GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Dinsdag 2 Februarie 2021

Psalm 100:1-2.  “Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!”

In die Bybel lees ons hoe gelowiges in Jerusalem daagliks gedurende die dag by die tempel ’n draai gemaak het. Die rede vir hierdie roetine was eenvoudig.  Hulle moes bewus wees daarvan dat God by hulle is in alles wat deur die loop van die dag met hulle gebeur en besig is om hulle deur die lewe te lei.  Dit is ook die bedoeling van ons stiltetyd elke dag – om net eenvoudig bewus te wees van een diep waarheid en dit is dat God nou verweef is in die lewens van almal op aarde.  Laat toe dat hierdie eenvoudige wete jou vanoggend met blydskap en dankbaarheid vervul.

Gebed (Liedboek 100, Vers 2 en 3))

Erken die God en sy gesag. Hy hou oor ons, sy kudde wag. Laat ons as volk die Heer aanbid. Hy’t ons gemaak as sy besit. Gaan by sy tempel in en sing en bring jul dank met jubeling. Sy goedheid, liefde en sy trou sal Hy vir altyd onderhou.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Maandag 1 Februarie

2 Petrus 3:13. “Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”

John Lenon het op ’n dag gesê: “Everything will be ok in the end, and if it is not ok, it is not the end”.  As Christene is ’n groot deel van ons troos dat alles eendag “ok” sal wees wanneer Jesus weer terugkom en alles nuut sal maak.  Ons leef in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde.  Die vraag is of ons dus tot tyd en wyl “ok” is om die realiteit te leef dat alles nie “ok” is nie.  Die verwagting waarvan Petrus in ons teks praat behels meer as maar net ’n tipe wag-en-uithou-geloof.  Ons is reeds vandag “ok” omdat ons nie eers eendag gaan glo in ’n God wat heers nie, maar vandag leef in die vertroue dat God se wil nou reeds heers.  Laat toe dat hierdie belofte vandag tot jou lewe en wêreld deurdring.  Laat hierdie volgende baie bekende lied vandag jou gebed wees.

Gebed

Ek weet verseker dat Jesus leef, Hy het my sonde uit liefde vergeef.  Ek was verlore, maar deur sy bloed, is daar nou vrede in my gemoed.  Hy is my Liedsman, Hy laat my leef,  Hy is oorwinnaar,  Hy is die Heer. Selfs as ek struikel en het berou. Hy sal vergewe, Hy bly getrou.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Sondag 31 Januarie 2021

Johannes 15:16-17.  “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in My naam vra. Dit beveel ek julle: Julle moet mekaar liefhê.”

Ons worstel dikwels met die vraag: Wat is die Here se wil vir my lewe? Wat wil Hy hê moet ek doen? En dan maak ons dit baie ingewikkeld deur allerhande opsies te oorweeg en verskillende scenario’s te skets. Wat is dan nou die Here se wil, tussen al die moontlikhede? Johannes maak dit vandag vir ons baie eenvoudig. Die Here het elkeen van ons met unieke persoonlikhede, gawes en talente geseën. Sy doel daarmee was juis om die lewe om jou ’n unieke kleur en geur te gee. Ons is deur God aangestel om in die vrug hiervan te leef en spontaan lief te hê. Hoe raak hierdie opdrag vandag jou lewe?

Gebed

O God, soos U die hand gemaak het om aan te raak; soos U die oor gemaak het om te hoor, só het U my gemaak vir vreugde! O Here open dan my hart sodat ek die blydskap van U opdrag om ’n lewe van vrug en vreugde te leef, kan vind.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Saterdag 30 Januarie 2021

Matteus 6:14-15.  “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.  Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Terwyl ons leef in die belofte dat God ons oortredings vergewe as ons daarvoor vra en graag wil hê dat ander ons moet vergewe, is dit steeds nie vir ons maklik om ander te vergewe nie.  Dink vandag aan almal teenoor wie jy ’n grief koester en wie se name diep in jou siel weggebêre lê.  Alhoewel ons dikwels dink dat ons as gelowiges binne die basiese waardes van ons geloof leef, vang hierdie uitdaging ons onkant.  Vra die Here om jou vandag te help om die leêrs van jou siel te deursoek en hulle wat jou te na gekom het, te vergewe. En let wel dat hierdie vergifnis nie in die eerste plek afhanklik is van wat hulle gedoen, of nie gedoen het nie.

