GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Woensdag 3 Maart 2021

Matteus 25:75.  “En op daardie oomblik het daar ‘n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: ‘Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.’ En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.”

Toe Jesus saam met sy apostels in die bokamer was, het hy vir hulle gesê: “Julle almal sal my vanaand verlaat.” Petrus het dadelik gesê: “Nie ek nie! Selfs al verlaat die ander u, sal ek u nooit verlaat nie.”  Maar Jesus het vir Petrus gesê: “Voordat ’n haan kraai, sal jy drie keer sê dat jy my nie ken nie.”

Toe die soldate Jesus na Kajafas se huis toe neem, het die meeste van die apostels weg gehardloop. Maar twee van hulle het hom saam met ’n groep mense gevolg en een van hulle was Petrus. Hy het in die binnehof van Kajafas se huis in gegaan en by die vuur gaan staan. ’n Diensmeisie het Petrus se gesig in die lig gesien en gesê: “Ek ken jou! Jy was saam met Jesus!”

Petrus het geantwoord: “Nee, ek was nie! Ek weet nie waarvan jy praat nie!”  Hy het na die hek toe geloop. Maar nie lank daarna nie het ’n ander diensmeisie hom gesien en ook vir die mense gesê: “Hierdie man was saam met Jesus!”  Petrus het weer gesê: “Ek ken Jesus dan nie eens nie!”  ’n Man sê toe:” Jy is een van hulle! Ek kan uit jou manier van praat hoor dat jy van Galilea afkom, nes Jesus.”  Maar Petrus het gesweer: “Ek ken hom nie!”

Op daardie oomblik het ’n haan gekraai. Petrus het gesien hoe Jesus omdraai en na hom kyk. Toe onthou hy wat Jesus gesê het. Hy het toe buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Die goeie nuus is dat Jesus ook vir hierdie sonde gesterf het. Om die waarheid te sê vir alle sondes. Dit is hoe groot sy liefde vir sondaars is. Hy het aan die kruis gesterwe om ons elkeen van ons sondes te red, ook van ons sondes rakende die verloëning van Hom. Ons is veilig, nie in ons eie krag of trou nie, maar in Hom. So wil hy ons maak tot mense wat sy naam bely – nie verloën nie.

GEBED

“Ons God en Vader, lei ons uit ’n lewe van doodsheid na die Lewe.

Lei ons uit valsheid na die waarheid.

Lei ons uit vertwyfeling na ’n bestaan vol hoop – van vrees na vertroue, van haat na liefde, van stryd na vrede.

Ag, Here, laat u vrede ons harte vul, en so ook ons wêreld, en uiteindelik die heelal”

AMEN

Gedagte vir die dag | Donderdag 4 Maart 2021

Jesaja 53:3.  “Hy was verag en deur die mense verstoot,  ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.  Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.

Om die diepte van hierdie aangrypende gedig, of lied te verstaan, moet dit teen die agtergrond waarin dit geskryf is, gelees word. Oorspronklik is hierdie gedig nie met Jesus Christus as Verlosser in gedagte, geskryf nie. Dit is in ’n tyd geskryf toe die Messias nog net verwag is en niemand geweet het wie Hy sou wees en wat met Hom sou gebeur nie. Oorspronklik is die gedig as trooswoord vir ’n volk wat moedeloos was in hulle ballingskap, geskryf.

Ons wat leef vanuit die Nuwe Testament en wat weet van Jesus wat as Verlosser na hierdie aarde gekom het om vir ons sonde te sterf, hoor dat hierdie lied ook vir ons van Hom vertel.

Die straf op ons sonde het Jesus so vernederend laat ly. Die dienaar ly as gevolg van ons sonde. Die dienaar ly in ons plek, dra die straf wat ons toekom, lê sy lewe af sodat ons kan lewe. In ons plek – ja, dit is die wil van die Here. Om aan ons barmhartigheid te bewys, moet die Here ook aan die geregtigheid voldoen. Sonde kan nie maar net toegesmeer word nie. Dit kan nie maar net onder die matjie ingevee word nie. Dit moet met wortel en tak uitgeroei word. Daar moet volledig daarvoor betaal word. Daar was nie ’n ander manier nie. Daar was nie ’n kortpad nie. Jesus aan die kruis in ons plek was die enigste oplossing.

