GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Vrydag 12 Februarie 2021

Filippense 3:14.  “Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

In my jonger dae en toe ek nog so ’n paar kilogram ligter was, was ek ’n ywerige hardloper en het  ’n hele paar wedlope afgelê.  Ek het op Wellington gebly, en ek onthou die eerste wedloop waaraan ek deelgeneem het was in Durbanville.  ’n Mens het ingehardloop en uitgehardloop, en dan weer terug gehardloop.  Die manne saam met wie ek gehardloop het, het gesê jy moet altyd jou pas reg kry, jy kan nie te vinnig begin nie anders kan jy nie tot aan die einde volhou nie.  Maar ek het by myself gedink dit kan nie so moeilik wees nie  en ek gaan die pas sommer vinnig insit!  So ’n kilometer van die wegspring lyn af het ek hulle agter gelaat  en sommer lekker sterk spoed aangesit. Toe hulle my by die draaiplek kry, toe stap ek al, en ek het driekwart van die laaste gedeelte van die wedloop ook gestap omdat ek te vinnig begin het en die wedloop te oorywerig aangepak het.

Om ’n Christen te wees, beteken nie om net te begin hardloop nie, maar ’n mens moet uiteindelik by die wenpaal uitkom.  Dit beteken dat soos in enige ander wedloop moet ’n mens jou pas vind, en jou pas hou.  ’n Mens moet verantwoordelik en met goeie oordeel lewe.

Daarom verwys Paulus ook na die Christelike lewe as ’n wedloop.  In 1 Timotius 4 en in vers 15 praat hy  van waar almal jou vordering kan sien.  Lewe jy onoordeelkundig, kortsugtig of, soos ek wat met ’n gebrek aan oordeel nie na ander geluister het nie.  God is spreekwoordelik die afsitter wat ons die eerste tree in hierdie wedloop gee.  Hoe sit God ons in beweging?  Hy verduidelik dit so mooi  in Jesaja 43:1: “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne”.  Hy roep ons nie net sommer in die bondel nie, maar let wel vir elkeen op ons naam.

“Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne,  Ek ken jou.  Jy is nie maar net ’n nommer nie.  Nee!  Ek ken jou doopname, nie net jou doopname nie, Ek ken ook jou noemnaam.  Ek ken ook jou troetelnaam.  Ek ken jou geskiedenis, jou adres, jou lewe, jou pyn, hartseer en jou frustasie.   Dit wat jou bly maak, dit wat jou laat wakker lê in die nag.  Ek ken jou geskiedenis, ek ken jou deur en deur.  Ek weet van jou suksesse en jou mislukkings.  Maar ook jou sondes, elkeen van hulle.  Vir jou sê ek: Ek roep jou op jou naam, jy is Myne. Jy behoort aan My, al die dae van jou lewe.  Ook as jy ver van my af voel, ook as jy voel Ek is nie daar nie.  Daar wil ek vandag en ook in die toekoms na jou omsien, en vir jou sorg.  Al lyk dit of ek nie altyd daar is nie, by jou werk, of by jou huis, of waar jy ookal beweeg.  Maar dit beteken ook dat jy jou moet gedra soos iemand wat aan My behoort.  Ook die tye wanneer dit vir jou voel asof ek vêr weg is en nie teenwoordig is nie.”

So roep God elkeen van ons, en as jy antwoord: “Ja Here, ek hoor U” moet jy hierdie groot tree in die regte rigting en met groot versigtigheid en verantwoordelikheid gee. So word ek en jy ’n Christen in beweging oppad met God.  Gee hierdie gewillige tree vandag weer, dis die enigste manier waarop jy die wenpaal kan bereik.  As jy doelgerig, voluit en met oorgawe hierdie wedloop hardloop. Soos Paulus dan sê: “Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het.”

Gebed

Here dankie dat U in elke tree, van ons lewenswedloop daar is.  Ons besef Here, dat ons so maklik oordeelsfoute maak en dat ons dikwels nie goed voorbereid is nie.  Dat ons nie die regte skoene aan het nie en nie na ander se raad luister nie.  Dat ons wegdraai van die wenpaal, of die einddoel mis.  Dankie dat U ons elke keer weer kan terugbring, en gee vir ons die genade om tot die einde van die wedloop te hardloop.

Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 11 Februarie 2021

Psalm 22:4. “U is tog die Heilige God. Israel se lofsange is vol van U koningskap.”

Psalm 150.  “Laat alles wat asemhaal, die Here prys. Prys die Here!”

