Gedagte vir die dag | Donderdag 24 Desember 2020
Johannes 8:12: “Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
24 Desember 2020 – Oukersdag in ’n jaar geteister met ’n pandemie! Hoe baie verskillende emosies mag ons dalk vandag en vanaand hê oor hierdie jaar. Maar vandag en môre kan ons feesvier. Die fees van lig – lig vir die wêreld waarvan ons ook hier in Johannes lees.
Toe Pous Julius 1, in 353 n.C. die datum 25 Desember gemagtig het om as die geboortedag van Jesus gevier te word, kon niemand weet hoe groot hierdie dag in die geskiedenis van die wêreld sou word nie. Toe Charles Follen die eerste keer kersies aan die eerste Kersboom in Amerika aangesteek het in 1832, kon niemand hulself voorstel watter groot rol Kersversieringe en Kersbome in die geskiedenis sal speel nie.
Dit is baie jare na 1832 en nog verder weg van die jaar 353 n.C. Maar steeds dink ons aan daardie donker nag toe ’n ster die ligruim verlig het om wyse manne na Koning Jesus se nederige geboorteplek te lei. En vandag, op die voorraand van 25 Desember, ook midde in al die opwinding van versierings en die kommersialisering van die kersgety, moet ons gefokus bly om vir Jesus in die kern van ons feesvieringe te hou. Kom ons stop ’n oomblik om oor sy geboorte te dink, en ons prys God wanneer ons Sy wonderlike reddingsplan vir die mensdom oordink en dit met mekaar deel.
Dit kan so maklik verbygaan, sonder dat ons die boodskap met mekaar en ander deel. Daar word vertel dat in Desember 1903, na verskeie pogings, die Bright broers die eerste keer hul vliegmasjien van die grond af kon kry om te kan vlieg. Baie opgewonde het hulle ’n telegraaf aan hulle suster gestuur om haar in te lig dat hulle uiteindelik daarin geslaag het om 120 voet hoog te vlieg. Deel van die boodskap was, “en ons sal terug wees vir Kersfees”. Hulle suster het die redakteur van die plaaslike koerant genader en vir hom die boodskap gewys. Hy het dit in sy hand gehou, en gesê: “How nice! The boys will be home for Christmas!” Hy het eintlik die groot nuus misgekyk, en dit is dat daar vir die eerste keer mense was wat gevlieg het.
Hoe maklik kan ons ook die groot nuus mis en dit midde ons vieringe vergeet? Hoe maklik kan ons verdwaal raak tussen al die glinster en mensgemaakte vreugdes en vergeet dat die eintlike boodskap van verlossing nou vir ons ’n realiteit geword het deur die kind van God wat vir ons gebore is.
Gebed: Here gee vir ons in hierdie Kerstyd, die waagmoed om werklik die betekenis van Kersfees, die boodskap van verlossing in u Seun, Jesus Christus, met ander te deel. Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 23 Desember 2020
Lukas 2:11: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”
Vriende, dis ’n paar dae voor Kersfees en ons sien reeds die groot verwarring wat ontstaan rondom hierdie groot fees wat wêreldwyd gevier word. Daaroor kan die vraag tereg gevra word, wat is Kersfees regtig? En wat is dit nie?
Daar word vertel dat ’n klein seuntjie en dogtertjie besig was om hulle gunsteling Kerslied in ’n kerk te sing, ’n dag voor Kersfees. Hulle het in Engels gesing, en die seun het “Silent Night”, afgesluit met die woorde: “sleep in heavenly beans.” Nee! Het sy suster hom gekorrigeer, “not beans, peas.”
By ’n ander geleentheid het Brenda Robberts die storie van Jesus se geboorte vir haar dagskoolkindertjies voorgelees. Soos gewoonlik het sy gestop om seker te maak dat hulle verstaan. “What do we call the three wise men?” het sy gevra. “The three maggots!” het ’n vyfjarige outjie geantwoord. “What gift did Maggie bring baby Jesus?” het sy weer gevra: “gold, Frankensteins and Smurfs!” het dieselfde vyfjarige geantwoord.
Ja, by kinders, maar ook by volwassenes is daar somtyds groot verwarring oor waaroor Kersfees eintlik gaan. So waaroor gaan dit eintlik? Moeder Theresa het gesê: “Dis Kersfees elke keer wanneer jy vir God toelaat om deur sy liefde uit te reik na ander mense. Ja, dit is Kersfees, elke keer wat jy glimlag vir jou broer en jou hand vir hom uitsteek om te help. Mag ons dit ook vandag doen.
