Gedagte vir die dag | Saterdag 3 April 2021
Matteus 27:59-61. “Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het ’n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. Maria Magdelena en die ander Maria was ook daar en het reg voor die graf gesit.”
Die Saterdag van die Paasnaweek word “stil Saterdag” genoem. Lyding het tot gevolg dat ons liggame in ’n skoktoestand ingaan waarin jy dikwels niks anders kan doen as om net vir ure verslae te sit en staar nie. Jy het fisies net nie die krag om enige iets anders op daardie tydstip te doen nie. Dit is hoe die vroue na Jesus se dood hulle tyd spandeer. Oorweldig deur hartseer het hulle voor Jesus se graf gesit. Daar was niks wat hulle kon doen om hierdie omstandighede om te keer nie. Ons almal ken hierdie “stil” ruimtes in die lewe baie goed. Beleef die sekuriteit van God in die stilte waarin jy vasgevang sit.
Gebed
Bly by my Heer, U wat nie verander nie, al is niks anders in hierdie lewe konstant. Die jare snel verby, die lente word herfs, die skadu’s word al langer. Help my om elke laaste uur, elke dag, oorwinnend te lewe. Ek begin steeds die skadu’s van oudword en dood sien. Verlos my, in die Naam van Jesus Christus, Oorwinnaar oor die dood, van die verslawende vrees vir die “laaste vyand”. Help my om uit te sien na die Ewige Lente.
Gedagte vir die dag | Vrydag 2 April 2021
Matteus 27:45. “Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: Eli, eli lema sabagtani? Dit is: My God, my God waarom het U My verlaat? Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.”
Ek is die afgelope paar weke met die skielike en onverwagse afsterwe van ’n paar mense in ons gemeente, wat ek goed geken het, gekonfronteer. Alhoewel ek oor die jare as predikant gereeld met dood gekonfronteer is, het die sterftes van mense in hierdie afgelope weke die asem uit my weg geslaan. ’n Mens is sprakeloos en kry niks konstuktief uitgerig nie.
Dit was Jesus se ervaring ook toe hy die woorde in die teksgedeelte na God uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat”. Die boodskap van die teks is nie dat dood en duisternis God se mag in hierdie paar oomblikke oorwin het nie. Eerder dat God gekies het om die volle impak van lyding te voel, sodat ons daarin nooit deur God self verlaat sal voel nie. Waag dus om ook hierdie woorde van Jesus op jou lippe te neem wanneer jou asem deur die onverstaanbaarheid van lyding weggeslaan word. Beleef hoe die laaste asem wat Jesus aan die kruis uitblaas weer die lewe in jou laat verrys.
Gebed
Op berge en in dale, en oral is my God God. Waar ons ook telke male, mag swerwe daar is God. Waar ons gedagtes swewe of styg, ook daar is God. Om laag en hoog verhewe, ja, oral is my God.
Gedagte vir die dag | Donderdag 1 April 2021
Markus 14:45-46. “Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie”.
Vandag se teks bring ons in die Groot Lydensweek uit by die aand toe Judas Jesus verraai het. Die handeling het die gebeure van Jesus se kruisiging en sterwe aan die gang gesit. Die doel van die Groot Lydensweek is om ons op ’n reis te neem. Wanneer ons dus weer in hierdie week die gebeure herroep is dit nie bloot net ’n herhaling van ’n ou bekende reeks verhale nie. Die week vra van ons om letterlik saam te stap en die emosie van elke oomblik aan ons lywe te voel. Die opgewondenheid van die Paasfees herinner gesinne en families dat God hulle lank terug van slawerny bevry het. Die spanning wanneer Jesus deur Judas verraai word en waarop ’n grusame lydensweg volg. Soos wat Jesus in die teksgedeelte gevangene geneem was, kan ons ook nie van die realiteit van lyding of ander sake wat ons gevange hou, ontsnap nie. Ons moet op een of ander manier daardeur kom. Voor watter realiteit, waarvan jy nie kan ontsnap nie, bring 2021 se lydenstyd jou?
Gebed
Here, ek is verward en oorstuur. Die wêreld om my is een stuk sinlose aktiwiteit: gesprekke wat so dikwels nêrens heen gaan nie, vergaderings wat by geen uitkomste uitkom nie. Ek self vaar nie beter nie, ek staan voor keuses en besluite en weet nie watter weg om te volg nie. Plaas u hand op my skouer en laat u krag my swakheid binne vloei; laat u lig die donker uit my hart verdryf. Gee my die geloof om dit vandag saam met U in die storm van my gevangenisskap te waag.
