GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Dinsdag 13 April 2021

Johannes 20:11-18. 11. Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12. Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13. Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.” 14. Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15. Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” 16. Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester. 17. Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ” 18. Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Johannes se oorvertelling van hierdie gebeure is anders as die ander sinoptiese evangelies. Hy skryf dat Jesus by Maria is na sy opstanding en dat sy direk met Hom in kontak kom na Hy opgestaan het.  As ’n tiener het ek my pa aan pankreaskanker verloor. Ek het ook as ’n tiener ongelooflik baie foute gemaak, maar ek sal nooit spyt wees oor my foute nie, want dit het my ook baie geleer.

Elke keer as my susters van my foute te hore gekom het, het hulle vir my gesê: “Hanno, wat sou Pa nou hiervan gesê het?” of “Wat sou jou pa nou aan jou gedoen het?”   Dit het nooit vir my waarde gehad nie tot die dag wat ’n professor in die Teologiese fakulteit van Pretoria vir my gesê het: “Die evangelie is soos bladmusiek, as jy dit nie speel nie, is dit niks meer as leë note op ’n stuk papier nie”. Hierdie woorde het my laat dink aan my pa en wat hy vir my geleer het. As ek nie my pa se waardes en karakter in my lewe uitspeel nie, dan is hy nog steeds dood . . . maar as ek dit speel en deel maak van my bestaan dan lewe my pa in en deur my.

Ek dink dit is ook die wyse waarop Maria aan Christus vasgeklou het.  Ons soek die woorde op die papier sodat ons van tyd tot tyd daarna kan verwys of dit kan lees. Christus wat vir Maria sê: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie.” Dit is juis hierdie realiteit: Dat ons op staan wanneer ons dit leef en dit nie noodwendig tasbaar hoef te voel nie.

Maria en die dissipels moes leer om die bladmusiek van Jesus te speel sonder om Hom by hulle te hê, dit was sekerlik ’n moeilike uitdaging, maar hulle het reeds die note ontvang en daarom vra Jesus dat Maria nie fisies aan Hom moet vashou nie.

Gebed:

Here, dankie dat ons tydens die onsekerheid van die pandemie weet dat U hier is deur hoe ons leef en hoe ons die musiek van u koninkryk in ons alledaagse lewens laat deurbreek.  Dankie dat U nie vir ons ’n goedkoop fisiese antwoord kom gee het wat net werk in ’n sekere konteks, of tyd nie, maar dat ons U nou hier by ons het in die wyse hoe ons u Koninkryk se waardes uitleef.

Mag jy opstaan sonder fisiese goedkoop antwoorde, maar met note wat jou lei om musiek te kan maak in elke konteks en die evangelie te beleef in die hier en nou.

 

 

 

Gedagte vir die dag | Maandag 12 April 2021

Lukas 24:7-26.  Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”Met somber gesigte gaan hulle staan, 18 en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”19. Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, ‘n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20 en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21 Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22 En nou het ‘n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23 en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ‘n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24 Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”25 Toe sê Hy vir hulle: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”

Die manier hoe ons die lewe tydens die pandemie benader, maak saak.  Dit is so maklik om baie negatief te raak omdat die wêreld om jou besig is om te verander,  of omdat dinge net nie meer is, soos jy daaraan gewoond is nie.  Die Emmaus-gangers het ’n sekere perspektief oor Jesus se dood gehad.  Hulle het verwag dat Christus vir Israel sou verlos, maar die idee dat Christus se liggaam nie meer in die graf was nie het hulle toe laat dink dat dit nie meer gaan gebeur nie.  Daarom sê Christus vir hulle “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees!”.

Shaun Achor ’n  Amerikaanse sielkundige vertel die verhaal van hoe die lens waardeur ons die wêreld benader ons geluk en lewe kan beïnvloed. Hy vertel van hoe hy as kind sy sussie oortuig het sy soos ’n perd geland het toe sy van die bed af geval het en haar arm gebreek het.  Die verandering in haar perspektief het haar dadelik laat ophou huil. Hoe waar is hierdie konsep nie vir ons in ons eie lewens vandag nie?  As ons die lens van ons verwagtings verander kan ons lewe sien te midde van die dood. Christus se opstanding gee vir ons die vermoë om nuwe lewe te sien.

