GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Vrydag 23 April 2021

Psalm 27:1.  Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?

Hoe lyk jou geloof? Kan jy saam met die psalmdigter uitroep: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?  Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?” (vers 1)  Wanneer die viruspandemie my in ’n kluisenaar verander, as ek my werk verloor en nie ander werk kan kry nie, as my bankbestuurder se geduld met my op is, as die grendelstaat my onderneming op sy knieë dwing, as die dokter die laaste reeks toetse optel en sy kop skud.  Wat doen ek dan?

Die psalmdigter sê hier:  Ware gelowiges skrik vir niks, want met God aan jou kant kan niks, of niemand iets aan jou doen nie.  Hy sien selfs vir ’n hele leërmag kans!  Hy sê selfs al begin die aanval, vertrou hy nog.  Maar wat van jou?  Kan jy met hom saampraat?  Of klink dit dalk vir jou nou soos een van daardie mense wat vir jou wil troos en sê: “Man, jy moet net glo en vertrou, dan sal dit regkom. Jy sal sien.” En jy probeer glo en jy probeer vertrou, maar dit kom nie reg nie. En dan wonder jy later of jy dan reg glo, of jy genoeg vertrou.

Geloof is nie sonder vertwyfeling nie. Om gelowig te wees, beteken nie om nooit angstig, of bekommerd, of bang te wees nie. Om die waarheid te sê, nood en vertwyfeling was vir die mense van Bybelse tye net so deel van die lewe soos wat hulle geloof was. Hulle was ook bang, hulle het ook soms getwyfel,

Om ’n opregte gelowige te wees, beteken nie om sonder probleme, sonder krisisse en sonder nood te lewe nie. Die feit dat jy in God glo, neem nie al jou probleme in ’n oogwink van jou af weg nie.  Maar ons het die troos dat ons iemand het om by te skuil, wat ons vashou en wat ons help dra.  Weet vandag dat jy nie alleen is nie.

GEBED

Gewer van genade, ek smeek U om u genade in my in stand te hou, want dit is vir my moeilik om my geloof uit te leef. Versterk my teen versoekings. Die uitdagtings van die lewe tref my en ek kan nie staande bly nie. Ek het U nodig.

Amen

Gedagte vir die dag | Donderdag 22 April 2021

Romeine 8:26.  Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.

Ons almal ken die waarde van gebed.  Maar daar kom tye in elkeen van ons se lewens waar dit moeilik is om te bid. Dalk het jy ook al gesê “Dit voel asof ek teen die plafon vasbid.”  Elke gelowige bereik soms ’n plek waar ons op breekpunt is, en dit dan moeilik raak om te bid.  Ek bid, maar dit voel asof die Here my nie hoor nie. Ek sien geen deurbrake nie. My woorde raak op, ek weet nie meer hoe om vir die Here te sê wat hier binne my hart leef nie.  As ek nie eens die regte woorde kan vind nie, hoe sal God my gebed dan verhoor?  Dit is alles gedagtes wat gelowiges by tye rakende gebed beleef.

Ons vers bring vir ons elkeen vandag ’n groot troos. Jy bid nie alleen nie! Jy hoef ook nie die regte woorde te vind dat God sal verstaan nie. God die Heilige Gees woon in ons. Hy staan ons by in alles wat ons doen. Hy bid saam met ons! God is die kenner van ons harte. Jesus het ons geleer dat ons Vader weet wat ons nodig het nog voordat ons dit van Hom vra (Matteus 6:8). Die Here ken jou hart deur en deur, en Hy weet presies waarmee jy sukkel. Wanneer ’n mens dan in uitdagende tye kom, is dit baie belangrik om steeds die afspraak met die Here in jou binnekamer na te kom.  Al sukkel ’n mens dalk om die regte woorde te vind, die Heilige Gees sal jou daarmee help. Dit wat in jou hart leef dra Hy op na die Vader se troon. Die Heilige Gees pleit vir ons by die Vader. Ons mag in moeilike tye maar net stil wees, en in ons binnekamer op die Here wag. Die Gees help ons om met hoop te bly volhard, totdat die Here antwoord.