Maar wat is Kersfees dan nie? Calvin Coolidge het geskryf: “Christmas is not a time nor a season, but a state of mind. To cherish peace and goodwill, to be plenteous in mercy, is to have the real spirit of Christmas”. William Parks het daarby gevoeg: “Christmas is not just a day, an event to observe and speedily forgotten. It is a spirit which should permeate every part of our lives.”
Die meeste van ons is baie lief vir ons familie, en doen baie moeite om Kersfees by hulle te wees. Daarom het Kersfees tereg ’n familiefees geword. Maar so baie mense getuig daarvan dat indien hulle in Kerstyd bereid is om ander te help of om ander in nood by te staan, skep dit soveel meer vreugde. So bied Stellenberg-gemeente ook jaarliks ’n liefdesete op Kersdag aan inwoners van die informele nedersetting in Klipheuwel aan.
Wat is Kersfees vir jou? Mag dit inderdaad ’n Christus-fees wees, waarin diens ’n groot rol speel.
Gebed:
Here, gee vir ons die ware Gees van Kersfees. Dat dit in die eerste plek nie oor ons sal gaan nie, maar oor ons Verlosser wat in ons lewe heers en ons aanspoor tot liefde en diens, veral in hierdie Kerstyd. Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 22 Desember 2020
Genesis 45:1. “Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die Farao se paleis dit gehoor het.” Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”
Ek dink aan baie tonele in hierdie Kerstyd en die trane wat in baie families vloei. Nie noodwendig van dié wat in Suid-Afrika is nie, maar daar is so baie wat oorsee woon en waar Kersfees dalk ’n hartseer tyd vir sommiges kan wees, maar ook die vreugdetrane wat loop wanneer familie mekaar weer sien.
Wanneer ouers in die besonder hul kinders sien wat in die verte bly. Dis nogals ’n snaakse verskynsel, kan nie sê ’n vreemde verskynsel nie, maar dis nie gewoon vir ’n man om te huilnie. En tog het ek die afgelope tyd na die dokumentêre reeks op televisie gekyk oor die wêreldbeker rugbytoernooi en daarin het mans trane van blydskap gehuil en mekaar omhels terwyl hul trane geloop het. Een van die aangrypende tonele in die reeks was van die Springbok agtste man, Duane Vermeulen en Proudfoot wat mekaar omhels het en Proudfoot wat toe vir Duane sê hoe sy Pa, wat oorlede is toe Duane ag jaar oud was, hierdie oomblik sou waardeer het. Dit was intense emosie. Ons het al baie tonele gesien waar mense moedeloos is in oorlog getuisterde gebiede en waar mans hul trane uit moedeloosheid af vee.
Ek onthou in besonder die storie van ’n man wat van oorsee af teruggekom het en sy vrou verras het. Hy het in die buiteland gewerk, maar kon per geleentheid terug kom Suid-Afrika toe. Hy het nie sy vrou oor die besoek ingelig nie. Hy het haar nege maande laas gesien. Dit was ’n moeilie tyd terwyl hy oorsee gewerk het en hulle het gesukkel om ordentlik met mekaar te kommunikeer. Hy het vertel dat vandat hy sy vrou laas gesien het, is hulle eerste baba gebore. Sy vrou bly naby aan haar ouers maar hy het beplan om die huis saggies binne te gaan, met sy eie sleutel, sonder dat sy vrou weet hy is terug. En dan het hy beplan om haar naam in die huis te roep. In sy geestesoog kon hy sien hoe sy met die babaseuntjie in haar arms by die trap afkom. Toe sê hy: “Then sir, I’m going to cry. It takes a man to cry”.
Die gedeelte wat ons gelees het beklemtoon ook die aangrypende ontmoeting tussen Josef en sy broers, die emosies wat by hom opgekom het oor sy pa en al die negatiewe goed wat hy in Egipte beleef het. Om net weer sy mense te kon sien. Ook dat hy uiteindelik uitvind dat sy pa steeds leef. Die trauma en hartseer, maar ook die blydskap en vreugde – en Josef bars in trane uit. Ek dink aan Dawid in die tyd wat hy die nuus oor sy seun se dood ontvang.