Gedagte vir die dag | Woensdag 31 Maart 2021
Jesaja 53:1 en 5. “Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan sien? Hy was verag en deur mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie geken nie.”
Ons teksgedeelte is geskryf in die tyd van die Babiloniese ballingskap toe gelowiges uitgelewer was aan politieke magte en kragte waaroor hulle geen beheer gehad het nie en wat hulle lewens en wêreld ingrypend kom verander het. Die groot uitdaging vir ons as gelowiges word vandag in hierdie een reguit vraag opgesom: Wie sal die mag van die Here hierin kan sien? Ek hoor dikwels gelowiges die volgende sê. God sal vir ons ’n “uitkoms” bied of ’n “deurbraak” bewerk. Ons kyk dikwels net in een rigting – na beter uitkomste waarin ons glo of hoop. Of dan vergeestelik ons die uitkoms in ’n poging om getroos te word. Dié dat ons dikwels sukkel om God se mag in ons leefwêreld te sien.
Ons teksgedeelte bied vandag ’n geweldige troos. Dit vertel oor God wie se eie lyding op ’n onverwagse wyse in ons eie lewens uitspeel. Amper soos wat Paulus in 2 Kor. 12 ervaar het toe hy tot die besef gekom het dat “wanneer ek swak is, is ek sterk”. God se genade werk juis dieper in ons wanneer ons swak is. Dit is so waar. Ons geloof is juis vir tye soos hierdie ontwerp.
Gebed
O Here, almagtige God, Heerser oor die wêreld, selfs toe die aarde nog woes en vormloos was, was U die koning van die heelal, en wanneer alles wat bestaan tot ’n einde kom, sal U steeds regeer. U is die allerhoogste waartoe ons denke in staat is; niks kan u wese en wysheid ewenaar nie; daar bestaan niks wat met U vergelyk kan word nie. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid. Daar is geen begin of einde van enigiets sonder U nie.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 30 Maart 2021
Lukas 23:20-21. 20 Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat, 21 maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig, hom!”
GEDAGTE
Tydens Jesus se verhoor voor die Joodse Raad is daar net twee vrae aan Hom gevra: “As jy die Christus is, sê dit vir ons,” en “Dan is jy die Seun van God?” Op verskillende maniere het Jesus hierdie vrae bevestigend beantwoord. Daar was geen getuienis gelewer nie – dit was egter die volle omvang van die verhoor. ’n Verhoor deur die mees godsdienstige mense van daardie tyd in Palestina.
Omdat die Romeine oor Palestina regeer het, kon die godsdienstige leiers niks aan Jesus doen nie. Hulle moes Hom na Pilatus, die goewerneur neem. Op grond van hulle verhoor lê hulle toe ’n klag van ophitsing teen Jesus: “Ons het bevind dat hierdie man die volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning is.”
Dit was duidelik leuens deur hierdie godsdienstige leiers wie se verhoor volledig oor die identiteit van Jesus gegaan het. Hulle het egter hulle godsdienstige besware teen Jesus in politieke terme vertaal, sodat ’n heidense goewerneur vir Jesus skuldig sou bevind. Dit het egter nie gewerk nie. Pilatus bevind Jesus onskuldig aan hierdie klagte en stuur Hom na koning Herodus toe. Herodus was baie bly om Jesus te sien, maar nadat die skrifgeleerdes en priesterhoofde heftig reageer het, stuur Herodus vir Jesus sónder om Hom skuldig te bevind terug na Pilatus. Wéér bevind Pilatus vir Jesus onskuldig. En wéér raak die volk opstandig, “Kruisig, kruisig hom!”
Jesus word effektief vermoor omdat Hy gestaan het by wie Hy was: Messias. Seun van die mens. Seun van God. Maar dis gelowige mense wat met blatante oneerlikheid probeer om Jesus ter dood veroordeel te kry deur vals klagtes. Vals klagtes wat nie eens die goewerneur en koning van Palestina kon oortuig nie. Hierna wend hulle hulleself tot opruiende optrede – presies dít waarvan hulle Jesus valslik beskuldig het. En dié keer slaag hulle.
