te deel. Godsdienstige mense het ongelukkig die reputasie dat hulle mense in verandering wil indwing. Ons kan moedeloos raak omdat ons nie mense wat dinge ooglopend verkeerd doen, sover kan kry om hulle lewens te verander nie. Ken jy so iemand? Is jy dalk in so ‘n situasie? Vandag se teks herinner ons dat nie ons is wat mense verander nie, maar God. Ons rol is om God se genade te deel en Hom toe te laat om mense self tot insig te bring. Wat is die genade wat God jou vandag van bewus maak wat jy moet deel?
Gebed
O God, U is bokant ons, en was in u Seun een van ons. U is ook . . . in ons. Mag mense daarom vandag vir U in my raaksien. Mag my lewe dit vir mense makliker maak om in u liefde te glo. Bewaar my daarom van haastige oordele en oplossings wat vir my rein en edel mag klink, maar nie begrip het vir mense se unieke omstandighede en uitdagings nie. Dankie dat ons eenvoudig die boodskap van u genade kan uitleef en kan aanskou hoe U mense op reis neem. Mag ek dit aanvaar wat ook al vandag oor my pad kom, omdat ek glo dat U daarin by my is.
Amen.
Dagstuk | Vrydag 26 Januarie 2024
Ek lees weer vir ons uit Johannes 4:10. Jesus het haar geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: Gee My ‘n bietjie water om te drink, sou jy hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.
Hoe reageer ons op oomblikke van insig? Soos ons in die week met die Samaritaanse vrou se verhaal besig was, besef ’n mens dat die insig wat God gee dikwels nie ‘n onmiddellike ‘aha’ oomblik is nie. Jesus het geleidelik, stukkie vir stukkie tot die Samaritaanse vrou se lewe deurgebreek. Aan die begin het sy niks verstaan van wat Hy vir haar gesê het nie, maar soos die verhaal vorder begin die lig na haar toe deurbreek. Die insig waartoe die Here ons begelei is nie maanskyn en rose nie. Dit behels dikwels ‘n proses waarin jy eers van sterk gevestigde denke, emosies en selfs ou geloofsoortuigings moet afskeid neem. Die mooi van die Samaritaanse vrou se verhaal is Jesus se geduld en die sagte wyse waarop hy met haar omgaan. Hy verwag nie, soos ons dikwels doen, dat mense onmiddellik moet verander nie. Ons gebrek aan insig of hardkoppigheid weerhou ons nie van God se genade nie. Verandering verg tyd, maar onthou dat God altyd in tyd by ons is. Ons is daarom as’t ware altyd in die proses van bekering. Hoe lyk hierdie pad in jou eie lewe? Hoe is die Here se genade besig om nuwe insigte in jou oop te breek? Hoe gaan ons vandag daarop reageer?
Gebed
Here, leer ons weer vandag dat u Seun nie net gesterf het om ons van lyding te verlos nie, maar van onsself. Gee my vandag die insig dat verandering en vernuwing nie soseer ‘n oomblik is nie, maar ‘n voortdurende proses om aan myself te sterf. Dankie dat U ons altyd na plekke lei om weer te kan opstaan en die vrede dat U in die proses nooit ver van ons is nie.
Amen.
Dagstuk | Donderdag 25 Januarie 2024
Ek lees weer vir ons uit Johannes 4:10. Jesus het haar geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: Gee My ‘n bietjie water om te drink, sou jy hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.
