GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Sondag 14 Maart 2021

Romeine 3:9:” Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. 10Daar staan immers geskrywe: ‘Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie.'”

Ek onthou die ou bekende storietjie van die dominee wat oor die sonde gepreek het, en toe vra hy: “Is hier enige een wat vanoggend hier sit wat sonder sonde is?  Daar was ’n oom wat sy hand opgesteek het. Die dominee vra hom toe: “Is oom sonder sonde?” Die oom antwoord toe: “Nee dominee, ek steek my hand op namens my vrou se oorlede man.”

Sonde is ’n ding waaroor ons gewoonlik praat, maar dis nie ’n gewilde onderwerp nie. Die realiteit is, ons raak dikwels gekultiveerd en gekultiveerde en gesofisitikeerde mense dink dan dikwels dat hulle niks verkeerd doen nie, want hulle lei eintlik ’n goeie lewe. Hy slaan nie sy vrou nie, en is eintlik baie ordentlik met sy kinders. Maar ons praat nooit oor dit wat ons nalaat om te doen nie.  Ons raak so gemaklik, selfsustig en gerieflik in die omgewing waar ons bly dat ons eintlik blind raak vir dit wat ons verkeerd doen, of dit wat binne in ons lê.

Robert Louis Stevenson vertel in sy verhaal van dr. Jekyll en mr. Hyde van die gerespekteerde dr. Jekyll wat ’n middel ontdek het, moontlik het julle al die fliek gesien, wat sy persoonlikheid verander en hom amper in ’n ander wese omvorm.

Geskok en tog ook gefasineerd deur sy ontdekking, gee hy toe aan die versoeking om in die nag mr. Hyde te word, wat allerlei verskriklike misdade, selfs ook moord, pleeg. En dan gedurende die dag is hy weer die gesofisitkeerde dr. Jekyll. So gaan dit ’n tyd lank aan, tot hy een oggend wakker word en tot sy onsteltenis ontdek dat hy mnr. Hyde se hand behou het. Eers was dit moeilik om Mr. Hyde se persoonlikheid aan te neem, maar algaande het dit al moeiliker geword om weer die gerespekteerde dr. Jekyll te word. Hy het terdeë besef dat hy besig was om beheer oor sy beter self te verloor en dat die slegte self die oorhand begin kry het. Toe hy later verplig was om ’n keuse tussen die twee persoonlikhede te maak, het hy besluit om dr. Jekyll te bly, ongelukkig het die geneigdheid tot misdaad sluimerend en sterker in hom geword. Die kwaad kon toe nie soos ’n baadjie aan en uitgetrek word nie, dit was binne in hom en uiteindelik het dit tot sy ondergang gelei.

Is ons dan beter as ander mense? Glad nie, sê Romeine 3, want daar is al bewys dat Jode nie en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. Die vraag is: “Wat  ons nalaat?” En by elkeen is dit ’n persoonlike vraag wat gevra moet word. Veral in die konteks waarin ons lewe. Is dit so dat ons met deernis teenoor almal om ons, lewe? Wanneer maak jy jou hand oop? Waaraan klou jy vas? Moontlik jou sekuriteit? Die Here plaas mense om ons sodat ons, ons deernis en liefde teenoor hulle kan uitleef. Mag die Here vir ons die genade gee om nie met toe hande te leef nie.   Mag ons die genade ontvang om met oop oë te lewe en  midde in ons eie gerief en gemaksugtigheid nie te dink dat ons eintlik ver van sonde is nie, maar dat ons sal besef dat ons dikwels nalaat om goed te doen, omdat ons klappe aan ons oë het.

Gebed

Here, gee my die genade om my eie blindekol van sonde raak te sien. Maak my asseblief sensitief daarvoor.

Amen.

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 13 Maart 2021

Romeine 9:31: “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”  Vers 35: “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?”

Fred Astaire was ongetwyfeld een van die top sangers, klopdansers en akteurs, seker nie van alle tye nie, maar beslis van sy tyd.  Deur Top Hat, Swing Time en Holiday Inn en ander treffers het hy sy pad tot in die harte van miljoene mense gesing, geneurie, en gedans.  Maar in 1932, toe Fred Astaire met sy loopbaan begin het, het ’n Hollywoodse talent keurder na sy oudisie vir hom gesê: “Jy kan nie toneel speel nie, jy kan nie sing nie, maar ja – jy kan so ’n bietjie dans.”

