GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Saterdag 23 Januarie 2021

Kolossense 1:23: “Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie”.

’n Nuwe jaar is die tydperk waartydens die drie-deugde van ons geestelike lewe beklemtoon word. Geloof, hoop en liefde. Dit is veral die middelste waarde, “hoop”, waaraan ons vandag wil aandag gee.

Vader Raniero Cantalamesa, skryf oor hierdie drie hoekstene van ons Christelike lewe, Geloof, hoop en liefde. Hy sê dan dat hierdie drie geloofswaarhede soos drie susters is. Twee van hulle is volwasse en die ander een ’n klein kindjie. Hulle loop vorentoe, hand aan hand, met die klein kindjie “hoop” in die middel. Wanneer daar na hulle gekyk word, dan sou daar gedink word dit is die groter twee wat die kindjie, “hoop”, trek.  Maar dit is eintlik anders om: Dit is die klein kindjie wat die twee volwassenes trek. Dit is hoop wat geloof en liefde vorentoe trek. Sonder hoop sal alles andersins stop. Hoop energeer ons vir die toekoms. Hoop sluit vir ons die toekoms oop,  is verwant aan optimisme en ’n positiewe verwagting vir ’n positiewe tydperk.

In die voornemens wat ons vir die jaar 2021 maak,  is om hoopvol te wees, van uiterste belang. Ons lewe in ’n hooplose wêreld. Die pandemie wat ons almal getref het, het baie mense se hoop in wanhoop verander.  Dit is juis die oproep in hierdie gedeelte.  Paulus sê dit ook vir mense wat dit moeilik het: “moenie die hoop verloor nie. Julle moet vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur dit wat julle gehoor het nie.”

Die evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus, wat was, en is, en wat kom, trek ons vorentoe. Ons lewe in die hede, maar ons word ook geïnspireer deur ons toekoms, die toekoms waarop ons hoop gerig is. Die inhoud van die hoop is ook weereens die evangelie van God se teenwoordigheid by ons in alle omstandighede. Dit is met hierdie hoop waaraan ons kan vashou. Hierdie hoop is anders as die gewone wêreld se hoop wat maar net ’n sekere verwagting vir ’n sekere uitkoms is. Amper iets soos “ek hoop tog dinge werk uit”.

As volgelinge van Jesus Christus, is ons seker, en hoop ons vir die dinge wat ons nie sien nie, veral in 2021. Daar is baie hooploosheid rondom ons. Kom ons maak dit ‘n voorneme vir die jaar om draers van hoop te wees, selfs in die slegste omstandighede. Die hoop, wat vir ons gesetel is in ons verlosser Jesus Christus.

Gebed

Here, gee dat ek altyd sal vashou aan die hoop. Dat die slegte, negatiewe omstandighede nie die hoop van my sal vervreem nie, maar dat my hoop op U gevestig sal wees vir nou en vir die toekoms. Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 22 Januarie 2021

Filippense 3:13-14: “Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Die meeste van ons was al op een of ander manier by ’n wedloop betrokke. Daarmee wil ek nie sê dat almal uitstekende atlete was nie, maar almal het dit al ervaar, of gesien plaasvind. Dit is ’n inspanning, ’n uitkyk.  Dit behels die die fokus op die eindstreep, doelgerigtheid en harde werk om uiteindelik goed klaar te maak.

Aan die begin van ’n nuwe jaar neem ons besluite, meestal goeie ondernemende besluite wat ooreenkom met ons voornemens. Paulus het ook ’n voorneme gehad, ’n voorneme wat hom gedryf het en aangespoor het om aan te gaan met die belangrike werk wat hy in die koninkryk van God gedoen het. Ja dit was nie maklik vir Paulus nie. Ons ken al sy ontberinge en die moeilikheid wat hy in die proses gehad het. Hierdie teksvers in Filippense, wat hy skryf terwyl hy in die tronk is, spoor ons ook aan op ons Christelike wedloop wat ons as gelowiges in hierdie wêreld wil hardloop. Hoe wil ons as gelowiges en lidmate ’n verskil in ons wêreld maak? Dit moedig ons aan om sterk voornemens te maak en daarby te bly soos ons teksgedeelte dit sê: “Ek maak my los van wat agter is, en ek strek my uit na wat voor is.”