Gebed

Here, U ken my hart, U ken my nood. Ek lê dit voor U troon neer.  AMEN

Gedagte vir die dag | Woensdag 21 April 2021

Eksodus 33:14-15.  14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” 15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.”

 

Daar is ‘n bekende Nederlandse spreuk wat lui: “Van het concert des levens krijgt niemand ’n program”.  Dit verwoord die vanselfsprekende waarheid dat ons nie weet wat die toekoms vir ons inhou nie.  Niemand weet immers wat op die lewensreis vir hulle as indiwidue, of as gesin, of as kerk voorlê nie.  In die lig van hierdie onsekere karakter van die lewe, gebeur dit dat mense deur die eeue vrae gevra het soos:  Wat bied vir ons ‘n anker te midde van die onsekerheid en onstuimigheid van die lewe?  Of:  Waarin lê ons diepste geborgenheid te midde van al die persoonlike, sosiale en kosmiese katastrofes wat ons van hoor of beleef?”

Ons as gelowiges weet dat ons diepste geborgenheid nie in materiële welvaart, of in sukses, of by ander mense lê nie, maar in God self.  In sulke onseker tye ontdek ons dat ons aan God kan vashou – of eerder: dat Hy ons vashou.  Dan beleef ons wat gelowiges dikwels bely, naamlik dat God daar is vir ons as ons Hom nodig het.  Ons kan weet: te midde van die onsekere en brose aard van ons lewens het ons ’n goddelike reisgenoot op wie ons kan staatmaak.

Gebed

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.

Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seen.

Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees.

Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 20 April 2021

Jeremia 17:7-8. Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is; 8so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ‘n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

’n Ou Kerkvader Irenaues het gesê: “The glory of God is a human being fully alive.”

Dit was sy manier om te sê dat God geëer word waar ’n mens voluit lewe, wanneer jy só in voeling is met jouself, jou diepste gevoelens, verlangens en drome, dat jy nie anders kan nie: Jy begin dit spontaan uitleef!  Wanneer dit dan gebeur, so sê die Bybel, is ons lewe soos ’n boom wat in volle bloei staan – wat altyd groen blare het en wat nie ophou om vrugte te dra nie.  Hierdie oomblikke waarin jy in voeling met jou beste self kom, vind nie altyd noodwendig met groot toejuiging plaas nie.  Ervaring leer ons dat dit meer dikwels in stiller oomblikke gebeur.  Tye wanneer jy genoodsaak is om af te skakel, op te kyk van al jou ambisieuse werk en meer aandagtig te let op dit wat in en om jou gebeur.  So mag jy met nuwe verwondering die grootsheid en gawe van die lewe en veral die natuur ontdek.

Ek lees graag vir julle ’n gedig van Rilke wat hieroor reflekteer:

God speaks to each of us as he makes us,
then walks with us silently out of the night.

These are the words we dimly hear:

You, sent out beyond your recall,
go to the limits of your longing.
Embody me.

Flare up like a flame
and make big shadows I can move in.

Let everything happen to you: beauty and terror.
Just keep going. No feeling is final.
Don’t let yourself lose me.

Nearby is the country they call life.
You will know it by its seriousness.

Give me your hand.

Rainer Maria Rilke

Gedagte vir die dag | Maandag 19 April 2021

Teks: 1 Korintiers 13: 4-7.  4Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. 7Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

’n Gedig deur Stef Bos in refleksie oor liefde:

