Gedagte vir die dag | Maandag 3 Mei 2021
2 Timoteus 4:9: “Beywer jou om gou na my te kom. Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, en het na Thessaloníka vertrek, Crescens na Galásië, Titus na Dalmásië. Lukas is alleen by my. Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees. Tíchikus het ek na Éfese gestuur. As jy kom, moet jy die reismantel bring wat ek by Carpus in Troas laat bly het, en die boeke, veral die perkamente. Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld na sy werke! Jy moet ook vir hom oppas, want hy het ons woorde sterk teëgestaan. In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie!”
Tydens die lees van Timoteus, is dit nogals opmerkbaar hoe Paulus vir Timoteus aanmoedig om mense te help en om ’n tipe lewenswyse te lei waarin hy mense bystaan. Ek is baie lief vir die spreekwoord: “I am a part of everybody I met”. Ek, Callie Visagie het nou nie meer baie lank oor as predikant nie, maar as ’n mens terugkyk oor jou bediening dan wonder jy: “Wat het ek nou eintlik vir mense beteken?”
As ek nou nadink aan hoe mense aan my afgesmeer het, dan kan ek getuig van so baie mense wat op verskillende vlakke ’n invloed op my lewe gehad het – op ’n intellektuele en akademiese vlak, of kreatiwitiewe vlak, of ander met lewenslus en entoesiasme. In my voorbereiding het ek die brief van dr. Chandrasekhar, raak gelees. In 1947 en was hy geskeduleer om ’n gevorderde seminaar in fisika by die Universiteit van Chicago aan te bied. Hy het toe in Wisconsin gewoon en was besig om navorsing oor die astronomiese sterrewag te doen. Hy het beplan om twee keer per week na Chicago in te ry, al was dit tydens strawwe wintersmaande. Daardie tyd was die teerpaaie ook nie die gehalte wat ons vandag ken nie en die rit sou meer as twee ure in een rigting duur.
Slegs twee studente het toe vir sy seminaar geregistreer. Die Universiteit het besef dat hulle die seminaar sal moet kanselleer, want dr. Chandrasekhar sou nie sy tyd so wou mors nie. Maar ter wille van die twee studente wat die seminaar wou bywoon het hy voort gegaan met die aanbieding en daagliks 120km op slegte paaie in die hartjie van die winter gery. Hulle vertel dat sy student, Chen Ning Yang, tien jaar later in 1957 die nobelprys vir fisika gewen het.
Vir ’n ware mentor, is geen klas te klein nie, of geen mens te gering nie. Geen kind, vriend, buurman, iemand wat jy ontmoet by die kerk, of wat jy raakloop, te gering nie. Ons het in Jesus Christus die ware mentor, en ons moet gestalte gee aan sy liefde deur mense aan te raak deur net vir hulle diensbaar te wees. Mag dit ook van my en jou lewe waar wees.
Gebed:
Here dankie vir mense in elkeen van ons se lewens waaraan ons tyd afgestaan het, en aan wie ons afgesmeer het. Dankie dat ek vir elkeen wie ek ontmoet van betekenis kan wees.
Amen.
Gedagte vir die dag | Sondag 2 Mei 2021
1 Timoteus 6:11. “Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal.”
Vers 18: “Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ‘n skat as ‘n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry. Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die ‘kennis’, soos dit verkeerdelik genoem word.”
Ek het die afgelope tyd in my voorbereiding van die dagstukke weer in Timoteus gaan lees oor Paulus se goeie raad aan hom om ’n sinvolle en betekenisvolle lewe te lei. Paulus het vir hom gesê hoekom dit belangrik is om met vrygewigheid en mededeelsaamheid te lewe.
In die lees daarvan het ek raakgelees wat onder andere Jullian Miller oor Albert Einstein geskryf het: “Einstein het die grootste gedeel van sy lewe klas gegee by die Universiteit van Princeton en daar het hy blykbaar daardie bekende realiteitsteorie ontwikkel. Die vreemde is dat ons by Princeton Universiteit geen gedenkteken, of museum, of monument sal raakloop wat eer aan dié groot geleerde bewys nie. Blykbaar was Einstein gekant teen enige vorm van verering en hy wou nie die kollig op homself plaas nie. Die afwesigheid van monumente of standbeelde van Einstein by die Universiteit van Princeton vertel ’n belangrike storie. Dit kommunikeer iets van Einstein as mens, maar ook iets van die Universiteitsgemeenskap en die respek wat hulle vir Einstein gehad het.