Daar is ’n Joodse legende wat oor die oorsprong van lof, handel.  Die verhaal word vertel dat na God die mens geskape het, het Hy die engele gevra wat hulle van die wêreld wat Hy gemaak het, dink. “Daar is iets wat skort,” het die engele volgens die legende verklaar. “Klanke wat die Skepper sou kon loof, ontbreek.” het hulle gesê.  En die legende lui dat God daarna, musiek gemaak het en Hy het musiek in die stemme van die voëls, in die fluistering van die wind en die dreuning van die see geplaas.

Hy het toe melodie in die oor van die mens geplaas, sodat hy lofliedere tot die eer van die Skepper kan sing en ook net musiek kon maak.  Musiek wat die Here se eer betoon, maar wat ook ons gemoedere streel, ons gemoedstemmings kan verander, ons voete kan laat klop en  ons laat dans en sing.

Gelowiges mag nooit so hardhorend word dat hulle doof word vir die wonderdade van God nie.  Nie net deur die musiek wat mense maak nie, maar dat God se musiek in die stemme van dit is, wat rondom ons gebeur.  Daar is soveel dinge, veral in hierdie tyd, wat ’n demper plaas op alles wat in die Skepping God se lof besing en vir die gawes wat ons elke dag uit sy hand ontvang.  Sy liefde, sorg en lyding en die musiek wat vanuit mense se vaardighede geskep word.  Ook die vaardighede van wetenskaplikes, wat hard werk, regoor die wêreld om ’n entstof te vervaardig.  Die vaardighede van mense wat veral in die gesondheidsorgsisteem hulle werk met groot toewyding doen.  Die musiek is ook daarin.

Dit moet alles soos musiek van God in ons ore wees, ondanks die klinkende klank van geld en die harde woorde wat mense soms vir mekaar sê .  Ook die harde skote en houe van misdaad en korrupsie waarvan ons so gereeld in ons koerante lees en waarvan ons in die media, TV en radio hoor.

Dit is nie net toevallig dat ’n hele boek uit lofliedere bestaan nie, dis die diepste betekenis van ware godsdiens. Om te loof!  Dis waaroor die Psalms gaan, met musiek kan soms meer gesê word as met woorde.  “Musiek van Mozart kan ’n ongelowige half laat glo,” het Jesse O’Neill by geleentheid gesê.

Die bekende Oscar Wilde het verklaar, “nadat ek Chopin gespeel het, voel ek of ek wil huil oor sondes wat ek nooit gepleeg het nie. En om te treur oor tragedies waarby ek nooit betrokke was nie”. Nooit, mag teleurstelling en beproewinge, siekte en dood, droogte en mislukkings, haat en geweld, of wat ookal, ons verhinder om God se lof te besing nie, of raak te sien waarmee Hy op ander plekke besig is nie.  Geen wonder dat die lofpsalms in die Bybel eindig met die oproep: “laat alles wat asemhaal, die Here prys.  Prys die Here,” sê  Psalm 150.

John Wolfgang van Gutte het blykbaar gesê: “Ons moet minstens elke dag een lied hoor, gedigte te lees en na mooi skilderye kyk en indien moontlik, het hy gesê ’n paar verstandige woorde praat – dit, is musiek”.

Gebed

Here, laat ons u musiek en u stem hoor en raaksien in die wêreld rondom ons.

Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 10 Februarie 2021

1 Petrus 4:10. God het vir elkeen van julle besondere bekwaamhede gegee. Julle moet dit gebruik om mekaar te help, want dan werk julle reg met die verskeie soorte vermoëns wat God julle gegee het.

1 Korintiërs 1:1-2.  Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die naam van ons Here Jesus Christus om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Is Christus dan in stukke verdeel?

Wanneer ek in dié tyd met mense gesels besef ek dat baie mense afgesonder is tot kontak met  ’n klein familiekring, dikwels beweeg hulle ook net binne hulle  eie gesinskringe.   Bloot oor die vlak van die pandemie waarbinne ons nou moet leef. Mense wil nie te veel blootgestel word aan verskillende mense nie.

’n Tyd gelede het ek die verhaal van ’n koning wat op sy sterfbed gelê het, gelees. Hy was die pa van die eerste koning van die latere Hongarye. Rondom sy bed het sy vyf seuns gestaan.  Hulle was van plan om na hul pa se afsterwe te vertrek en dan elkeen sy eie “koninkryk” te begin.  Die ou koning het gesê: “Ek weet nie wie my moet opvolg as koning nie, daarom het ek besluit om te kyk wie van julle die sterkste is.  Hy het ’n bondel stokke aan sy oudste seun gegee en gevra dat hy dit in die middel moet deurbreek. Hy kon dit egter nie regkry nie en daarna kon nie een van die ander vier ook daarin slaag nie.