So dikwels kan die ou jaar my terughou en ontmoedig om vorentoe na ’n nuwe seisoen te beur. Dis waar die Here my weereens help om op koers te bly om voluit die wedloop te hardloop en te voltooi. Om my voornemens te laat realiseer soos vers 14 word dit so pragtig gestel:  “Ek span my in om by die wenstreep te kom”. Hoekom? Hoekom is dit so belangrik om in hierdie geestelike doelwit te slaag? “Sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Jesus Christus”.

Vriende kom ons maak hierdie nuwe, onsekere jaar dit ’n duidelike, alles-oorheersende voorneme. Ons wil klaar maak! Ons wil dit wat in ons lewens gebeur so rangskik dat dit  alles tot God se eer sal wees. Ons voorneme is om klaar te maak, en om hierdie prys te verower wat vir ons belowe is. Sterkte vir die wedloop van 2021.

Gebed

Here, hou my op koers. Help my om my los te maak van dit wat agter is en te strek na wat voor is. Ook om my in te span om by die wenstreep te kom sodat ek ook die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in in Jesus Christus. Amen.

Gedagte vir die dag | Donderdag 21 Januarie 2021

Spreuke 4:23-27: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie. Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.”

Ek het die groot voorreg gehad om enkele jare gelede die matriekafskeidsdiens van een van my seuns in Stellenbosch se moedergemeente waar te neem. Dit was aangrypend om te beleef hoe meer as 200 matriekleerlinge die kerk aan die einde van hulle skoolloopbane binnegekom het!  Hulle het in ’n sirkel rondom die indrukwekkende kansel van die moederkerk gestaan, bymekaar ingehaak en baie opgewonde oor ’n nuwe seisoen in hulle lewens.

Ek onthou ook dat ek op daardie somersmiddag hierdie teks vir die spesiale diens gebruik het. Dit het weereens oor ’n voorneme, ’n voorstel en aanmoediging vir die pad vorentoe, gegaan. En wat die wysheidsleraar van Spreuke eeue gelede al vir ’n jongmens gesê het oor hoe sy/haar pad moet en kan lyk, het ook gegeld vir die jong manne voor my se harte. Hulle moet dit hulle voorneme maak om hulle harte op te pas, en dit soos goud te bewaar. Die rede hiervoor is  die feit dat wat in jou hart omgaan, jou hele lewe vorentoe bepaal. Jou hart, het ons reeds gehoor, is die sleutel van denke en emosie, daarom moet hulle en ons versigtig wees met wat in ons hart omgaan.

Dit is soos om die hardeskyf van my lewe te laai!  Ek moet seker wees ek laai dit met positiewe, konstruktiewe goeie inhoud, want hoor ons,  dit is bepalend vir ons hele lewe.  As dít my voorneme en besluit vir ’n volgende jaar is, dan het dit bepalende implikasies.  Dit help my dan, soos die volgende verse sê: “Om my te weerhou van leuens en om nie mense om die bos te lei nie, maar om te alle tye met integriteit te wandel. Dit help my om vorentoe te kyk, reg voor my uit in optimisme, hoop en verwagting. Dit help my om my lewenskoers af te baken, om seker te wees van elke tree. Dit bepaal my lewe en help my om nie links, of regs weg te draai van die waarheid nie, en om my te weerhou van die verkeerde koers.

As dit vir die matrieks daardie dag gegeld het, dan geld dit ook vir elkeen van ons waar ons tans ook in ons land funksioneer. Kom ons maak dit ons voorneme en opregte besluit om ’n versigtige besluit te maak oor wat in my hart aangaan, hoe ek dink, hoe ek my met positiwiteit laai en my daarvan weerhou om in ’n spiraal van pessimisme te verval.

Gebed:

Here, ek wil myself voorneem om met u krag my hart te bewaar en versigtig daarmee om te gaan. Help my om dit te doen omdat ek weet dat só ’n hart, waarvan U die middelpunt is, my hele lewe bepaal. Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 20 Januarie 2021

 

Psalm 51:12: “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.”

Die jaar 2021 is nou alreeds ’n paar dae oud. ’n Nuwe jaar gaan altyd gepaard met veel meer as klappers en vonkelwyn, daar is ook nuwejaars-voornemens.  Ons ken dit almal so goed – jaar na jaar is dit dieselfde storie.  Ons maak ’n klomp voornemens wat deur die meeste van ons voor die einde van Januarie verbreek word.

