Gedagte vir die dag | Woensdag 13 Januarie 2021
1 Korintiërs 15:85. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.
1 Korintiërs 4:1. So moet julle ons dan sien: ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is.
Van ’n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees. In 1698 het dr. Robert South, daarin geslaag om ’n hele gemeente aan die slaap te preek. Dit is deesdae seker makliker om aan die slaap te raak terwyl jy na ’n preek op ’n selfoon, of rekenaar kyk, maar dit kan in die kerk ook gebeur. In dr. South se kerk, was die koning van Engeland boonop met die geleentheid ook in die kerk. Daar word beweer dat dr. South op ’n stadium sy eie preek onderbreek het en gesê het: “Lord Lauderdale word asseblief wakker, u snork so hard dat u die koning sal wakker maak”.
Dit was ’n baie bedagsame predikant, maar ongelukkig kan ons niks meer positief van hom sê nie, om van die gemeente nie eers te praat nie. ’n Mens kan maar sê hulle was ’n “slapende gemeente.” Daar is ’n ander storie van ’n predikant wat gedroom het hy preek, en toe hy wakker skrik het hy agtergekom hy preek regtig!
Ons lees van ’n ander gemeente, die eerste gemeente in Jerusalem. Nadat Paulus sy preek op Pinksterdag gepreek het, lees ons in Handling 2:37 “Is hulle diep in die hart getref,” en het hulle vir Petrus en die apostels gesê: “Wat moet ons doen”? Na die preek is omtrent 3 000 siele by die gemeente bygevoeg. En wanneer daar later na die gemeente verwys word, word woorde gebruik soos blydskap, volharding, gemeenskap, gebede, eenvoudigheid van hart. Handelinge 2:46-47 “Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”
Ons beweeg in ’n tyd waarin kerke en gemeentes opnuut gedefinieer moet word, veral tydens die Covid-19-pandemie. Ons predikante praat baie hieroor, en dis eintlik ’n gesprek wat gereeld in die kerkraadvergaderings plaasvind – hoe en op watter manier moet die geloofsgemeenskap, en in besonder ons Stellenberg- gemeenskap, onsself inrig en hoe herdefinieer ons die kerk? Hoe kry die gemeente van Jesus Christus vandag gestalte – in ’n nuwe tyd, met verandere omstandighede?
Die Duitse Teoloog, Hans Küng, sê dat Jesus hom vereenselwig het met armes en ellendiges. Maar ook met Samaritane, prostitute, tollenaars, melaatses en gewone mense. Muggeridge skryf van ’n gesprek tussen ’n Russiese pa en sy seun by Lenin se graf op die Rooiplein in Moskou: “Pa, wat is dit?” het die seun gevra. “Dit is Lenon se graf my seun,” antwoord die pa. “Wat is Lenin?” vra hy, en die pa antwoord: “Lenin is ons graf my seun.”
Vir die Christen is Jesus se oop graf sy lewe. Dieselfde Hans Küng, verklaar in sy boek, “Hoe om ’n Christen te wees”, hierdie boek is nie geskryf omdat die skrywer dink dat hy ’n “goeie” Christen is nie, maar omdat hy dink dat om ’n Christen te wees, ’n goeie ding is.
Laat dit die fokus van ons geloofslewe en ons werk in hierdie jaar wees. Dat ons “wakker” Christene, “wakker” gelowiges sal wees wat die werk en die wêreld verander. Wat ’n nuwe gestalte aan ’n geloofsgemeenskap gee.
Gebed:
Here gee vir ons die genade om nie slaperig en aan die slaap te wees nie, maar elkeen ons rol in die geloofsgemeenskap en in die markplein te vind. Dankie vir die genade en vir die gestalte van U gees in elkeen se lewe, om daarop en op ’n nuwe manier gestalte te gee. Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 12 Januarie 2021
Markus 6:37 & 38. Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?”
Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf brode, en twee visse.”
As ’n mens die verhaal vir die eerste keer lees, dan dink jy dit is ’n ongelooflike storie. En dan bedoel ons met ongelooflik eintlik ongeloofwaardig, want dink nou net vir jouself in – vyf broodjies en twee vissies moes aan baie meer as 5000 mense voorsien. Wat hier gebeur het was ’n wonderwerk, ’n geloofwaardig en wonderlike wonderwerk. ’n Wonderwerk uit die hemel uit.
