GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Sondag 3 Januarie 2021

Psalm 91:15. “Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.”

Ons word geleer dat deel van volwassenheid beteken dat ons beheer oor die emosies wat in ons leef moet uitoefen. Dit is beslis so dat lewenservaring ons help om nie altyd die bobbejaan agter die berg te gaan haal,  of ’n berg van ’n molshoop te maak nie. Tog, is dit egter ook nie ’n geval dat hierdie emosies skielik net met volwassenheid verdwyn nie. Ons steek hulle miskien net beter weg. ’n Belangrike aspek van geloofsvolwassenheid is die vermoë om soos ’n kind met vrymoedigheid na God te gaan. Dit is waaraan die teks ons vandag herinner. Wat is die rou gevoelens wat in jou leef? Kan jy dit vandag op ’n eenvoudige maar reguit manier vir die Here kom gee?

Gebed

God bo my en onder my en agter my en voor my; in my en om my; God oral en êrens; somtyds en altyd. God gister en môre en eendag. God hier by my nou. Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 2 Januarie 2021

Deuteronomium 31:8. “Die Here sal voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”

Godsdiens en God word dikwels deur mense beskryf as ’n illusie, omdat dit nie tasbaar en toetsbaar is soos die feite en wette van die wetenskap nie. Daar is altyd ’n argument om God se teenwoordigheid nietig te verklaar en dit eerder aan blote natuurlike prosesse toe te skryf. Hoe kan jy op iemand vertrou wat jy nog nooit gesien het nie? Met die woorde van vandag se teks neem Moses van die volk afskeid as hy hulle die onbekende instuur. Hy het God enkele kere op ’n besondere manier ontmoet, maar het die grootste deel daarvan geleef in die geloof dat God in die gewone van alles wat met hom gebeur by hom is. Voel jy ver van God omdat jy lanklaas iets van God se teenwoordigheid beleef het?

Gebed

O Here, my God, wys my tog hoe en waar my hart U moet soek; waar en hoe ek U kan vind. Heer, as U afwesig is, hoe moet ek U dan soek, en wat moet ek doen met my gemoed? As U orals is, moet U mos hier ook wees? Wys my dan nou hoe ek U moet benader. Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 1 Januarie 2021

Psalm 5:3-4.  “Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God. U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.”

Die Here is deurentyd by ons en ons kan in elke oomblik van die dag in hierdie bewussyn leef, en daar is waarde daarin om jou vir ’n oomblik in die dag aan die wêreld te onttrek en op God te fokus. Dit is die insig wat ons teksgedeelte vandag met ons deel. Ons staan elke oggend op met ’n lys gedagtes van wat vandag moet gebeur en probeer so vinnig moontlik daarby uitkom om die rus te kan beleef van werk wat afgehandel is. Tog is daar ’n ander manier om hierdie eerste dag van 2021 in te gaan.  Met die belofte van rus van die begin af. Wat ook al vandag en die komende jaar op jou wag – die Here sal by jou wees. Raak bewus daarvan dat Hy op ’n besondere wyse in jou gedagtes, deur mense en gebeure saam met jou deur die jaar gaan stap. Vier dit nou in hierdie stil oomblik van ’n nuwe jaar.

Gebed

Here God, ek het vanmôre vreugde in die lewe; ek dank U vir hierdie nuwe dag. Ek gooi my vreugde in die lug op – soos die voëls, want die nag het weggefladder, en ek verheug my oor die lig van ’n nuwe dag en jaar.  U son het die dou weggebrand van die gras en die donker uit my hart verdryf.  Daarom is die woorde wat vanoggend uit my mond kom, net vreugde en dank.

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 31 Desember 2020

Kolosense 3:1-3.  “Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.”

