Gedagte vir die dag | Maandag 22 Februarie 2021
Matteus 26:36. “Daarna kom Jesus met sy dissipels by ‘n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” Hy het ‘n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
Nood leer bid!
Is hierdie uitdrukking nie baie waar nie? Ons ken dit almal so goed. As ’n mens swaar kry, of lyding ervaar, dan is ’n mens se gebedslewe dikwels op sy beste. Dan besef ’n mens weer hoe afhanklik jy eintlik van God is en hoe swak jy in jouself is.
In ons teksgedeelte van vandag sien ons dat dit selfs waar was van Jesus. My kollega, Callie Visagie, het gister ook uit hierdie gedeelte gepreek en ander belangrike aspekte van hierdie Getsemane-verhaal uitgelig.
Dit bly een van die hartseerste verhale, maar ook een waar ons so baie leer van Jesus, sy ervaring van lyding, sy menslikheid, sy broosheid, sy nood! Ons tref Hom hier aan in die tuin van Getsemane, waar Hy een van die belangrikste aspekte van ons geloofslewe illustreer. Hy bid! Ja, op ander plekke in die Bybel het ons ook baie gesien dat Jesus bid en dat Hy sy dissipels leer hoe om te bid.
Maar hier bid Hy in nood! Bedroef en beangs, roep Hy na Sy Vader. Hy maak teenoor sy drie vriende wat daar saam met Hom is, ’n erkentenis: “Ek voel doodsbenoud! Bly hier en waak saam met My!” Met Sy gesig teen die grond smeek Hy: “My Vader, laat hierdie lydensbeker by My verby gaan.”
Sjoe! Dis Jesus, wat so swak, so hulpeloos, so beangs is! Volledig mens. Volledig kwesbaar en broos sodat Hy kan identifiseer met ons nood, angs en lyding.
In dit, in hierdie brose lyding van Jesus, leer ons juis dit: Om in nood, lyding en broosheid nie op ander plekke eerstens te probeer uitkoms vind nie, maar op ons knieë, gesig teen die grond, roepend na God.
Gebed
Jesus, al u angs en smeking, eensaam in Getsemane; dit was liefdevol bereken om ons ware rus te gee. Heer, U het, gedring deur liefde, self die kruis vir ons gedra, en U sterf, die sondelose, op ons plek op Golgota.
Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 21 Februarie 2021
Filippense 2:5. “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”
Gister het ons gesels oor die gehoorsaamheid van Jesus aan sy Vader, en hoe Hy die wil van sy Vader stiptelik uitgevoer het. Ons het ook gesê, as dissipel van Jesus Christus, moet ons dieselfde tipe gehoorsaamheid in ons alledaagse lewe demonstreer.
In die gedeelte wat ons vandag gelees het, merk ons ’n ander baie belangrike aspek op wat duidelik uitkom in die lyding van Jesus, naamlik sy nederigheid. Ja, Jesus word in die proses van sy lyding ’n Lam genoem. ’n Lam wat die beeld van nederigheid dra. Paulus verwys ook na Jesus wat na die aarde toe gekom het, in ’n nederige gestalte, die gestalte van ’n slaaf. Hy het nie vasgehou aan sy goddelikheid en sy posisie by sy Vader nie. ’n Deel van sy lyding, was sy inkarnasie (menswording). Sy koms na hierdie wêreld, waar Hy die gestalte van ’n mens moes aanneem, was as sulks ’n groot lyding. Dwarsdeur sy bediening, het ons hierdie karaktereienskap van Jesus raakgesien. Die lydende kneg van God, was ’n dienaar. Hy was die een wat onder mense beweeg het om hulle te help. Hy was die een wat op ’n nederige donkie Jerusalem binne gegaan het.
As ons ernstig is om Jesus te volg, moet ons ook sy voorbeeld volg . . . dan vra dit van ons dieselfde gesindheid. Dit is waarvoor Paulus ons ook in die teksgedeelte oproep. Nederigheid en lyding is twee kante van dieselfde munt. Deur die karaktereienskap van nederigheid in ons eie lewe toe te pas, sal ons ook iets van lyding ervaar. Dis nie altyd maklik om die minste te wees nie, of om op te offer en te dien nie, maar juis as ons dit doen, wys ons Wie ons volg.