Om ons met God te versoen, moes Jesus die hemel verlaat en mens word. In die hemel was Hy God. Maar Jesus moes hierdie koninklike heerlikheid aflê en ’n mens word sodat Hy in ons plek aan die kruis kon sterf. Hy het die gestalte van ’n slaaf, die laagste toestand van menswees, aangeneem.  As slaaf is Hy verneder en deur mense verstoot.  As slaaf wou niemand iets met Hom te doen gehad het nie. As slaaf is Hy verag. Selfs God het Sy aangesig vanaf Jesus weg gedraai. Hierdie pyn en verwerping moes Jesus ter wille van my en jou verduur het.

Dit is wat die Jesus gekos het, om jou te red!

GEBED

Here ek staan verstom oor u genade vir my. Dankie dat Jesus vir my sonde aan die kruis gesterf het.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 2 Maart 2021

Johannes 10:11.  “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”

Dit bly altyd vir my interessant dat Johannes spesifiek die woord “goeie” gebruik om die herder te beskryf. Dink aan die beeld. Herders is deur eienaars aangestel om na hulle skape te kyk. Omdat dit nie hulle skape is nie, het hulle nie ’n persoonlike belang by hulle gehad nie. Sulke herders het net die groot trop raak gesien. Hulle verantwoordelikheid was om die basiese versorging van die kudde te behartig. God is wel anders. Hy is eienaar en herder – die een wat elke dag by die trop waak, maar ook omsien na die belange van elke individu.  Voel jy soms verlore tussen die magdom van mense om jou? Wonder jy of God jou werklik raaksien en omgee? Bid dan weer die volgende gebed.

Gebed

Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

 

Gedagte vir die dag | Maandag 1 Maart 2021

Matteus 7:7-8. “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”

Een van die wonderlike voorregte wat kinders kan geniet, is om met vrymoedigheid en sonder vrees hulle ouers se hulp te vra wanneer hulle dit nodig het. Pa en ma sal altyd verstaan en help, omdat hulle handelinge en besluite uit die liefde vir hulle kinders spruit. Dink aan alles wat jou hemelse Vader al vir jou gegee en in jou lewe geïnvesteer het. Niks kan ons ooit van die liefde van God skei nie!  Moet dus nie huiwer om jou hart voor die Here uit te stort oor dinge wat vandag swaar op jou hart druk nie. Ervaar die vrede dat die Here in sy wysheid, vir jou ’n uitkoms sal bied.  Alles begin met die eenvoudige woorde: Here,help asseblief!

Gebed

Here, ek bid nie vir totale kalmte van gees, of selfs dat al my swaarkry dadelik moet end kry nie. In hierdie wêreld sal daar altyd pyn en moeilikheid wees. Maar ek bid dat u Gees, u liefde en genade my sal vul met soveel krag en uithouvermoë dat ek enige iets wat oor my pad kom, sal geniet of verdra. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus, die Here.

 

Gedagte vir die dag | Sondag 28 Februarie 2021

Romeine 12:2. “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Daar word gereken dat die menslike brein elke dag tot soveel as 35 000 keuses uitoefen.  Baie daarvan is keuses waar ons nie hoef te oordink nie, omdat dit spontaan in ons fisiologie geprogrammeer is. Tog bly daar nog baie ander sake waaroor ons wel ’n keuse moet uitoefen. In ’n mens se eie denke word dit beskou as die keuse tussen reg en verkeerd. Ons teksgedeelte moedig ons aan om nie in die sloergang van die lewe onnadenkend en onbewus te leef nie, maar wel met onderskeiding. Die kern daarvan is nie geleë in hoe ons voel nie, maar in hoe die Here se gees ’n appèl op ons denke maak.  Sommige mense dink oor God se wil as ’n verwysingsraamwerk tussen wat reg, of verkeerd is. Die Bybel raak dit egter op ’n dieper vlak aan en verwys na wysheid. Dit is die insig wat die Heilige Gees ons gee om ’n saak dieper en vanuit meer kante te kan bekyk. Is daar ’n moeilike saak wat jy in hierdie tyd moet hanteer? Wat is die insig wat die Heilige Gees vir hou daaromtrent bring? Laat toe dat God jou denke verdiep en vernuwe om saam met Hom oplossings te verken.

Gebed

O God wat met sonnestelsels en sterre speel, in wie se oë duisend jaar soos een aand omvlieg – brei tog ons horisonne uit, sodat ons meer van u grootheid en almag kan raaksien; sodat ons u majesteit in nederigheid sal aanvaar.