Maar wat is ’n voorneme presies en hoekom maak ons dit? Hoe kan dit baie bepalend wees vir ons lewenskoers? Ons wil die week tydens ons dagstukkies ’n bietjie meer aandag gee aan voornemens, soos ook gerugsteun word deur sekere teksgedeeltes uit die Bybel.

Kom ons vra eers die vraag: Wat is ’n voorneme? Dit is vorentoe dink, dit is die hoop om te verbeter, om meer te doen, meer te kry, minder te eet, minder te weeg . . .

Dit kom alles neer op bepaalde besluite wat ek neem oor myself en oor my omgewing. Dit is regstellende aksie in praktyk. Dit is veranderingsbestuur van my en my direkte omgewing. Dit raak alle aspekte van my lewe en my menswees. Dit raak ook my geestelike dimensie, my voornemens en besluite, of ondernemings om in die jaar wat voorlê nader aan God te leef.  Daarom raak dit my hart, die Bybelse term vir die bron van my denke en my emosies.

Dawid het ook ’n baie spesiale voorneme gehad in ’n nuwe seisoen van sy lewe, na sy aaklige misstappe met Batseba. En sy besluit, of voorneme was ’n hartsverandering!  Hy het besef dat met die oog op sy toekoms, moet sy hart, sy manier van dink, oordeel en gevoelens radikaal verander.  Dawid het ook besef dat so ’n voorneme, of ’n besluit, of versugting nie maklik is nie, en dat hy dit nie in sy eie krag kan deurvoer nie.  Dit is groter as hyself en sy eie vermoëns.  Dus bid hy daarom die volgende gebed: “Skep vir my ’n rein hart O God, en vernuwe my Gees”.  Hartsverandering is Gods-werk en voornemens kan meeste van die tyd nie in ons eie krag deurgevoer word nie.  Die krag en vermoëns moet vanaf die Here afgepleit word wat ons in staat kan stel om dit te doen.

Gebed:

O Here, skep vir my ’n rein hart.  Skep vir my ’n vaste gees, maak my standvastig. Dit is my voorneme vir hierdie jaar. Dit is my gebed omdat ek besef ek is alleen nie daartoe in staat nie. Amen.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 19 Januarie 2021

Romeine 1:16: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.

En die bekende vers 17: In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.  Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Een ding wat die lewe my geleer het, is om nooit verskoning te vra vir ’n standpunt wat jy in neem as jy met jou hele hart daarvan oortuig is nie.  Dit gaan natuurlik oor hoe ’n mens dit dan nou doen. Nêrens in die Bybel leer ons dan ons ’n sogenaamde nederige – ekskuus-dat-ek-lewe-houding moet in slaan nie, inteendeel dink juis hier aan wat Paulus vir ons sê: “ek skaam my nie oor die evangelie nie.”  Hy sê dit ondubbelsinnig.

Ek het gehoor van iemand wat daar van my wêreld kom en die arme man vra gedurig omverskoning vir sy opinie en teenwoordigheid, asof hy net skuld en geen regte in die lewe het nie.  Hy het vergeet dat hy as mens ook deel van die kroon van God se skepping uitmaak.  Hy het verleer om sy lewe te sien as ’n gawe van God, wat hy elke dag met dankbaarheid mag geniet en tot beskikking van sy Skepper en medemens stel.  Daarom is hy nie ’n sprankelende getuie van hierdie genade van bo nie, maar eintlik ’n patetiese apologetiese figuur wat die genade soos ’n swaar kruis deur die lewe moet dra.  Jare gelede het die jong Franse martelaarres, Catharina, die dapper woorde van Gregorius van Avignon geskryf.  Sy het gesê: “Ek sien geen rede om sleg gekleed na jou eie graf te gaan nie.”  Die bekende Alister McLean se graf lê langs die van die akteur Richard Burton, by  Céligny, vlak by die meer van Geneva in Switserland.  Op Burton se grafsteen staan net sy naam en die jaartalle, 1925-1984, maar op McLean se graf staan die woorde: “Come my friends, ‘tis not to late to seek a new world.”

Met die genade van bo wag ’n nuwe 2021, ’n nuwe onsekere wêreld vir jou en my.