Jesus was ook nie skaam om by die graf van sy vriend Lasarus te huil nie. In Hebreërs word gesê: gedurende sy aardse lewe het Hy gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. God sien ook ons trane. Trane van blydskap, hartseer, moedeloosheid, en magteloosheid. Psalm 39:9: “moet tog nie koud staan teenoor my trane nie”.
Die belofte in Openbaring 21:4 is ook waar vir elkeen van sy kinders. “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Solank dit net trane van opregte blydskap, hartseer of berou is.” Die Here ken ons trane, want Hy het ons gemaak.
Mag jy trane van blyskap in hierdie tyd hê. As jy trane van hartseer en pyn het oor ’n geliefde wat nie meer by jou is nie, mag jy genade kry dat die Here jou trane kan afdroog.
Gebed
Here wil U ons trane afdroog, maar dankie ook vir die trane van blydskap, ten spyte van seer en pyn wat soveel gesinne en families beleef het. Sodat ons trane van genesing ook kan hê, omdat Christus Jesus vir ons gebore is. Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 21 Desember 2020
Handelinge 4:20: “Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”
Jare gelede is Robert Ingersol oortuigend verslaan as kandidaat vir die goewerneurskap van die staat, Illinois, in Amerika. Ek het baie aan hom gedink tydens die hele debakel tydens die afgelope presidentsverkiesing in Amerika. Ingersol was ’n bombastiese man wat geen geheim daarvan gemaak het dat hy nie ’n Christen is nie. Kort na sy nederlaag, het hy in ’n kompartement van ’n trein wat vanaf Chicago vertrek het, aan een van sy mede-reisigers gesê: “Noem my een suksesvolle ding wat die Christendom al bereik het?” Die ander reisiger was nie lus vir ’n woordewisseling nie, en het gehuiwer om te antwoord. ’n Bejaarde dame wat agter die ongelowige Ingersol gesit het het toe met ’n bewerige hand aan sy skouer geraak en gesê: “Meneer, ek weet nie wie jy is nie, maar ek kan aan jou een groot prysenswaardige ding noem wat die Christendom reggekry het. Hulle het verhinder dat Robert Ingersol goeweneur van Illinois geword het.” Dit was ’n doodskoot vir Ingersol, en hy het verder nie weer ’n woord gesê nie. Die dame het hom mooi op sy plek gesit.
Daar was ’n tyd wat die statistiek rondom Christene in Suid-Afrika aangedui het dat ons ’n Christelike volk is. Hoeveel Christene vier Kersfees in hierdie tyd? Maar het ons ’n swygende Christendom geword? Dink aan Petrus en Johannes se woorde toe hulle van alle kante af teëstand gekry het – “wat ons betref, dit is onmoontlik om te praat van dit wat ons gesien en gehoor het.” Die briljante Franse wiskundige Blaise Pascal het eeue gelede onbeskaamd die Christendom voor almal wat gedink het dat hulle sonder God kan lewe, verdedig. Tog was hy nie tevrede toe sy suster Jacqueline voltyds tot die Here se diens wou toetree nie. Sy suster het hom so geantwoord: “As jy nie die krag het om my te volg nie, moet jy my minstens nie terughou nie. Wees eerder dankbaar teenoor God vir die genade wat hy betoon het aan iemand wat hy liefhet.” Dié woorde het Pascal se hele lewe verander, en ook van hom ’n kampvegter vir die geloof gemaak. Sien ek en jy kans daarvoor? Is dit wat ons in hierdie Kerstyd met ons sal saamneem?
Gebed
Here, gee vir ons die genade om in hierdie Kerstyd iets te beleef van die gestalte van Christus in hierdie wêreld. Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 20 Desember 2020
Psalm 3:6-7: As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie
Ons is amper klaar met die jaar en is geneig om dié tyd van die jaar saam terug te kyk oor die jaar en dit te evalueer. Dit het my aan die bekende gedig, “Voetspore”, laat dink waar iemand ’n vreemde droom gehad het waar hy en die Here langs die see loop.