Ons laat ons maklik onderkry deur hedendaagse gebeure wat deur die nuus beskryf word, maar nie eintlik ons lewens prakties aanraak, of verander nie. Dit verander wel ons geestlike ingesteldheid en maak ons baie skepties oor waarheen dinge in die wêreld op pad is. Dit haak dan maklik aan ’n persepsie van ’n wêreld wat toenemend boos is en alles wat iewers in die toekoms in duie gaan stort.  Ons teksgedeelte moedig ons aan tot ’n meer positiewe en opbouende lewensingesteldheid rakende ons aardse realiteite. God heers en regeer  vandag bo ons begrip en verstand en hierdie geloof stel ons in staat om te midde van chaos en onsekerheid betekenisvolle lewens te leef.  Wanneer ons “strewe na die dinge wat daarbo is”, kry die aarde lewe juis vir ons nuwe betekenis. Watter negatiewe gedagtes oor die hede en toekoms is besig om oor jou die oorhand te kry? Sien dit vanuit die perspektief dat God het reeds die oorwinning behaal en laat dit jou siening oor die nuwe jaar wat voorlê verander.

Gebed

Met die asem van u Gees, o God, reinig U die hart en die denke van u kinders; troos U die wat treur; lei U hulle terug wat afgedwaal het; verwarm U met u liefde die harte wat koud geword het, bind U hulle wat verdeeld geraak het, weer saam.  Skenk ons nou in hierdie laaste oomblikke van die ou jaar lig sodat ons daarmee in ons, en voor ons, deur hierdie wêreld mag gaan sonder om te struikel of af te dwaal.

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 30 Desember 2020

Hebreërs 13:7-8.  “Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”

Hierdie teks vat my ver terug na vakansies toe ons by Oupa en Ouma gekuier het. Daar was altyd vaste roetines. Ouma wat soggens deeg knie vir beskuit, middae se kaartspeel en saans se boekevat wanneer Oupa uit die Bybel lees. Ek het nie veel van wat Oupa uit die Bybel gelees het verstaan nie, maar wel besef dat hulle toewyding om uit die Bybel te lees baie te doen gehad het met die besondere mense wat hulle was. Dieselfde Here wat hulle geïnspireer het, is vandag by ons en die mense wat die Here aan ons gegee het speel hierin ’n belangrike rol.  Neem vandag die tyd om vir die Here dankie te sê vir mense wat ’n besondere rol in jou eie lewe gespeel het en wie se geloof jou eie lewe gevorm het.

Gebed

Here, as ek stil raak en my dierbares voor U kom noem, spoel so baie herinneringe deur my. Dankie vir hulle wat nie meer daar is nie, maar wat my lewe so spesiaal gemaak het. Dankie dat ek hulle gedagtenis kan eer en in hulle lewe u teenwoordigheid kon herken. Dankie dat hulle my  liefgehad en gedra het. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 29 Desember 2020

Jakobus 1:2-3: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.”

Was dit vir jou ook ‘n moeilike jaar?

2020 sal altyd bekendstaan as die jaar met baie uitdagings en ongekende krisis situasies. Daar kan in dié verband maar slegs na die Covid-19-pandemie verwys word asook die droogte wat groot dele van ons land lam gelê het.  Miskien was dit ook persoonlik vir elkeen van ons ’n jaar met baie beproewinge en uitdagings.

Oswald Chambers het per geleentheid oor uitdagings en beproewinge gesê: “Trails are God’s vote of confidence in us”. Dit is asof God deur sulke beproewinge ons wortelsisteem, wat ons vashou en sterker maak, ontwikkel. Dit is baie keer die manier waarop Hy karakter in ons ontwikkel.

Ek lees van ’n man wat per geleentheid ’n vlinder wat besig was om uit sy kokon te ontsnap, of gebore moes word, gesit en dophou het. Die vlinder het verskeie ure probeer om uit te kom, en het toe skielik gestop. Dit kon net nie verder nie. Die man het besluit om die vlinder by te staan deur die gaping van die kokon effens oop te sny sodat dit groter is, en die vlinder so in staat te stel om homself te bevry.  Min het hy geweet, dat hierdie goedhartige poging die vlinder se doodsvonnis sou wees. Want toe die vlinder die kokon ontsnap, was dit nog nie volledig ontwikkel nie. Die vlinder se lyf was geswel, en sy vlerke nog onder ontwikkel. Die beperking van die kokon wat nie kon oopgaan nie, was die natuur se manier om hom eers vas te hou sodat bloed na sy vlerke beweeg om so die swelsel van die lyf te laat sak. Ongelukkig het die vrye vlinder nie ver gekom voor dit dood is nie.