Daar is inderdaad baie ander manière om iemand se nalatingskap te bewaar. Na Einstein sal die wetenskap nooit weer presies dieselfde wees, of op dieselfde manier beoefen word nie. Sy geniale werk is sy monument. Ons dink baie keer aan ons nalatenskap na, en dit het my laat nadink oor wat Paulus vir Timoteus sê, maar spesifiek dan oor dinge wat van Einstein gesê word, want ware grootheid, is nie selfgerig nie. Iemand wat werklik ’n groot bydrae tot die samelewing, of sy gesin, of uitgebreide familie lewer, wil gewoonlik nie eerbewyse daarvoor ontvang nie. Die geskiedenis het dit oor en oor bewys. Mag ek en jy die genade kry om in nederigheid te leef sodat ons nie self gerig sal wees nie, want dit is wat Christus vir ons gedoen het, om sy lewe vir ons af te lê.
Gebed:
Here, gee vir ons die genade, om nie altyd in die middel te wil staan nie, maar om diensbaar of nederig te wees en om sodoende iets groters na te laat. Dit wat ons gedoen het. Gee vir ons daardie genade, insig en nederigheid.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 1 Mei 2021
2 Timoteus 4:1. “Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: 2verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee”
Later gaan die gedeelte oor mense wat die woord sal verkondig en hy sê: “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.”
Vers 9: “Probeer so gou moontlik na my toe kom, want Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vertrek.”
Hy praat oor mense wat God verloor het. Omstandighede veroorsaak soms dat mense (en ek ken sulke mense) wat geglo het, nie meer glo nie, die lewe maak nie meer vir hulle sin nie, en hulle voel die Here help hulle nie.
Ek het nou die dag gelees oor die beeld van skepe wat in die hawe aan ankertoue lê, en die skrywer het daarna verwys dat dit ’n oop see is, wat nie veilig is nie, maar ons weet dat dit nie veilig is nie. Skepe is nie gemaak om veilig in die hawe te lê nie, maar om op die oop see te vaar en die storms te trotseer sodat kosbare vragte afgelewer word.
Dit het my ook laat dink aan die boot wat dwars in die Suez-kanaal gelê het en dat die skepe nou weer om die Kaap met hul olievragte moes vaar. Hulle vertel dat daar in die poolstreke ’n interessante natuurverskynsel is. Die oppervlakstrome beweeg in een rigting, en sleep al die skuim en dryfhout saam. Maar loodreg teen hierdie strome in, binne hierdie spitsverkeer van die stroom, sien jy ’n ysberg aangedryf kom. Hoe is dit moontlik? Wetenskaplikes verklaar dit as volg: Diep onder die oppervlaktes van die oseaan is daar ander magtiger strome wat in die teenoorgestelde rigting as die oppervlakstrome beweeg. Hulle sê dat slegs een derde van die ysberg steek bo die oppervlakte van die water uit terwyl twee derdes, of meer onder die oppervlakte van die water in die sterker onderwaterstroom is. Daarom beweeg so ’n ysberg amper loodreg teenoor die oppervlakstroom in, dit ignoreer die skuim en dryfhout en wyk nie links of regs van die stroom af nie.
Gelowiges wat in die opstandingskrag van Jesus Christus glo en in die verlossing van Jesus geanker is, wat hul vryspraak vandaar ontvang, is in God geanker. In daardie rots, daardie diep stroom, en dit beteken dat ons die oorwinningslewe kan leef ten spyte van die rommel en skuim wat op die oppervlakte dryf. Ons kan saam met Paulus getuig: “nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.”
My gebed is regtig dat ek en jy werklik ten spyte van die lewe en ten spyte van moeilikheid en gebeure wat nie sinmaak nie – dat ons die genade sal kry om te lewe vanuit die opstanding van die Here Christus. Dat ons nie die filosofie van die teenswoordige wêreld sal liefkry nie, maar geanker in Hom sal bly tussen al die strome deur.
Gebed: Here, dankie vir die genade om geloof te kan hê, in die Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het. Help vir ons om deur die rommel en die moeilikheid wat ons soms ondervind diep geanker te bly.
Amen
Gedagte vir die dag | Vrydag 30 April 2021
1 Kor. 15:57: “Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.
Die gedeelte, of die skildery waarna ek verwys is op die foto wat die stemboodskap vergesel.