Dit konfronteer ons met die vraag: Wat is ek bereid om tot die Here se beskikking en vir sy gebruik, te stel? Dit wat ek kan bring is wat Jesus kan gebruik. Ons het dalk nie veel om te bied nie, maar Hy gebruik dit wat ons bring. Daar is geen perke aan wat Jesus kan doen met dit wat ons vir Hom bring nie. Jesus neem hier wat ’n klein seuntjie bied om hierdie wonderwerk van die vermeerdering van die brood en vissies te laat plaasvind.
Waarskynlik wou Jesus nie net hier die geloof en vertroue van sy dissipels versterk nie, maar ook aan die skare toon dat Hy die eenvoudige bydrae van ’n klein seuntjie kan gebruik om sy werk te doen en sy Koninkryk te laat kom. In Jesus se hande word ’n seun se eenvoudige inhoud van ’n piekniekmandjie ’n magtige instrument.
Daarom vra Hy ook vir jou en my om dit wat ons het na Hom te bring, sodat Hy dit kan gebruik tot die geestelik en liggaamlik voeding van die wêreld. Bring dit wat jy het, jou gawes, talente, jou tiende, jou tyd, energie en kragte. Bring dit na die Here en kyk na die wonderwerke wat Hy daardeur kan verrig.
GEBED
Heilige Here, as U die eenvoudige geskenk van ’n seuntjie, vyf brode en twee visse, kon gebruik om duisende mense kos te gee, wil U nie asseblief ook ons lewe neem en dit gebruik om ander mense te help nie. En wanneer ons soms vol verskonings is, vergewe ons asseblief daarvoor. Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 11 Januarie 2021
Psalm 94:18 & 19. Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.
Junita du Plessis sing hierdie pragtige lied:
Smarte soms te diep om te beskryf
Nie eers trane kan die rou en die seer verdryf
Ek voel alleen, leeg en moedeloos
So alleen, bang en baie broos
My krag is min. My krag is min
Here hier by u Voete kom val ek neer
Want net U verstaan, U weet ek kan nie meer
Elke seermaak klip gegooi het my gekneus
Net in u teenwoordigheid sal ek genees
Druk my teen u bors. Druk my teen u bors
Jesus hou my vas. Hou my vas
Hou my stywer vas vanaand
Want ek het U nodig. Ek het U so nodig
Jesus hou my vas. Hou my vas
Hou my net stywer vas vanaand
Net in U Arms, dis waar my siel sal rus
Here U maak elke stukkende hart weer heel
ʼn Houtkruis en u Bloed op my geseël
Laat u Gees soos water deur my spoel
Vader laat my u Arms om my voel
Vul my met vrede. Vul my met u vrede
Jesus hou my vas. Hou my vas…
GEBED
Hou my styf vas Here, wanneer my voete gly.
Hou my vas Here, as ek op verkeerde paaie bly.
Troos my, Here, wanneer die trane vryelik vloei.
Genees my hart, Here, wanneer my hart bloei.
Hou my geselskap wanneer ek eensaam voel.
Gee sekerheid as ek dink die lewe is sonder ‘n doel.
Wees U my Vriend as mense my verlaat.
Wees U my wysheid as ek soek na goeie raad.
Wees U my geneesheer as ek siek is & vol pyn.
Wees U my kragbron as my kragte begin kwyn.
Wees U my anker as die vloed my mee wil sleur.
Die Gare wat vaswerk as my lewe uitmekaar skeur.
Wees U my stut wanneer ek op moeilike paaie loop.
Wees U my Vertroue as ek voel daar is geen meer hoop.
Duisend maal dankie, Here, dat ek dit van U mag vra.