Gebed
“Jesus, Lam gely ter slagting, U oorwin vir ons die dood. Jesus, prooi van veragting, U dra self ons angs en nood. Drink die beker van verraad, word verraai deur mens, duisend maal, duisend maal. O Heer, bring ons daarvoor dank en eer.”
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 20 Februarie 2021
Filippense 2:8(b) “…en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”
Vir ons as gelowige, volgelinge van Jesus Christus is die lyding van die Here Jesus nie net ’n daad om in ons plek te sterf en namens ons die skuld te dra nie. Ons kan ook so baie ander dinge leer uit die lyding van Jesus, en dit op ons eie lewe van toepassing maak.
Een ding wat uitstaan in die lewe en bediening van Jesus, is Sy absolute gehoorsaamheid aan sy Vader. In al die tekste, waar Hy oor sy Vader praat, sien jy hierdie buitengewone lojaliteit en gehoorsaamheid aan Hom. Hy het geweet wat die Vader se plan is, en tog was Hy bereid om dit end uit, uit te voer. Veral ook die plan rakende sy eie lyding en sterwe.
Hy het sy dissipels oor gehoorsaamheid aan sy Vader geleer. En dan, tydens sy lyding en sterwe, openbaar Hy die grootste denkbare gehoorsaamheid. Selfs aan die kruis, en van die kruiswoorde, sien ons die lojaliteit aan sy Vader. As Hy aan die kruis hang, is daar verskeie kruiswoorde waarin ons sy pyn en lyding duidelik kan sien. Deur dit alles bly Hy egter gehoorsaam om Sy Vader se wil uit te voer.
As ons in 2021 vir Jesus volg, as sy dissipels, maak dit ook ’n geweldige appél op ons gehoorsaamheid aan die wil van God en aan die opdragte van Jesus Christus. Ons kan, en moet, ons liefde vir, en lojaliteit aan, Hom bewys in hoe ons sy opdragte uitvoer!
Mag die Here ons dag na dag help in hierdie groot taak. Soos Hy, moet ons ook onder alle omstandighede gehoorsaam wees en die wil van sy Vader prioriteit in ons lewens gee.
Gebed
“Sou ek U dan nie prys nie, aan U my dank nie bewys nie, al wag daar vir my ook ’n kruis. Aan U my lofgebede, U skenk my die ware vreugde. U bring my na die Vaderhuis.”
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 19 Februarie 2021
Jesaja 53:5. “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Vandag wil ons, ons gedagtes laat gaan oor die plaasvervangende lyding en sterwe van Jesus Christus. Met ander woorde, dat Hy ons skuld, op Hom geneem het, deur in ons plek te ly, en te sterf.
Ek was jare gelede in ’n situasie waar ’n skuldige persoon voor die reg gebring is oor ’n groot misdaad (moord) wat hy gepleeg het. Die polisiebeamptes het hom intens ondervra en dit het dadelik duidelik geraak dat hy die skuldige is. Toe hy uiteindelik daarop moes antwoord het hy die misdaad, sy skuld sukkelend erken en hy was as ’n misdadiger gebrandmerk en hy moes op die verhoor deur die regter wag.
Ek het na die tyd met ’n paar van die polisiemanne en -vroue oor die aangeleentheid gesels. My vraag aan hulle was: “Wie van julle sal bereid wees om hierdie misdadiger, wie julle ondervra het, se skuld namens hom te dra? Wie van julle sal in die hof gaan staan en sê dat hy skuldig is, maar ek sal sy straf uitdien en dan lewenslank in die tronk gaan sit?”
Sonde, en ons skuld daaroor is baie nou verwant aan die lyding en sterwe van Jesus Christus. Ons weet, en die Bybel is vol daarvan, dat ons deur ons sonde van God verwyder is, en dat ons eintlik die straf en die oordeel verdien. Soos daardie misdadiger het ons in die beskuldigde bank gestaan, verhoorafwagtend, wetende dat ons ons straf vir ons skuld moet uitdien. Dan, kom Jesus Christus in die prentjie. Hy sê vir die Vader: “Ek sal in hulle plek sterf. Ek sal in hulle plek die skuld dra.”