Baie van julle sal die gedig goed ken. Agter hulle, kon hy duidelik twee stelle voetspore sien, syne en dié van die Here, maar tog was daar ook ‘n ontstellende verskynsel in sy droom. Op die pad agter hom, was daar soms net een ry voetspore en dit was juis tydens die tye wat dit met hom sleg gegaan het. Daarom het hy vir die Here gesê: Meester, U het my verseker dat indien ek besluit om U te volg, U altyd by my sal bly, maar nou sien ek dat in die tyd toe ek U bitter nodig gehad het, ek alleen moes loop. Daar was net een ry spore, waarom het U my dan toe in die steek gelaat?” Die Here het hom geantwoord: “My kind, ek het jou lief en jy behoort te weet dat Ek jou nooit alleen sal laat nie, dis waarom jy net een ry spore sien. In jou tye van swaarkry en beproewing het Ek jou gedra.”
Miskien as jy terugkyk oor die jaar, het jy ook iewers ’n ervaring gehad dat jy alleen geloop het. Maar as jy mooi kyk, dan sal jy besef dat die Here jou gedra het. Ek dink veral aan Jesus se woorde tydens die bergrede. Dit het seker teen die meeste van sy dissipels se gryn ingegaan. Matteus 5:41: “As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.” ’n Mens kan vir Petrus in sy baard hoor brom toe hy aan die soldate van die Romeinse owerheid gedink het. Dit was mos algemeen bekend dat ’n Romeinse soldaat enige inwoner van ’n besette land kon verplig om sy militêre bagasie vir ’n duisend tree te dra terwyl hy deur die land reis. Vir elke Jood was dit ‘n vernederende opdrag.
Wat het dan van Moses se wet van ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand geword? Maar eintlik wou Jesus vir hulle sê: “Moenie soos ’n slaaf gevul met wrede gedagtes die verpligte afstand loop nie. Doen dit blymoedig en loop selfs verder as wat van jou gevra word.” Later het Jesus die hele lydensweg geloop tot die laaste tree na Golgota, en dit alles net om ons las ligter te maak. Jesus het selfs verder gegaan as om die twee kilometer te loop. Hy het my en jou bagasie op sy skouers geneem. Mag jy dit in hierdie Kerstyd op ‘n besondere manier ondervind, ook wanneer jy oor die jaar terugkyk.
Gebed
Here, soms struikel ons deur die sand of die modder, of die moeilike terrein. Dankie dat U al ons laste, of bagasie wil help dra. Dankie dat U ons in, en deur moeilike tye nie net aan die hand vashou nie, maar ook dra. Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 19 Desember 2020
Johannes 13:35. “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Een van die dinge waaraan almal van ons moeilik gewoond geraak het, is dit die saam saamleef met ’n virus totdat ’n inenting, of teenmiddel ontdek word. Ons weet nie hoe lank dit nog sal voortduur nie, en so het maskers nou deel van ons daaglikse roetine geraak. Ek self het ’n “buff” wat ek om my nek dra, en oor my neus optrek wanneer dit nodig is. My grootste moeilikheid is, die kere wanneer ek iemand in die kafee raakloop wat ek ken, of by die kerk – ’n mens herken nie die mense nie! En dan lyk ’n mens onvriendelik indien jy mense nie groet nie, maar ek sukkel,om mense te herken. Dis amper ’n bevestiging dat ons blind t vir mekaar geword het en mekaar nie meer as mense raak sien nie. Dit gebeur so maklik. Iemand het tereg gesê, dat ons as Christene se grootste taak is om mense van hul naamloosheid te bevry en dat maskers eintlik ’n simbool daarvan is.
Die Beatles se John Lennon en Paul McCarthy, het baie jare gelede ’n populêre lied geskryf waarna baie mense met blink oë geluister het, en dikwels aan hulself gedink het wanneer hulle die woorde gehoor het: “Look at all the lonely people, where do they all come from?” Hoe gelukkig is die mens wat geleer het om ander mense raak te sien? Die Bybel sê in Hebreërs: “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.” Hoe word gelowiges, of Jesus se volgelinge in die wêreld uitgeken? Op ’n uitkenningsparade soek ’n mens na ’n gesig wat jy herken. Net so sê Jesus ’n mens word uitgeken aan een besondere kenmerk: As julle mekaar lief het, sal almal weet dat julle dissipels van My is.
Maar wat is liefde in die praktyk. Liefde is om te sê: Ek is jammer, dit is my fout, ek vergewe jou. Of kom ons vergeet daarvan, ek respekteer jou opinie. Stel gerus jou saak, ek luister, praat jy. Ek soek ook saam met jou na ’n oplossing, nie na ’n oorwinning vir my nie. Ek stel die persoon bo die saak.