Hierna het die koning weer die bondel stokke by hulle geneem, dit van mekaar losgemaak en daarna die dun stokkies een vir een middeldeur gebreek. Toe het hy gesê: “Onthou altyd my seuns, saam kan niemand julle breek nie, maar as julle verdeeld is, beteken dit julle almal se einde.”

Miskien is dit ’n legende, maar die boodskap is duidelik vir alle mense van alle tye. Die koshuis waarin ek op Stellenbosch was, se naam was Eendrag, en die leuse: Eendrag maak mag.

Eensgesindheid is deurslagewend vir die toekoms van elke huisgesin/familie, of selfs werkomgewing, maar ook dan spesifiek ook in ’n land, waar daar verdeeldheid is. Waar onmin gesaai word in ’n nasie of volk, gesin of werksomgewing word ’n vinnige einde verseker. Soms kry ek die indruk dat mense baie  negatief oor ons land en kerkomgewing praat. Paulus moes reeds in die vroeë kerk die Korinitiërs aanspreek, “ek doen ’n beroep op julle almal broers, namens ons Here Jesus Christus om eengesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Is Christus dan in stukke verdeel?”

Ons as gelowiges in hierdie land, ook in die besonder in ons kerkomgewing, het mekaar bitter nodig.  Veral wanneer ons kyk na hoe mense in die openbaar van mekaar verskil en teenoor mekaar optree.

Iemand het op ’n keer aan pastoor Wurmbrand gevra hoe hy die Protestante en Katolieke in die konsentrasiekampe van Duitsland met mekaar laat saamwerk het.  Wurmbrand se antwoord was kort en op die man af: “In so ’n krisistyd, vra jy nie vir iemand oor hul kerkverband uit nie, maar dank jy die Here vir elkeen wat sê dat hy wel ’n gelowige is en dat hy ’n Christen is.”

Kom ons kyk eerder waaroor ons met mekaar kan saamstem, as om mekaar die hare in te vlieg, of mekaar sleg te sê wanneer ons diep van mekaar verskil. Dit wat ons met mekaar in gemeen het, is baie meer as dit waaroor ons van mekaar verskil.

Mag eengesindheid ’n karaktertrek, van elkeen wees. Want 1 Petrus 4 sê: “God het ons verskeie soorte vermoëns gegee.”

Gebed

Here gee ons die genade om eerder ooreenkomste te soek in plaas van om verskille op die spits te dryf.

Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 9 Februarie 2021

KOLOSSENSE 3:9-10.  Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word.

Ons trek elke dag skoon klere aan. Die vuil klere word in die aand uitgetrek en in die soggens met skoon klere vervang. Dit is ’n ritueel wat ons amper outomaties uitvoer en dink nie ernstig daaroor na nie. Dié eenvoudige alledaagse beginsel gebruik Paulus in die gedeelte wat ons gelees het en pas dit toe op ons geestelike lewe. Paulus meen soos ons die ou vuil klere in die aand uittrek, so moet ons ook die ou sondige gewoontes aflê en net soos ons weer skoon klere aantrek moet ons die nuwe Christelike leefwyse aanleer.

Iemand wat sy lewe aan die Here toevertrou het se lewe het verander en hy/sy ontvang ’n nuwe identiteit.  ’n Nuwe identiteit moet met ’n sigbare verandering in sy/haar lewe gepaardgaan. Die ou sondige mens moet uitgetrek word soos ou vuil klere uitgetrek word. Wanneer ons die vuil klere uittrek moet ons ook die nuwe klere van Christenwees aantrek.

En so moet Jesus ons ou identiteit en menswees afstroop en dan vir ons ’n nuwe identiteit gee. En onthou hierdie is nie ’n eenmalige ding nie. Elke dag moet ek weer myself aan die Here se mag en krag oorgee.