Die skilder se naam is Moritz August Retzsch. Hy het ’n skildery geskilder en die naam is “Checkmate”. Dit gaan oor ’n skaakspel tussen ’n jong man en die duiwel. Sy onsterflikheid was op die spel, en dan demonstreer die toneel hoe die duiwel, met ’n uitdrukking van genot op sy gesig, die jong man in skaakmat plaas. Hy wil eintlik sê: Ek het jou! ’n Mens kan dit op die duiwel se gesig sien. Die jongman se gesigsuitdrukking is een van wanhoop – hy weet hy is vas en daar is skynbaar geen ander skuif wat hy kan maak nie. Hulle vertel dat ’n beroemde skaakspeler die skildery noukeuring ondersoek het, en ’n skaakbord opgestel met die skaakstukke presies soos dit in die skildery voorgestel is. Hy het die saak bekyk en dit lyk my hy was ’n beter skaakspeler as die skilder, want hy het besef daar is ’n skuiwergat, en dat die nederlaag in ’n oorwinning omskep kan word. Deur net een skuif, kon die jongman die duiwel totaal uitoorlê.
Ek het weer nuut gedink in my voorbereiding oor wat beteken Jesus se oorwinning oor die dood en die feit dat Hy opgestaan het? Ek vra myself dikwels die vraag: “Watter verskil dit in my lewe maak? Maak dit regtig ’n verskil?
Ons weet die Christelike geloof staan en val by die kruis, maar eintlik by die opstanding en die oop graf. En dan in 1 Kor. 15 praat ons daaroor dat ons die dank aan Jesus Christus gee, want hy het die dood oorwin. Die oorwinning is behaal in vers 55. “Dood, waar is jou oorwinning, dood waar is jou angel?” Die hele gedeelte handel oor die oorwinning wat Christus oor die dood behaal het, en dis amper wat in die skildery gebeur as ’n mens dit nou so wil interpreteer dat die einde daar was en dat daar nie uitkoms was nie. Situasies waarin ons onsself bevind of die lewe laat ons dikwels voel dat daar nie uitkoms is nie.
Dit vir my so ’n mooi beeld waar die skaakspeler sê: Nee daar is ’n uitkoms! Dis wat aan die kruis gebeur het. Ons kan amper verwys na die skaakspel van die lewe. Maar ons kan sê op Golgota is die skuif gemaak wat vir ons die hoop gee dat Christus oorwin het. Daarom kan ons saam met 1 Kor 15:57 bely en dankie sê dat Jesus ons die oorwinning gegee het. Liewe broers en susters wees standvastig en onwankelbaar, wees altyd oorvloedig in dit wat jy doen, want daar is ’n oorwinning behaal. Jesus gee ons dit, al voel ons negatief, al kan ons nie sien dat daar ’n uitkoms is nie, kan ons sien dat die Here se opstandingskrag in ons lewens sal wees.
Gebed
Here dankie vir U oorwinning aan die Kruis met die graf wat oop was. Help ons om daardie perspektief voortdurend voor oë te hou. Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 29 April 2021
Matteus 20:25-28: “Jesus roep hulle toe nader en sê: ‘Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.’”
Ek was onlangs by iemand wat ’n diep teleurstelling beleef het. Miskien was dit meer ’n frustasie oor iets wat nie lekker uitgewerk het nie. Ek het tydens die voorbereiding vir die stuk nagedink oor hoe mense hul teleurstellings, mislukkings, of frustasies verwerk?
Dis dalk nie so algemeen bekend dat die meeste Nazi-leiers voor die laaste wêreldoorlog, groot persoonlike ideale gekoester het en wat nie gerealiseer het nie. (Dis maar wat ek lees, nie seker hoeveel daarvan waar is nie.) Hitler het probeer skilder, Goebbles wou graag dramas en poësie geskryf het, Rosenberg het ideale as argitek en filosoof gehad. Von Shirach as digter, Funk as musikus, en Steicher wou graag as skilder naam maak. En hulle sê ook dat op daardie terreine was hul almal maar eintlik mislukkings. Hulle het toe by die politiek betrokke geraak met katastrofiese gevolge. Dit lyk amper asof hulle in ’n stroom beland het, wat tot gevolg gehad het dat hulle lewens in ’n rigting ingeneem het.
Dit het al baie meer kere in die geskiedenis en in ander kontekste gebeur. Baie talentvolle mense het betyds tot bekering gekom, daar is so baie verhale soos byvoorbeeld die van Milton wat in 1640 ’n belowende digter was, maar hy het hom besig gehou met die skryf van nuttelose pamflette tydens die revolusie. Eers lank daarna het hy sy voete gevind, en sy bekende werke “Paradise Lost” en “Paradise Regained” geskryf en daardeur ’n ongelooflike invloed op mense se denke gehad.