Paul Tournier skryf oor ’n pasiënt wat hy in die siekeboeg moes besoek en na ’n rukkie het hy moedeloos gesê: “Skakel asb die televisie af, sodat ek na die pasiënt se hartklop kan luister. ’n Gelukkige mens is een wat in ons gejaag en raserige tyd die hartklop van sy medemens kan hoor.
’n Hartklop wat praat van eensaamheid, pyn en kommer. Maar ook van blydskap. Ons deel al die kante van die lewe met mekaar. Voorspoed en teëspoed. Maar om dan ook iets daaraan te doen. Ware liefde wil nie net ontvang nie, maar ook gee, opoffer, dien en dis wat Christus ook kom doen het. Dit was Christus se liefde, ook onselfsugtige liefde wat eerste na ’n verlore wêreld se belange gekyk het.
Gebed
Here, dankie dat U mens geword het vir ons. Dat U onder ons kom woon het, en dat U, u Heilige Gees gestuur het, dat ons nie alleen hoef te wees nie. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 18 Desember 2020
Markus 2:3-5. “Daar kom toe mense wat ‘n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. 4. Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle ’n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. 5. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!””
Die Switserse, geneeskundige Paul Tournier, vertel in een van sy boeke van twee vroue wat oor eensaamheid by hom gekla het. Die een, ‘n ongetroude middeljarige vroue het aan hom gesê dat sy voel asof sy haarself alleen op ’n stasieperon bevind. Die ander vrou wat baie jare getroud was, het weer gesê sy sien haarself soos ’n goudvis in ’n glasbak wat al in die rondte beweeg. Hoe sleg is dit? Hoe treurig kan ’n mens se lewe tog wees as ons so ’n ervaring het, selfs binne ’n huwelik. Die ervaring dat ons nie mense het wat vir ons omgee nie, en dat ons alleen is, is baie negatief. Selfs wanneer ons tussen mense is.
Ons beweeg nader aan die Kersgety waar mense saam is. Miskien is jy saam met jou familie, of het jy herinneringe van hierdie saamwees? ’n Mens hoef nie noodwendig fisies saam met mense te wees nie. Tussen mense kan jy ook selfs eensaam voel en al is jy ver, hoef jy nie noodwendig eensaam te wees nie. Die verhaal van die verlamde man in Kapernaum wat na Jesus toe gebring word, waarvan ons in Markus 2 lees, is aangrypend.
Die verlamde man se familie en vriende het baie vir hom opgeoffer en dit is wat die verhaal aangrypend maak. Hulle het hom omring met hulle liefde en ondersteuning. Ons het so ’n paar Sondae terug, oor Maria Magdalena gesels. Maria wat ook deel was van die groep vroue (Lukas 8:3) wat vir Jesus en sy twaalf dissipels uit hulle eie middelle versorg het en ’n pad met hulle geloop het. Is die liefde van dierbares, ’n maat, ’n goeie vriend/vriendin, ouers, kinders en almal wat in my en jou belangstel nie genoeg om ons gelukkig te maak en met dankbaarheid te vul nie?
Mense wat vir jou omgee, maar in die besonder vir wie jy ook omgee en in wie se lewe jy ook ’n verskil maak? ’n Mens raak raak so dikwels gewoond aan die steun van ’n lewensmaat, die opoffering van ’n ouer, die liefde van ’n kind, of die opregte belangstelling van ’n vriend. Kerstyd is ’n tyd van saamwees, waar ons opnuut kan dink en besin oor die mense wat vir ons omgee, en aan wie ons op een of ander manier verbind is. Vandag by die huis, of by ’n vakansieplek, of waar jy ook al in hierdie Kerstyd gaan wees, wees dankbaar dat daar mense is wat vir jou lief is en vir die voorreg dat jy ook aan hulle liefde kan uitdeel.
In dié tyd of in tye wat jy nie by jou geliefde is nie, is dit juis weer ’n tyd om daarop te fokus. ’n Mens kan dikwels in groepe wees, maar jy kan alleen voel, soos ek in die begin verduidelik het. Ek en jy hoef nie te voel soos ’n eensame mens op die stasieperon nie. Christus wil juis vir ons, deur sy Gees van eensaamheid verlos. Hy het al die dakplate wat ons van God skei, verwyder. Nou kan niks ons van sy liefde skei nie.