GEBED

O Here kom maak my nuut kom gee asseblief vir my ‘n nuwe identiteit. In Jesus Naam.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 8 Februarie 2021

Esegiël 11:19.  Ek sal vir hulle ‘n onverdeelde hart gee. ’n Nuwe gees sal Ek in hulle binneste laat posvat. Ek sal die hart van klip uit hulle liggame verwyder, en Ek sal vir hulle ‘n hart van vlees gee,

Op 3 Desember 1967, doen prof. Chris Barnard, ’n seun van Beaufort-Wes, die eerste menslike hartoorplanting ter wêreld in die Grootte Schuur Hospitaal. Prof Barnard het geskiedenis gemaak toe hy die hart van ’n vrou, Denise Darvall, op Louis Washkansky oorgeplant het.  Die eerste hartskenker die jong meisie, Denise, was daardie Saterdagmiddag in Desember sowat ’n kilometer van die Groote Schuur-hospitaal saam met haar ma in ’n motorongeluk betrokke.

Louis, op wie die hart oorgeplant is, het agttien dae met sy nuwe hart bly lewe (hy is aan longontsteking oorlede). Tog sou hierdie deurbraak tot ’n heel nuwe era in hartchirurgie lei met letterlik tienduisende hartoorplantings wêreldwyd oor die volgende dekades.

Ons harte is die kern van ons lewens.  Wanneer die hart gaan staan, is daar nie meer lewe nie.  So is ons harte ook wat ons geestelike lewe betref die kern en bepaal die toestand van ’n mens se hart ook my geestelike lewe.  Die hart is die draer van ons diepste begeertes en geestelike ervarings.  Dit is die kern van waaruit ons lewe.  Dit wat in ons harte omgaan bepaal ons lewe.  Ons ken sekerlik almal die gesegde: “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor”. Daarom het ons ook ’n geestelike hartoorplanting nodig. Ons het nodig dat die Here ons sondige klipharte sal uithaal en ons ’n nuwe geesvervulde hart gee.

GEBED

Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak.  Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! AMEN

Gedagte vir die dag | Sondag 7 Februarie 2021

Psalm 40:2-3.  Ek het op die Here bly wag, Hy het na my afgebuig en my hulpgeroep gehoor.  Hy het my opgetrek uit die put van verderf, uit die modderige slik.  Hy het my voete op ’n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee.

Hierdie paar verse is ’n belydenis oor die Here se getrouheid.  Dawid het al sy hulp van die Here verwag.  God is nie te ver om te hoor nie en buig af om hom uit die put te trek.  Dit is egter nie net ’n geval van uittrek nie, maar God plaas sy lewe weer op vaste grond.  Dit is Hy wat weer standvastigheid gee.  Uit sy persoonlike situasie kan Dawid getuig dat God getrou is.  Dit is ’n algemene lewenswaarheid: God is getrou! Die benarde en doodsbenouende situasie waarin hy verkeer het, is omgeswaai na oorwinning en stabiliteit.

Dalk is jy nou ook binne ’n moeilike tyd waar dit vir jou voel of daar nie lig aan die einde van die tonnel is nie.  Dit voel dalk vir jou asof jy teen ’n muur staan en alles is buite beheer en jy vrees dalk dat die Here se hulp en uitkoms nie betyds gaan wees nie.  Hou moed, baie gelowiges het al so gevoel.  Baie voor jou is al op die randjie van die afgrond gered.  Die Here se tyd is nie ons tyd nie en Hy sál betyds daar wees om jou uit die gemors of moeilikheid op te tel, weer jou lewe op die regte koers te plaas en nuwe blydskap in jou lewe te bring.

Terwyl jy wag – wees geduldig en  hou aan met bid.  Hou aan om te glo, hou moed, vermy negatiewe gedagtes en praatjies oor jou situasie en probeer om weg te kyk van jou probleem en op die Here te fokus.  Vul jou gedagtes met positiewe en opbouende dinge.  “This too shall pass” en dan sál daar ’n terugkykdag kom waarop jy soos Dawid sal kan getuig: “Ek het vas geglo dat die Here my sou help en dit het toe gebeur.”

GEBED

Here, ek het U hulp nodig. Ek voel of ek rondswem in ‘n modderpoel. Tel my asseblief ook op en plaas my weer op ’n vaste rots.

Amen

Gedagte vir die dag | Saterdag 6 Februarie 2021

2 Korintiërs 5:17.  Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Min mense sal sê dat wurms vir hulle mooi is.  Dalk eerder grillerig.  Op ’n dag spin wurms hulleself toe in ’n kokon en wanneer hulle uitkom, is hulle pragtige skoenlappers!  Wanneer die kokon oopgaan, is dit ’n nuwe skepping wat uit die kokon verskyn.  Die wurm is weg en met ’n pragtige skoenlapper vervang.  Met ander woord iets nuuts is gevorm.  Dit is presies wat die Here ook met ons wil doen.  Hy wil jou en my nuut maak –  oormaak.   Sonde het ons lelik en vuil gemaak sodat ons amper soos wurms lyk – grillerig en afskuwelik.  Maar Jesus wil ons nuwe mense maak.  Hy wil ons so mooi  soos ’n skoenlapper maak.

