GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Sondag 23 Mei 2021

In ritme met God:

Ek hoor nou die dag iemand sê: “ Ek is so dankbaar ek het hierdie werk gekry, want ek het so hard daarvoor gebid.”  Dit het my laat dink aan die manier hoe ons na God kyk.  Ons dink steeds aan God as die ou oom met die wit baard wat die wêreld van ’n afstand af met ’n kontrole beheer.

As ’n predikant het mense my al baie oor my roeping vir die bediening uitgevra.  So asof ek nie beheer het oor waarheen ek gaan nie, maar dat God besluit waar ek moet wees.  Ek glo ek het ’n roeping, maar volgens my is my roeping om in ritme te wees met wat God doen.  Waar en hoe dit gebeur – wel ek glo dat God my die keuse gee om self daaroor te besluit.  Ek wil dit met ’n orkes wat musiek maak, vergelyk.  God gee vir ons die ritme, hoe ons speel is ons eie keuse.

Jesus gebruik hierdie bekende metafoor om iets van ons konneksie met God te verduidelik:

Johannes 15: 5. “Ek is die wingerdstok, julle die lote.  Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog.  Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.  7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Jesus sê hier vir ons dat om deel van God se wingerd te wees en in ritme te wees met wat Hy doen, aan ons lewe gee.  Om uit ritme te leef, lei ons na stukkende verhoudings en seer kry.  Indien ’n mens wonder oor hoe God se ritme lyk kan ’n mens aan die vrug van die Gees dink: Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, sagmoedigheid, getrouheid en selfbeheersing.

Gebed:

Here, dankie dat U die keuse oor hoe ons saam met U musiek maak aan onsself oorlaat.  Dankie dat U vir ons die ritme gee en dat ons kan saam speel.   Ons bid vandag dat ons meer en meer in ritme sal kom met waarmee U in 2021 besig is.

Amen

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 22 Mei 2021

Op gesonde grond:

Wetenskaplikes het bevind dat die mens  per minuut 16 tot 20 asems in-en uitasem.  Daar word gesê dat dit beïnvloed word deur die druk wat mense beleef.  Ons weet natuurlik dat ons vinniger begin asemhaal wanneer ons druk by die huis, werk of tussen mense ervaar.   Meditasie is ’n hulpmiddel wat mense deesdae gebruik om hulle te help om hul asemhaling te reguleer, maar dit bly moeilik om in tye van spanning op jou asemhaling te fokus.

Wanneer Moses in God se teenwoordigheid kom, is hy in ’n plek met die naam Midian.

Eksodus 3: 4. Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” 5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.”

Dit is interessant dat die skrywer in die gedeelte klem daarop plaas dat Moses van die brandende  bos bewus geraak het en toe nader daaraan wou beweeg.  Dit is asof die skrywer vir ons wil sê dat Moses net ’n oomblik gehad het waarbinne  hy van God bewus geword het.  Ons lewens is ook so – ons aandag word so maklik deur al die druk en nuus van ons tyd opgeslurp.  Soveel so dat ons soms nie die brandende bosse in ons lewens kan raaksien nie.  Ons is nie bewus van waar ons God ontmoet nie, want ons neem nie tyd om ons skoene uit te trek en om daar te gaan staan nie.

Moses se verhaal gee vir ons leiding oor hoe ons die brandende bosse ook tydens die pandemie moet raak sien.  Al word ons deur al die  nuus en statistieke van Hom weg getrek, moet ons ’n gesonde manier vind om bewus te raak van waar ons God in hierdie tyd kan ontmoet.

Wat is die goed wat jou in die tyd van die heilige grond af weg trek?

Gebed:

Here, mag ons in hierdie tyd bewus word van die brandende bosse om ons.  Mag ons U weer opnuut raaksien in die chaos wat ons beleef.  Mag ons in hierdie tyd meer en meer ons skoene uit trek en  saam met U op gewyde grond staan.