Baie keer gebeur dit ook dat uitdagings en beproewinge juis dit is wat ons nodig het in ons lewe. Inperking, terughou, of watter uitdaging ook al, kan dalk dit wees wat ons help ontwikkel om voorbereid te raak vir ’n volgende situasie. Jakobus maak dit ook duidelik in hierdie gedeelte dat die lewe dikwels baie  beproewinge oor ons pad bring juis om ons ’n sterker karakter te gee, wat tot groter volwassenheid lei.

As God ons toegelaat het om sonder sulke struikelblokke of beproewinge deur die lewe te laat gaan, sou dit ons dalk kreupel gelaat het. Sou ons dalk nie so sterk kon gewees het, soos ons moes gewees het nie. Ons sou nooit kon vlieg nie.

Gebed

Here, ek wil graag anders dink oor al die beproewinge en moeilike tye wat oor my pad kom. Help my om daardeur te leef, dit te aanvaar, en te weet dat dit manière is waarop U my wil help om te ontwikkel en te volhard. Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Maandag 28 Desember 2020

Efesiërs 5:15 en 16.Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd.”

Met die jaar 2020 wat nou vinnig tot sy einde kom, is elkeen van ons seker besig met die vraag: “Het ons die beste gebruik gemaak van elke geleentheid wat  hierdie jaar oor ons pad gebring het? Het ons voluit gelewe deur geleenthede aan te gryp, of het ons in ’n hoekie gaan sit met selfbejammering en gekyk hoe die lewe voor ons afspeel?”

Ek het al met ’n vorige dagstukkie gemeld, dat my beste vriend onlangs oorlede is. Jare terug het hy ’n baie slegte tyding van die dokter ontvang rakende sy gesondheid. (Hy is later aan ’n heeltemal ander oorsaak oorlede). Die dokter het aangedui dat my vriend ongeveer twee jaar oor het om te lewe. Terwyl hy terugry huis toe om die nuus met sy vrou en kinders te deel, het hy besluit hy gaan voluit lewe tot die dag wat hy doodgaan. Die dokter het vir hom gesê hy is terminaal siek, maar hy het besluit hy is terminaal gesond. (Dit is sy eie woorde en omskrywing). Dit het so ’n obsessie by hom geword dat hy later ’n boek daaroor geskryf het: “Terminaal gesond!” Omdat ek baie saam met hom gereis het, weet ek hoe hy die lewe en elke geleentheid aangegryp het om voluit te leef en tot die uiterste te geniet.

Orwille Kelly, het ook so die slegte nuus gekry dat hy besig is om te sterf aan ’n aggressiewe kanker en dat hy volgens die dokter twee jaar oor het om te lewe. Nadat hy die nuus met sy vrou en kinders gedeel het, en baie daaroor gehuil het, het hulle besluit om ’n groot partytjie te hou. Hulle het toe al die mense uitgenooi vir wie hulle die meeste omgegee het en dit was ’n groot feesviering!  Die gaste het nie geweet wat die rede vir die partytjie is nie, totdat Orwille opgestaan het en in ’n toespraak vir hulle gesê het: “Julle wonder seker waaroor ek julle hier bymekaar geroep het vir hierdie partytjie. Wel, dit is ’n kanker-partytjie! Die dokter het vir my gesê ek het terminale kanker. Ek en my vrou het besluit om ’n nuwe organisasie te begin, dit word genoem: M.T.C (Make Today Count) en julle is almal genooi om lede van die organisasie te word.”

M.T.C het drasties gegroei en Orwille het ’n nuwe waardering vir die res van sy lewe ontwikkel en het ook oral oor sy land vir mense vertel om die meeste te maak van die beperkte tyd wat hulle gehad het.

Hoe maak ons vandag die beste gebruik van elke geleentheid? Is daar dalk onafgehandelde besigheid in jou lewe, of die noodsaak om iets vir iemand te sê, of om iemand te gaan vergewe, of gewoon net juigend te wees oor die dag van vandag. Maak jy soos Paulus sê, die beste gebruik van elke geleentheid?

Gebed

Here, ek kies om vandag aan te gryp en die beste daarvan te maak. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Sondag 27 Desember 2020

Prediker 3:13: “Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God.”