Soms loop dinge nie vir ’n mens reg nie. Soms gaan daar ’n deur toe en raak ’n mens pynlik bewus van jou tekortkominge. Maar in die gewone lewe, asook die Christelike lewe, wanneer daar mislukkings, of teleurstellings oor ons paaie kom, ontvang ons die genade gawe van God om weer anders of nuut na ’n saak te kyk. Met verloop van tyd, na ons leer om aan te pas, kan hierdie teleurstellings as voetnotas van ons lewens vergete raak. God laat toe dat hierdie teleurstellings, of verwarring ons lewenspaaie kruis terwyl ons onderweg na ons eindbestemming is.

Ek noem ’n paar voorbeelde: Phillip Brooks was ’n kragtige prediker, maar as sy aansoek as skoolhoof geslaag het, sou hy nooit op die kansel gestaan het nie. As Frederick Robertson by die Britse-leër aanvaar is , sou hy nooit die preke geskryf het wat hom baie bekendheid verwerf het en waardeur hy seën aan soveel mense geseën gebied het nie.

As Nathaniel Hawthorne by die duane-kantoor bly werk het, sou hy nooit daardie wonderlike studies oor diep gesprekke van menslike droefheid en liefde geskryf het nie. Teleurstellings, of mislukkings en toe deure, kom op elkeen van ons se lewenspad voor. Ons moet weet dat die Here die pad saam met ons loop, en dat sy koers soms anders is. Ons kan saam met Romeine 8 sê: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor hierdie dinge, God is vir ons. Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie, want Hy loop die pad saam met ons.

Gebed

Here dankie dat U die pad met ons loop al is dit soms onbekende weë. Maar gee dat wanneer die pad draaie met ons loop, ons ook die genade sal ontvang om weer ’n nuwe koers en visie te vind. Help ons ook as dinge nie uitwerk nie, en situasies of mense ons teleurstel om die genade en perspektief te kry om te weet dat dit nie die einde is nie, maar dat ons weet dat U by ons is en dat ons pad net ’n ander koers moet in neem. Help ons om hierdie koers weer te vind.

Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 12 Maart 2021

Johannes 3:16. “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Matteus 27: “Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.”

Een aand voor ’n broadway vertoning, was die sanger, Mary Martin, gereed om vir die musiekblyspel South Pacific, op die verhoog te gaan toe sy ’n nota ontvang. Die nota was van Oscar Hammerstein, wat op daardie oomblik op sy sterfbed gelê het. Die kort nota het net gesê: “Liewe Mary, ’n klok, is nie ’n klok totdat dit lui nie. ’n Lied is nie ’n lied, totdat jy dit sing nie. Liefde is nie in jou hart geplaas om daar te bly nie. Liefde is nie liefde totdat jy dit weg gegee het nie.”

Ek het weer die verhaal die afgelope tyd gelees en besef dat dít is wat Jesus kom doen het.   Hy het sy liefde kom weg gee. God het juis vir Christus om dié rede na die aarde gestuur. Dit is wat in hierdie lydingsverhaal met Jesus gebeur het.  Jesus is voor Pilatus uitgelewer sodat Hy die proses kon voltooi.  Hy het die pad geloop tot op die einde, hoofstuk 2:27 “Hulle het hom geboei, weggebring en uitgelewer aan Pilatus.

Na Mary Martin se vertoning die aand, het baie van die toeskouers bewoë na die verhoog gestorm en gevra: “Mary, wat het vanaand met jou gebeur? Ons het nog nooit so ’n optrede, of vertoning van jou beleef nie.”  Terwyl Mary ’n traan van haar wang afgevee het, het sy vir hulle die briefie van Hammerstein gelees en toe sê sy: “Vanaand het ek my liefde weg gegee.”

Dit is die voorbeeld wat Jesus Christus vir ons kom wys het.

Hoe gaan jy vandag, of gedurende die week jou liefde weggee?

Gebed:

Here, U het vir ons die voorbeeld gestel deur op die lydingspad wat U geloop het, u liefde weg te gee. Ons is so gemaklik in ons eie omstandighede en ons eie geriewe. Gee vir ons die genade om ook ons liefde weg te gee.  Maak ons oë oop sodat ons die mense wat U op ons pad bring, raak sien.

Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 11 Maart 2021

Dis die gedeelte waaroor ons Sondag gaan preek, as deel van die lydingstydverse. Ek is besig met my voorbereiding toe besluit ek om hierdie gedeelte te lees:  

Matteus 26:69.  “Petrus het buite in die binnehof gesit toe ‘n diensmeisie na hom toe kom en sê: ‘Jy was ook saam met Jesus die Galileër.’ Maar hy het dit voor almal ontken: ‘Ek weet nie waarvan jy praat nie.’ Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien ‘n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: ‘Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.’ Weer het Petrus dit ontken en met ‘n eed gesê: ‘Ek ken die man nie!'”

Ek het die afgelope week met die oog op my voorbereiding vir Sondag se preek afgekom op dié Joodse legende wat ek eintlik baie goed ken. Dis ’n storie van twee broers wat plase langs mekaar besit het. Een nag na die insameling van die oes, het een van die broers vir sy vrou gesê: “My broer is ’n eensame man sonder vrou en kinders, ek sal in die nag uitgaan en sommige van my gerwe na sy plaas oordra. Dit gebeur toe dat die ander broer op dieselfde nag besluit: “My broer het ’n vrou en kinders en het die oes baie meer nodig as ek. Ek sal van my beste gerwe na sy plaas toe oordra.  Die volgende oggend is hulle hope gerwe  toe onveranderd en ewe groot.

So het die oor en weer gerf draery nag na nag aan gegaan totdat die twee broers mekaar op ’n heldermaanskynaand met hul arms oorlaai van die goudgeel gerwe raakgeloop het. Op daardie besonderse ontmoetingsplek, so lui die legende, is ’n tempel gebou, omdat dit as die plek beskou word waar die hemel en aarde bymekaargekom het.

Wat beteken dit om iemand in die steek te laat? Wat beteken dit teen die agtergrond van lydingstyd waar Petrus vir Jesus verloën het?  Verloëning beteken nie noodwendig om net iemand in jou lewe te ontken nie, maar ook wanneer ’n mens nie dit doen wat reg is nie. Om nie te doen wat jou verantwoordelikheid is nie – dan verloën jy eintlik ook iemand. Wie is dit wat die Here op jou en my harte lê?  Vir wie moet jy ’n gerf dra?

Miskien in die nag sonder dat die persoon daarvan weet.  Ons hoef ook nie altyd anoniem na iemand uit te reik nie – nooi iemand vir ’n koppie tee, of reik uit na ’n ou vriend, of iemand wat a.g.v. die inperkingstyd van die buitewêreld en mense afgesny is. Ek was die afgelope week by mense wat vir my gesê het: “Hier kom niemand meer by ons nie, want ons is te bang dat iemand ons moontlik met die virus sal aansteek.”

Mag ek en jy die genade ontvang om in hierdie uitdagende tye op kreatiewe wyses tempels te bou, waar die hemel en aarde mekaar ontmoet.

Gebed: Here, gee ons die genade om ’n hand uit te steek en met oop hande te leef. Gee dat u liefde, in ons woorde, in besonder aan ons dade en ons lewens ‘n werklikheid sal wees.

Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 10 Maart 2021

Psalm 102:1: “Gebed van ‘n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte uitstort voor die Here. (Ek doen dit ook teen die agtergrond van die lydingstyd waarin ons is). Here, luister tog na my gebed, hoor tog my geroep om hulp! Moet U tog nie van my afsydig hou nou dat ek in die nood is nie. Luister tog na my wanneer ek U aanroep, verhoor tog gou my gebed, want vir my verdwyn die dae soos rook. My liggaam brand soos vuur, ek is verskroei en uitgedroog soos gras, ek het alle eetlus verloor. Ek het net vel en been geword van al die pyn. Ek voel so verlate soos ‘n pelikaan in ‘n woestyn, soos ‘n uil tussen murasies. As ek wakker word,voel ek soos ‘n eensame voël op ‘n huis se dak.”

Ek het die afgelope Sondag hierdie teksvers aangehaal en om eerlik te wees het ek dit nie eintlik goed geken nie. Tog het dit my laat dink aan die analogie van ’n treinreis, wat nie in vandag se tyd meer so baie gery word nie.   Die lewe kan met ’n treinreis vergelyk word, maar ’n treinreis met ’n verskil omdat jy het geen seggenskap het oor die vertrek-, die oorklim-, of aankomstyd nie.