Duisend maal dankie, Here, dat U my deur alles dra.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Sondag 10 Januarie 2021
Eksodus 33:14-16. Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”
Daar is ‘n bekende Nederlandse spreuk wat lui: “Van het concert des levens krijgt niemand ’n program”. Dit verwoord die vanselfsprekende waarheid dat ons nie weet wat die toekoms vir ons inhou nie. Niemand weet immers wat op die lewensreis vir hulle as individue, of as gesin, of as kerk voorlê nie. In die lig van hierdie onsekere karakter van die lewe, gebeur dit dat mense deur die eeue vrae gevra het soos: Wat bied vir ons ’n anker te midde van die onsekerheid en onstuimigheid van die lewe?
Vrae soos hierdie vra ’n mens nie elke dag nie. Tog is daar tye, soos aan die begin van die jaar wat hierdie vrae na die oppervlakte beur. Dit is dan ook meestal in sulke tye dat ons as gelowiges tot die ontdekking kom dat ons diepste geborgenheid nie in materiële welvaart, of sukses, of by ander mense lê nie, maar in God self. In sulke tye ontdek ons dat ons aan God kan vashou – of eerder, dat Hy ons vashou. Dan beleef ons wat gelowiges dikwels bely, naamlik dat God daar is vir ons as ons Hom nodig het. Ons kan met sekerheid weet dat te midde van die onsekere en brose aard van ons lewens het ons ‘n goddelike reisgenoot op wie ons kan staatmaak.
In Eksodus 33 sien ons dat hierdie behoefte nie net by die volk leef nie, maar ook by Moses. Uit Moses se gesprek met die Here sien ons dat dit vir hom belangrik is dat die Here hulle op hulle reis na die beloofde land vergesel. Daarom is Moses nie tevrede met die Here se belofte dat Hy ’n engel met hulle sal laat saamtrek nie. Nee, die Here self moet saamgaan en Moses pleit by die Here vir Sy teenwoordigheid by hulle en in die teks lees ons dat die Here hieraan toegee.
Van die konsert van die lewe ontvang niemand ’n program nie. Tog glo ons dat ons nie sonder waarborge, of ’n anker is nie. Die Here herinner ons aan sy magtige dade in die verlede en bied ons ’n kykie op sy magtige dade in die toekoms.
GEBED
Heilige Here stap asseblief elke tree saam met my in hierdie jaar. AMEN
Gedagte vir die dag | Saterdag 9 Januarie 2021
Jesaja 49:15. Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.
’n Tydjie gelede was ’n groot grondverskuiwing in Indië taamlik in die nuus. As gevolg van aanhoudende reëns het ’n grondheuwel aan die bokant van ’n dorp so nat geword dat die hele heuwel inmekaar gestort het en die modder en grond het ’n gedeelte van die dorp, onder andere ’n kleuterskool, heeltemal verswelg. Dit het die reddingswerkers meer as ’n week geneem om die nagenoeg sestig lykies van die kinders en dié van die onderwysers onder die modder uit te grawe. Daar was baie koerantberigte oor dié ramp. Een berig se opskrif was: Die dag toe God die kinders vergeet het . . .
Kan dit gebeur? Kan God ’n mens vergeet? Kan dit wees dat God se aandag nie voluit by jou is nie, dat jy daar doer ver op die agtergrond van God se bewussyn verkeer, dat jy uiteindelik in die mis van vergeetagtigheid verdwyn? Daar is immers miljoene der miljoene mense op hierdie aarde, elk met sy eie hopie moeilikheid en seer, en daar is maar een God wat aan al hierdie miljoene se probleme aandag moet gee. Dit kan mos gebeur dat ek as klein mensie tussen al die miljoene verlore raak en nie raakgesien word nie.
Soms dink ons so, en daar is dae wanneer dit voel asof ’n mens nie meer vir God bestaan nie, dat Hy nie meer aan my dink nie en dat Hy my vergeet het!
Kan God ’n mens vergeet? Israel het so gedink. Hulle het gevoel dat God hulle vergeet het. In Jesaja 49:14 lees ons dat hulle sê: Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet. ’n Mens voel half simpatiek teenoor die volk, want hulle het immers in ballingskap verkeer. Maar Jesaja wemel van beloftes oor God se trou. Ook die een wat ons vandag saamgelees het. Jy kan 2021 instap met die wete dat die Here jou nooit sal vergeet nie.