Die gedeelte wat ons gelees het, was ’n bekende deel rakende die twis wat onder die dissipels geheers het oor die amper onselfsugtige ambisies van Jakobus en Johannes. Hulle twee was swaar gewigte in Jesus se kring. Senior ministers in Jesus se Kabinet. Gelukkig het Jesus hulle geken en geluister wat in hul harte aangaan. Hy het hulle tot hul sinne gebring. Soos in ons teksgedeelte: “elkeen van julle wat in julle kring is moet ’n dienaar wees, die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar gekom om Sy lewe as losprys vir baie mense te gee.”
Ek het gister verwys na persoonneellede van wie ons afskeid geneem het. Ds. Why Duvenhage, my kollega het oor Bernie van Wyk gesê: “Die een ding wat van Bernie uitstaan, is sy diensbaarheid, hoe hy mense gehelp het.” Ek kan nou nie presies onthou hoe lank Bernie by ons gewerk het nie, maar ek kan nie onthou dat Bernie ooit gesê het iets is te veel moeite nie, en hy het alles met ’n vriendelike gesig aangepak. Dis so mooi om met mense te doen te kry wat iets van diensbaarheid verstaan.
Dis wonderlik om iets daarvan te verstaan – hoe kan ek mense help, vir mense diensbaar wees? Hoe kan ek sommer net sit en luister? Ek sukkel op die oomblik met my stem, en ek moet minder praat, want hoe meer ek praat hoe seerder raak my keel. Ek het nou agtergekom dat wanneer ek mense besoek ek min luister en hoe ek sukkel om net te luister. Om by mense te sit en hulle net te hoor. Mag elkeen van ons die genade hê om meer na mense te luister, om net vir hulle diensbaar te wees. Mag dit in my lewe en in jou lewe waar wees.
Gebed:
Here gee vir ons die genade om nie gefrustreerd te raak wanneer dinge nie vir ons uitwerk soos ons dit wou hê nie, maar help ons om diensbaar te wees en om meer te luister.
Amen
Gedagte vir die dag | Woensdag 28 April 2021
Spreuke 6:6: ’n Lui mens moet by die miere gaan leer. As hy mooi oplet hoe hulle werk, sal hy ook verstandig word.
Ons het so ’n week gelede van personeellede afskeid geneem wat vir baie jare in diens by die kerk was en met wie ek almal saam gewerk het. Die een is Bernie van Wyk, baie van julle sal hom moontlik ken, hy is ’n terreinwerker en ’n geliefde persoon. Marguerite Bester, wat 26 jaar die finansiële bestuurder was, aanvanklik saakgelastigde en deel van die intelektuele kapitaal van die kerk. Twee ander kosbare mense wat ook nou afgetree het is Marilize Verreynne (feesmarkkoördineerder) en feesmarkassistent Adri du Randt. Ek was nogals getref deur elkeen se positiewe ervaring van hoe hulle die gemeente beleef het. As ek hulle almal moes saamvat dan besef ek hoe hulle elkeen iets verstaan het, elkeen op hul eie manier, van dit wat hulle gedoen het en dat hulle hul werk as ’n roeping gesien het. Dit was nie net ’n plek waar hulle geld verdien het nie, maar hulle het iets verstaan van hulle roeping binne die groter prentjie van die gemeente.
Omrede dit nou vakansie is en baie van julle dalk moontlik weg was vir die langnaweek,het ek aan die boek van Eugene Marais gedink en ook die fliek wat daar oor sy lewe was: Die wonderwerker. Hy het die siel van die mier vir meer as tien jaar ondersoek en uiteengesit. In sy werk het Marais sulke intressante aspekte en dinge soos die taal in die dierewêreld, pyn en geboortepyn in die natuur, die geheimsinnige beheer van buite, die koniningin in haar sel en die verskillende soorte werke wat miere doen beskryf. As mens die intressante boeke en die literatuur van die mier lees, besef jy weer hoe in die kol die Bybel telkens is met sy beeldspraak en die besondere vergelyking wat ons in ons teksvers lees: “Gaan na die mier, en kyk hoe hy lewe,” waarmee ons die gedeelte begin het.