Mens moet van twee kante

kom om mekaar te ontmoet

jy moet eintlik

toevallig onderweg wees

 

jy moet geen doel voor oë hê

 

en jy moet laat gebeur waarvoor jy bang is

 

jy moenie alles wil verklaar nie

 

voor jy jou kom kry het jy

en die ander oorlog verklaar

 

mens moet van twee kant

kom om mekaar te ontmoet

jy moet jouself iin die ander

durf sien

 

sonder om in die ander

te verdwyn

 

dit kan opeens sommer

voor jou staan

en lyk na iets waarvan jy liefs wil vlug

 

dit is die aardige van geluk

jy maak dit waar of jy maak dit stukkend

 

dit kan jou bedreig dit kan jou behoed

 

maar mens moet van twee kante kom

om mekaar te ontmoet

 

Gedagte vir die dag | Sondag 18 April 2021

’n Gebed deur Dirkie Smit

Soms is dit die onthou wat so seer maak, Here –

Al ons gedagtes

Al ons herinneringe,

Al ons verlange,

Al ons heimwee.

 

Soms is dit die vergeet wat so seer maak –

Van die vreugdes van die lewe,

Van die gawes wat ons so mildelik ontvang,

Van seëninge, goedheid, nabyheid,

Van die reën se gesuis, die son se warmte,

Die aand se stilte, die vroeë môre se nuwe lig,

Die vergeet van stemme, gesigte, glimlagte, handdrukke, oë,

van destyds, kleintyd, opgroei, nuwe ervaringe,

eerste kere, ontdekking,

die vergeet van ontmoetings, saam-wees, geselskap, vrienskap, lag en bly-wees;

die vergeet wat ons so leeg laat, sonder klank, sonder erkentlikheid,

sonder vreugde, sodat ons so seer kry en steeds hunker na nog en weer.

 

Soms is dit die verganklikheid wat so seer maak –

Die bittere weet dat alles verby gaan, eindig is,

Dat kragte afneem  en kanse verby gaan,

Gesondheid afgetakel word, kinders grootword en weggaan,

Verhoudings verbrokkel,

Vriendskappe beeïndig word en dat die jeug nie altyd duur nie.

Ja dat die lewe self nie ewig is nie

En die droefheid wat dit alles bring.

 

Soms is dit die aanhou wat so seer maak –

Die nimmereindigende uithou,

Dat alles so dieselfde bly, sonder ophou,

Die reëlmaat, die roetine, die verveling, dieselfde elke dag,

Die sloer, die afsloof, die sinlose selfde oor en oor,

Sonder iets nuuts, sonder verrassing, sonder opwinding,

Sonder sprank;  Ja die diepe verlange na iets, na iemand, na meer.

 

Here, ons kom na U met ons heimwee –

Met ons verlange, met ons hunker, met ons droefheid,

Met ons seer.

Ontferm U tog oor ons.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 17 April 2021

Lukas 24:1-6.   1Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was 

Lukas die briefskrywer herinner ons dat daar tussen optimisme en hoop  ’n hele wêreld lê – al verwar ons dikwels die twee met mekaar.   Optimisme het  baie met ons geaardhede te doen.  Sommige mense sien makliker die ligkant, of die silwer rant van ’n saak in plaas van die donker wolk.  Maar te veel optimisme kan ons verblind en ons ligsinnig en oppervlakkig maak.  Ons kan draers van goedkoop troos word.   Optimisme het weinig min met hoop in gemeen.  Hoop is nie iets wat ons in ons het nie, dit kom van buite.  Dit lê nie in ons geaardhede nie en dit vloei ook nie uit ons vermoë om anders na sake te kyk nie.  Hoop word aan ons gegee.  Ons ontvang dit.  Dit kom oor ons.  Dit word aan ons geskenk.  Ons word deur hoop verras, oorbluf en opgewek.

Daar is keerpunte, of oomblikke van finaleit wanneer positiewe denke eenvoudig nie verder help nie.  Wanneer ons voor toe deure, klipmure en geslote grafte te staan kom.  Dan moet iets gebeur – iets nuuts.  Dan het ‘n mens iemand nodig wat die klip voor die graf wegrol.  Boodskappers wat ons troos en sê ons hoef nie te vrees nie.  Bevreesde vroue wat bevestig dit is waar.   Dit kos soms in die gedaante van ’n vreemde tyding, wat nog nooit in die  die hart van ’n mens opgekom het nie en wat alle verstand te bowe gaan.  ’n Nuwe begin, soos lewe uit die dood.