GEBED
Dankie Here dat U nie ons ooit sal vergeet nie. Dankie dat ek hierdie jaar kan ingaan met die wete dat U by my is. AMEN
Gedagte vir die dag | Vrydag 8 Januarie 2021
Filippense 2:12b-13.”Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”
GEDAGTE
Een van die uitstaande kenmerke van die fliek, Babe, is die klein varkie se geweldige begeerte om die regte ding te doen. Hy is altyd gereed om te doen wat nodig is. Wanneer die gans hom vra om die wekker in die baas se kamer te gaan haal, gaan Babe sonder om te skroom al beteken dit dat hy in ’n groot gemors beland het nadat hulle die verf omgeskop het en die hele kamer bemors het.
Wanneer hy agterkom dat ’n klompie rondloper honde groot moeilikheid onder die skape veroorsaak en besef dat dit net hy is wat iets kan doen, dan takel hy hulle sonder om eers twee keer daaroor na te dink, en slaag selfs wonder bo wonder daarin om hulle weg te jaag. Die verhouding tussen hom en sy baas, Farmer Hoggit (James Cromwell), is kosbaar. Sy oë volg elke opdrag en beweging van sy baas.
Soos Babe moet ons ook gewillig wees om reg te leef. Ons is as lig en sout op hierdie aarde geplaas om ’n verskil te maak. Die verskil kom duidelik uit in ons gedrag. Deur die voorbeeld van Jesus te volg kan ons gehoorsaam wees aan die wil van die Vader. Maar ons weet dat dit uit ons eie krag nie moontlik is nie. Daarom moet ons elke dag die Heilige Gees vra om ons te help en te lei. Dit is Hy wat ons gewillig en bekwaam maak.
GEBED
Heilige Gees, o vul my nou
Ek wil totaal op U leiding vertrou
Dan alleen kan ek vrugte dra
Dan alleen kan ek doen wat U vra.
Gedagte vir die dag | Donderdag 7 Januarie 2021
Psalm 88:2-3. Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep.
Daar word vertel van ’n man wat op die dak van sy huis skuiling gesoek het omdat die vloedwater rondom hom gestyg het. Hy bid toe: “Here, red my, help my asseblief uit hierdie moeilikheid.” Sy geloof was baie sterk. Daar kom toe ’n reddingsboot verby, en die mense vra hom om in te klim. “Nee dankie,” was sy antwoord. “Die Here God gaan my red.” Die water styg. Later kom daar ’n helikopter verby wat ’n tou na hom toe wil afgooi, sodat hulle hom kan optrek en red. “Nee, dankie,” sê die man weer. “Die Here gaan my red.” Uiteindelik styg die water so dat die man moet swem. Hy ontvang geen verdere hulp nie en verdrink. Toe hy by die poorte van die hemel kom vra hy vir die Here: “Here, ek het met geloof gebid en gevra dat U my sal red. Waarom het U my gebed nie verhoor nie?” En God antwoord Hom: “Ek het ’n reddingsboot gestuur, maar jy wou nie inklim nie. Ek het ’n helikopter gestuur, maar jy wou nie opgehys word nie.”
Een ding kan ons verseker weet die Here hoor wanneer ons bid. Ons gebede word soms anders beantwoord as wat ons verwag het. Maar die Here vergeet ons nie, Hy ignoreer ons nie. Hy is daar om te help. Soms op ongewone en unieke maniere. Soms op die Here se tyd. Maar altyd getrou.
GEBED
O Here dis so goed om te weet, U los ons nooit alleen. U gee my elke dag rede om te glo dat U by my is. U is verseker teenwoordig te alle tye en op alle plekke. O Here ek kan nie hierdie jaar sonder U begin nie. Wees my naby en vat my hand. U is getrou. Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 6 Januarie 2021
Jesaja 41:13. “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.”