As mensdom is ons nie in die mier se liga nie. Daar word beweer dat miere 16 uur per dag werk, nooit vakansie hou nie, die werk onder mekaar verdeel en deeglik beplan. Elkeen is ’n gedissiplineerde hardwerkende lid van ’n georganiseerde gemeenskap en daarom sê vers 8 later: “daarom maak hy sy kosvoorraad bymekaar in die somer, en versamel hy voedsel in die oestyd.”
In Job 12:7 klink Job moedeloos toe hy op ’n stadium vir een van sy teneurgedrukte vriende sê: “Miskien moet jy die diere vra om jou te leer” en daar is twee kante wat Job verduidelik as hy praat oor die sinvolheid van die lewe en die nuttigheidsbeginsel dat ons in die eerste plek nuttigheid moet vind in dit was ons doen. Dit het ook ’n teenpool, ons moet nie ons nuttigheid net deur die tipe werk wat ons doen, laat bepaal nie, maar in die ander kant is daar ook waarde in wat ons doen en die betekenis daarvan.
Dalk is die raad wat ons vir mekaar moet gee wanneer ons ontspan dat ons moet ophou kla en die voorreg om te kan werk, raaksien. En kom ons almal begin ons werk as ’n roeping sien. Ek was die afgelope week met wee jongmense in gesprek en dit was vir my vreeslik mooi om te sien hoe hulle, hulle lewe inrig om ’n balans tussen werk en familie te vind. Hulle sê toe in die eerste plek doen hulle nie hul werk om die suksesleer te klim nie, maar ons doen ons werk om ons lewe ordentlik te kan inrig.
Ek het ’n tyd gelede toe ek met my kinders in gesprek was vir Thomas Edison aangehaal: “ I never did a days work in my life, it was all fun!”
Dit is waarom ek kan sê: “Kom ons werk hard, kom ons doen ons beste en kyk wat ons by die miere kan leer. En ons glo dat die Here ons elkeen ’n roeping gee en op ’n plek geplaas het waar ons moet wees en waar Hy ons kan gebruik.
Gebed:
Here dankie vir die genade en voorreg en belangrikheid daarvan om te kan werk en help ons om die realitiwiteit ook daarvan te sien, dat ons nie vasval in die klein onnodige dinge nie. Gee asb vir ons daardie genade.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 27 April 2021
Matteus 5:3. 3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. ’n Mens sou vandag se vers ook kon vertaal. . . gelukkig is hulle wat elke dag uit God se hand leef. Gelukkig is diegene wat van Sy goedheid afhanklik is.
Geen mens streef daarna om afhanklik van ander te wees nie. Die grootste deel van ons lewens is ’n strewe na onafhanklikheid. Ons streef tydens elke fase van ons lewe na selfsandigheid. Dit is hoe ouers hulle kinders grootmaak. Baie mense sal sê dat dit die doel van alle opvoeding is om kinders selfstandigheid te leer sodat hulle onafhanklik kan funksioneer. In hierdie verband is opmerkings soos jy moet op jou eie bene kan staan, iets wat baie kinders al gehoor het. By addolesente is die strewe na selfstandigheid een van die oorheersende dryfvere van hulle lewens.
Natuurlik is daar iets goeds daaraan om selfstandig te probeer wees. Maar dit is natuurlik ’n illusie dat ons in alle opsigte so selfstandig kan wees dat ons eintlik begin dink ons het niemand meer nodig nie. Dat jy volkome op jou eie sal kan klaarkom sonder die hulp van ander en veral natuurlik sonder die hulp van die Here.
Daarom is dit eintlik ’n vorm van genade wanneer daar dinge met ons gebeur wat net vir ons opnuut laat besef hoe nodig ons die Here in ons lewens het. Ek verwys na daardie moeilike situasies waar ons benoud is, gespanne raak en waar ons opnuut tot die besef kom dat ons die Here nodig het. Almal het in werklikheid die Here nodig. Maar laat ons nie net van God afhanklik wees in krisistye nie. Kom ons leef elke dag in afhanklikheid van die Here.
GEBED
Here, ek het U nodig. Ek kan nie sonder U lewe nie AMEN
Gedagte vir die dag | Maandag 26 April 2021
1 Samuel 16:7. 7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”
Samuel het gedink hy weet wat God in ’n nuwe koning wil hê – iemand soos Saul. Samuel se idee van wat regtig saak maak wanneer dit kom by die tipe persoon wat God sou gebruik om sy volk te lei, was heeltemal verkeerd. Soos ons, was Samuel meer geïnteresseerd in die toekomstige koning se uiterlike voorkoms as oor dit wat in sy hart aangaan.