Wanneer jy iemand verloor vir wie jy baie lief is, word die tweesaamheid wat sin aan jou lewe gegee het, ’n pynlike eensaamheid. Wanneer jy op een of ander manier verlies beleef kan selfs ’n klein gebeurtenis die kameel se spreekwoordelike rug breek. Dis baie maklik om te sê dat die verlies, of die afwesigheid wat ons in die lewe beleef, nie vir die gelowige die eindstasie moet wees nie. Maar deur die genade wat ons ontvang moet ons dit juis as ’n “oorklimtydperk” sien.

Want dit is juis die geloof in Jesus Christus wat aan die sinvolheid van ons reis, gestalte gee. Eensaamheid beteken dus dat ek en jy verstaan dat ons in ’n bepaalde koers reis. Ek en jy moet verander want die omstandighede gaan nie verander nie. Ons moet genade ontvang om te midde van ons seer en pyn en die  afwesigheid van ‘n geliefde, te verander en weer nuut te kyk.

Om jou geloof in binne die uitgemete tyd en die beplande roete van jou lewe sinvol uit te leef, dit is waaroor dit gaan. Om dit te doen, moet ons die roete en die beplanner  van ons roete en die uitmeting van die tyd wat dit neem om die roete af te lê, ten volle vertrou.  Vertrou dat Hy met ons op weg is, dat Hy daar is, al voel dit nie of ons wel na ’n bepaalde bestemming op pad is nie. Mag ek en jy elke keer die genade kry om perspektief te behou. Mag ons daar wees vir ander wat swaarkry, mag ons die genade vind om na hulle uit te reik.

Gebed:

Here dankie dat U die beplanner van ons roete is, dat U met ons op pad is, met ons op weg is. Al is ons nie altyd seker waar presies die eindbestemming is nie. Gee vir ons die genade om aan U vas te hou.

Amen.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 9 Maart 2021

Matteus 26:1-2.  “Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: ‘Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.’”

Ek hou baie van fliek. Om ’n lekker fliek saam met jou geliefdes te kyk, is ’n heerlike manier van ontspanning. As jy by die Kines gaan fliek moet jy gewoonlik na ’n paar voorprente kyk. Die lokprente gee ’n mens ’n idee waaroor nuwe flieks gaan. Dit is amper soos ’n lusmaker, of ’n “sneak-prewiew” soos hulle in Engels sê. Die voordeel daarvan is dat jy dan weet waaroor ’n bepaalde fliek gaan. Dit is eintlik wat in ons teks ook gebeur. Jesus gee vir die dissipels ’n voorsmakie van dit wat voorlê.  Dit is amper soos ’n voorprent wat voor hulle afspeel.

In hierdie gedeelte kondig Jesus aan dat Hy gaan sterf. Die lyding en dood van die Messias is deur God beplan. Dit was nie maar net sommer ’n sameloop van omstandighede nie. Jesus het geweet waarom Hy op aarde was en wat vir Hom voorlê.

Dit is duidelik dat die Here wou hê dat sy dissipels moes verstaan ​​waarvoor Hy binnekort te staan sou ​​kom, en wou hulle ook daarop voorberei. Meer nog, Hy wou hê dat hulle moes verstaan ​​dat hierdie dinge, hoe sleg dit ook al was, tog ‘n deel van God se groot verlossingsplan was en die rede was waarom Hy na die aarde toe gekom het. Daarom trek Hy die gordyn as’t ware op so ’n skrefie oop sodat hulle al iets kan sien van dit wat voorlê.

Jesus het na die aarde gekom vir die kruis. Van sy geboorte af was Hy doelgerig op pad na die kruis. In die kruis kry sy koms na die aarde sin en betekenis. Om die mensdom van sonde te verlos moes Hy eers sterf. Jesus het gekom om sy lewe as losprys vir baie te gee. Jesus is dus gebore om gekruisig te word. Op geen ander manier kon Hy aan die opdrag uitvoering gee nie.

GEBED

Here baie dankie dat U vir ons aan die kruis gesterf het. Dankie dat U my verlos het.

AMEN

Gedagte vir die dag | Maandag 8 Maart 2021

Jesaja 53:7. “Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.”

Dit is merkwaardig as ‘n mens na hierdie gedeelte in Jesaja 53 gaan kyk, hoe sterk en gekleur die taal is waarin die rol van die Kneg beskryf word. Daar word gesê dat Hy ons lyding en siektes gedra het (4), dat Hy as gevolg van ons oortredings deurboor is.   Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (5). Hy is gestraf oor die sonde van die volk (8) en hy het sy lewe as ‘n skuldoffer gegee (10).