Die moontlikheid van ons eie vergifnis lê nie in ons beoordeling van die meriete van ’n saak nie, maar in God se genade alleen.

Gebed

Ons Vader wat woon in die hemel, geheilig Sy u naam, laat u ryk kom, u wil geskied, soos in die hemel so ook op die aarde. Gee ons vandag ons dag se brood en vergeef ons al ons skulde, net soos ons die vergeef wat teenoor ons oortree het. Laat kom ons nie in die versoeking, maar verlos ons van die bose. Van U is die ryk en die sterkte en die ere, vir ewig en ewig.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Vrydag 29 Januarie 2021

Psalm 46:2.  “God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming;  Hy was nog altyd bereid om te help in nood.  Daarom is ons nie bang nie.”

Waarvoor is jy vandag bang?  Neem ’n oomblik en maak ’n lysie van die dinge wat jou angstig maak en waaroor jy saans wakker lê.  ’n Mens mens moet voorturend planne beraam om vrees en kommer te hanteer en dit veroorsaak spanning.  Ons doel is om die spanning uit die weg te ruim, maar net soos een bekommernis van die lys verwyder,  is daar nuwe bekommernisse en vrese wat hulle plek vul. Daar is net altyd voordurend nuwe dinge wat ons bang en bekommerd maak.  Hierdie teks wil jou vandag help om in hierdie realiteit te leef.  Ons lewe nie in ’n volmaakte wêreld nie.   Vrees is ’n integrale deel van ons menswees, maar so ook die geloof dat die Here my in dit alles ’n betekenisvolle lewe wil skenk.  Sien dus vandag jou kommer-en-vrees-lys op ’n nuwe manier.  Nie as iets wat dreig om jou lewe te vernietig nie, maar as ’n geleentheid om jou toevlug vandag by God te soek sodat daar in die hantering van kommer en vrees nuwe uitkomste sal realiseer.

Gebed

Vader in die hemel, vroeg in die môre roep ek tot U.  Gee vandag my die woorde om met U te praat, help my om my verwarde gedagtes by U te bepaal.  Ek kan nie op my eie bid nie, Here.  In my is daar donkerte; by U is daar lig.  Ek is eensaam;  U verlaat my nie. Ek voel nietig en bang; U laat my nie alleen nie.  Ek is rusteloos; by U is daar vrede.  Ek vind bitterheid in my hart; U leer my geduld. U weë is vir my onbegryplik; U ken die pad waarop ek gaan.

AMEN

Gedagte vir die dag | Donderdag 28 Januarie 2021

Johannes 1:15-17. “Johannes getuig van Hom en roep uit: Dit is Hy wat ek bedoel toe ek gesê het:  Hy wat ná my kom.  Is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.  Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.  God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Die gelowiges teenoor wie Johannes getuig het was baie opgewonde omdat hulle geleef het in die verwagting dat die tyd ryp was vir God om iets nuut in hulle lewe en wêreld te doen.  Maar Johannes se reaksie was tot ’n mate ontnugterend.  Sy boodskap was dat God verskyn, nie net om later weer te verdwyn nie.  Hy was nog altyd deur alles in die verlede by ons.  Uit sy oorvloed HET (verlede tyd) ons ALMAL reeds al genade op genade ontvang.  Mag hierdie kragtige boodskap vir jou vandag op ’n nuwe manier laat kyk na die realiteite wat tans om jou afspeel.  Ons hoop is nie alleen op ’n uitkoms iewers in die toekoms nie, maar op die getrouheid van God wat vandag van ons besit neem en ons die toekoms in dra.

Gebed

Here, laat ek vandag rus vind in u genade eerder as in gesondheid, eer, status, mag, kennis of vernuf.  Skenk my om vandag hierdie rus te vind bo enige aardse rykdom en vreugde.  Bo alles wat U my kan gee, begeer ek hierdie vrede bo alles.  God, Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge, in U alleen vind my hart vandag sy diepste rus.