Wat maak regtig saak in die lewe? Sal ons ooit genoeg hê, en sal die goed wat ons met moeite en verdriet bymekaar maak, regtig vir ons vreugde en ’n vol lewe gee?

’n Boot het eenmaal aangedoen by ’n klein Thaise dorpie. ’n Amerikaanse toeris het die Thaise visserman gekomplimenteer oor die kwaliteit van sy vis, en vir hom gevra hoe lank dit hom geneem het om die vis te vang? “Nie baie lank nie” het die man geantwoord. “Maar hoekom het jy dan nie nog langer op die boot gebly en nog meer visse gevang nie?” het die Amerikaner gevra. Die visserman het toe verduidelik dat sy klein vangs genoeg was om aan sy behoeftes te voldoen en ook aan dié van sy familie.

Die Amerikaner het hom toe gevra: “Maar wat doen jy met die res van jou tyd?” “Ek slaap laat in die oggende, vang ’n bietjie vis, speel met my kinders, vat ’n siesta saam met my vrou, saans kuier ek saam met my vriende en speel kitaar. Ek het ‘n vol lewe!”

Die Amerikaner onderbreek hom toe, “Ek het ’n MBA aan die Harvard Universiteit behaal, en ek sal jou help! Jy moet begin deur elke dag langer vis te vang.  Dan kan jy die ekstra vis verkoop en met die ekstra inkomste sal jy vir jou ’n groter boot kan koop”. “En na dit?” vra die Thaise visserman. “Met die ekstra geld, en die groter boot kan jy dan jou vloot van bote uitbrei en in plaas daarvan dat jy jou vis aan ’n middelman verkoop kan jy direk met die fabriek onderhandel om dit aan hulle te verkoop. Jy kan dan hierdie klein dorpie verlaat en in die hoofstad gaan bly. Van daar kan jy ’n groot onderneming ontwikkel en bestuur.”

“Hoe lank sal dit neem?” het die visserman gevra. “20, miskien tot 25 jaar” het die Amerikaner geantwoord. “En na dit? As ek dit alles het, wat dan?” “Wel, dan kan jy begin om aandele te koop en te verkoop en miljoene dollars te maak.” “Miljoene? Regtig? En dan na dit?” vra die visserman weer. “Na dit, sal jy in staat wees om te kan aftree en in ’n mooi, klein dorpie naby die see te kan bly, laat te slaap, met jou kinders te speel, ‘n paar visse te vang, ’n siesta saam met jou vrou te neem en jou aande saam met jou vriende deur te bring.”

Hierdie is nie ’n aanmoediging om lui te wees en nie te werk nie, maar verseker ’n les in waardes en prioriteite. Om ons te laat dink oor wat werklik saak maak, en om te doen wat ons elke dag doen. Tevredenheid moet ’n oorheersende woord in ons woordeskat word.

Gebed:

Here, leer my om elke dag te waardeer wat ek het, en om nie altyd na die groter dinge te streef nie. Help  my om my geluk te vind in wat ek het, ’n tevredenheid met dit wat U vir my gegee het. Amen.

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 26 Desember 2020

Jesaja 53:2. “Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie”.

Dit is ’n dag na Kersfees, en ek vertrou dat julle ook ’n wonderlike dag en feestyd saam met geliefdes en vriende beleef het.

Tydens ’n Oukersdag, lank gelede, het ’n ou skoenmaker gedroom dat Jesus hom die volgende dag sou besoek. Die droom was so duidelik, dat hy oortuig daarvan was dat dit waar sou word. Die volgende oggend het hy vroeg en opgewonde opgestaan om te wag vir Jesus se koms.

’n Ou man was sy eerste besoeker, wat skuiling kom soek het teen die winterkoue. Die skoenmaker het na sy winkelrak toe gegaan en vir die ou man ’n paar nuwe skoene gegee en hom vriendelik gegroet. Toe kom daar ’n honger ou vrou in, en hy het gou ontdek dat sy vir dae lank geen kos gehad het om te eet nie. Hy gee toe vir haar ’n heerlike maaltyd voordat hy haar groet en wegstuur. Maar steeds het Jesus nie gekom nie.