Dit is wat die plaasvervangende lyding en sterwe, van Jesus, in ons plek, beteken. Namens ons, sodat ons vry uit God se hof kan gaan, vrygespreek van alle skuld om as vry en verloste mense te lewe. Hierdie was nie ’n goedkoop transaksie nie. Dit het die bloed en wonde en kruis van Jesus gekos. Ook in Galasiërs 3 word dit baie duidelik uitgespel deur Paulus in vers 13: “Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet, deurdat Hy in ons plek, self ’n vervloeking geword het.” Want, daar word geskryf: “vervloek is elkeen wat aan hout hang.” Kom ons plaas onsself in die prentjie. Hoe ervaar ons elke dag nog hierdie “in ons plek ly en sterf,” van Jesus Christus? Neem ons dit as ’n gegewe aan, of is ons diep dankbaar, tot so ’n mate dat ons onsself ook met sy lyding wil assosieer.
Gebed
“O, Lam van God, onskuldig, wat moedig en geduldig aan daardie kruishout ly. Verdien dan nie my sonde, die slae en die wonde? Ek weet, ek weet, dit is vir my!”
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 18 Februarie 2021
Openbaring 5:9. “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie.”
Die lyding en sterwe van Jesus Christus is nie sommer net deur iemand uitgedink en neergeskryf nie. Van die begin af was dit die plan van God vir die wêreld wat Hy geskep het. Sy enigste Seun sou na hierdie wêreld toe kom, om diep spore te trap, deur lyding, die kruis, en uiteindelik die opstanding.
In ons teksgedeelte van vandag, sien ons die dramatiese gebeure van ’n aanbiddingsdiens van hemelwesens. Ek kan my net indink hoe die dag verloop het voor die troon van God, waar duisende hemelwesens in volle toewyding aanbid. Nie ’n sterk leeu nie, maar ’n Lam. Die teksvers kwalifiseer dit baie duidelik. Dit gaan oor die Lam wat waardig is om die seëls, die kennis van God oop te maak, en dan baie spesifiek, omdat Hy geslag is. Ook omdat Hy met sy bloed, die mense vir God losgekoop het.
Rondom die troon was daar ouderlinge en ’n groot menigte engele. Almal het die heeltyd uitgeroep: “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag, rykdom, en waarde en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang. Die lyding en sterwe van Jesus Christus was pyn, bloed en wonde. Maar bo-oor die tragiese lyding, word daar heeltyd geskryf: “die Lof van God”! Ja, in die lyding en sterwe van Jesus Christus word die plan, die mag en heerlikheid van God geopenbaar.
Die engele en hemelwesens het dit besef, en daarom aanbid hulle juis vir Jesus as die Lam, wat geslag is. Want, uit sy dood, het die heerlikheid van God, op ’n baie besondere manier sigbaar geword.
Weereens, haal ek vir John Piper aan wat ook hieroor skryf: “Therefore we can conclude that the centre piece of worship in heaven for all eternity will be the display of the glory of the grace of God in the slaughtered Lamb. Angels and all the redeemed will sing of the suffering of the Lamb forever and ever. The suffering of the Son of God will never be forgotten. The greatest suffering that ever was will be at the centre of our worship and our wonder forever and ever. This is not an afterthought of God. This is the plan from before the foundation of the world.”
Gebed
“Verlate van die vriende, verlate worstelaar, verlate van die Vader, verlate Middelaar! Net pyn, en dors en duister, is by U in nood: Ontdaan van aardse luister, oorwin U tog die dood.
Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 17 Februarie 2021
Lukas 24:25. Toe sê Hy vir hulle: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”
Ons is tans in die opwindendste tyd in ons kerklike jaar, naamlik Lydenstyd. Elke jaar, so na ons seisoen van Epifanie, gaan ons as gemeente en kerk hierdie unieke tyd binne terwyl ons spesifiek dink aan Jesus se uitdagende reis na sy kruis op Golgota.
Dis ook ’n baie goeie tyd om te besin oor die lyding van ons Verlosser, Jesus Christus. Dit kan dikwels gebeur dat ’n mens so outomaties deur hierdie tyd in die kerkjaar gaan sonder om jouself die vraag eerlik af te vra: “Maar hoekom? Waarom moes Jesus juis hierdie bittere pad loop?”
Ek het as kind ook baie gewonder of dit nou regtig nodig was? Kon die Vader nie ’n ander plan gemaak het nie? ’n Makliker, beter plan met sy seun, Jesus Christus nie? Hoekom dan lyding, bloed en ’n kruis?