Hoe ver is ons bereid om te gaan om ons eie verstaan van die waarheid te beskerm? Leuens? Geweld? Hoe swaar weeg ons waarheid vir ons? Of is ons waarheid die liefde: sag en genadig soos God?
GEBED
“Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
waar haat is, laat ek daar u liefde bring.
Laat ek in pyn en smart vertroostend wees en krag gee deur geloof in U, o Heer.
O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.
Laat, Heer u vrede deur my vloei…
en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal.
Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
leer my om ook soos U te kan vergeef.
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien.”
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 29 Maart 2021
Mat 26:27. “Toe neem Hy ’n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: ‘Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.’ “
GEDAGTE
Daar is ’n gedig deur Izak de Villiers wat die rol van wyn by die viering van die Nagmaal só mooi uitdruk, dat ek dit hier volledig hier vir nadenke wil weergee.
Heildronk (Uit: Vervreemdeling, Tafelberg: 2008) *
Rondom die Pêrel is wingerde en berge,
groter, groen- en blouer as Jerusalem,
en ná die winterreën drup dae oor die nat graniet,
helder soos porselein wat uit diep, warm seepskuim kom,
met blinkheid soos Boheemse rieslingglase van kristal
in sagte lig op winkelrakke by die Karelsburg in Praag:
dié helderheid rúik selfs na pasgeblaasde glasbokale,
kleurig na die smaak van ouerige toeriste op Murano.
Ek kom uit daardie aarde van eike en olienhout,
van diamantdae en ‘n rivier wat kronkel deur rye wingerde –
blaremanteldraaiers na die stand van die seisoene –
daar waar ‘n mosgeur elke somerse herfs oor wit kelders hang.
Ek sal weer teruggaan, na die geil aarde van Klein-Drakenstein,
langs die landgoed van Nederburg waar wyn geproe word
uit die blink kelke. En die groot granietberg sal glinster
soos ek deel word van die daegang, vergroeid in eik en wingerde –
heel moontlik opgesuig word in die sap van druiwe.
En iets van my, ek, sal saggies in ‘n glas geskommel word:
vermeng met die geure van God van die wonders en wingerde,
en Jesus sal weer wyn kom maak, my proe soos by die bruilof,
sy kop effe skud oor die veel vaste suur, maar tog ’n vrugtesmakie kry
- appelkoos en nartjies en olyf – en dink aan die dae in Kapernaum,
- aan sy vriende by ’n meer met waters wat wink in die Palestynse son.
Hy sal my bewaar in sy gedagtes soos die Katedraalkelder –
dalk vir ‘n Pêrelse heildronk met dienende engele
op ’n hemelse kristaldag.
- In 2009 het ek die voorreg gehad om vir Izak de Villiers te ruste te lê in ’n privaat begraafplaas, te Klein-Drakenstein.
GEBED
“Here, dankie dat U Uself só kom uitgiet het in ons lewens, soos wat ons die wyn uitgiet wanneer ons die Nagmaal geniet. Giet ons só uit, Here, as offers vir U, vir mekaar en vir die wêreld.” Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 28 Maart 2021
Mat 26:26. En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”
GEDAGTE
Woensdag het ons gehoor dat daar regdeur die Nuwe Testament ’n viervoudige ritme is by die instel van die Nagmaal: Jesus neem die brood en seën dit (of dank God daarvoor). Daarna breek Jesus die brood en gee dit aan: Neem, seën, breek en gee. Elkeen van hierdie woorde is gelaai met betekenis.
Neem
Jesus neem dit wat ons na Hom toe bring. Ons offer wat ons kan bring: Ons vis, ons duiwe, ons skape. Maar hierdie offer is altyd volledig persoonlik. Dit is ons. Ons sondes en ons deugde, alles wat ons is, selfs as dit nie veel is nie. Augustinus het vir sy nuwe belydende lidmate, kort na belydenisaflegging gesê: “Daar is julle op die tafel – julle is die brood. Daar is julle in die beker – julle is die wyn.” Ons offer onsself en Jesus neem dit aan. Hy weier niks van wie ons is, of wat ons gedoen het nie.