As die volk in ballingskap deur hierdie gesig van die lydende Kneg vertroos is, hoeveel te meer nie ons as Nuwe-Testamentiese kerk nie.  As gelowiges kan ons op hierdie gebeure terugkyk en in die Kneg die gestalte van die Kind in die krip, en dié van die gekruisigde Jesus herken.

Dit was God se meesterplan vir ons verlossing. Dat Jesus die skuld vir ons sonde moes dra. Dat Hy in ons plek moes ly.  Al hierdie swaarkry moes Hy deurgaan vanweë ons oortredinge, rebellie, opstand en sonde.  Ons oortredinge lei tot sy straf en dood.  In die Kneg se lyding was God aan die werk, was Hy besig met die uitvoering van sy plan. Die Here Jesus moes deur eindelose leed gaan om vir ons vryspraak te bewerk.

GEBED

Verlate van u vriende, verlate Worstelaar; verlate van die Vader. verlate Middelaar!

Net pyn en dors en duister is by U in u nood; ontdaan van aardse luister, oorwin U tog die dood!

Só moes die Christus ly! Vervloek, om te ontsondig, verlate, om te vind; moes sterf om te verkondig: Deur My word jy Gods kind.

AMEN

 

Gedagte vir die dag | Sondag 7 Maart 2021

Matteus 26:20-23.  “Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. Terwyl hulle eet, sê Hy: ‘Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.’  Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: ‘Dit is tog nie ek nie, Here?’  Hy antwoord toe: ‘Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai.'”

GEDAGTE

Tydens Jesus se laaste oomblikke saam met sy dissipels wys Hy die dissipel wat Hom gaan verraai aan.  Dit is die een wat saam met Jesus die brood in die skottel gaan druk. Johannes vertel vir ons dat Jesus die brood vir Judas gegee het met die opdrag dat Judas gou moet maak. Judas neem die brood, en gaan dadelik uit. Toe Judas die brood neem, het die Satan in hom ingevaar. Van dié oomblik af is Judas nie meer homself nie. Hy is deur die duisternis oorgeneem.

Jesus het duidelik geweet wie Hom gaan verraai. Waarom Judas besluit het om Jesus te verraai, is onduidelik. Ons getuienis oor Judas se innerlike worsteling is beperk. Judas was by ’n worsteling tussen lig en duisternis ingetrek.  ’n Worsteling tussen waarheid en leuen; tussen God en Satan. Judas word ‘n voertuig van God se teenstanders.

Wanneer Judas laat spaander, bly Jesus in beheer van sake. Hy vermy nie die verraad en die lyding wat voorlê nie. Jesus reageer op die verraad en die kruis deur te sê: “Die Seun van die mens gaan verheerlik word.” Die lyding wat voorlê is die pad van sy verheerliking. Jesus word nie ’n passiewe slagoffer van Judas se verraad nie. Hy kies om sy lydingsweg as pad na sy verheerliking in gehoorsaamheid te loop.

GEBED

O Here Jesus, ons kniel hier voor U, herdenk u lyding en u oorwinning.

Ons bring ons lofsang en ons aanbidding aan U, o Here.

AMEN

Gedagte vir die dag | Saterdag 6 Maart 2021

Lukas 22:63-64.  “63. Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan. 64. Hulle het Hom geblinddoek en gesê: “Jy is mos ‘n profeet! Sê wie het jou geslaan!'”

So kom staan ’n groot klomp soldate rondom Jesus om hom te spot.  Hulle buig voor Hom as ’n koning en groet Hom spottenderwys.  Hulle trek vir Hom klere aan soos ’n koning en sit vir Hom ’n kamma-kamma kroon op.  Alles om Hom te verneder en die spot met Hom te dryf.

Mense spot vandag nog met Jesus en vir Jesus.  Hulle gebruik sy Naam ydelik en dryf so die spot daarmee.  Baie mense skud hulle kop oor dit wat die Bybel as God se woorde oor Jesus en sy lewe leer.  Vrae soos: Was Hy regtig God, is Hy regtig die Koning, kon Hy inderwaarheid skep en het Hy werklik opstaan, word gereeld gevra.  Jy sal vandag nog maklik kan raaksien hoe Jesus, selfs na sy oorwinning aan die kruis, steeds gespot word deur mense wat nie in Hom glo nie.  Daar is ’n fyn lyn tussen spot en geloof.  ’n Mens kan spot met die feite, of die feite glo.  ’n Mens kan glo Hy is die Koning, of daarmee die spot dryf.