Ons wil in hierdie volgende paar dae stilstaan by die betekenis van hierdie grootse gebeure in ons kerklike jaar, naamlik die herdenking van die lyding van Jesus Christus. Ons wil ook die sogenaamde “so-what?”-vraag vra. Hoe raak dit ons? Watter betekenis hou dit vandag vir ons in? Hoe kan ons dit vandag in ons eie tyd toepas?
In die teks wat ons vanoggend gelees het, sien ons Jesus in gesprek met die Emmausgangers. Hulle het baie vrae gehad oor die gebeure rondom die lyding en sterwe van die Here Jesus, wat hulle self waargeneem het. Dan vra Jesus hulle die vraag: “Moes die Christus nie al hierdie dinge ly, om in sy heerlikheid in te gaan nie?” Ja, die pad was pynlik, en het bestaan uit bloed en wonde, kruishout, haat en hoon. Dit het hulle, die Emmausgangers gesien.
Maar die uitkoms daarvan was uiteindelik veel groter. Dit het gegaan oor heerlikheid. Die lyding van Jesus was sy roete en die pad wat Hy moes loop om die heerlikheid binne te gaan, maar ook om die heerlikheid van God ten toon te stel aan ’n wêreld wat verlossing so broodnodig het.
Ek haal aan uit ’n artikel van John Piper, wat dit pragtig stel, aan: “This coming to suffer and die is the supreme manifestation of the greatness of the glory of the grace of God. Or to say it a little differently, the death of Christ in supreme suffering is the highest, clearest, surest display of the glory of the grace of God. If that is true, then a stunning truth is revealed, namely, suffering is an essential part of the created universe in which the greatness of the glory of the grace of God can be most fully revealed.
Gebed
“O Heer, uit bloed en wonde, kruishout, haat en hoon, blyk dit hoe die sonde die liefde ru beloon. U liefde bring genesing. Al is daar met U gespot, U liefde skenk vergewing en wil versoen met God. “ Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 16 Februarie 2021
Paulus skryf in Filippense 3:10-11: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”
Ek kan nie glo die helfte van Februarie is al verby nie! Ons gaan juis vanoggend meer oor tyd gesels.
Gejaagde grootmense en kommerlose kleuters verloor soms tred met die tyd. Soos klein Pieter wie se pa die afgelope skoolvakansie eers ’n week na die gesin se aankoms by die see, by hulle aangesluit het. ’n Dag voor sy pa se koms het die mannetjie aanhoudend gevra: “Wanneer kom pappa?” Sy ma het hom elke keer verseker: “Hy kom môre.” So het dit aangegaan en hy was elke keer verseker dat hy sy pa die volgende dag sou sien. Toe sy pa die volgende oggend reeds teen dagbreuk daar opdaag, terwyl klein Pieter nog geslaap het, kon hy toe hy later wakker word en sy pa sien, nie sy oë glo nie! Sy vraag was toe aan sy pa: “Is vandag dan al môre?”
Is vandag regtig al môre? Mense vra so baie: “Is ons al in Februarie? Wat het van 2020 geword? Nou is ons al in 2021? Is vandag dan al môre?” Vir Paulus was môre beslis voor die deur, soos hy in ons teksvers sê: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”
Eintlik sê hy dat hy in Christus, reeds self gesterf en opgestaan het, en nou saam met Hom lewe. Soos klein Pieter, kan ons baie keer nie glo dat môre alreeds by ons is nie. Daarom jaag ons deur die lewe, asof die beste dinge nog voor ons lê en ver buite ons bereik is. So word geluk soos ’n pragtige voël wat ons agtervolg en probeer vang, maar instussen sit dit reeds op ons skouer. Ons moet net vir ’n oomblik dwars kyk en stil staan.
So mis ons die lewensvreugde, en ander noodsaaklike gehalte dinge en kosbaarhede wat elke dag tot ons beskikking is. As ons maar net die gevleuelde woorde van Horatius onthou: “Carpe diem, quam minimum credula postero.” Dit beteken: “Gryp vandag, en plaas so min as moontlik vertroue in môre.”
Daarom moet ons niks uitstel vir môre as dit nie vandag gedoen kan word nie. Ons het in dié tyd gesien en beleef hoe maklik dinge van ons weggeneem kan word. Hoe maklik mense siek word en van ons weggeneem word.