Gebed: Here dankie dat ons, ons nie hoef te skaam nie.  Dankie dat U vir ons ’n geleentheid en vastrapplek in die wêreld gee.  Dankie vir die klein stukkie wêreld van elkeen van ons, en ek bid dat U vir ons die genade sal gee om positief vorentoe te leef.  Dankie dat U vir ons die vermoë gee om ’n mening en opinie te kan hê.  Gee dat ons met takt ons standpunte sal kan stel, dat ons versigtig sal leef, en dat ons, ons nie hoef te skaam vir wie en vir wat elkeen van ons is nie.  Omdat ons onsself ’n kind van Jesus kan noem.  Gee dat ons met deernis, en medelye maar ook met beslistheid sal kan lewe deur hierdie jaar.

 

 

Gedagte vir die dag | Maandag 18 Januarie 2021

Johannes 3:4.  Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is?  Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”  Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.  Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.  Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.  Die wind waai waar hy wil.  Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

Effesiërs 5:16.  “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in moeilike tye. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.”

“Moenie bekommerd wees as slapeloosheid en depressie die tyd van die jaar op jou toesak nie,” sê ’n mens gewoonlik aan die einde van die jaar vir iemand.   Hierdie trooswoorde kom ook in Europa voor waar mense weer vir mekaar sê moenie slaaplose nagte hê nie as depressie op jou toesak nie, dit is gewoonlik die Fõhn se skuld.  Dit verwys na die warm woestynwind wat oor die Middelandse See na Suid-Europa waai.  Dan vertel hulle jou ook sommer van die I’Aigle, die wind wat die nare sand uit die Sahara saam met hom bring en dan is daar ook die koue Mistralwinde wat in die wintermaande van die hooglande van Frankryk suidwaarts beweeg en mense en diere laat bibber van die koue.

Ons wat hier in die Kaap woon, kan ons spog met die Kaapse Suidooster.   Die mense in Gauteng beleef weer in Augustusmaande die wind.  In die Bybel het mense soos Jona, Eliah en later ook Paulus te doen gekry met die vernietigende krag van stormsterkwinde in die berge, op die vlaktes en op die see.  Ek het vanoggend gelees van die avonturuur wat op sy alleenvaart na Amerika, sonder enige ondersteuning, golwe van 4 meter en stormsterkwinde op die see beleef het.  Maar as God op die toneel verskyn, dan raak die storm stil.  Soos ons reeds in die eerste vers van die Bybel lees, het die gees van die Heilige Gees oor die water gesweef.  So verkies God ook om met sy kind, Eliah te praat.  Nie in die baie sterk wind nie, maar in die fluistering van die windstilte.  Die Heilige Gees doen ook sy werk van die nuwe lewe, soos ’n sagte wind en daarom sê hierdie mooi teksgedeelte in Johannes 3 hoe God sy Gees in ons laat werk.  Omdat ons Hom kan ken, en in ’n verhouding met hom kan staan.  Die wind waai waar hy wil, jy ken sy geluid maar jy weet nie waar hy vandaan kom nie en waarheen hy gaan nie.

So gebeur dit met elkeen wat deur die Gees van God gebore is. So het Jesus God se werk aan Nikodemus verduidelik.  Die groot behoefte van mense in ons tyd, is die behoefte aan stilte.  Groot dinge gebeur in die fluistering van die windstilte.  Daar kry die mens kans om te dink, en te luister.  Groot ontdekkings kom gewoonlik tot stand wanneer ’n mens alleen is, en wanneer jy tyd het om te dink. Maak in hierdie jaar tyd om Jesus in die windstilte te ontmoet.  Hy wil met jou en met my praat soos met Eliah.  Van daar kan jy uitstap in die lewe se stormwinde en ook die slaaploosheid en depressie waaraan so baie mense van ons tyd blootgestel is, tegemoet gaan.

Gebed

Here dankie dat U met ons praat deur u gees, van bo.  Dankie vir die gestalte van u stem, ook in hierdie vreemde tyd waarin ons leef.   Amen.

 

Gedagte vir die dag | Sondag 17 Januarie 2021

Sal die Here ons vir altyd verstoot? Psalm 77

Vir die koorleier. Ter herinnering.  Van Asaf.  ’n Psalm.  “Ek roep na God om hulp, ek roep na God, want Hy sal my hoor.  In my nood soek ek hulp by die Here; ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek sonder om moeg te word; maar ek vind geen troos nie.  Ek dink aan God en ek sug, ek dink na en ek is verslae.  U laat my wakker lê, ontsteld en sprakeloos.  Ek dink aan vroeër dae, aan jare lank gelede.  As ek so in die nag lê en terugdink en peins, vra ek my af: “Sal die Here my vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd ‘n einde gekom aan sy trou? Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? Het God vergeet om medelye te hê?  Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek?”  En ek sê: “My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.”