Gedagte vir die dag | Vrydag 21 Mei 2021

Genesing van Wonde:
Almal het wonde wat hulle saam met hulle dra.  Ek onthou hoe mense, wat ek vertrou het,  in my lewe hulle rug op my gedraai het.   Dit maak seer en bly steeds by my.   Ons kry dikwels seer en hierdie wonde genees selde.  Ek dink aan mense wat byvoorbeeld deur hulle vennote ingedoen is, of verhoudings wat seer gekry het en ’n blywende wond in elkeen van ons gelaat het.  Sielkundiges stem saam dat ons net wonde kan genees as ons dit na die oppervlak toe bring en dit reguit in die oë kan kyk.

Paulus het in sy brief aan die Romeine hierdie essensie oor hoe ons gesonde Christene kan wees beklemtoon.
Romeine 12:14.  “14Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.”

Paulus praat hier oor die riglyne vir ’n Christelike lewe.  Wat hy sê is dat ons die mense en die dinge wat ons seer gemaak het en ons  wonde veroorsaak het moet seën en hulle nie vervloek nie.  Dit is asof Paulus ons nooi om nie weg te draai van dit wat ons vervolg nie, maar om juis daarheen te draai.

Gesonde Christenskap tydens die pandemie is nie om weg te draai van die goed wat jou vervolg nie, maar om dit in die oë te kyk,  sodat dit kan genees.

Gebed

Here, gee ons die moed om die seer van die pandemie in die oë te kyk.  Help ons Here sodat ons meer en meer heel kan word in tye van gebrokenheid.

Gedagte vir die dag | Donderdag 20 Mei 2021

Reinig jou hande

Om handreiniger te gebruik het vir ons ’n tweede natuur geraak.  By elke winkel, gebou, of byeenkoms moet ons nou ons hande reinig voor ons ingaan. Covid-19 het ons bewus gemaak van hoe maklik ons kan siek raak as ons nie onsself skoon hou nie.  Ek hoor baie hoe mense sê: “Ag, ek doen dit maar om ander mense om my gerus te stel.”  Voor sy dood het Rabbi Jonathan Sacks gesê dat die uitdagings van die pandemie die volgende effek op die samelewing het:

  • Dit kan ons in doppe plaas – ons raak meer selfsugtig en doen goed net vir onsself.
  • Dit kan ons laat voorgee – ons doen goed om ander gerus te stel.

Sacks het gesê dat ons die middeweg tussen die twee pole moet ontdek om werklik herstel in hierdie tyd te bring.  Dit het my laat dink aan iets wat Jesus vir die geestelike leiers by wie Hy gaan eet het, gesê het:

Lukas 11:37.  Net toe Jesus klaar gepraat het, het ‘n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem. 38Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie. 39Maar die Here sê vir hom:  “Ja, julle Fariseërs!  Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid.  40Julle dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie?

Jesus is juis besig om aan hierdie leiers te verduidelik dat ons nie net sisteme moet bou wat onsself bevoordeel nie, en dat ons nie net moet voorgee ter wille van die mense wat van buite af na ons kyk nie. Ware lewe lê in die balans tussen om nie net vir jouself te sorg nie, maar ook vir ander. Ons moet versigtig wees om nie die borde te blink was nie en dat ons ook nie te veel in die bord hou en nie oor wat op die tafel gebeur, omgee nie.

Gebed

Here, ons dank U dat U ons in hierdie tyd uitdaag om vir onsself en ander te sorg, maar ook Here dat U ons uitdaag met ’n lewe waar ons nie vasgevang is binne onsself nie. Dat U ons ook wegtrek van ’n lewe waar ons voorgee ter wille van ander se opinies.

Amen.

Mag jy beleef hoe jy nuwe lewe ontdek in die wêreld tussen jouself en ander in hierdie tyd.

 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 19 Mei 2021

Wanneer ons in die storm uitroep:

Toe ek nog in Pretoria gewoon het, het ek gereeld dié sêding gehoor: “ Jakkals trou met wolf se vrou”.   Pretoria is ’n somer reënvalgebied en die donderstorms het vinnig gekom en vinnig verdwyn.  Ek het nog altyd van hierdie beeld gehou – storms wat vinnig opsteek en ’n mens kan nie maklik daarvoor wegkruip nie, wel nie  vir ’n donderstorm nie.  So werk dit ook met die storms van die lewe, dit slaan vinnig toe, is onvoorspelbaar en meestal onbeheerbaar.