Gebed

Here, dankie dat U ons weer nuwe lewe kom gee deur die Kruis en u opstanding. Dankie dat ons weer opnuut kan besef dat hoe ons na die lewe kyk tydens hierdie pandemie –  saak maak. Here, mag ons in hierdie tyd weer ons verwagtings en ons lense waardeur ons die wêreld benader skoon maak om lewe in ’n tyd van onsekerheid en seer te ontdek.

Mag jy in hierdie tyd deur ’n nuwe lens die wêreld benader omdat Christus opgestaan het uit die dood om nuwe lewe te bring. Mag jy anders kyk, om lewe te sien.

 

Gedagte vir die dag | Sondag 11 April 2021

Lukas:24:1.  Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was 7en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.” 8Toe het hulle sy woorde onthou 9en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel. 10Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel. 11Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie. 12Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Dit is moeilik om in tye van krisisse die groter prentjie rakende gebeure raak te sien. Dit is juis omdat ons in tye van onsekerheid soveel goed het om aan te dink. In sulke tye trek die lewe ’n mens in verkillende rigtings en dan weet ons nie waar om vas te hou, of waar ons moet laat los nie. Die vraag is dan waaraan hou ons vas wanneer dinge moeilik gaan?

Dit is interessant hoe Lukas die opstanding beskryf as iets wat van selfsprekend moes gebeur. Dit is asof die twee manne met die blink klere aan die vroue weer bewus wil maak van die groter prentjie. Hulle vra die vroue: “Waarom soek julle die lewende by die dooies . . . onthou julle dan nie”.  Dit is interessant hoe die mees ondenkbare persone, naamlik die vroue, die groep is wat die groter prentjie eerste raak sien. Iemand soos Petrus kon dit nie eens glo nie en moes terug hardloop na die graf toe om self te sien dat die vroue die waarheid vertel.

Peter Scazzero die skrywer van die boek “Emotionally Healthy Spirituality” skryf dat emosionele volwassenheid ook die vermoë inhou om te midde van die onsekerheid van die lewe nie na strooihalms te gryp nie, maar om gefokus te bly op dit wat werklik saak maak.

Binne die gang van die lewe gryp ons na goedkoop en maklike oplossings.  Fopnuus het dit ook maklik gemaak om in vandag se wêreld na valse inligting te gryp. In tye van krisis leer God ons dat ons die groter prent moet soek en om vorentoe na dit te beweeg. Die beste voorbeeld hiervan in ons onmiddellike konteks is die teenstand wat oor die wêreld heen rakende inenting ontstaan het.  Ons kan so maklik opgesweep raak oor geestelike idees dat die inenting byvoorbeel die “merk van die dier” is.   Sulke idee saai verdeeldheid en laat ’n mens dikwels vergeet dat God se hart (die groter prentjie) die vereniging en herstel van die seer van die Covid-19-pandemie sal wees. Dít is die groter prentjie waaraan ons kan vashou.

Gebed:

Here, ons besef soms dat ons gryp na leë antwoorde binne ’n onsekere wêreld, maar ons dank U dat U vir ons die vermoë gee om te midde van die onsekerheid met ’n groter prent op te staan. Die prent van herstel, eenheid en geregtigheid, omdat U seun dit vir ons aan ’n kruis kom wys het. Mag ons aan U hart vashou te midde van die onsekerheid van die pandemie.

Mag jy in hierdie tyd die hart van God sien en daaraan vashou eerder as die leë beloftes wat ons so angstig oor die toekoms maak.  God help ons om met ’n groter prent op te staan.

Gedagte vir die dag | Saterdag 10 April 2021

Markus 16:1.  Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem. 2Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. 3Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” 4Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. 5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ‘n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik. 6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” 8Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

Die pandemie raak nou baie lank en uitgerek en jy voel dalk of dit nooit gaan einde kry nie. Die afgelope jaar het almal van ons iets verloor, dalk was dit ’n persoon, ’n geleentheid, ’n verhouding of ’n werk. Ons verlang nog terug na sekere oomblikke en gebeure van die verlede en soms verhoed hierdie geleenthede ons om vorentoe te beweeg. Dit is interessant hoe die vroue by die graf deur die engel gelei word om nie vas te hou aan “waar Jesus gelê” het nie. Die engel neem hulle na die plek toe waar Jesus was om hulle te lei na waar Jesus voortaan gaan wees.