Gedagte vir die dag | Woensdag 27 Januarie 2021

Liedboek 188. “Kom, dank nou almal God met hart en mond en hande; loof Hom wat wonders doen, tot in die verste lande. Van vroeg, van kindsbeen af, het Hy ons trou bewaar en tot vandag toe nog geseën en gespaar.”

Teen die einde van Januarie is ons al gewoonlik reeds volstoom aan die gang.  Kinders en kleinkinders is terug by die skool, studente mik om terug te keer na universiteite en kollegas beraam by die werk saam planne rakende die jaar wat voorlê.  En hier bevind ons onsself vanjaar op die 27 ste Januarie 2021 weer in die lugleegte wat die Covid-19-virus veroorsaak.  Met die eerste maand van 2021 amper agter die rug en met  gemengde gevoelens wat moontlik in jou leef oor die jaar wat voorlê, laat die bekende lied 188 vandag in jou gedagtes resoneer. “Kom dank nou almal God”. Hoekom? Die rede is vanselfsprekend . . .  jy was al voorheen en vele male by ’n 27ste dag van Januarie in jou lewe.  “Van kindsbeen af het Hy ons trou bewaar . . . en tot vandag toe nog geseën en gespaar”.  Ons is nog ’n jaar geseën met die voorreg om nog vriende, families en kollegas te hê.  Die voorreg om vir nog ’n jaar nuwe mense te leer ken.  Mag hierdie vrede aan die einde van Januarie 2021 vir jou meer as genoeg wees.

Gebed

O God so ryk en goed, gee ons solank ons lewe altyd ’n blye hart ; as dit U wil is vrede. Laat U genade ons beveilig teen gevaar, in donker ure ons van struikeling bewaar.

AMEN.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 26 Januarie 2021

Filippense 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Dis ’n pragtige positiewe gedeelte vir ‘n nuwe jaar wat voorlê. Ons het die afgelope week gepraat oor voornemens, met ander woorde oor hoe ons belangrike besluite vir die toekoms moet neem. Dis egter ook goed om positief terug te kyk na 2020, na daardie veelbesproke en uitdagende jaar.

Ek sluit dan aan by ’n dagstukkie van Stefan Joubert oor 2020,en die rol van ’n geseënde mens wat op ’n geseënde wyse die jaar kon afsluit om ’n nuwe jaar in te gaan. Ek haal aan:

Net dalk is jy een van ’n handjie vol mense wat hier in 2020 die smal pad van vrede bewandel het.

  • Terwyl almal vertel het hoe moeg en opgebruik hulle is, het jy elke dag ’n rusplek gevind by die Here se voete.
  • Terwyl almal bekommerd was oor die rasse spanning in ons land, het jy ’n brug herstel tussen bakleiendes, en selfs ’n paar nuwes gebou.
  • Terwyl almal gekla het oor korrupsie wat hand uitgeruk het, het jy met integriteit gewerk en gedoen wat reg is.
  • Terwyl almal vertel het oor hoe onseker hulle is oor die toekoms, het jy elke dag aangegryp as die dag van die Here, en dit volgemaak met hoop en nuwe lewe.
  • Terwyl almal hulle lewenskwaliteit gemeet het in terme van alles wat hulle verloor het in 2020, het jy joune gemeet met al die nuwe insig, kennis en wysheid wat die Here deur sy gees in jou lewe gedeponeer het.

Gebed

Here, dankie dat U my deur die ou jaar die nuwe jaar ingelei het. Dankie dat ek die voorreg gehad het om U te kan verteenwoordig in ons huidige wêreld. Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 25 Januarie 2021

Filippense 3:8.  “Ja, meer nog: Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.”

Bob Buford het ’n aangrypende boek, Halftime, geskryf. Die deurlopende tema in hierdie boek, gaan oor: “how to change from success to significance.”  Hoe om van sukses na betekenis te verander.  Alles in ons wêreld gaan oor sukses, en hoe om suksesvol te wees. Maar werk dit altyd alles uit?