Toe hoor hy iemand buite in die straat voor sy winkel huil. Toe hy uitgaan, sien hy dat dit ‘n klein seuntjie is wat verlore geraak het. Die skoenmaker het sy jas aangetrek en die seuntjie na sy ouers geneem. Teen die einde van die dag, toe dit tyd was om sy winkel te sluit, het hy uitgeroep: “O Here Jesus, hoekom het U toe nie gekom nie?” En toe in ’n oomblik van stilte, hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “O skoenmaker, wees gerus!  Ek het by My woord gehou.  Drie keer het ek aan jou winkel se deur geklop, drie keer het jy my vriendelik verwelkom en My gehelp.  Ek was die man met die stukkende skoene.  Ek was die vrou wat honger was, en jy het vir My iets gegee om te eet. Ek was die verlore seun in die straat voor jou winkel”.

Jesus het inderdaad gekom.  Die skoenmaker het Hom net nie herken nie.  Ons weet ook dat Jesus as ’n byna vreemde, arm, hulpelose figuur na hierdie wêreld gekom het.  Hy was nie ’n prins of ’n heerser wat in prag en praal geheers het nie.  Hy was eenvoudig met ’n voorkoms wat niemand twee keer na Hom sou laat kyk het nie.

Moeder Teresa het haar eie gawe beskryf as die gawe om Jesus te midde van die haglikste omstandighede raak te sien. Mag God ons ook help om Hom ter alle tye te herken. Veral oor hoe ons teenoor noodbehoewendes optree.  Hyself het ons immers  in Matteus 25 gewaarsku: “Wat jy ookal aan die geringste van hierdie doen, doen jy ook aan My.

Gebed: Here, help my om U werklik in alles om my te herken, en dat ek dan in geloof en met aksie daarop sal reageer. Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 25 Desember 2020

Lukas 1:47: “Ek juig oor God, my Verlosser!

Dit is Kerfees 2020!  Baie, baie geseënde Kersfees vir elkeen van julle. Dit is ook my gebed dat vandag vir julle ’n vreugdevolle fees sal wees in die teenwoordigheid van geliefdes naby julle, maar veral in die teenwoordigheid van die drie-enige God.

As ons vandag die vreugde van Kersfees ervaar, is dit so belangrik om weer terug te kom na die ware vreugde van ons verlossing in Jesus Christus. Nie almal is vandag baie opgewonde oor Kersfees nie. Vir party is dit ’n droewige tyd omdat daar in die afgelope jaar baie verliese was. Vir diegene is dit dan eintlik ’n donker dag, en ’n donker Kersfees, en ons harte gaan regtig uit na sulkes.  Ander is weer pessimisties oor hoe die wêreld lyk en bekommerd oor waarheen die wêreld gaan!  “Waarby het die wêreld aangekom?”

Stanley Jones, het ’n baie positiewe stelling gemaak in 1842 in ’n dagstukkie in sy boek, Abandoned Living. “The early Christians did not say in dismay: ‘look what the world has come to!’ But in the light: ‘Look what has come to the world!’ They did not see merely the ruin, but the Resource for the reconstruction of that ruin. They have seen not merely that sin did not abound, but that grace did much more abound. On that assurance, the pivot of history, swung from blank dispair, loss of moral nerve, and fatalism to faith and confidence that at least sin has met its match.”

Mag ons vandag seëvier in ons verlossing in Christus. En as ons vandag die geskenke oopmaak en uiteindelik die geskenkpapier weggooi, kom ons dink daaraan dat indien ons grootste behoefte informasie was, dan sou God vir ons ’n opvoeder  gestuur het. As ons grootste behoefte tegnologie was, dan sou God vir ons ’n wetenskaplike gestuur het. As ons grootste behoefte geld was, sou God vir ons ’n ekonoom gestuur het. As ons grootste nood en behoefte plesier was, sou God vir ons ’n vermaaklikheidskunstenaar gestuur het. Ons grootste behoefte en nood was egter vergifnis, en daarom het God vir ons ’n Verlosser gestuur.

Gebed: O Here, op Kersdag 2020 dank ons U vir die Verlosser wat vir ons gebore is. Dankie dat ons ook kan uitroep: “Ek juig oor God, my verlosser!”. Dankie dat U gekom het om elkeen van ons se sonde te vergewe. Amen.

 

 

1 117 118 119 128