Daar is ’n bekende gedig waarin iemand van ’n droom vertel. Hy het in sy droom met ’n lae gety op die strand, langs die see gestap. Maar hy was nie alleen nie, want die Here was saam met hom daar in sy droom. Saam het hulle deur die lewe gegaan, twee rye voetspore het agter hulle in die sand gelê. Wanneer die man toe na ‘n lang ruk gaan stil staan en agter hom kyk, sien hy sy hele lewenspad wat agter hom lê. Tye van geluk en blydskap, maar ook tye van hartseer en swaarkry. Maar dan kom hy agter dat daar op sy lewensbaan juis in die moeilikste hartseertye net een ry spore in die sand lê. Dit pla hom en hy vra vir die Here: “U het dan belowe om my nooit te begewe en my nooit te verlaat nie”. Ek verstaan dit nie: Ek het U partymaal baie nodig gehad. “Hoekom lê dáár dan juis net een ry spore op my pad?” Die antwoord van die HERE is: “Moet jy dit regtig vir My vra? Want in die swaar tye het Ek jou gedra! Daarom is daar net een ry spore.”
In dié gedig is dit ‘n droom. Maar volgens God se Woord is dit die werklikheid. God dra ons regtig deur die lewe. Hy dra ons ook nie net deur die swaarste gedeeltes nie. Nee, van dag tot dag en van oomblik tot oomblik – dra Hy ons.
Dit is ook die belofte van vandag se teks. Weet dat die Here ook in 2021 by jou is en jou hand sal vat en jou sal help. Daarom hoef jy nie bang te wees nie.
GEBED
Here ek weet dat U my gevorm het, dat U my geskep het.
Ek weet dat ek aan U behoort, dat U my naam ken.
Ek weet ook dat U daar is as ek in nood is:
as ek deur water of vuur moet gaan,
want U is die Heilige van Israel, U is God die Redder.
Daarom Here, is ek nie bang nie, daarom glo ek soos ‘n kind dat U my Here is.
Ek is veilig, veilig in die Here.
As ek bang is in gevaar weet ek God is altyd daar.
Ek is veilig, veilig in die Here.
As dit donker is om my weet ek God is naby my.
Die Here is ’n rots en ’n skild vir my
’n huis en ’n skuilplek waar ek veilig kan bly.
Aan U die eer. Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 5 Januarie 2021
Psalm 8:4-5. “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?”
Dit gaan ons verstand te bowe om te dink dat elke persoon wat al ooit geleef het anders was. Alhoewel alle mense basiese eienskappe in gemeen het, is ons in eie reg elkeen ’n unieke skepping. Ons teks laat ons verstaan dat hierdie uniekheid so deur God bestem is en dat daar vir elke mens ’n spesiale plek by God is. Net soos wat elke hemel liggaam iewers in ’n groter geheel sin maak so pas elkeen van ons se lewens iewers in God se groter geheel in. Het jy dalk iewers deur die jaar gevoel of jou uniekheid tussen ’n magdom ander verlore gaan? Het ons dalk die fout gemaak om mense tussen wie ons leef se lewens gering te skat? Stap vanaand na buite en laat die omvang van die skepping jou oorweldig. Mag jy in die ervaring opnuut ontdek hoe groot God se genade vir elkeen van ons is.
Gebed
Here, wat ’n wonder om nog ’n dag te kan belewe, nog ’n dag wat U vir elkeen van ons gegee het. Dankie dat ek kan leef en u wêreld voluit kan geniet. Ek laat so maklik die ure deur my vingers glip. Dankie vir die unieke mens wat U my gemaak het en gee my ’n diep waardering vir mense wat anders as ek is, maar wie se menswees i beeld in my resoneer. AMEN.
Gedagte vir die dag | Maandag 4 Januarie 2021
Johannes 14:27. “Vrede laat ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”
By almal van ons leef daar ideale en drome oor wat op hierdie dag of dalk môre moet gebeur. Wanneer dinge dan nie uitwerk soos ons dit beplan het nie, is dit vir ons ’n geweldige terugslag en dit neem ’n mens dan ’n tydjie om oor die teleurstelling te kom. Die vrede waarvan Johannes in ons teks praat werk anders as die gevoel van “tevrede”. Inteendeel dit word juis intens beleef in tye wanneer ons nie tevrede is nie. Dit help ons om vry te te kom van ons eie onrealistiese verwagtinge en ’n diep sekuriteit te beleef dat “al sou die vyeboom nie bot nie, ek nogtans in die Here kan jubel”. Herken jy hierdie vrede vandag in jou lewe?
Gebed
Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Amen.