Dit is interessant hoe groot die aantrekkingskrag van welvaartsteologie in ons post-moderne samelewing geword het.  Ons voel dat God ons moet help om meer heel as ander mense te wees en ons glo dat ’n verhouding met God moet ’n heel verhouding wees anders is daar iets fout.  Terwyl die Bybel daarop dui dat storms ons gaan tref, maar dat God ons gebrokenheid raak sien.  Dit is asof die Bybel ons wil lei om te verstaan dat ons almal om hulp uitroep en dat God naby aan diegene is wat om hulp skree.  God is m.a.w. naby dié wat seer is.

Psalm 9:12.

Sing tot eer van die Here wat op Sion woon,

vertel die volke van sy dade!

13Hy dink aan die onskuldiges en wreek hulle dood,

Hy verontagsaam nie die geroep van dié wat in nood verkeer nie.

Die Psalmskrywer skryf hoe God nader aan ons is tydens die nood en die storms van die lewe.  Die Psalmskrywer sê dat dit OK  is om nie heeltemal OK te wees nie, want God is ook in daardie situasie by jou.  In hierdie tye moet ’n mens besef dat God ons in ons “nie-heelwees”, of gebrokenheid ontmoet.   Ons moet weet dat daar waar ons om hulp uitroep, daar is God naby.

Gebed

Here, dankie dat U ons noodkrete hoor, dankie dat U die lyding en die gebrokenheid wat in ons is, raak sien.  Ons bid Here dat ons U meer en meer sal raaksien te midde van die storms van die lewe. Amen

Mag jy te midde van die storms besef dat God nader aan jou is as wat jy dink.

Gedagte vir die dag | Dinsdag 18 Mei 2021

Markus 10:25. “Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Markus 10 vertel van ’n besige dag in  Jesus se lewe toe mense probeer het om ’n paar kindertjies na Jesus en sy dissipels te bring sodat hulle geseën kon word. Die dissipels het ’n vol program gehad en het nie tyd vir lastige kindertjies gehad nie.  Hulle het die ouers ook sodanig ingelig.

Hulle het gedink dat Jesus te belangrik is om homself met kindertjies te bemoei.  Hulle het gedink dat die kinders ’n oorlas en ’n onnodige steurnis vir Jesus sou wees.  “Kan julle nie sien dat Jesus met belangriker sake as kinders besig is nie?  Hy het werk om te doen!  Laat staan Hom!  Hy is besig om ons te onderrig.  Hy het nie tyd om op  kindertjies te mors nie!”

Volgens Markus 10:14-16 het Jesus, toe Hy sien wat gebeur het, vir sy dissipels kwaad geword.  Hy het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.  Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.“

En die Here Jesus wil hê dat ons met hierdie soort kinderlike vertroue in Hom moet glo.  Ons moenie daarop aandring om al die geheime van die skepping te verstaan en te begryp nie.  Nee, die belangrikste moet wees dat óns ons afhanklikheid van God moet besef.  So afhanklik soos wat ons kinders van ons is,  so afhanklik moet ons van God wees.

GEBED

Here Jesus ek is klein, swak onkundig en onrein.  Maak my hart vir U tot troon dat U daarin kan woon.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 17 Mei 2021

2 Korintiërs 4:7.  “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”

GEDAGTE
Die beeld wat Paulus hier gebruik, is vir die Korintiërs goed bekend.  ’n Skat in erdekruike.  Korinte was immers ’n welvarende handelstad, met baie ryk mense wat groot skatte opgegaar het.  Die skatte het hulle, soos destyds maar gedoen is, in kruike geplaas.  En Paulus gebruik dit in sy beeldspraak.

Ons is ook erdekruike met ’n skat in ons.  Ons het ’n skat wat kosbaarder is as enige iets anders in hierdie wêreld.  Wat is hierdie skat? In 2 Kor. 4:4-6 hoor ons dit is die evangelie, met ander woorde die Goeie Nuus dat Jesus Christus vir ons aan ’n kruishout gesterf het sodat ons verhouding met God weer herstel kan word.  Die skat wat ons in ons dra is die sekere wete dat ons nie meer verlore is nie, maar dat ons aan God behoort.