’n Nuwe lewe met ’n nuwe lewensuitkyk en -standaarde is God se handewerk in ons lewens.  In 2 Korintiërs 5 praat Paulus oor God se vernuwingswerk in mense se lewens.  Hierdie vernuwingswerk kan in ons lewens moontlik gemaak word omrede Jesus vir al ons skuld betaal het.  Jesus bring herstel en genesing in mense se lewens mee.  God is die outeur van die veranderinge in ons lewens.  Met ander woorde wat Paulus sê is dat God bewerk die nuwe skepping op die basis van dit wat Christus aan die kruis gedoen het.  God neem die inisiatief om die ou sondige mens in ’n nuwe skepping en mens te verander en so  ’n veranderde werklikheid te vestig.

Deesdae is makeover programme baie gewild.  ’n Vaal persoon word oorgemaak en lyk na die proses soos ’n model.  Paulus verwys ook hier na  ʼn makeover, maar dit gaan diep . . . tot in jou siel.  In Jesus kry jy ’n egte en totale makeover! Het jy al hierdie makeover gekry?

GEBED

Net soos ek is, met my sonde so groot,

kom ek na U, my Verlosser, in nood.

Daar aan die kruis red U my van die dood –

Net soos ek is so ellendig en blind,

dikwels tog ook nog so wêreldgesind.

By U alleen is daar redding te vind –

Net soos ek is kom en buig ek my neer,

ek is met sonde bevlek, o my Heer.  Net U kan, Heer, my verlorenheid keer.

AMEN

Gedagte vir die dag | Vrydag 5 Februarie 2021

Klaagliedere  3:22-24.  22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23 dit is elke môre nuut. U trou is groot. 24 Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.

Klaagliedere, is ’n versameling liedere waarin met hartseer teruggekyk word na die tyd van die Babiloniese ballingskap, die val en vernietiging van Jerusalem (587-586 vC).  Die skrywer van die klaaglied, Jeremia het geleef in ’n treurige tyd.  Dit was die jare na die oorlog teen die Babiloniërs en die wegvoering van die volk Israel na Babilon.  Jerusalem is verwoes en die tempel lê in puin.  Die  inwoners het al hulle besittings verloor.  Boonop het Juda sy onafhanklikheid verloor en die inwoners moet duur belastings aan die nuwe Babiloniese owerheid betaal.

Binne hierdie gevoel van moedeloosheid en hulpeloosheid besef Jeremia een ding – omdat God die mens lief het is alles nie verlore nie.  Die Here gee steeds om vir die volk al is hulle nou in ballingskap weggevoer.  God se lojale liefde was steeds sigbaar deurdat Hy binne in hierdie slegte tyd steeds die volk gedra en gelei het.

Wat bely Jeremia dan oor God?  Hy bely dat die liefde van die Here hulle van totale ondergang gered het.  Hy bely ook dat die Here ’n beskermende en ontfermende God is.  Sy ontferming is grensloos, elke môre nuut.  Die Here gee elke dag ’n nuwe voorraad vars genade vir hulle wat daarvoor vra en hierdie bron van genade en liefde droog nooit op nie.

Swaarkry en beproewings, kan ’n geweldige geloofskrisis in ’n mens se lewe veroorsaak.  So ’n geloofskrisis dat jy soms geestelik siek raak.  Want in tye van beproewing voel God nie soos ’n vriend nie, maar soos ’n vyand.  Beproewings maak ’n mens seer, dit verneder jou soms, is dikwels ongenaakbaar en demp al jou lewensvreugde.

Hoofstuk 3 in Klaagliedere wil ons egter opnuut verseker dat daar wel troos vir God se kind is, te midde van sy gevoel van verlies, verstotenheid en eensaamheid.  Die troos is dat jy in God se hand is.

GEBED

Here, ons kom na U toe op grond van u genade. Laat ons nie alleen met ons twyfel en vrae nie.  Laat ons nie alleen met ons angs en eensaamheid nie.  Ons bid om geloof in u genade. Here, ons bid op grond van u, liefde, u barmhartigheid.

Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 4 Februarie 2021

Filippense 3:13-14.  Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Terwyl Paulus hier in die tronk sit, is hy besig om sy lewe in oënskou te neem en te besluit wat belangrik is om saam met hom te neem en wat onbelangrik is. Hy kyk as’tware na die bagasie van sy lewe en besluit wat gelos kan word en wat belangrik is om te hou.

Dit is duidelik dat daar in Paulus se lewe ’n herwaardering van sake is. Daarom skryf hy met soveel oortuiging. Wat vroeër vir my belangrik was, en nou onnodige bagasie is, los hy nou agter.  Wat vroeër vir hom sin gegee het, het nou in onsin verander.  En die rede daarvoor is glashelder.  Dit is Christus wat die verskil in sy lewe gemaak het. Omdat Christus ’n nuwe sin, ’n nuwe waardestelsel en ’n nuwe koers in sy lewe gebring het, het hy sekere waardelose dinge agter gelaat. Wat het Paulus daarmee bedoel?

Paulus sê eenvoudig dat vandat hy Jesus ontdek het, is sekere dinge nie meer vir hom so belangrik nie. Die dinge waarna Paulus vroeër verwys het – goeie familie, uiterlike verbintenisse en toewyding, is nie opsigself waardeloos nie, maar dit vervaag in belangrikheid wanneer dit teenoor Christus Jesus te staan kom. Daarom skryf Paulus in verse 13-14: “Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Wat is die dinge wat ons so onnodig saam met ons sleep wat die lewe vir ons so ondraaglik maak.  Waaraan dra jy so swaar?  Wat is die dinge wat jy liewer moet laat staan, omrede dit jou lewensreis net moeiliker en onsmaaklik maak?  Is dit dalk skuldgevoelens, bitterheid, bekommernisse, teleurstellings, verwerping, haat, afguns, swak selfbeeld, of onsekerheid?  Kom ons volg Paulus se voorbeeld en los dit agter. Kom ons maak ons los daarvan en lewe ligter in die teenwoordigheid van Jesus Christus.

GEBED

Here ek stap soms die lewenspad met ’n swaar tas vol skuldgevoelens, teleurstellings, haat, afguns en onsekerheid. Vergewe my asseblief hiervoor. Maak my los daarvan. Ek wil ligter lewe en die wenstreep behaal. Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 3 Februarie 2021

Jesaja 40:31.  maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.  Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Ek is seker dat nie een van ons nog nooit moedeloos, of teleurgesteld gevoel het nie.  Elkeen van ons was al moedeloos en teleurgesteld.   ’n Mens weet ook dat jy in sulke omstandighede met die Here worstel en dat vrae gevra word en dat selfs verwyte later geslinger word.  Die feit van die saak is: Die lewe verloop nie altyd soos ek en jy  dit graag wil hê nie.   Ons beland soms in  situasies wat ons glad nie kan hanteer nie en daar gebeur dinge wat ons in ons wildste drome glad nie kon voorsien nie.

In Jesaja se tyd was die volk van die Here ook onder geweldige druk.  Die Babiloniërs was  ʼn wesenlike gevaar en besig om die strop al stewiger om die Judeërs se nek te trek.  Die druk was so aanhoudend deur Nebukadneser en sy leërmag toegepas dat die volk moedeloos geraak het en gevoel het dat die Here hulle verwerp het.  Luister net na die volk van die Here se worsteling in die tyd van die profeet Jesaja: Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby (vers 27).

Dan volg hierdie bemoedigende woorde in vers 31:  Die wat op die Here vertrou kry nuwe krag.  Aan die wat op die Here vertrou, belowe Hy “nuwe krag” – te midde van die swaar en vermoeiende lewe!  Om hierdie “nuwe krag” te verduidelik, gebruik die profeet drie beelde:

Eerstens: “hulle vlieg met arendsvlerke . . . ”

Tweedens:  “hulle hardloop en word nie moeg nie . . .”

Derdens: “hulle loop en raak nie afgemat nie . . . ”

As jy vandag moeg en afgemat is, begin op die regte plek – by God! Dan sal jy die teenwoordigheid van sy Gees in jou lewe ervaar, wat jou met vertroue, moed en uitsig op die toekoms vul! Ja, dan sal ek en jy weer “kan sweef soos ’n arend”, hardloop en nie moeg word nie, loop en nie afgemat raak nie!

GEBED

Here ek is op die stadium moedeloos. Die lewe is uitdagend en ek is sommer net nie meer lus nie.  Skenk my asseblief ook die krag en moed om voort te gaan.

Amen.

1 113 114 115 128