Gebed:
Dankie vir die kind in die krip, wat in die wêreld deur die dakplate en plafon gebreek het, om vir ons ’n vriend te gee, watter vriend het ons nie in Jesus nie. Hy wat in ons plek kom staan.
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 17 Desember 2020
Hebreërs 12:2: “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.”
Mense sê dikwels ’n mens moenie ’n goeie storie met feite bederf nie, maar ek het die storie wat êrens op die platteland afgespeel het gehoor en die dame wat dit oorvertel het, het dit met groot sorg gedoen. ’n Jong ma het blykbaar op en af langs die rugbyveld gehardloop om die plaaslike rugbyspan en veral haar seun wat vleuel gespeel het, aan te moedig om ’n drie te druk. Ons moet darem onthou dat op daardie ouderdom is die manne geneig om net die bal onder die arm te druk en dan so vinnig moontlik te hardloop, soms in die verkeerde rigting in. So het klein Jannie toe ook die bal onder sy arm vas geknyp, op sy tande gekners en laat spaander om die drie te gaan druk. Sy ma het langs die veld af gehardloop terwyl sy skree: “Hol, Jannie”. Ongelukkig het Jannie net voor die doellyn oor sy eie voete gestruikel en die bal het uit sy hande gespat, en dis toe dat Jannie se ma systap, die bal optel en netjies agter die doellyn gaan druk! Ek is nie doodseker of die storie waar is nie, maar dit is ’n bewys waartoe passie, entoesiasme, ondersteuning en totale betrokkenheid ’n mens in staat kan stel.
Ek het gedink hier waar die jaar nou einde se kant toe staan is dit miskien wat ons vandag in ons land ook nodig het, te midde van die swartgalligheid en die pessimisme wat op so baie mense, oud en jonk, toesak. Ek wil nou nie praat oor die negatiewe dinge in ons land nie, en hoe ’n mens eintlik die gevoel kry dat ons nou begis is om die bal te verloor nie.
Iemand wat ’n tyd gelede deur die Afrikalande getoer het, het onder die indruk gekom van hoe vriendelik en gasvry die mense is. Toe hy vir iemand vra, as ek reg onthou wat in Malawi gewoon het, hoekom hulle so vriendelik is, het die man vir hom geantwoord: “Het U nie geweet dat ons hier Christene is nie?” Is ons nie ook gelowiges nie? Jesus het vir sy dissipels gesê in Johannes 10:9 “Ek het gekom dat julle die lewe kan hê in oorvloed.” Maar dit beteken nie altyd dat alles altyd reg moet loop nie. Die vraag is of ons iets van die oorvloed in ons eie lewens demonstreer? Kom ons span saam en tel die bal op. Ons moet die bal gryp en die drie gaan druk soos Hebreërs 12:3: “Met die oog gevestig op Jesus.” Kom ons laat onsself nie toe om so negatief beïnvloed te word deur baie ander dinge nie. Ons moet ook die simboliese drie in ons eie omstandighede gaan druk.
Gebed
Here help vir ons om ons nie negatief te laat beïnvloed deur dit wat ons in die koerante of in die media lees nie, maar dat ons eerder ons oë op Jesus Christus, gevestig sal hou, die begin en die einde van die geloof. Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 16 Desember
Filippense 4:13 Vir al hierdie dinge sien ek kans, omdat Christus my die krag daarvoor gee.
Ek het gewonder wat my invalshoek vanoggend moet wees. Ons kan oor versoening en die situasie in ons land praat, maar na aanleiding van Fillippense 4 het ek besluit dat ek graag wil sê dat een mens kan ’n verskil maak. Ons kan baie praat oor wat op politieke vlak moet gebeur en watter rol politieke leiers moet speel, maar uiteindelik moet ons onsself af vra of ons bereid is om self ‘n verandering in ons land te maak. Is jy bereid om in jou huis, straat, woonbuurt, stad, dalk ‘n plaas of werkomgewing ’n verskil te maak.