Dit laat my dink aan die woorde wat op ’n ou klok in Chester in Engeland geskryf staan: “When as a child I laughed and wept, time crept. When as a youth I dreamed and talked, time walked. When I became a full grown man, time ran. And later as I older grew, time flew. Soon I shall find while travelling on, time gone. Will Christ have saved my soul by then?”
Gebed:
Here die tyd hardloop onder ons uit. Dankie dat U ons red, nie net om in die hemel te kom nie, maar om te leef, en om ten volle te leef. Dankie dat vandag al môre is, gee dat ons die dag sal aangryp, die dag wat U vir ons gegee het. Dankie vir die voorreg om te lewe, vir die voorreg om mens te kan wees. Vir die voorreg om al is dit net in een mens se lewe, ’n verskil te kan maak, of om hom/haar net te kan aanraak. Dankie dat U ons, in Jesus Christus aangeraak het.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 15 Februarie 2021
Matteus 10:29: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
Matteus 19: 14: Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”
Ek probeer nogals gereeld by die Kunstefees uitkom, maar dit is nou vir eers iets van die verlede. Verlede jaar kon ons nie gaan nie, maar ek het gedink aan ons eie sagmoedige Neelsie – CJ Langenhoven, sy teenwoordigheid is mos baie sterk op Oudtshoorn.
Op ’n stadium het hy blykbaar gekla omdat hy nie tyd gekry het om al die briewe wat mense aan hom skryf te beantwoord nie. Hy was mos ook ’n parlementslid. In daardie tyd kon ’n mens nie “copy and paste” om vir almal dieselfde gesê te kry nie. Hy het oorweeg om net 10 uit elkeen van die 100 briewe wat hy ontvang het, te beantwoord, en dan eerder op sy ander noodsaaklike werk, te fokus. Hy het sy dilemma met iemand bespreek en die persoon het hom soos volg geantwoord: “Maar elkeen verwag dan ’n antwoord? Wat van die ander 90 uit die 100 mense wat nie geantwoord word nie?” Langenhoven het toe skielik onthou van die mossie. God het tyd vir elke mossie – beeldspraak in Matteus 10:29. In werklikheid is dit so. Ons vergeet so maklik die waarde van een mens, want elke mens wil raakgesien word. Of jy nou oud of jonk, arm of ryk, belangrik of onbelangrik is.
Dit kom ’n mens ook nogals agter wanneer jy ’n dominee is. Hoe kosbaar is dit nie wanneer jy mense bedien nie. Soms doen ’n mens nie veel nie, soms besoek jy net iemand, of jy bid vir die persoon en dan sien ’n mens hoe hulle reageer, veral wanneer mense swaarkry, of eensaam en alleen voel. Maar ons kan so maklik bo oor mense kyk en net die skare om ons raaksien, en so verdwyn die enkeling.
Elke mens met ’n hart, wat seergemaak of bly gemaak kan word, het behoeftes wat gevul of geïgnoreer kan word. Luister hoe slaan Langenhoven die spyker verder op sy kop: “juis die ywerigstes, diensvaardiges onder ons, wat besig is met die groot werk in die kerk, in die staat of in die maatskappy is geneig om te vergeet dat die klein alledaagse diens oneindig meer werd is as die groot algemene diens.”
Wat beteken dit vir my en jou? Dit beteken dat ons moet belangstel in elke mens wat oor ons pad kom. Groet gerus maar eerste, glimlag meer en leer om te luister. Leer om te luister as die Here iemand deur Sy Heilige Gees op jou pad neerlê, of as die gedagte opkom. Stuur maar ’n boodskap, reik uit, gee die ekstra tree.
Dit is wat Jesus se lewe besonders gemaak het. Jesus het elke mens raakgesien. Goeie mense, maar ook minder goeie mense. Die humeurige Petrus, ’n Samaritaanse vrou, die skelm Saggeus, selfs die moordenaar aan die kruis, en so kan ek aangaan. Ook ander enkelinge, armes, siekes, eensames, ja selfs die kleinstes onder hulle. Daarom het hy gesê in Matteus 19: “Laat staan die kindertjies, en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel, is juis vir mense soos hulle.”