Die oopgestane Jesus is waarheen die engel die vroue wil lei.  Ons besef dikwels nie hoe ons begeertes van die verlede ons soms terug hou nie. Dit beteken egter nie dat ons nie moet ophou werk deur die seer van die verlede nie.  Amy Morin, ’n sielkundige skryf in haar boek “13 things mentally strong people don’t do” dat om deur seer van die verlede te werk is gesond, maar om jouself jammer te kry en in die verlede te bly sit is ongesond.”  Al hoe ons na opstanding beweeg is deur die gebeure van die verlede wat ons laat sink, te laat gaan.

Gebed:

Here mag ons in hierdie onsekere konteks opstaan omdat U reeds opgestaan het. Mag ons deur die pyn en seer van die verlede werk om deur die leë graf te kom, maar gee dat ons nooit vashaak in die seer van die verlede nie. Here dankie dat U ons help om vorentoe te beweeg in tye van onsekerheid.

God help ons om die sinkers van die lewe te laat gaan om nuwe lewe te ontdek.

 

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 9 April 2021

Matteus 28:1-7.  Na die Sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.  Skielik was daar ‘n geweldige aardbewing. ‘n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.  Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”

Hoe om op te staan na die pandemie?

Vrees het ’n groot invloed op ons lewens.  Ons biologiese samestelling is juis daarop gemik om ons veilig te hou.  Dink maar aan die amigdala in die brein, een van die grootste funksies van die amigdala is om ons liggaam se respons op die buitewêreld te aktiveer. Die bekende spreker Trevor Ragan sê dat ’n mens se brein jou liggaam op tye van ongemak, dit wil sê onsekerheid, verandering en uitdaging voorberei. Die enigste probleem is dat ons liggame nie kan onderskei tussen goeie en slegte ongemak nie en ongemak is somtyds juis wat ons nodig het om te groei.

Die vroue by Jesus se graf was reeds gekonfronteer met die ongemak van Jesus se kruisiging.  Hulle het terug verlang na ’n stuk bekendheid en het daarom Jesus se graf gaan besoek. Die engel konfronteer hulle binne die ongemak van die leë graf en spreek die woorde: “ Julle moet nie bang wees nie.” By die graf en te midde van die ongemak kom sê die engel vir die vroue dat dit juis binne hierdie ruimte van ongemak is, waar ons weer nuwe lewe en groei beleef.

Tydens die pandemie beleef ons baie ongemak en onsekerheid, somtyds moet ons in die graf staan en deur die ongemak swoeg, want daar is dalk juis nuwe lewe om te ontdek.

God help ons om op te staan in die tye van ongemak en vrees.

Gebed:

Dankie Here dat ons weer vandag bewus kan word van die feit dat die graf leeg is. Dat ons kan weet dat U by ons is in die ongemak en onsekerheid van die lewe. Here ons kom word vandag stil om weer opnuut te besef dat U ons laat groei deur die ongemak, onsekerheid, angs en uitdagings van die pandemie. Ons kan opstaan omdat U opgestaan het.  Amen.

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 8 April 2021

Johannes 17:1-3. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

In ons teksgedeelte is Jesus besig om net voor die traumatiese gebeure van sy lyding en sterwe, vir sy dissipels te bid. Hy besef dat dit vir hulle baie moeilik gaan wees om sin van die komende gebeure te maak en dat dit hulle met baie onbeantwoorde vrae gaan agterlaat.  Die Here het begrip dat hedendaagse gebeure ons dikwels ontnugter en verward kan laat. Daarom is hierdie gebed van die Here ook vandag vir ons so kragtig. Dit laat ons verstaan dat ons kennis van God se aard en karakter ons nou reeds ’n uitsig op die ewige lewe bied. Dit gee perspektief aan alles in die tydelike lewe en help ons om daagliks God se ewige genade en sorg te beleef.

Gebed

Here ons God, wees Uself nou hier by my, sodat hierdie gebed vandag ’n tyd van lig sal word. Laat my in u teenwoordigheid die hemel sien oopgaan, sodat ’n stukkie van U lig in my donker situasie skyn. Ek vra dit in die naam van u Seun, Jesus Christus.

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 7 April 2021

Romeine 12:16-18.  “Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges.  Moenie eiewys wees nie.  Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”

Ons grootste uitdagings in die lewe het altyd met die vashaak, of botsing met ander mense te doen. Ons is so dikwels haaks met iemand en soms word strydbyle nooit begrawe nie. Die Here ontken nie hierdie realiteit nie, maar vra dat ons nuut daarna kyk en dit anders hanteer. Maak vrede met die feit dat ons wel as gevolg van omstandighede met mekaar bots, maar kom in die ritme om eerder oplossings te vind as om probleme te soek. Paulus help ons op ’n  eenvoudige en praktiese wyse daarmee wanneer hy ons vra om nie in sulke situasies jou hart bo die van ander te verhef nie. Sien die persoon met wie jy vashaak deur Jesus se oë as iemand met ’n hart soos jou eie en beleef hoe dit wedersyds die wonder om oplossings te soek aan die gang sit.