Wat sou jy vandag vir die Here wou vra as jy geweet het dat dit Hy is wat nou met jou praat? Wat sou jy Hom wou vra? Soos Jesus met die Samaritaanse vrou praat en sy onder die indruk kom dat Hy ‘n profeet is stuur sy die gesprek in die rigting van ‘n baie ou godsdienstige debat wat ons reeds vroeër in die week oor gepraat het. Die vraag na watter kerk/plek die regte plek is om God te ontmoet. Gegewe die probleme en uitdagings van haar lewe wonder ‘n mens. Gryp sy die geleentheid aan om die regte vrae te vra? Kom ons dink aan die situasie in die konteks van ons eie lewens. As jy regtig geweet het dat dit God is wat besig is om met jou te praat, wat sou jy Hom gevra het? Sou ons God wou uitvra oor die moontlike uitkoms van 2024 se verkiesing of wat Hy dalk sou dink oor Israel se hantering van die Palestynse bevolking? Dit sou wel interessant wees, maar daar is dieper lewensvrae wat ons lewens raak. Wat vra ons vir God? Dink aan hoe ons bid. Doen ons dit in die gesindheid dat Hy regtig hier by ons is of praat ons in ons gebede in die algemeen oor God? Daar is ‘n groot verskil tussen die twee. Wanneer ons onsself toelaat om ons rou denke en emosies in gebed of meditasie eerlik na die oppervlak te bring maak dit skielik ‘n nuwe venster op ons hede en toekoms oop. Amper soos wanneer jy binne ‘n kerk staan met gebrandskilderde vensters en dit jou uitsig op die wêreld daarbuite inkleur. Wat God van ons vra is nie moeilik nie. Dit is om tyd te neem om spontaan die goeie en slegte in jou lewe aan God oor te gee.
Gebed
Vandag vra ek U net, Here my God, gee Uself vir my, want die wete dat U vandag hier by my is, is meer werd as enige gawe wat U my kan gee. Kom, Here, genees my verlede. Bevry my van bitter herinneringe. Kom gee my hoop vir vandag en môre. Laat U vrede my gedagtes kalmeer. Here, daar is soveel wat ek nog in my spontane menswees vanoggend vir U wil vra. Dankie dat ek die vrymoedigheid kan neem om by U myself te kan wees en vandag my hart aan U kan blootlê.
Amen.
Dagstuk | Woensdag 24 Januarie 2024
Ek lees weer vir ons uit Johannes 4:10. Jesus het haar geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: Gee My ‘n bietjie water om te drink, sou jy hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.
Wat is die lewende water wat die Here ons kom aanbied? Die Samaritaanse vrou het met ‘n voor die hand liggende doel na die waterput gestap. Sy wou water skep vir haar huishouding. Water is die mees basiese lewensmiddel waarsonder ons nie kan oorleef nie. Vandag het ons die gemak om ‘n kraan oop te draai, maar in die tyd waarin die teksgedeelte geskryf is was water skep en die vervoer daarvan ‘n baie moeisame proses. Jy moes ver stap na die naaste waterbron in jou dorp en daagliks die roetine herhaal. Wanneer Jesus haar van die lewende water (bewegende water) vertel, dink sy Hy is besig om haar na ‘n waterbron nader aan haar huis te lei. Miskien het sy selfs gedink dat Jesus ‘n wonderwerk kan verrig wat haar nooit weer dors sal laat nie. Wat is die lewende water wat Jesus die Samaritaanse vrou aanbied? Ons sou kon oordeel dat Jesus haar in die oomblik tot bekering wou bring en haar die ewige lewe aanbied. Dit kan wel die geval wees, maar wat Jesus haar op die plek aanbied is God se genade. Hy begelei haar om te verstaan dat God vir haar in hierdie omstandighede omgee en kan help. Wat sy begin ervaar is hoe die Here haar deur sy genade na ‘n plek van vergifnis en vrede, wat haar lewe gaan verander, toe lei. Hoe is die ervaring van die Here se genade besig om jou lewe te raak? Hoe is dit besig om jou te verander en jou by ‘n plek uit te bring van vergifnis en vrede? Wat is die lewende water wat die Here jou aanbied?
Gebed
Here, ons kyk dikwels soekend om ons rond – ons smag na sin en vrede. Soos die Samaritaanse vrou voel ons oorval deur ons omstandighede en roetines. As gelowiges voel dit asof ons water drink wat nooit ons dors les nie. Here bring vandag in my die perspektief/uitsig dat U in die midde hiervan vir my iets anders aanbied. Iets wat ek nie met geld kan koop, of in my eie krag kan bekom nie, maar wat U sonder enige verdienste vir my vandag aanbied. U genade is vandag vir my genoeg. Amen.