Maar voordat ons vingers na ander wys, Christene kan Hom ook spot deur, soos die soldate gedoen het, Hom net kastig te dien.  Daar is duisende kamma Christene in die wêreld!  Dit is die mense wat die een oomblik die palmtakke voor Jesus swaai, maar Hom terselftertyd spot omdat dit wat hulle sing en bely nie ooreenstem met dit wat in hulle lewens plaasvind nie!  Trouens, dit is die aanklag van die wêreld teen Christene!  Julle maak julle Jesus tot bespotting want dit wat julle van Hom glo en bely stem nie ooreen met dit wat julle doen, dink en lewe nie!

GEBED

Here ek moet bely dat ek seker ookal in my lewe op een of ander manier met U gespot het. Vergewe my asseblief en help my om heilig te lewe.

Gedagte vir die dag | Vrydag 5 Maart 2021

Markus 14:32-33.  “32.Toe kom hulle by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.” 33Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword 34en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

Het jy al ooit ervaar dat angs jou keel toedruk en dat jy voel asof jy nie kan asem haal nie? Was jy al so benoud oor ’n situasie of binne ’n situasie dat jy gevoel het jou hart kom tot stilstand. Jy moes al jou moed bymekaarskraap vir die dinge wat jy móét doen, maar waarvoor jy nie kans gesien het nie. Jy het eenvoudig net nie die krag gehad om deur die krisis te gaan nie. Om die waarheid te sê: werklike sielsbenoudhede en geestesworstelinge kan van die swaarste beproewings word wat mense moet deurleef. Wat ons in die Evangelies lees is dat Jesus ook op ’n stadium in sy lewe so ’n verskriklike benoude oomblik beleef het.

Jesus en sy dissipels is in Getsemane. Hy raak doodsbenoud as Hy dink aan sy naderende dood. Die pyn van sy naderende dood oorweldig Hom en Hy bid baie ernstig: “Neem die lydensbeker van my af weg, nogtans nie my wil nie, maar U wil . . .”  Binne die volgende paar ure sal Hy aan die strydlustige soldate oorgelewer word. Hulle sal Hom martel en verneder. Hulle sal Hom stroop van sy menswees. In die openbaar sal Hy soos ’n slaaf en ’n misdadiger behandel word.

Lukas sê dat Jesus ’n doodsangs beleef het en dat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Lukas 22:44). Dit is nogal insiggewend dat Jesus, die sterke Heer so ontsteld en beangs en benoud geword het. Verder het Hy vir Petrus-hulle gevra om saam met Hom te waak en te bid. Dit alles wys dat Jesus werklik ’n mens was. Natuurlik is Hy ook God, maar Hy is God wat mens geword het. Hier in Getsemane sien ons die ware mensheid van Jesus Christus.

Hoekom was Jesus so ontsteld en beangs en doodsbenoud? Die antwoord is dat die uur van lyding vir Hom aangebreek het (Markus 14:35). Hy moes die lydensbeker drink (Markus 14:36). Wat is die lydensbeker? Dit is die beker wat vol gemaak is met God se woede (toorn) oor die sonde. Om die lydensbeker te drink is ’n aanduiding dat God se woede oor die sonde (God se toorn) oor Jesus sou losbreek.

Wat het Jesus gedoen in sy diepste tyd van krisis? Hy het God die Vader se krag en genade gesoek. Ja, Hy moes steeds die beker leeg drink – die beker het Hom nie verby gegaan nie. Maar Hy kon dit met die innerlike krag en vrede wat ons net by God kan vind, leeg drink. En dit is ook vir ons die troos.  Al moet ons steeds ’n krisis beleef en word die probleem nie opgelos nie, kan ons met God se innerlike krag en genade dit deurleef.

 GEBED

Jesus, in Getsemane het U gebid, gevra, gepleit

Dat ons Vader moet verander aan sy besluit,

Dat die bitter beker by U verby moet gaan…

En tog het U die hele tyd verstaan

Dat U deur u lyding die weg van verlossing baan.

So het U voor God se wil gebuig

Al het dit beteken dat elke stukkie lewe uit U suig…

Deur die weg wat U sou loop

Gee U aan ‘n verlore wêreld hoop

Dit wat U gedoen het, gee betekenis aan elke preek

Want deur u gehoorsaamheid word ons vrygespreek.

AMEN (Ds. Awie Erxleben)

1 110 111 112 128