Gebed
Here dankie dat U met u lewe vir ons gewys het dat elke mens belangrik is. Ons belei dat ons nalaat om juis goed te doen en uit te reik. Dankie dat U elke dag mense op ons pad plaas. Maak ons sensitief vir u stem, wat op verskillende maniere na ons toe kom. Dankie vir diegene wat aan ons aandag gee, na ons toe uitreik en ons waardevol en kosbaar laat voel.
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 14 Februarie 2021
Lydensweek begin eerskomende Woensdag, met Aswoensdag en ek lees uit Romeine 8:28. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”
Daar word vertel dat tydens die slag van Ardenne in Desember 1944 het die Amerikaanse Generaal Patton een aand soos volg gebid: “Sir, this is Patton speaking, (Ek skakel na Afrikaans oor) die laaste 14 dae was vir ons soos dae wat uit die hel gekom het met reën, sneeu, nog reën en nog sneeu. En ek begin myself afvra wat in u hoofkwartuur verkeerd geloop het? Aan wie se kant is U nou eintlik?” het hy vir die Here gevra. Hy het verder in sy gebed vir die Here vertel hoe hy die gevoel kry dat God aan von Rundstedt en die Duitsers al die kanse gegee het om die Amerikaners te oorwin.
Hy sluit sy gebed af met: “Sonder u hulp is dit vir my onmoontlik om agter te kom watter taktiek die vyand toe pas, maar ek belowe om in ruil vir vier dae se goeie weer, soveel van die vyand by U af te lewer, dat u boekhouding maande agterstallig sal wees.”
Na drie dae het hy weer gebid: “Here, ek kry die indruk dat U tog baie beter op hoogte van die situasie is as ek, want dit was die slegte weer waaroor ek so luidrigtig gekla het, wat tot die vyand se ondergang gelei het. Dit, o Here, dit was ’n troefkaart van suiwer militêre genialiteit. En ek buig my hoof nederig voor u meerderige kruisvernuf.”
Ons kan miskien nou daaroor glimlag, en dink dit was ’n vreemde versoek, maar ons weet ook hoe mense om die Here se hulp vra en nie net tydens ’n oorlogsituasie. Ek wil ook noem dat die tipe versoeke dikwels ten koste van iemand anders is, of ten koste van ’n politieke of strategiese situasie en soms nie net ten koste van iemand anders nie, maar ook ten koste van ’n mens self.
Een van die aangrypendste beweringe wat Paulus ooit gemaak het, lees ons dan in Romeine. Dis maklik om dit te lees, maar so moeilik om dit te aanvaar en daarby te berus. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir almal wat Hom liefhet.” “Die wat volgens sy besluit geroep is”, in hoofstuk 8:28. Dit is moeilik om te aanvaar en maklik om vir ander voor te sê, maar wanneer jy self in die situasie is, is dit bitter moeilik om die groter prentjie te sien.
Ons vergeet so dikwels die X-faktor om die dinge te verklaar wat met ons gebeur. Volgens ons menslike logika sê ons 2×2= 4, en dan is dit so, sonder enige ander uitkoms. En ons weet eintlik ten diepste dat God nie so met mense werk , soos wat ’n mens met syfers werk nie. Daarom kan God se hand in ons lewens soms totaal anders werk.
Hy loop ’n pad saam met ons, en ek kan in my eie lewe daarvan getuig. Elkeen van ons wat luister, kan miskien hieroor saampraat. Oor hoe ’n mens se lewe ’n draai geloop het, en hoe dit nie uitwerk soos wat jy beplan het nie. ’n Mens kan dit nie altyd verstaan nie. In jou agterkop weet jy dat God alles sal uitwerk, maar eintlik stem jy nie saam met Hom oor hoe jou lewe, of hoe ’n situasie uitspeel nie.
Die Here kan jou en my en Generaal Patton se waarom-gebed in ’n oogwink na ’n dankgebed verander. Indien daar van julle is wat in ’n situasie is waar die wiel besig is om in die verkeerde rigting te draai, bid ek dat die Here vir jou die genade sal gee om deur te druk te midde van die onverstaanbare. Die gebeure aan die kruis was onverstaanbaar, maar vandag kyk ons anders daarna. Mag ons die voorreg hê om eendag te kan terugkyk na die onverstaanbare en dan te kan dankie sê oor dinge wat ons gedink het nooit sal uitwerk nie.