Vir die grootste gedeelte van ons lewens fokus ’n mens op die uiterlike. Hoe ’n mens lyk, presteer, wat ander van jou dink, besittings en wat ’n mens doen. Ons spandeer meeste van ons tyd, ons geld en ons aandag aan ons uiterlike lewe. Dit is vir ons verskriklik belangrik dat ons beeld na buite vir mense goed lyk.
Maar vir God is die innerlike ook belangrik. Dit maak nie vir Hom saak wat ons bankbalans is, of wat die skaal sê, of wat ons kwalifikasie is nie. Wat vir God belangrik is, is die toestand van ons harte. Omdat Hy ons liefhet, is die toestand van ons harte vir Hom van belang. Ons het ’n innerlike mens wat vir ander mense nie sigbaar is nie, maar wel vir God sigbaar is. Hierdie innerlike mens is eintlik meer belangrik vir God as ons uiterlike mens, dit wat almal sien, want leer die Bybel ons – God kyk na die hart van mense. Want jou innerlike mens is die ware jy, nie die voorgee jy nie.
GEBED
Here maak my nuut van binne. Ek wil heilig voor U lewe. Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 25 April 2021
Psalm 51:12. 12 Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.
Psalm 51 is die bekendste van die sogenaamde boetepsalms in die Psalmboek (6; 32; 38; 51; 102; 130; 143). Dit word gekoppel aan Dawid se reaksie op die profeet Natan se veroordeling van sy owerspel met Batseba en die verraad teen haar man Urija wat tot sy dood gely het. Maar die betekenis hiervan geld vir alle tye en in alle situasies waar vir vergifnis en herstel gebid word.
Dit is dan ook wat ons vandag van die Here af bid: “Skep vir my ’n rein hart, o God. “
As die Bybel praat van die “hart”, dan is dit nie die orgaan wat binne-in my klop en bloed pomp nie. Die term “hart” in die Bybel verwys na die kern van ons geestelike lewe, vanwaar uit ons totale geestelike lewe beheer word. Dit is die plek waar ons begeertes en gedagtes, maar ook ons karakter vorm aanneem.
ʼn Rein hart wil op God fokus en niks doen wat Hom teleurstel nie. Reinheid van hart gaan oor ʼn positiewe toewyding, of oorgawe van ons ganse lewe aan die Here. Dit is iemand wat besef dat hy God nodig het en nie langer sonder Hom kan en wil lewe nie. En dan juis sy lewe aan die Here oorgee. Reinheid van hart gaan ook oor ʼn “commitment” aan die Here. Die Afrikaanse woord wat seker die naaste aan hierdie Engelse woord kom, is toewyding. Die vraag waarmee ons reinheid van hart kan evalueer is: Hoe diep is ons toewyding aan die Here?
Die Here Jesus het self gesê: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” (Mat. 5:8). Die leer van onse Here Jesus Christus onderstreep vir ons hierdie kosbare begeerte van Dawid – die begeerte na ’n rein hart en ’n rein lewe.
GEBED
Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.
Gedagte vir die dag | Saterdag 24 April 2021
Psalm 56:4-5. 4Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. 5In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ‘n blote mens aan my doen?
Hoe sou jy voel as jou grootste vrese vandag ’n realiteit word? Ek praat nie van die donker, spinnekoppe of eksamens nie. Jou grootste vrese. Daardie gesondheidsprobleem is toe nie so onskuldig as wat jy gedink het nie. Jou huwelik beland op die rotse. Jy verloor ’n geliefde. Jy verloor dalk jou werk, of bron van inkomste. Dit waarvoor jy nog jou hele lewe lank bang is, staar jou nou vierkantig in die gesig. Hoe voel jy? Oorweldig? Angstig? Raadop? Hopeloos?
In Psalm 56 bid Dawid vreesbevange. Die eerste vers verduidelik vir ons die agtergrond waarbinne Dawid homself bevind. Dawid is ’n gevangene. Die koning Dawid is nou gevange en word soos ’n misdadiger hanteer. Hulpeloos roep hy na God uit. Deur die verloop van die psalm sien ons baie duidelik hoe Dawid God se genade eerstehands beleef. So word ek en jy dan ook vandag verseker dat God se genade groter as ons vrese is. Vrees is ’n realiteit waarmee ek en jy moet saamleef. Maar God antwoord op ons vrese wanneer ons deur die geloof ons vertroue volkome op God stel.
GEBED
Here, ek is bekommer oor . . . wees my asseblief genadig en hou my vas.
AMEN