Gedagte vir die dag | Saterdag 27 Februarie 2021

Hebreërs 12:1-2. “Terwyl ons dan so ’n groot skare geloof getuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”

 As kind het hierdie teks my altyd laat dink aan die ervaring om in die 1980’s saans atletiekbyeenkomste op Coetzenburg, Stellenbosch by te woon. Dit was wonderlik om langs die baan te staan wanneer Zola Budd, of Johan Fourie deur ’n magdom mense aangemoedig word om ’n nuwe rekord na te jaag. Baie jare later het ek die geleentheid gehad om persoonlik met elkeen van hulle te gesels en by hulle self te verneem hoe hulle die ervaring beleef het.   Beide het vertel dat dit ’n ongelooflike ervaring was en hoe die skare se aanmoediging deurslaggewend was in hulle prestasies. In die tyd van Covid-19 het die skares wat mense aanmoedig langs sportvelde baie yl geraak. Ook wat die kerk betref het ons lanklaas die voorreg gehad om aansporing deur die gemeenskap van gelowiges te beleef. Kom ons maak daarom vandag moeite om spontaan na mekaar uit te reik en mekaar aan te moedig. Doen dit deur ’n oproep of deur positiewe kommentaar op sosiale media te lewer. En wanneer jy weer die voorreg het om saam met gelowiges in ’n groep te wees,  raak dan opnuut bewus van die groot voorreg wat dit wel is.

Gebed

Here, baie dankie vir die voorreg om deel te kan wees van ’n gemeenskap van gelowiges. Ons bely ons geloof in die kerk en is altyd bewus dat u liefde en genade in die besonder tot ons deurdring deurdat U mense roep om ons pad te kruis. Here, help ons om in hierdie grendeltydperk maniere te vind om na mekaar uit te reik en nie oorwin te word deur afsondering of eensaamheid nie. Dankie dat u Gees ons inspireer om op klein en eenvoudige maniere vir mense baie te beteken. Ons dank U vir die voorreg om kerk te kan wees.

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 26 Februarie 2021

Esegiël 36:26. “Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee.”

Hoe maak ’n mens met iemand wat weier om te verander? Dit is ’n verskriklike gedagte vir ’n eggenoot, ouer, of vriend dat jy niks meer kan doen om iemand te verander nie. Ons almal ken sulke hartseer stories. Jy het uiteindelik geen ander opsie as om die mens aan hom-, of haarself oor te laat nie. Dit is waaroor die gedeelte in Esegiël 36 gaan – dat God ten spyte van mense se onvermoë om te wil verander, die kliphart uit hulle liggame kom haal. Oor tyd en deur omstandighede verander die Here ons. Is daar iemand wat jy vandag aan die Here wil opdra? Dalk iemand oor wie se kliphart jy begin moed verloor het. Miskien bring die Here jou vandag tot ’n nuwe insig oor hoe jy die persoon vorentoe moet hanteer. Of miskien vul dit ’n mens net weer met nuwe hoop om ten spyte van ’n kliphart steeds liefde en goedheid aan die persoon te bewys.

Gebed

Help my, O God, om my pretensie te laat vaar en my ware self te vind in selflose liefde teenoor ander. Help my, o God, om alle valse voorstellings van U te verwerp, al is dit ten koste van my eie gemak. Help my, o God, om my probleme op die agtergrond te skuif en my gedagtes op U te fokus. Help my, o God, om nie in die klipharte van ander vas te kyk nie sodat ek mense versigtiger sal beoordeel. Aan U o God, behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid. In u hande gee ek klipharde harte oor.

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 25 Februarie 2021

2 Kronieke 30:9. “Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”

In hierdie teks word die volk weer uitgenooi om met die viering van die Paasfees na die tempel in Jerusalem, terug te keer. Wat sou dit vir ons beteken om na die Here terug te keer? Net soos in die teks het ons byvoorbeeld nie in die uitdagende tyd van die Covid-19-pandemie vir God agterweë gelaat het nie, maar liewer dat ons maniere van godsdiensbeoefening binne die tydsgees van die pandemie, beïnvloed is. Hoe het hierdie realiteit die afgelope elf maande jou lewe kom raak?  Om na die Here toe terug te kom beteken dus nie noodwendig om weer na ’n fisiese gebou terug te keer nie, maar eerder dat die Here se genade en barmhartigheid ons inspireer om steeds nader aan God en mekaar te groei en om met ’n verskil in die wêreld te leef.  Moenie toelaat dat dié tydsgees jou hiervan ontneem nie.