Dit klink soos die emosies wat mense nou beleef.  Mense is moedeloos en  het ’n gebrek aan hoop wat lei tot inkering in hulself.  Hulle eie ervaring  word in vers 4 verduidelik – mense wat wakker lê in die nag, mense wat alleen is, en geen kontak het met ander nie,  ens.   Hoekom verander dit nie?  Die twyfel aan God.  Is God so ’n tiran?  Ek kry heel dikwels hierdie indruk onder gelowiges.  Want, daar is vataliste onder ons – mense wat glo dat ons alles maar stil moet verdra, en aanvaar dat alles uit die hand van God kom.  Natuurlik kom alles uit die hand van God, maar moet ’n mens altyd stilbly? Moet ’n mens na God se kant toe glimlag as jy in jou hart gevul is met smart, is dit nie skynheiligheid nie?

Hierdie vers is deur ’n vegter/soldaat geskryf.  Nee, hy het nie sy geloof aan, en in God verloor nie.  Daarom lê hy snags op sy bed met ’n hand wat uitgesteek is na God.  Sê nou maar net God het verander?  Sê nou maar God nie meer kan help nie?  Sê nou maar net Hy het dalk vergeet om genadig te wees?  Wat as Hy ’n tiran is, en besig is om ’n klomp mense af te maai?  Indien sulke gedagtes  Godslaterlik sou gewees het,  sou dit seker nie op hierdie wyse in die Psalms geskryf gestaan het nie.   Dalk sou daar dan nie iets soos geloof bestaan het nie.

Geloof, gewone menslike geloof wat nie soms twyfel nie, kan nie in ’n mens bestaan nie.  God is nie ’n tiran nie.  Dit weet ons gelukkig nog duideliker as ons met hierdie Psalm deur die oë van Golgota lees.  Daar kan ons sien dat God meer ly, daarom verkwalik hy ons nie as ons twyfel nie en dan mag ons dit ook maar vir Hom sê.

Gebed

Here, dankie vir U wonderlike teenwoordigheid. Deur u Heilige Gees, en die gestalte waardeur U medelye gekry het aan die kruis van Golgota.  Dankie dat U ons harte ken, dat U ons gedagtes ken, en  dat U meely saam met ons.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 16 Januarie 2021

1 Korintiërs 13:13.  “Daar is dus drie dinge wat nie verby gaan nie.  Dit is die vertroue op God, die voortuisig en die dinge wat God beloof het, en die liefde.  En van hulle, is die grootste hiervan die liefde!”

in die musiekblyspel van Andrew Lloyd Webber, “Aspects of love” sing ’n pa vir sy dogter. “I want to be the first man you remember, and I want to be the last man you forget. I want to be the one you always turn to, I want to be the one you won’t regret.”

Dit is kort voordat sy vir die eerste keer met ’n jong man begin uitgaan het.  Een van die aspekte van liefde, is die liefde van ’n pa vir sy dogter.  Dit verwys na die liefde wat elke normale ouer behoort te koester.  Ook die liefde van ’n kind vir ’n ouer.  Dit is ’n liefde wat suiwer en edel is, en gewoonlik nou saamwerk met wederydse respek en eerbied.  Daarom is ’n mens elke keer geskok of verbaas, as mens lees van iemand wat skuldig bevind word aan kindermoord, of kindermishandeling, of die seksuele molestering van ’n kind.  Jy kan jouself net nie indink hoe so iets kan gebeur, of wat in so ’n persoon se gedagtes aangaan nie?

Is daar regtig ’n straf wat groot genoeg is vir ’n mens wat ’n kind se liggaam en gees so kan vernietig?  Dit is verskriklik erg!  Nee!  Bederf dan maar eerder ’n kind so bietjie, al is dit nie nodig dat ’n mens soos Herodes selfmoord moes pleeg nie.  Johannes die Doper moes sy kop prysgee as gevolg van Herodes se ongedissiplineerde liefde vir sy dogter en wat hom deur haar laat voorsê het: (Markus 6:22) “Vra my net wat jy wil hê en ek sal dit vir jou gee.”  Dis ’n totale misplasing van liefde en soms sien ’n mens dit ook in ouerskap.  ’n Misplaasde vorm van ouerskap en liefde vir jou kinders.