Gebed
Here, help ons om te berus, al verstaan ons dit nie. Om vas te hou aan die pad wat U saam met ons loop ten spyte van die feit dat ons dit nie altyd sal verstaan nie. Juis omdat ons somme, en u somme, of ons berekeninge en u berekeninge nie altyd klop nie.
Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 13 Februarie 2021
Matteus 25: 11-12: “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’
Matteus 7:21: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy/sy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.”
Dis die gedeelte van die verstandige en onverstandige meisies.
Herman Charles Bosman skryf in een van sy lekker stories, dat toe Andries Wessels op sy sterfbed gelê het, hy aanhou vertel het van die onbesproke en wonderlike lewe wat hy tot aan die einde van sy lewenswandel, gelei het. Daarom kon hy in vrede sy laste neerlê en sterwe met hemelwesens en klanke van onsigbare, wonderlike engelkore om hom. Bosman skryf dat net voordat Andries gesterf het, het hy gesê dat ook die engele nou vir hom sigbaar geword het. Hy het hulle as engele van gemiddelte grote beskryf, so duidelik het hy hulle gesien. Hy sê verder dat hulle gesplete hoewe gehad het, en vurke gedra het.
Bosman het in die verhaal die spot gedryf met mense wat so in hulle skik met hulle eie wonderlike lewensvroomheid en goeie lewens geraak het. Mense wat as’t ware klaar vir hulleself plek in die hemel bespreek het. Dan die skok, as hulle nie deur die engele nie, maar deur die duiwels tegemoet gekom word. Lank voor Bosman, het Jesus ook gewaarsku teen dié moontlike “misverstand.” Dink na oor die gelykenis van die vyf onverstandige meisies wat aan die deur van die bruidegom geklop het en geroep het: “Meneer meneer, maak vir ons oop!” En die bruidegom se antwoord: “Ek ken julle nie, ek weet nie wie julle is nie.”
Dan ook in Matteus 7 waar Jesus sê: “Nie elkeen wat vir my sê Here, Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy/sy wat die wil doen van My Vader wat in die hemel is.” Aan die een kant word ons deur die geloof en genade van Jesus Christus gered, maar aan die ander kant is die Bybel ook baie duidelik om te sê dat dit ook gaan oor hoe ons moet lewe. Dit gaan oor die vorm wat my dade, elke dag aanneem en of ek so lewe dat hierdie geloof in my lewe gestalte kry.
Ek het die afgelope week weer aan Andries Wessels gedink toe ek hoor en lees hoe sommige mense aanspraak maak op die feit dat God aan hulle kant is, en dan vreemde dinge doen. Hulle verklaar Jesus as hulle leier, maar hulle dade spreek die teendeel daarvan. Eintlik dien dit net ’n politieke doel in terme van hul eie kulturele situasie of omstandighede.
Natuurlik kan elkeen van ons na God om hulp roep en vra dat die Here ons in ’n bepaalde situasie moet help. Maar om God net vir jouself en jou saak op te eis, maak van Hom ’n stamgod. En wie dit doen, kan homself eendag in Andries Wessels se geselskap bevind. Kom ons bid eerder vir meer liefde in ons harte, vir meer omgee, meer uitreik, meer oop hande teenoor ander mense en om in liefde te leef, veral as ons in Jesus se voetspore wil volg.
Elkeen van ons se konteks verskil van mekaar. Dit lyk ook anders waar ons nou met inperkings moet saamleef. Ons het darem nog altyd selfone om met mekaar te kommunikeer en nuwe maniere ontwikkel om in Jesus se voetspore te volg.
Wanneer ons stil word, laat ons die Here toe om dit vir ons duidelik te maak wat ons spesifiek kan doen, om die wil van God ons Vader wat in die hemel is, uit te leef. Die besef dat alles van God se genade afhang, kan ons juis in die geselskap van engele bring, omdat ons weet hoe sy genade ons lewens verander.
Gebed
Here dankie vir U gestalte van in ons lewens. Dankie dat ons bevoorreg is om die Lydingstyd saam met u in te gaan. Gee dat dit wat U vir ons gedoen het in ons lewens weerspieël sal word. Maak ons bewus van ons eie selfgerigtheid, ons eie gemak en ons eie ek. Help ons om met toewyding, in U voetspore te volg.
Amen.