Gedagte vir die dag | Vrydag 16 April 2021

Matteus 28:16-20.  16Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Ek lees graag die volgende gedig van Padraig O’Tuama, ’n Ierse teoloog wat oor hierdie teksgedeelte geskryf het:

Surprising Son of God

You revealed the truth to woman

Who were not believed by men.

You are in the voices of the unbelieved

And the ignored.

So bring us towards each other

Bring us towards

The truest truth

Because here, if anywhere,

We will find you.

 

Seëngebed

Die Here is voor jou om die weg vir jou gelyk te maak

Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou

Die Here is agter jou om die aanvalle van die bose af te weer

Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val

Die Here is rondom jou om jou te beskerm

Die Here is bokant jou om jou te seën

Die Here is binne jou om jou met sy Gees te lei

So seën die Drie-enige God jou van nou af en vir altyd

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 15 April 2021

Johannes 21:8-19.  8Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep. 9Toe hulle aan land kom, sien hulle ‘n vuur brand en ‘n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. 10Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.” 11Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. 12Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.” Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is. 13Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis. 14Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. 15Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.” 16Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.” 17Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei. 18Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” 19Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

Jesus se verskyning aan Petrus, net soos Jesus se ander opstanding verskynings, vertel vir ons presies wat God se prioriteite is.  In die dae na sy opstanding hou Jesus hom nie besig met wraak en vergelding nie.  Hy wreek homself nie op Pilatus of straf die soldate wat hom gekruisig het nie.  Jesus spandeer sy tyd om sy vriende te voed, te versterk en te herstel.  Hy noem Maria op die naam terwyl sy huil.  Hy offer dat Thomas aan sy wonde vat.  Hy braai vis en brood vir sy honger dissipels en herstel die verhouding tussen hom en Petrus.

Jesus fokus op verhoudings.  Op rekonsiliasie.  Op liefde.  Voor sy Hemelvaart spandeer Hy die meeste van sy tyd om sy vriende se vrees, verlamming en hartseer aan te spreek en weg te neem. Jesus is glad nie besig met ’n triomfanklike oorwinning nie, maar kies nederigheid.  Hy kies om ’n eerlike en weerlose vraag vir Petrus te vra, selfs as die antwoord Hom dalk kan seermaak.  Hy kies om sy skape te versorg en lief te hê.   Petrus se skaamte ontmoet Jesus se genade, en Jesus se genade wen.   Dit in ’n neutedop – is die Evangelie.

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 14 April 2021

Johannes 20: 24-29.  Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25 Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”  26 Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” 27 Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” 28 En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” 29 Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

As die Evangelieskrywer Johannes, oor die opstanding van Jesus skryf, is die eerste storie wat hy kies om daarna te vertel, ’n storie oor wonde en twyfel.  Thomas se storie herinner ons dat opstanding is moeilik en dat ons nie altyd weet hoe om dit te ontvang nie. Hy herinner ons dat geloof nie altyd so eenvoudig hoef te wees nie.  Dat dit okay is om  te twyfel.  Dis okay om onseker te wees en dis okay om ook jou tyd te neem.  Want Johannes kies ’n storie oor twyfel en wonde om ons te help glo.  So indien dit vir jou moeilik is om die vreugde van Paasfees te ontvang,  rus in die wete dat Thomas ook sy tyd geneem het.  Vind troos in die wete dat Jesus vir hom die ruimte geskep het waarbinne hy dit kon doen.  Hou vas aan die gedagte dat deur wonde, Jesus se wonde, Thomas, op sy tyd, ook sy weg gevind het na heelheid.

Gebed

Dankie Here dat die opstanding ook ’n storie is oor wonde en twyfel, sodat ons kan glo. Mag ons dit as ’n geskenk ontvang.

Amen

1 106 107 108 128