Dan hoor ons ook in vers 7 dat God die kleipot wat maklik kan breek, gebruik.  Ons is soos daardie kleipot wat maklik breek, maar tog gebruik God ons om die skat van sy evangelie in te bêre.  Vir God is ons almal — elkeen op besondere wyse ’n erdekruik wat die skat van die evangelie moet bewaar en uitdra.

In ’n toneel uit Leonard Bernstein se “Mass”, word ’n priester deur ’n skare mense op die hande gedra.  In sy hande hou hy ’n nagmaalbeker wat van glas gemaak is.   Die skare struikel en in die proses val die priester met die glasbeker op die grond en die glasbeker spat in skerwe.  Dan stap die priester na die beker en tel glasskerwe op.  Hy hou dit in die lig en roep uit: “I never realized that broken glass can shine so brightly!”  Die boodskap is duidelik: Al breek ons maklik, skyn God se lig nog steeds deur ons!  Ons is nie volmaakte mense nie, maar vergeefde mense.  Vergeefde mense wat nuut kan lewe.

GEBED
Here maak my ’n bruikbare kruik, wat u evangelieboodskap dra.

Amen

Gedagte vir die dag | Sondag 16 Mei 2021

Handelinge 1:6-8: “Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: ‘Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?’  Hy het hulle geantwoord: ‘Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.’”

Die vers het vir my ’n spesiale betekenis, dit was die teksvers wat ek tydens my belydenisaflegging ontvang het. Die van julle wat my nie ken nie, sal seker nou agter kom hoe oud ek is. Ek was in graad 11, of standard 9, toe ds. Bester die gedeelte in Handelinge 1 vir my gegee: “julle sal my getuies wees”.

Dit is ook so, dat die gestalte van die Gees in elkeen van ons se lewe anders lyk.  Ek het in my voorbereiding bietjie opgelees oor die Aeolian harp.  Dit het blykbaar oorsprong gevind in die Griekse fabels oor die Griekse God van die wind. Die Aelois harp was nie noodwendig altyd uit hout gemaak nie, maar dit is in oop ruimtes geplaas.  Die snare was verskillende lengtes en kwaliteite en is dan op hoë plekke soos brûe waar die wind goed en sterk waai, aangebring. Afhangende van hoe die wind waai, het die harpe dan ’n ongelooflike mooi melodie gespeel.

Op Youtube kan ’n mens na die klanke van die harp, wat blykbaar voor Christus in gebruik was, luister.  Dit is die verskillende lengtes en kwaliteite van die snare wat buite in die wind en die weer staan wat veroorsaak het dat die harp ’n melodie voortbring.

Dis is ’n mooi analogie oor die lewens van gelowiges, en die tipe lewe wat ons moet lei.  Ons wat in die wêreld leef en eintlik regoor die wêreld neergesit is moet  deur middel van God se Gees oor die uithoeke van die wêreld heen die melodie van God se evangelie speel soos die wind deur hulle waai.

Mense verskil van mekaar en het verskillende kwaliteite en persoonlikhede omdat almal anders deur God se Gees gesnaar is.  Dit alles dra daartoe by dat God se Gees op ’n unieke, of persoonlike manier deur ons speel. In hierdie Pinkstertyd het ons weer tyd om opnuut daaroor na te dink en moet ’n mens toelaat dat God se Gees deur jou waai.

Gebed:

Here, dankie vir die werking van u Heilige Gees en die unieke deur waai van u Heilige Gees in elkeen van ons se lewens.

Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 15 Mei 2021

Ons is in Pinkstertyd, wat tradisioneel met Hemelvaart begin.  Vroeër dae  is daar tien pinksterdienste gehou, baie van julle sal dit onthou en in die tyd praat en dink ons spesifiek aan die werk van die Heilige Gees en die uitbeelding daarvan in ons lewens.

In Handelinge 1 lees ons oor die belofte van die Heilige Gees, ek lees vers 4: “Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: ‘Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.'” Ons ken almal die verhaal van die uitstorting van die Heilige Gees en ek lees in Handelinge 2, waar hulle in verskillende tale gepraat het en die Heilige Gees ontvang het.

“Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: ‘Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?’ (Hulle het mos aan ’n ander koninkryk gedink as wat Jesus in gedagte gehad het) Hy het hulle geantwoord: ‘Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.’”

Ons is die ontvangers van hierdie Gees, wat in Handelinge 2 uitgestort is. In ons kerktradisie glo ons dat God die Vader, en God die Seun, en God die Heilige Gees – een is.  As ek God of Jesus ontvang, dan ontvang ek die Heilige Gees, dit word so mooi vir ons gesê in die doop: “Ek doop jou in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.”  Elke gestalte van God se Gees realiseer in God se werke en in God se drie-eenheid. In die besonder ook die werking en die misterie van God se Gees.

Hoe werk dit regtig? Ons hou vas daaraan dat God se Gees ’n werklikheid in ons lewens is.  Ek het op ’n verhaal afgekom waarin vertel word hoe seevaartskepe vroeër jare baie afhanklik van die wind was.  Wanneer daar geen wind was nie, het die skip tot stillstand gekom en roerloos op die plat see stil gelê.  Dit het amper gelyk asof die lug asemloos is, verduidelik die skrywer. Die matrose sou dan opmerk dat ’n klein vlaggie heel bo aan die mas, saggies in die wind begin wapper terwyl daar op daardie stadium nog geen aanduiding van die wind onder op die dek van die skip sou wees nie. Dan het die matrose dadelik die seile begin span, en die skip sou weer begin beweeg het.

Hierdie beeld beskryf vir my iets oor wat die die Heilige Gees in ons lewens beteken. Die atmosfeer in die wêreld waarin ons leef – op die straat, in winkels, in die kantoor en waar ons ons besigheid bedryf kan dood voel en dit kan lyk asof daar geen vooruitgang in die lewe is nie.   Maar bokant alles is daar lugstrome wat ons nie kan sien nie sodat ons ons seile kan span. Ons moet dit gebruik om nie tot stilstand te kom nie. Ons kan die voortstuwende krag van God se Gees, waarvan Hy gepraat het voor Hy weggegaan het, ervaar. Die misterieuse het ’n realiteit vir elke gelowige se lewe geword.

Ek wil jou uitnooi om ons pinksterdienste wat op Sondag 16 Mei begin, by te woon.  Dit is ook aanlyn beskikbaar. My kollega,  Why Duvenahge hanteer die jaar die pinksterreeks, want die Heilige Gees is in die boonste lugweë en wanneer ons daardie bries opvang kan ons, ons lewensskip vorentoe beweeg. Indien jy soms stil staan, is dit ook reg, of soms kan jy ’n dwarswind tref, maar God is met elkeen van ons oppad, deur sy bonatuurlike Gees.

Gebed:

Here dankie vir die uitstorting van u Gees in ons lewe. Dankie dat ons dit opnuut in hierdie pinkstertyd kan toewy.

Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 14 Mei 2021

Handelinge 20:35. “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om net te ontvang.”

Ons lees telke male dat wanneer Jesus na mense rondom hom gekyk het,  hy hulle innig jammer gekry het.  Dit het Hom aangespoor tot die dinge wat Hy gesê en gedoen het. Om te gee – begin nie met die daad nie, maar word gebore uit ’n diep oortuiging wat binne ons leef.  Dit is die uitwerking van dié oortuiging wat oorgaan tot ’n daad en dan uiteindelik betekenis aan ons eie bestaan gee.  Moet dus nie vandag jou kop probeer breek oor hoe jy moet “gee” nie. Laat eerder toe dat die omgee van God se liefde en genade wat in jou leef,  jou inspireer tot ’n spontane reaksie.

Gebed

Here, help my om in hierdie besige dag wat op my wag bewus te raak van die spontane omgee wat in my hart lê.  Laat ek vandag ook soos U,  deur mense geraak word sodat ek hulle innig jammer sal kry.  Om deur hulle skerp woorde en onverstaanbare optrede te kan sien en met ’n innigheid te reageer.  Ek loof U dat my eie lewe hieruit sin en betekenis kan kry.

Amen

1 103 104 105 128