Seën of dank
Wat ons aan Jesus offer, offer Jesus tot God met danksegging. Euchariste, die Engelse woord vir Nagmaal beteken danksegging. God ondersoek ons nie vir foute en swakhede om ons dan te kritiseer of te verwerp nie. Terwyl Jesus die Laaste Maaltyd saam met sy dissipels gevier het, het Hy aan hulle verduidelik dat die brood en die wyn terselfdertyd sy lewe, sy vlees en bloed was en dat hulle deur hulle gebruik daarvan besig was om Hom te ontvang. Tydens die viering van die Nagmaal word ook ons offers, ons sélf, as lewende en heilige offers daarby ingesluit.
Breek
Die geskenke wat ons na die Nagmaalstafel en na God toe bring, bly nie dieselfde nie. Dikwels kom ons vol van onsself by die Here aan. Maar die Jesus wat ons red, ontmasker al ons valshede. By die Nagmaalstafel word ons nie toegelaat om toegesluit, selftevrede en selfgenoegsaam te wees nie. God breek ons trots en valsheid oop en hy open ons vir sy genesings- en verlossingswerk. Wanneer God ons soos brood breek, ontdek ons dat God diep binne ons aan die werk is. Aan die kruis is Jesus se liggaam as ’n offer gebreek sodat sy lewe die verlossing van die wêreld kon word. Hierdie “breek” van die Nagmaal maak dit vir ons onmoontlik om te dink dat ons onsself kan red. Enige selfhelp-programme van verlossing is vanuit die staanspoor verdoem!
Gee
Jesus gee dit wat ons na Hom toe bring terug. Hy gee wie ons is aan ons terug. En ons ontvang wat Hy ons gee. Maar dis nie meer dieselfde “ek” wat ek in die eerste plek na Hom toe gebring het nie. Dit is nou verander in iets wat God gee, waarvan ons sing as “genade, onbeskryflik groot.” Alles wat ons na Jesus toe bring, word teruggegee, maar net oorvloedig en veelvoudig. En só word die lewe van Christus in ons gevorm – die opstandingslewe.
Jesus NEEM
Jesus SEëN
Jesus BREEK
Jesus GEE
GEBED
“Dankie Here Jesus dat U my neem nes ek is. Dat u my seën, my oopbreek en my dan aan myself en aan die wêreld as lewende en heilige offer teruggee.” Amen.
Gedagte vir die dag | Saterdag 27 Maart 2021
Lukas 22:70-71. 70 Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?” Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!” 71 Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”
GEDAGTE
In die heel eerste sin van sy wêreldbekende boek, “Instusie of onderwysing in die Christelike godsdiens” sê Johannes Calvyn dat ware wysheid uit twee dele bestaan. Die eerste is dat ons God moet ken en die tweede dat ons onsself moet ken. En dan skryf Calvyn dat die kennis van God en die kennis van onsself tot só ’n mate met mekaar verbind is, dat dit moeilik is om te bepaal watter een die oorsprong is van die ander.
Hoe kan ons sê dat ons vir God ken as ons nie onsself ken nie? En hoe kan ons onsself ken, sonder om dit deur die liefdevolle en genadige oë van die Skepper te doen? Om trou te bly aan God vra van my om trou te bly aan myself. En om trou te bly aan myself, vra van my om trou te bly aan God.
Jesus bly trou aan Homself én aan God wanneer Hy uitgedaag word om te verklaar wie Hy is – al plaas Hy daarmee sy lewe op die spel. Deur aan Homself trou te bly, bly Jesus ook trou aan God. Op ’n indirekte manier erken Hy dat Hy die Messias is en ook die Seun van God wanneer Hy ondervra word. Maar ongevraagd en uit sy eie verklaar Jesus dat Hy die Seun van die mens is wat van nou af aan die regterhand van die almagtige God sit. Jesus vereenselwig Hom met God én mens. Met God én met ons. Waarom? Want Jesus ken Homself én Hy ken vir God. Regdeur die Lukasevangelie hou Jesus se verwysings na Homself as die Seun van die mens verband met sy lyding sowél as sy verheerliking. Dit alles kon gebeur slegs omdat die een die ander moontlik maak: Kennis van Homself en kennis van God.
Mag dit waar wees van elkeen van ons. Mag ons onsself werklik ken. En mag ons God werklik ken.