Gebed

Helige God, Skepper van alles wat bestaan, U is gedurig besig om in die gesig van die wêreld te verander; in Jesus Christus vernuwe U ook vir ons, u kinders. Laat daarom u kreatiewe energie in my lewe invloei om dit te transformeer tot ’n instrument waarmee U, u koninkryk hier op aarde kan uitbrei. Here, dit gee aan die lewe hier by ons sin en doel wat alle ander vreugdes waaraan ek kan dink, verreweg oortref.

Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 24 Februarie 2021

Handelinge 3:19. “Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.”

Een van die slaggate van geloof waarin ons maklik trap, is wanneer ons God se genade voorwaardelik tot dit wat ons doen of nalaat om te doen, maak. Dit is dan ook dikwels hoe ons hierdie teksvers van vandag lees en verstaan. Volgens dié vertolking word dit wat God kan doen beperk tot die wyse waarop mense daarop reageer. Die goeie nuus van die Evangelie is egter dat God se liefde en sorg ook geld ten spyte van ons gebreke, sonde en hardkoppigheid. Ervaar dus die troos van die teks wat getuig van die Here se getrouheid in jou lewe en neem dan die vrymoedigheid om vandag met spesifieke kwessies in jou lewe na Hom te kom. Wat is die dinge wat in jou lewe skeefgeloop het?  Noem dit vir die Here, bely dit voor Hom en hou vas aan die belofte van sy vergifnis.

Gebed

Bly by my Heer, U wat nie verander nie, al is niks anders in hierdie lewe konstant nie. Die jare snel verby, die lentetyd word herfs, die skadu’s word al langer. Help my om elke uur, elke dag, met oorwinning te lewe. Verlos my, in die Naam van Jesus Christus, Oorwinnaar oor die dood.

Amen.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 23 Februarie 2021

Filippense 3:10: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood.”

Verlede Woensdag was Aswoensdag. Dit is die dag in ons kerklike tradisie wat amptelik die Lydenstyd inlei.

Gedurende die afgelope week het ons by sekere aspekte van Jesus se lydensweg stil gestaan. Ons het oor broosheid, pyn, die kruis, lyding, maar ook oor die triomf en verheerliking van God deur Jesus se lyding, gesels. Ons kon sekere aspekte van Jesus gedurende Sy lydenstyd uitlig, waarmee ons kan identifiseer en dit in ons eie lewe van toepassing maak: sy gehoorsaamheid, nederigheid, broosheid en hoe Hy na sy Vader geroep het in sy donkerste uur.

In ons teks vandag, beklemtoon Paulus ’n verdere, en uitdagende aspek. Ons moet kan assosieer met sy lyding en ons in verondenheid daarmee kan vereenselwig.  Op ’n manier moet ons iets daarvan aan ons eie lywe voel. Paulus sê: “Ek wens om te kan deel hê in sy lyding en aan Hom gelyk te word in die dood.” Paulus het die fisiese lyding ter wille van Christus werklik self aan sy lyf gevoel. Dink maar aan al die vervolging en ontberinge wat Hy moes deurgaan. Ons hoef natuurlik nie noodwendig op dieselfde manier te ly nie. Ons hoef ook nie noodwendig die 40 dae van lydenstyd te vas en niks te eet nie. (soos wat baie in ons kerklike tradisie gebeur het nie.)

Ons identifiseer daarmee deur onsself te ontledig, of dalk ons eie ego te kruisig.  Daarom is lydenstyd vir ons ’n goeie tyd van selfrefleksie en van agterlaat. ’n Tyd van prysgee, veral die prysgawe van die self, eie belang en die eie ek.

Mag ons hierdie Lydenstyd,met die baie lyding wat ons rondom ons is, deur die vergrootglas van die kruis weer opnuut na onsself kyk.

Gebed

Jesus, ek moet ook my kruis opneem, al my dae; U volg na die Vaderhuis met al my bekommernisse, vrese en vrae. Help my Heer, versterk My wil, rig my swakke tree, help my hier my taak vervul. Rig my op U weë.

Amen.

1 111 112 113 128