Aan die ander kant is dit net so dwaas om soos die digter Jeftha, aan die Here ’n onverantwoordelike belofte aan die Here te maak, (Rigters 12:30) dat as die Here aan hom die oorwinning gee, sal hy die een wat hy uit sy huis tegemoet kom,  as brandoffer gee.  ’n Mens moet dit ook van die kultuur van daardie tyd verstaan.  Dit was toe sy enigste kind, en ook sy liefling dogter.  Ek dink as ek in so geval nie my belofte nakom nie, sou die Here my regtig vergewe het, met die vernaming: “moet nooit weer so onnosele belofte maak nie” en dit was ook regtig misplaas.

Ware liefde stel dus altyd ander se ware liefde en geluk voor hulle eie.  Soos Jesus in sy grootste leidingsoomblik, nie sy ma vergeet het nie. (Johannes 13: 27) Hy vertrou haar toe aan die sorg  van ’n vriend, en sê: “Daar is jou Moeder.”

Gebed:

Here gee dat ons altyd prakties gestalte sal gee aan ons liefde. En dat ons liefde nie misplaas sal wees nie.  Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 15 Januarie 2021

Psalm 131:1.  “Here ek is nie meer hoogmoedig nie, ek sien nie neer op ander nie.  Ek pak nie dinge aan wat heeltemal bo my vermoë is, of heeltemal onmoontlik is nie.

Professor Willie Jonker: “Dis die ergste wat kan gebeur, wanneer ons as gelowiges so in ons skik raak met onsself, dat ons nie meer besef dat alles wat ons het,  net genade is nie.”

Dit klink snaaks, maar gelukkig kan bome soms praat. Dan voeg ek by, al is dit net in fabels, soos in die verhaal van Jotam in Rigters 9, die verhaal van die bome wat vir hulle ’n koning gesoek het, en eindelik met ’n doringbos opgeskeep gesit het.  Die Franse skrywer Jean de la Fontaine, vertel in een van sy fabels van ’n Eikeboom wat op ’n dag neerhalend teenoor die riet opgemerk het. “Jy is darem baie sleg deur die natuur benadeel! Die kleinste ou briesie laat jou buig, maar ek kan alles trotsteer, son, wind en weer.  Vir jou is ’n ligte windjie ’n orkaan, maar vir my is die sterkste wind ’n briesie. Kom skuil by my dan sal  jy veilig en buite gevaar wees!”

Die riet het geantwoord: “Dankie vir jou meegevoel, maar eintlik is die winde vir ons albei vol gevaar.  Daarom buig ek, maar breek nie.  Kom ons kyk wat gebeur wanneer die wind weer opsteek.”   Kort daarna het die Noorde wind begin dreun.  Die Eikeboom het sterk bly staan terwyl die riet saggies gebuig het. Die wind het later orkaansterkte bereik, en die riet het nog laer gebuig.  Selfs die Eik het geswoeg voor die wind, en hy is ontwortel.  Die hooghartige Eik wat so trots was met sy kroon wat aan die hoogste wolk geraak het. So kom hoogmoed tot ’n val.

Ook by mense – dis  hulle wat altyd beter weet.  Ek wil nou nie sê wat ’n geselskap wil oorheers nie, maar wat altyd wil reg wees en dink hulle kan nie val nie.  Hulle ken die antwoorde op alle vrae, en veroordeel en beoordeel sommer in een asem, wat reken hulle kan nie ’n fout maak nie.  Wat net altyd beter weet al is dit in die stilligheid soos die Farisieërs en die Skrifgeleerdes in Jesus se tyd. Daarteen het Jesus dikwels verkies, om te swyg.