Tydens die Krimoorlog was duisende soldate beseer en gewond en hulle is destyds onversorg en aan hulle eie lot sonder verpleging oorgelaat. Toe het een mens, Florence Nightingale in 1854 saam met ‘n groep verpleegsters na Skutari vertrek om die nood van die lydendes te gaan verlig. Koningin Victoria het later aan haar ‘n borsspeld gestuur met die woorde geseënd is die sagmoediges op gegrafeer. Daar word vertel dat ’n sterwende soldaat vir haar gefluister het – Jy is my Christus. ‘n Ander naam wat by ‘n mens opkom wat op soortgelyke wyse ’n verskil gemaak het, is Moeder Theresa. Ons hoef nie almal ‘n moeder Theresa of Florende Nightingale te wees nie. In ons land is daar talle mense wat in armoede gedompel is. In die Oos-Kaap is die werkloosheidsyfer tans meer as 46% en die media het onlang weergegee dat geld vir behuising heelwat verminder is. Wat doen ons om ‘n verskil te maak en mense se nood te verlig?
Wanneer ‘n mens deur die Bybel blaai besef ‘n mens dat in talle krisisse was dit gewoonlik een mens wat ‘n verskil gemaak het. Dink aan Noag, Moses, Esther, Daniël, Johannes die Doper, Petrus en Paulus. Moenie die heldedaad van Paulus se nefie in Handelinge 23:16 vergeet nie. Onthou veral die eensame man van Nasaret wie se reddingsdaad die lot van alle mense verander het. In ‘n komplekse land soos ons s’n verwag die Here dit van ons om ‘n verskil te maak. Maar ons moet dan om ons kyk en die mense om ons raak sien en nie net aanhou hemel toe kyk nie.
Soos Moeder Theresa aan iemand gesê het: “Find you’re own Kolkata.”
Die aanhaling van Edward Everett Hale: “I am only one, but still I am one. I can not do everything, but still I can do something and because I can not do everything, I will not refuse to do something that I can do.”
Ek sal in ander woorde nie teëstribbel, of weier om dit te doen wat ek moet, of kan doen nie. Veral daar in my en jou eie Kolkata en dit is oral om ons. Mag die Here vir my en jou die genade en die gees van versoeining gee om prakties en aktief aan sy genade gestalte te gee.
Gebed
Here help ons om hierdie verskil te maak. Ons besef ons is net individue en dat ons nie alles kan doen nie, maar dat ons iets kan doen. Gee ons die genade om die versil te maak waar u ons ook al plaas.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 15 Desember 2020
Lukas 1:32-33.” Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
Ons Jesus is die Koning van die wêreld. Maar Hy moes Sy hemelse koninklike heerlikheid aflê en ’n slaaf word t.w.v. van sondaars. Hoewel Jesus ’n koning is, is Hy in ’n nederige stal gebore. Hy het nie in ’n koninklike troonsaal as babaseuntjie gelê nie. Hy is in doeke toegedraai en het in diere se voerbak gelê. Die huis waarin Hy groot geword het was nie ’n paleis nie en hy was die Seun van ’n timmerman.
Dwarsdeur sy aardse lewe was Hy ook nooit as ’n Koning behandel nie. Hy moes van kleintyd af al vir Sy lewe vlug. In die stofstrate van klein dorpies het Hy rondgestap. Hy het nie in ’n blink koets rondgery nie en is nie deur duisende lyfwagte beskerm, of deur honderde slawe bedien nie. Nooit het Jesus as Koning, koninklike klere van goud en purper gedra nie. Herodes het wel vir Jesus ’n koninklike kleed aangetrek, maar dit was meer om sy totale minagting vir Hom uit te beeld. Die soldate dryf die spot verder deur vir ’n doringkroon op Jesus se kop te plaas. En die spot word oor die hele wêreld gehoor:”Is dit hoe ’n koning lyk?”
Die gevaar bestaan dat ons so deurdrenk word met die wêreldse denke en standaarde van wat koninklik is, en van wat of wie sosiale eer en status verdien. Ons kan so met die nabootsings en karikature van ons tyd gebreinspoel raak, dat ons nie meer raaksien dat Jesus ons Koning is nie, en dat ons juis nou ’n Koning so broodnodig het nie!
GEBED
Here, Jesus, ons loof U! Jesus, ons prys U!
Laat ons met eng’le ’n loflied sing −
nie meer verlore; U is gebore!
Ontvang die dank wat ons U bring!
Jesus, ons loof U! Jesus, ons prys U!
Neem U ons harte en maak dit rein
dat ons, gelowig, U dien met liefde −
ontvang die lof van kinders klein. Amen.