GEBED
“Here, om deur U geken te word, maak dit vir ons moontlik om U te ken en om onsself dieper te leer ken. Help ons om na onsself te kyk deur u liefdevolle en genadige oë.” Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 26 Maart 2021
Markus 14:35-36. 35. Hy het toe ’n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. 36 Hy het gesê: ‘Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.’
Ons het in gister se boodskap gehoor dat om te bid beteken dat ons onsself doelbewus onder die wil van God stel. Ons het gehoor dat dit menslik is om te wil lewe volgens óns bepalings en voorwaardes, en nie volgens God s’n nie. Egte gebed is om bereid te wees om te verander tydens gebed. Ons word verander van ’n ingesteldheid op ons eie behoeftes en verwagtings na ’n ingesteldheid op die wil van God. Dit beteken dat egte gebed ons dikwels laat eindig op ’n ander plek as waarby ons begin het.
Waarom? Die rede hiervoor is God self. Want in gebed het ons met die lewende God te make. En God spesialiseer in verandering. God verander chaos in sy pragtige skepping. God verander verbittering en vyandskap deur vergifnis in versoening. God verander die kettings van skuld en sonde deur vergifnis in vrygemaakte lewens. God verander die ou, selfgerigte lewe in ’n nuwe, selflose en liefdevolle lewe.
En dít doen God deur gebed. Gebed verstel ons lewens. Gebed stel ons in op die wil van God. In gebed buig ons die knie voor God. Jesus het op die grond gaan kniel en gebid. Hy het die gebed op ’n ander plek ingegaan as wat Hy daaruit gegaan het. Hy het gegaan met die vrees wat Hy na sy menslike aard gehad het. Hy het die vrymoedigheid geneem om só na sy Vader te gaan, want daar was tussen hulle ’n verhouding van liefde en vertroue. “Abba,” noem Hy sy Vader wanneer Hy Hom in gebed aanroep: Pappie. Eg menslik het Hy gevra dat die lydensbeker hom asseblief verby sal gaan. Maar onmiddellik voeg Hy by: “Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”
Jesus buig die knie voor sy Vader. Deur gebed het Jesus die krag ontvang om die wil van God te doen deur die verskrikking van sy lydensweg te gaan trotseer. Mag die Here ook vir jou die geloofsmoed gee om jouself werklik te onderwerp aan die wil van God elke keer wanneer jy bid.
GEBED
“Doen slegs U wil, Heer. U wil met my. U Pottebakker, met my die klei. Vorm my en maak my net soos U wil. Op U bly wag ek, nederig en stil.”
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 25 Maart 2021
Matteus 26:6-7. 6. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. 7 ‘Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.’
GEDAGTE
“Moenie te maklik, of te vinnig bid nie,” sê die Presbiteriaanse dominee en skrywer, Eugene Peterson. “Gebed is gevaarlik,” sê hy dan verder. Ons wil die lewe volgens óns bepalings en voorwaardes leef, nie volgens God s’n nie. Gebed laat ons die risiko loop om betrokke te raak by God se bepalings en voorwaardes. Moenie te maklik bid nie.
Eugene Peterson skryf dat sóveel gebede kragteloos en selfs uiter banaal is. Die rede hiervoor is dat soveel gebede eintlik net openbare vertoon is. Ons bid by wyse van spreke vir die pawiljoen. Wanneer gebede losgemaak word van die vrugbare grond van die Woord van God, word hierdie gebede niks meer nie as blommerangskikkings wat netjies en selfs kreatief in ’n blombot as tafelversiering gebruik word.
Die geheim van gebed, skryf Eugene Peterson, is om in gedagte te hou dat gebed nooit die eerste woord is nie, maar altyd die tweede woord. Gebed is nie in die eerste plek om God aan te spreek nie. Nee, gebed, as die tweede woord, is altyd om te antwoord op God wat eerste, al lankal en deurlopend met ons praat.
Gebed is om na die Woord van die Here te luister en om dan daarop te antwoord. In die proses onthul die Here die diepste bedoelings wat in ons harte verborge is. Wanneer ons bid is ons op heilige grond. Gebed vra altyd ontsag vir die lewende God. En wanneer ons aanmeld vir gebed, meld ons aan vir God se wil, vir God se plan met ons lewens, vir God se agenda. Gebed verander ons omdat God ons verander. Moet daarom nie bid as jy nie bereid is om te verander nie.
GEBED
“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
AMEN”