Gebed

Here, U wat hierdie mense liefhet wat ek nie kan verdra nie, U wat die harte verstaan van hulle wat ek nie kan begryp nie, U wat die innerlike worsteling van hulle ken wat ek ignoreer, U wat die goeie motief sien in mense se optrede wat ek as skynheilig beskou – open tog my oë en hart.  U ken my beter as wat ek myself ken; U het my liewer as wat ek myself het … Here! Leer my liefhê met U liefde.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 6 April 2021

Johannes 21:15.  Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”

Hierdie teks het afgespeel nadat Jesus se dissipels na Galilea toe teruggekeer het. Terug na die normale roetine van hulle lewens. In Petrus leef die skuldgevoel dat hy Jesus verloën het. Op die plek, waar die gebeurtenis afgespeel het, langs die see van Galilea, staan daar vandag ’n pragtige beeld van Jesus met sy hand uitgestrek oor Petrus wat voor hom kniel. Dit herinner ons vandag aan God se verbintenis om ons gebroke menswees in ere te herstel. God se liefde is sterker as die foute van die verlede en die skuld wat ons in ons saamdra.  Ervaar hoe die Here jou vandag help om bo die gebeure in jou verlede uit te styg en om opnuut ’n betekenisvolle lewe te vind. Die gebrokenheid van die verlede het jou nie gebreek nie.  Dit het jou wel ’n paar kosbare dinge oor die lewe geleer.

Gebed

God van liefde ek aanbid U. U verleen luister aan my sonde-ontsierde gelaat; U hou aan vorm aan die wederstrewige klei van my lewe; uit die chaos van my dae skep u harmonie en vrede. God, ek verwonder my oor U. God van liefde, ek aanbid U.

Gedagte vir die dag | Maandag 5 April 2021

Lukas 24:30-31. Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.”

Ek het dikwels gewonder of ek vir Jesus sou herken indien hy by my in die straat verby sou stap.  Volgens die Bybel is daar niks aan Jesus se gelaatstrekke wat hom anders gemaak het as enige ander man op straat nie. Tog, is mense diep geraak deur sy woorde. Dit bly vandag vir my ’n goeie beskrywing wat met ons gebeur.  Ons het geen idee hoe God lyk nie, maar wanneer ons sy stem op ’n verskeidenheid maniere hoor gaan ons oë oop om mense en die wêreld opnuut raak te sien.  Hoe hoor jy die Here se stem in hierdie tyd?  Wat is dit wat jy begin sien en waartoe dring dit jou?  Moenie toelaat dat insigte in jou alledaagse roetine ongemerk by jou verby gaan nie.  Reageer daarop sodat ander om jou ook die seën van God se teenwoordigheid mag beleef.

Gebed

U het die brood gebreek, eens by die meer; breek nou die lewensbrood vir my o Heer! U beeld straal uit die Skrif, so helder voort, U soek ek, Heer, Uself, O lewend Woord!

Gedagte vir die dag | Sondag 4 April 2021

Matteus 28:5.  “Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moenie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het.”

Die Here het opgestaan. Hy het waarlik uit die dood opgestaan. In hierdie enkel en eenvoudige sin lê daar soveel betekenis opgesluit. Onder die eerste gelowiges het daar op hierdie dag ’n gebruik ontstaan om weekliks op hierdie dag vroeg soggens bymekaar te kom sodat hulle die betekenis van Jesus se opstanding kon vier. Christus het nie net iewers een keer in die verre verlede uit die dood verrys nie. Ons word herinner dat hierdie historiese gebeurtenis keer op keer weer opnuut in ons lewe herhaal word. Dink aan al die Sondae in jou lewe en wees dankbaar vir die eenvoudige realiteit waarin jy weekliks kan deel en waarmee jy elke nuwe week kan ingaan.

Gebed

Hoor jy die Paasfees klokke? Hul lui van vroegdag af; hul jubel oor die wêreld: Die Heer is uit die graf! Hy, Christus die oorwinnaar, is uit die donker uit! Die Heer, die sleuteldraer, sal ook my graf ontsluit.

1 107 108 109 128