Freddy Mercury, die bekende sanger van Queen wat aan Vigs oorlede is, het gesê: “Success has brought me world idolisation and millions of pounds, but has prevented me from the one thing that we all need – a loving ongoing relationship.” Ons kan daarom vra: “Was hy toe op die end suksesvol? “

Sukses kan so maklik gedefinieer word deur ’n klomp geld wat ek gemaak het, my besittings, krag en aansien. Maar Freddy, saam met so baie ander, het ontdek dat jy alles in die lewe kan hê, en nogtans niks het nie.  Hy het nooit die tree gemaak van sukses na betekenis nie.  Natuurlik is daar niks mee verkeerd om sukses na te streef nie.  Die nastrewing daarna, moet net nie allesoorheersend in my lewe raak nie. Dit wat ek bymekaar maak in my lewe, moet werklik dinge van betekenis wees, vir mense rondom my, vir myself en veral ook ten opsigte van my verhouding met God.

Dit is altyd goed om te weet wat God as suksesvol beskou. Dit is nie alleen materiële voorspoed soos baie mense in die voorspoed teologie daaroor dink nie. Dit gaan oor waarde wat jy tot mense se lewens voeg, dit gaan oor koninkrykswaardes wat gevestig moet word in ons wêreld. Zig Ziglar het geskryf: “Success is not measured by what you do compared to what someone else does, but how you compare to what you could have done with what God gave you.”

In 2021 gaan daar geweldig baie uitdagings wees, en sal ons baie groot besluite moet neem oor ons kollektiewe en persoonlike toekoms. Kom ons hoor wat Paulus in hierdie gedeelte leer vir sy lidmate.  Hy was vir ons ’n voorbeeld daarin om betekenisvolle dinge na te jaag, daarom beskryf hy alles as waardeloos, behalwe om vir Christus sy Here te ken. En dit oortref alles in waarde.  Paulus moedig ook die gemeente in Filippi aan om positief en opbouend te dink. Hy stel dit pragtig: “Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, watter deug daar ook al mag wees, daarop moet julle julle gedagtes rig.”

Gebed

Here leer my om nie alleen materiële voorspoed na te jaag nie, maar veral hoe en  waar ek waarde kan toevoeg deur U in my lewe. Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 24 Januarie 2021

Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Ons almal ken die uitdrukking baie goed: “It is all in the mind” My gedagtewêreld, hoe ek dink, my “mindset” is bepalend vir baie dinge in my lewe. Ons het vroeër die week ook stilgestaan by ’n gedeelte in Spreuke waar ons gemaan word om versigtig te wees oor wat in ons hart /denke aangaan, omdat dit is bepalend vir ons hele lewe.

’n Bekende filosoof het ook gesê: “Jy is, wat jy dink ” Hoe ons dink, oor die toekoms, oor Suid-Afrika, die ekonomie, is geweldig belangrik. Ons word maklik in ’n spiraal van negatiewe denke ingetrek wat ons gemoed in die dieptes van donkerte laat. Wanneer ons mense van hoop is, soos ons gister gesien het, beteken dit dat ons onsself oorlaai met positiewe denke, ook oor die toekoms.

Die teksvers van vandag is baie bekend en baie gewild en spreek hierdie situasie aan. Paulus was bewus van die feit dat mense maklik in ’n negatiewe spiraal van denke ingetrek kan word. Daarom  moedig hy sy gemeentelede aan om nie soos die wêreld, wat hoop verloor het, te wees nie, maar om toe te laat dat God hulle manier van dink en doen verander. Dit is waar die hoop en verwagting vir die toekoms gesetel is. Dit is weereens nie uit ons eie krag nie, maar dis ’n “God-job.” God alleen kan my denke vernuwe (soos wat Dawid ook in Psalm 51 gebid het vir ’n hart wat vernuwe moet word).  Met sulke positiewe denkpatrone, sal ons onsself dan kan onderskei rakende wat die wil van God is, wat goed, aanneemlike en volmaak is.

Kom ons besluit om hierdie jaar ’n jaar van positiewe denke te maak. Om die dinge te bedink wat mooi en goed en aanvaarbaar vir God is. So skep ons ’n kultuur van positiewe denke en verwagtinge en stry ons teen die toenemende golf van pessimisme wat ons wil oorneem.

Gebed

Here, help my om elke dag te besluit hoe ek moet dink. Dat ek elke gedagte gevange sal neem in gehoorsaamheid aan U. Help my om met vernuwe denke te onderskei wat vir U aanneemlik en reg is. Amen.

1 114 115 116 128