Hooghartigheid en liefdeloosheid is taalmaats.  In 1 Korintiërs 13, praat Paulus oor liefde in die praktyk. “Soek daarom die liefde wat jou so sal verander, dat ook jy sal kan sê: (vers 4 & 5: “Ek is gevul met liefde, daarom is ek geduldig, vriendelik, nie hooghartig nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie, handel ek nie onwelvoeglik nie.  Soek ek nie my eie belang nie, is ek nie liggeraak nie.  En hou ek nie boek van die kwaad nie.\’

Daarom het my ou professor, Willie Jonker tereg gesê: Ja, dis die ergste wat kan gebeur, wanneer ons as gelowiges so in ons skik raak met onsself, dat ons nie meer besef dat alles wat ons het,  net genade is nie. Dit is wanneer die duiwel ’n vatplek op ’n mens kry.

Gebed: Here, maak ons nederig.   Maak ons diensbaar, geduldig, nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand, nie liggeraak omdat ons ego aangeraak word nie, maar veral omdat ons nie boek van die kwaad sal hou nie. Gee dat ons nié op ander sal neersien nie.

Amen.

Gedagte vir die dag | Donderdag 14 Januarie 2021

Galasiërs 6:10: Daarom moet ons veral goed doen, veral aan mede Christene. Terwyl ons nog die kans het om dit te doen.

Die afgelope vakansie het ek ’n egpaar getrou wat al ’n bietjie ouer is as die gemiddelde bruidspaar. Toe ek vir hulle vra watter saak ek moet aanraak, was hulle antwoord: “Tyd. Dat ons op geleende tyd is, en hoe kosbaar tyd vir ons is”.

Ek het teen hierdie agtergrond gedink aan die St Dawid Katedraal in Wallis, een van die oudste katerdrale in Brittanje. Dit is blykbaar reeds teen die einde van die twaalfde eeu opgerig en is in ’n laagte gebou, as beskerming teen plunderaars wat dit sodoende nie van die see af kon sien. ’n Mens dink onwillekeurig aan mense wat reeds agt eeue in daardie gebou gebid het. Ons onthou dan Moses se woorde in Psalm 90: “Hoe vlieg ons dae, en skiet ons jare verby soos ’n gedagte. Ja dis gou verby, ons vlieg na ons einde toe.”

Veral wanneer ’n mens so aan die begin van die jaar staan, dan wil ’n mens op ’n besondere wyse sinvol en ekonomies met jou tyd omgaan. In die katerdraal is daar ’n hele paar spreuke wat aan almal raad gee. Ek dink dit strek oor twaalf eeue heen, oor hoe ’n mens die beste kan maak van jou stuk lewe wat oor is. Dit kan wees dat van ons wat vanoggend na die booskap luister, of dit lees nie die genade ontvang om die einde van die jaar te haal nie. Ek deel graag ’n paar van die spreuke wat in die katedraal aangeteken staan.

  • Maak tyd om te dink, dis die bron van krag.
  • Maak tyd om te speel, dis die geheim van blywende jeug.
  • Maak tyd om te lees, dis die fontein van wysheid.
  • Maak tyd om te bid, dit is die grootste krag op aarde.
  • Maak tyd om lief te hê, en om liefde te ontvang, dis ’n Godgegewe voorreg.
  • Maak tyd om vriendelik te wees, dis die pad van geluk.
  • Maak tyd om te lag, dis die musiek van die siel.
  • Maak tyd om te gee, die tyd en die jaar is te kort om selfsugtig te wees.
  • Maak tyd om te werk, dis die prys van sukses.
  • Maak tyd om goed te doen, dis die sleutel na die hemel. Dit is geloof wees, en gelowige wees, en om Christen te wees in praktyk.

Natuurlik word ’n mens in die eerste plek ’n Christen om gelowig te wees en om kinderlik te glo in en die aanvaarding van die Evangelie se boodskap. Maar dan moet ons ook daders van die woord word. Soos die Teoloog, Helmuth Thielicke, dit konkreet stel “Ons tjekboek het meer as ons gesangboek met die hemel en die hel te doen.”  En saam met ons tjekboek gaan ons tyd wat ons tot beskikking tot God en ons medemens stel.

In die woorde van Paulus: “solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen”. Wie bring die Here vandag oor ons pad teenoor wie ons kan goed doen? Kom ons wees prakties en dink vandag aan iemand vir wie ons vandag kan goed wees.  Miskien buite jou klein kring van die huisgesin.

Gebed: Here, dankie dat ons met oop hande kan leef. Gee vir ons die genade, om tyd te maak, om goed te doen, vandag, môre, oormôre en vir die res van die jaar. Amen.

1 115 116 117 128